Sunday, February 19, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 06 (Die Gemeente in Filadelfia)

1.     INLEIDING:
Ons het reeds gesien dat die pos uit Patmos baie verrassings ingehou het vir die gemeentes wat briewe ontvang het. Ons het gemeentes gesien wat baie hard teen dwaalleer gestry het, net om die klag van die Here te hoor dat hulle, hul eerste liefde verlaat het. Ander weer is deur van die ander gemeentes geëer vir hulle onvermoeide ywer en bedrywighede, net om van die Here te hoor dat hulle dood is.  Die possak wat ons briewebesteller gedra het, was dus vol verassings én skokke. 

Daar is nog net twee briewe oor in die possak en die volgende gemeente wat besoek word, is dié in Filadelfia. Ons beskik nie oor baie inligting t.o.v. hierdie gemeente nie, maar wat ons wel weet is dat dit ’n klein en swak gemeentetjie was, want Christus sê in Openb.3:8 o.a. dat hulle min krag het en daarom kan ons onsself indink dat hierdie gemeente gespanne gewag het om te hoor wat Christus van hulle sê, want as ’n groot en gevestigde gemeente soos dié in Efese só ’n skerp aanklag van Christus moes ontvang; as ’n lewendige en oënskynlik gesonde gemeente soos dié in Sardis moes verneem dat hulle ’n dooie gemeente is, wat kon hierdie klein en swak gemeentetjie in Filadelfia te wagte wees? Daarom het hierdie groepie gelowiges waarskynlik in groot angs gesit en wag dat hulle leraar die brief moes ooprol en voorlees. En wat ’n groot verrassing het nie op hulle gewag nie! Maar kom ons begin by die begin.

-


2.     SKRIFLESING:
Openb.3:7-13 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia: So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie: 8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. 9Kyk, ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg—kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie. 12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. 13Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

3.    DIE GEMEENTE IN FILADELFIA:
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.3:7a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia. Die wortelbetekenis van die stad Filadelfia se naam is “broederliefde”. Hierdie stad was sowat 48 km. vanaf Sardis langs ’n besige handelsroete en in die pragtige Hermusriviervallei geleë. Hierdie vallei was in ’n vulkaniese gebied geleë en die grond was derhalwe baie vrugbaar en ideaal vir die groei van wingerde. Die stad was geoormerk deur die Grieke as ’n Kultuurstad vanwaar hulle die Griekse taal en kultuur na ander dele van Klein-Asië wou versprei.  Ons weet ook dat daar baie Jode in die stad gewoon het. 

Gedurende 17 n.C. het dieselfde aardbewing wat Sardis swaar getref het ook Filadelfia bykans verwoes. Uit dankbaarheid teenoor keiser Tiberius se finansiële hulp om die stad weer te herbou, word ’n monument ter ere van die keiser opgerig en word die naam van die stad vir ’n ruk lank verander na Neocaesarea (“caesar” = keiser), maar ’n hele klompie dekades later word dit verander na Flavia, ter ere van die regerende Romeinse keiserlike familie.

Hierdie gemeente was die jongste van die sewe gemeentes en ons sal weldra sien dat Christus geen woord van kritiek teen hierdie gemeente gehad het nie en dit opsigself behoort vir ons as geweldige bemoediging te dien, omdat ons daardeur kan weet dat óns gemeente ook potensieel ’n gemeente kán wees teen wie Christus niks hou nie.

·           Die Beeld van Christus:
Openb.3:7b ~ So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie.  Vir die gemeente in Filadelfia stel Christus Homself voor met veral vier van Sy karaktereienskappe. 

Eerstens sê Hy, dat Hy die Heilige is, omdat Hy vir ewig en geheel en al sonder sonde is en Sy regverdige oordeel oor sondaars is dan juis ook ’n duidelike uitdrukking van Sy heiligheid. – Hy ís tog immers God. 

Tweedens is Hy die Ware God. Dit is Hy en Hy alleen wat die ware en lewende God is en dit ís so omdat Hy Waarheid is. In Hom is daar geen valsheid nie en voor Hom sidder almal wat vals is. 

Derdens is Hy die Besitter van die Sleutel van Dawid.  Hierdie is ’n sinspeling op Jes.22:22.  ’n Sleutel is simbool van gesag en verantwoordelikheid om besluite te neem en hierdie sleutel van geweldige verantwoordelikheid is destyds in Jes.22, aan Eljakim gegee – ons lees daarvan in verse 19-22 ~ Die Here sal jou uit jou amp ontslaan, Hy sal jou wegvat uit die plek waar jy in diens is. 20Dan sal Ek my dienaar Eljakim seun van Gilkija roep, sê die Here, 21Ek sal jou ampskleed vir hom aantrek, jou serp vir hom omhang en die gesag wat jy nou het, vir hom gee. Hý sal vir die mense van Jerusalem en vir die inwoners van Juda ’n vader wees. 22Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit, sal niemand oopsluit nie

Die persoon wat die verantwoordelikheid gedra het om die paleis oop en toe te sluit en om, om te sien na die paleis se algemene huishouding, moes uiteraard ’n uiters betroubare persoon gewees het en hy het dan ook ’n kleed gekry met ’n serp wat oor sy skouer gehang het, met die paleis se sleutel daaraan. Hierdie is dieselfde idee van gesag en verantwoordelikheid wat van Jesus Christus in Jes.9:6 gesê word ~ Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg

Ons kan dus sê, en dit is dan ook wat met hierdie hele gedagte gekommunikeer word, dat Jesus die draer van die Koninkryk se sleutels is en dat Hy alleen beklee is met die verantwoordelikheid en gesag om toegang tot die Hemelse Koninkryk te beheer en dat Hy die huishoudelike sake van die Hemelse Koninkryk beheer – daardie posisie beklee Hy dan ook vir ewig, daarom dat Jes.22:23a sê ~ Ek sal hom in sy amp bevestig, hy sal wees soos ’n spyker wat goed ingeslaan is. Christus se Koninkryk is dus onveranderlik en ewig en Hy is die Voorsiener van lewe en alles wat Sy kinders nodig het.

Vierdens is Christus die Een wat die deur oopsluit en toesluit.  Hierdie benaming hang baie nou saam en is ’n uitvloeisel van die vorige benaming, nl. die Besitter van die Sleutel van Dawid.  Christus is die Enigste Een wat oor soewereine krag beskik om toegang te verleen of te weier tot tydelike of ewige seën hier op aarde, of in die hemel.

·           Christus se Aanprysing:
Openb.3:8 ~ Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. Wanneer Christus verwys na hierdie gemeente as ’n gemeente met min krag, moet ons nie negatief daaroor dink nie – dit was m.a.w. nie ’n negatiewe opmerking t.o.v. hul hulpeloosheid ens. nie, maar in die konteks gesien, is dit juis ’n verwysing na hul krag, want hulle was min, of klein in getal, maar kragtig in optrede en getuienis. Die oorgrote meerderheid van die lidmate was waarskynlik arm en het deel uitgemaak van die laer vlakke van die samelewing – dink maar aan Paulus se beskrywing van die gelowiges in 1Kor.1:26 ~ Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. Maar saam met Paulus kon die lidmate van die Filadelfiagemeente gesê het ~ My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Kor.12:9-10).

Ten spyte dus van hulle getalle wat min was, het geestelike krag van hierdie gemeente uitgevloei en is mense na Christus gelei en is lewens verander en is die Evangelie van Jesus Christus verkondig.

Christus prys hierdie gemeente vir ’n tweede ding en dit is dat hulle aan (Sy) boodskap vasgehou (het)Hulle het dus getrou gebly en vasgehou aan Sy Woord en die waarhede daarin en hulle het dienooreenkomstig, in gehoorsaamheid gelewe.  Saam met Job kon hulle sê ~ Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes (Job 23:12).

Verder prys Christus die gemeente vir die feit dat hulle (Hom) nie verloën (het) nie. Hierdie gemeentetjie het getrou aan God gebly ten spyte van vervolging en swaarkry. 

Dit was dieselfde onwrikbare “uithou en vasbyt” wat Jesus se aardse lewe gekenmerk het (Hebr.12:2-4) en dit is ’n voorbeeld wat alle gelowiges moet navolg – net so moet ons ook volhard tot die einde toe (2Tes.3:5) – trouens, volharding is ’n integrale deel van reddende geloof – Matt.10:22 ~ Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. Op grond van hierdie gemeente se volgehou getrouheid, maak Christus ’n verstommende belofte aan hulle, nl. ~ Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Christus sê dus aan hulle, dat hulle redding verseker is en dat niemand hulle ooit uit Sy hand sal ruk nie. Hy sê egter ook aan hulle dat Hy aan hulle ’n wawyd oop deur van geleenthede gee – geleenthede om die evangelie te verkondig.  Dit laat ’n mens terug dink aan die woorde van Paulus in 1Kor.16:8-9 ~ Ek sal egter tot pinkster in Efese bly, 9want hier staan ’n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders. Ook in 2Kor.2:12 praat Paulus van hierdie “oop deur/e” wanneer hy sê ~ Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak. In Kol.4:2-3 skryf Paulus aan die Kolossense ~ Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar 3en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons ’n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig waarvoor ek hier gevange sit. Dit is baie duidelik dat Paulus hier verwys na geopende deure om die Evangelieboodskap te verkondig.

Christus sê derhalwe hier vir die gelowiges van Filadelfia dat hulle stad ideaal geleë is vir die verkondiging van die Evangelie.

·           Christus se Bestraffing:
Soos reeds gemeld, het hierdie gemeente geen bestraffing van Christus ontvang nie.

·           Christus se Raad:
Christus gee ook geen raad aan hulle nie – net beloftes.

·           Christus se Belofte:
Openb.3:9-13 ~ Kyk, ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg—kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie. 12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. 13Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

Van die sewe gemeentes ontvang die gemeente in Filadelfia die meeste beloftes – beloftes waaraan Christus Hom verbind.

Ons het reeds in v.8 gesien dat Christus vir hulle sê ~ Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie – Hul redding is dus vas en seker

Net soos in die geval van Smirna, is die gelowiges in Filadelfia onderwerp aan vervolging deur ongelowige Jode en omdat hulle (die Jode) Christus Jesus, nie as Messias erken het nie, was hulle nie deel van die Sinagoge van God nie, maar wel van die Sinagoge van die Satan. Al het hulle beweer dat hulle Jode was, was hulle dit nie. Hulle was wel kultureel en seremonieel Jode en volgens ras was hulle ook Jode, maar hulle was nie régtig Jode nie – Dit klink na ’n teenstrydigheid, maar Paulus gee vir ons die verklaring hiervoor wanneer hy ’n rasegte Jood in Rom.2:28-29 vir ons beskryf ~ U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul. 29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons

Christus belowe die gelowiges in hierdie klein gemeentetjie, dat hierdie selfde Jode wat die gelowiges vervolg, nog eendag sal kom en op hul knieë sal staan en erken dat Christus waarlik die Messias is. Hulle sal waarskynlik terselfdertyd doen wat in Hand.2:37 beskryf word ~ By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” En as ons Hand.2:38 hiermee saam lees, nl. ~ Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang, dan is dit duidelik dat Christus nog verder vir die groepie in Filadelfia sê, dat wanneer dít gebeur daar nog ’n verdere deur vir hulle sal oopgaan om die Evangelie te verkondig.

Hierdie belofte dat die Jode sal erken dat Jesus hierdie groepie gelowiges lief het, is natuurlik ook ’n vervulling en verwysing na Jes.60:14 waar daar verwys word na die ongelowige heidene wat voor die gelowige oorblyfsel van Israel sal kom kniel ~ ...dié wat jou verdruk het, sal na jou toe kom en buig, almal wat jou met minagting behandel het, sal by jou voete kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel (sien ook Jes.45:14; 49:23). Wat wil Christus dan deur hierdie belofte sê? Die getrouheid van hierdie klein groepie gelowiges sal beloon word met die redding van sommige van hierdie selfde Jode wat hulle nou vervolg.

Hierdie is dus ’n derde belofte wat aan die gemeente gemaak word – die eerste was dat hul redding vas en seker was; die tweede, dat die Jode uiteindelik sal erken dat Christus waarlik die Messias is en die derde was die belofte van ’n oop deur om die Evangelie te verkondig.

’n Vierde belofte vind ons in vers 10 ~ Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel

Christus belowe die gelowiges dat Hy hulle ten tye van vervolging, wat binnekort sou volg (Openb.1:1), sou vashou. Die vrede wat in die harte van gelowiges leef oor die wederkoms van Christus en die belofte dat Hy hulle sal vashou, sal help dat gelowiges deur beproewing kan gaan – dit is o.a. waarom dit so belangrik is dat ons ’n ewigheidsperspektief sal hê.

Ons vind ’n vyfde belofte in vers 11, nl. dié van ’n kroon en natuurlik verwys hierdie kroon na die ewige lewe in die hemel, wat wag op die getroue gelowiges. Omdat Christus se koms egter enige oomblik kan plaasvind, word daar aan die gelowiges in Filadelfia gesê dat hulle moet volhard tot die einde toe, want dan sal hulle die Kroon van die Lewe ontvang. Dit herinner ons aan die woorde in Openb.2:10 ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

Ons vind ’n sesde belofte in vers 12, nl. dat diegene wat oorwin, of te wel volhard tot die einde toe, ’n pilaar in die tempel van God (ge)maak (sal word), en hy sal vir altyd daar bly. ’n Pilaar simboliseer stabiliteit en permanensie. Pilare kan egter ook eer verteenwoordig. Ons sien ook in Gal.2:9 dat daar na die leiers van die kerk in Jerusalem verwys word as pilare. Hierdie metafoor word dan ook oorgedra na die hemelse koninkryk, en impliseer dus dat die gelowiges in die hiernamaals nie meer vervolging sal ervaar nie en dat hulle verseker word van ’n ewige lewe in die hemel – hulle sal dus nooit daar kan “uitval” nie (Joh.10:28).

Ons lees in ander dele van Openbaring dat daar ook ’n Tempel in die hemel gaan wees (sien Openb.7:15; 11:19 en 15:6-8) en dat hierdie Tempel se dak omhoog gehou sal word deur Pilare en die eer om deel uit te maak van hierdie groep gelowiges wat pilare in God se Tempel gaan wees, sal o.a. die “Filadelfiërs” toekom.

Om nog verder luister en heerlikheid te verleen aan die ererol wat die “Pilare van Filadelfia” gaan speel, sal Christus ’n sesde belofte nakom en dit is dat Hy aan hulle drie name sal gee:
·           Eerstens sal die Naam van die Vader aan hulle gegee word, wat daarop dui dat hulle, die Vader se besitting is – nog verdere sekuriteit dat hulle nooit uit die hemel gewerp sal word nie.
·           Die Naam van die Nuwe Jerusalem sal aan hulle gegee word, wat weereens dui op hulle ewige burgerskap in die hemel waarvan die hoofstad die nuwe Jerusalem sal wees (sien Openb.21).
·           Laastens word Christus se nuwe Naam aan hulle belowe. Hierdie Naam verteenwoordig die volheid van Sy Persoon. Volgens 1Joh.3:2 sal alle gelowiges Christus sien soos Hy is – in al Sy heerlikheid en ons sal toegelaat word om Hom op Sy nuwe Naam te noem – inteendeel, ons sal dieselfde naam dra.

Hierdie brief aan Filadelfia word op dieselfde wyse afgesluit as al die ander briewe, nl.: Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Gelowiges (van alle tye) moet dus luister na hierdie briewe en ag slaan daarop, omdat hierdie boodskappe vir alle gelowiges is.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 19 Februarie 2012