Sunday, April 22, 2012

Die Doring in My Vlees - 01 (My Verlede – My Grootste Vyand)


1.    INLEIDING:
Hier is nie een van ons wat vandag hier sit, wat nie wens dat hy/sy verlos kan raak van bepaalde slegte ervaringe en/of sonde  uit sy/haar verlede nie – synde dit ’n slegte gebeurtenis of gebeurtenisse is, of ’n verkeerde optrede of besluit, of bepaalde gru sonde. Ek praat van gebeurtenisse en/of sonde wat jou na jare nog steeds bloots ry; nog steeds laat wakker lê; wat steeds jou daaglikse gang beïnvloed; wat selfs jou persoonlikheid beïnvloed; iets waaroor jy jou hare uit jou kop wil trek; of wat jy maar net nie afgeskud kan kry nie.

Baie van ons het waarskynlik al gevra of ons as gelowiges nie veronderstel is om dít wat in die verlede gebeur het, agter te laat en vooruit te kyk nie? Is dit nie sonde om in die verlede te grawe nie? Die meeste van ons ken die uitdrukking dat wanneer ons eers met die kruis van Christus gekonfronteer is en ons vergifnis vir ons sonde ontvang het, ons ’n bordjie met die woorde, “no fishing allowed” by daardie donker poel(e) van ons verlede moet inkap. Die realiteit is egter dat die meeste van ons tog maar weer en weer “lyne gaan natmaak by daardie donker poele van die verlede”. Die vraag is: Hoe moet ons dit hanteer? Kan ons dit hanteer? Is daar bevryding en verlossing vir ons van hierdie "donker poele" uit die verlede?

Die Woord van God verskaf wel aan ons antwoorde op hierdie vrae en gee ook vir ons raad oor hoe ons, ons verlede op sy plek kan sit.

2.     VOORBEELDE UIT DIE SKRIF:
Kom ons kyk eerstens of ons as gelowiges wel in ons verlede mag “grawe” en daarvoor wil ek hê dat ons na ’n paar mense in die Bybels sal gaan kyk en sien hoe hulle opgetree het.

·           Paulus: Kom ons begin met Paulus en daarvoor wil ek hê dat ons saam moet blaai na 2 Kor.12:1-10 ~ Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het. 2 Ek ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3-4 Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5 Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6 Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7 selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8 Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10 Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.
                                                                                                                                     
As ons na hierdie gedeelte uit 2 Kor.12 kyk, sien ons dat Paulus praat van “’n doring in sy vlees” – iets (of dalk iemand?) uit sy verlede wat groot pyn en lyding by hom tot gevolg gehad het en hy praat nie net eenkeer hieroor nie – hy verwys dikwels daarna. Paulus dink dus gereeld aan sy verlede. Wat hierdie “doring” ook al mag wees – Paulus het geglo dat God hierdie “doring” in sy lewe toegelaat het, ten einde geestelike groei by hom te laat plaasvind en dat dit tot voordeel en bevordering van sy bediening kon wees. Paulus sê in v.7, dat hierdie “doring” hom nederig hou. Hierdie “doring” het Paulus geestelik sterker en toenemend Christusgesentreerd gemaak.

Een van die redes waarom hy nooit vir sy lesers sê wat hierdie “doring” presies is nie, is waarskynlik omdat hy nie die fokus op die satan wil plaas nie en daarom noem hy dit net so in die verbygaan. Paulus het geleer dat sy fokus en sy vreugde eerder op Christus gevestig moet wees 

·           Naomi:  Naomi waarvan ons in Rut 1 lees, is nog ’n voorbeeld waarna ons kan kyk. Ons sien in Rut 1:1-6, dat ...~ ...daar op ’n keer hongersnood in die land (was), en ’n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om ’n heenkome te soek in die gebied van Moab. 2 Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. 3 Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. 4 Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. 5 Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. 6 Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle ’n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. U ken die verhaal, nl. dat Naomi terug is na Bethlehem in Juda en dat Orpa na ’n ruk omgedraai het, maar dat Rut getrou gesweer het aan haar skoonma en saam is na Bethlehem. Toe Naomi in haar tuisdorp aankom, het van die vroue haar herken en sê toe in v.19 ~Maar dis mos Naomi!”, waarop Naomi toe hierdie volgende woorde in v.20-21 sê ~ Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21 My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.” Naomi verwys na haar verlede – haar omstandighede was buite haar beheer – sy was nie die oorsaak van haar situasie nie, maar anders as Paulus verwyt sy God vir haar omstandighede.

·           Saggeus:  Nog iemand na wie ons kan kyk is Saggeus – Saggeus, daardie klein, ryk mannetjie wat in die boom geklim het om Jesus te sien en by wie Jesus toe oorgebly het.  Nadat Jesus by Saggeus aan huis gekom het, sê Saggeus vir Jesus in v.8 van Luk.19 ~ Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.  Ons sien dus hier, dat Saggeus na sy verlede verwys en erken dat hy verkeerd opgetree en gesondig het en hy sê aan Jesus dat hy sy verkeerde optrede gaan regstel. Saggeus het dus verstaan dat hy onafgehandelde sonde gehad het wat hy moes bely en wat hy moes regstel. Jesus se reaksie hierop was dat Hy in Luk.19:9-10 vir Saggeus gesê het ~ Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van Abraham. 10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.

Natuurlik het Saggeus nie verlossing ontvang, omdat Hy sy verkeerde optrede teenoor mense reggestel het nie,, want indien dit die geval sou wees, sou dit nie in lyn wees met, wat die res van die Skrif sê t.o.v. sonde en vergifnis en redding nie – bv. Ef.2:8-9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Saggeus was opreg en het opreg berou gehad oor Sy sonde en hy het besef dat hy sy verkeerde optrede van die verlede, reg moet stel.

·           Jona: Ons ken almal die verhaal van Jona. ’n Profeet wat deur God na Nineve gestuur is en Jona se probleem begin sommer heel aan die begin van die boek Jona, want Jona wil nie hulle aartsvyande reg help ten einde by God uit te kom nie. God sê vir Jona in Jona 1:2 ~ Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” Hoor egter wat doen Jona toe (v.3) ~ Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ’n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af (Jona 1:2-3). Jona ontvang ’n opdrag van God en hy begin God se opdrag uitvoer deur na die hawe te gaan en op ’n skip te klim, maar asof hy dink dat God nie kan sien wat hy doen nie, klim hy op ’n skip wat in ’n gans ander rigting vaar (is dit nie ’n weerspieëling van wat ons ook maar só dikwels doen nie?) – Jona sondig deur nie aan God gehoorsaam te wees nie. Dit eindig egter nie daar nie. God gee hom weer ’n kans, want ’n groot vis sluk hom in en spoeg hom op die strand uit, waarop Jona toe tog na Nineve gaan en teen die stad preek. In Jona 4 sien ons dat die koning en die inwoners van Nineve hulle bekeer en weer is Jona kwaad vir God, want hoe durf God barmhartig wees teenoor ’n heidense volk – Israel is tog immers die enigste volk van God (Jona het skoon vergeet dat Israel nog altyd ’n seën vir ander volke moes wees – Gen.12:3; 28:14)! Terwyl Jona buite die stad sit om te kyk wat met die stad gaan gebeur, laat God ’n komkommerplant by Jona groei wat skadu aan hom gee, maar terwyl Jona slaap, vrek die plant en toe Jona wakker word en hy sien wat met die plant gebeur het, sondig hy weer en is hy weer kwaad. Elke keer dat hy kwaad word, vra God vir hom ~ Het jy rede om kwaad te word...?

In hierdie verhaal van Jona sien ons dat sy een sonde net weer lei tot ’n volgende sonde, sonder dat hy hom bekeer.        

Jy mag dalk nou sê dat hierdie vier verhale van Paulus, Naomi, Saggeus en Jona, so uiteenlopend van aard is en jy is reg as jy dit sê en ons gaan dit juis vorentoe in hierdie reeks aanspreek. Die vraag wat ons egter aanvanklik gevra het, nl. of dit Bybels is om na ons verlede te verwys en daaroor te dink, glo ek is met hierdie vier voorbeelde beantwoord, want nie net het Paulus byvoorbeeld gereeld na sy verlede verwys nie, maar ook die Bybel doen dit gereeld.

Ons het dan tot nou toe gesien dat die verlede, wat gebeure; keuses; optredes; ens. kan insluit, verskillend deur verskillende mense hanteer kan word. So het Paulus bv., elke keer dat hy aan die “doring in sy vlees” gedink het, opnuut weer onder die besef van God se genade vir hom gekom. Naomi weer, se hart was gevul met bitterheid a.g.v. wan opvattings t.o.v. God oor gebeurtenisse wat in die verlede met haar gebeur het. Saggeus weer het besef dat sy nuut gevonde geloof en wedergeboorte, geïmpliseer het dat hy dit wat hy verkeerd gedoen het in die verlede, reg moes stel. Jona het weer die een verkeerde besluit op die ander geneem in sy reaksie op God se goedheid en genade. 

3.    JOU VERLEDE – JOU GROOTSTE VYAND:
Die probleem met ons verlede en ons reaksie daarop, is dat ons verlede ons grootste vyand kan word en alles hang af van ons reaksie op ons verkeerde keuses, ons sonde, of wat ons optrede ook al in die verlede was. As ons nie die negatiewe en verkeerde dinge van ons verlede (wat ook al in die verlede met elkeen van ons individueel gebeur het) reg hanteer nie, kan dit ’n dramatiese effek op ons huidige en toekomstige geestelike groei in Jesus Christus hê en wel op een of meer van die volgende ses vlakke:
·           Onbeantwoorde Vrae uit my verlede: As jy terug dink aan jou verlede, kan jy waarskynlik aan só baie dinge dink wat jy dalk anders sou hanteer het as jy oor die kennis beskik het waaroor jy nou beskik – jy sou dalk ander keuses uitgeoefen het; of dalk nie gesondig het soos jy gesondig het nie, ens. Waarom het ek dit of dat gedoen? Hoe moes ek sus of so hanteer het? Kon ek dalk anders opgetree het, of ander besluite geneem het? As ek maar net.... Of, as ek maar net nie.... Wat pla jou die meeste uit die verlede? Waarom staan hierdie gebeure so uit in my gemoed? As ons gaan stil sit en dink oor ons verlede en al die vrae wat by ons opkom, kan dit ’n lang lys raak as ons dit begin neerskryf.

Daar is baie voorbeelde uit die Skrif wat aan ons toon dat ons maar vrae kan vra aan God – dat ons maar ons pyn uit die verlede met Hom kan deel. Habakuk was so ’n man. Habakuk vra o.a. in Hab.1:2-4 ~ Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?... Dink maar net aan van die Psalms wat niks anders is as klaagliedere nie, trouens omtrent ’n derde van die Psalms is sulke klaagliedere. Ons mag maar openhartig teenoor God wees, want Hy is tog ons Vader, is Hy nie?

Natuurlik moet ons vrae – ons klaagliedere, steeds spreek van eerbied en ontsag vir God en wanneer ons vra en wanneer ons kla, moet ons altyd Jesus se woorde in Joh.16:33 in herinnering roep ~ ... hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin!

Die vraag wat ek jou vandag wil vra, is of jy al hierdie vrae vir God gevra het? Het jy al regtig gaan stil sit en met Hom hieroor gepraat? Jesus het tog self in Joh.7:37 gesê ~ As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. In Matt.5:6 het Jesus ook gesê ~ Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Jesus nooi ons om met Hom oor hierdie vrae te praat, want dit is tog juis vrae wat ons vra omdat ons die waarheid najaag en geregtigheid in en deur ons lewe wil sien geskied. Te veel mense dink dat dit verkeerd is om met God te praat en vrae aan Hom te stel, maar wanneer ons op die regte wyse en met suiwer motiewe, vrae aan Hom stel, is dit ’n ander manier om eer aan Hom te bring, want daardeur erken jy Hom as jou Vader wat jou kan help en lei en vergewe – daardeur toon jy dat jy ’n begeerte het daarna om geestelik te groei en meer en meer aan Jesus gelykvormig te wil word.

Dit beteken natuurlik nie dat God ons op ’n hoorbare wyse sal antwoord nie, want ~ Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag (2Pet.1:3) en ...die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2Tim.3:16-17) en laastens, ... Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid. 21Ek skrywe nie vir julle omdat julle nie die waarheid sou ken nie, maar juis omdat julle dit ken en weet dat daar geen leuen uit die waarheid voortkom nie...   ... 27Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly (1Joh.2:20-21, 27).

·           Onafgehandelde Pyn uit my verlede: Daar is nie een van ons wat nie al een of ander vorm van pyn in hierdie lewe ervaar het nie. Net soos wat dit die geval was met vrae uit my verlede, kan ek ook maar my pyn en lyding teenoor Jesus erken. Daar word te veel en te maklik voorgegee dat ons nie pyn ervaar nie. Daar word gesê dat manne nie huil nie. Dit is tog nie hoe dit in die Kerk moet wees nie. Jesus het self pyn ervaar – ja weliswaar nie oor Sy verlede nie, maar Hy het ook gehuil – dink aan Joh.11:33-34 ~ Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk” en dan v.35 ~ Jesus het gehuil. Jesus staan ook bekend as "die Man van Smarte." (ondermeer n.a.v. Jes.63:9).

Job het gesê ~ My vriende het my bespotters geword, daarom pleit ek met trane by God (Job 16:20).

Ons moet pyn uit ons verlede hanteer anders kan dit kragtige negatiewe effekte op my persoon en geestelike lewe hê.

·           Onopgeloste Probleme uit my verlede: Onopgeloste probleme wat nie uitgestryk word nie kan ons grootste vyand word. Een so ’n gevolg kan bitterheid wees, of ek begin die  leuen van die satan glo dat ek nie wedergebore is nie. Hebr.12:14-15 sê nie verniet ~ Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. Bitterheid is soos ’n witstinkhoutboompie wat aanvanklik onder die oppervlakte groei en wortel skiet en teen die tyd dat jy dit in jou bedding sien en wil uittrek het dit so ’n lang wortel dat jy dit nie sommer maklik kan uittrek nie. Let egter ook op dat v.15 sê dat bitterheid tot gevolg kan hê dat iemand "uit die geloof kan val".

·           Onwyse Keuses uit my verlede: Die probleem met onwyse en verkeerde keuses uit jou verlede is dat dit ’n direkte invloed op die res van jou lewe mag hê – soos wat Stephen Viars dit stel, ..."it becomes part of your spiritual DNA". Die probleem met verkeerde keuses is dat dit tot negatiewe, slegte en selfs sondige gebruike en gewoontes kan lei, wat baie moeilik is om te breek of om van ontslae te raak. Dit is waarom Paulus in Gal.6:7 vir die Galasiërs sê ~ Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. Wat jy saai, sál jy oes! Anders gestel: As jy nie sleg wil oes nie, moenie saai nie!

Die probleem is egter dat die meeste van ons, indien nie almal nie, reeds in die verlede baie verkeerde keuses gemaak het en ontstaan die vraag nou: Hoe breek ek daarmee? Hoe verander ek my situasie nou? Dít is o.a. waarop ek D.V. die volgende Sondag of wat wil fokus.

·           Onbelyde Sondes uit my verlede: Baie mense wil hulleself nie herinner aan die verlede se verkeerde keuses, optredes, mislukkings en/of sonde nie. Die mens kan uiters vernuftig raak wanneer hy sy sonde probeer ontken of verdoesel.

Adam byvoorbeeld, het in Gen.3:12 gesê ~ Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet. So asof hy wou sê: Dis nie ek nie Here, dis my vrou – en nogal die vrou wat God aan Hom gegee het! Eva het nog verder gegaan en die skuld op die slang gepak (Gen.3:13).

Ons moet luister na wat Salomo sê ~ Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang (Spr.28:13). Genadiglik kan ons ons sonde bely en vergifnis daarvoor kry, omdat Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf en versoening daarvoor gemaak het.

·           Lesse nog nie Geleer uit my verlede nie: ’n Sesde en laaste wyse waarop die verlede ons vyand kan wees, is wanneer ons nié die lesse leer wat God wil hê ons moet leer nie. Die probleem hiermee is dat ons sulke foute oor en oor begaan, totdat ons die les leer wat ons moet leer. Salomo illustreer hierdie feit op ’n baie grafiese wyse in Spr.26:11 ~ Soos ’n hond wat na sy braaksel toe terugkom, so is ’n dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan.

Slegte en verkeerde keuses en optrede wat ons nie as verkeerd herken en erken en derhalwe regstel nie, word uiteindelik deel van ons – dit word deel van ons denke en optrede. Elke keer dat ons sondig in ons gedagtes, begeertes, woorde, of optrede word dit al makliker om dieselfde sonde te herhaal.

4.    AFSLUITING:
As jy jouself dalk in een of meer van hierdie kategorieë sien, wil ek jou bemoedig, want die Woord van God bied aan ons oplossings en soos ek reeds gesê het gaan ons D.V. die volgende Sondag of wat aandag hieraan skenk en kyk hoedat ons in en deur Jesus Christus verlos kan word van hierdie vyand(e) uit ons verlede.

Ons moet intussen net daaraan vashou, dat ons God nie ’n "gesiglose god" is nie. Hy is die Lig vir die wêreld en Hy wil ons verlos en vrymaak – Hy wil ons help om vry te kom van ons verlede, sodat ons vorentoe kan beweeg op die pad van heiligmaking en kan lewe tot Sy eer!


[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Meyerton) - Sondagoggend  21 April 2012
[2]Hierdie reeks boodskappe steun swaar op die boek deur Stepehen Viars met die titel "Putting Your Past in Its Place". 2011.  Harvest House Publishers. Eugene, Oregon. 247p.

Wednesday, April 18, 2012

WORTELS VAN VERWARRING (Misleidings van die "Hebrew Roots Movement") Outeur: Johannes de Koning (N.G. Kerk, TSUMEB)

(Ek plaas graag o.s. stuk soos geskryf deur my voorganger)


Luister en kyk, jy sal snaakse dinge hoor en sien. Hulle praat van Yeshua, hulle vier die Shabbat (Sabbat klink dalk nie Joods genoeg nie!) en Joodse feeste, hulle onderhou sekere voedselwette en glo my ek het al gehoor van mense wat weer die besnydenis weens godsdienstige redes beoefen! As een van jou vriende skielik ernstig raak met die studie van Hebreeus (natuurlik opsigself nie verkeerd nie) en ‘n buitengewone belangstelling ontwikkel in allerhande Joodse gebruike en gewoontes, is die kanse goed dat hy vasgevang geraak het in die Hebrew Roots Movement! (Hebreeuse Wortels Beweging, as jy dit so verkies) 
Wat ‘n ellende, want dis dwaalwortels van verwarring! Tog is dit moontlik dat opregte Christene hierdeur  mislei kan word. Evangeliese Christene is dalk juis maklike teikens, want kinders van God het tog ‘n liefde vir die Joodse volk. Geen ware Christen sal hom ooit skuldig maak aan anti-Semitisme nie, maar eerder soos Paulus begeer dat die fisiese afstammelinge van Abram tot bekering sal kom en Jesus as Verlosser sal aanvaar. (Romeine 10:1)

Kom ons kyk baie kortliks  na die beweging en probeer dit vanuit God se Woord beoordeel:

Ontstaansgeskiedenis 
Vanaf die begin van die vorige eeu was daar organisasies wat ‘n terugkeer na die onderhouding van die Sabbat en verskeie jaarlikse Joodse feeste gepropageer het. Dit het o.a. die Sacred Name Movement en die Worldwide Church of God van Herbert Armstrong ingesluit. Die Hebrew Roots Movement het in die middel negentigs begin vorm aanneem. Sommige verklaar dit as ‘n soewereine daad van “Jahweh”. In 1997 het Dean Cozzens van Open Church Ministries ‘n kastige profesie gepubliseer met die titel "The Hebrew Movement". Sy profesie beweer dat God bepaal het dat vier hoof bewegings in die twintigste eeu sou plaasvind, naamlik: 

1. Pentekostalisme
2. Geloofsgenesing 
3. Die Charismatiese beweging en natuurlik 
4. Die "Hebrew Roots Movement"
Soos jy kan verwag van  vals profete, word die Hebrew Roots Movement as die finale bemagtiging van die kerk gesien voor die wederkoms van Christus! Soos in die geval van alle dwalinge beskou hulle blykbaar  hulself  as die  finale antwoord of oplossing!  
Die Hebrew Roots Movement is nie ‘n enkele geloofsgemeenskap of kerklike struktuur nie, maar eerder ‘n losse beweging op voetsoolvlak bestaande uit verskeie groepe en variasies. Dit blyk ‘n regte vrugteslaai van verskeidenheid, maar ongelukkig (soos ons sal sien) is dit ‘n vrot slaai wat gevaarlik is vir ons geestelike spysvertering!*

Vertrekpunte 
Die Hebrew Roots Movement is krities teenoor die kerk en beweer dat die Christelike Kerk  ver van die waarheid afgedwaal het weens die invloed van die Griekse en Romeinse filosofie. Hulle wil dit regstel deur ‘n herontdekking en terugkeer na die oorspronklike Hebreeuse wortels.

Leerstellings en gebruike

Soos gesê is daar nie eenvormigheid onder hierdie groepe nie, maar meestal propageer hulle ‘n lewe van wetsonderhouding. (Onderwerping aan die Joodse Torah of "Torah observant" in Engels) Dit behels dat die verordeninge van die Mosaïse wetgewing  ‘n sentrale faktor word in hulle leefstyl. Dit sluit in die onderhouding van die Joodse Sabbat (op die Saterdag), die viering van Joodse feesdae, die onderhouding van voedselwette en die vermyding van sogenaamde “heidense invloede”  in die Christendom soos die viering van Kersfees.  Dit kan ook gepaard gaan met ‘n sterk beklemtoning van Hebreeuse (of Aramese) name van God en Jesus. Hulle skilder dinge natuurlik so sag en mooi as moontlik; jy word nie verplig om die voedselwette te onderhou nie, dis ook nie heeltemal so erg as jy dit nie hou nie, maar dis darem maar die beste! O ja, en dan is daar ook nog Dawidiese danse!

BEOORDELING
Hoe moet hierdie beweging Bybels  beoordeel word? Om die Hebreeuse taal en kultuur te bestudeer kan beslis positiewe gevolge hê vir ons verstaan van die ryk boodskap van die Ou Testament. Maar die Hebrew Roots Movement is egter sonder twyfel ‘n bitter gevaarlike dwaling! (selfs predikante met teologiese opleiding val hiervoor) Hoekom is dit 'n dwaalweg?

1. Dit bevat maar weereens die kernbestanddeel van die meeste dwalings : Christus PLUS nog iets! Dis die ou dwaling dat geloof in die Here Jesus Christus nie voldoende is nie. Jy kan nou kastig eers die volle seën beleef as jou hart Joods word. Een van hulle, ‘n sekere John J. Parsons gaan so ver om te beweer: “having a Jewish heart is necessary for being a Christian”

2. Die Hebrew Roots Movement mis die punt van die Nuwe Verbond en die vryheid in Christus wat daarmee saamgaan. Die Torah (wet) was die konstitusie van die Ou Verbond. Die Ou Verbond  was bestem om verby  te gaan en ‘n Nuwe Verbond, soveel heerliker, het in sy plek gekom. In 2 Korintiërs 3 brei Paulus breedvoerig hierop uit. Dis ook die groot argument van die Hebreërbrief soos almal weet. Die Nuwe Verbond is baie beter as die vorige Ou Verbond. Ons ontmoet God nou langs die Nuwe Lewende Weg! (Hebreërs 10:19) Ons is juis bevry van die swaar juk van die Mosaïse wetgewing (Handelinge 15:9,10) wat die Jode self nie instaat was om te dra nie, maar nou wil hierdie slimmerds ons weer daarnatoe lok. Die hele kwessie van die plek van die Mosaïse wetgewing in die Christen se lewe is reeds eeue terug op hierdie apostelvergadering in Handelinge 15 uitgeklaar, maar dit wil voorkom asof die Hebrew Roots Movement entoesiaste iewers iets gemis het.  Nêrens in die Nuwe Testament word daar van Christene uit die heidendom verwag om weer Joodse wette en feesdae (insluitend die Sabbat) te onderhou nie. Trouens, in al sy briewe skryf Paulus  net twee keer oor die Sabbat, en beide kere in negatiewe konteks om mense daarteen te waarsku! As dit oor die viering van bepaalde dae gaan, is die Nuwe Testament baie duidelik dat dit ‘n kwessie van persoonlike gewetensvryheid en voorkeur is. (Romeine 14:5,6) Die Hebrew Roots Movement kom steel ons vryheid!

3. Die Hebrew Roots Movement sien nie die finaliteit van vervulling in Jesus raak nie. Al die seremonies, gebruike en instellings  van die Ou Verbond was skaduwees wat na Christus heengewys het. Die wet (van Moses) was ‘n skaduwee van die weldade van God wat in Jesus na ons sou kom! (Hebreërs 10:1) Dit het dus ‘n tydelike verbygaande funksie gehad. In vandag se taal sou ons kon sê : “Advertensieborde of padtekens!” Niemand kan dit duideliker sê as Paulus in Kolossense 2:16,17 nie!  “Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.”

Ons mag nie meer stilstaan by die borde nie!  Jesus die werklikheid waarvan hulle ons vertel het, het mos gekom! Kom ek verduidelik. Dink aan ‘n Coke advertensie voor ‘n winkel. Dit lei my na ‘n plek waar ek Coke kan koop, maar opsigself kan dit nie my dors les nie. Net die Coke self kan! Ek sou dwaas wees om by die advertensie te bly stilstaan. Nee, ek moet die Coke in die hande kry!

Die Ou Testament en al sy wette en instellings fokus op Jesus en vind vervulling in hom. Jesus is ons eenmalige soenoffer, Jesus is ons tempel in en deur wie ons die lewende God aanbid (sien Johannes 2 en 4), Jesus gee ons die rus waarna die Sabbat heengewys het, al die Joodse feeste het na Jesus gewys en ons hoef  dit nooit weer te vier nie!
JESUS SELF IS ONS TORAH

Hy bring vir ons die verlossing en Hy bepaal ook ons etiek! 

4. Die Hebrew Roots Movement is ‘n ou dwaling wat net weer afgestof word. Soos alle valse leringe kom die Hebrew Roots Movement se wortels al uit die tyd van die Nuwe Testament. Dis ou fossiele van misleiding wat nou weer opgegrawe en gepoleer word met ‘n skyn van kennis. Die Hebrew Roots Movement se  geestelike voorsate was die Judaïseerders teen wie Paulus so ernstig in veral sy brief aan die Galasiërs waarsku. Hulle wou destyds al Christene oorreed om weer die besnydenis te beoefen en die Sabbat en Joodse feeste as noodsaaklikheid te onderhou! Paulus hanteer dit nie maar  ligtelik as ‘n saak van kulturele voorkeur nie. Wie wet (besnydenis) en genade wil vermeng, het van die genade afvallig geword en hulle band met Christus verbreek! (Galasiërs 5:4)

5. Die Hebrew Roots Movement is ‘n stuk misleiding gebou op taalkundige onkunde en wensdenkery. Wat van die Hebreeuse name?  Is daar iets fout mee? Met Hebreeuse vorme van name is daar opsigself sekerlik niks verkeerd nie. Die wesentlike gevaar bestaan wel dat die Hebraïsering van name en godsdienstige terme meesal op ‘n vals  teologiese oriëntasie afstuur waarin die Ou Verbond en sy uitgediende instellings die algenoegsaamheid van Christus se kruis en opstanding uitrangeer. Niks anders as ‘n wegdryf van Jesus af nie! 
En dis tog duidelik : Ons redding word hoegenaamd  nie bepaal deur vashou aan ‘n bepaalde (veronderstelde) fonetiese korrektheid nie, maar deur ons vertroue op ‘n baie bepaalde Persoon met ‘n duidelik omlynde identiteit, naamlik Jesus Christus gebore uit die geslag van Dawid, wat gekruisig is en op die derde dag opgestaan het uit die dood! As jy op Hom en Hom alleen vertrou, maak die bepaalde uitspraak en vorm van sy Naam regtig nie soveel saak nie. Die naam Jesus self ook word buitendien in verskillende tale verskillend gespel en uitgespreek - en wie kan stry teen die feit dat daar redding gekom het vir miljoene mense van alle nasies en tale, waar sy Naam verkondig is! (Baie slim sal hierdie knape jou vertel dat mens nie ‘n naam kan vertaal nie. Wel, dis nie heeltemal waar nie! As ek van die groot Hervormer van Genève praat, gebruik ek die naam, Johannes Calvyn. My Engelse broers sal ongetwyfeld van John Calvin praat en in Frans is hy Jean Cauvin! Daar is ten spyte van verskillende benaminge, geen twyfel oor watter persoon ons bedoel nie!)

6. Die aanhangers van die Hebrew Roots Movement loop die gevaar om die gesag van God se Woord te minag. Hulle bevraagteken in wese die geopenbaarde Nuwe Testament deur te beweer dat daar oorspronklik Hebreeuse (of Aramese) weergawes was.  Daar is egter nie sulke tekste beskikbaar nie. (Mens wonder hoekom sou God so iets, as dit bestaan het en dit fundamenteel belangrik was, verlore laat raak het?) Dit beteken in effek dat hulle dan beweer dat ons nie meer 'n gesagsvolle Nuwe Testament het nie! Die feit is, die Nuwe Testament is in Grieks geskryf, met die Griekse vorme van die name van God en Jesus! En terloops, die evangelieskrywers het hoofsaaklik uit die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint aangehaal en nie uit die Hebreeuse teks nie! Die feit dat die Nuwe Testament volgens God se bedoeling in Koine Grieks (wat die algemene omgangstaal was van destyds) geskryf is, is net 'n verdere bewys dat dit in die kerk as God se volk, hoegenaamd nie meer oor etnisiteit gaan nie, maar slegs oor ons verbintenis aan Jesus deur die geloof.

7. Die Hebrew Roots Movement propageer uiteindelik (bewustelik of onbewustelik) ‘n mensgemaakte evangelie van menslike verdienste. Al word dit hoe sappig opgedis, dis harde dwaling wat Goddelike genade verruil vir menslike prestasies! Daarom lyk dit eerder of die ware wortels hier ter sprake nie soseer vanuit die Jode is nie, maar vanuit die Bose! Aan al die aanhangers van die Hebrew Roots Movement wil ek maar net vra (soos Paulus aan die Galasiërs in die woorde van die NIV) : “You foolish Galatians! Who has bewitched you?... Are you so foolish? After beginning with the Spirit, are you trying to attain your goal by human effort?” (Galasiërs 3:1) 

Ag, kom ons los al die afdraaipaaie en verbly ons in die genoegsaamheid van ons Verlosser Jesus Christus!

* Die Israelvisie wat ons hier in Suider-Afrika ken en wat weer ‘n uitspruitsel is van die Brits-Israelisme is nie deel van die Hebrew Roots Movement nie, maar deel wel sekere oortuigings. Een van hulle swaargewigte was juis ds. Gert Steenkamp, ‘n voormalige NG predikant van Tsumeb, wat later in Kuruman bedrywig was.

Outeur: Johannes de Koning (N.G. Kerk, TSUMEB)

Monday, March 26, 2012

Die Brief aan die Filippense - 02 (Paulus se Gebed)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1.    INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat Paulus vir ons in Fil1:1 leer dat die basis om vreugdevolle diensknegte van Jesus Christus te wees, is om slawe vir Christus te wees. Paulus het homself en Timoteus reg aan die begin van hierdie brief geïdentifiseer as slawe van Christus en wanneer Paulus so na homself verwys, val die klem op die "verpligte, ondergeskikte en verantwoordelike" aard van sy slaafskap – dit is m.a.w. iets wat hy geweldig ernstig en met toewyding opneem en uitleef.

Ons het ook gesien dat ’n tweede aspek van vreugdevolle diensknegskap is om ’n geheiligde in Christus Jesus te wees. Die grondbetekenis van die woord "geheilig" het ons gesien, is om "opsy gesit te wees" – die Griekse woord vir "geheiligdes" is ἅγιος (hagios) – ’n "geheiligde" is derhalwe iemand wat uitsluitlik afgesonder is, of opsy gesit is vir God.

’n Derde vereistes om ’n vreugdevolle dienskneg te wees, is om deel te wees van ’n plaaslike gemeente, waar die waarheid verkondig word [Nico van der Walt het eendag gesê: Indien jy deel is van ’n dooie gemeente, is jy deel van die oorsaak – jy moet dus toesien dat daar weer lewe kom (wat waarskynlik ’n onmoontlike taak sal wees), of jy moet deel word van ’n gemeente waar God teenwoordig is en waar daar lewe is].

Laastens het ons gesien dat vreugdevolle diensknegte, ontvangers is van God se genade en vrede. Ons het ook gesien dat hierdie genade en vrede, verwys na God se onverdiende guns wat Hy betoon aan diegene wat Sy oordeel verdien (elkeen van ons dus!) en Hy skenk dan hierdie genade aan elkeen wat besef dat hy God se oordeel verdien en wanneer die nuwe gelowige dan hierdie genade van God ervaar, sal hy vrede ervaar en elke keer wanneer ’n gelowige aan die genade dink wat God aan Hom geskenk het, ten einde hom te red, sal hy opnuut daardie vrede ervaar wat net God aan hom kan skenk.
-

Sunday, March 18, 2012

Die Brief aan die Filippense - 01 (Vreugdevolle Diensknegte)

 Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDING:
Op 'n stadium gedurende die Tweede Wereld Oorlog het Hitler en sy Duitse lugmag, ’n geweldige lugaanval teen Engeland en spesifiek Londen geloods. Tydens hierdie aanval het die inwoners van Londen baie moedeloos geraak en is die eertydse Britse Eerste Minister, Sir Winston Churcill gevra om die volk toe te spreek, waarop hy toe o.a. die volgende agt woorde kwyt geraak het: "Never give up! Never, never, never give up!" Daar sal tye in jou lewe kom, waar jy ontmoedig sal voel, veral wat betref jou wandel met die Here – het van ons nie maar so van tyd tot tyd gevoel wat ons gemeente ook aan betref nie? Paulus wil vir ons deur sy brief aan die gemeente in Filippi sê, "moet nooit ooit moed opgee nie en moet nooit voel om tou op te gooi." Wat ons nodig het, is om soos ’n bulhond vas te byt om nooit te laat los nie, ongeag ons omstandighede; ongeag die laagtepunte of teleurstellings wat ons in ons persoonlike lewes; ons geestelike lewes; ons gemeentelike lewes, mag ervaar, wel wetende dat God besig is om in ons te werk en die goeie werk wat Hy in ons begin het, deur te voer en dit te voleindig op die dag wanneer die Here Jesus weer kom (Fil.1:6). Hierdie is dan ook die kern van die boodskap van die pragtige Filippensebrief – ’n brief wat ook bekend staan as Paulus se "Vreugdebrief".

Sunday, March 11, 2012

Die Evangelie van Johannes - 14 (Die Dag van die Here)

Hierdie man is hulpeloos en Jesus spreek net ’n woord en die man is genees. Hierdie is so ’n tipiese beeld van wat keer op keer in die Woord van God gebeur – God reik uit na ons; Hy neem die inisiatief – en ons kan maar net glo en dan opstaan en loop! Hierdie gedeelte spreek dus (weereens) van Christus se inisiatief wat Hy neem om ons as sondaars te verlos en te genees. Ons was ook op ’n stadium geestelik blind (vgl. Joh.2) – eens geestelik verlam...
-

Monday, March 5, 2012

Psalm 119 - 02 (Die Woord van God Reinig Ons)


1.     INLEIDING:
Ons het ’n tyd gelede gesien dat Ps.119 ’n sg. "naamdig" is en dat dit verdeel is in 22 strofes en elkeen van hierdie 22 strofes begin met een van die letters van die Hebreeuse alfabet. Die vorige keer het ons na die eerste strofe gekyk wat begin met die eerste letter van die alfabet nl. "aleph". Vandag gaan ons kyk na die tweede strofe wat met die tweede letter van die Hebreeuse alfabet begin, nl. "bet". 

-

Sunday, February 26, 2012

“Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 07” (Die Gemeente in Laodisea)


1.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het nog net een brief in sy possak en hy is fluks oppad na die sewende gemeente in Laodisea.  In vele opsigte is hierdie brief ook die tragieste van al sewe die briewe wat hy oorspronklik in sy possak gehad het, omdat dit die enigste was waarin Christus dit onmoontlik gevind het om ná Sy bestraffing selfs één enkele woord van aanprysing te gee.  Selfs in die dooie gemeente van Sardis was daar darem ’n groepie lewende Christene wat ’n paar woorde van lof kon ontvang, maar in Laodisea was daar nie eens so ’n oorblyfsel nie!

Al is hierdie brief die droewigste van al die briewe, is hierdie brief waarskynlik ook die teerste en liefdevolste van almal en dit is omdat die bestraffing uit ’n hart vol liefde gekom het, omdat Hy ’n uitnodiging aan hierdie groep mense stuur wat spreek van Sy liefde.
-

Sunday, February 19, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 06 (Die Gemeente in Filadelfia)

1.     INLEIDING:
Ons het reeds gesien dat die pos uit Patmos baie verrassings ingehou het vir die gemeentes wat briewe ontvang het. Ons het gemeentes gesien wat baie hard teen dwaalleer gestry het, net om die klag van die Here te hoor dat hulle, hul eerste liefde verlaat het. Ander weer is deur van die ander gemeentes geëer vir hulle onvermoeide ywer en bedrywighede, net om van die Here te hoor dat hulle dood is.  Die possak wat ons briewebesteller gedra het, was dus vol verassings én skokke. 

Daar is nog net twee briewe oor in die possak en die volgende gemeente wat besoek word, is dié in Filadelfia. Ons beskik nie oor baie inligting t.o.v. hierdie gemeente nie, maar wat ons wel weet is dat dit ’n klein en swak gemeentetjie was, want Christus sê in Openb.3:8 o.a. dat hulle min krag het en daarom kan ons onsself indink dat hierdie gemeente gespanne gewag het om te hoor wat Christus van hulle sê, want as ’n groot en gevestigde gemeente soos dié in Efese só ’n skerp aanklag van Christus moes ontvang; as ’n lewendige en oënskynlik gesonde gemeente soos dié in Sardis moes verneem dat hulle ’n dooie gemeente is, wat kon hierdie klein en swak gemeentetjie in Filadelfia te wagte wees? Daarom het hierdie groepie gelowiges waarskynlik in groot angs gesit en wag dat hulle leraar die brief moes ooprol en voorlees. En wat ’n groot verrassing het nie op hulle gewag nie! Maar kom ons begin by die begin.

-

Sunday, February 12, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 05 (Die Gemeente in Sardis)

1.     SKRIFLESING:

Openb.3:1-6 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis: So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. 2Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. 3Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. 4Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is. 5Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. 6Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.

-

Sunday, February 5, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 04 (Die Gemeente in Tiatira)

1.     SKRIFLESING:
Openb.2:18-29 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: 19Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. 20Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgods-offervleis te eet. 21Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding—as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. 24Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. 26Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. 29Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

2.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het, nadat hy die brief wat aan die gemeente in Pergamum gerig was, afgelewer het, sy reis voort gesit en nou in oostelike rigting, die binneland in, koers gekies.  Hy het nog vier briewe in sy possak gehad en die adres op sy volgende koevert was dié van die gemeente in Tiatira. -

Sunday, January 29, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 03 (Die Gemeente in Pergamum)

1.         INLEIDING:
Ons het met die vorige twee gemeentes in Openb.2 gesien, dat daar ’n algemene patroon in die struktuur van elk van die sewe briewe in Openb.2 en 3 voorkom:
·           Elke brief is deur Christus aan ’n spesifieke gemeente gerig.
·           Elke brief stel die Hoof van die plaaslike gemeente (Christus Jesus) voor as ’n spesifieke karakter, of beeld.
·           Elke brief onthul ondubbelsinnig dat Christus oor volkome kennis beskik t.o.v. die toestand van daardie spesifieke gemeente.
·           Met die uitsondering van een gemeente, ontvang elke gemeente een of meer lofuitinge of aanprysinge.
·           Met die uitsondering van twee gemeentes, ontvang elke gemeente kritiek of een of meer bestraffinge oor een of meer situasie(s) wat in die gemeente bestaan.
·           Elke gemeente ontvang ten minste ’n vermaning en daarmee saam gee Christus raad aan hulle.
·           Elke gemeente ontvang een of ander belofte t.o.v. getrouheid.

Die briewebesteller wat die sewe briewe uitgedra het, waarmee ons in Openbaring 2 en 3 te doen kry, het nou sy reis wat by die hawestad Milete begin het, oor land verder hervat en hy het noordwaarts gereis om sy derde brief aan die herder van die plaaslike gemeente te gaan oorhandig. -

Sunday, January 22, 2012

"Gewyde Heiligheid van die Lewe"

1.     INLEIDING:
Kom ons wees bietjie eerlik vanoggend. Hoe voel jy elke keer as ’n pragtige, skaars, onskuldige renoster gestroop word vir sy horing? Kwaad? Opstandig? Hartseer? ’n Belangriker vraag: Wat is jou eerlike reaksie as jy daaraan dink dat aborsies gewettig is in Suid-Afrika? Nee kom, wees eerlik, baie eerlik. Is ons al afgestomp hieroor? My een skoondogter is in die goeie sin van die woord, ’n "pro-life" aktivis en sy is ’n stigterslid van ’n organisasie genaamd "Abort 97" (http://www.abort97.co.za/) en een van hulle slagspreuke is: "Rhinos arn't the only things worth living". Dit is so waar, trouens in vergelyking met aborsie is renosters bykans nie eens noemenswaardig nie. -

Sunday, January 15, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 02 (Die Gemeente in Smirna)

1.     INLEIDING:
Ons leef in ’n uiters vyandiggesinde wêreld – ’n wêreld wat die waarheid van die Woord van God met al sy mag teëstaan. Hierdie aanslag raak by die dag erger, maar ons as gelowiges moet leer om voortdurend onder die beheer van Jesus Christus te staan en te leef en derhalwe staande te bly in die wonderlike Evangelie van Jesus Christus, want Hy is voorwaar Here en regeer oor hierdie aarde en SY Koninkryk en Sy kerk staan vasgeanker en daarom sal ...die poorte van die doderyk dit nie oorweldig nie (Matt.16:8 – O.A.V.).

-

Tuesday, January 3, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 01 (Die Gemeente in Efese)

1.     INLEIDING:
In hoofstukke 2 en 3 van die profesie van Openbaring, vind ons briewe wat Johannes aan sewe gemeentes in Klein-Asië geskryf het, nadat Jesus Christus dit aan hom gedikteer het.  Hierdie gemeentes aan wie Johannes sy briewe rig, was Efese (2:1-7), Smirna (2:8-11), Pergamum (2:12-17), Tiatira (2:18-29), Sardis (3:1-6), Filadelfia (3:7-13) en Laodisea (3:14-22).  Hierdie was werklike gemeentes wat bestaan het in die tyd wat Johannes hierdie apokalips (openbaring van God) ontvang het.  Ook het die toestande t.o.v. van die gemeentes, soos beskryf in Openbaring, werklik in daardie spesifieke gemeentes geheers.

Hierdie toestande wat in hierdie sewe gemeentes geheers het, is dan ook realiteite wat in die kerk in die breë vandag nog voorkom.  Elke gemeente ervaar dus op een of ander stadium van haar lewe, een of meer van hierdie toestande – dalk al sewe gelyktydig!  Elke gemeente ervaar dus van tyd tot tyd (oor korter en soms langer stadiums) dinge wat prysenswaardig is; of afkeurenswaardig is; of dinge wat verbetering en/of verandering benodig. 

Sunday, January 1, 2012

En My God Sal In Elke Behoefte Ryklik Voorsien

1. ONS BEHOEFTE:
Elkeen van ons betree vandag hierdie nuwe jaar met bepaalde behoeftes – of dit nou finansieel, of fisies, of geestelik is. Miskien wonder jy hoe jy hierdie jaar finansieel sal oorleef; jy wonder dalk of jy al jou verpligtinge sal kan na kom. Gaan my besigheid die syfers haal wat nodig is om my maatskappy doelwitte te bereik? Gaan ek nie dalk in hierdie jaar gerasionaliseer word nie? Sal jy in al jou familie se behoeftes kan voorsien? Miskien sukkel jy met ’n kwaal (waarvan nie een van ons dalk eers weet nie) en wonder, of hoop jy dat jy genesing sal ervaar. Miskien wonder jy of ons as gemeente nog aan die einde van 2012 sal bestaan, en so kan ons aangaan. -