Sunday, January 1, 2012

En My God Sal In Elke Behoefte Ryklik Voorsien

1. ONS BEHOEFTE:
Elkeen van ons betree vandag hierdie nuwe jaar met bepaalde behoeftes – of dit nou finansieel, of fisies, of geestelik is. Miskien wonder jy hoe jy hierdie jaar finansieel sal oorleef; jy wonder dalk of jy al jou verpligtinge sal kan na kom. Gaan my besigheid die syfers haal wat nodig is om my maatskappy doelwitte te bereik? Gaan ek nie dalk in hierdie jaar gerasionaliseer word nie? Sal jy in al jou familie se behoeftes kan voorsien? Miskien sukkel jy met ’n kwaal (waarvan nie een van ons dalk eers weet nie) en wonder, of hoop jy dat jy genesing sal ervaar. Miskien wonder jy of ons as gemeente nog aan die einde van 2012 sal bestaan, en so kan ons aangaan. -

Daar is nie een van ons wat vanoggend hier bymekaar is wat nie geweldige geestelike behoeftes het nie. Sommige van ons weet presies waarna ons verlang in ons geestelike lewe, of wat tekort skiet in ons geestelike lewe, maar of dit nou die geval is of nie, elkeen van ons het geestelike behoeftes en ek kan dit sê, bloot op grond van die feit dat ons deel het aan die sondesmet wat voortspruit uit die sondeval. Ons het behoefte aan voortdurende reiniging en vergifnis van ons sondesmet en ons geestelike "mislukkings".

Ons het behoefte aan God se krag om staande te bly teen die geestelike aanslae wat ons ervaar en wat ons deurgaans deur hierdie nuwe jaar gaan ervaar. Trouens, ek moet eintlik sê dat ons behoefte het aan God se krag om nie net staande te bly nie, maar om in oorwinning te staan teen die daaglikse aanslae en versoekings van die bose en ons eie vlees.

Ons het verder, behoefte aan God se leiding en begeleiding deur hierdie jaar, anders kan en sal ons nie staande bly nie. Ons het behoefte en gaan behoefte hê aan God se wysheid, leiding, vertroosting, onderskeiding, ondersteuning, ens. Ons sal behoefte hê aan God se krag, geduld en hoop, wanneer ons beproewing van een of ander aard gaan ervaar.

Daar is talle ander behoeftes wat ons sekerlik nog kan opnoem en wat geweldige uitdagings aan ons kan en sal stel gedurende 2012 wat vandag ’n aanvang neem.

2. DIE VOORSIENER:
As ons egter na Fil.4:19 kyk, sien ons dat die volgende woorde daar geskryf staan ~ En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Hierdie vers wat Paulus neergepen het onder inspirasie van die Heilige Gees, is ’n wonderlike belofte wat ons saam met ons in hierdie nuwe jaar kan dra. Dit is ’n belofte wat ’n liefdevolle Vader maak aan elke gelowige wat bepaalde behoeftes in sy binneste rond dra. Dit is die Vader se hartsbegeerte om in Sy kinders se behoeftes te voorsien – wat meer is, daar is nie ’n enkele behoefte waarin Hy nie kan voorsien nie, want Hy is ons Almagtige Vader aan wie al die diere in die bos behoort en die wild op duisende berge (Ps.50:10).

Ons behoeftes is groot – oorweldigend groot, maar...... Hy wat ons Voorsiener is, is baie, baie groter en dit behoort vir ons te dien as geweldige bemoediging hier aan die begin van ’n nuwe jaar. Dit maak dus nie saak hoe ek voel en in watter omstandighede ek myself bevind nie – ek kan elke keer wanneer dit nodig is, saam met al die gelowiges deur die eeue heen sê ~ My God en my Vader – Hy ken my omstandighede en Hy het in Fil.4:19 belowe dat Hy in my, Sy kind se behoeftes sál voorsien! Dit is nodig dat ons hierdie feit vir onsself sal toe-eien; dit sal glo en daarop sal staan – en God selfs in nederigheid en in eerbied, daaraan sal herinner. Oordink hierdie feit – God sál in elkeen van my behoeftes, ryklik voorsien – dít is hoe God oor jou voel; dít is wat Hy van jou dink – Hy is voorwaar ons Voorsiener en wat meer is, dit is presies wat Hy in ons lewe wíl wees – ons (Sy kinders) se Voorsiener! Dink maar terug aan jou lewe as gelowige – was Hy nie elke keer daar, om in jou behoeftes op Sy unieke wyse en volgens Sy wil te voorsien nie. Baie keer voel dit in die situasie nie asof God ons Groot Voorsiener is nie, maar tog uiteindelik en by nabaat as ons mooi daaroor terug dink, sien ons dat Hy ryklik en oorvloedig voorsien het. Miskien het jy op ’n stadium alle materiële besittings verloor (dit het al met my en Jeanne gebeur), maar in die proses het die Here jou op ’n ander wyse geseën en versorg, of vertroos – sommige van julle het dalk alles op ’n stadium verloor – luukshede wat julle dalk tot vandag toe nog nie weer "terug gekry het nie", maar in die proses het jy Jesus Christus as Saligmaker en Koning in jou lewe ontmoet – is dit nie voorsiening nie!

Dink aan Jona – hy het swaar gekry en teen die Here met gebalde vuiste rondgeloop, maar aan die einde van die dag, as ons wat buitestaanders is, na sy lewe kyk, weet ons dat dit vir sy eie beswil en tot sy seën was dat God die pad met hom geloop het wat Hy geloop het. Dink aan Job – dieselfde storie. Job het al sy besittings verloor: ...sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe (Job 1:3), maar erger nog, hy het ook, sewe seuns en drie dogters gehad (Job1:2) en ook hulle is op een slag deur die dood van Job, weggeneem! Na al hierdie slegte nuus sê Job in v.21 ~ Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here – Prys die Naam van die Here!

Job is na al hierdie verliese wat hy gely het, nog boonop getref deur pynlike swere. Job het deur erge depressie gegaan en sover gegaan om sy geboortedag te vervloek. Sy vriende het o.a. vir hom gesê dat dit hom nie eers sal help om tot God uit te roep nie. Hoor net wat sê Job steeds in Job 16:7-22 ~ Nou het God my afgetakel, Hy het my hele gesin uitgewis. 8Hy het my beetgepak, en dít dien as getuienis teen my; my vervalle toestand staan op en getuig teen my. 9God het my in sy toorn verskeur en vervolg, in sy woede het Hy my lewe bedreig, Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë. 10Mense rek hulle monde oor my, hulle beledig my, hulle sak op my toe. 11God het my oorgelewer aan slegte mense, Hy het my in die hande van goddeloses laat val. 12Ek het rustig gelewe, toe versteur God my rus, Hy het my aan die nek beetgepak en my vergruis. Hy het van my ’n teiken gemaak: 13sy pyle tref my hele liggaam, meedoënloos deurboor Hy my niere en my gal loop uit op die grond. 14Wond op wond dien Hy my toe, soos ’n soldaat storm Hy op my af. 15Ek het vir my ’n roukleed gemaak, my eer het in die stof verdwyn. 16Ek het my oë rooi gehuil, daar is swart kringe onder my oë. 17Tog is ek nie skuldig aan geweld nie en is my gebed opreg. 18Moenie die onreg Teen my verberg nie, aarde, moenie dat my noodkrete tot rus kom nie. 19Selfs nou nog het ek ’n getuie in die hemel, Hy wat vir my getuig, is daar bo. 20My vriende het my bespotters geword, daarom pleit ek met trane by God 21dat Hy uitspraak lewer in die saak tussen ’n mens en Hom soos in ’n saak tussen ’n man en sy vriend, 22want my jare is min en gaan verby, en ek gaan na die plek toe waarvandaan niemand terugkom nie.” Job was, soos die Engelse sal sê: "down and out". God tree toe en in ’n gesprek met Job, oortuig God vir Job dat niemand soos Hy (God) is nie en uiteindelik kom Job tot hierdie slotsom wanneer hy in Job 42:2 sê ~ Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Job gee homself oor aan God en dan uiteindelik hoor ons wat Job se uiteinde was nadat God die Groot Voorsiener ingegryp het in Job se lewe ~ Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en ’n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n vol lewe gehad (Job 42:12-17).

Wanneer ons in die Woord lees van God se voorsiening in mense soos Abraham en Noag en Gideon en Dawid en vele ander, moet ons nie dink dat dit net die geval met hulle was nie – hulle was hierdie geloofsreuse en daarom het God in hulle lewens voorsien – nee, hou Rom.2:11 in gedagte wanneer jy so begin redeneer ~ God trek immers niemand voor nie. Om dit dus met groot piëteit te sê, God het nie witbroodjies nie – Hy het al Sy kinders op dieselfde wyse en ewe veel lief – al is dit Dawid of Marius; Naomi of Sonja; Josua of Hugo; Johannes of Riaan – God behandel al Sy kinders op presies dieselfde wyse.

Daar is egter ’n paar belangrike vrae wat jy vir jouself moet afvra en dit is of God, waarlik jou Vader is? Het jy die realiteit van sonde in jou lewe al herken en erken? Het jy die behoefte aan verlossing en vergifnis in jou lewe ervaar? Het jy jou lewe al aan Hom toegewy en doen jy dit voortdurend in jou lewensgang? Maak jy staat op God se genade en vergifnis ten einde jou te red? Is daar bewyse in jou lewe dat die Heilige Gees jou aangeraak het – m.a.w. is daar vrug in jou lewe? Bestaan daar ’n opregte begeerte in jou lewe vir ’n heilige lewe? As jy bevestigend op al hierdie vrae kan antwoord, kan jy saam met Paulus uitroep ~ My God! As jy dít kan uitroep, kan jy ook uitroep ~ Hy het ’n belofte aan my gemaak. Wat is die belofte? My God sal in elkeen van my behoeftes, ryklik voorsien!

Daar is egter twee woorde wat ons net eers van naderby moet bekyk en dit is behoeftes en voorsien, of ryklik voorsien, as jy wil. Die Griekse woord wat vir behoeftes gebruik word is, χρεία (chreia). Die E.S.V. vertaal hierdie woordjie korrek wanneer dit sê ~ And my God will supply every need.... Die woord "need", moet in Afrikaans vertaal word met noodsaaklikheid. Ons moet dus besef dat ons nie soos sommige gewilde teoloë dit wil hê, kan "name and claim" wat ons graag wil hê nie – wat ons hart begeer nie. Dit gaan hier oor noodsaaklikhede – dit wat God weet wat ons werklik nodig het om te kan leef en Hom te kan dien. As ek nie kry wat ek dink noodsaaklik is nie? Dan het ek dit óf nie regtig nodig nie, óf God wil hê dat ek eers iets moet leer. Job is nie dadelik gehelp nie en daarom kan ek ook nie verwag dat my noodsaaklikhede aangespreek word wanneer ek dink dit tyd daarvoor is nie – God bepaal die tyd en die noodsaak aan iets, máár, ek sal altyd kry wat ek waarlik nodig het – Hy sal ons nooit in die steek laat nie – nooit!

Die tweede woord waarna ons moet kyk is voorsien. Die Griekse betekenis van hierdie woord is om "tot boordens toe" vol te maak ("to fill to the brim"). Hieruit kan ons aflei, dat God nie sommige noodsaaklikhede aanspreek en vervul en ander net half en half voorsien nie. Tweedens beteken dit dat daar in al ons noodsaaklikhede ten volle en tot oorlopens toe voorsien sal word, maar steeds sal God dit op Sy tyd en op Sy manier vervul. Wanneer ek egter ’n noodsaaklikheid dringend nodig het, sál Hy dit voorsien.

Blaai saam met my na 2Kon.4:1-7 ~ ’n Vrou van ’n profeet het haar nood by Elisa kom kla: “My man is dood. U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak.” 2Elisa het vir haar gesê: “Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?” Sy het geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe ’n erdekannetjie olie.” 3Hy het toe gesê: “Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie. 4Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak.” 5Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak. 6Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog ’n kruik.” Maar hy het gesê: “Daar is nie meer ’n kruik oor nie.” Toe het daar nie 7meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.”

Hierdie vrou verkeer in groot nood – haar man is dood en sy kan nie haar skuld vereffen nie, maar sy doen die regte ding – sy soek God se aangesig oor hierdie saak deur na die profeet Elia te gaan. Op Elia se vraag wat sy in haar huis het, sê sy dat sy net ’n fles olie het. Hierdie vrou het waarlik nood – sy het nood op daardie oomblik en in die res van die verhaal sien ons hoe God die Vader in haar behoefte voorsien en let op Hy hou nie op voorsien toe daar genoeg olie is nie – nee, die voorsiening stop omdat daar nie meer genoeg kruike was nie.

As jy vandag dalk voel soos hierdie weduwee, wil ek jou aanmoedig om na jou Vader te gaan en Hom ten volle te vertrou vir dit wat jy waarlik benodig en net soos die weduwee kan jy ook God se grootsheid; Sy liefde; Sy almag; Sy genade; Sy voorsiening, in aksie sien.

3. SY BRON:
Geliefdes, terug na Fil.4:19 – God het nie net die begeerte om in ons behoeftes te voorsien nie, Hy beskik ook oor al die bronne wat nodig is om daarin te voorsien. God voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus – Sy wonderbaarlike rykdom. Die E.S.V. sê ~ ...according to his riches. Wat beteken dit as Paulus sê dat God volgens sy wonderbaarlike rykdom voorsien? Kom ek verduidelik: Wanneer jy ’n miljoenêr sou nader en hom sou vra om ’n donasie te gee vir een of ander goeie doel en hy gee jou R 10, dan gee hy vanuit ("out of") sy rykdom aan jou ’n donasie, maar dit is nie proporsioneel tot sy rykdom nie. Indien dieselfde miljoenêr egter vir jou ’n tjek ten bedrae van R 250 000 uitskryf, dan gee hy volgens ("according to") sy rykdom en dan is sy bydrae proporsioneel tot sy rykdom.

Die punt is, dat God nie suinig is nie – Hy gee volgens Sy rykdom. Hy sal in elke noodsaaklike behoefte volgens Sy rykdom voorsien – en nog meer! Onthou, ons het netnou gesien dat ~ ... al die diere in die bos is (Syne), die wild op duisende berge (Ps.50:10). Volgens hierdie rykdom skenk Hy aan ons. Kom ons kyk gerus ook na 2Kor.9:8-9 ~ En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. In die oorspronklike teks staan daar letterlik, sodat julle in alle opsigte altyd van alles "alleroorvloedig" sal hê!

4. DIE KANAAL:
Indien ons nie na God gaan met ons behoeftes nie kan ons nie noodwendig verwag dat Hy daarin moet voorsien nie. Ons moet egter ook besef dat die kanaal waarvolgens God in ons behoeftes voorsien, deur Jesus Christus en nét deur Jesus is – dit impliseer dat Jesus Christus die Gewer en Middelaar is deur wie God se gawes na ons vloei, maar ook deur Wie ons tot God moet nader wanneer ons nood ervaar – net soos wat die weduwee deur die profeet Elisa tot God genader het.

Daar is egter ’n veel belangriker aspek aan hierdie vers verbonde as om te sê dat Christus die kanaal is deur Wie ons voorsiening en versorging kom – ons moet onthou en ons het dit vroeër gesê ook, hierdie voorsiening waarvan Paulus praat, is in die eerste plek geestelik van aard en daarom, wanneer Paulus sê dat ons voorsiening in Christus Jesus kom, dan sê hy in die eerste plek, dat die rykdom van God se genade en voorsiening in Jesus Christus aan ons bekend gemaak is en omdat Christus in ons is, is Hy ons hoop op die heerlikheid (Kol.1:27b). Kol.2:2-3 omskryf hierdie saak nog verder, wanneer dit sê ~ dat ons ...tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig (kan kom), om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit is die eerste en heel belangrikste noodsaaklike behoefte waaroor enige een van ons ooit kan beskik. As hierdie behoefte nie vervul word nie – as daar nie in hierdie behoefte voorsien word nie, maak dit nie eers saak of ons ander behoeftes het nie – hierdie moet ons prioriteit wees – ...om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is (Kol.2:2-3).

5. AFSLUITING:
Lyk dit soms vir jou, asof jy puur verniet wag op uitkoms en voorsiening, want niks gebeur nie? Hou jou beproewing net aan en aan? Ek wil jou vanoggend opnuut weer bemoedig en aanmoedig, om nie op te hou vertrou op God se voorsiening en uitkoms nie, want Hy weet presies wat jou behoeftes behels, maar Hy weet ook presies wat die perfekte tyd is om in jou behoeftes te voorsien. Dit kan wees dat Hy wil hê dat sekere ander behoeftes eers in jou lewe aangespreek moet word. Dit kan egter ook wees dat sommige van jou behoeftes nie regtig grondige behoeftes is nie. Of die Here weet beter en weet dat jy dalk liewer sonder daardie bepaalde behoeftes moet klaarkom, omdat dit vir jou eie sieleheil beter sal wees om sonder dit te wees en dan moet ons dit so aanvaar.

Weereens, moet jy, jou lewe in oënskou neem en terug dink aan hoe God in die verlede, op die regte tyd en op die regte manier in jou behoeftes voorsien het. Hy was nog altyd getrou – God het elkeen van ons nog elke keer in die verlede deur ons krisisse gedra en elke keer in ons noodsaaklike behoeftes voorsien – dink net terug! Hy belowe dit nog steeds ~ En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus!

Hoe gaan ons hierdie nuwe jaar binne – in vrees of in geloof en ’n vaste vertroue? Toe die weduwee al die kruike gesien het, was sy waarskynlik gevul met vrees en wantroue en het sy gewonder hoe op dees aarde gaan al hierdie kruike vol olie word? Of het sy in geloof en ’n vaste vertroue in haar hemelse Vader, die kruike begin bymekaar maak, met die wete dat haar God in elke behoefte, ryklik sal voorsien?

God het nog altyd ons "leë kanne" tot oorlopens toe gevul en Hy sal dit weer op Sy tyd in 2012 doen wanneer dit nodig is. My gebed is dat elkeen van ons in hierdie jaar, sal vashou aan hierdie woorde van Fil.4:19 en ook die woorde van 1Pet.5:7 voorop in ons gedagte sal hou, nl. ~ Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Mag julle elkeen ’n wonderlike en geseënde 2012 beleef!