Tuesday, January 3, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 01 (Die Gemeente in Efese)

1.     INLEIDING:
In hoofstukke 2 en 3 van die profesie van Openbaring, vind ons briewe wat Johannes aan sewe gemeentes in Klein-Asië geskryf het, nadat Jesus Christus dit aan hom gedikteer het.  Hierdie gemeentes aan wie Johannes sy briewe rig, was Efese (2:1-7), Smirna (2:8-11), Pergamum (2:12-17), Tiatira (2:18-29), Sardis (3:1-6), Filadelfia (3:7-13) en Laodisea (3:14-22).  Hierdie was werklike gemeentes wat bestaan het in die tyd wat Johannes hierdie apokalips (openbaring van God) ontvang het.  Ook het die toestande t.o.v. van die gemeentes, soos beskryf in Openbaring, werklik in daardie spesifieke gemeentes geheers.

Hierdie toestande wat in hierdie sewe gemeentes geheers het, is dan ook realiteite wat in die kerk in die breë vandag nog voorkom.  Elke gemeente ervaar dus op een of ander stadium van haar lewe, een of meer van hierdie toestande – dalk al sewe gelyktydig!  Elke gemeente ervaar dus van tyd tot tyd (oor korter en soms langer stadiums) dinge wat prysenswaardig is; of afkeurenswaardig is; of dinge wat verbetering en/of verandering benodig. 


Al was hierdie briewe dus oorspronklik vir sewe spesifieke gemeentes bedoel, dien dit vandag nog as bloudruk vir die kerk van ons dag, waaraan ons onsself moet meet.  Ons as gemeente en die kerk in die algemeen moet haarself dus voortdurend aan al sewe hierdie briewe meet en moet ons as individue, maar ook as gemeente saam, ons opnuut verbind daaraan om te wees wat Christus wil hê ons as gemeente moet wees. Laat ons dus deeglik kennis neem van wat aan hierdie gemeentes gesê is; laat ons, onsself (weereens: individueel en as gemeente) daaraan meet; ons bekeer en ons daarop toespits en daaraan wy om die individu en die gemeente te wees wat Christus – ons Hoof – wil hê ons moet wees.

Ons vind ’n algemene patroon in die struktuur van elk van hierdie sewe briewe:
·           Elke brief is deur Christus aan ’n spesifieke gemeente gerig.
·           Elke brief stel die Hoof van die plaaslike gemeente (Christus Jesus) voor as ’n spesifieke karakter, of beeld.
·           Elke brief onthul ondubbelsinnig dat Christus oor volkome kennis beskik t.o.v. die toestand van daardie spesifieke gemeente.
·           Met die uitsondering van een gemeente, ontvang elke gemeente een of meer lofuitinge.
·           Met die uitsondering van twee gemeentes, ontvang elke gemeente kritiek oor een of meer situasie(s) wat in die gemeente bestaan.
·           Elke gemeente ontvang ten minste ’n vermaning.
·           Elke gemeente ontvang een of ander belofte t.o.v. getrouheid.

Kom ons kyk net eers na ’n kort opsomming van elk van die gemeentes, voor ons na elke gemeente individueel kyk:
DIE SEWE GEMEENTES IN KLEIN-ASIË
Die Geadres-seerde Gemeente
Beeld van Christus
Christus se Aanprysing
Christus se Bestraffing
Christus se Raad
Christus se Belofte
Efese
(2:1-7)
Hoof van die Kerk en altyd teenwoordig in Sy Kerk
Ywer, volharding en suiwerheid van leer en dissipline
Verlies van Eerste Liefde
Bekering en terugkeer na vroeëre werke
Boom van die Lewe
Smirna
(2:8-11)
Die Ewige Een en die Eerste uit die dood
Volharding deur vervolging, armoede en lastering
Geen
Vreesloos en getrou tot die dood
Kroon van die Lewe en immuniteit teen die ewige dood
Pergamum (2:12-17)
Besitter van die tweesnydende swaard
 Standvastig en getrou aan Christus
Staan onverskillig t.o.v. dwaalleer; immoraliteit en afgodery
Bekering
Verborge manna; Wit Keursteen en ’n Nuwe Naam
Tiatira
(2:18-29)
Seun van God met oë soos vlammende vuur en voete soos blinkkoper
Liefde, diensbaarheid, geloof en geduld
Verdra immoraliteit en afgodery
Volharding tot die einde
Mag om oor die Nasies te regeer en die Môre Ster
Sardis
(3:1-6)
Besitter van sewe Geeste en sewe sterre
Huisves ’n getroue groep van die uitverkorenes
Dooie Kerk maar het die naam dat hul leef
Waaksaamheid, bevestiging van oorblywende deugde
Naby wandel met Christus, wit kleed, name in Boek van die Lewe
Filadelfia (3:7-13)
Heilig, Waar en besitter van Dawid se Sleutel
Getrouheid aan Christus se Woord en Naam
Geen
Volharding in geloof en goeie werke
Vyand buig voor hulle; beskerm en geëer word
Laodisea (3:14-22)
Die Amen, Getroue en Ware Getuie en Regeerder van God se Skepping
Geen
Louwarm
Soek Goddelike hulp
Sit saam met Christus op Sy Troon

Kom ons kyk dan na die eerste gemeente aan wie Johannes geskryf het, nl. die gemeente in Efese.

2.    SKRIFLESING:
Openb.2:1-7 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese: So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan: 2Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. 4Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. 5Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! 6Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku. 7Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.


3.    DIE GEMEENTE IN EFESE (2:1-7):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
In vers 2:1a sien ons wie die geadresseerde gemeente van hierdie eerste brief is, nl. Efese ~ Skryf aan die engel van die gemeente in Efese (O.A.V.), of volgens die N.A.V. ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese.  Hierdie brief word direk gerig aan die engel of die leraar van die gemeente in Efese. 

Hierdie gemeente is in ongeveer 60-63 n.C. deur Paulus gestig en met die Woord “gevoed” (Hand.18:19-21; 19:1; 20:16-38).  Hierdie brief uit Patmos word dus so kort as 35 jaar na die stigting van die gemeente aan hulle gestuur.  Die gemeente van Efese was waarskynlik op haar dag, die sterkste gemeente in Klein-Asië, maar dit is hartseer om te sê dat hierdie gemeente vandag nie meer bestaan nie, behalwe vir ’n paar bouvalle, want die primêre rede hiervoor en die feit dat Islam hierdie gebied vandag oorheers, is o.a. omdat die gemeente haarself nie voortdurend gemeet het aan die brief wat gedurende die eerste eeu by haar afgelewer is nie en haarself nie bekeer het nie.

Ten spyte van die feit dat hierdie gemeente in ’n "duistere stad" gevestig was (die Tempel van Diana – een van die sewe wonders van die antieke tyd – was bv. in Efese gesetel) en dat die vervolging teen Christene geweldig fel was (Hand.19:8-9, 21; 20:18-19), was hierdie ’n gemeente wat in ’n uiters bevoorregte posisie verkeer het – die “grootte" Apostel Paulus het hierdie gemeente geplant en die eerste groep gemeentelede het aan Paulus se voete gesit!  Paulus het die Woord hier vir drie jaar lank bedien – langer as by enige ander gemeente ooit (behalwe natuurlik sy tuisgemeente in Antiochië). Mense van statuur het saam met hom daar gewerk, en ook die gemeente ná Paulus se tyd, bedien met die Woord – hulle was dus medewerkers met Paulus en het meegehelp om die fondasie van hierdie gemeente te lê – mense soos Akwila (Hand.18:19,26), Apollos (18:24-28) en Timoteus (1Tim.1:3) – Dink jou in:  Jy sit aan hierdie formidabele manne se voete om van die Woord te leer!  Asof dit nie genoeg is nie, ontvang hierdie gemeente ook nog Johannes se eerste brief wat hy vanuit die tronk geskryf het – nie ’n ander gemeente nie, Efese. Volgens Ef.1:1 was dit in ongeveer 60 n.C. 

Ons het dus hier te doen met ’n gemeente waarvan die fondasies baie deeglik in die Woord gelê is.  Dit is verder ’n gemeente wat in ’n ryk, bekende en vooruitstrewende stad geleë was – ’n stad wat bekend was vir sy handel, maar ook vir die Tempel van Diana (Hand.19:23-27).  Met soveel weelde en oorvloed is korrupsie en sonde, natuurlik ook dikwels die natuurlike gevolg.

·           Die Beeld van Christus:
In die tweede gedeelte van v.1, word aandag geskenk aan die beeld van Christus, deur dat daar twee dinge t.o.v. Christus gesê, nl. ~ So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan (Openb.2:1b).  Eerstens word gesê dat Hy “die sewe sterre in Sy regterhand vashou”  Met hierdie bekendstelling, onthul Christus Homself as die Hoof van die Kerk en dit impliseer dus dat alle die beheer en die regering van die Kerk ondergeskik is aan Christus

In Openb.1:20 is "die sewe sterre" reeds geïdentifiseer as die Kerkleiers van gemeentes, wat onder die leiding en beheer van Christus staan.  Kerkleiers moet altyd hiervan bewus wees, want heeltemal te veel kerkleiers tree deesdae op, asof gemeentes onder hulle direkte beheer staan – so asof hulle die soewereine leiers van die gemeente is.  Hulle gebruik en misbruik die finansies van die gemeente asof dit hulle s’n is en selfs gemeentes wat onder sy bediening geplant word, bly staan onder sy diktatuur.  Niemand mag sy optrede in twyfel trek nie, want hy is nie verantwoording verskuldig aan enige iemand nie.  

Dit is opmerklik dat ons in v.2b sien dat Christus die sewe sterre in Sy regterhand vashou.  Die regterhand word gewoonlik beskou as ’n hand van krag ~ Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou (Jes.41:10).  Die Here Jesus regeer dus Sy kerk met ’n ferm hand.  Hy gee dan ook aan die Kerk ’n vaste fondasie in die vorm van die Woord van God.  Aan die hand van hierdie fondasie moet die Kerk dan ook regeer word en daarom het geen leier absolute mag of beheer oor die gemeente nie en geeneen het die reg om die Kerk buite die mandaat van die Woord te lei nie.  Alle leiers en lidmate staan dus onder leiding van die Here Jesus Christus – Hý is die Opperherder.

Voorgangers van gemeentes word derhalwe deur Christus geroep, toegerus en gestuur.  Voorgangers staan dus onder Christus se gesag en leiding.  Dit impliseer verder dat die Kerk, voorgangers dus moet sien as sondige mense, maar toegerus, geroep en verhef bo die ander lidmate in die gemeente en wel op grond van die feit dat Christus die voorgangers in Sy regterhand vashou.

Tweedens sien ons ook in v.2b, dat Christus tussen die sewe goue lampe rondgaan – dit beteken dat Christus intens betrokke is by al Sy gemeentes – selfs by die gemeentes se alledaagse doen en late.  Waar Sy kinders ook al byeen is, is Hy teenwoordig – daarom dat daar in Matt.18:20 staan ~ ...want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.  Waarom is Hy so intens teenwoordig en betrokke?  Om Sy kinders te lei en te seën.  Christus is voorwaar alomteenwoordig en almagtig en daarom ontglip geen enkele aktiwiteit of motief Sy aandag nie.  Hierdie wete laat ’n mens sidder en noop ’n mens terselfdertyd om toe te sien dat jou leer (“doctrine”) en optrede altyd sal getuig van suiwerheid en gehoorsaamheid aan die Woord.  Aan die anderkant egter, behoort dit alle gelowiges wat in die Waarheid wandel, te bemoedig en te vertroos, omdat hulle weet dat die Trooster altyd in hulle midde is.

·           Christus se Aanprysing:
Ons vind Christus se aanprysing in Openb.2:2-3 ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3 Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.  Verskeie dinge in die gemeente in Efese was prysenswaardig in die oë van die Here.  Eerstens, was dit hulle ywer.  Hierdie was nie ’n gemeente vol luiaards en toeskouers, wat alles aan die ouderlinge en diakens of leierskap oorgelaat het om te doen nie.  Elkeen het presies geweet wat van hom of haar verwag is en watter rol hulle moes vervul en hulle het dit ook met ywer gedoen en waarskynlik met die minimum toesig.  Hierdie was ’n deug wat baie tyd en energie gevra het en die alwyse Christus het dit raakgesien, soos wat Hy ook al ons deugde (of passiwiteit?) raaksien.

Tweedens het Christus, hulle geprys vir hul volharding. Hierdie gemeente het onder moeilike omstandighede gearbei – onthou, hulle gemeente was in ’n bose gemeenskap gesetel, waar daar ernstige vervolging teen gelowiges geheers het. Nogtans volhard hierdie gelowiges getrou en geduldig. Hulle het meer gedoen as bloot net om te oorleef, daar was vrug op hulle arbeid.

Derdens was hierdie gemeente se optrede en leer (“doctrine”), stewig gegrond in die Woord en het ons hier te doen met ’n gemeente wat oënskynlik alles denkbaar beleef het wat ’n gemeente maar kon beleef, maar nogtans was hulle geduldig en het hulle gedissiplineerd opgetree.  Te midde van teenkanting en vervolging en verguising en blootstelling aan vals leer, was hulle nogtans geduldig en gedissiplineerd.  Hierdie geduld en dissipline, onder hierdie omstandighede was welgevallig in die oë van die Here.  Hierdie gemeente was uitverkoop aan die feit dat die kerk suiwer moes bly.  Hierdie oortuiging van hulle was gekenmerk deur hulle onverdraagsaamheid jeens boosaards, slegte mense en bedrieërs – hulle het die kerklike tug toegepas en het nie sonde in hul midde toegelaat nie.  Hulle het onwrikbaar op die Woord gestaan en was daarom selfs bereid om as wetties geëtiketteer te word – in kort, hul was absoluut ernstig oor heiligmaking.

Dit is interessant om te sien en te besef dat elke era, sy eie kwota bedrieërs en dwaalleraars oplewer, maar tydens elkeen van hierdie eras, is daar nie baie gelowiges wat hierdie boosaards ontbloot en teëstaan nie.  Die vraag is waarom die ander ses gemeentes, maar ook mense in ons tyd, nie altyd kans sien om boosaards te ontbloot en teë te staan nie?  Waarskynlik die grootste en belangrikste rede hiervoor, is ’n vrees vir mense en wanneer jy mense vrees, vrees jy God baie minder en dit is sonde.  Tot haar krediet, het die gemeente in Efese God egter meer gevrees as mense en daarom het hulle opgetree teen hierdie boosaards.

Hierdie gemeente in Efese het leerstellig korrek opgetree en het vals leer geïdentifiseer en het geweier om gemeenskap met mense te hê wat immoreel was – ons sien dit in hulle afsku wat hulle in die Nikolaïete gehad het (Openb.2:6).  Dit is dus duidelik dat die lering wat die grondleggers van hierdie gemeente gelê het, ter harte geneem is deur die lidmate en dat hulle dit nie net by kop kennis laat bly het nie, maar dat hulle dit in die praktyk toegepas het.

Vierdens was hulle aangeprys oor hulle onderskeiding. Hulle het waarskynlik Paulus se waarskuwing in Hand.20:28-31a voortdurend in gedagte gehou ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31Wees waaksaam.... Hulle het m.a.w. nie toegelaat dat enige persoon wat homself voorgedoen het as ’n prediker, die Woord daar bedien het nie, want hulle was ernstig oor die handhawing van die suiwere leer en verkondiging van die Woord van God.

In die vyfde plek het Christus, hulle aangeprys vir hulle diensbaarheid. Christus het geweet dat hulle leuse, "Soli Deo Gloria" was (alle eer aan die Here). God se eer was hulle strewe en prioriteit en hulle was nie bereid om kompromie met die wêreld en allerlei dwaalleringe wat die ronde gedoen het, te maak nie.

Laastens het Christus, hulle aangeprys vir hul suiwere leer. In v.6 sien ons dat Christus vir hulle sê ~ ...julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku. Die gemeente in Efese het die regte dinge gehaat, omdat hulle leerstellig, suiwer was en hulle het geweier om te buig onder vals leer. Weereens het hulle gehoor gegee aan Paulus se woorde in Ef.4:14 ~ Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.

As ons na die laaste vier aanprysings van die Here Jesus kyk, sien ons dat die gemeente in Efese onverdraagsaam was, maar onverdraagsaam oor die regte Bybelse sake. In hierdie dae ervaar ons presies die teenoorgestelde in die wêreld, maar ook in so baie kerke en sogenaamde kerklike kringe, waar "toleransie" of verdraagsaamheid t.o.v. alles en almal gepredik word en is jy fundamentalisties en wetties en vanuit die oude doos as jy onwrikbaar staan op dit wat die Woord en die Woord alleen leer.

·           Christus se Bestraffing:
Na al hierdie pragtige aanprysing kom Christus egter nou ook soos in die res van die sewe briewe en vind ons ook hier, dat  Christus die gemeente ernstig aanspreek en bestraf – Openb.2:4 ~ Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.  Hier vind ons ongelukkig ’n hartseer kant by die suksesverhaal van die gemeente in Efese – hulle het Christus nie meer so lief soos in die begin nie!  Dit is dus amper so asof die Efesiërs al die regte dinge gedoen het, soos wat hulle geleer is, maar hulle harte was nie meer daar in nie – hulle harte het koud geword – hulle het hul, soos die O.A.V. en meeste Engelse vertalings dit stel, hul Eerste Liefde verlaat en die Here was so ernstig hieroor dat Hy die gemeente waarsku en sê dat indien hulle, hulle nie bekeer nie, Hy hulle lamp of hul kandelaar soos die O.A.V. dit noem, sal verwyder. 

Wat was die redes hiervoor?  Was dit die gejaagdheid in hierdie belangrike handelstad?  Wat die rede(s) ook al hiervoor was, daar is altyd bepaalde tekens wat daarop dui dat ons liefde vir Christus getaan het:
-        Minder aandag en tyd word spandeer aan oordenking van God en Sy Woord.
-        Minder vervulling word geput uit God se Woord; die prediking; gebed; die Nagmaal; evangelisasie; Christus gefokusde gemeenskap met ander heiliges; die gee van “tiendes” en ander offergawes.
-        Gewilligheid om betrokke te wees by teregwysing van andere oor sonde in hul lewe, of ’n gebrek aan gewilligheid om te getuig.
-        Gee nie om as verhoudinge taan nie en het ook nie motivering om versoening na te jaag nie.
-        Jy weerstaan die oortuigingswerk van die Heilige Gees as jy gesondig het en/of jy onderdruk enige skuldgevoelens oor sonde.
-        Jy put meer geluk by die wêreld en uit wêreldse geluk, as uit die geestelike.
-        Die leiding van die Heilige Gees maak al minder en minder sin vir jou en jy sukkel al meer en meer om God se wil in en vir jou lewe raak te sien.
-        Jou begeerte om God te verheerlik in en deur jou ganse lewe, is nie meer ’n prioriteit nie.

Die gevaar is dat ons baie toegewyd in ons godsdienstige lewe en diensbaarheid kan wees, waar dit gepaard kan gaan met al minder en minder liefde vir God – Hy teenoor en aan wie hierdie toewyding en diensbaarheid gemaak en gerig moet word – daarom kan selfs leerstellig korrekte gemeentes louwarm en selfs koud wees, want leerstellinge, konstitusies ens. alleen, verskaf nie immuniteit teen ’n verval in ons liefde vir Christus nie.

Geestelike veiligheid en stabiliteit lê opgesluit in ’n  Bybelse en stewige teologie wat gegrondves is in ’n opregte liefde vir Christus.  Leerstellinge en Godsvrug ontspring dus uit ’n diep en opregte liefde vir Christus Jesus. 

As ons na Christus se waarskuwing luister, moet ons egter ook vir mekaar sê dat wanneer Hy sê dat hulle, hul Eerste Liefde verlaat het, dit nie noodwendig ’n ieder en ’n elk in die gemeente insluit nie, maar God oordeel gemeentes korporatief, al is daar uitsonderings. Wat dus waar is van individue, is net so waar van die Liggaam van Christus – die plaaslike gemeente in geheel en andersom.  Een van die grootste redes wat lei tot ’n gemeente se afname in haar liefde vir Christus, is o.a. wanneer die prediking nie meer sonde aanspreek nie en wanneer sonde onder lidmate nie meer aangespreek word nie – en lg. is nie net die werk van die leierskap nie, maar elke lidmaat het ’n verantwoordelikheid wat dit aan betref.

’n Gemeente moet veral ook bedag wees op hulle liefde vir Christus, wanneer daar baie wisseling in lidmate plaasvind, want so ’n metamorfose het tot gevolg dat nuwe lidmate baie maklik nie dieselfde getrouheid en toewyding en liefde teenoor Christus openbaar en uitleef nie en daarom moet hulle deeglik deur medelidmate en die leierskap begelei word wat hierdie fasette betref.

Hierdie gemeente is skaars 15 jaar oud en hulle het die regte dinge geden, maar te midde daarvan, het hulle vergeet van hul aanvanklike toewyding aan die Here Jesus toe Hy hulle harte die eerste keer aangeraak het. Hul het dus nodig dat die vuur opnuut weer in hul harte sal opvlam.

A.W. Tozer skryf in sy boek, "The Pursuit of God" die volgende: The modern scientist has lost God amid the wonders of His world; we Christians are in real danger of losing God amid the wonders of the Word."  Ons kan leerstellig só korrek wees, maar wat toewyding en heiligmaking betref, kan ons só ver verwyder wees van die Waarheid.

·           Christus se Raad:
In vv5-6 gee Christus raad aan die gemeente in Efese ~ Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! 6 Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku

Hierdie verse verskaf soveel sekuriteit aan ons as gelowiges, want hier kan ons weereens sien dat God ons nooit alleen laat met ons tekortkominge en ons probleme nie.  Drie geneesmiddele of oplossings word vir die Efesiërs voorgeskryf, nl.:  Oordenking; Berou, Belydenis en Bekering.

Oordenking gaan daaroor dat ons dit wat goed was en dit waaroor ons beskik het, weer in herinnering sal roep.  Berou beteken om die wortel van ons louheid te identifiseer en dit te bely as sonde en dit neer te lê.  Bekering beteken om alles weer in die stryd te werp om my liefde vir Christus te herstel – en hoe doen ek dit?  Deur bg. lys van agt dinge om te skakel in positiewes, m.a.w. om byvoorbeeld weer my volle toewyding en aandag te skenk aan my “stiltetyd” (sien probleem # 1 hierbo), ens. 

Christus waarsku ons dat indien daar nie berou en bekering is nie, word die voortbestaan van die gemeente bedreig.  Enige vorm van sonde (hoe gering ook al) moet dus met wortel en tak uitgeroei word – indien die gemeente dus vir jou belangrik is, sál jy alles in die stryd werp om sonde onder gemeentelede (beginnende by jouself natuurlik) met wortel en tak uit te roei.

·           Christus se Belofte:
Die brief aan die Efesiërs sluit met ’n belofte af wat Christus aan die gemeente gee ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is (Openb.2:7).  1Kor.2:14 sê ~ Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nieIndien die geadresseerdes (en onthou dit sluit ons in) dan wederbaar is, is hulle gevul met die Gees van God en daarom moet hulle (en ons) luister na die teregwysing van die Gees t.o.v. hul liefde (individueel en korporatief) vir Christus

Die hoop op oorwinning oor hierdie probleem lê vir ons opgesluit in die woorde van 1Joh.5:4-5 sê ~ ...want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?  As ons dus gehoorsaam is en die oorwinning behaal, sal ons te ete (kry) van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 08 Januarie 2012