Ps.91:1-16 ~ Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, 2hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.” 3Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte. 4Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. 5Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, 6vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. 7Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie. 8Met jou eie oë sal jy sien hoe die goddelose gestraf word. 9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, 10sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie. 11Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 12Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie. 13Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy dood trap. 14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. 15Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel. 16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.”
2. INLEIDEND:
Wanneer die man op straat hierdie Psalm deur
Moses sou lees, kan ’n mens verwag dat hy vrae sou vra en opmerkings sou maak
soos: Hoe kan julle Christene sê dat God
se trou jou van alle kante kan beskerm (n.a.v. – v.4) en as ek so na julle
Christene kyk, word julle ook maar siek en gaan julle ook maar dood – leef
julle in ’n gekkeparadys om te glo dat die Allerhoogste julle bewaar van
dodelike siekte (n.a.v.
– v.3)?
’n Mens kan ook verstaan dat ongelowiges sulke opmerkings kan maak, want ons
gaan immers almal dood, ens., maar ons weet terselfdertyd dat hierdie Psalm,
net soos al die ander Psalms en die res van die Bybel, God se Woord is en
daarom moet dit tog immers waar wees, trouens vir ons as gelowiges is hierdie
woorde en die res van Ps.91 (net soos die res van die Woord), vir ons as gelowiges geweldig bemoedigend
en vertroostend – indien ons dit reg verstaan.
Hierdie spesifieke Psalm is dan ook ’n
Psalm wat alombekend is en wat voortdurend deur duisende gelowiges aangehaal of
in herinnering geroep word, veral wanneer dit moeilik gaan met hulle. Ps.91 kan
vergelyk word met Ps.46 waarin God in v.2, ’n God genoem word wat ...vir ons ’n toevlug en ’n beskerming is; Hy was nog altyd bereid om te
help in nood. Die
vorige Psalm (Ps.90)
is ’n soortgelyke Psalm en beide verwys na God as ’n "toevlug" ("a
dwelling place").
Waar ons aan die begin van 2013 staan is
hierdie Psalm ook ’n baie gepaste Psalm vir ons om aan vas te hou deur die loop
van die jaar.
3. SAMESTELLING VAN PSALM:
3. SAMESTELLING VAN PSALM:
’n Treffende kenmerk, is dat hierdie
Psalm in hoofsaaklik drie dele verdeel kan word:
·
Eerstens
is daar vv.1-2 wat gekenmerk word deur die voornaamwoord "ek". Vers 2 begin bv. met die woorde ~ Ek sal tot die Here sê...
(sien asb. die O.A.V.).
Die Engelse teks sê ~ I will say to the Lord. Hierdie eerste twee verse is ’n uitdrukking of
belydenis van die Psalmis (Moses) se persoonlike geloof in God.
·
Die
tweede kenmerk vind ons in vv.3-13 wat gekenmerk word deur die voornaamwoord "jy". Die Psalmis rig hier ’n bemoedigende
woord tot die leser – tot ons met ander woorde.
·
Laastens
vind ons ’n Goddelike Voornaamwoord, naamlik "Ek". In hierdie gedeelte is dit God wat tot ons spreek
en ons die versekering gee dat Hy vir ons elkeen wat Hom in Sy Naam aanroep,
sal doen en gee wat Hy belowe.
4. MOSES SE BELYDENIS:
Met die intrapsalg sien ons dat die
Psalmdigter dadelik vir ons as lesers sê op wie hierdie Psalm van toepassing
is, nl. diegene wie skuiling vind by die Allerhoogste – ons moet hierdie gedagte deurgaans
voor oë hou, terwyl ons deur hierdie Psalm werk – dit gaan hier oor diegene wie
skuiling vind by die Allerhoogste - nie ander mense nie - net hulle wat skuil by die Allerhoogste.
Nadat die Psalmis dan hierdie voorwaarde
gestel het, gaan hy onmiddellik voort om sy eie geloof te bely wanneer hy sê ~ U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie
ek vertrou. Hierdie
belydenis van Moses klink bekend, want dit is amper dieselfde woorde wat Tomas
eeue later, geuiter het toe hy voor Jesus se voete neergeval het en bely het ~ My Here en my God! (Joh.20:28).
Moses stel dit dus baie duidelik vir ons
dat die belofte van oorwinning, slegs bedoel is vir diegene wat skuiling vind by die Allerhoogste. Weereens is die O.A.V. hier die
regte, of beter vertaling en dit lees as volg ~ HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die
skaduwee van die Almagtige.
Wat hier van belang is, is dat ons moet verstaan dat die werkwoord, om ...in
die skuilplek van die Allerhoogste sit,
dui op ’n voortgaande aksie; dit dui op permanensie. Hierdie belofte is dus
bedoel vir diegene wat voortdurend en permanent bly sit in die teenwoordigheid
van God – mense wat dit nie hulle erns maak om voortdurend gemeenskap met God
te hê nie, kan nie staatmaak op God se beloftes nie.
Wanneer Moses dan getuig en sê ~ U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie
ek vertrou, impliseer
dit dat hy voortdurend ...in die skuilplek van die Allerhoogste sit. Elkeen van ons wat dus in opregtheid
hierdie woorde saam met die Psalmis kan getuig, kán staatmaak op God se
beloftes.
Om egter te sê dat ek in die skuilplek van die Allerhoogste sit, is een ding, maar wat beteken dit
regtig? Wie sê Jesus is Sy dissipels – hulle wie in die skuilplek van die
Allerhoogste sit? Kom ons kyk na ’n paar Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament
en dan sal ons sien wat die sinonieme vir hierdie Ou Testamentiese uitdrukking
is, nl. om in die skuilplek van die Allerhoogste te sit:
·
Joh.6:56
~ Wie my liggaam eet en my bloed
drink, bly in My en Ek in hom.
·
Joh.8:31
~ As julle aan my woorde getrou bly,
is julle waarlik my dissipels.
·
Joh.15:7-8
~ As julle in My bly en my woorde in
julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My
Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels
is.
Diegene wie dus voortdurend in God se
Woord is en Sy Woord uitleef en in wie se lewe die Vrug van die Gees gesien kan
word; dit is hulle wie in die skuilplek van die Allerhoogste sit en dit is
hulle dus wie kan staatmaak op God se beloftes. Paulus beklemtoon hierdie feit verder
in 1 Tes.5:16-17, wanneer hy sê dat ons ~ ...altyd bly moet wees en gedurig moet bid. As ons op daardie plek in ons lewe is, is ons presies
waar Moses was toe God vir Hom in Eks.33:20-22 gesê het ~ Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien
en bly lewe nie.” 21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is
’n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige
verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ’n rotsskeur sit en jou met my hande
toemaak totdat Ek verby is.
Dit is die plek waar ons, onsself elke dag van ons lewe moet bevind – in die
rotsskeur met God wat die opening met Sy hande bedek.
Geliefdes, ons moet onsself dus vanoggend
opnuut afvra ~ Is Jesus Christus, my Here en my Meester? Is die God van die
Bybel, waarlik my skuilplek in tyd van moeilikheid? Die beloftes wat ons in
hierdie Psalm aantref, sal beloftes vir jou en my wees, indien ons bevestigend
op hierdie vrae kan antwoord; indien ons in opregtheid kan deel in Moses se
belydenis, nl. ~ U ís
my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.
Wat is hierdie beloftes waarvan die
Psalmis praat?
·
V.1
(O.A.V.)
~ Hy ...sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. God sal beskerming aan jou verleen, soos wat ’n hen
haar kuikens onder haar vlerke bedek en oppas. In Ps.17:8-9 bid Dawid ’n
soortgelyke gebed, wanneer hy o.a. vir die Here vra ~ Beskerm my soos die appel van u oog, steek
my weg in die skaduwee van u vleuels 9vir die goddeloses wat my
wil oorweldig, die doodsvyande wat my omsingel.
Spurgeon skryf in sy boek, "Treasury
of David, vol.2b" die volgende: The
blessings here promised are not for all believers, but for those who live in
close fellowship with God. Every child of God looks towards the inner sanctuary
and the mercy-seat, yet all do not dwell in the most holy place; they run to it
at times, and enjoy occasional approaches, but they do not habitually reside in
the mysterious presence.
Indien ons wil staatmaak op hierdie
beloftes, moet ons seker maak, dat ons op ’n voortdurende basis in die skaduwee van die Almagtige sal vernag.
·
V.2
(N.A.V.)
stel ’n verdere belofte aan ons bekend, nl. dat God te alle tye vir ons ’n ...toevlug en ’n veilige vesting sal wees en dat ons deurentyd op God sal kan vertrou. Indien ons in die skuilplek van die Allerhoogste sit, kan ons met
vrymoedigheid en vertroue na Hom gaan en ’n veilige vesting by Hom vind teen
aanslae, probleme, gevare, depressie, moedeloosheid, ens. Die uitdrukking wat
hier gebruik word is ’n
veilige vesting – dit verwys
dus na ’n fort – ’n ondeurdringbare fort wat skuiling en veiligheid bied teen
die vyand. Ps.18:3 beskryf dit pragtig ~ Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie
ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. Ps.31:3 praat ook van ’n bergvesting.
Ons kan dus sekuriteit en beskerming en
vertroosting en bemoediging, ens. vind in die aard of karakter van God self –
Hy wat die Allerhoogste is; die Almagtige is; die Skepper van hemel en aarde is
– by Hom kan en sal ons skuiling kan vind.
Ons sekuriteit in God, moet egter ook gegrond
wees op ons geloof in Hom – dit is waarom Moses hier sy geloof ook teenoor God
bely, wanneer hy sê ~ U is
my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou. Ons moet dit glo en ook bely.
5. MOSES SE BEMOEDIGING:
Moses bemoedig homself in die eerste
plek, maar ook vir ons, deur verder uit te brei op dit wat God vir ons sal doen
en waarteen Hy ons sal beskerm indien ons onder Sy vleuels skuil en let op, hy
spreek die individu aan – hy sê deurgaans "jy". Hierdie bemoedigende
woorde word dus tot elke gelowige individueel gerig – dit is vir jou indien jy
God waarlik sal vertrou en in Hom sal skuil:
·
In
v.3a lees ons dat Hy ons uit die voëlvanger
se wip sal hou. Hierdie
beeldspraak wat die Psalmis hier gebruik, verwys na die subtiele valstrikke wat
die vyand vir jou stel. As gelowige sal jy beskerming geniet teen sigbare
bedreigings. Net soos die Israeliete van destyds vrygelaat is uit die slawerny
in Egipte, net so sal jy nie in slawerny verkeer nie – jy sal geen bedreiging
van geestelike gevangeskap hoef te vrees nie – jy sal nie in die strikke van
die satan se gebondenheid vasgevang sit nie.
·
In
v.3b sê hy dat God ons teen dodelike
siektes sal bewaar. Ook hier
het die skrywer waarskynlik die Israeliete in Egipte in gedagte. Net soos wat
hulle nie geraak was deur die plae wat oor Egipte gekom het nie, net so sal ons
ook teen onsigbare bedreigings beskerming geniet. Hierdie belofte impliseer
natuurlik nié dat ons teen alle en ten alle tye teen dodelike siektes bewaar
sal word nie, want dit sou impliseer dat ons nooit kanker bv. sou kry nie, of
selfs nooit sou sterf nie, want ons moet onthou dat ons steeds in hierdie
wêreld is en dat ons steeds gebuk gaan onder die sonde van hierdie wêreld, maar
elkeen van ons kan getuig van geleenthede waar ons verseker weet dat God ons
bewaar het teen onsigbare bedreigings.
As ons egter na v.4 en verder kyk, sal ons
begin sien dat Moses waarskynlik hier meer intense en "donkerder" dinge
in gedagte het wanneer hy sê dat ons bewaar sal word – onsigbare dinge wat hul
oorsprong by Satan persoonlik het – dinge wat rondom ons in die onderwêreld aan
die gang is, wat ons nie kan sien nie en waarvan ons baie dikwels nie eens
bewus is nie.
·
In
vv.4-13 vind ons ’n hele reeks dinge waarteen ons beskerm sal word, omdat
God ons onder Sy vlerke beskut (v.4a).
Die Psalmis gebruik hier twee beelde om
God se beskerming vir Sy kinders te illustreer. In die eerste plek gebruik hy
die beeld van ’n hoenderhen wat haar kuikens beskerm. Hierdie is ’n beeld wat
Christus ook gebruik het toe Hy oor Jerusalem uitgekyk het ~ Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en
die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou
kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak,
maar julle wou nie! (Matt.23:37). Jesus sou Jerusalem en haar inwoners
bewaar het (70 n.C.), maar die inwoners was nie gewillig en bereid om
skuiling onder God se vlerke te soek nie, trouens hulle het Jesus se bloed
gesoek en wou Hom kruisig en ons weet dat hulle dit dan ook wel uiteindelik
gedoen het.
Ons vind die tweede beeld van God se
beskerming in v.4 en ongelukkig sal ons weer na die O.A.V. moet kyk t.w.v. die
korrekte vertaling ~ Hy
sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ’n
skild en pantser.
Hierdie beeld verwys na Abraham. Abraham het ’n suksesvolle veldtog gevoer teen
die konings wat Sodom en Gomorra binne geval het en in die proses vir Lot
ontvoer het. Lot, die ontvoerde vrouens en hul besittings is deur Abraham
ontset en terug gebring, maar dit alles het tot gevolg gehad dat Abraham in
gevaar verkeer het en dat hy enige oomblik ’n wraak aanval van die vyand kon
verwag. In daardie tyd het God vir Abraham egter gerus gestel deur in Gen.15:1
vir hom te sê ~ Vrees
nie, Abram, Ek is vir jou ’n skild en jou loon is baie groot (O.A.V.).
Dít is wat God vir ons sal doen as ons op
Hom vertrou – Hy sal ons onder Sy vlerke bymekaar maak en Sy ondeurdringbare
skild en pantser sal alle vlammende pyle van ons afweer.
Al sal ons swaarkry en die boosheid van
hierdie wêreld aan ons lywe voel, sal ons terselfdertyd intens bewus wees van
God se beskerming en bevryding. Die gevolg hiervan sal wees dat ons in die
woorde van v.5, nie bang hoef te wees vir gevaar, aanvalle of siekte nie en
wanneer dit wel oor ons pad mag kom, sal God ons die krag gee om daar deur te
gaan. Soos netnou gesê, het die Psalmis waarskynlik die optrede van die bose
hier in gedagte.
Ons vind ’n baie interessante opmerking
in vv.7-8. Hier word ’n beeld geskets van duisende en tienduisende wat rondom
diegene wat op God vertrou, sal val en gestraf word. Wat die Psalmis vir ons
hier wil sê is dat ons nie die dood gaan vryspring nie, maar dat ons nié die
geweldige gevolge van God se oordele sal ervaar soos diegene rondom ons wat nie
hul vertroue in God geplaas het nie – waarom nie? Omdat Jesus Christus se bloed
ons vry gekoop het van God se toorn op die sonde.
God belowe deur Sy dienskneg Moses aan
ons, dat ons ongeskonde deur die vuurproef van hierdie lewe sal gaan en ons sál
ons beloning in die hiernamaals ontvang.
Daar word egter ’n verdere belofte aan
ons gegee in vv.11-12, wanneer die Psalmis sê dat God opdrag aan engele sal gee
om ons te beskerm en dat ons op hulle hande gedra sal word, sodat ons nie ons
voet teen ’n klip sal stamp nie. Dit is interessant dat die satan, toe hy Jesus
in die wildernis versoek het, juis hierdie beeld gebruik het om Jesus te
versoek (Matt.4:6), maar soos met al sy ander aanhalings uit die Woord, het
hy ook hier belangrike elemente van die aanhaling weggelaat. Hoe dit ook al sy,
die engele ontvang opdrag van hul Skepper om Sy aardse skepsele wat in Hom
ingeplant is en wat skuiling by Hom soek, op te pas. Geen wonder dat die
Hebreërskrywer in Hebr.1:14 die volgende opmerking maak nie ~ Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy
uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?
Die feit dat God opdrag aan engele gee, impliseer
beslis nie dat ons eer aan engele moet bring vir hul dienswerk en dat ons selfs
tot hulle moet bid, of met hulle praat nie. Nee, ons moet alle dank en eer aan
God bring vir Sy beskerming, ens., want dit is Hý wat Sy dienende geeste opdrag
gee om ons te beskerm ens. Die klem val dus nie hier op wat engele doen of nie
doen nie, maar op God se beskerming van Sy kinders wie binne Sy wil bly.
Hierdie dienende geeste van God (die
engele) sal elkeen wat sy
skuiling by God soek, verhinder om nie te struikel en te val oor en onder die
satan se aanslae nie. Omdat Christus reeds die kop van die satan verbrysel het
aan die kruis (Kol.2:15) en daarom is ons meer as oorwinnaars in Christus Jesus (Rom.8:37).
6. GOD SE BELOFTES:
In vv.14-16 praat God self met ons en Hy
doen dit ten einde ons te vertroos en te versterk en maak Hy bepaalde beloftes
aan ons.
Omdat ons bepaalde dinge doen en aan
bepaalde dinge voldoen, sê God in hierdie gedeelte, dat daar ’n paar dinge is wat
Hy vir ons sal doen en skenk. Kom ons kyk dan kortliks hierna:
·
Aan
wie word hierdie beloftes in vv.14-16 gemaak?
·
Wat
is die beloftes wat God in hierdie gedeelte maak?
·
Eerstens
dan – Aan wie word hierdie beloftes gemaak?
- Ons sien in v.14b dat hierdie beloftes
gemaak word aan diegene wat God ken. Ons kan nooit God se volle aard en
karakter waarlik ken nie, maar Hy het Homself duidelik genoeg aan ons bekend
gemaak deur Sy Woord, sodat
ons Hom goed genoeg kan ken – daarom
moet ons die Woord bestudeer en ’n nou verhouding met Hom ontwikkel, ten einde
Hom waarlik te kan ken en nog beter te leer ken.
- Tweedens is hierdie beloftes bedoel
vir diegene wat God liefhet (v.14a). Ek plaas hierdie "a"-gedeelte van v.14 na die
"b"-gedeelte, want ons moet God tog eers ken, alvorens ons Hom
waarlik lief kan hê. Om God Drie-Enig lief te hê, moet vir ons ’n voorreg en ’n
vreugde wees en dit moet ’n liefde wees wat ons nie wil laat taan nie, maar wil
laat groei en groei namate ons in ons verhouding met Hom wandel. Hierdie liefde
moet ons dring om gehoorsaam te wees aan Hom wat ons eerste lief gehad het,
maar wie ons ook nou liefhet.
- Laastens stort God hierdie beloftes
van Hom uit op diegene wat Hom aanroep (v.15a). Hierdie voorwaarde beklemtoon dus
die noodsaak van gebed.
Ons sien dus dat ons God se Woord op
gereelde basis moet bestudeer; tot Hom bid en groei in liefde vir Hom, ten
einde ontvangers van Sy beloftes te kan wees.
·
Wat
is die beloftes wat God maak? Uit hierdie paar verse is dit baie duidelik dat
God reageer as ons bepaalde dinge doen, want Hy sê, omdat hy My liefhet...; omdat hy My ken...; omdat hy My aanroep..., SAL EK... – God sál..., omdat ek...:
- Eerstens
sê God, dat Hy jou sal red en Hy herhaal dit weer in v.15. Hy sal jou red uit
moeilikheid en uiteindelik van alle moeilikhede. Dawid ego hierdie gedagte in
Ps.34:19 wanneer hy sê ~ Die
Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Ook Paulus het aan hierdie belofte
van God vasgehou ~ ...in
vervolging en ontbering soos my te beurt geval het in Antiogië, Ikonium en
Listra. Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my
uit almal gered (2
Tim.3:11). Die swaarkry
en die gevolge van hierdie wêreld was ’n realiteit vir Paulus, maar uiteindelik
het God Hom daaruit gered – hou moed; hou vas dus! En dit is presies waarvan
ons in die tweede plek lees, wat God sal doen, nl. dat Hy ons in ons nood, sal
beskerm (v.14b).
- Wat
moet jy egter doen wanneer jy in nood verkeer? Jy moet bid en indien jy
voortdurend onder sy vlerke skuil en dan bid wanneer jy in nood verkeer (nie
net wanneer jy in nood verkeer nie),
sê God, sál Hy jou gebed verhoor (v.15)!
- Wat
meer is, God sal, net soos met Paulus die geval in Antiogië en Ikonium en
Listra was, by jou wees as jy Hom aanroep. Hierdie is ’n belangrike belofte en
ons moet dit reg verstaan. Ons sal nie noodwendig altyd, onmiddellik uit ons nood verlos word nie, maar wat God hier
belowe is dat wanneer Hy ons nié onmiddellik verlos nie (met
goeie redes – groei deur beproewing ens.),
Hy beslis mét jou in die situasie sál wees. Paulus het sy lewe lank ’n doring
in die vlees gehad (ons weet nie wat dit was nie), maar ten spyte hiervan het hy
deurgaans geweet, dat God nogtans by hom was ~ Drie
maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy
antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking
wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die
krag van Christus my beskutting kan wees (2 Kor.12:8-9).
- In
die vyfde plek belowe God iets interessants. Hy belowe dat Hy jou in jou eer
sal herstel (v.15) –
wat bedoel Hy daarmee? Kom ons kyk eerder na die O.A.V. se beskrywing hiervan
en dan net die laaste gedeelte waaroor dit nou gaan ~ Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. Ek sal ......eer aan hom gee. Die
N.A.V. is nie verkeerd met hierdie vertaling nie, maar ek dink dat die O.A.V.
dit beter verduidelik. Dit gaan hier oor die eer waaroor die mens voor die
sondeval beskik het en wat na die sondeval weggeneem is, maar wat nou weer
herstel word en geskenk word aan diegene wie hul skuiling by God vind – hulle
eer sal herstel word – Hy red hulle dus – Hy gee eer aan hulle ~ As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is,
daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer
(Joh.12:26).
Hy sal jou vereer deur die ewige lewe aan jou te skenk
- Maar
voor Hy die ewige lewe aan jou skenk, sal Hy in die laaste plek eers ’n baie
lang lewe aan jou skenk (v.16) – ’n lewe wat lank genoeg sal wees sodat jy kan doen
waartoe jy geroep is om te doen in hierdie lewe. Sodat jy genoeg tyd kan hê om
te groei tot dié mate wat God wil hê jy geestelik moet groei. En dan aan die
einde wanneer jou Vader jou "huis toe roep", sê Hy aan die einde van
v.16, sal jy soveel dankbaarheid in jou hê vir Sy redding, hulp, versorging, genade
en liefde, dat jy jou sal verbly in Hom – vir ewig!
7. AFSLUITING:
Laat ons hierdie nuwe jaar met vertroue
binne gaan – vertroue in God dat Hy ons sal beskerm, maar dat ons ook hierdie
jaar sal binne gaan met die gesindheid dat ons Hom sal vertrou te midde van
moontlike swaarkry en beproewing en dat ons deurentyd die voorwaardes in gedagte
sal hou, wat Hy aan ons stel ten einde Sy beloftes in ontvangs te kan neem, nl.
om voortdurend by Hom te skuil; voortdurend in Sy Woord te wees; Hom
voortdurend in gebed aan te roep en om Hom innig lief te hê.
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt – Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) - Sondag, 06 Januarie 2013