Sunday, September 16, 2012

Psalm 95 (Hoe om God te Aanbid)



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
 1.    VOORAF:

         John Stott het op ’n keer gesê: True worship is the highest and noblest activity of which man, by the grace of God, is capable. Ongelukkig moet ons erken dat, wat in baie kerke vandag aan die gang is, min tot niks te doen het met ware aanbidding van God nie en wanneer ons dit sê, moet ons uiteraard ook die hand diep in ons eie boesem steek, ten einde vas te stel hoe ons God werklik aanbid en of ons dit doen soos wat die Woord van God van ons vereis.

       Ps. 95 is ’n pragtige voorbeeld vir ons van hoe God aanbid moet word, trouens dit is ook ’n oproep tot ware aanbidding van God. Hierdie Psalm is egter ook ’n waarskuwing wat aan ons gerig word van wat sal gebeur, indien ons God nie aanbid nie. 


2.    SKRIFLESING:
       Ps.95:1-11 ~ Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind, 2laat ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange, 3want die Here is die magtige God, die groot koning oor al die gode. 4Die dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. 5Die see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm. 6Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper! 7Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg. As julle vandag maar na Hom wou luister: 8“Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba, soos die dag by Massa in die woestyn nie, 9waar julle voorvaders My uitgetart en my geduld beproef het, hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het. 10Veertig jaar lank het Ek ’n weersin in daardie geslag gehad, Ek het gesê: ‘Hulle is ’n moedswillige volk, hulle wil my paaie nie ken nie.’ 11Daarom het Ek in my toorn ’n eed afgelê dat hulle nooit sou uitkom by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.”  

3.    INLEIDEND:
       Dit is onbekend wie die skrywer van hierdie Psalm was en dit is ook nie bekend wanneer dit geskryf is nie. Wat ons wel weet is dat hierdie Psalm, tesame met Ps.93 tot en met Ps.100 gesing was deur die Israeliete om lof en eer aan God te bring, terwyl hulle na die Tempel in Jerusalem gestap het. Elkeen van hierdie Psalms wat gesing was, is ’n verklaring en verduideliking van hoe ons God moet aanbid, maar terselfdertyd ’n vermaning om nie ons aanbidding van God af te skeep nie.

4.    SKEMA:
·           Oproep tot gesamentlike aanbidding (vv.1-7b):
o   Aanbid die Rots van ons Verlossing (vv.1-5).
o   Aanbid die Here ons Skepper en Herder (vv.6-7b).
·           Oproep tot gehoorsaamheid (vv.7c-11).

5.    OPROEP TOT GESAMENTLIKE AANBIDDING:
       Twee oproepe word in die eerste helfte van hierdie Psalm gerig tot die Israeliete, ten einde hulle op te roep tot gesamentlike aanbidding. Die eerste vind ons in die eerste vers ~ Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind en die tweede in v.6 ~ Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!  

       Ons sien duidelik hier dat hierdie uitnodigings tot aanbidding, op twee vlakke lê. Die eerste is ’n uitnodiging om te sing en die tweede is ’n uitnodiging tot gebed. Ons sien dus dat gemeentelike aanbidding uit twee baie belangrike fasette bestaan, nl. sang en gebed.

       Die feit dat die Psalmdigter die volk hier oproep om te jubel, dui vir ons op ’n uitbundige en feestelike atmosfeer. Die volk is bly en hulle het rede om uitbundig bly te wees, want hulle is gered van slawerny en ballingskap. Hier bestaan dus ’n gesindheid van uitbundige en opregte dankbaarheid.

       In v.2 vind ons ’n aanduiding van hoe die volk opgeroep word tot aanbidding – hier moet ons egter na die Engelse vertalings gaan kyk, omdat beide ons Afrikaanse vertalings hier te kort skiet – die N.K.J.V vertaal dit met ~ Let us come before His presence with thanksgiving; Let us shout joyfully to Him with psalms. Ons sien dus dat die Psalmdigter hierdie gedeelte geskryf het, met die bekende en pragtige rymvorm van A, B, B, A en as ons dit dan direk uit die Engels sou vertaal, sien dit as volg daar uit:
A.   ...laat ons na Hom toe gaan...
       B.  ...met dankbaarheid, 
       B.  ...met lofsange
A.  ...laat ons Hom toejuig...

       In hierdie eerste twee verse van Ps.95, vind ons die wie en die hoe van ons aanbidding. Die wie, sien ons in v.1, is die Here en die Here word verder in v.3 beskryf, nl. ...die Here, die magtige God, die groot koning oor al die gode. Hierdie selfde beskrywing van die Objek van ons aanbidding vind ons in Titus 2:13 ~ ...terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Ook in Maleagi 1:14b word die Here beskryf as ~ ...Ek is die Grootkoning, sê die Here die Almagtige, vir My het die nasies ontsag.

       Kan u sien wat die Psalmis besig is om hier te doen? Hy is besig om redes te verskaf waarom elke mens uit dankbaarheid na God moet gaan – ja selfs ongelowiges. Die mens se primêre verantwoordelikheid is om God uit dankbaarheid te aanbid, maar by gebrek daaraan sê Paulus in Rom.1:24 dat God hulle ~ ...aan die drange van hulle hart en aan sedelike onreinheid (oorgee), sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer.

       Waarom is God ons totale aanbidding waardig? Vv.3-5 sê vir ons waarom ~ ...want die Here is die magtige God, die groot koning oor al die gode. 4Die dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. 5Die see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm.

       Die Wie; die Objek van ons totale aanbidding is dus God self – Hy wat Koning oor alle gode is; Hy aan wie die ganse heelal behoort – Hy die Skepper van hemel en aarde!

       Ek het gesê, dat ons ook die "hoe" van ons aanbidding in die eerste twee verse van hierdie Psalm vind:
-        In v.1 vind ons die eerste wyse van aanbidding, nl. om te jubel. Hierdie woord jubel kan ook in die Afrikaans vertaal word met "sing". Net soos wat daar baie tipes musiek is, is daar ook baie maniere om te sing. Wat ons wel weet is dat daar in die Ou Testamentiese tye, baie gesing is. Sang is baie dikwels die uitdrukking van ’n mens se emosies, waarvan vreugde waarskynlik die belangrikste is en die Bybelse godsdiens is tog immers een van vreugde en daarom het die gelowiges deur die eeue heen, soveel aandag aan sang in die kerk gegee. Natuurlik is dit belangrik dat ons as gelowiges baie mooi moet let op die inhoud van ons sang (musiek en lirieke) – die vraag wat ons voortdurend vir onsself moet afvra, is of die musiek en die woorde van ons sang, God verheerlik of nie.
-        Ons lees in v.2 dat die Psalmdigter sê dat hulle die Here moet toejuig – die Afrikaanse woord hier, stel dit baie saggies, maar die N.K.J.V. vertaal hierdie woord "toejuig", met ’n woord wat waarskynlik nader aan die ware toedrag van sake was, nl. "shout". Om te skree tydens ons aanbidding is, sal u met my saamstem, totaal vreemd aan ons kultuur, maar destyds (en in sommige kulture vandag nog – selfs sommige Charismatiese groepe) was en is dit glad nie so vreemd nie, omdat dit weereens ’n uitdrukking was van emosie en vreugde. Om egter nié te skree nie, is ook nie verkeerd, wanneer ons die Here loof en prys nie (asseblief!).
-        In v.2 maak die Psalmdigter ook melding van "lofsange". Hierdie lofsange is gewoonlik met instrumentale begeleiding gesing. Ps. 150:3-5 gee bv. vir ons ’n aanduiding van watter tipe instrumente gebruik is ~ Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en lier! 4Prys Hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinstrumente en fluite! 5Prys Hom met simbale, prys Hom met galmende simbale! Wanneer ons na hierdie lys kyk, beteken dit nié dat ons nie  klawerborde, viole, klaviere en orrels, mag gebruik nie, want indien hierdie instrumente destyds bestaan het, is ek daarvan oortuig dat hulle dít ook sou gebruik het (mag ek maar tong in die kies sê: Daar is beslis geen melding van tromme in die lys nie!).

o    Aanbid die Rots van ons Verlossing:
       Wanneer dankbaarheid uitgespreek word, of wanneer aanbidding plaasvind, ongeag die wyse waarop dit gedoen word (sang, spreke, gebare, of wat ook al), word sulke dankbetuigings, altyd gerig tot iemand vir iets wat daardie persoon aan of vir die dankbare persoon gegee of gedoen het.

       Word die gewer van hierdie geskenk of daad, vir ons hier geïdentifiseer? Ja, die Gewer is die Here volgens v.1 en waarom dank die volk Hom? V.1b sê vir ons waarom, nl. dat Hy, die Here, vir hulle die rots (is) by wie (hulle) redding vind. Die heel eerste keer dat God in die Ou Testament geïdentifiseer word as die volk Israel se "Rots van verlossing" vind ons in Deut.32:15 in die "Lied van Moses" ~ Jesurun het alles in oorvloed gehad; hy het in opstand gekom. Jy het oorvloed gehad, jy het dom geword, jy het jou ooreet. Hy het God wat hom gemaak het, verwerp, Hy was vermetel teen die Rots wat hom gered het.

       In die Ou Testament was ’n rots gewoonlik geassosieer met water in die wildernis. Ons Psalm en dan spesifiek vv.7-11, sinspeel, of verwys op ’n verskuilde manier na hierdie tydperk van die volk Israel se omswerwinge in die woestyn – bv. in Eks.17:1-7 toe die volk in die Sinwoestyn dors was en Moses by Horeb, opdrag van God ontvang het om met sy kierie teen die rots te slaan, waarna daar water uit die rots gestroom het. Dawid het hierdie verwysing na God as die volk se Rots ook in Skrifgedeeltes soos Ps.18:47 en 62:3 en 7 gebruik, asook in 2 Sam.22:47. Israel word derhalwe opgeroep om hulle Rots – die Here God, te aanbid uit dankbaarheid dat Hy redding (water) vir hulle in die wildernis geskenk het.

       Mense kan voorwaar geprys word vir dinge wat hulle doen of bereik (dink bv. aan Oscar Pistorius die afgelope tyd in Londen by beide die Olimpiese Spele), máár aanbidding kom nét die Here God toe. Wat egter ook belangrik is, is dat ons God nie na behore kan aanbid en loof en prys, as ons Hom nie na behore ken nie en daarom beskryf die Psalmdigter Hom in vv.3-4, deur na Hom te verwys as die ~ ...die magtige God, die groot koning oor al die gode. 4Die dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. Ons moet God se karakter ken; ons moet weet met Wie ons te doen het. Dit is die wegspringplek as ons God na behore wil aanbid en lof en eer aan Hom wil bring.

       Ek het netnou gesê dat die uitnodiging tot aanbidding op twee vlakke lê; nl. sang, maar dan ook gebed.

o    Aanbid die Here ons Skepper: 
       Vv.6-7 van ons Psalm fokus ons aandag nou op die tweede aspek van ons aanbidding, nl. gebed ~ Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper! 7Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg. Ons vind drie werkwoorde in hierdie twee verse en al drie spreek van onderwerping, aanbidding en gehoorsaamheid en dit beteken letterlik om jou neer te buig of te kniel met jou kop omlaag voor iemand wat jou absolute meerdere is.

       As ons in gedagte hou dat God nie net die hemel en die aarde geskape het nie, maar ook elkeen van ons (Gen.2:7), dan begin ons besef dat Hý waardig is om aanbid te word; dat Hý die Een is voor wie elke mens die knie moet en sal buig en dat ons voor Hom moet neerval in aanbidding – voor Hom die almagtige en heilige God!

       Ons volgende oproep tot aanbidding word in v.7 aangetref en is baie meer spesifiek en persoonlik van aard, as die oproep wat ons in die vooraf gedeeltes gevind het, want hier word ons gewys op die baie spesifieke en intiem persoonlike verhouding wat daar tussen God en Sy kinders bestaan – kom ons kyk net weer daarna ~ Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg. Hierdie beskrywing van die verhouding wat daar tussen God en Sy kinders bestaan, is ’n tipiese Ou Testamentiese beskrywing van die Mosaïese verbond (bv. Eks.6:7; Lev.26:12). Hierdie beeld van God as Herder en Sy kinders as skape, is egter ’n algemene beeld, so gebruik Esegiël bv. dieselfde beeld in Eseg.34:31 ~ Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God,” sê die Here my God. Ook gebruik Jesus hierdie beeld in die Nuwe Testament wanneer Hy in Joh.10 die volgende sê ~ Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape (v.7); Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (v.11); Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My (v.14) en Ek lê my lewe af vir die skape (v.15b).

       Daar rus ’n swaar verpligting op ons skouers om God te aanbid, omdat Hy Skepper is van alles wat is en wat lewe, maar daar rus ook ’n heerlike verantwoordelikheid op ons skouers om God te aanbid, omdat Hy ons beskerm en versorg soos ’n herder, sy skape.

       Omdat Hy Sy lewe aan ons geskenk het; omdat Hy Sy lewe vir ons afgelê het en omdat ons aan Hom behoort, het ons die absolute versekering dat niks of niemand ons ooit uit Sy hand sal ruk nie (Joh.10:28) – is dit nie alleen al genoeg rede om Hom met oorgawe te aanbid nie!

6.    OPROEP TOT GEHOORSAAMHEID:
       Skielik aan die einde van v.7 kry ons ’n dramatiese verandering in stemtoon. Vanaf v.1 tot en met v.7a, is ons opgeroep tot aanbidding en is daar vir ons gesê wie aanbid moet word en hoe en waarom ons moet aanbid, maar nou hier in v.7b word ’n vermaning tot ons gerig ~ As julle vandag maar na Hom wou luister. Dit is God self wat nou hier met die volk praat en nie meer die Psalmdigter nie en wat Hy in essensie van ons verlang wanner ons in aanbidding voor Hom verkeer, is dat ons na Sy stem moet luister.

       Dit is prysenswaardig wanneer mense na aanbiddingsbyeenkomste, of na kerkbyeenkomste gaan, maar die waarde daarvan om na so ’n byeenkoms te gaan, verdwyn soos mis voor die son, wanneer ons fokus nie op God en Sy woord gevestig is nie – om God te aanbid is in die eerste en laaste plek om na God se stem te luister – na Sy Woord. Dit is waarom die verkondiging en verklaring van die Woord sentraal moet staan in die erediens.

       Ware aanbidding moet gebaseer wees op die Woord en die prediking van die Woord. Ware aanbidding gaan egter nog ’n stappie verder, deurdat v.7b vir ons sê dat ons na die Woord moet luister en hierdie woord luister, is nie ’n passiewe luister nie, maar ’n aktiewe luister – ons moet dus gehoorsaam wees aan die Woord wat ons hoor. Anders gestel: Deur gehoorsaam te wees aan die Woord is nóg ’n wyse van aanbidding. Deut.11:13-15 spel vir ons uit wat gehoorsaamheid aan God se Woord behels ~ As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel, 14sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes. 15Die Here sal sorg vir groen gras op julle veld vir julle vee, en julle sal oorgenoeg hê om te eet. Gehoorsaamheid impliseer dus dat ons sal doen wat God se Woord vir ons leer, maar dit impliseer ook dat ons God lief sal hê en Hom dien met hart en siel. Die teenpool van gehoorsaamheid vind ons in 1 Sam.12:15 ~ As julle nie na die stem van die Here luister nie en ongehoorsaam is aan die bevel van die Here, sal die Here teen julle wees, soos teen julle voorvaders.

       Die Here waarsku die lesers van Ps.95 deur vir hulle te sê dat hulle nie so hardkoppig soos hulle voorgeslag moet wees nie en dan verwys Hy hulle na die gebeure by Meriba en Massa waar die volk met Moses getwis het en hom verwyt het dat hy hulle van die vleispotte van Egipte beroof het – hulle het m.a.w. eintlik teen God en Sy Woord in opstand gekom en Hom verwyt oor hulle situasie en ons het vroeër gesien wat die uiteinde van o.a. hierdie rebellie was en dit word vir ons weer in v.11 bevestig ~ Daarom het Ek in my toorn ’n eed afgelê dat hulle nooit sou uitkom by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.

7.    AFSLUITING:
       Die Here waarsku dus Sy kinders om Hom te aanbid en wanneer ons Hom aanbid, dat ons nie ons harte sal verhard wanneer ons na Sy Woord luister nie, of om in opstand teen Hom te kom en teen Hom te rebelleer soos die Israeliete van ouds nie, maar om gehoorsaam te wees aan Sy Woord en dit uit te leef in en deur ons lewens en God vir Sy Woord te prys.

            Indien die Here vir die Israeliete toegang tot die Beloofde Land ontneem het, a.g.v. hulle ongehoorsaamheid, is die toepassing hiervan op ons wat in die Nuwe Testamentiese era leef, dat ons die Ewige Rus kan verbeur indien ons nie gehoorsaam is aan God se Woord nie. Daarom moet ons aandag skenk en luister wanneer die Psalmdigter in v.7 sê ~ As julle vandag maar na Hom wou luister. Die punt is dat die Evangelie van Jesus Christus, vandag nog vir elkeen van ons beskikbaar is – die uitnodiging om ons te onderwerp aan Jesus Christus en in Hom te glo, word vandag opnuut aan elkeen van ons gerig – daar ís verlossing en oorwinning in Jesus Christus beskikbaar!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) - Sondag, 16 September 2012