Sunday, April 17, 2011

Openbaring Ontsluit - 33 (Die Merk van die Dier)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     INLEIDING:
Wanneer ons praat van die "Merk van die Dier", of beter bekend as die "Merk van die Bees" (hierdie is eintlik ’n direkte vertaling), dan praat ons van waarskynlik een van die mees kontroversiële gedeeltes in Openbaring, indien nie in die ganse Woord van God nie.

2.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
·           Openb.13:16-17 ~ Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra 17en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier of die getal van sy naamOm enige moontlike onduidelikheid uit te skakel, moet ons dit van die begin af duidelik stel dat hierdie "merk", die merk van die Eerste Dier was, ten einde die draers van die merk te identifiseer met en hulle daardeur te dwing om hulle aan die Eerste Dier te onderwerp.  Daar word ten minste nog vyf keer van hierdie merk in Openbaring gepraat (Openb.14:9, 11; 16:2, 20; 20:4).

Wat presies is hierdie merk van die Dier?  Daarvoor sal ons ’n bietjie in die Woord moet gaan rondblaai en na verskillende merke gaan kyk.

Ons lees die eerste keer van ’n merk, of teken in Gen.4:15 ~ Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.” Toe gee die Here vir Kain ’n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nieGod het hierdie teken aan Kain gegee ten einde te verhoed dat enige iemand anders Kaïn se lewe sou neem.  Ons weet nie of hierdie ’n sigbare teken was of nie.  Dit is moontlik dat dit ’n fisiese teken was, maar dit wat ons verder van merktekens in die Woord weet, is dat dit onwaarskynlik is dat hierdie merkteken, ’n fisiese- of sigbare teken was.

’n Ander baie bekende verwysing vind ons in Eseg.9:3b-6 ~  Die Here het na die man geroep met die linneklere aan en die skrywersakkie aan sy gordel 4en vir hom gesê: “Gaan deur die stad, deur Jerusalem, en maak ’n merk op die voorkoppe van almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” 5Ek het gehoor die Here sê vir die ander manne: “Gaan agter hom aan deur die stad en slaan dood! Moenie verskoon nie, moenie jammer kry nie! 6Maak dood en roei uit die oumense, die jongmanne en jong vroue, die kinders en vrouens; moet net nie raak aan dié wat die merk het nie. Begin by my heiligdom!” Hulle het toe begin met die ou manne voor die tempelIn hierdie gedeelte het God Sy volk gemerk ten einde hulle te bewaar teen oordeel.  Hierdie was beslis nie ’n fisiese teken nie, maar wel ’n geestelike teken of merk.

Nog ’n voorbeeld waarvan ons al gehoor het in ons studie van Openbaring, vind ons in Openb.7:1-8 ~ Ek het ook ’n ander engel van die ooste af sien kom met die seël van die lewende God. Hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele aan wie mag gegee is om die land en die see te tref, 3en het vir hulle gesê: “Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël (vv.2-3).  Soos ons reeds vantevore gesien het, was hierdie ook net ’n geestelike identifisering van God se kinders voor die vernietiging van Jerusalem.

Ons sien verder in v.16 dat die merk van die Dier, op die regterhand of op die voorkop gedra moes word.  Die betekenis hiervan kom veral in Deut.6:6-8 vir ons baie mooi na vore ~ Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees

God het nie letterlik van die Jode verwag om heel dag met dele van die Wet, vasgebind aan hulle hande rond te loop, of om die Wet op hul voorkoppe vas te maak nie – alhoewel sommige Jode dit wel letterlik gedoen het (selfs vandag nog) en wel in die vorm van ’n klein leer dosie wat met riempies om die gewrigte of op die voorkop vasgemaak is.  Dit wat God werklik bedoel het met hierdie opdrag, was eintlik dat die Jode die Wet moes bevestig in hul gemoed (kop) en dat hulle ywerig in hulle gehoorsaamheid aan die Wet moes wees (hand).

Om dus op te som:  ’n Bybelse merkteken het die persoon wat die merkteken ontvang, met die persoon wat dit gee, geïdentifiseer.  Kaïn was deur God gemerk en sodoende het hy onder God se beskerming verkeer.  Die mense van Eseg.9 was gemerk en het God se beskerming geniet en dieselfde geld vir die 144 000 van Jerusalem in Openb.7.  Wanneer iemand dus toelaat dat hy die merkteken van die Dier ontvang, impliseer dit dus dat hy homself identifiseer met en onderwerp aan die Dier.  Om dus op die voorhoof, of op die hand gemerk te wees impliseer dus erkenning, onderwerping en gehoorsaamheid aan die ontvanger se kant en eienaarskap van die Dier se kant en in die proses word so ’n persoon, vyand van God.

Enige persoon wat die merkteken van die Dier gedra het, het daardeur, sy lojaliteit en onderwerping aan Rome betoon – dit was ongehoord vir ’n Jood om dit te gedoen het en tog het hulle dit gedoen en die rede waarom so baie Jode dit gedoen het, was niks anders as kompromie nie.  Want die straf vir iemand wat geweier het om trou aan Rome te sweer, was dat hy nie kon koop of verkoop nie (v.17).  Dit was ’n geweldige straf, maar dit was ’n straf wat die vroeë gelowiges gewillig was om te verduur – t.w.v. Christus!  Behalwe vir die straf wat die gelowiges ontvang het, vir hul weiering om hulle te onderwerp aan Rome,  was hulle verder ook verwerp en verag deur almal.  Baie gelowiges het alles in die proses verloor.

Dít wat met die gelowiges gedurende die eerste eeu gebeur het was egter nie uniek nie.  Ons weet dat Moslems wat wederbaar word en Christus voortaan navolg, presies dieselfde pad loop – algehele verwerping deur die Moslem gemeenskap, asook hulle eie familie.  Daar is ook talle regerings in ons dag waar geen godsdiensvryheid toegelaat word nie en waar Christene fel vervolg word.

Ons sien dus dat die profesie van die merkteken se vervulling nie in die toekoms lê nie, maar dat dit reeds in die verlede vervul is en tog, al hoef ons nie bekommerd daaroor te wees dat ons sal moet keer om nie die merkteken van die Dier te neem nie, moet ons voortdurend bedag wees op ons lojaliteit en getrouheid aan Jesus Christus ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Rom.12:1-2).

·           Openb.13:18 ~ Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.

Ons het al vantevore gekyk na die Dier se nommer en op wie dit dui, nl. Nero (sien "Openbaring Ontsluit – nr.22" van 7 Feb.2010:   http://diewaarheidmaakvry.blogspot.com/2010/02/bybelstudie-deur-kobus-van-der-walt.html)

Ter wille daarvan om ons geheue te verfris, net weer die volgende:  Wanneer die naam van Nero Caesar in Hebreeuse letters geskryf word (daar was geen klinkers in die Hebreeuse taal nie), nl.: NRWN QSR, dan vind ons die volgende:
N
=
50
R
=
200
W
=
6
N
=
50
Q
=
100
S
=
60
R
=
200
Totaal:
=
666

Wanneer ’n mens egter Nero (of enige iemand anders) wil koppel aan die getal “666”, is daar ’n paar dinge wat in gedagte gehou moet word:
- N.a.v. Openb.13:8b. Moet die “naamnommer 666”, dié van ’n man wees.
- Die naam sal moet pas by ’n boosaardige, goddelose, ens. man – Openb.13:5,7 ~ Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.... Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
- N.a.v. Openb.13:2,7 moet hierdie man ook ’n politieke figuur wees wat oor geweldige gesag beskik – Openb.13:2,7 ~ Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee.... Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
- Die naam moet van ’n man wees wat in Johannes se tyd geleef het (sien: “Openbaring Ontsluit # 20 - Postmillennialisme en die Datering van Openbaring”, deur dieselfde skrywer – Dit kan gevind word by: http://diewaarheidmaakvry.blogspot.com/2010/01/bybelstudie-oor-openbaring-deur-kobus.html).
- Die naam moet van iemand wees wat relevant was vir die eerste eeu se gelowiges en dan spesifiek diegene aan wie Johannes geskryf het.

Sonder om veel dieper in te gaan op allerlei ander ongegronde moontlikhede, sien ons dat Nero perfek aan bg. voorwaardes voldoen – en geen ander mens nie, want bo en behalwe al die voorwaardes hierbo genoem, pas Nero se naam perfek in die “naamnommer”.

As ons bg. in gedagte hou, verstaan ons ook waarom Johannes in v.18 sê dat dit moontlik is vir diegene met verstand, om uit te werk wie die draer van die getal 666 is.  Ook is dit ondenkbaar dat enige gelowige van die eerste eeu wat met wysheid en verstand bedeeld was (en daar was tog baie) by die naam van die huidige Pous, of Obama, of wie ook al sou uitkom – dit moes iemand gewees het wat aan hulle bekend was.

Hierdie nommer wat dus onteenseglik aan Nero behoort het, is verdere bewys dat die profesie van Openbaring reeds grootliks gedurende die eerste eeu vervul is. 

Waarom het Johannes hierdie naam in geheime kode geskryf en meer nog, waarom in Hebreeus?  Ons het daarna ook reeds gekyk en gesien dat dit was omdat hy nie sy medegelowiges wou bloot stel, deur hulle so openlik teen Nero te waarsku nie, want dit sou net die vervolging teen die gelowiges laat toeneem het.  Verder was dit ook nie so vreemd gewees om Hebreeuse woorde in Grieks te gebruik nie, want dit was immers ’n bekende taal vir die meeste gelowiges (dink maar net hoe ons deesdae Afrikaans vermeng met Engels!).  Johannes het bv. vroeër in Openbaring die Hebreeuse woord "Abaddon" gebruik om na Satan et verwys (Openb.9:11).  So is die woorde "Amen", "Armageddon", ens. ook Hebreeuse woorde (en selfs ons gebruik dit steeds vandag).  Dit word ook algemeen deur teoloë aanvaar dat Johannes in Hebreeus gedink het, maar in Grieks geskryf het. 

Dit is dus duidelik dat Rome, o.l.v. Nero die Eerste Dier van Openbaring was en dat die Judaïste, Rome se skoothondjie was.

3.    ’n LAASTE GEDAGTE:
Indien hierdie dinge reeds gedurende die eerste eeu plaasgevind het, is dit relevant om te vra wat se waarde hierdie kennis vir ons in hou ons huidige konteks in.  Veral ook as ons dan weet dat hierdie dinge hulleself nie in die toekoms gaan herhaal nie?  Wanneer ons so ’n vraag vra, moet ons in dieselfde asem vra of die Israeliete se uittog uit Egipte vir ons enige waarde inhou; of die Feeste van die Israeliete enige betekenis vir ons inhou, ens?  En die antwoord is tog sekerlik "ja"!  Ons moet onthou dat alle dele uit die Skrif vir ons waarde en betekenis inhou – ook Ou Testamentiese gedeeltes en ook reeds vervulde Nuwe Testamentiese gedeeltes.  Ons moet onthou dat die ganse Skrif Gees-geïnspireerd is en daarom die moeite werd is om te lees, maar die heel belangrikste:  Alle Skrif wys heen na God die Vader, wie ons dien.  Ons kan moed hou en oorwin in enige omstandighede, want Jesus Christus het reeds die oorwinning behaal oor die Dier, maar ook oor ons vyand die satan!  Hy is tog immers Here!


Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 17 April 2011