Monday, February 28, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 11 (“Die Gawe van Vrygewigheid”)

1.     SKRIFLESING:
Fil.4:10-23 ~ Ek was baie bly in die Here dat julle na so ’n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. 11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. 12 Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. 14 Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan. 15 Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle ’n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. 16 Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. 17 Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. 18 Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God ’n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. 19 En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. 20 Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. 21 Groete aan almal wat aan God behoort deur Christus Jesus. Die broers hier by my stuur vir julle groete. 22 Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete. 23 Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees. 

2.     INLEIDING:
Verlede week het ons gesien hoe dat Paulus die gemeente in Filippi bedank vir hulle bystand en ondersteuning.  Ook het ons gesien dat hy vir hulle sê dat hulle (soos hy), te alle tye tevrede (vergenoegd) moet wees met hul omstandighede.  Hy gaan egter voort en hy sê aan hulle in v.14 ~ ...nietemin....  Wat hy dus eintlik deur hierdie woord “nietemin” vir hulle wil sê, is dat hy swaar gekry het en alhoewel dit vir hulle vir ’n lang tyd nie moontlik was om hom by te staan nie, het hulle hom wel nou in sy moeilike omstandighede bygestaan.

Hy gaan egter verder in vv.15 en 16 deur hulle daaraan te herinner, dat hulle eintlik wonderlik vir hom gesorg het.  Hy noem aan hulle dat hulle die enigste gemeente was wat aan die begin van sy bediening, ondersteunend by hom betrokke was,  Ook toe hy in Tessalonika was het hulle meer as eenkeer na sy behoeftes omgesien. 

Ek het ook verlede Sondag gesê dat ons dalk mag wonder wat die bydrae van die gemeente behels het en ons het ook gesien dat die konteks van hierdie gedeelte vir ons duidelik wys dat hulle wél, o.a. geld gestuur het – v.15b ~ ...julle (was op daardie stadium) die enigstes (wat) ’n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe....

Paulus wil dus deur hierdie opmerkings vir die Filippense sê dat hy hulle betrokkenheid hoog ag en dat hy hulle waardeer, omdat hulle deel het aan sy bediening, maar ook deel het aan die verkondiging van die Evangelie.  Hy gaan egter verder deur vir hulle te verduidelik dat hulle vanuit hul eie tekort, hulleself gegee het deur hul vrygewigheid en dat dit nie ongesiens verbygaan nie – allermins by God en daarom verduidelik hy aan hulle drie beginsels t.o.v. vrygewigheid, nl.:
·           Vrygewigheid as Karaktertoets;
·           Vrygewigheid as Geestelike Belegging en
·           Vrygewigheid as Aanbiddingsoffer.

Nadat hy hierdie beginsels met hulle behandel het, sluit hy sy brief af met ’n kort groetewoord en daarna sal ons ook net kortliks kyk.

3.     VRYGEWIGHEID AS KARAKTERTOETS:
Paulus begin hierdie laaste gedeelte van sy brief in v.10, met die woorde ~ Ek was baie bly in die Here.  Die O.A.V. sê ~ EK het my grootliks verbly in die Here.  Die E.S.V. sê ~ I rejoiced in the Lord greatly.  Die N.L.T. (New Living Translation) sê ~ How I praise the Lord that you are concerned about me again.

Wat maak Paulus so bly oor hierdie bydrae van die gemeente in Filippi?  Ja, in die eerste plek is dit so dat hy baie bly was oor die feit dat die Filippense aan hom gedink het in sy nood.  Verder wil hy ook, ná sy openingswoorde wat dalk die indruk kon skep dat hy nie regtig dankbaar is nie, vir hulle verseker van sy opregte dankbaarheid.  Máár, hy wil veral vir hulle sê dat hy besonder bly is oor die feit dat hulle volgens v.14, goed gedoen (het) deur (hom) in (sy) moeilike omstandighede by te staan.

Wat het Paulus hiermee bedoel?  Het hy bedoel dat dit goed was dat hulle hom uit sy penarie van swaarkry gehelp het?  Waarskynlik dit ook ja, máár ek glo dit was veral omdat hulle goed gedoen het in die oë van die Here om vrygewigheid aan die dag te lê, ten spyte van hulle eie gebrek. 

Die Hebreërskrywer sê in Hebr.10:32-33 ~ Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het.  Die Hebreërskrywer sê hier aan die ontvangers van sy brief (dit is nie seker waar hulle gewoon het nie – waarskynlik iewers in Palestina[2]), dat hulle, terwyl hulle self  beledigings en vervolging beleef het, hulle hulself steeds uit lojaliteit en t.w.v. hulle openbare getuienis, met ander gelowiges geïdentifiseer het, want daardeur het hulle ’n opregte en noodsaaklike waardering t.o.v. die eenheid van die Liggaam van Christus bewys.  Slegs opregte liefde vir jou broer en suster in Christus, kan dit moontlik maak om met soveel vrymoedigheid jou medegelowige te ondersteun en te bemoedig in hulle uur van nood.

Dit is hierdie selfde gesindheid wat Paulus by die Filippense wil aanprys.  Hulle kry self swaar, maar steeds betoon hulle, hulle liefde, deur met iemand anders (in hierdie geval Paulus) te identifiseer en hom met hart en daad by te staan en te ondersteun in sy uur van nood.

Ook Johannes het hierdie gesindheid van vereenselwiging teenoor medegelowiges geopenbaar, toe hy in Openb.1:9 gesê het ~ Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding.  Omdat hy ook ’n gelowige is, deel hy in hulle verdrukking.

Paulus sê dus vir die gemeente, dat hulle veel meer gedoen het as om hom finansieel te ondersteun – hy sê dat hulle ’n goeie ding gedoen het en die letterlike betekenis daarvoor in die Grieks, is dat hulle ’n “pragtige goeie ding” gedoen het.  Hulle het inderwaarheid ’n karaktertoets geslaag.  Ons vind hierdie selfde uitdrukking in Mark.14:6 toe Maria van Betanië, die vrou met die albaste fles, baie duur nardusolie oor Jesus se kop uitgegooi het en Hom gesalf het, het Jesus vir Sy dissipels gesê dat hulle haar moet uitlos, want sy het ’n goeie daad verrig.

Die Filippense het dus veel meer gedoen as om bloot net Paulus se swaarkry te verlig – hulle het inderwaarheid deur hulle gawe wat hulle gestuur het, deel geword en geïdentifiseer met sy bediening en die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus. 

4.     VRYGEWIGHEID AS GEESTELIKE BELEGGING:
Tweedens sê Paulus dat hy nie met sy bediening van die Evangelie van Jesus Christus ten doel het om geldelik wins te maak uit individue en gemeentes nie.  Daarom sê hy in v.17 ~ Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie.... 

As dit dan nie gaan oor die gawe of die finansiële bydrae wat hulle vir hom gestuur het nie, waaroor gaan dit dan vir hom?  V.17b ~ Dit gaan...om die vrug daarvan..., want sê hy, ...daardeur word julle self ryker.  Die vrug wat Paulus hier van praat, impliseer dus dat hierdie bydrae van hulle ’n rendement of ’n voordeel vir hulle inhou.  Dit is soos wanneer ons ’n belegging maak en ons rente op ons belegging ontvang.  Daardie “rente” (die vrug) waarvan Paulus hier praat gaan die Filippense ook ryker maak.  Maar natuurlik gaan hulle nie noodwendig fisiese geld of ’n vermeerdering in hul beursies waarneem nie – Paulus bedoel hiermee, dat hulle primêr ’n geestelike voordeel wat hulle geestelik baie ryk gaan maak, as rendement op hulle bydrae gaan ontvang (onthou: hulle bydrae was onder moeilike omstandighede gemaak).

Spr.11:25 sê ~ Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.  Kan jy die rendement sien op hierdie vrygewige offer?  Jy sal self oorvloed hê – dit is ’n belofte!.  Jy sal self nie dors raak nie.  In Matt.5:7 sê Jesus ~ Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Soos julle uit hierdie teksverse kan sien, lê vrygewigheid nie nét op die vlak van finansies of materiële dinge nie – dit kan ook jou tyd behels, of jou ondersteuning; jou meelewing; jou fisiese kragte; die deel van jou kennis, aanleg en gawes, ’n ete, of gasvryheid, ens.

Wanneer jy “gee”, moet jy egter altyd die woorde van Paulus in 2Kor.9:7b in gedagte hou ~ ...God het die blymoedige gewer lief.  Wanneer jy dus gee, moet dit in opregtheid en met blymoedigheid geskied.

So gepraat van 2Kor.9, kom ons kyk na vv.6-11 en kyk dan spesifiek na enkele beginsels wat hieruit voortspruit en wat van toepassing is op ons onderwerp van vandag, nl. die gawe van vrymoedigheid ~ Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. 7 Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. 8 En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. 9 Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.” 10 God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ’n ryk oes laat oplewer. 11 Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word.

Indien jy wil hê dat jou vrygewigheid en jou uitdeling, ’n seën vir jou moet inhou, moet jy bedag wees op die volgende beginsels, soos wat Paulus dit vir ons hier in 2Kor.9 beskryf:
·           Eerstens spreek Paulus die “oesbeginsel” aan.  Hy verduidelik hierdie beginsel aan die hand van ’n boerdery- voorbeeld.  Wanneer ’n boer saad saai, hang die oes af van die hoeveelheid saad wat hy saai.  Hoe meer saad hy saai, hoe groter sal die oes wees.  Hierdie is natuurlik ’n beginsel wat God self toegepas het ~ Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? (Rom.8:32).  Beide in die natuur en wat ons geestesgoedere aan betref, is God ’n vrygewige Skenker.

·           Die tweede beginsel wat Paulus aanspreek is die beginsel van “motiewe”.  Dit is so dat motiewe geen rol speel by ’n saaiboer nie, want as hy goeie saad gebruik en die weersomstandighede, die grond, ens. is ideaal, sal hy ’n baie goeie oes inbring. 

’n Gelowige se motiewe, wanneer hý “saai”, is egter van kardinale belang.  Eerstens moet sy motiewe vanuit ’n suiwer hart voortspruit – motiewe wat God verheerlik en motiewe wat God welgevallig is.  Paulus sê dat ons blymoedige- en vrywillige gewers moet wees.  En waarom moet hy ’n blymoedige gewer wees?  Omdat hy weet wat God se vrywillige offer vir hom beteken het – hy het God se genade beleef en dít is genoeg rede om met ’n blymoedige hart uit te deel.  God kan jou dus nie seën as jou hartsgesondheid nie reg is nie (bv. wanneer jy “gee” om deur mense geëer te word).  Wanneer jou gesindheid egter reg is, sál God jou seën, maar Hy seën ook die gawe wat jy gee, asook die ontvangers van jou gawe.

Net soos wat God aan die saaiboer, genoeg saad voorsien vir die volgende plantseisoen, asook vir sy eie behoeftes en om te verkoop en uit te deel, net so voorsien God in die vrygewige uitdeler se behoeftes en primêr in sy geestelike behoeftes, máár ook in dit wat hy wéér kan uitdeel.

·           Derdens hanteer Paulus die beginsel van “oorvloed”.
V.11 in die N.A.V. stel dit as volg ~ Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg.  Die indruk wat hier geskep kan word, is dat wanneer ons in oormaat “saai”, ons finansieel ryk gaan word.  Dit is egter nie waar hierdie vers ophou nie.  Dit gaan voort deur te sê, ... om by elke geleentheid vrygewig te kan wees.  Wanneer die gelowige dus saai, sal God hom beloon deur nog meer aan hom terug te gee, SODAT hy weer en meer kan uitdeel.  Die oorvloed wat ons as gelowiges dus ontvang, is nie bedoel om ons ryk of ryker te maak nie, maar word gegee, sodat ons meer kan uitdeel en ander daarmee seën.  En let op, dat hierdie gemeente in Filippi (asook ander) mekaar en die bedienaars van die Woord ondersteun – hulle prioriteit het dus nie in die eerste plek by ongelowiges (die “hek-klokkie-drukkers” of die “verkeerslig-bedelaars”) gelê nie, maar by gelowiges.

Paulus het baie duidelik hier in 2Kor.9 die woorde van Jes.55:10-11 in gedagte gehad ~ Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. 11 So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.  In hierdie gedeelte word “saad” en “brood” gebruik om beide na ’n letterlike oes op die land, asook die Woord van God te verwys. 

Ons moet onthou dat ons as gelowiges nie in twee wêrelde lewe nie – die een oomblik in hierdie materiële wêreld en die volgende in ’n geestelike, of God se Koninkryk nie.  Om geld, of ander materiële middele uit te deel, is net so geestelik soos om te bid of die Woord te verkondig.  Geld in die hand van ’n gelowige is saad, net soos wat die Woord, saad is.  As ons volgens Bybelse beginsels uitdeel, sal ons rendement op ons uitdeling toeneem tot eer van God en sal ons én andere se behoeftes bevredig word.  As ons nie volgens die eise van die Woord uitdeel nie, sal ons oes karig wees.

5.     VRYGEWIGHEID AS AANBIDDINGSOFFER:
Die gawe wat die gemeente in Filippi na Paulus gestuur het, was vir hulle waarlik ’n offer, omdat hulle dit onder moeilike omstandighede aan hom gegee het, maar nou sê hy vir hulle in vv.18-19, dat hulle spesifieke gawe vir hom só oorweldigend was, dat dit tot gevolg het dat hy nou oorvloed het, maar hy sê ook aan hulle dat God hierdie offer van hulle raaksien en dat dit vir God ’n offer met (’n) lieflike geur (is en dat dit ) vir Hom aanneemlik en welgevallig (is) – dit is m.a.w. vir hulle ’n aanbiddingsoffer!  Hy gaan egter voort in v.19 en hy sê vir hulle dat hierdie gawe van hulle nie net ’n welgevallige offer vir God is nie, maar dat hierdie gawe ook ’n belofte vir hulle inhou.  En wat is hierdie belofte?  V.19 ~ En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.  Hierdie offer van hulle, wat hulle onder moeilike omstandighede saam met Epafroditos vir Paulus gestuur het, was met die regte motiewe gestuur en daarom sál God in elke behoefte van hulle voorsien – hulle sál oorvloedig oes – dit is ’n Koninkryksbeginsel!

Iemand het eenkeer gesê ~ “You can never outgive God”. 
·           God het alles gegee toe Hy Sy Seun, Jesus Christus gegee het om aan die kruis vir ons sonde te sterf.
·           God het die Heilige Gees vir jou gegee, om jou as gelowige te troos en te leer en te lei op ons lewenspad.
·           Jesus het Sy lewe vir jou gegee as soenoffer tussen God en jou.
·           Die Heilige Gees gee Homself elke dag ten einde jou by te staan op jou pad van heiligmaking.

Kan dit dan ooit teveel wees vir ons om vrygewig te wees?

6.     GROETEWOORD:
Paulus sluit sy brief aan Filippi af met ’n groetewoord en hierdie woorde is nie bloot net ’n formaliteit nie – dit is ’n swaar gelaaide groetewoord.

Hy sluit die brief op soortgelyke wyse af as waarmee hy dit begin het, nl. met ’n verwysing na die genade en die vrede van God die Vader en Jesus Christus.  Daardie selfde genade wat die eens ongenaakbare Paulus en vervolger van die kerk, verander het tot ’n apostel van die Here Jesus Christus (1:7; 3:6).  En Paulus wil deur sy groetewoord vir die Filippense sê, dat dieselfde genade wat hom verander het, ook hulle sal dra en versorg, namate hulle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus (is) (1:27).

Hierdie groetewoord is dus veel meer as maar net ’n formule wat Paulus hier aframmel ten einde sy brief af te sluit.  Hierdie woord, is die Evangelieboodskap in ’n neutedop wat in die gemeente se ore sal bly weerklink, omdat dit God se genade openbaar en verkondig en dít is baie goeie nuus wat genoeg rede aan ons verskaf om God voortdurend te loof en te prys.


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 27 Februarie 2011
HUGHES, Philip E.  1977.  A Commentry on the Epistle to the Hebrews.  Grand Rapids, Mich. : Eerdmans.  623p.  

Monday, February 21, 2011

Openbaring Ontsluit - 30 (Die Eerste Dier - 02)

1.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Openb.13:1-3 ~ En toe het ek ’n dier uit die see uit sien kom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien heerserskrone en op sy koppe godslasterlike name. 2 Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee. 3 Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop.

2.     INLEIDING:
Ons het reeds begin kyk na die verklaring van vv.1-3 en ons gaan nou voort daarmee.  Ons lees in Rom.13:1 ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.  Ons weet dat dit God is wat regerings oprig, maar ook tot ’n val bring.  Dit is egter ook God wat “die Dier” toegelaat het om Sy wil ten uitvoer te bring en sodoende word die Dier ’n instrument in God se hand om God se wil uit te voer.  Dit is presies wat dan gebeur het met die eerste eeuse Romeinse Ryk – nie net omdat ons daarvan lees in die Woord nie (v.2 ~ ... Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee), maar ook die geskiedenisboeke oor die Romeinse Ryk dui onteenseglik daarop. 

As ons dink dat die wêreld vandag pervers is, moet ons die geskiedskrywings oor die destydse Romeinse Ryk gaan lees en dan sal ons sien hoe pervers die Romeinse Ryk werklik was, veral gedurende Nero se tyd, wat natuurlik ook die tyd was waartydens Openbaring geskryf is.  Kindermoord was bv. aan die orde van die dag.  ’n Pa het letterlik oor die mag beskik om sy kind te laat dood maak indien hy bv. ’n seun wou hê en daar ’n dogter gebore is – al het die moeder ook hoe geprotesteer.  Aborsie was aan die orde van die dag.  Immoraliteit en homoseksualisme was alledaags.  Bykans alles en nog meer waaraan ons kan dink, was teenwoordig of gepraktiseer in Nero se tyd.  Hulle kultuur laat ons hedendaagse kultuur soos die “Amish” lyk (’n godsdienstige sekte in die V.S.A. – sien http://en.wikipedia.org/wiki/Amish - ook: http://www.800padutch.com/amish.shtml).  En tog was die Romeinse Ryk uitermate magtig, trouens dié magtigste heidense Ryk tot op datum.  Hierdie beskrywing van die verskriklike Dier met sy sewe koppe en tien horings is dus ’n getroue beskrywing van Rome.

Johannes het egter iets gesien wat met die Dier gebeur ~ Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop (v.3).  Ons moet daarop let dat dit nie die Dier was wat gewond was nie, maar een van sy koppe.  Die Dier het sewe koppe waarvan een nou dodelik gewond is.  Hierdie verwonde kop sou egter hoegenaamd nie die Dier beïnvloed nie, daarom dat ons sien dat v.3 sê dat die dodelike wond genees het.  Hierdie mag voorkom as nietige detail, maar dit is belangrike inligting ten einde ons in staat te stel om hierdie gedeelte na behore te interpreteer.

Ons het reeds gesê dat die Bees die eerste eeuse Rome verteenwoordig.  Dit blyk duidelik uit die feit dat, ...die sewe koppe, sewe berge (is) (Openb.17:9).  Ons het ook gesien dat sewe koppe, sewe konings verteenwoordig het (Openb.17:10).  Die sewe koppe het dus beide die Romeinse Ryk verteenwoordig, asook andersyds, die sewe konings wat die Ryk regeer het.  Om dus na die sewe koppe te verwys en te sê dat dit beide die regeerders as die moondheid is, is heel natuurlik – m.a.w. as ons sou sê, dat “Pretoria het verklaar...”, dan weet ons dat daar na die regering verwys word, terwyl ons praat van “Pretoria”.

Elke denkbare kommentator sal saamstem dat ons die Bees so moet verstaan.  M.a.w., die eerste Bees van Openb.13 was beide mens (die keiser), asook die owerheid (Romeinse Ryk).  Derhalwe, as die een kop dodelik gewond is, verteenwoordig dit die val van een van die konings.  Al het die Ryk gewankel met die val van hierdie spesifieke koning (in hierdie geval die keiser self), het dit weer herstel (nie die spesifieke keiser nie) en mense het in verwondering gestaan oor die herlewing.  Hoe het dit histories plaasgevind?

3.    HISTORIESE AGTERGROND:
Die keiser wat in Johannes se tyd regeer het, was Nero.  Ons sien in Openb.17:10 ~ Die eerste vyf het geval. Die sesde is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort rukkie bly.  Die eerste ses keisers wat in die Romeinse Ryk regeer het, tot en met die skrywe van Openbaring [2], was:  Julius Caesar was (regeer 49-44 v.C.).  Hy word opgevolg deur Augustus Caesar (31-14 v.C.);  daarna Tiberius Caesar (14 v.C.-37 n.C.); Gaius Caesar (37-41 n.C. ook bekend as Caligula) en Claudius Caesar (41-54 n.C.).  Hierdie vyf, is die vyf wat “geval” het (hulle was dus almal dood teen die tyd dat Johannes geskryf het).  Die sesde waarvan v.10 nou praat, is die volgende Romeinse keiser, nl. Nero (54-68 n.C.).  Nero is opgevolg deur die ander een wat nog nie gekom het nie en wat net vir ’n kort tydjie sou kom (die sesde keiser).  Lg. sou, volgens die geskiednis, Galba Caesar gewees het wat net vir ongeveer 7 maande geregeer het (Jun. 68 - Jan.69 n.C.) – ’n kort tydjie inderdaad.  Die eerste ses keisers was almal van dieselfde bloedlyn (soos die konings van vandag nog) en het mekaar opgevolg. 

Galba en die daaropvolgende keisers was egter nie deel van die eerste ses keisers se bloedlyn nie (netnou meer hieroor).  Nero was dan die keiser in beheer toe Johannes Openbaring geskryf het.  Wie was Nero?[3] 

Daar is baie geskryf oor Nero, maar in kort kan die volgende van hom gesê word: Nero Claudius Caesar Augustus Germanis (37-68 n.C.) was die aangenome seun en opvolger van Claudius Caesar.  Hy is gebore op 15 Desember 37 v.C. as Lucius Domitius Ahenobarbus, seun van Gnaeus Domitius Ahenobarbus (sy pa) en “Agrippina die Jongste”.  Sy ma was die suster van keiser Gaius Caesar.  Nero is gebore in waarskynlik een van die mees onheiligste families denkbaar.  Sy oupa (ook genoem Lucius Domitius Ahenobarbus), was ’n barbaarse en hartelose mens.  Sy dierevertonings en gladiatorkompetisies was so ’n bloedige spul, dat keiser Augustus hom op ’n stadium tereggewys het.  Nero se pa, Gnaeus was selfs erger Nero se oupa (Lucius Domitius Ahenobarbus).  Hy het op ’n keer ’n kind met ’n strydwa doodgery – net vir die “plesier” daarvan!  Hy het eenkeer iemand vermoor net omdat die persoon nie soveel wou drink as wat Gnaeus hom beveel het om te doen nie.  ’n Ander keer het hy iemand se oë uit gegrou omdat dié hom gekritiseer het.  Hy het hom voortdurend oorgee aan dronkpartye, owerspel en het ’n intieme verhouding met sy eie suster gehad!

Nero se ma het ’n baie traumatiese jongmenslewe gehad.  Haar broers was óf doodgemaak, of laat honger ly totdat hulle dood is, deur ’n agterdogtige keiser Tiberius.  Sy het haar eerste intieme verhouding op 12 jarige ouderdom ervaar met haar enigste oorlewende broer, Caligula (keiser Gaius).  Later het sy ’n verhouding met haar neef gehad wat met haar suster Drusilla getroud was.  In 39 n.C. is Agrippina en haar suster Julia Livilla, na die klein eilandjie Pontian verban deur haar broer, keiser Caligula (keiser (Gaius).

Toe Nero slegs 3 jaar oud was, het sy pa gesterf.  Uiteindelik is Nero se ma se eiendom deur Caligula gekonfiskeer en het sy en Nero in groot armoede geleef.

Agrippina is in 41 n.C. terug geroep van die eiland deur die volgende keiser, Claudius, wat haar broer se kleinkind was.

Terug in Rome het Agrippina ’n ryk man oortuig om sy vrou te los en met haar te trou. Toe hy kort daarna sterf, was Agrippina ’n baie ryk weduwee (’n mens kan maar net wonder hoe hy aan sy dood gekom het?).  In 48 n.C. is die keiser se vrou Messalina tereggestel nadat sy openlik, owerspel gepleeg het, waarop die keiser ’n eed geneem het om nooit weer te trou nie.  Agrippina het egter daarin geslaag om die keiser (onthou hy was haar broerskind) te oortuig om die volgende jaar met haar te trou. 

As seun het Nero reeds deelgeneem aan allerlei spele in die arena, waaronder perderesies.  In 49 n.C. stel Agrippina die filosoof en een van die beste sprekers in Rome, aan om Nero se privaat onderwyser (“tutor”) te word.  Nero se tannie was ook verantwoordelik vir sy opvoeding, tot en met 53 n.C., toe Agrippina daarin geslaag het om haar tereg te laat stel op klagtes van heksery.  Agrippina het ook vir keiser Claudius (haar broerskind, maar ook nou haar man) oortuig om Nero aan te neem as sy eie kind en ook as troonopvolger (ten koste van sy eie seun, Britannicus).  Kort hierna het Agrippina die verloofde van Claudius se dogter Octavia beskuldig van bloedskande met sy suster.  Keiser Claudius wat baie lief was vir sy dogter, het die verlowing laat verbreek, waarop die verloofde selfmoord gepleeg het.  Hierop het Agrippina ’n troue tussen Nero en sy stiefsuster, Octavia gereël – hulle is in 53 n.C. getroud en dit terwyl Nero slegs 16 jaar oud was.  Op hierdie wyse het Agrippina seker gemaak dat haar seun die volgende keiser sou word, waarop Agrippina ’n jaar later (54 n.C.) gereël het dat haar 63-jarige man vergiftig word met giftige sampioene.  Haar “seuntjie”, Nero word gekroon as die volgende keiser!

Die eerste vyf jaar van Nero se regering wat hy onder die voogdyskap van Seneca en Sextus Afrianus Burrus deurgebring het, was baie vooruitstrewend en redelik rustig.  Na vyf jaar het hy homself egter oorgegee aan ’n lewe van die ekstreme.  Hy het luukshede gesoek en versamel en hy het homself oorgegee aan losbandige brassery (oordadige drinkery).  Hy het glad nie sy vrou lief gehad nie en hy het ’n diensmeisie genaamd Acte as minnares geneem.

Burrus en Seneca het gehoop dat Acte, Nero sou wegkry van sy dominante moeder, waarop Agrippina toenemend jaloers geraak het op Acte se invloed op haar seun.  Sy het selfs gedreig om Claudius se seun (Britannicus) se aanspraak op die troon te ondersteun.  Op 11 Feb. 55 n.C. is Nero se 14 jarige stiefbroer (Britannicus) tydens ’n ete vergiftig.  Nero het verklaar dat die seun maar net ’n epileptiese aanval gehad het.  Britannicus was stil-stil die volgende dag begrawe.

Agrippina was oorgeplaas na ’n aparte woonplek in 55 n.C.  Haar naam en beeld het ook van die Romeinse munte verdwyn waar sy vantevore saam met Nero verskyn het.  Acte se invloed het egter gou verdwyn toe sy verplaas is deur “die liefde van Nero lewe”, byname Sabina Poppaea wat beide bekend en berug was (hulle is eers later getroud).  Nero het terselfdertyd ’n verhouding met ’n man, genaamd Doryphorus aangeknoop – die rede?  Omdat Doryphoros soos Nero se ma gelyk het!  Ook Doryphoros is klaarblyklik in opdrag van Nero, in 62 n.C. vergiftig, omdat Doryphoros gekant was teen Nero se huwelik met Poppaea.

In 59 n.C. wou Nero sy ma uit die weg ruim, deur haar weg te stuur op ’n skip waarvan die dak van haar kajuit so ontwerp was, dat dit op haar sou intuimel as sy aan ’n bepaalde kant van die kajuit sou sit – sy het egter aan die teenoorgestelde kant gaan sit en die moordpoging het derhalwe misluk.  Sy het nou geweet dat haar “bloed gesoek” word.  Sy het vir eers ontsnap, maar Nero het haar uiteindelik tog vermoor en die rede wat hy aangevoer het, was dat sy saamgesweer het om hom te onttroon.  Dit word vertel dat toe die moordenaars by haar huis opgedaag het, sy geweet het wat gaan gebeur en sy haar glad nie teengesit het nie.  Trouens, sy het haar maag ontbloot en vir hulle gesê dat hulle hul swaarde in haar maag moes steek – haar maag vanwaar haar bose seun gekom het.

Met Nero se ma uit die pad het hy ’n toenemend losbandige lewe begin lei. Toe Burrus in 62 n.C. sterf en Senecca afgetree het (hy is later deur Nero gedwing om selfmoord te pleeg), het ’n oud minnaar van Agrippina, genaamd Gaius Ofonius Tigellinus, Nero se raadgewer geword.  Hy het meegedoen in Nero se losbandige lewe.  Kort hierna het Nero sy saggeaarde vrou, Octavia verban na die eiland van Pandateria.  Later is sy opdrag gegee om selfmoord te pleeg deurdat sy haar polse moes sny.  Poppaea is in hierdie tyd geskei van haar man en sy en Nero het in die huwelik getree (62 n.C.).  Volgens die geskiedskrywer Tacitus, was Poppaea ’n gesofistikeerde en beeldskone vrou, maar met ’n uiters lae moraal.  Op 21 Jan. 63 n.C. het sy geboorte geskenk aan ’n dogter genaamd Claudia.  Claudia het net vier maande geleef.  Nero het verklaar dat aangesien sy die dogter van ’n god was (hyself), sy ook tot godin verklaar word, waarop daar ’n standbeeld ter ere van haar in ’n afgodstempel opgerig is.  Toe Poppaea ’n tweede kind verwag in 65 n.C. het Nero tydens ’n woede uitbarsting sy verwagtende vrou geskop en die ongebore baba in die proses dood geskop.  Nero se spyt en hartseer oor die voorval was intens – totdat hy ’n jongman gesien het wat soos sy vrou lyk – sy naam was Sporus.  Nero het Sporus se manlikheid van hom laat ontneem en met hom getrou.  Hy het Sporus in duur klere getooi wat gewoonlik deur adellikes gedra is en hy het die jongman voortaan Sabina genoem.  Nero het ook met ’n vorige slaaf met die naam Pythagoras getrou en het ’n openbare nabootsing van die eerste huweliksnag gehad.  Nero het ook ’n homoseksuele toegeneentheid tot ’n akteur by name Paris gehad.  In 67 n.C. het Nero, Paris laat dood maak, omdat hy ’n beter akteur as Nero self geword het.  Nero het ook verlief geraak op ’n ander beeldskone vrou by name Statilia Messalina.  Hy het haar vierde eggenoot in 66 n.C. laat dood maak en haar sy derde vrou gemaak.

Nero het aan ’n geweldige grootheidswaan gelei.  Hoogverraadsverhore het aan die orde van die dag geraak en hy het belasting geweldig verhoog, terwyl rykes se landgoedere gekonfiskeer is.  Nero het obsessief geraak oor die teater.  Hy het sy eie stem begin verafgod en het selfs vir lang tye met gewigte op sy bors gelê ten einde sy diafragma en stembande kwansuis te versterk.  Die Romeine het moeg geraak daarvoor om in teaters toegesluit te word en geforseer te word om na Nero se urelange voordragte en liedere te luister.  Hy het selfs ’n groep jongmanne gekry (genaamd die “Augustiani”) wat, volgens Tacitus, sy vertonings moes bywoon en ’n voortdurende applous moes laat hoor.  Lede van die senaat het opdrag ontvang om al Nero se opvoerings by te woon en weë die persoon wat nie ingenome en beïndruk gelyk het, of dit nie bygewoon het nie!  Genl. Vespasianus (later self keiser) het op ’n stadium opgehou om hande te klap, waarop hy uit die teater gesleep is; geslaan is en daarna opdrag ontvang het om terug te keer en aan te hou hande klap.  Een van Nero se senators het op ’n keer gemaak asof hy flou val, waarop hy uitgedra is en toe die hase pad gekies het.  Sommige teatergangers wat nie te ingenome gelyk het nie, is soms selfs tereggestel.

Nero se opvoerings het later die meeste van sy aandag geniet en met so min tyd wat aan landbestuur spandeer is, het dinge baie vinnig in die Ryk begin “uitrafel” en het oproere kort-kort uitgebreek en het oproepe vir ’n nuwe Keiser begin opgaan.  Gedurende 65n.C. was daar ’n sameswering om Nero te vermoor, maar die samesweerders was verraai en i.p.v. Nero, het 32 ander mense uiteindelik in die proses gesterf.

Gedurende die lente van 66 n.C. het opstande in die provinsies uitgebreek waar oordadige belastings gehef was.  Nero se kop is geëis.  Die senaat het Nero as openbare vyand verklaar en is ter dood veroordeel – die wyse van teregstelling?  Hy moes doodgeslaan word.  Nero het beplan om per skip te ontvlug, maar sy lyfwagte het geweier om hom te help.  Toe die soldate op 9 Junie 68 gekom het om hom te arresteer, het hy homself in die nek gesteek.  Sy privaatsekretaris het toe die halfhartige poging tot selfmoord vír hom afgehandel.


4.    DIE WOORD VAN GOD EN GESKIEDENIS:    
Ons lees in Openb.13:3 dat ...dit het gelyk (het) asof hy (die dier) aan een van sy koppe dodelik gewond was.  Hierdie beeld pas pragtig in by ons interpretasie tot dusver, nl. dat die Dier, beide Rome en die keiser verteenwoordig.  Nero – een van die sewe koppe – is dood.  Nero is ook gedood met ’n noodlottige wond teen die kop (sy swaard is deur sy keel opgedruk tot in sy brein).  Die profesie het dus beide daaroor gegaan dat die keiser sou sterf met ’n noodlottige wond teen die kop en dat die Romeinse Ryk sou wankel.  Weereens toon die geskiedenis aan dat hierdie profesie en ook ons interpretasie korrek is.

Na Nero se dood word Servius Sulpicius Galba aangewys as keiser (hy was nie soos die geval met die vorige ses keisers, familie, of skoonfamilie van die vorige ses keisers nie).  Hy is in 61
aangewys as goewerneur van die Romeinse provinsie, genaamd Hispanica Tarraconensis (naastenby die huidige noord-westelike deel van die huidige Spanje).  Hy het vroeër in onguns geval by Nero, maar voor Nero hom kon laat teregstel, het Nero selfmoord gepleeg.  Galba was ook uiters ongewild onder die burgers van Rome en hy word slegs sewe maande (Openb.17:10) na sy bestyging van die troon, tereggestel.  Nog voor sy teregstelling het die regering van die dag egter reeds begin met ’n proses om ’n nuwe keiser aan te wys.  Twee kandidate is aangewys, nl. Aulus Vitellius, goewerneur van Laer Duitsland (naastenby die huidige Duitsland) en M. Slavius Otho, voormalige goewerneur van Lusitania (naastenby die huidige Portugal).

Otho se vrou was voorheen deur Nero as minnares geneem, waarna Nero vir Otho na Lusitania gestuur het as goewerneur.  Otho was baie ontsteld omdat Galba hom nie aangewys het as sy opvolger nie.  Hy was een van Galba se vroegste ondersteuners, maar Galba het ’n man met die naam van L. Calpurnius Piso aangewys om hom op te volg.  Otho laat egter vir Piso vermoor en eis die troon vir homself op.  Hy word regdeur die Romeinse Ryk aanvaar as keiser, behalwe in Duitsland, waar Vittellius as keiser aanvaar is.  Otho was drie maande keiser toe val Vittellius Rome binne, waarop Otho selfmoord pleeg en Vittellius baie vinnig aanvaar word as die nuwe Caesar. Sy gewildheid het egter nie lank geduur nie en hy is slegs ses maande nadat hy keiser geword het, vermoor.

Kom ons keer egter terug na Nero.  In 67 n.C. het Nero vir generaal Titus Flavius Vespasianus[4]  opdrag gegee om met die Romeinse weermag op te ruk na Jerusalem ten einde die opstand deur die Joodse Selote te onderdruk.  Terwyl Vespasianus besig was met sy veldtog teen Jerusalem het Nero selfmoord gepleeg en is die Romeinse Ryk in ’n  burgeroorlog gedompel.  Vespasianus was ’n gerespekteerde generaal in Rome en dit was nie lank voor hy gevra is om orde in Rome te kom skep nie. 

Na Nero se selfmoord en tydens die heerskappy van Galba, Otho en Vittellius se heerskappy, het daar chaos geheers in die Ryk – hoofsaaklik a.g.v. die voortdurende wedywering om die leierskap van die Ryk.  Eers toe Vespasianus ingehuldig is as keiser (21 Des. 69 n.C.) is stabiliteit in die Ryk bewerkstellig.  Dit het dus gelyk asof die Dier dodelik gewond is toe Nero selfmoord gepleeg het en die dodelike keiserlikelyn (familielid volg familielid op – ook genoem die Julio-Claudian dinastie) is vir goed afgesny met die dood van Nero. 

Nadat Vespasianus terug gekeer het na Rome, het genl. Titus bevel oor die magte in Jerusalem geneem en is Jerusalem is 70 n.C. beset en is die stad en die Tempel verwoes. Openb.13:3 sê ook ~ ... maar die dodelike wond het genees.  Hierdie genesing dui dus onteenseglik op die amperse val van die Romeinse Ryk, met Nero as leier (v.3a ~ Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was) en die daaropvolgende herstel van die Ryk o.l.v. Vespasianus.  Die Romeinse Ryk het ’n verdere 350 jaar voortbestaan (tot 410 n.C.). 

5.    HISTORIESE BESWAAR:
In die voorafgaande verklaring van vv.1-3, het ons sterk gesteun op geskiedkundige gebeure, asook die identifisering van die sewe koppe.  Ons het gesien dat die sewe koppe verwys na beide die sewe berge en die sewe konings soos in Openb.17:9-10 aangetref (Hier is verstand en wysheid nodig. Die sewe koppe is sewe berge. Daar by hulle het die vrou haar setel. Verder is hulle ook sewe konings. 10 Die eerste vyf het geval. Die sesde is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort rukkie bly).  Die sewe heuwels het ons gesien, verteenwoordig Rome as regeringsetel van die Romeinse Ryk, asook die sewe “konings” wat ons geïdentifiseer het as die eerste sewe Keisers (Julius, Augustus, Tiberius, Caligula, Nero en Galba). 

’n Beswaar wat teen hierdie verklaring ingebring kan word, is dat hierdie manne, keisers was en nie konings nie en aangesien die Woord onteenseglik praat van “konings” en  nie van “keisers” nie, moet hierdie verwysing handel oor ander (moontlik nog in die toekoms) heersers.

Wanneer ’n mens so redeneer, word die getuienis van die Woord egter geïgnoreer.  Toe Jesus verhoor was, kon Pontius Pilatus nie vir Jesus skuldig bevind nie, omdat Hy geen skuld gehad het nie.  Toe Jesus voor die Joodse skare gebring is, het Pilatus vir hulle gevra:  Moet ek julle koning kruisig?  (Joh.19:15), waarop die Priesterhoofde gesê het dat hulle geen koning, behalwe die keiser het nie (Joh.19:14-15).  Ons lees ook in Hand.17:7 van die beskuldiging teen die gelowiges ~ Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette en sê dat daar ’n ander koning is, Jesus!   Petrus weer, het dit op die gelowiges wat onder die Romeinse oorheersing gebuk gegaan het (trouens op daardie stadium was dit onder Nero),  se harte gedruk om die koning te eer [Let op:  Die O.A.V., sowel as die N.A.V., asook heelwat Engelse vertalings vertaal die woord hier met “keiser”, maar die Grieks is baie duidelik daaroor dat die oorspronklike woord, “koning” is =  basileuV (basileus).  O.a. vertaal  die N.A.S.B., asook die New Living Translation dit korrek met “koning”].  In al drie hierdie verwysings verwys die Woord van God ondubbelsinnig na die keiser, as “koning”.  Al wil historici (en pre-millennialiste?) daarop aandring dat daar ’n verskil is tussen “koning” en “keiser”, tref die Woord geen verskil nie en is “koning” en “keiser” een en dieselfde ding.  Net so verwys die Bybel bv. ook na die Farao’s as konings (Hand.7:17-18 ~ Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot ’n groot getal aangegroei. 18 ’n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom).  In die lig van gemelde, is dit dus nie moeilik om te kan insien dat die “sewe konings” van Openb.17:10, een en dieselfde is as die “sewe keisers” nie.

6.    TEN SLOTTE:
Die Romeinse Ryk van Johannes se tyd was dus die politieke Dier van Openbaring.  En die hoof van daardie politieke Dier was ’n “dierlike keiser” met die naam van Nero.  Die Dier is dus nie ’n leier wat nog geïdentifiseer moet word, of wat nog moet kom nie – nee, as ons na die Woord kyk, was dit die Romeinse Ryk o.l.v. keiser Nero.

Ons het baie aandag geskenk aan die geskiedenis, maar iets wat ons moet besef, is dat God, ook die God van die geskiedenis is.  Daar is ’n “Hoërhand”, of te wel ’n soewereine God wat agter elke politiek-historiese gebeurtenis in die hierdie wêreld is.  Spr.21:1 stel dit baie mooi ~ Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ’n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.

Wanneer dinge in ons wêreld heeltemal buite beheer lyk (dink jou in die posisie van die Europeërs gedurende W.O.II, met Hitler wat elke land op aarde wou inpalm), moet ons besef dat ons soewereine God in volkome beheer is.  As God in beheer was tydens Nero die Tiran se oorheersing, is hy vandag net so in beheer – Hy is steeds besig om alles haarfyn uit te werk tot Sy eer!  Die kerk het die “Dier” oorleef en daarom kan ons verseker daarvan wees, dat die kerk, met God se genade, vandag en môre ook sal oorleef.  Ja, ons weet dat die satan soos ’n brullende leeu rondloop om ons te verskeur (1Pet.5:8) en ons sal en word in ons dag steeds vervolg deur allerlei “beeste”, maar ons moet altyd die woorde van Jesus in gedagte hou ~ ...Ek (sal) my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18).



[1]Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) 
Sondagaand 20 Februarie 2011
[3]http://en.wikipedia.org/wiki/Nero - Sien ook “Openbaring Ontsluit – 15 (Die Identiteit van die Dier)”, d.d. 07 Februarie 2010