Wednesday, April 18, 2012

WORTELS VAN VERWARRING (Misleidings van die "Hebrew Roots Movement") Outeur: Johannes de Koning (N.G. Kerk, TSUMEB)

(Ek plaas graag o.s. stuk soos geskryf deur my voorganger)


Luister en kyk, jy sal snaakse dinge hoor en sien. Hulle praat van Yeshua, hulle vier die Shabbat (Sabbat klink dalk nie Joods genoeg nie!) en Joodse feeste, hulle onderhou sekere voedselwette en glo my ek het al gehoor van mense wat weer die besnydenis weens godsdienstige redes beoefen! As een van jou vriende skielik ernstig raak met die studie van Hebreeus (natuurlik opsigself nie verkeerd nie) en ‘n buitengewone belangstelling ontwikkel in allerhande Joodse gebruike en gewoontes, is die kanse goed dat hy vasgevang geraak het in die Hebrew Roots Movement! (Hebreeuse Wortels Beweging, as jy dit so verkies) 
Wat ‘n ellende, want dis dwaalwortels van verwarring! Tog is dit moontlik dat opregte Christene hierdeur  mislei kan word. Evangeliese Christene is dalk juis maklike teikens, want kinders van God het tog ‘n liefde vir die Joodse volk. Geen ware Christen sal hom ooit skuldig maak aan anti-Semitisme nie, maar eerder soos Paulus begeer dat die fisiese afstammelinge van Abram tot bekering sal kom en Jesus as Verlosser sal aanvaar. (Romeine 10:1)

Kom ons kyk baie kortliks  na die beweging en probeer dit vanuit God se Woord beoordeel:

Ontstaansgeskiedenis 
Vanaf die begin van die vorige eeu was daar organisasies wat ‘n terugkeer na die onderhouding van die Sabbat en verskeie jaarlikse Joodse feeste gepropageer het. Dit het o.a. die Sacred Name Movement en die Worldwide Church of God van Herbert Armstrong ingesluit. Die Hebrew Roots Movement het in die middel negentigs begin vorm aanneem. Sommige verklaar dit as ‘n soewereine daad van “Jahweh”. In 1997 het Dean Cozzens van Open Church Ministries ‘n kastige profesie gepubliseer met die titel "The Hebrew Movement". Sy profesie beweer dat God bepaal het dat vier hoof bewegings in die twintigste eeu sou plaasvind, naamlik: 

1. Pentekostalisme
2. Geloofsgenesing 
3. Die Charismatiese beweging en natuurlik 
4. Die "Hebrew Roots Movement"
Soos jy kan verwag van  vals profete, word die Hebrew Roots Movement as die finale bemagtiging van die kerk gesien voor die wederkoms van Christus! Soos in die geval van alle dwalinge beskou hulle blykbaar  hulself  as die  finale antwoord of oplossing!  
Die Hebrew Roots Movement is nie ‘n enkele geloofsgemeenskap of kerklike struktuur nie, maar eerder ‘n losse beweging op voetsoolvlak bestaande uit verskeie groepe en variasies. Dit blyk ‘n regte vrugteslaai van verskeidenheid, maar ongelukkig (soos ons sal sien) is dit ‘n vrot slaai wat gevaarlik is vir ons geestelike spysvertering!*

Vertrekpunte 
Die Hebrew Roots Movement is krities teenoor die kerk en beweer dat die Christelike Kerk  ver van die waarheid afgedwaal het weens die invloed van die Griekse en Romeinse filosofie. Hulle wil dit regstel deur ‘n herontdekking en terugkeer na die oorspronklike Hebreeuse wortels.

Leerstellings en gebruike

Soos gesê is daar nie eenvormigheid onder hierdie groepe nie, maar meestal propageer hulle ‘n lewe van wetsonderhouding. (Onderwerping aan die Joodse Torah of "Torah observant" in Engels) Dit behels dat die verordeninge van die Mosaïse wetgewing  ‘n sentrale faktor word in hulle leefstyl. Dit sluit in die onderhouding van die Joodse Sabbat (op die Saterdag), die viering van Joodse feesdae, die onderhouding van voedselwette en die vermyding van sogenaamde “heidense invloede”  in die Christendom soos die viering van Kersfees.  Dit kan ook gepaard gaan met ‘n sterk beklemtoning van Hebreeuse (of Aramese) name van God en Jesus. Hulle skilder dinge natuurlik so sag en mooi as moontlik; jy word nie verplig om die voedselwette te onderhou nie, dis ook nie heeltemal so erg as jy dit nie hou nie, maar dis darem maar die beste! O ja, en dan is daar ook nog Dawidiese danse!

BEOORDELING
Hoe moet hierdie beweging Bybels  beoordeel word? Om die Hebreeuse taal en kultuur te bestudeer kan beslis positiewe gevolge hê vir ons verstaan van die ryk boodskap van die Ou Testament. Maar die Hebrew Roots Movement is egter sonder twyfel ‘n bitter gevaarlike dwaling! (selfs predikante met teologiese opleiding val hiervoor) Hoekom is dit 'n dwaalweg?

1. Dit bevat maar weereens die kernbestanddeel van die meeste dwalings : Christus PLUS nog iets! Dis die ou dwaling dat geloof in die Here Jesus Christus nie voldoende is nie. Jy kan nou kastig eers die volle seën beleef as jou hart Joods word. Een van hulle, ‘n sekere John J. Parsons gaan so ver om te beweer: “having a Jewish heart is necessary for being a Christian”

2. Die Hebrew Roots Movement mis die punt van die Nuwe Verbond en die vryheid in Christus wat daarmee saamgaan. Die Torah (wet) was die konstitusie van die Ou Verbond. Die Ou Verbond  was bestem om verby  te gaan en ‘n Nuwe Verbond, soveel heerliker, het in sy plek gekom. In 2 Korintiërs 3 brei Paulus breedvoerig hierop uit. Dis ook die groot argument van die Hebreërbrief soos almal weet. Die Nuwe Verbond is baie beter as die vorige Ou Verbond. Ons ontmoet God nou langs die Nuwe Lewende Weg! (Hebreërs 10:19) Ons is juis bevry van die swaar juk van die Mosaïse wetgewing (Handelinge 15:9,10) wat die Jode self nie instaat was om te dra nie, maar nou wil hierdie slimmerds ons weer daarnatoe lok. Die hele kwessie van die plek van die Mosaïse wetgewing in die Christen se lewe is reeds eeue terug op hierdie apostelvergadering in Handelinge 15 uitgeklaar, maar dit wil voorkom asof die Hebrew Roots Movement entoesiaste iewers iets gemis het.  Nêrens in die Nuwe Testament word daar van Christene uit die heidendom verwag om weer Joodse wette en feesdae (insluitend die Sabbat) te onderhou nie. Trouens, in al sy briewe skryf Paulus  net twee keer oor die Sabbat, en beide kere in negatiewe konteks om mense daarteen te waarsku! As dit oor die viering van bepaalde dae gaan, is die Nuwe Testament baie duidelik dat dit ‘n kwessie van persoonlike gewetensvryheid en voorkeur is. (Romeine 14:5,6) Die Hebrew Roots Movement kom steel ons vryheid!

3. Die Hebrew Roots Movement sien nie die finaliteit van vervulling in Jesus raak nie. Al die seremonies, gebruike en instellings  van die Ou Verbond was skaduwees wat na Christus heengewys het. Die wet (van Moses) was ‘n skaduwee van die weldade van God wat in Jesus na ons sou kom! (Hebreërs 10:1) Dit het dus ‘n tydelike verbygaande funksie gehad. In vandag se taal sou ons kon sê : “Advertensieborde of padtekens!” Niemand kan dit duideliker sê as Paulus in Kolossense 2:16,17 nie!  “Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.”

Ons mag nie meer stilstaan by die borde nie!  Jesus die werklikheid waarvan hulle ons vertel het, het mos gekom! Kom ek verduidelik. Dink aan ‘n Coke advertensie voor ‘n winkel. Dit lei my na ‘n plek waar ek Coke kan koop, maar opsigself kan dit nie my dors les nie. Net die Coke self kan! Ek sou dwaas wees om by die advertensie te bly stilstaan. Nee, ek moet die Coke in die hande kry!

Die Ou Testament en al sy wette en instellings fokus op Jesus en vind vervulling in hom. Jesus is ons eenmalige soenoffer, Jesus is ons tempel in en deur wie ons die lewende God aanbid (sien Johannes 2 en 4), Jesus gee ons die rus waarna die Sabbat heengewys het, al die Joodse feeste het na Jesus gewys en ons hoef  dit nooit weer te vier nie!
JESUS SELF IS ONS TORAH

Hy bring vir ons die verlossing en Hy bepaal ook ons etiek! 

4. Die Hebrew Roots Movement is ‘n ou dwaling wat net weer afgestof word. Soos alle valse leringe kom die Hebrew Roots Movement se wortels al uit die tyd van die Nuwe Testament. Dis ou fossiele van misleiding wat nou weer opgegrawe en gepoleer word met ‘n skyn van kennis. Die Hebrew Roots Movement se  geestelike voorsate was die Judaïseerders teen wie Paulus so ernstig in veral sy brief aan die Galasiërs waarsku. Hulle wou destyds al Christene oorreed om weer die besnydenis te beoefen en die Sabbat en Joodse feeste as noodsaaklikheid te onderhou! Paulus hanteer dit nie maar  ligtelik as ‘n saak van kulturele voorkeur nie. Wie wet (besnydenis) en genade wil vermeng, het van die genade afvallig geword en hulle band met Christus verbreek! (Galasiërs 5:4)

5. Die Hebrew Roots Movement is ‘n stuk misleiding gebou op taalkundige onkunde en wensdenkery. Wat van die Hebreeuse name?  Is daar iets fout mee? Met Hebreeuse vorme van name is daar opsigself sekerlik niks verkeerd nie. Die wesentlike gevaar bestaan wel dat die Hebraïsering van name en godsdienstige terme meesal op ‘n vals  teologiese oriëntasie afstuur waarin die Ou Verbond en sy uitgediende instellings die algenoegsaamheid van Christus se kruis en opstanding uitrangeer. Niks anders as ‘n wegdryf van Jesus af nie! 
En dis tog duidelik : Ons redding word hoegenaamd  nie bepaal deur vashou aan ‘n bepaalde (veronderstelde) fonetiese korrektheid nie, maar deur ons vertroue op ‘n baie bepaalde Persoon met ‘n duidelik omlynde identiteit, naamlik Jesus Christus gebore uit die geslag van Dawid, wat gekruisig is en op die derde dag opgestaan het uit die dood! As jy op Hom en Hom alleen vertrou, maak die bepaalde uitspraak en vorm van sy Naam regtig nie soveel saak nie. Die naam Jesus self ook word buitendien in verskillende tale verskillend gespel en uitgespreek - en wie kan stry teen die feit dat daar redding gekom het vir miljoene mense van alle nasies en tale, waar sy Naam verkondig is! (Baie slim sal hierdie knape jou vertel dat mens nie ‘n naam kan vertaal nie. Wel, dis nie heeltemal waar nie! As ek van die groot Hervormer van Genève praat, gebruik ek die naam, Johannes Calvyn. My Engelse broers sal ongetwyfeld van John Calvin praat en in Frans is hy Jean Cauvin! Daar is ten spyte van verskillende benaminge, geen twyfel oor watter persoon ons bedoel nie!)

6. Die aanhangers van die Hebrew Roots Movement loop die gevaar om die gesag van God se Woord te minag. Hulle bevraagteken in wese die geopenbaarde Nuwe Testament deur te beweer dat daar oorspronklik Hebreeuse (of Aramese) weergawes was.  Daar is egter nie sulke tekste beskikbaar nie. (Mens wonder hoekom sou God so iets, as dit bestaan het en dit fundamenteel belangrik was, verlore laat raak het?) Dit beteken in effek dat hulle dan beweer dat ons nie meer 'n gesagsvolle Nuwe Testament het nie! Die feit is, die Nuwe Testament is in Grieks geskryf, met die Griekse vorme van die name van God en Jesus! En terloops, die evangelieskrywers het hoofsaaklik uit die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint aangehaal en nie uit die Hebreeuse teks nie! Die feit dat die Nuwe Testament volgens God se bedoeling in Koine Grieks (wat die algemene omgangstaal was van destyds) geskryf is, is net 'n verdere bewys dat dit in die kerk as God se volk, hoegenaamd nie meer oor etnisiteit gaan nie, maar slegs oor ons verbintenis aan Jesus deur die geloof.

7. Die Hebrew Roots Movement propageer uiteindelik (bewustelik of onbewustelik) ‘n mensgemaakte evangelie van menslike verdienste. Al word dit hoe sappig opgedis, dis harde dwaling wat Goddelike genade verruil vir menslike prestasies! Daarom lyk dit eerder of die ware wortels hier ter sprake nie soseer vanuit die Jode is nie, maar vanuit die Bose! Aan al die aanhangers van die Hebrew Roots Movement wil ek maar net vra (soos Paulus aan die Galasiërs in die woorde van die NIV) : “You foolish Galatians! Who has bewitched you?... Are you so foolish? After beginning with the Spirit, are you trying to attain your goal by human effort?” (Galasiërs 3:1) 

Ag, kom ons los al die afdraaipaaie en verbly ons in die genoegsaamheid van ons Verlosser Jesus Christus!

* Die Israelvisie wat ons hier in Suider-Afrika ken en wat weer ‘n uitspruitsel is van die Brits-Israelisme is nie deel van die Hebrew Roots Movement nie, maar deel wel sekere oortuigings. Een van hulle swaargewigte was juis ds. Gert Steenkamp, ‘n voormalige NG predikant van Tsumeb, wat later in Kuruman bedrywig was.

Outeur: Johannes de Koning (N.G. Kerk, TSUMEB)