Sunday, October 31, 2010

Die Eerste Brief van Petrus - 16 (Die Uitverkorenes en God se Tyd vir Oordeel)

1. SKRIFLESING:

1Pet.4:17-19 ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie? 18 “As ’n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van ’n goddelose en ’n sondaar?” 19 Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen. 

2. INLEIDING:

Petrus sê vir ons dat die tyd van God se oordeel aangebreek het en wanneer dit gebeur, dui hy vir ons aan dat daar twee objekte vir God se oordele is, nl. die gelowiges en ook die ongelowiges. Petrus verskaf egter ook aan ons twee oplossings t.o.v. die hantering van God se oordele.

3. DIE VOORWERPE VAN GOD SE OORDEEL:

Kom ons kyk na die objekte van God se oordeel en eerstens sal ons sien dat Petrus sê dat ons as gelowiges die eerste objek van God se oordeel is.

· Die Gelowiges:

Petrus begin hierdie perikoop met ’n eienaardige opmerking, nl. ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. Ten einde te verstaan wat Petrus met hierdie uitdrukking bedoel, sal ons eerstens moet kyk na wat hy bedoel wanneer hy sê ~ die oordeel het aangebraak. Tweedens sal ons ook moet vasstel wat hy bedoel met die uitspraak, dat die oordeel ...by die huis van God (begin).

Die woord “oordeel” in v.17 is in die Grieks krima en beteken letterlik om te oordeel, of om in ’n proses van oordeel te verkeer. Wanneer ons na die onmiddellike konteks van hierdie perikoop kyk, weet ons nou al dat die ontvangers van Petrus se brief vervolging en beproewing ervaar en ook te wagte moet wees. Die vraag is egter of die gelowiges aan wie Petrus skryf, dan geoordeel gaan word? Het God hulle dan nie vrygespreek op grond van Christus se soendood aan die kruis nie? Waarom gaan hulle en ons nogtans geoordeel word?

Hierdie uitdrukking van Petrus word grootliks ontleen aan verskeie teksverse in die Ou Testament. Kom ons kyk na o.a. Eseg.9:5-6 ~ Ek het gehoor die Here sê vir die ander manne: “Gaan agter hom aan deur die stad en slaan dood! Moenie verskoon nie, moenie jammer kry nie! 6 Maak dood en roei uit die oumense, die jongmanne en jong vroue, die kinders en vrouens; moet net nie raak aan dié wat die merk het nie. Begin by my heiligdom!” Hulle het toe begin met die ou manne voor die tempel (sien ook Sag.3:9; Mal.3:1-3). Wie word in hierdie geval nié dood geslaan nie? V.6 ~ ... moet net nie raak aan dié wat die merk het nie. Hier sien ons dat die uitverkorenes van God geen leed aangedoen word nie – hulle word nie doodgeslaan nie, want hulle dra die merk. Let egter op dat die verwoesting by die heiligdom begin – dit kan vir ons dui op elkeen wat in die heiligdom is, maar nié die merkteken dra nie.

Wat is hierdie merk? In Openbaring 7 ontvang die vier engele opdrag om die land en die see te tref, maar ’n vyfde engel het hulle opdrag gegee om eers te wag ~ ... Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël (Openb.7:3). Ons sien dus dat al die uitverkorenes eers ’n merk op hul voorhoofde moes ontvang, alvorens die oordele van God die aarde sou tref. Hierdie merk waarvan Esegiël dus praat, is presies dieselfde merk waarvan ons in Openbaring lees. Hierdie merkteken is die teken van uitverkiesing en dit vrywaar God se uitverkorenes van Sy oordele.

Dít antwoord egter nog steeds nie ons vraag t.o.v. 1Pet.4:17 wat die oordeel wat by die huis van God moet begin, behels nie.

Hierdie oordeel is nié die eindoordeel waarvan Openbaring praat nie. Die oordeel waarvan Petrus hier skryf, is die tugtiging waardeur God se kinders gaan, ten einde ons op die regte pad te bring en ons op die regte pad te hou. Hebr.12:7 is vir ons hier ’n pragtige voorbeeld van hierdie tugtiging ~ Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ’n kind wat nie deur sy vader getug word nie? Dit is dus ’n proses waardeur ons as gelowiges gaan om gelouter te word. Petrus sê self in 1Pet.1:6-7 dat ons kosbaarder vir God is, as goud en daarom moet ons deur hierdie lewe gelouter en gesuiwer word. Dit herinner aan Mal.3:2-3 ~ Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers. 3 Soos iemand wat silwer smelt en suiwer, so sal Hy as regter gaan sit om die Leviete te suiwer, om hulle te louter soos goud en silwer, sodat hulle aan die Here ’n offer kan bring wat bestaan uit regdoen.

Die oordeel wat Petrus se lesers en ons as wedergeborenes dus ervaar, is vervolging en beproewing wat hulle o.a. onder die Jode en Romeine, maar ook a.g.v. die versoekinge van hulle eie vlees ervaar, maar God gebruik dit alles om hulle te louter en “suiwerder goud” te maak voor die Here Jesus hulle kom haal. En wanneer Christus hulle kom haal, sal Hy soos in die gelykenis van die skape en die bokke in Matt.25:31-46, vir die gelowiges wat uitgebeeld word as skape, sê: Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit (v.34).

Die lesers van Petrus se brief en so ook ons, se loutering en oordeel het dus reeds begin die dag toe ons tot geloof gekom het in Christus en sal aanhou totdat Christus ons kom haal.

Ons het reeds vantevore geleer dat Christus die volmaakte offer gebring het, ten einde versoening te doen vir God se oordeel oor die erfsonde – daardie sonde wat ons verdoem het tot die ewige dood, maar ons as uitverkorenes is in Christus ingeplant, daarom sál ons die ewige lewe beërwe.

Ons gaan egter nog elke dag gebuk onder die sondesmet en daarvoor moet en kan ons steeds in hierdie lewe tugtiging verwag. Let wel, dit het niks te make met ons uiteindelike redding nie – daarvoor het Christus reeds betaal, maar hierdie daaglikse sonde moet ons bely en vergifnis voor vra én ons daarvan bekeer, anders moet ons tugtiging in hierdie lewe verwag. En dit is presies wat v.17 dan ook beteken ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God.

Om die antwoorde op ons aanvanklike vrae dus te beantwoord, het ons gesien dat God se oordele reeds in hierdie lewe begin en wel met sy uitverkorenes, ten einde ons te suiwer en ons geloof te versterk.

Ter wille van enige moontlike onduidelikheid moet ek net enkele opmerkings maak oor die uitdrukking ~ As ’n gelowige beswaarlik gered word (1Pet.4:18a). Hierdie uitdrukking beteken nié dat God te swak is om ons te red nie, of dat ons só sondig is dat dit baie moeilik vir Hom sal wees om ons te red nie. Ook beteken hierdie uitdrukking nié dat ons groot moeite sal ervaar om onsself te red nie, want ons kan nooit uit eie krag gered word nie, maar enkel en alleen deur God se genade.

Hierdie uitdrukking is waarskynlik ontleen aan Gen.19:15-26, toe God, Lot wou red uit Sodom. Dit was vir God geen probleem om Lot te red nie, maar Lot was onwillig. Hy het getalm om uit die stad te vlug; hy het met die engele geredekawel en uiteindelik moes hy aan die hand gevat word en uit die stad getrek word. Kort daarna het die stad in vlamme opgegaan, toe swael en vuur daarop geval het. Lot was gered, maar hy het dit net-net gemaak, deurdat die vuur hom amper verteer het – hy was dus gered deurdat hy uit die vuur geruk is.

God se oordeel begin dus by Sy kinders – by ons en die rede hiervoor is om ons te louter ten einde ons te help om te groei in heiligmaking.

· Die Ongelowiges:

Tweedens sê Petrus dat die ongelowiges objekte vir God se oordeel is. Trouens, Petrus sê in die woorde van Paulus in 1Kor.3:15, dat gelowiges ...gered (sal) word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is, of soos die O.A.V. dit stel, ...soos deur vuur heen. Petrus sê dan ook in v.18a ~ As ’n gelowige beswaarlik gered word, hoe sal ’n sondaar gered kan word – v.18b ~ ...wat word dan van ’n goddelose en ’n sondaar? Hoeveel erger sal die oordeel oor die ongelowiges dus nie wees nie! In 2Tes.1:5-9 sê Paulus ~ Dit alles is ’n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. 6 God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7 en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8 in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9 Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.

Ten spyte van ons swaarkry en beproewing en loutering in hierdie lewe, bied God uiteindelik aan ons genade en redding. Hierdie beproewing gaan nie lank aanhou nie. Indien ons getrou bly tot die dood toe, sál God aan ons in die woorde van Openb.2:10, die kroon van die lewe skenk.

Die ongelowiges en sondaars daarenteen, verkeer tans reeds in ’n staat van veroordeling en verdoeming. Wat gaan van hulle word as ons as gelowiges soos deur vuur heen gered word?

Let op hoe verwys Petrus na die goddeloses – hy noem hulle mense sonder God (goddeloses) en sondaars.

Wanneer ons as gelowiges beproewing ervaar, weet ons steeds dat verheerliking op ons wag. Die ongelowiges daarenteen het geen vooruitsigte van ’n ewige heerlikheid nie, trouens Jesus sê in Matt.23:29 tot en met 33 ~ Ellende wag vir julle,... “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? Die hel wag op die goddeloses en die sondaars! En in 2Tes.1:8-9 sê Paulus ~ Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9 Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.

Tye van vervolging en beproewing is terselfdertyd geleenthede om as liefdevolle getuies op te tree teenoor diegene wat beproewing ervaar. Dit was nie die aardbewing wat die tronkbewaarder in Filippi (Hand.16:26-34) primêr na die Here gelei het nie, maar Paulus se liefdevolle bemoeienis met hom.

As gelowiges mag ons nie weerwraak soek teen ons vervolgers nie. Nee, ons moet eerder vir hulle bid en die waarheids-evangelie met hulle deel.

Ons het dan eerstens hier gesien dat God se oordeel by Sy kinders begin en die rede hiervoor is om ons te louter ten einde ons te help om te groei in heiligmaking. En tweedens is die ongelowiges, die objekte van God se oordeel en verdoemenis.

4. DIE OPLOSSING VIR GOD SE OORDELE:

Petrus verskaf nou aan ons raad oor hoe ons op die oordele van God in hierdie lewe moet reageer en hy doen dit deur twee dinge vir ons te noem:

· Vertrou jou lewe toe aan jou Skepper:

Hy sê in v.19 ~ Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil.... Hier verwys hy natuurlik na gelowiges wat ly en onderwerp word aan beproewing en juis omdat hulle gelowiges is. Dit motiveer hom om raad aan hulle te gee, want hy is besorg daaroor dat hulle in die proses van swaarkry moontlik mag sondig en daarom waarsku hy hulle en sê hy vir hulle om ...hulle lewe toe (te) vertrou aan die getroue Skepper.

Die woord “toevertrou” in Grieks is paratithemai en dit is dieselfde woord wat Jesus gebruik het toe Hy Sy siel aan God toevertrou het – letterlik beteken dit dus om jouself ten volle en onvoorwaardelik te gee (in Engels gebruik ons die woord “commit”). Dit is wat Petrus sê ons moet doen wanneer ons beproewing en loutering ervaar: “Commit” jouself aan God. Vertrou jou lewe toe aan God. Gee jouself aan die Here. Leef in toewyding en gehoorsaamheid aan God en Sy Woord.

Ons doen onsself dus geen guns wanneer ons ’n bewustelike of onbewustelike aanhanger van Dr. Lewis Sperry Chafer (l.w. nie Francis Shaefer van L’Abri-faam nie) is wat reeds in 1918 vorendag gekom het met die baie bekende, dog onbybelse konsep wat hy verkeerdelik gebaseer het op 1Kor.2:15-3:3, nl. twee groepe gelowiges – vleeslike en geestelike gelowiges. Hierdie is vals teologie. Chafer het geleer dat die vleeslike Christen se lewe gekenmerk word deur ’n lewenswandel wat ooreenstem met dié van wêreldlinge, maar volgens Chafer is so ’n Christen steeds gered, want hy glo in Christus se kruisiging en verlossing. Gedurende die tagtigerjare het Campus Crusade (ek weet nie of dit tans nog so is nie) en talle hedendaagse charismatiese kerke, grond hul teologie o.a. op hierdie onbybelse konsep.

Geloof wat hom nie onderwerp aan die soewereine gesag en heerskappy van God nie, is niks anders as ongeloof nie.

Die Woord is ondubbelsinnig en baie duidelik daaroor dat ons Christus Jesus moet vertrou vir ons redding van sonde én ons moet ons toevertrou (“commit”) en onderwerp aan Sy gesag. Hand.2:36 sê dit baie duidelik ~ Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Geen belofte van verlossing word ooit in die Woord gerig aan mense wat weier om Christus se heerskappy oor hul ganse lewe te aanvaar nie, trouens Christus het in Matt.15:7-9 (O.A.V.) gesê ~ Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Jesus veroordeel dus alle mense wat Hom eer en aanbid met hul lippe, maar nie met hul lewe nie.

Paulus se woorde aan Timoteus in 2Tim.1:12 behoort vir ons motivering te wees en moet ons voorop in ons gedagtes hou wanneer ons gelouter word ~ Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou. En daarmee saam, 1Pet.2:5 ~ Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

Petrus sê dus vir ons, dat dit baie belangriker is om na ons siel om te sien as na ons fisiese toestand en materiële omstandighede. Die gelowige se siel verkeer dus in groter gevaar as die liggaam. Ons moet dus ons siel “oppas”, deur ons volkome toe te wy aan Christus, want Hy is ons Skepper en getrou aan al Sy beloftes.

· Hou aan om te doen wat reg is:

Petrus verskaf nou aan die einde van v.19 vir ons ’n tweede stukkie raad oor hoe ons God se oordele moet hanteer, nl. ~ ...hou aan om goed te doen. Paulus sê in Rom.2:7 ~ ...aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe.

Beteken hierdie “goed doen” waarvan Petrus hier praat, dat ons, ons besig moet hou met goeie werke waardeur ons, ons eie verlossing kan bewerkstellig? Natuurlik nie! Petrus wil eerder deur hierdie opmerking vir ons sê, dat ons te midde van beproewing en loutering moet voortgaan om die goeie werk as gelowige te doen, al is dít dan ook die rede waarom ons beproewing ervaar en waarom ons vervolg word, want wanneer ons voortgaan om te doen wat reg is, toon ons daardeur ons vertroue in die Vader, dat Hy ons sal “deurdra” deur ons “seisoen” van beproewing; dat Hy aan ons die oorwinning sal skenk; dat Hy aan ons die oorwinnaarskroon sal skenk en dat Hy ons sal vertroos.

Hoe kan ons weet en waar vind ons riglyne oor wat dit is om goed te doen? In God se Woord! Om goed te doen beteken dus dat ek my sal verlustig in God se Woord en sal toepas wat Hy in Sy Woord aan my leer. Ons moet besef dat gehoorsaamheid in die Woord, nie ’n byvoegsel tot geloof is nie. Geloof en gehoorsaamheid is so verweef, dat dit nie van mekaar geskei kan word nie.

Ons moet ook onthou dat geloof meer en meer ’n werklikheid in my lewe word wanneer ek getoets word. God se doel in die gelowige se lewe is om sy geloof te louter tot dit ’n werklikheid in hul lewe word. God maak geloof ’n al groter realiteit in my lewe deur loutering. Oswald Chambers sê: Turning intellectual faith into our personal possession is always a fight – not just sometimes. God bring ons in omstandighede om ons geloof te leer; om ons te louter en ons geloof ’n realiteit te maak.

Ons as gelowiges moet gehoorsaam aan die Woord leef en daarom moet ons, ons lewe oorgee aan die Here deur ’n lewe te leef wat spreek van goeie dade, ongeag van wat met ons gebeur.

5. AFSLUITING:

Petrus sê aan ons dat ongelowiges baie keer ten spyte van hul sonde en onheilige optrede, oënskynlik skotvry daarvan afkom, maar hy sê dat ons nie moedeloos daaroor moet raak nie, want as ons as God se kinders, nou al so swaar kry, hoe verskriklik sal dit nie vir hierdie ongelowiges wees wanneer God hulle gaan straf nie. Ons as gelowiges moet dus nooit verontreg voel nie. Ons word maar net getug en gesuiwer en dit alles werk vir ons ten goede mee, sodat ons die ewigheid saam met Christus in besit kan neem wanneer Hy ons kom haal. Diegene wat egter nie na die evangelie van God wou luister nie, sal ’n ewige straf ontvang.

Wednesday, October 20, 2010

Openbaring Ontsluit - 25 (“Die Sewende Trompet”)

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:

Hoofstuk 11 is ’n voortsetting van die gesig of visioen wat Johannes in hoofstuk 10 ontvang het. M.a.w., nadat Johannes die opdrag ontvang om die “Klein Boekie” te eet en te profeteer (Openb.10:8-11 ~ Die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan kry die oop boek daar in die hand van die engel wat op die see en die land staan.” 9 Ek het na die engel toe gegaan en vir hom gevra om die boekie vir my te gee. Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.” 10 Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword. 11 Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig”), ontvang Johannes die opdrag om die tempel te meet met ’n maatstok wat aan hom gegee word (11:1). Dit is asof Johannes nou die verwerkliking van sy Apostoliese bediening sien. Ons sal ook hier die evangelistiese bediening van die kerk opmerk, deurdat hulle ook die “Klein Boekie” moet eet en daarna moet profeteer. Ons sal ook kyk na die “bitter-soet” ervaring van die kerk wat voortspruit uit hierdie uiters belangrike bediening van die kerk.

Dit is ook belangrik dat ons sal sien dat al hierdie dinge wat met die kerk gebeur, op dieselfde tydstip plaasvind as wat die bose wêreld veroordeel word in die lig van die ses trompette.

In hoofstuk elf word ons bekendgestel met en aan die uniekheid, die uitdagings en die oorwinnings van die kerk tydens sy lang reis na oorwinning en verheerliking. Hierdie waarhede word gelykertyd aan ons geleer tydens die lering oor die tempel en die sewende Trompet.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:1 ~ Toe is daar vir my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid. Hier in v.1 word daar nie eksplisiet gesê wie die meetstok vir Johannes gegee het nie. Wie dus die meetstok gegee het, is nie van belang nie – wat wel van belang is, is dat “iets” gemeet moet word en wel die tempel, maar ons sal ook weldra sien dat die tempel nie fisies gemeet sal word nie. Dit is eerder ’n geval van “merk”, of “opsysit”, of beskerming van die tempel (Sag.2:1-5 ~ Ek het weer ’n gesig gesien. Daar was ’n man met ’n maatlyn in die hand, 2 en ek het gevra: “Waar gaan u heen?” Hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem uitmeet om te sien hoe breed en hoe lank hy moet wees.” 3 Die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gaan toe vorentoe en kry ’n ander engel wat na hom toe kom. 4 Hy het vir dié engel gesê: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan ’n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees. 5 Die Here sê: Ek sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees”). Die gevaar bestaan dat ’n vertrapping kan plaasvind en daarom moet beskerming geskied en Johannes kry die opdrag dus om die gedeelte wat beskerm moet word, “uit te meet” en bepaalde grense dus daar te stel.

Kom ons kyk dan wat gemeet moet word:

a. Eerstens moes die tempel van God gemeet word, meer spesifiek – die Heiligdom, of die Allerheiligste. Ons moet verstaan, dat hier nie na God se hemelse woonplek verwys word, soos in 7:15 (Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly) en 11:19 (Toe het God se tempel, wat in die hemel is, oopgegaan, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar het toe weerligstrale, dreunings, donderslae, ’n aardbewing en ’n groot haelstorm gekom) beskryf word nie. Dit is egter ook belangrik om daarop te let dat hier ook nie na die Herodiaanse tempel, of te wel die fisiese tempel in Jerusalem verwys word nie, want op hierdie stadium wat Johannes hierdie visioen ontvang het, was die Herodiaanse tempel al lankal verwoes – dit is baie belangrik om dit te onthou.

Wanneer Johannes egter hier praat van die tempel, word daar na die Liggaam van Christus, of te wel die kerk van die Here Jesus Christus verwys – die Nuwe Testamentiese kerk dus (1Kor.3:16-17 ~ Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17 As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle – sien ook Joh.2:19,21 en Ef.2:21). Diegene wat ’n letterlike Herodiaanse tempel hier wil sien, moet dan ook ’n letterlike Babilon en Armageddon en Gog en Magog sien.

Dit gaan dus hier oor die totale kerk van Christus wat uitgemeet en sodoende “gemerk” moet word, t.w.v. beskerming. Ons sal verder sien dat die kerk ten spyte van vervolging, steeds staande sal bly.

b. Tweedens moes die Altaar gemeet word. Die Altaar was die plek waar daar vantevore offerandes gebring is – dit is sprekend van aanbiddingsaktiwiteite. Hierdie Altaar is egter ook ’n onafskeidbare deel van die tempel.

c. Omdat die Altaar deel van die tempel is en dit gebruik word vir aanbiddingsaktiwiteite, impliseer dit dus dat daar mense betrokke is en daarom ontvang Johannes, derdens opdrag om ook die mense wat by die Altaar aanbid, te meet. Hulle is die lede wat betekenis verleen aan hierdie tempel en daarom moet die ware kerk as liggaam gemeet word, ten einde dit te bewaar, maar elke individu wat deel uitmaak van hierdie tempel moet ook gemeet en bewaar word.

Dit beteken dus dat die tempel (die korporatiewe Liggaam); die Altaar (die aanbiddings aktiwiteit), asook die aanbidders (die individuele gelowiges), die lewende Liggaam van Christus, nl. die kerk verteenwoordig.

3. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:2 ~ Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is, en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap. Die beeld wat hier gebruik word, is dié van die Ou Testamentiese tempel wat beide ’n binne- en buitehof gehad het. Die buitehof was die verste wat die heidene die tempel kon binnegaan. Die binnehof was vir die Jode – vroue, mans en priesters.

Die opdrag wat hier gegee word, is dat die buitehof nie gemeet moet word, wanneer die res van die tempel gemeet word nie. Hierdie “uitlaat” kan vergelyk word met isolasie of diskriminasie. Die vraag is egter waarom die buitehof uitgesluit moet word? Die rede hiervoor is dat hierdie buitehof aan die heidene gegee word – hulle wat nie weergebore is nie en wat die heilige stad (Jerusalem) gaan vertrap. Hierdie vertrapping moet gesien word as ’n optrede van ontheiliging van die heilige stad en die fisiese Ou Testamentiese tempel. Maar omdat Jerusalem en die tempel hier figuurlik gesien word, impliseer dit dus dat die vertrapping en die buitehof ook figuurlik gesien moet word. Met ander woorde: Die gelowiges word gemeet en beskerm, terwyl die heidene die kerk gaan binnedring en poog om die gelowiges te ontspoor en hul effektiwiteit te neutraliseer, maar hulle gaan nie daarin slaag nie, omdat hulle in die buitehof gehou sal word. Uiteindelik gaan hierdie ongelowiges ook die gelowiges vervolg. Dit gaan alles gebeur net soos dit gebeur het met Jerusalem, waarvan die kerk natuurlik ’n antitipe is. Hierdie vervolging en aanslag sal vir 42 maande aanhou (hierdie sal in v.3 verduidelik word). Maar, geeneen van hierdie pogings sal egter slaag nie, want die binnehof, of die heiligdom is in teenstelling met die buitehof, gemeet. Die ware kerk sal dus nie oorwin word nie ~ En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18). Sy sal bewaar word tot die einde toe, terwyl die nominale kerk vertrap en vernietig sal word.

Daar word uiteraard nie van Johannes verwag om die kerk te beskerm nie, want hy beskik nie oor die vermoë om dit te doen nie. Sy aandeel was bloot om die voorreg te kon ontvang om die beloftes aan te kondig t.o.v. die kerk en haar beskerming, of as jy wil, om ’n profetiese aankondiging te maak t.o.v. die verskil tussen die kerk en haar samestellende elemente aan die een kant en die kerk en haar geïnfiltreerde en ineengeskakelde nabootsings (die vals kerk). Ter wille van die kerk en om haar suiwerheid te behou, was hierdie aankondiging van Johannes van die uiterste belang.

Die gevaar van ketterse infiltrasie in die kerk, wat geestelike vervalsing tot gevolg het, is ’n realiteit waarmee die kerk voortdurend mee te kampe het en waarop die kerk voortdurend bedag moet wees – ons sien dit veral opnuut weer in ons dae, waar eens “goeie” of “suiwer” kerke, stadig maar seker een word met die vals kerk. Die kerk moet dus voortdurend op die uitkyk wees vir dwaalleer en na elke persoon met onderskeiding luister en ewe belangrik is dat die kerk nie sal skroom om die riglyne van Matt.18 (die tug) voortdurend toe te pas, waar en wanneer nodig nie.

Die vraag wat aan die orde is, is wie sal in ons dag die “tempel, die altaar en almal wat in die tempel aanbid, meet”, soos wat Johannes destyds gedoen het en ook die buitehof ongemeet laat? Wie sal in ons dag hierdie boodskap van kerksuiwerheid en die noodsaak aan die suiwere verkondiging van die Woord uitdra? Wie sal opstaan en die onderskeid tussen die ware kerk en die vals kerk uitwys?

Ons sien dan dat die ware kerk baie duidelik deur Johannes uitgemeet is (vv.1-2). Dit impliseer natuurlik nie dat die ware kerk fisies afgesondeer en gelokaliseer word nie – gelokaliseer word tot bepaalde katakombes, of kloosters of ’n plek nie. Ook word die kerk nie deur Johannes gelanseer op ’n aangename, kommervrye en vervolgingsvrye toekoms nie. Die kerk sal voortdurend in ’n geveg, of selfs ’n oorlewingstryd gewikkel wees in haar opdrag en sending om Christus as Here en Verlosser te verkondig. Die kerk sal tot die einde toe deel van hierdie wêreld en omring deur sondaars wees. Die kerk sal voortdurend “energie moet tap”, ten einde die verlore siele wat deur God uitverkies is, te gaan haal, want as die kerk nalaat om die boodskap van verlossing te verkondig, sal die wêreld verlore bly en op ’n ewige afgrond afstuur en dit dan is die boodskap van vv.3-14. Ons as kerk van die Here Jesus moet Hom dank dat Hy ons steeds vashou en deel maak van die “uitgemete tempel”, maar ons moet Hom ook voortdurend vra om ons in stand te hou, totdat elkeen van die uitverkorenes “ingebring” is.

4. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:3-4 ~ Ek sal aan my twee getuies opdrag gee, en hulle sal, met rouklere aan, my boodskap twaalf honderd en sestig dae lank verkondig.” 4 Hulle is die twee olyfbome en ook die twee lampe wat voor die Here van die aarde staan. Hierdie twee getuies verwys nie na twee spesifieke individue wat op een of ander stadium in die loop van die geskiedenis van die wêreld geleef het nie, maar dit verwys na die kerk en haar sendingstrewe en -bediening. Waarom twee getuies as dit hier oor die kerk gaan? Die getal twee in hierdie geval, is ’n geestelike verwysing na die minimum stadaard t.o.v. getuienisse – sien bv. Luk.10:1 ~ Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan en Matt.18:20 ~ ...want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle. Hierdie getal is natuurlik verder ook ’n onderhouding van die vereistes t.o.v. die wettige getal getuies in enige saak – Deut.17:6 ~ Die terdoodveroordeling mag net plaasvind op die eenparige getuienis van twee of drie getuies, nie op dié van net een nie; Deut.19:15 ~ Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. ’n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.

Die feit dat hier van die kerk gepraat word, word deur die onmiddellike konteks en wel v.4 bevestig, wanneer dit verwys na die twee olyfbome en die twee lampe. Die olyfbome is die gesalfdes – die priesters, soos Josua (Sag.4:11-14). Die lampstaanders is hulle wat die koninklike amp beklee, soos Serubbabel (Sag.4:2-10). Dit is dan ook presies wie die kerk is – konings en priesters (Openb.1:6; Openb.5:10). Vroeër in Openb.1:20 is daar reeds gesê dat die lampstaanders, die kerk verteenwoordig ~ En dit is die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes. Ons weet ook dat die Olyfbome, die ware Israel (die kerk) verteenwoordig – Rom.11:24 ~ As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent. Die kombinasie van die beelde van die kerk as olyfboom en lampstaander, verteenwoordig ’n treffende beeld van die kerk as die Lig vir die wêreld in diens van “die God van die aarde” – die Skepper en Heerser van die aarde.

Die basiese bediening van die twee getuienisse was om te profeteer en God se Woord te verkondig en ook om bekering te preek. Die feit dat hierdie opdrag aan die kerk steeds voortgaan te midde van vervolging, blyk duidelik uit die feit dat hierdie boodskap, selfs met rouklere aan (v.3) verkondig sal word. Namens Christus, en Sy gesag – die magtige Engel (Openb.10:1,11), word Christus se krag aan Christus se twee getuies gegee om te profeteer vir ’n tydperk van 1 260 dae (3½ jaar). Om die betekenis van hierdie tydperk vas te stel is geen maklike taak nie. Wat wel voor die handliggend is, is dat hierdie nie die tydperk vir die verkondiging van God se Woord kan wees nie – daar is tog immers nie nét 3½ jaar toegelaat daarvoor nie. Dit wil ook nie voorkom asof dit die Engel se motief is om ’n presiese tydperk te koppel aan die profetiese boodskap wat uitgedra moet word nie. Hierdie kan ook nie die tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms wees nie. Hierdie 3½ jaar tydperk, kan ook nie ’n sinonieme- of simboliese getal vir die 1 000 jaar van Openb.20:2 wees nie. Die enigste werklike verklaring vir hierdie getal, kan maar net die volgende vier moontlikhede verteenwoordig:

· Eerstens simboliseer dit die tydperk van die kerk se vervolging en dit is in ooreenstemming met Dan.7:25, waar Daniël die volgende voorspel ~ En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd. Hierdie tyd en tye en die helfte van ’n tyd, is dieselfde as die 3½ jaar wat hier in Openb.11:3 ter sprake is, want in Openb.12:6 en Openb.12:14 word daar presies dieselfde uitdrukking gebruik en daar verwys dit na die kerk wat vervolg word. In Openb.13:5 word daar gepraat van die dier se 42 maande (3½ jaar) se belastering en dui weereens op die satan se verskriklike aanslag teen die kerk. Dieselfde word hier in Openb.11:2 vir ons geskets en dit geskied óók oor ’n tydperk van 42 maande. Al gaan die kerk gebuk onder vervolging, gaan sy voort om die Evangelieboodskap te verkondig –al is dit met rouklere aan (v.3).

· Tweedens verwys die tydperk van 42 maande op ’n onderbreking of tussenpouse t.o.v. die kerk se vervolging. Die vervolging van die kerk deur die wêreld gaan dus nie aaneenlopend wees nie, maar sal van tyd tot tyd onderbreek word, daarom word daar gepraat van ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd. Die vervolging van die kerk is dus seisoenaal van aard – dit kom en gaan dus en wanneer dit kom, sal dit net vir ’n wyle wees.

· Derdens wys die 3½ jaar op die kortstondigheid van die kerk se vervolging. Wanneer hierdie aanslae teen die kerk kom, ongeag die frekwensie daarvan, duur dit gewoonlik nie lank nie. In vergelyking met die 1 000 jaar bloeitydperk van die kerk en in vergelyking met die ewigheid, is die “3½ jaar” tydperk dus buitengewoon kort.

Hierdie tydperke van vervolging mag lank genoeg wees om die gelowiges se geloof verder te reinig, maar dit sal nooit lank genoeg of intens genoeg wees om ons geloof te vernietig nie.

· Vierdens verwys die 3½ jaar na die vasgestelde aard van die vervolging teen die kerk en hierdie tydperke word nie deur die vyand van die kerk bepaal nie, maar deur die soewereine God – God beperk die vervolgingstydperke van die vyand (bv. Job), daarom dat Matt.16:18 sê ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ons kan dus sê dat ’n spesifieke tydperk (wat individueel van mekaar kan verskil) wat deur die getal 42½ maande gesimboliseer word, aan elkeen van hierdie seisoene van vervolging gekoppel word.

Hierdie uitdrukking van 3½ jaar, of 42 maande, of 1 260 dae, is dus nie een ’n vasgestelde tydperk nie, maar tydperke wat gekoppel word aan die vervolging van die kerk, soos bepaal deur God self – die tydsduur van elke tydperk sal dus van mekaar verskil, maar die uitdrukking (bv. 3½ jaar) dui op tydperke van vervolging.

5. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:5-6 ~ As iemand hulle kwaad wil aandoen, kom daar vuur uit hulle monde uit en verteer hulle vyande. Só moet elkeen doodgemaak word wat hulle kwaad sal wil aandoen. Hulle het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind. Daar is mense wat ook hierdie verse letterlik wil vertolk, maar dit kan ook nie gedoen word nie, want hierdie woorde wat verwys na vuur wat by die monde uitkom verwys waarskynlik na die oordeelswoorde in Jer.5:14 ~ Die Here, die almagtige God, het vir my gesê: Omdat hulle dit gesê het, maak Ek my woorde in jou mond ’n vuur en hierdie volk hout, sodat die vuur hulle verteer. Hierdie woorde in Jeremia is tog glad nie letterlik bedoel nie en daarom is hierdie woorde in vv.5-6 net so min letterlik bedoel. Hierdie verse beteken bloot net dat twee getuies met groot gesag sal praat en dat hulle luisteraars versigtig moet wees dat hulle nie hierdie getuienisse sal ignoreer nie.

Die woorde in v.6 bevestig die feit dat die twee getuies, die wet en die profete is. Wie was dit in die Ou Testament wat die reën terug gehou het? Dit was Elia ~ Elia die Tisbiet was ’n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê” (1Kon.17:1). En wie het water in bloed verander en die aarde geteister met allerlei plae? Dit was Moses (Eks.7-12). Hierdie twee gedeeltes herinner ons dus aan Elia en Moses. En Moses het die wet verteenwoordig en Elia het die profete verteenwoordig.

Dit wil dus voorkom asof hierdie twee getuies in verse 5-6, verwys na die wet en die profete. En die wet en die profete is ’n ander manier om na die Ou Testament, of die Woord van God te verwys. Hoor wat sê Jesus in Matt.5:17 ~ Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry (sien ook Matt.7:12; 11:13). Die dubbele getuienis teen die inwoners van Jerusalem is dus die Woord van God – presies dieselfde verbond wat hulle keer op keer geweier het om na te kom. Dieselfde verbond wat hulle keer op keer verbreek het, sou dus teen hulle getuig. En as hulle sou voortgaan om hierdie verbond te ignoreer (wat hulle inderdaad gedoen het) sou hulle ’n verskriklike oordeel oor hulle self gebring het.

Hierdie twee getuies, is dus simbolies van die feit dat die ou verbond vervang gaan word met ’n nuwe verbond. Met die verheerliking van Jesus in Matt.17:1-9 het twee mans saam met Hom verskyn: Moses en Elija. Waarom juis hierdie twee? Dit was simbolies van die ou verbond wat God ingestel het, maar wat nou met Jesus se verheerliking, vervang word met ’n beter en nuwe verbond.

Die wet was die verbond wat God met die volk Israel aangegaan het en die profete is gestuur om die opstandige en rebelse volk terug te wys en te lei na God. Die mense het egter volhard in hul rebellie en die wet en die profete voortdurend vertrap en wel tot so ’n mate, dat hulleself uiteindelik die Messias wat die wet en die profete vir hulle sou kom vervul het, vermoor het. Dit het egter nie beteken dat hulle nou verlos was van hul nakoming van die verbond nie. Vir bykans ’n hele geslag na die kruisiging van Jesus, is boodskappers (die Apostels) na Jerusalem gestuur om te getuig van die wet en die profete. Die Woord van God gaan egter voort om teen die Jode te getuig en die Jode gaan voort om die boodskappers te vervolg en te vermoor. Selfs gedurende die beleg van Jerusalem, het God voortgegaan om deur die wet en die profete te getuig teen die verbond verbrekende volk, maar hulle het volhard en die boodskappers steeds vervolg en gedood en slegs ’n handjie vol het gereageer op die Woord van God en is gered, maar die res het nie God se oordele ontglip nie.

Hier in v.5 vind ons ’n waarskuwing wat gerig word tot die vyande van die kerk. Die kerk beskik oor baie spesiale beskerming, trouens, die kerk se vyande word gewaarsku, dat wie ook al die kerk wil kwaad aandoen, sal gedood word op dieselfde wyse as wat hy die kerk wou leed aandoen. Hierdie feit word bevestig deur Jer.5:14 ~ Die Here, die almagtige God, het vir my gesê: Omdat hulle dit gesê het, maak Ek my woorde in jou mond ’n vuur en hierdie volk hout, sodat die vuur hulle verteer. Wanneer die kerk vervolg word en die kerk hulle tot God wend in gebed, sal elkeen wat die kerk vervolg, die oordele van God ervaar – Hand.12:1-5 ~ In dié tyd het koning Herodes party van die gemeentelede laat vang en hulle mishandel. 2 Hy het vir Jakobus die broer van Johannes met die swaard laat doodmaak. 3 Toe Herodes sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan en ook vir Petrus gevange laat neem. Dit het tydens die fees van die ongesuurde brood gebeur. 4 Nadat Herodes vir Petrus laat vang het, het hy hom in die tronk gesit en hom deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodes wou hom ná die Paasfees voor die volk bring. 5 So is hy dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid. En wat gebeur hierna? Hand 12:21-23 ~ Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek. 22 Die mense het toe geskreeu: “Dit is ’n god wat praat, nie ’n mens nie!” 23 Op daardie selfde oomblik het ’n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe. Maar dan nog belangriker – kort na hierdie kort tydperk van vervolging, beëindig God dit en sien ons in Hand.12:24 wat daarop gebeur ~ Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen (sien ook Matt.18:18). Deur gebed en die verkondiging van die Woord, sal diegene wie die kerk vervolg, verwoes word. Hoe waar is die woorde van Hebr.10:31 nie ~ Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

7. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:7-10 ~ Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onderaardse diepte uit kom, teen hulle oorlog maak, hulle oorwin en hulle doodmaak. 8 Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem. 9 Mense van al die volke, stamme, tale en nasies sal hulle lyke drie en ’n half dae lank daar sien lê en nie toelaat dat hulle begrawe word nie. 10 Die bewoners van die aarde sal bly wees oor hulle dood en hulle daaroor verheug. Hulle sal vir mekaar geskenke stuur. Hierdie twee profete was immers vir die bewoners van die aarde tot ’n teistering. Hier kry ons die eerste keer te doen met “die dier” van Openbaring. Ons sal vorentoe nog in meer besonderhede na hom kyk. Dit is egter genoeg dat ons op hierdie stadium slegs sê dat die bees, Rome verteenwoordig, asook Rome se latere leier, nl. Nero. Rome word in hierdie geval deur God gebruik om die twee getuies om die lewe te bring. Dit wil dus ook voorkom asof hier ’n verwysing is na die vervolging wat gelowiges tydens die Romeinse regeringstydperk ervaar het.

Baie mense wat ’n laat datum, nl. 95 n.C. koppel aan die skryf van Openbaring, argumenteer dat Domitianus (Romeinse keiser in 81 n.C.) ’n groter vervolger van gelowiges was as Nero (Romeinse keiser tussen 54 n.C. tot 68 n.C.). Daar is egter bitter min getuienis dat Domitianus ooit vervolging teen die Christene ingestel het. Indien hy wel enige gelowige gedood het (en dit kan in elk geval histories bevraagteken word), was dit hoogstens omdat sulke Christene hom in hul persoonlike hoedanigheid aanstoot gegee het en nié omdat hulle in die eerste plek gelowiges was nie. Aan die anderkant bestaan daar geen historiese twyfel dat Nero wel op groot skaal, Christene laat vervolg het. Die Romeinse historikus Tagitus (55 n.C. – 120 n.C.) skryf spesifiek dat Nero en Rome, vas geglo het dat indien Judaïsme stil gemaak word, hulle ook die Christene stil sou maak. Die rede hiervoor was dat Rome geglo het dat die Christene ’n splinter- en sektegroep van die Judaïsme was. Daarom dat Nero die vervolging van die Jode én van Christene, as een en dieselfde ding beskou het.

Johannes vertel vir ons, dat die dier die getuienisse, suksesvol sou uitwis en wel d.m.v. vervolging. Rome sou daarin slaag om die stem van die kerk stil te maak (soos voorheen gemeld: die kerk wat verteenwoordig word deur die twee getuienis). En, al het die Jode, Rome verag, het hulle nogtans elke keer gejuig as ’n gelowige gedood is en die kerk stil gemaak is.

Ons lees in v.8 dat die twee getuies se liggame in die hoofstraat van die groot stad gelê het. Hierdie “groot stad” verwys na die geestelike Sodom en Egipte, waar die Here Jesus gekruisig is. Jerusalem word dan ook gesien as die Sodom en Egipte en ons weet dat die Here Jesus in Jerusalem gekruisig is. Die inwoners van Jerusalem (Jode) het teen hierdie tyd net so afvallig en heidens geraak soos die Sodomiete (Eseg.16:45-47) en die Egiptenare (Eseg.16:26) van ouds en het hulle net soos die inwoners van Sodom en Egipte van ouds, geskenke aan mekaar gestuur en hulle verheug in die dood van die twee getuies, of te wel, die stilswye wat aan die kerk opgelê is.

Dit is interessant om te weet dat daar letterlik géén gelowige “stem” aan die einde van die beleg van Jerusalem, meer oor was in die stad nie, want hulle het reeds na Pella ontvlug. Daar was dus geen getuies van die ware God meer oor in Jerusalem nie. Dit opsigself was rede genoeg vir die ongelowige Jode om hulle oor te verheug – hulle kon juig en bly wees en geskenke aan mekaar stuur, ten einde fees te vier oor die feit dat daar geen Christen meer oor was om hulle te “teister” nie – die kerk was oorwin en stil gemaak (so het hulle in elk geval gedink).

Vir 3½ dae was die liggame van die twee getuies in die hoofstraat laat lê en dit wil voorkom asof oorwinning uiteindelik vir die ongelowiges aangebreek het. Daar wag egter ’n skok op hulle!

8. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:11-14 ~ Ná die drie en ’n half dae het daar egter asem en lewe van God af in hulle gekom. Hulle het opgestaan, en groot vrees het almal oorval wat hulle gesien het. 12 Hulle hoor toe ’n harde stem uit die hemel vir hulle sê: “Kom op hierheen!” Toe het hulle in ’n wolk na die hemel toe opgevaar, en hulle vyande het dit gesien. 13 Op daardie oomblik was daar ’n groot aardbewing, en ’n tiende van die stad het inmekaargestort. Sewe duisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geraak en aan die God van die hemel die eer gegee. 14 Die tweede “Wee!” is verby. Kyk, die derde kom gou. Die kontras in hierdie verse en die voorafgaande verse, is tussen die 1 260 dae (3½ jaar) en die 3½ dae. Die eerste was natuurlik die tydperk wat die twee getuies geprofeteer het – dit was ’n lang tydperk en nie spesifiek net 3½ jaar nie, terwyl lg. die tydperk aandui waartydens die getuies stil was – ’n relatiewe kort tydperk. God se Woord sal en kan dus nie lank stil gehou word nie.

In plaas daarvan dat die twee getuies dood bly, sien ons in v.11 dat die asem en lewe van God (die Heilige Gees dus) in hulle gekom het en hulle opgestaan het. Na ’n kort tydjie is die stem van die kerk weer gehoor! Diegene wat gedink het dat die kerk uitgewis was, het groot geskrik. Die twee getuies het die volgende woorde gehoor ~ Kom op hierheen! (v.12), waarop hulle in ’n wolk gehul, opgevaar het na die hemel, terwyl hul vyande dit gesien het. Hierdie is nié ’n verwysing na die “wegraping” nie, maar eerder ’n verwysing na Ef.2:6-7 ~ Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7 sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Ons het dus hier ’n beeld van die ware tempel wat in die hemel is, terwyl die aardse tempel reeds verwoes is. Die twee getuies verteenwoordig die stem van “die wet en die profete” soos verkondig deur die kerk. Die kerk was allermins dood, maar verheerlik in Christus. Die Jode het die Nuwe Testament verwerp, maar die “Nuwe Testament” (Christus) was veilig in die teenwoordigheid van die Vader. God se verbond was steeds in plek, maar nou is dit ’n verbond wat die multi-etniese kerk ingesluit het – die nuwe verbond!

Johannes het die opstanding en hemelvaart van die twee getuies gesien en nou vestig hy weer sy aandag op die aarde ~ Op daardie oomblik was daar ’n groot aardbewing, en ’n tiende van die stad het inmekaargestort. Sewe duisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geraak en aan die God van die hemel die eer gegee. Hierdie gedeelte is vir hom betekenisvol, veral in die lig van die feit dat ons alreeds bekendgestel is met Elia wat as verteenwoordiger van die profete beskou word. In 2Kon.19, kort na die einde van die 3½ jaar tydperk van droogte wat deur Elia se woorde oor Israel gebring is, bevind hy homself in ’n grot in Berg Horeb in Sinaï. Terwyl hy daar is, kla hy teenoor die Here en vra dat die Here hom moet doodmaak, omdat hy oortuig daarvan is, dat hy die enigste mens in Israel is wat nog getrou is aan die Here. God verseker hom egter dat dit nie die geval is nie ~ Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie (1Kon.19:18). In Elia se tyd was daar slegs 7 000 wat getrou gebly het aan die Here, terwyl die res van die volk Hom verwerp het. Hier in Openb.11:13 sien ons egter dat 7 000 van die ontroues omkom – die bordjies word verhang en net ’n klein groepie bly nou oor wat steeds hul rug op God gedraai hou.

Met die opstanding van die twee getuienisse, sien ons in v.14 dat ...die tweede “Wee!” verby (is) en die derde gou aan die kom is. Die derde “wee” begin in Openb.15 wanneer nog sewe engele hulself voorberei om “die laaste sewe plae oor die wêreld uit te stort” (15:1). Intussen is die pouse verby sedert die sesde engel die trompet geblaas het (9:13-21), maar die sewende trompet gaan uiteindelik geblaas word.

9. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:15 ~ Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” Die sewende oordeel kom eerder voor as ’n tydperk van aanbidding, eerder as oordeel. Jerusalem is tydens die tweede “wee”, verwoes en nou word Christus formeel erken deur almal as Here van hemel en aarde. Hierdie is beide die einde en die begin. Dit is dus nie iets wat nog in die toekoms lê nie – ons woon tans in die tyd waarin die koninkryke van hierdie wêreld aan Christus behoort. Met die opstanding, het Christus opgevaar na die hemel waar Hy aan die regterhand van Sy Vader sit – ’n gesagsposisie dus. Vir nagenoeg 2 000 jaar het Christus nou reeds oor hierdie aarde geregeer en Sy heerskappy sal steeds voortduur – vir ewig en altyd (11:15)!

Die vernietiging van Jerusalem en die tempel was die laaste spyker in die spreekwoordelike doodskis. Tot op daardie stadium het daar verwarring geheers oor wie nou werklik God se volk is: Israel of die kerk? Toe Judaïsme egter tot ’n val gekom het, het daar geen twyfel meer bestaan oor wie God se volk is nie. Dit was kristalhelder en duidelik, dat kerk van die Here Jesus Christus nou die volk van God is [ons moet ons dus daarvan weerhou om steeds na die huidige Jode in Israel te verwys as God se volk – die godsdiens wat hulle deesdae aanhang, is eerstens nie naastenby meer Judaïsme nie en veral, moet ons onthou dat al het hulle steeds die Ou Testamentiese Judaïsme aangehang, is hulle nie meer God se volk nie, maar slegs diegene wat in en deur Jesus Christus gered is – ons dus, is volk van God! Probeer gerus die boek geskryf deur ’n Suid-Afrikaans gebore Jood wat wonderbaarlik gered is, nl. Jonathan Cohen (“Let My People Go – End-times Exodus”) opspoor wat ’n uitstaande verduideliking gee oor die huidige Joodse geloof – alles behalwe dít wat allerlei organisasies en groepe soos bv. “Jews for Jesus” wil glo, verkondig of voorgee]. Met die val van Jerusalem het Rome geglo dat hulle beide Judaïsme en die Christendom vernietig het, maar dit was nie lank daarna nie, dat die kerk “opgewek” is en is Christus se volkome heerskappy in hierdie wêreld verwerklik. Selfs die magtige Romeinse Ryk sou uiteindelik onder die invloed van die Christendom val ~ Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is (Luk.21:24). Ons leef dus nie meer in die era van die heidene nie, maar in die era van die Messias. En wat kan die kerk – beide in die hemel en op aarde – anders doen as om in nederige aanbidding hierop te reageer.

10. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:16-18 ~ Die vier en twintig ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het toe gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 17 en gesê: “Ons dank U, Here God, Almagtige, U wat is en wat was, dat U nou u groot mag gebruik en as koning heers. 18 Die nasies was woedend, maar nou het die tyd vir u oordeel gekom. Die eindtyd het aangebreek: die dooies word geoordeel; aan u dienaars, die profete, en aan die gelowiges, dié wat U vrees, klein en groot, word hulle loon gegee; en dié wat die aarde vernietig, word vernietig.” Ons het in Openb.6:9-11 gesien dat die afgestorwe martelare gewonder het hoe lank dit nog sou neem voor daar wraak geneem kon word op hul martelare. Nou is hulle gebed beantwoord. Christus se wraak het gekom, die dooies (die heidene) is veroordeel en Sy “diensknegte die profete” is beloon. Diegene wat die gelowiges wat getrou aan God gebly het, vir so ’n lang tyd onderdruk en vervolg het, is nou veroordeel. Jerusalem, tesame met die indrukwekkende tempel, is verwoes. Die bloed van die martelare (van Abel tot en met Sagaria) is nou vergeld ~ Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? 34 Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. 35 So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. 36 Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom (Matt.23:33-36). Christus se woorde is vervul: Die goddeloses is veroordeel en die regverdiges is beloon ~ Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. 15 Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; 16 hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref (1Tes.2:14-16).

Hoofstuk 11 het begin met die beskerming van God se ware tempel (11:1) en die verwoesting van die fisiese tempel (11:2-18). Hierdie was egter nie die einde van God se werk nie, want Johannes sien nou die tempel in die hemel.

11. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.11:19 ~ Toe het God se tempel, wat in die hemel is, oopgegaan, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar het toe weerligstrale, dreunings, donderslae, ’n aardbewing en ’n groot haelstorm gekom. Weerlig; stemme; donderslae; aardbewings en hael herinner ons aan Eks.19, toe die eerste verbond vasgestel is ~ Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ’n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ’n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. 17 Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. 18 Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ’n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud... (Eks.19:16-18). Die tekens is dieselfde want hier in Openbaring word ’n nuwe verbond ingestel. Maar in teenstelling met die ou verbond, verwag God nie gehoorsaamheid van die mens se kant ten einde God se eiendom te wees nie (Eks.19:5). In plek van gehoorsaamheid aan die verbond, word ons God se eiendom, op grond van die Persoon en Werk van Jesus Christus. God beskik steeds oor Sy tempel en dit is veilig! Nie die Jode, of die Romeine sal ooit weer die stem van kerk van God kan stilmaak nie, want God se verbond met Sy “nuwe volk” is ewigdurend van aard!

Wat behoort ons reaksie te wees? Niks minder as die reaksie van die 24 ouderlinge wat op hul aangesigte geval en God aanbid het nie. Ons as kerk van die Here Jesus Christus moet en sal nou in die woorde van Matt.28:18, erkenning aan Jesus Christus gee, omdat ~ ...alle mag in die hemel en op die aarde (aan Hom gegee is). Baie mense glo dat Christus eers met Sy wederkoms as Here geproklameer sal word, maar die Woord sê vir ons die teendeel: Hy beskik nou reeds oor alle gesag in die hemel en op aarde! En ons hoogste roeping is om eer aan Hom te bring en Hom te aanbid!