1. INLEIDING:
Ons briewebesteller het nog net een brief in sy possak en hy is fluks oppad na die sewende gemeente in Laodisea. In vele opsigte is hierdie brief ook die tragieste van al sewe die briewe wat hy oorspronklik in sy possak gehad het, omdat dit die enigste was waarin Christus dit onmoontlik gevind het om ná Sy bestraffing selfs één enkele woord van aanprysing te gee. Selfs in die dooie gemeente van Sardis was daar darem ’n groepie lewende Christene wat ’n paar woorde van lof kon ontvang, maar in Laodisea was daar nie eens so ’n oorblyfsel nie!
Al is hierdie brief die droewigste van al die briewe, is hierdie brief waarskynlik ook die teerste en liefdevolste van almal en dit is omdat die bestraffing uit ’n hart vol liefde gekom het, omdat Hy ’n uitnodiging aan hierdie groep mense stuur wat spreek van Sy liefde.
2. DIE GEMEENTE IN LAODISEA (3:14-22):
· Die Geadresseerde Gemeente:
Openb.3:14a: ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea. Die gemeente van Laodisea was in ’n vooruitstrewende en welvarende stad geleë. Die stad was op ’n plato geleë en daar was geen water in die nabye omgewing nie en daarom moes water daarheen aangelê word d.m.v. ondergrondse kanale. Die bankwese het hier gefloreer en die stad was so ryk, dat dit self (onafhanklik van Rome) vir die herstel van die stad kon betaal na die aardbewing van 60 n.C. Daar was ’n baie bekende medieseskool gevestig en hulle het bekend geraak vir hulle oogkundige navorsing en hulle het ’n oogsalf daar ontwikkel en vervaardig wat alom bekend was. Ook het die stad bekendheid verwerf vir sy sagte swart wol wat in klere en matte gebruik was. Ons sal ook mettertyd sien dat al drie hierdie uitstaande kenmerke van die stad (wol, bankwese en salf) ’n rol speel in hierdie brief aan die gemeente. Daar het nagenoeg 7 500 Joodse mans (en nog meer vrouens en kinders) in Laodisea gewoon en dit was bekend dat dit finansieel baie goed gegaan het met die Jode daar.
Die gemeente was waarskynlik deur Epafras (’n medewerker van Paulus) gestig en die eerste herder en leraar was waarskynlik Argippus (Filemon 1:2).
· Die Beeld van Christus:
Openb.3:14b ~ So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het. Christus stel Homself hier bekend as die Amen. Hierdie woord “amen” kom nege keer voor in Openbaring, maar hier word dit die enigste keer as ’n titel of ’n naam gebruik en dit is ’n Hebreeuse uitdrukking wat gebruik word om iets wat gesê word met baie sterk klem te bevestig, m.a.w. wanneer daar “amen” gesê word, is dit asof die spreker met erns en klem sê, “dit sál so wees!” Christus wil dus vir die gemeente met hierdie naam sê, dat hulle moet luister, want wat Hy gaan sê is vas en seker en dit word met uiterste erns dus gesê. As die “Amen-Christus”, wou Christus dus hê dat hierdie lou en self-misleide gemeente sal besef en weet dat Christus die Een is, deur wie God Sy doelwitte bereik ~ Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (dit is Christus) is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons (2Kor.1:20 – O.A.V.).
Ook sê Christus dat Hy Seun van God is, deur wie alles geskape is en daarom, omdat Hyself God is, durf hulle nie Sy brief ignoreer nie, want Hy is geloofwaardig en wanneer Hy getuig moet daar geluister word.
· Christus se Aanprysing:
Soos reeds gesê, is hier geen aanprysing van Christus se kant aan die gemeente in Laodisea nie.
· Christus se Bestraffing:
Openb.3:15-16 ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! 16 Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg. Christus se verwysing hier na “koud” en “warm”, dui op die werke wat voortgespruit het, of nié voortgespruit het uit hierdie gemeente se geestelike lewe. Dade, of werke is gewoonlik ook ’n aanduiding van mense se geestelike toestand en dit word bevestig deur o.a. Matt.7:16a ~ Aan hulle vrugte sal julle hulle ken (sien ook Rom.2:6-8). Al word redding geheel en al geskenk uit genade en geloof alleen, bevestig dade of vrug, die teenwoordigheid van opregte en ware redding en wedergeboorte ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? (Jak.2:14). Die alwyse Here het presies geweet wat die toestand van die gemeentelede van Laodisea was en dat hulle deur die afwesigheid van vrug in hul lewens, toonbeelde was van ’n ongeredde gemeente.
Christus bestraf hulle oor die feit dat hulle louwarm is. Die metaforiese taal wat Hy hier gebruik (...nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was), is ’n verwysing na die toestand van die stad se water – omdat dit oor baie kilometers deur ondergrondse kanale na die stad gevloei het, was die water vuil, besoedel en louwarm teen die tyd dat dit by stad uitgekom het. Die water was nie warm genoeg om in te bad nie (soos die water van die warmwaterbron by die nabygeleë Hierapolis) en dit was ook nie koel en verfrissend, soos die water by Kolosse nie. Laodisea se vuil en louwarmwater was eintlik nutteloos. In die lig van hierdie vergelyking met die water van die stad, sê Christus dat Hy hulle uit Sy mond spuug, net soos wat ’n mens die water van Laodisea sal uitspoeg as jy dit onbehandeld sou drink.
“Warm mense” is daardie gelowiges wat geestelik lewend is en oor die vurigheid van ’n veranderde hart beskik. Die “geestelik-koue mense” is weer daardie wat Christus openlik verwerp. Die Evangelie laat hulle koud en onaangeraak. Hulle stel nie belang in Christus of die Woord van God, of die Kerk van die Here Jesus nie. Die “koues” maak ook geen geheim daarvan nie.
Om dus “louwarm” te wees pas in geeneen van hierdie kategorieë nie. Hulle is m.a.w. nie waarlik gered nie, maar hulle verwerp ook nie die Evangelie openlik nie. Hulle is deel van ’n gemeente; hulle woon eredienste by en hulle maak aanspraak daarop dat hulle Christus ken. Net soos die Fariseërs is húlle ook tevrede om ’n godsdiens van selfregverdiging te leef. Hulle is soos huigelaars wat allerlei speletjies speel. Die Here beskryf sulke mense in Matt.7:22-23 ~ Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ 23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”
Die “louwarmes” is soos die ongelowige Jode waarvan Paulus in Rom.10:2 gesê het ~ ...want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. Hulle beskik oor, wat Paulus in 2Tim.3:5 noem, ...die uiterlike skyn van die godsdiens, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Die probleem met mense soos hierdie, is dat dit veel-veel moeiliker is om hulle met die waarheids-evangelie te bereik. Niemand is moeiliker om te bereik as ’n vals Christen nie.
Volgens John Stott is sulke louwarm gemeentes soos hierdie een in Laodisea, algemeen in ons tyd – Hy skryf ...Perhaps none of the seven letters is more appropriate to the twentieth (twenty-first) century church than this. It describes vividly the respectable, sentimental, skin-deep religiosity which is widespread among us today. Our Christianity is flabby and anaemic. We appear to have taken a lukewarm bath of religion.
Christus het ’n ernstige probleem met die toestand in hierdie gemeente en die groep mense wat hulleself Christene noem. En omdat hulle toestand net so erg is as wat warm soutwater vir ’n dorstige mens is, sê Christus: ... Ek (gaan) julle uit my mond uitspoeg.
’n Gemeente is net bruikbaar vir die Here Jesus wanneer sy God liefhet en die wêreld en wêreldgelykvormigheid haat – jy kan nie beide lief hê nie en ’n neutrale gesindheid is net so erg, want dít rig meer skade aan as openlike geloofsversaking. Die wêreld reageer met skok en verbasing teenoor mense wat hulle geloof versaak of wat Godverloënend optree, maar kort voor lank is dit verby en het die “geskoktes” herstel, maar neutrale gesindheid het ’n effek op mense wat baie dikwels “rimpelinge tot in die hemel” veroorsaak, omdat dit die eer en heerlikheid van God aantas en dit mislei dosyne mense wat op die ou einde in ontnugtering sit en dikwels nie weer daar uitkom nie. Iemand wat dus sy Eerste Liefde verloor is presies dieselfde as iemand wat geestelik lou is. God haat beide en Hy sal gemeentes en mense wat hieraan skuldig is, uitwerp.
Ons sien dus dat die eerste en die laaste gemeentes wat briewe ontvang het, nl. Efese en Laodisea, beide die risiko geloop het om geheel en al verwerp te word deur Christus indien hulle hulself nie sou bekeer nie.
Die vraag wat ons en alle ander gemeentes dus moet vra, is nié of ons sukkel met mense wat terugval nie; of pas ons die tug genoegsaam en reg toe nie; of hanteer ons konflik reg nie. Nee, die regte vraag is of ons konsekwent is in ons liefde vir Christus en of ons geestelik groei en of ons ’n geesdrif en ywer het om Christus meer en meer lief te hê.
· Christus se Raad:
Openb.3:17-20 ~ Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. 18 Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. 19 Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. 20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. Hierdie gemeente in Laodisea het “breëbors gespog”, maar ongelukkig is hulle gespog op ’n verrotte fondament van veronderstelde geloof en geestelike rykdom gebou. ’n Ongesonde en selfs ’n onheilige selfvoldaanheid van onafhanklikheid het posgevat in hierdie gemeente. Dit is heel waarskynlik so, dat die rykdom van die stad en omgewing ook aan hulle “afgesmeer” het en het dit waarskynlik ’n windmakerige en pragtige kerkgebou tot gevolg gehad, met pragtige binneversiering en duur parafernalia om lofprysing aan te help; reuse spaarrekenings; ens.
Hierdie gevoel van sekuriteit en rykdom was egter ’n illusie en ’n hersenskim, want presies die teenoorgestelde was waar van hul geestelike toestand. So ver dit hulle getrouheid en getuienis betref, was hulle volgens vers 17, ellendig en beklaenswaardig, arm, blind en kaal. Hierdie leë dade en toestand waarin hulle verkeer, het hulle toestand voor die Here bevestig en was die woorde van die Here Jesus in Matt.7:21, waar van hulle ~ Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. En net soos die ryk jongman was hulle mislei t.o.v. hul geestelike toestand (Matt.19:16-22). Die rykdom van hierdie Gemeentelede het tot gevolg gehad dat hulle ’n vals oortuiging van sekuriteit en geestelikheid gehad het, omdat hulle rykdom hulle laat dink het dat dit ’n weerspieëling was van hulle geestelike rykdom. Hulle was ryk en geestelik trots ja, maar brandarm wat betref reddingsgenade. Hulle het gedink dat almal rondom hulle, jaloers op hulle sou wees, maar eintlik moes almal hulle intens jammer gekry het, want hulle was geestelik ellendig, beklaenswaardig, arm, blind en kaal.
Die Here Jesus kon hierdie gemeente met een “handveeg” uitgewis het, maar nadat Hy hulle geestestoestand uitgespel het, kom Hy egter in vers 18 en gee Hy raad aan hierdie gemeente wat kan lei tot opregte en ware redding en daarom bied Christus, hulle drie produkte te koop aan, nl. geestelike goud; geestelike klere en geestelike insig.
Hy bied redding aan hulle aan die hand van hierdie drie uitstaande kenmerke van die stad waarin hulle as gemeente geleë is, nl. rykdom; swart wol en die oogsalf wat in die stad vervaardig is. Natuurlik leer Christus nié dat redding verdien kan word deur goeie werke nie, want verlore sondaars hét geen betaalmiddele om hulle redding te koop nie (Jes.64:5-6), wat Hy wel vir hulle sê, is dat die “betaalmiddele” wat Hy vir hulle bied om gered te word, dieselfde is as dié in Jes.55:1 ~ Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Al wat sondaars dus moet aanbied as betaling ten einde gered te word, is hulle verlore toestand en in ruil daarvoor bied Christus vir hulle vergifnis van sonde en word die verhouding tussen die Vader en die sondaar herstel.
In die gees van die welvarende Laodisea bied Christus dan vir hulle die volgende aan:
Eerstens sê Hy dat hulle goud van hom moet koop, want hierdie goud wat Christus aanbied, is gelouterde goud – m.a.w. dit is sonder enige onsuiwerhede en dit verteenwoordig die onskatbare rykdom van ware redding en verlossing. Petrus vergelyk ook die geloof met goud in 1Pet.1:7 ~ Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hierdie aanbod van goud is dus ’n waarborg van ewige rykdom.
Tweedens bied Christus vir hulle wit klere aan. Dit staan in skrille kontras met die swart wol waarvoor Laodisea bekendheid verwerf het en wat ’n versinnebeelding van die gemeente se verlore toestand was – dit is in ooreenstemming met Jes.64:6a ~ Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere. Die morele naaktheid waarin hierdie gemeente verkeer het, was o.a. as gevolg van hulle wêreldgelykvormigheid. Christus kom egter nou en Hy bied aan hulle geregtigheid om hulle sonde te bedek – geregtigheid in die vorm van rein wit klere soos o.a. in Openb.3:4 beskryf ~ Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is.
Laastens bied Christus aan hulle oogsalf om aan julle oë te smeer. Die Here Jesus wil aan hulle sê dat Hy helende salf aan hulle bied, ten einde hulle geestelike blinde oë te genees. Hierdie blindheid van die gemeente het gemanifesteer in ’n gebrek aan begrip en kennis van geestelike waarhede. Dit laat ’n mens dink aan Jesus se woorde aan die Fariseërs in Matt.23:26 ~ Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees. Soos alle verlore mense het ook hierdie gemeentelede in Laodisea nodig gehad dat hul blinde oë geopen moes word ~ Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God (Hand.26:18).
Waarom kom Christus en sê Hy dat Hy diegene wat Hy liefhet, bestraf en tug? Hierdie opmerking dui eerstens daarop dat hierdie gemeente nie gered was nie en daarom word hulle bestraf en getugtig, maar hoe klop dit met die feit dat Hy sê dat Hy hulle liefhet? Eerstens moet ons besef dat Christus ’n besondere liefde vir Sy uitverkorenes het, maar verse soos Mark.10:21 en Joh.3:16 dui vir ons aan dat Christus ook ongeredde mense liefhet. Mark.10:21 ~ Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” en Joh.3:16 ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Christus het dus ook hierdie ongeredde “Laodisente” lief, maar Hy waarsku hulle om hulle te bekeer, anders gaan Hy hulle straf en tugtig.
Ten spyte egter van hierdie dreigement kom Christus, soos telkemale met van die ander gemeentes en nooi Hy hierdie "ongereddenes" wat hulself Christene noem, om die deur van hul harte oop te maak vir Jesus Christus – daarom dat Hy sê ~ ...as iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. Hierdie woorde van Christus impliseer dus ook dat daar geen enkele gelowige in daardie gemeente was nie.
Hierdie uitnodiging na ’n maaltyd dui op intieme gemeenskap wat in die vooruitsig gestel word deur Christus en indien daar bekering sou plaasvind en wanneer hulle aansit by die maal, sal hulle geseën word. Daarom dat Openb.19:9 sê ~ Toe sê die engel vir my: Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is. Die Griekse word wat in vers 20 gebruik word vir “feesmaal”, dui op die hoofmaaltyd wat in die aand genuttig is. Christus dring dus by hulle aan om hulle te bekeer, sodat hulle saam met Hom aan die feestafel kan aansit, voor die nag hulle oorval – die nag van ewige duisternis.
· Christus se Belofte:
Openb.3:21-22 ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 22 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Hier gee Christus ’n wonderlike belofte aan elkeen in die gemeente wat luister en hulle bekeer – hulle sal saam met Christus op Sy troon gaan sit, soos wat Christus gedoen het nadat Hy die sonde en die dood oorwin het. Matt.19:28 ~ Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. Die reg om saam met Christus op ’n troon te sit en te regeer is maar een van baie beloftes wat gemaak word aan gelowiges soos wat ons die afgelope tyd gesien het – ons sal eet van die Boom van die Lewe (Openb.2:7); Ons sal die Kroon van die Lewe dra (2:10); ons sal beskerming ontvang teen die tweede dood (2:11); ons sal van die verborge manna eet (2:17); ons sal nuwe name ontvang en dit sal op ’n wit steentjie geskryf word (2:17); Ons sal gesag ontvang en heers oor die nasies (2:26-27); ons sal die môrester as besitting ontvang (2:28); ons sal wit klere ontvang wat reinheid en heiligheid demonstreer (3:5); ons sal ’n pilaar in die Tempel van God wees (3:12) en die Naam van God, asook die Naam van Christus en ook die naam van die nuwe Stad Jerusalem sal op ons geskryf word. En met hierdie uitnodiging en belofte in hulle ore, kom Christus met die uitnodiging soos in al die ander briewe ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptistegemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 26 Februarie 2012