Sunday, January 27, 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 02 ("Jona word verlos van Jona")


 

1.    INLEIDING:
       In vv. 1-3 van Jona, het ons gesien dat God die profeet geroep het om na ’n heidense volk te gaan, maar dat Jona glad nie daarvoor kans gesien het nie en dat hy sy eie planne gemaak het ten einde God te ontduik – hy is ongehoorsaam aan sy roeping waartoe God hom geroep het en in die volgende verse van hoofstuk 1, sal ons sien wat die nadraai van Jona se ongehoorsaamheid en sonde was en ons kan hierdie nadraai in die volgende vier bedrywe uitgebeeld sien:
·           God se reaksie;
·           Die heidene se reaksie;
·           Jona se reaksie;
·           Ons reaksie.

Sunday, January 20, 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 01 ("Gaan dan heen...")


1.    INLEIDING:
       Martin Luther het gereeld hierdie bekende Latynse uitdrukking gebruik: simul justus et peccator. Om sin te maak van hierdie uitdrukking kan ons na ’n verduideliking van Tim Keller kyk, waar hy kortliks die betekenis van die Evangelie verduidelik: The Gospel isn't simply the ABC's of Christianity, but the A-through-Z. The Gospel doesn't just ignite the Christian life; it's the fuel that keeps Christians going every day. Once God rescues sinners, His plan isn't to steer them beyond the Gospel but to move them more deeply into it. After all, the only antidote to sin is the Gospel – and since Christians remain sinners even after they're converted, the Gospel must be the medicine a Christian takes every day. Since we never leave off sinning, we can never leave the Gospel.

       Keller sê dus, dat gelowiges steeds die Evangelie nodig het ná wedergeboorte, omdat gelowiges steeds sondaars is en derhalwe voortdurend vergifnis nodig het vir hul sondesmet. Ons het dus die Evangelie op daaglikse basis nodig – en dit is presies wat Luther ook sê: Gelyktydig geregverdig en sondig ("simul justus et peccator ").

       Jerry Bridges sê ook dat gelowiges die Evangelie net so broodnodig het as ongelowiges en dan sê hy, dat gelowiges se gebrekkige geestelike groei, toegeskryf kan word aan ’n gebrekkige kennis en insig in die Evangelie. Hy sê verder dat gelowiges nie harder moet probeer om soos gelowiges te leef nie, maar eerder om die onbeskryflike werk van Christus aan die kruis beter te verstaan en wanneer hulle dit beter verstaan, dan met ’n groter bewustheid van God se genade in elke faset van sy lewe, sy dag te leef.

Sunday, January 13, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 17 ("Jesus Christus ons Ewige Hoë Priester - 02")

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1.    INLEIDING:
       In ons vorige boodskap, het ons gesien dat ’n ieder en ’n elk van ons, sondaars is en omdat God heilig is en derhalwe sonde haat, het ons ’n Hoë Priester nodig wat vir ons die volmaakte offer kan bring ten einde God se wrewel of toorn op ons sonde, af te weer – ons het dan ook gesien dat Jesus Christus hierdie ewige Hoë Priester vir ons geword het.

       Ons het ook gesien dat Melgisedek ’n voorafskaduwing van Jesus se volmaakte en ewige Hoë Priesterlike amp was.

       Laastens het ons ook gekyk na Christus wat die enigste volmaakte geregtigheid is en omdat Hy God is, is daar geen sonde in Hom nie en kan nét Hy dus, volmaakte en finale geregtigheid aan ons skenk.


Sunday, January 6, 2013

Psalm 91 (Skuil by die Allerhoogste)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

 1.    SKRIFLESING:

       Ps.91:1-16 ~ Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, 2hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.” 3Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte. 4Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. 5Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, 6vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. 7Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie. 8Met jou eie oë sal jy sien hoe die goddelose gestraf word. 9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, 10sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie. 11Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 12Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie. 13Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy dood trap. 14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. 15Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel. 16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.”   

2.    INLEIDEND:
       Wanneer die man op straat hierdie Psalm deur Moses sou lees, kan ’n mens verwag dat hy vrae sou vra en opmerkings sou maak soos: Hoe kan julle Christene sê dat God se trou jou van alle kante kan beskerm (n.a.v. – v.4) en as ek so na julle Christene kyk, word julle ook maar siek en gaan julle ook maar dood – leef julle in ’n gekkeparadys om te glo dat die Allerhoogste julle bewaar van dodelike siekte (n.a.v. – v.3)? ’n Mens kan ook verstaan dat ongelowiges sulke opmerkings kan maak, want ons gaan immers almal dood, ens., maar ons weet terselfdertyd dat hierdie Psalm, net soos al die ander Psalms en die res van die Bybel, God se Woord is en daarom moet dit tog immers waar wees, trouens vir ons as gelowiges is hierdie woorde en die res van Ps.91 (net soos die res van die Woord), vir ons as gelowiges geweldig bemoedigend en vertroostend – indien ons dit reg verstaan.

       Hierdie spesifieke Psalm is dan ook ’n Psalm wat alombekend is en wat voortdurend deur duisende gelowiges aangehaal of in herinnering geroep word, veral wanneer dit moeilik gaan met hulle. Ps.91 kan vergelyk word met Ps.46 waarin God in v.2, ’n God genoem word wat ...vir ons ’n toevlug en ’n beskerming is; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Die vorige Psalm (Ps.90) is ’n soortgelyke Psalm en beide verwys na God as ’n "toevlug" ("a dwelling place").

       Waar ons aan die begin van 2013 staan is hierdie Psalm ook ’n baie gepaste Psalm vir ons om aan vas te hou deur die loop van die jaar.