Nehemia – Man van Gebed[1]
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Neh.1:1-11 ~ Die verhaal van Nehemia seun van Gakalja. Dit was in die maand Kislef, die twintigste jaar. Ek was in die vestingstad Susan. 2 Ganani, een van my medeamptenare, het daar aangekom uit Juda, hy en ’n paar ander manne. Ek het by hulle navraag gedoen oor die Judeërs wat uit die ballingskap vrygelaat is en teruggegaan het, en oor Jerusalem, 3 en hulle het vir my gesê: “Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand.” 4 By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid.5 Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam, 6 luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid. “Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig. 7 Ons het U nie geëer nie, ons was ongehoorsaam aan die gebooie, die voorskrifte, die bepalings wat U aan u dienaar Moses gegee het. 8 “Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi, 9 maar as julle julle tot My bekeer en my gebooie gehoorsaam en nakom, sal Ek julle weer bymekaarmaak, al is julle oor die hele aarde versprei. Ek sal julle terugbring na die plek toe wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon.’ 10 “Hulle is u dienaars, u volk vir wie U met u groot mag en krag gered het. 11 Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit ’n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.” Ek was die koning se skinker.
2. INLEIDING:
Ons is pas in ons land deur ’n proses van verkiesing en die president van ons land is die afgelope naweek ingehuldig. Die ganse wêreld, maar veral in Afrika, glo ek, is desperaat op soek na ware leiers – eerbare leiers; leiers met integriteit; met toewyding; leiers wat vasstaan by die waarheid, maar ook leiers wat liefde en genade en erbarming met hul volgelinge het.
Hierdie soeke na ware leiers vind ons op alle terreine – op politieke vlak, werksvlak, in ons skole, in ons huisgesinne, ens., maar ook in die kerk van ons dag.
Dit is egter ook so dat hierdie leiers dieselfde versugting het, nl. dat die mense wie hulle dien as leiers, oor dieselfde eienskappe sal beskik.
3. AGTERGROND:
Ons het gelees van Nehemia – Wie was en wat was Nehemia en was hy dalk so ’n leier en/of navolger, wat aan die vereistes van die volk en hom wie hy gedien het, voldoen het?
Ons lees van baie leiers in die Woord van God – dink aan Abraham, Moses, Josua, Dawid, Petrus, Paulus en vele meer, maar Nehemia was ook so ’n man.
Nehemia was ’n Jood wat na die val van Jerusalem in 586 n.C. gebore is – tydens die Diaspora (die ballingskap van die Jode dus). Hy het in ’n tyd geleef waarin sy mede-volksgenote, uitsigloos en moedeloos was – hulle situasie was veel-veel erger as ons s’n vandag. Hulle kon nie “Ex-pat’s” word en uitwyk Australië toe a.g.v. hulle omstandighede nie – nee, hulle was reeds almal “in die buiteland” – hulle was verjaag en hulle moes vlug; hulle wou so graag terugkeer na hul vaderland – hulle was moedeloos, maar tog was daar besondere volksgenote onder hulle, terwyl hulle in ballingskap geleef het – mense wat nie onder hulle omstandighede gaan sit en krepeer het nie. Dink hier aan byvoorbeeld die bekende “vier-manskap”, Daniël wat hulle Beltsasar genoem het en Gananja wat Sadrag genoem is en Misael, wat hulle Mesag genoem het en Asarja wat as Abednego bekend gestaan het (Dan.1:7). Ook was daar Mordegai (o.a. Esra 2; Neh.7 en Esther 2) en Ester wat koningin van Persië geword het (Est.2:17).
Nehemia was egter ook so ’n Joodse balling – hy het uitgestyg bo sy volksgenote en hy het ’n man van invloed geword – hy het die persoonlike skinker van Koning Artasasta geword (Neh.1:11). Hierdie was geen geringe posisie nie, want die skinker moes bv. alle drank eers proe, alvorens die koning dit gedrink het, ten einde vas te stel of daar nie dalk gif in is nie – hierdie skinker moes dus ’n uiters betroubare man wees. Hy was voorts gedurig aan die sy van die koning en hy het dieselfde posisie beklee as ’n hedendaagse kabinetsminister. Die hoofbakker en hoofskinker van die Farao in Egipte het soortgelyke posisies beklee.
Baie mense sal in soortgelyke posisies, maar net tevrede gewees het met hul posisie; hul werk gedoen het soos wat dit van hulle verwag is – en niks meer nie – selfs uitgesien het na ’n goeie aftrede. Nehemia was egter nie so ’n man nie – Nehemia was ’n groot leier en toegewyd aan sy roeping, want hy het hierdie invloedryke posisie met baie goeie vergoeding en byvoordele verlaat, omdat hy ’n brandende roeping ervaar het om as leier op te tree en Jerusalem te herbou – sy volk se hoofstad.
Andere het voor hom dit reeds probeer doen, maar sonder enige sukses. Alles was dus oënskynlik téén Nehemia – en hy moes dit geweet het, maar nogtans neem hy hierdie taak – hierdie roeping op hom en hy gaan voort om dit te doen. Die uiteinde? Hy slaag daarin om die mure van die stad binne 52 dae te herbou! Hierna het hy aan die leiding gestaan van verskeie godsdienstige en morele hervormings onder die volk, wat uiteindelik, en waarskynlik die grootste inpak op die volk gehad het, tot en met die koms van Jesus.
4. NEHEMIA EN GEBED:
Nehemia was dus voorwaar ’n formidabele leier. Die vraag is egter: Wat het hom so ’n groot en invloedryke leier gemaak? Ons kan terselfdertyd vir ons self die vraag afvra: Wat kan ek doen om ’n groot leier te wees? Wat kan ek den om ’n goeie volgeling, of landsburger, of lidmaat, of ouer, of eggenoot, of werknemer te wees?
Dit is algemeen bekend in die wêreld van bestuurswese, dat effektiewe en suksesvolle bestuurders, altyd in gedagte hou dat hulle altyd “eerste dinge, eerste doen” en dat hulle “een ding op ’n slag doen”. Wat ’n goeie en effektiewe bestuurder dus doen, is om altyd prioriteite daar te stel en dan hulle tyd effektief te bestuur.
Hierdie bestuurstrategie klink baie eenvoudig, maar die vraag is: Wat moet die bestuurder of leier se prioriteite wees? Watter dinge is werklik “eerste dinge”? Sommige sal sê: “Mense verhoudinge”. Ander sal moontlik sê, dat vooraf denke en rondspeel met gedagtes en prioriteite die belangrikste is.
Al hierdie dinge ís natuurlik belangrik, maar dit was nié die geval met Nehemia nie – daar was iets anders wat vir hom ’n “ononderhandelbare prioriteit” was – en dit was GEBED. Ons sien dit reeds in vers 4 van hoofstuk een ~ By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid.
Ons as gelowiges sal waarskynlik onmiddellik sê, dat dit die regte plek is om te begin, maar ís dit? Is dit ook régtig wat ek en jy doen, of is dit maar net ’n mooi en geestelike antwoord wat ons gee? Waarom het Nehemia hier begin?
Eerstens was Nehemia iemand wat gereeld gebid het – gebed was ’n gewoonte by hom. Nog ’n rede (en dit is waarskynlik die hoofrede) is dat hy besef het dat net God die werk kon doen.
Kom ons kyk in meer besonderhede na Nehemia se gebed. Daar is drie baie belangrike aspekte waarna ons moet kyk:
· Die gesindheid waarmee ’n mens moet bid;
· Die Gebed self;
· Volharding in Gebed.
Die eerste faset dan – Die gesindheid waarmee ’n mens moet bid. Hiervoor moet ons weer na vers 4 kyk ~ By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid. Nehemia was ’n belangrike man – selfs voor hy begin het met die heropbou van die mure van Jerusalem. Nehemia ’n man met durf, maar terselfdertyd uit vers 4 kan ons sien dat hy ook ’n nederige man voor God was. So nederig, dat hy selfs voor die Here gehuil het en homself afgesonder het om te vas. Nehemia is nie voorbarig nie, maar hy weet dat God kan doen wat hy wat Nehemia is, van Hom vra om te doen en daarom kom hy in ’n ernstige, maar onderdanige gesindheid en houding na God in gebed.
Cyril Barber wat ’n biografie oor die lewe van Nehemia geskryf het, sê: The self-sufficient do not pray; they merely talk to the themselves. The self-satisfied will not pray; they have no knowledge of their need. The self-rigteous cannot pray; they have no basis on which to approach God. ’n Ware leier (en onthou, almal van ons is leiers op vele gebiede – so is mans die leiers van hul vrouens; vrouens van hul huishouding ens.) –
’n Ware leier is iemand wat nie selfgenoegsaam is nie; selftevrede is nie; selfregverdigend is nie. Inteendeel, hy besef sy nood en is altyd gereed om homself te verneder voor dié Een (Jesus Christus) wat algenoegsaam is. Groot leiers is en was dus nog altyd “groot gebedsoldate”.
Kom ons kyk na die Gebed self. In Engels het ons ’n baie bekende akroniem om die raamwerk vir gebed aan te dui, nl.: ACTS (A=adoration / aanbidding; C=confession / belydenis; T=Thanksgiving / danksegging; S=supplication / smeking). Wanneer ons Nehemia se gebed ontleed, sal ons sien dat sy gebed presies uit hierdie raamwerk bestaan.
“Aanbidding” dan: Vers 5-6 ~ Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam, 6 luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid. “Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig.
Hierdie aanbiddingsgedeelte is ’n versinnebeelding van sy daaglikse aanbidding van God. Hoe weet ons dit? Die N.A.V. is uiters gebrekkig in sy vertaling van die oorspronklik teks hier – kom ons kyk na die O.A.V. – vers 6 ~ ...laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag. Hierdie uitdrukking “dag en nag” in die oorspronklike teks dui vir ons op ’n gereelde en daaglikse aanbidding van God. Hierdie is weliswaar ’n kort uitdrukking van Nehemia se aanbidding van God, maar gee verskeie kragtige belydenisse van God se karaktereienskappe weer: Sy soewereiniteit; Sy liefde; Sy getrouheid en die feit dat God altyd kan hoor en sien wat aangaan; Sy alomteenwoordigheid; Sy algenoegsaamheid – dit alles was vervat in Nehemia se gebed.
Nehemia het dus nie aangegaan met Sy gebed, alvorens Hy hom nie self herinner het aan dít waarmee hy besig was nie, asook die grootsheid en die karakter van God tot wie Hy sy gebed om hulpgeroep rig.
Die tweede element van Nehemia se gebed is “belydenis” – vers 6 en 7 ~ luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid. “Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig. 7 Ons het U nie geëer nie, ons was ongehoorsaam aan die gebooie, die voorskrifte, die bepalings wat U aan u dienaar Moses gegee het.
Nehemia het besef dat die sonde van die volk, die oorsaak was van God se oordele wat die val van Jerusalem tot gevolg gehad het. Hy het verder besef dat indien hulle die mure van Jerusalem sou wou opbou, dit nodig sou wees om eers hierdie sondes van die volk te bely. Nehemia is dan ook baie spesifiek wanneer hy hulle sondes voor die Here bely ~ Ons het U nie geëer nie, ons was ongehoorsaam aan die gebooie, die voorskrifte, die bepalings wat U aan u dienaar Moses gegee het (v.7). Wat opmerklik en treffend van hierdie gebed is, is dat Nehemia hom insluit by hierdie sondes wat begaan is, daarom dat hy sê ~ Ons het U nie.....
Ons vind twee baie belangrike beginsels in hierdie belydenisfaset van Nehemia se gebed. Eerstens erken Nehemia die beginsel van eenheid of te wel solidariteit – hy is dus een met die volk en daarom is sy sonde, hulle sonde en hulle sonde, sy sonde. Hy plaas homself nie eenkant – verhewe bo die volk nie. En tweedens erken Nehemia dat hyself ’n sondaar is. Hy erken dus dat daar nie ’n enkele sonde van die volk is en wat tot die val van Jerusalem gely het, waaraan hyself nie ook skuldig is nie, of wat hyself nie ook sou begaan het as hy in dieselfde omstandighede sou gewees het nie.
Nehemia is dus nie ingestel op die feit dat hy uitgesonder is, of besonder begaafd is, deur die genade van God nie, maar hy besef en erken dat hy net so ellendig en sondig soos elke ander mens is.
Die derde element in Nehemia se gebed, is dié van “danksegging” en in hierdie geval herinner Nehemia God aan Sy beloftes in verse 8-10 ~ “Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi, 9 maar as julle julle tot My bekeer en my gebooie gehoorsaam en nakom, sal Ek julle weer bymekaarmaak, al is julle oor die hele aarde versprei. Ek sal julle terugbring na die plek toe wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon.’ 10 “Hulle is u dienaars, u volk vir wie U met u groot mag en krag gered het. Hierdie gedeelte van Nehemia se gebed was ’n verwysing na die verbondsbeginsels soos vervat in Deut.28 en 30, waar dit duidelik blyk dat die verbond twee kante het, nl.: seën en veroordeling. Die verbond was dus voorwaardelik. Indien die mense God gehoorsaam, sal Hy hulle seën en aan hulle ’n veilige land skenk. Indien hulle egter ongehoorsaam aan Hom is, sal Hy hulle uitmekaar jaag – soos wat God dan wel ook met die noordelike koninkryk in 721 v.C. en met die suidelike koninkryk in 586 v.C. gedoen het.
Nehemia herinner God aan hierdie verbond, want hierdie verbond het nie nét veroordeling behels nie, want dit suggereer ook seën indien die volk hulle sou bekeer.
Deur Nehemia se sondebelydenis wil hy namens die volk optree en wel op so ’n wyse dat God weer in genade sal optree teenoor die volk.
Die laaste element vir gebed wat ons in Nehemia se gebed vind, is “smeking”. Met hierdie smeking van Nehemia, sluit hy dan ook sy gebed af – vers 11 ~ Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit ’n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.” Ek was die koning se skinker. Wie is hierdie man van wie Nehemia praat? Dit is koning Artasasta wat hy dan ook in vers 1 van hoofstuk 2 aan ons voorstel. Nehemia besef dat die koning, die sleutel tot die plan is wat hy reeds besig is om te bedink en hy erken verder, dat God die koning se hart sal moet verander, anders kan sy plan nie slaag nie.
Hoe kan ons mense laat verander? Wat kan ons doen om ons werkgewer se gesindheid te laat verander; of my man se verkeerde optrede, of my kind se rebelsheid, ens. Ons kan niks doen nie – ons kan nie mense se gedrag en optrede laat verander nie – God kan egter! Spr.21:1 stel dit pragtig ~ Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ’n stroom water lei Hy (God) dit soos Hy verkies.
Hudson Taylor van die destydse China Inland Mission, het gesê ~ It is possible to move men through God by prayer alone.
Ten slotte sien ons dat Nehemia volhard het in gebed en dit was Nehemia se eerste groot vervulling van sy leierskapsrol. Ons weet dat hy volhard het in gebed, omdat daar ’n gedetailleerde verbinding is tussen vers 1 van Nehemia 1 en die eerste vers van hoofstuk 2.
In hoofstuk 1 sê Nehemia dat ’n afvaardiging hom besoek het in die maand van “Kislef”, wat ooreenstem met ons November/Desember. In hoofstuk 2 sien ons dat Nehemia sy versoek om die mure van Jerusalem te herbou en waartydens die koning toestemming daartoe verleen, in die maand "Nisan" gerig het en dit stem ooreen met ons Maart/April. Daar het m.a.w., 4 tot 5 maande verloop sedert Nehemia die eerste keer sy versoek tot God gerig het en die tyd wat God sy gebed beantwoord het en hy met die herbou van die mure kon begin – Dít is volharding in gebed.
5. TEN SLOTTE:
Ter afsluiting wil ek julle herinner aan die verhaal in Luk.11:5-10 ~ Verder sê Hy vir hulle: Sê nou een van julle het ’n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, 6 want ’n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7 En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie...’ 8 Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie. En dan sluit Jesus af met hierdie woorde ~ 9 “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10 Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.
Wat interessant is, is die feit dat ons hier te doen het met ’n dubbele vriendskap. ’n Vriend kom vra ’n vriend om brood, omdat sy vriend by hom aangedoen het. Wat kan ons hieruit leer? Ons kan hieruit leer dat ons nie net op vriendskapbasis met ander mense moet leef nie, maar dat ons ook Christus Jesus kan sien as ons vriend en dat ons daarom met vrymoedigheid na Hom kan gaan ten einde ’n “broodjie” van Hom te kan vra. Ja, natuurlik moet ons steeds in gedagte hou dat God, God is en dat ons Hom met respek moet benader en met Hom moet praat (nie bv. sommer – soos so baie mense deesdae doen nie – Here “Jy” moet asb. ...). Die punt egter is dat ons Hom met vrymoedigheid kan nader in gebed.
[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 10 Mei 2009