Monday, March 5, 2012

Psalm 119 - 02 (Die Woord van God Reinig Ons)


1.     INLEIDING:
Ons het ’n tyd gelede gesien dat Ps.119 ’n sg. "naamdig" is en dat dit verdeel is in 22 strofes en elkeen van hierdie 22 strofes begin met een van die letters van die Hebreeuse alfabet. Die vorige keer het ons na die eerste strofe gekyk wat begin met die eerste letter van die alfabet nl. "aleph". Vandag gaan ons kyk na die tweede strofe wat met die tweede letter van die Hebreeuse alfabet begin, nl. "bet". 

-

2.    SKRIFLESING:
Ps.119:9-16 ~ Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! 10Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. 11Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. 12Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte. 13Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. 14Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. 15U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. 16Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie

3.    VERKLARING:
Hierdie tweede strofe begin met ’n klassieke vraag: Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Die O.A.V. stel dit vir my nog duideliker en mooier ~ Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Ons kry ’n soortgelyke uitgedrukking in Ps.119:3b ~ ...en in sy weë wandel. Hierdie uitdrukking "sy pad" in v.9 dra egter nie dieselfde betekenis nie. Hier in v.9 verwys die Hebreeuse woord, אֹרַח ('orah) eerder na ’n reis, of ’n pelgrimstog. Wat die Psalmdigter dus hier wil sê, is dat sy versugting is dat hy nie van God se weg sal afdwaal nie – daardie weg wat God van Sy kinders verwag om lewenslank te volg.

Die openingsvraag waarmee hierdie strofe begin, praat van ’n jongmens en die vraag wat dadelik by ’n mens opkom, is of die Psalmis dan net hierdie gedeelte vir jongmense geskryf het? Die jongman wat die skrywer hier in gedagte het, is dieselfde man wat so dikwels in die Spreukeboek aangespreek word, bv. Spr.3:1 ~ My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf (sien ook: Spr.1:8; Spr.5:1). Of die Psalmis self jonk is of nie; hy plaas homself hier in die posisie van ’n jongman of seun wat luister na sy Vader se inspraak en raad. Ons kan daarom met klarigheid sê dat hierdie Psalm en dan spesifiek die vraag wat die Psalmis vra, ook op elkeen van ons van toepassing is.

4.    GOD SE WOORD REINIG ONS:
Die blote feit dat die Psalmis vra, Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?, impliseer dat ons in ’n gevalle en sondige toestand verkeer. Die feit dat ons sondaars is, noop ons om die vraag wat die Psalmis in v.9 vra vir onsself ook af te vra, nl.: "Hoe kan ek as sondaar in die teenwoordigheid van ’n heilige God staan?" Dit is waarom ek dan ook netnou gesê het, dat hierdie vraag wat die Psalmis in v.9 vra, ’n klassieke vraag is en dit is dan ook vanuit die mens se oogpunt, een van die deurlopende temas in die Woord van God – waarmee sal ek my lewe skoon hou?

Die Psalmis verskaf onmiddellik nadat hy vra hoe die jongeling sy pad suiwer kan hou, die antwoord, nl.: Deur hom te hou aan u woord! Met hierdie kort maar kragtige antwoord sê die skrywer in essensie twee baie belangrike dinge:
·           Eerstens sê hy dat die Woord van God ons reinig, deurdat Sy Woord ons skei, of afskei van hierdie wêreld met al sy onreinheid. Dit is waarom Jesus in Joh.15:3 gesê het ~ Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het (O.A.V.).
·           Tweedens is dit egter ook duidelik, dat die Woord van God ons reinig deurdat dit ons op die regte pad lei – ’n pad van geregtigheid en heiligheid. Dit skei ons dus nie alleen van hierdie wêreld nie, maar dit verbind ons ook aan God, ten einde ons te help om God se wil te doen.
In v.10 sê die Psalmis ~ Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. Ek het gesê dat hierdie strofe begin met die letter "bet" en die woord "bet" kan ook "huis" beteken. Dit is dan ook opmerklik dat hy in v.10 daarop fokus om die Woord van God laat "woning maak" in sy hart. Jesus gebruik hierdie selfde gedagte wanneer Hy in Joh.14:23 sê ~ Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Ons harte moet ’n huis, of te wel ’n tempel vir God se Woord word. Ons moet onsself voortdurend die vraag vra, of dit wel die geval is. Is my hart ’n tempel vir God? Beheer die Woord van God my lewe? My naam behoort eintlik "Bybel van der Walt", of "Bybel-Bothma", ens. te wees – so moet my hele lewe deurdrenk wees van God se Woord! Mense moet jou herken as iemand wat volgens die Woord leef. Sy Woord wat woning maak in ons harte, moet ons weerhou van sonde. Iemand het eenkeer gesê: The Word will keep me from sin, but sin will keep me from the Word.

Die Woord moet die basis wees vir al ons gesprekke, ook vir my "gesprekstaal" ("stiltetyd") – die Woord is die basis vir praat en bid, want dit is deur die Woord dat God met my praat; dit is deur die Woord dat God Sy wil aan my openbaar; en ek behoort deur die Woord ook met God te praat – die Woord moet dus die basis vir my gebedslewe wees. Ons bid dat ons deurlopend en gehoorsaam in God se Woord sal bly en dat ons die inhoud van die Woord, biddend en bestuderend sal doen – sal uitleef.

Die Psalmis sê in v.10 dat hy gehoorsaam wil wees aan God, met sy hele hart. Dit is so treffend, want dit is juis in die hart waar ons reinheid moet begin en met God se Woord in ons harte, sal dit vir ons moontlik wees om nie meer voortdurend te sondig nie. In Matt.5:28 sê Jesus ~ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. En in Matt.12:34 sê Hy ~ Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Ons harte is die setel van alle boosheid en daarom moet ons, ons harte vul met die Woord, sodat daar nie meer plek is vir die bose in ons harte nie, want Jesus het gesê, dat ~ ...As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak” (Joh.8:31-32). Hierdie reiniging wat die Woord in ons harte tot gevolg het, noop die Psalmis om in v.12 uit te roep ~ Aan U kom die lof toe, Here.

In die lig van hierdie reinigende werk van die Woord en ’n lewe van oorwinning oor sonde, gaan hy verder en vra die Here in v.12b ~ leer my u voorskrifte. Hy kan nie genoeg van die Woord kry nie en hoe meer hy deur die Woord, God se reinigende werk in sy hart ervaar, roep hy uit dat hy nog meer van hierdie reiniging wil ervaar en daarom vra hy vir nog meer insig in die Woord – so asof hy uitroep: Here, nog meer van U Woord, sodat ek nog reiner kan word; nog meer Here! Nog meer! Wanneer hy dit sê, is dit só asof hy die woorde van Salomo in Spr.2:1-5 in gedagte het (ek haal uit die N.I.V. aan) ~ My son, if you accept my words and store up my commands within you, 2turning your ear to wisdom and applying your heart to understanding, 3and if you call out for insight and cry aloud for understanding, 4and if you look for it as for silver and search for it as for hidden treasure, 5then you will understand the fear of the Lord and find the knowledge of Godif you accept my words and store up my commands within you (ook Spr.7:1).

Die skrywer van Ps.119 is egter nie selfsugtig nie – hy wil nie alleen die geestelike groei en heiligmaking wat gepaard gaan met die lees en bestudering van die Woord, vir homself hê nie – nee, hy sê in v.13 ~ Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. Die N.A.V. het hierdie vers ongelukkig nie baie goed vertaal nie, want dit wil vir ’n mens voorkom, asof die skrywer van die Psalm die woorde van die Woord vir homself opsê en herhaal – wat beslis ’n goeie ding is, maar dit is nié wat die teks werklik vir ons in die oorspronklike Hebreeus wil sê nie en daarom is die O.A.V. ’n veel beter vertaling, nl. ~ Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. Hier word die idee dus deurgegee dat die Psalmis vir andere van die Woorde van God te vertel – dit is in ooreenstemming met Ps.34:11, m.a.w. dieselfde gedagte word vir ons in Ps.34 weergegee ~ Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien.

Die Psalmis loop dus só oor van die Woord, dat hy dit nie vir homself wil hou nie, maar wil deel met andere.

In v.14 verklaar hy opnuut teenoor die Here dat dit vir hom oneindige vreugde verskaf om so met die Woord om te gaan – om die Woord te bestudeer; om gevul te word met die Woord; om te ervaar hoe hy in heiligmaking groei as gevolg daarvan; om die Woord met andere te deel en in v.15 verklaar hy dat die Woord van God hom altyd sal bybly en dat hy nooit daarvan sal afwyk nie en dat Hy luister na elke Woord wat God in Sy Woord spreek en dit in gehoorsaamheid navolg.

Die positiewe onderneming in vv.14 en 15 word nou opgevolg met ’n stelling dat hy God se Woord nie sal vergeet nie.

In hierdie strofe sien ons dan dat God se Woord ons lei tot oortuiging van sonde en gevolglike vergifnis van sonde. God se Woord help ons ook om sonde, die rug te draai. Jesus belowe in Joh.8:31-32 ~ As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak. Ons sal dus deur die Woord waarlik vry kom van hierdie wêreld en ons reinig van hierdie wêreld. Jesus bid ook tot die Vader in Joh.17:17 ~ Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid (O.A.V.).

In kort, getuig die Psalmis daarvan dat sy eie geheiligde lewe, afhanklik is van sy gereelde oordenking van God se Woord.

5.    TOEPASSING:
Geliefdes, ons moet onsself afvra waar ons staan t.o.v. God se Woord? Wat gaan in my en jou hart aan? Ten einde ons roeping om ’n heilige lewe te lei (1Pet1:16) en te volhard op ’n pad van heiligmaking, móét ons, onsself gee vir God se Woord – ons moet Sy Woord baie gereeld lees en bestudeer; ons moet dit leer en daarvan getuig en ons moet ons lewens daarvolgens inrig. Die vraag is egter waar en hoe begin ek?

Ons vind ons antwoorde op hierdie vrae, hier in vv.9-16:
·           V.9 leer vir ons dat ons God se Woord moet gehoorsaam en as hy dit sê, impliseer dit dat ons die Woord lees en bestudeer en ek weet nie of u soos ek is nie, maar ek kan die Woord nie na behore hoor en navolg as ek dit nie oor en oor en gereeld lees nie. Wanneer ek dit dan gereeld lees en bepeins, moet ek daardie inhoudelike vir myself toe-eien en dit in die praktyk begin lééf. Ons moet besef dat God nie Sy Woord vir ons wegsteek nie – Sy Woord is vir almal wat dit graag wil lees, verstaanbaar – daar is egter ’n voorwaarde hieraan verbonde en die voorwaarde vind ons in ons volgende vers.
·           V.10 leer dat indien ons die Woord van God wil gehoorsaam, deur dit te lees, moet ons die Woord in afhanklikheid van die Heilige Gees lees en daarom moet ons God se aangesig soek alvorens ons die Woord begin lees en in my gebed moet ek net soos Paulus, vir verligte oë bid – Ef.1:15-18 ~ Daarom – vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges – hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie, dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is...(O.A.V.). Johannes was ook pynlik bewus van hierdie feit, daarom dat hy in 1Joh.5:6 sê ~ ...dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid (O.A.V.).

Geliefdes, ons het nie ’n ... gees van (hier)die wêreld (ontvang) nie, maar die Gees wat van God kom (1Kor.2:12-14), want ...Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word (1Kor.2:14)
·           Ons lees in Luk.2:19 dat Maria, ...alles wat gesê is, onthou (het) en telkens weer by haarself daaroor nagedink (het). Ons moet God se Woord voortdurend bepeins en bedink en wat meer is, ons moet dit memoriseer en ons eie maak. As ons nie die Woord gereeld oordink en memoriseer nie, kan dit nie ons lewe rig nie. As ons in bepaalde situasies beland en nie herwaarts of derwaarts weet nie, of as ons met bepaalde versoekings bedreig word, sal ons nie weet hoe om op te tree, sodat dit God welgevallig is, as ons nie die Woord ken nie. Laat ons saam met die Psalmdigter in v.11 sê ~ Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie (O.A.V.).
·           Die Psalmis roep in v.12 uit ~ Here, leer my u voorskrifte. Dit is iets wat hy kort-kort in hierdie Psalm sê, bv. in v.26, 64, 68, 108, 124, 135 en 171. Hierdeur dui hy aan hoe belangrik dit vir hom is, dat die Here gehoor sal gee aan sy gebed in v.10 – dit is ’n versugting by hom – amper ’n uitroep van nood, waardeur hy vra dat die Here hom só vol sal maak, dat dit nie anders kan as om net weer oor te loop nie – dat hy die Woord sal leef en praat en nie genoeg daarvan kan kry nie!

In die laaste vier verse van hierdie tweede strofe gee die skrywer van hierdie Psalm, vir ons praktiese raad en hy praat vanuit sy eie ervaring. Ons kan sê dat dit vier oefeninge is wat hy vir ons gee om die Skrif te ons eie te maak.
·           Eerstens sê hy in v.13 ~ Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. Hier sê hy dat die beste manier om die Woord te leer is om dit te verbaliseer – om daaroor te praat en dit vir andere te leer. Wanneer jy ’n Skrifgedeelte jou eie maak en dit vir andere bv. in ’n Bybelstudie-situasie vertel; of jy vertel dit vir jou kinders; of jy deel dit met jou vrou of jou man, onthou jy dit soveel beter. Dit is tog iets wat ons van kleinsaf leer, nl. dat herhaling iets vaslê.

Ons omgaan met die Woord moet soos ons harte wees. Dit neem gedurig nuwe voorraad suurstofryke bloed in en dadelik word dit weer uitgepomp en versprei dit die suurstofryke bloed deur die liggaam – as die hart nie beide hierdie twee funksies vervul nie, sterf die liggaam. Paulus bevestig hierdie beginsel in Rom.10:10, wanneer hy sê ~ Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.
·           Tweedens sien ons in v.14 dat die Psalmis sê ~ Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. Om jou vreugde te vind in die Woord van God is nog ’n manier om die Skrif jou eie te maak, want die werking van die brein is van so ’n aard dat dit eerder die aangename onthou, as die onaangename. Om jou te verheug in God se Woord kan op verskillende wyses gedoen word. Dit kan geskied deur jou persoonlike "gesprekstyd' ("stiltetyd"), deur jou bywoning van die eredienste en ander onderlinge byeenkomste, wanneer jy lofliedere sing, ens. Die belangrike vraag hier, is waar lê my hart? Is my hart verknog aan die wêreld met al sy plesiere, of is my hart verknog aan die Here Jesus Christus?
·           In die derde plek sê die Psalmdigter vir ons, dat ons die Woord ons eie kan maak, soos wat hy reeds in v.11 gesuggereer het, nl. deur dit gereeld te oordink (v.15).
·           Laastens sê die Psalmis vir ons in v.16, dat ons nie God se Woord moet vergeet nie, maar dat ons, ons daarin sal  verlustig (v.16). Die woord "verlustig" hier in v.16, is nie dieselfde as "vreugde" wat in v.14 gebruik is nie. "Vreugde"  beskryf vir ons ’n uitbundige, feestelike vrolikheid, terwyl "verlustig", wat in die Hebreeus, שָׁעַע, שָׁעַע [sha`a` /shaw·ah/] is, meer dui op ’n diepgewortelde emosie van genoegdoening; soos bv. om na ’n wonderlike stuk musiek te luister en dit jou "diepste binneste" aanraak en roer. Hierdie "verlustiging" het dus daarmee te doen, dat ek gedetermineerd is om nie my Bybelstudie af te skeep nie, omdat dit vir my hierdie diepgewortelde genoegdoening verskaf. Dit is so maklik om verstrengel te raak in die alledaagse en in die proses my Bybelstudie na te laat. Ek moet so ’n hartstogtelike liefde , of passie hê vir die Woord dat ek nie kan wag om dit te lees en te bestudeer nie.  

V.16 sluit af met die woorde (ek lees dit in die O.A.V.) ~ Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie. Die beginwoorde, ek sal.. is in die toekomstige tyd geskryf en dui dus daarop dat die Psalmis ’n onderneming teenoor God aangaan, om nié die Woord af te skeep nie. Is jy bereid om so ’n onderneming met God aan te gaan?

6.    AFSLUITING:
Om saam te vat, wanneer ons die Bybel ernstig bestudeer, pluk ons die vrugte daarvan. Dit moet egter gepaard gaan met die gebed dat ons nie van die Woord sal afdwaal nie. Dan ontdek ons dat dit ons weerhou van sonde, sodat die voorskrifte van die Woord, ons laat uitbreek in lof. Dit verryk jou lewe en bring soveel vreugde (selfs te midde van pyn en lyding en vervolging), dat jy dit wíl oorvertel (v.13), dit wíl oordink (v.15) en jou daarin wíl verlustig. Hierdie dinge is nie net vir bejaardes nie, maar juis waar vir die jongmense ook (v.9), omdat dit jou leer hoe om opreg voor God te lewe.

Om die Psalmis se praktiese raad net weer op te som:
·           Vertel, of deel die Woord met andere;
·           Vind jou vreugde in God se Woord;
·           Oordink die Woord gereeld;
·           Verlustig jou in die Woord van God.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptistegemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 04 Maart 2012