Sunday, August 28, 2011

Die Evangelie van Johannes - 06 (Jesus se Eerste Dissipels)

1.     SKRIFLESING: 
Joh.1:35-51 ~ Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”  37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi”—dit beteken leermeester—“waar gaan U tuis?”  39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”  Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.  40Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.  42Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”  44Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.  45Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”  46Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”  “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.  47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ’n ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.”  48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”  “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”  49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!  50Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”  51Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.” 

2.    INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat Johannes die Doper se primêre roeping was om Jesus aan die mensdom te openbaar. 

Nou, in hierdie laaste gedeelte van hoofstuk een, sien ons hoe dat Johannes se bediening tot ’n einde kom en sy volgelinge Jesus begin navolg. 

Wat gebeur dus hier?  Die manne wat Jesus begin navolg, was manne wat onder die getuienis van Johannes die Doper, bewus geraak het van Jesus as die Lam van God wat gestuur is om die mensdom se sonde weg te neem. 

Toe Jesus weer na die plek kom waar "die Doper" besig was om te preek en mense te doop, het Jesus se eerste dissipels Hom onmiddellik herken as die Messias en neem hulle ’n spontane besluit om Hom te volg.  Dit is dus belangrik om daarop te let dat Johannes nié sy volgelinge stuur of aanmoedig om Jesus na te volg nie en ook roep Jesus nie die dissipels om Hom na te volg nie.  Die besluit berus dus by die volgelinge self.

Ons moet ook in gedagte hou dat Johannes nie die dissipels wat Jesus begin navolg, sien as sy dissipels wat hy nou verloor het nie, want Johannes het nie dissipels vir homself bymekaar gemaak nie – nee, hy het in die woorde van Luk.1:17, dissipels vir Jesus bymekaar gemaak en hulle slegs voorberei op die koms van Jesus – sy grootste begeerte was om Jesus te kon ontmoet en dan sy dissipels te kon "oorgee" aan Jesus.

3.    CHRISTUS SE EERSTE VYF DISSIPELS:
·           Andreas en Johannes (vv.35-40):  
Twee van Johannes se dissipels is by hom toe hy Jesus aan hulle uitwys en sonder huiwering volg hulle Jesus.  Die een se naam is Andreas, die broer van Simon Petrus wie ons in v.43 gaan ontmoet, maar die ander een se naam word nie vir ons genoem nie.  Van die vroegste tye af word daar geglo dat hierdie "ongeïdentifiseerde" dissipel, Johannes die skrywer van hierdie Evangelie was, maar daar bestaan geen bewyse hiervoor nie. 

Soos reeds gesê, het die twee dissipels, toe hulle Jesus sien, Johannes agtergelaat en Jesus onmiddellik begin volg.  Die werkwoord vir "volg" in hierdie geval is ἀκολουθέω (akoloutheō) en word gebruik vir iemand wat op ’n intellektueel, morele en godsdienstige sin iemand anders navolg en so ’n persoon se dissipel word.  Ook beteken die woord dissipel, iemand wat "leer".  Wanneer ons dan lees van die dissipels wat Jesus gevolg het, vertel dit vir ons van iemand wat ’n intellektuele keuse gemaak het en dan op grond van moreel, godsdienstige gronde kies om aan iemand (in hierdie geval Jesus), se voete te sit om van hom te leer – hulle het hulself dus ten volle vir Jesus gegee.  Ons vind dus hier die verhaal van die eerste twee dissipels van Jesus Christus.

Toe hierdie eerste twee dissipels Jesus nader, het Hy omgedraai en vir hulle gevra wat hulle wou hê.  Op Jesus se vraag wat hulle soek, sien ons dat die twee dissipels vir Hom vra waar Hy tuis gaan (v.38).  Twee dinge val op in hierdie reaksie van die twee: 
-        Eerstens wil dit uit die antwoord wat die twee manne Jesus gee, voorkom asof hulle nie regtig weet wat om te antwoord nie.  Miskien was dit omdat hulle verleë gevoel het. Of hulle gee Hom hierdie antwoord omdat hulle daardeur eintlik vir Hom wou sê dat dít wat hulle van Hom wou hê, nie sommer in een kort antwoord hanteer kon word nie, maar dat hulle behoefte het aan ’n baie lang gesprek. 
-        Tweedens noem hulle Hom, "Rabbi".  Om destyds iemand "Rabbi" te genoem het, was tekenend van die wyse waarop ’n dissipel, sy leermeester aangespreek het.  Beide hierdie twee manne erken Jesus uit die staanspoor as hulle Leermeester.

Ons moet onsself ook die vraag afvra waarom óns Jesus werklik volg.  Wat soek ons in ons soeke na Christus?  Volg ons Jesus na, omdat ons God se guns soek?  Volg ons Hom na omdat ons gered wil word?  Soek ons net ’n Trooster, of ’n Leraar?  As dit die redes is waarom ons Hom navolg, is ons nie besig om die eer van God te soek nie en is ons nie besig met 'n Christusgesentreerde godsdiens nie, maar is ons besig om ons eie eer te soek. 

In v.39 antwoord Jesus hulle deur te sê ~ Kom saam, dan sal julle sien.  Jesus nooi hulle dus onmiddellik om Hom te volg.  Omdat dit reeds laatmiddag was, is hierdie antwoord van Jesus veel meer as ’n blote uitnodiging om te kom kyk waar Hy oorbly en dan sal hulle verskoon word.  Nee, Jesus nooi hulle uit om langer te bly, want ons sien dat hulle… die res van die dag by Hom gebly het (v.39).  Die feit dat Johannes, die skrywer van hierdie Evangelie, vir ons die tyd gee waarop die twee Jesus begin volg het, getuig nie alleen van ’n ooggetuie weergawe nie (en daarom dat hierdie onbekende dissipel dan waarskynlik Johannes self is), maar omdat dit kort voor donker was, dui dit vir ons daarop dat die twee waarskynlik ook die nag in die teenwoordigheid van Jesus deurgebring het.

In v.40 sê Johannes vir ons, ... Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee.  Dit is so asof Johannes wil sê, Andreas, ek bedoel: die broer van Simon Petrus wat aan julle baie goed bekend is, was een van die twee.  Ons moet verstaan dat toe die Evangelie geskryf is, die apostel Petrus baie bekend was aan sy lesers.  Die minder bekende dissipel word dus teen die agtergrond van sy meer bekende broer beskryf – dit is dieselfde as iemand vir my sou vra:  Is Nico jou broer?  I.p.v.:  Is jy Nico se broer? – die klem val dus op Nico, die meer bekende.
·           Petrus (v.41-42):  
Ons sien in v.41 dat Andreas, heel eerste die volgende oggend, sy broer, die bekende Simon Petrus gaan opsoek om vir hom te vertel van die wonderlike ontmoeting wat hy die vorige middag ervaar het en ’n mens kan die opgewondenheid in sy stem hoor wanneer hy dit uitjubel en sê ~ Ons het die Messías gevind.  Hy sê nie, ék het die Messias gevind nie – hy wil nie die eer vir hierdie ontdekking vir Homself hê nie, want hy is nié die sentrale figuur nie – Jesus is.

Johannes verduidelik ook onmiddellik die uitdrukking "Messias"  in v.41, deur te sê dat Jesus, die Christus is (Χριστός / Christos).  Hoe geseënd is Andreas!  Hy weet dat hy weet, dat Jesus die Christus is.  Dit is so in teenstelling met talle mense in Jesus se tyd wat gesukkel het om te glo dat Hy die Messias is.  Thomas het bykans tot aan die einde van Jesus se aardse bediening, daarmee gesukkel.

Jesus die Christus is die Groot Verlosser; die Gesalfde Een; die Redder van mense.  Christus beteken die "Gesalfde" en Hy is gesalf om Sy grootse verlossingswerk as Profeet, Priester en Koning vir Sy mense te wees.  Hierdie naam van Jesus dui daarop dat Hy deur God die Vader geroep is – in die woorde van Hebr.5:4 ~ Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep.  Ook Jesus self bevestig hierdie roeping deur in Joh.5:37 te sê ~ En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê.          

Andreas se nuus wat hy aan sy broer bring, nl. dat hulle die Messias gevind het, is egter nie al wat hy doen nie – hy neem vir Simon na Jesus toe. 

Toe Andreas en Simon by Jesus kom, het daar iets wonderliks gebeur ~ Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.  Hier het Jesus Sy alwysheid gedemonstreer – Hy het presies geweet wie hierdie man is en die feit dat Jesus "stip" na Simon gekyk het, impliseer dat Hy nie net na die man voor Hom gekyk het en die huidige gesien het nie, maar Jesus het ook die toekoms in hierdie man gesien – dit wie hy eendag sou word en daarom gee Jesus aan hom ’n nuwe naam, nl. Sefas (sy nuwe Aramese naam) en Petrus (sy nuwe Griekse naam).

Die feit dat Jesus ’n nuwe naam aan Simon gegee het, toon aan ons dat Jesus vir Simon aangeneem en hom deel gemaak het van die intieme familiekring van Jesus.

Die betekenis van hierdie naam wat Simon by Jesus gekry het, is "Rots".  Ons moet verstaan dat wat Jesus eintlik bedoel het met Petrus se nuwe naam, was ’n belofte van God se genadewerk wat in Petrus se hart en lewe in die nabye toekoms sou plaasvind.  Dit is so interessant om te sien dat Petrus deurgaans deur die Evangelies, alles behalwe ’n "rots" was, want hy was impulsief, wispelturig en selfs onbetroubaar, maar eers later, nadat Jesus vir Petrus gebid het, is sy hart en lewe geheel en al verander en het hy waarlik die Rots geword wat Jesus in hom gesien het en waarop die Nuwe Testamentiese Kerk gebou sou word – dit is waarom Jesus dan ook in Matt.16:18 vir Petrus gesê ~ Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (O.A.V.).

·           Filippus en Natanael (vv.43-51):  
Die dag nadat Petrus vir Jesus ontmoet het, vind nog ’n wonderlike gebeurtenis en ontmoeting plaas.  

Jesus het besluit om na Galilea te gaan – die gebied in die omgewing van die See van Galilea, waar verskeie visser gemeenskappe geleë was en waar Jesus hoofsaaklik gebaseer sou wees tydens Sy aardse bediening – dit is ook die gebied waar Andreas en Petrus oorspronklik vandaan gekom het.  Jesus was die oggend ná Petrus se ontmoeting met Hom, in die omgewing van Betsaida, net wes van die inlaat van die meer van Galilea en dit is hier waar Jesus twee van Betsaida se inwoners ontmoet, nl. Filippus en Natanael.  Filippus se Griekse naam beteken "liefhebber van perde" en sy broer se naam Natanael beteken "geskenk van God".

Al die ander dissipels het Jesus begin volg nadat hulle, óf die Doper se getuienis gehoor het, óf hulle mekaar na Jesus gebring en besluit het om Hom te volg.  Wat egter uniek aan Filippus se roeping was, is dat hy die enigste dissipel was wat deur Jesus persoonlik geroep is om Hom te volg.

Filippus is só opgewonde oor die feit dat hy, saam met ander manne met wie hy reeds geïdentifiseer het, die Messias ontmoet het, dat hy onmiddellik sy vriend Natanael gaan roep en na Jesus bring.  Natanael is verbaas oor Filippus se aanspraak en hy sê ~ Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?  Wat hy met hierdie vraag bedoel het, was waarskynlik om vir Filippus te vra of dit dan moontlik is dat die lang verwagte Messias uit so ’n onbenullige plekkie soos Nasaret kon kom.  Sy vraag kan egter ook daarop dui dat daar iets van ’n tweestryd tussen Nataniël se tuisdorp en Nasaret was.  Hoe dit ook al sy, Filippus reageer op Natanael se vraag, deur vir hom te sê ~ Kom kyk.  Hierdie uitdrukking, kom kyk, was ’n uitdrukking wat die Rabbi's dikwels gebruik het ten einde aan te dui dat die antwoord op ’n bepaalde probleem daarin gelê het, dat daar saam gesoek moes word na die oplossing.

Toe Jesus vir Natanael sien, noem Jesus hom ’n ware kind van Israel is en ’n opregte en eerlike man.  Natanael was verbaas oor Jesus se kennis t.o.v. van sy karakter en hy vra Jesus vanwaar Jesus hom ken, waarop Jesus vir hom sê dat Hy hom reeds gesien het waar hy onder die vyeboom gesit het.  Daar is geen verduideliking vir ons wat Jesus hiermee bedoel het nie, maar wat ons wel weet is dat die vyeboom na ’n man se tuiste verwys het en wat waarskynlik hier gebeur het, is dat Jesus verwys het na Natanael wat in die privaatheid van sy huis, gemeenskap met God gehad het en die oomblik dat Jesus hierna verwys, het Natanael net geweet dat Jesus die Messias is, daarom dat hy uitroep en tegelykertyd sy geloof in Jesus verklaar, wanneer hy sê ~ Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!  Ons het gesien dat Jesus, Natanael ’n ware Israeliet noem en hierdie belydenis van Natanael wanneer hy verklaar dat Jesus die Koning van Israel is, is ’n aanduiding dat Natanael, Jesus erken as Koning van sy lewe. 

Daar is egter nog ’n groter getuienis t.o.v. Jesus in Natanael se belydenis wanneer hy sê ~ U is die Seun van God.  Hierdeur verklaar Natanael dat Jesus waarlik die geprofeteerde Messias is waarvan die profete regdeur die Ou Testament geprofeteer het.

Johannes sluit sy beskrywing van die eerste paar dissipels se ontmoeting met Jesus, af deur Jesus se woorde aan Natanael neer te skryf, nl. ~ Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe. Die enigste plekke in die Nuwe Testament waar ons lees van die hemel wat oopgaan, is ook in Matt.3:16 en Luk.3:21 toe Jesus gedoop is en gedurende visioene wat ontvang is, soos beskryf in Hand.7:56 waar Stefanus, net voor hy gestenig is, gesê het ~ Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.  Ook in Hand.10:11 waar Petrus ’n visioen ontvang het ~ Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe.  In Openb.19:11 ontvang Johannes ’n visioen van ’n wit perd met Christus op sy rug.  Dit is egter te betwyfel of Jesus enige van hierdie gebeurtenisse in gedagte gehad het toe hy vir Natanael gesê het, wat Hy gesê het van die hemel. 

Die mees waarskynlikste verklaring vir die uitspraak van Jesus, is dat die engele wat opklim (let daarop, dat dit eerste genoem word) daarop dui dat dienende engele reeds hier op aarde is en die leer dui op Jesus wat as brug dien tussen die hemel en die mens hier op aarde.  Deur Jesus word die realiteite van die hemel aan die mens hier op aarde geopenbaar en net Jesus kan dit doen, want Joh.3:13 sê vir ons ~ Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.  Dit is hierdie realiteite wat Jesus op ’n figuurlike wyse vir Natanael sê, hy nog ’n persoonlike getuie van sal wees.  Hierdie gedagte word dan ook regdeur die Johannes Evangelie ontwikkel.

4.    AFSLUITING:
Ons het in hierdie gedeelte, waarna ons vandag gekyk het, gesien hoe dat Andreas in Judea vir Jesus ontmoet het en Jesus uit homself begin navolg.  In Galilea het Filippus vir Jesus ontmoet en Jesus ook soos Andreas begin volg.  Ons het gesien hoe dat Andreas na Petrus gegaan het en Filippus na Natanael en beide Andreas en Filippus daag vir Petrus en Natanael onderskeidelik uit om Jesus te ontmoet, deur te sê ~ Kom kyk!  Dit is dus baie duidelik dat nie Petrus of Natanael die waarheid t.o.v. Jesus sal uitvind, as hulle nie Jesus persoonlik ontmoet en ervaar nie.

Hierdie getuienis en uitnodiging om Jesus persoonlik te ontmoet is die patroon vir die res van die Johannes Evangelie.  Dit is dus duidelik, dat bekering nie net op kennis berus nie, maar dit gaan ook daaroor dat elkeen van ons in ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus sal staan.

Ons sien egter ook uit hierdie verhaal, dat dissipelskap ’n verdere verantwoordelikheid tot gevolg het vir elkeen van ons, nl. dat ons bekeerlinge – nuwe bekeerlinge na Jesus moet bring.  Johannes die Doper, Andreas en Filippus het dit wat hulle geweet het van Jesus, gedeel met Andreas, Petrus en Natanael.  Johannes die Doper, Andreas en Filippus het dit wat hulle geweet het van Jesus, gedeel met Andreas, Petrus en Natanael. 

Johannes die Doper het, toe Hy Jesus gesien het, vir Andreas gesê ~ Dáár is die Lam van God! (v.36).  Andreas het vir Petrus gesê ~ Ons het die Messias gekry! (v.41) en Filippus het vir Natanael gesê ~ Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef (v.45).  Al drie getuig dus vanuit eie ervaring van hul kennismaking met die Verlosser.

Nie een van die dissipels wat Jesus ontmoet en nagevolg het, het oor ’n diep en grondige kennis van die Woord of van Jesus beskik, toe hulle die eerste keer begin getuig en mense na Jesus gebring het nie.  Nee, hulle het opgetree op grond van die persoonlike kennismaking met die Lam van God én die feit dat hulle Jesus begin volg het en voortdurend by Hom gebly het.

Geliefdes mag ek julle vandag vra of jul ontmoeting met Jesus Christus só persoonlik en lewensveranderend was dat jy nie anders kan as om met ’n jubeling in die hart vir andere van Jesus die Messias wil vertel nie?  Is Jesus waarlik Koning van jou lewe?  Net soos Filippus deur Jesus geroep is, roep Jesus ook vandag, elkeen wat hier mag wees en Hom nog nie as dissipel navolg nie.  Máár Jesus roep vandag ook elkeen van ons wat Hom reeds navolg as dissipels, om getuies vir Hom te wees.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 28 Augustus 2011

Monday, August 22, 2011

Die Evangelie van Johannes - 05 (Getuie vir Jesus)


1.     SKRIFLESING: 
Joh.1:29-34 ~ Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ’n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’31Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”  Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”   

2.    INLEIDING:
Hierdie gebeure vind plaas die dag nadat die afvaardiging van die Sanhedrin, nl. die Priesters en die Leviete, Johannes die Doper gekonfronteer het.  Hy is nou besig om te preek en om mense te doop, maar die volgende oomblik het hy vir Jesus (wat pas uit die wildernis terug gekeer het) na hom sien aankom en hy hou opeens op waarmee hy besig was en hy lewer waarskynlik die heel belangrikste getuienis wat nog ooit deur enige mens t.o.v. Jesus Christus gelewer is – hy sê ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (v.29b). 

Met hierdie getuienis beklemtoon die Doper, die heel belangrikste feit t.o.v. Jesus, nl. die Lam van God wat gekom het om versoening te bewerkstellig tussen God en die mens.

3.    JESUS DIE LAM VAN GOD (vv.29):
Dit word baie algemeen aanvaar dat die benaming wat Johannes hier vir Jesus gebruik, nl. die Lam van God, na die Paaslam verwys.  Ons weet dat Jesus gedurende die Paastyd gekruisig is en dat Hy die "Offerlam" was wat die volmaakte offer gebring het ten einde versoening vir ons sondes te bewerkstellig.  Dit is egter terselfdertyd interessant dat die baie bekende teoloog, Leon Morris in sy boek "Reflections on the Gospel of John" (p.37), beweer dat dit nié die ware betekenis van hierdie benaming, "Lam van God" is nie.  Ek wil nie nou op al sy argumente ingaan nie.  Wat ek wel kan sê, is of die uitdrukking "Lam van God" nou ’n verwysing na die Paaslam is of nie, Jesus wel ’n gawe (geskenk) van God die Vader was om ons sonde weg te neem en soos die Paaslam, het Hy die finale en volmaakte offer gebring wat versoening tussen God en ons bewerkstellig het.

In v.30 verwys Johannes na Jesus as die Een wat hom vóór is.  Hierdie is ’n bykans identiese herhaling van die woorde in 1:15.  Hierdie uitdrukking plaas vir ons juis die klem op wie Jesus ís en nie op wát Hy doen nie – daarom dat dit nie werklik belangrik is dat ons sal weet wat die uitdrukking, "Lam van God" regtig beteken nie, maar eerder oor wié Jesus is – Johannes verwys dus na Jesus se Godheid en dít is wat belangrik is.

4.    JOHANNES ONTMOET DIE REDDER (vv.31-33):
In vv.31-33 verduidelik Johannes dat hy nie geweet het Wie Jesus was nie.  Johannes se roeping was om Jesus aan die mense van Israel te openbaar of bekend te maak en dit is waarom hy sê dat hy gekom het om met water te doop, want sy doop (met water) was slegs ’n teken – teken van die Messias wat aan die kom was en wat met die reinigingskrag van die Heilige Gees gaan doop.

Die mense van Israel moes hul sonde bely en hulle daarvan bekeer en hulle dan laat doop as teken van hul bekering.  Met hierdie optrede het Johannes Israel voorberei op die koms van die Messias. Steeds het Johannes egter nie geweet Wie Jesus was nie – hy het dus net getrou aan sy roeping opgetree.  God het egter vir Johannes gesê hoe hy sal weet Wie Jesus is, nl. ~ Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. Of soos die O.A.V. dit nog duideliker stel ~ Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.

Hierdie spesifieke vers het nou onlangs tot ’n interessante gesprek gelei, toe twee "Jehova se Getuies" by ons huis aangeklop het en na ’n tyd wat ons in gesprek met mekaar was en ek aan hulle sê dat hulle ’n vals Jesus verkondig, omdat hulle die Drie-Eenheid ontken, het hulle presies hierdie vers aangehaal en vra hulle my hoe dit dan moontlik is dat Christus en die Vader en die Heilige Gees een kan wees as dit nodig was vir die Heilige Gees om Jesus te vervul?  Hierdie is natuurlik ’n subtiele verdraaiing (of is dit so subtiel?  Dalk eerder, ’n flagrante en doelbewuste verdraaiing) van hierdie teksvers en getuig dit van uiters gebrekkige en foutiewe eksegese.

Jesus is nie by hierdie geleentheid vervul met die Heilige Gees nie.  Wat hier gebeur het, was dat die Heilige Gees in die vorm van ’n duif op Jesus neergedaal het, ten einde Jesus, aan Johannes te openbaar.  Dit was egter ook ’n baie spesiale salwing deur die Heilige Gees waardeur Jesus se openbare optrede en sending amptelik begin het en Hy toegerus is om die Evangelie te verkondig en soos Jesaja dit pragtig stel in Jes.61:1-3a ~ Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ’n blye boodskap te  bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, 2om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos, 3die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer.

Die Gees wat op Jesus in die vorm van ’n duif gekom het, is ook in ooreenstemming met Jes.11:2 waar staan ~ Die Gees van die Here sal op hom rus:  die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.  Ook Jes.42:1 ~ Hier is my dienaar, Ek stel hom aan.  Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns.  Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak.

5.    JOHANNES STEL DIE REDDDER BEKEND (v.34):
Wanneer ons kyk na v.34, kom Johannes met hierdie fenomenale uitspraak, nl. ~ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.  Johannes getuig van Jesus Christus, trouens Johannes is die heel eerste getuie vir Jesus! 

Toe Johannes vir Jesus sien, het hy geweet dat dit die Verlosser is en net soos die dissipels ná Johannes, was ook hy ’n ooggetuie van Jesus, daarom dat hy sê ~ Ek het dit gesien....  Net soos wat Petrus in 2Pet.1:16 gesê het ~ Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien., net so getuig Johannes nie van Jesus op hoor-sê nie.

Vers 34 begin met die woorde ~ Ek het dit gesien....  Waarna verwys die woordjie "dit"?  Sekerlik sou hy tog nie na Jesus verwys as "dit" nie.  Nee, Johannes verwys hier na die Heilige Gees wat in die vorm van ’n duif op Jesus neergedaal het en daardeur het hy geweet dat hierdie Man, die Verlosser, Jesus Christus is (v.33).

6.    ONS GETUIENIS:
Deur die eeue heen was daar, soos Johannes en Jesus se dissipels, derduisende getuies wat die Blye Boodskap uitgedra het na al die uithoeke van die aarde.  Die vraag is, waarom doen hulle dit?  Wel een van die redes is omdat hulle harte oorloop van vreugde en dankbaarheid vir God se reddingsgenade in hul lewens en dit is die boodskap wat hulle met ’n verloregaande wêreld wil deel.  ’n Ander rede is dat hulle die geestelike nood in die mensdom raaksien en hulle die antwoord en oplossing vir hul nood met hulle wil deel. 
·           Die heel belangrikste rede egter, is dat ons opdrag van die Here self ontvang het, om die Evangelie van Jesus Christus met ’n verloregaande wêreld te deel.  Dit is die eerste beginsel wat ons in gedagte moet hou wanneer ons in gehoorsaamheid reageer op die opdrag van die Here om te getuig.  Ons vind hierdie opdrag ook in Luk.19:13 toe Jesus die volgende gelykenis vertel het ~ Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom’.  Hoe moet ons handel dryf?  Die antwoord vind ons in Hand.1:8 toe Jesus Sy laaste opdragte aan Sy dissipels gegee het ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld - ...julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.  Ons as dissipels van Jesus Christus, het opdrag ontvang om te getuig.

Hierdie woord "getuig" kom meer as ’n honderd keer voor in die Woord en natuurlik hang dit van die konteks en die Hebreeuse, of Griekse betekenis af, wat met hierdie woord bedoel word.  Wat die betekenis in o.a. Hand.1 betref, asook verskeie ander teksverse soos bv. Matt.10:5-7; Matt.28:19; Mark.16:20; Rom.10:14; Matt 18:28; Hand.4:33, ens. is dit baie duidelik dat elkeen van ons wat onsself dissipels van Jesus Christus noem, opdrag ontvang het om te getuig.  Ook Petrus sê dat ons getuies van Jesus se opstanding moet wees – bv. Hand.10:42 ~ Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies.
·           Daar is egter ’n tweede beginsel wat ons in gedagte moet hou wanneer ons getuig van Jesus en dit is dat ons verbaal moet getuig.  Ons optrede en lewe moet van Christus getuig ja, maar wanneer ons dit so sien, is dit asof ons die wa voor die perde inspan.  Ons moet eers verbaal getuig (onthou dit is die opdrag van die Woord soos wat ons nou net gesien het) en nadat ons verbaal getuig het, moet ons lewe, ons woorde bekragtig.  Ons moet onsself dus baie ernstig afvra of ons werklik getuies vir Christus is, as ons nie oor Hom met andere praat nie, maar net ’n vroom lewe wil voorhou, m.a.w. ons moet onsself afvra of ons gehoorsaam is aan die opdrag om te verkondig, soos o.a. in Hand.10 aan ons gegee is.

Ons sien nêrens in die Woord enige weergawe van mense wat tot wedergeboorte gekom het, bloot op grond van iemand anders se vroom lewenswyse nie, trouens elke weergawe van ’n bekering het gepaard gegaan met ’n mondelingse getuienis daarna.  So sien ons bv. in Joh.9:38 hoe dat die blindeman wat genees is, na sy genesing gesê het ~ Ek glo, Here!  Die Samaritaanse vrou in Joh.4 sê tydens haar eerste ontmoeting met Jesus, dat Hy ’n Jood is (v.9).  In v.12 sê sy dat Hy groter is as die patriarg Jakob.  In v.19 sien ’n mens hoe haar begrip van Jesus groei toe sy sê dat Hy ’n profeet is en uiteindelik sien ons in v.29, dat sy haar waterkruik net daar by die put laat staan het en terug dorp is om vir die mense te gaan sê ~ Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?  

Johannes die Doper getuig hardop van Jesus wanneer hy in ons Skriflesing (v.29) sê ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 

7.    AFSLUITING:
As ons dan getuies vir Jesus wil wees, moet ons oor ’n boodskap beskik en Johannes die Doper verskaf aan ons die raamwerk vir hierdie boodskap:
·           Eerstens is Johannes ’n getuie van WIE Jesus Christus is – dit is waarom hy sê ~ Hy is die Seun van God (v.34). Dit is waar ons getuienis teenoor die wêreld ook moet begin – by die Seun van God.  Jesus was nie bloot net ’n mens wat sy lewe opgeoffer het vir andere nie – nee, Hy het Sy lewe geoffer, ten einde ons los te koop van God se wraak op ons sonde en net Hy as Seun van God kon daardie volmaakte offer gebring het, want net Iemand wat sonder sonde was kon hierdie offer bring.  Waarom is dit verder belangrik om in ons getuienis by Jesus te begin?  Omdat Hyself God is en hier kan ons verwys na verse soos bv. Joh.10:30 ~ Ek en die Vader is een en Joh.14:9 ~ Wie My sien, sien die Vader.
·           Tweedens getuig Johannes oor wat Jesus gedoen het – hy sê in v.29 ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  Jesus was van die begin af daar, omdat Hy, soos ons pas gesien het, God is; Hy was betrokke by die skepping, ens., maar die fokus van Christus se werk vind ons in Sy dood aan die kruis. 

Johannes noem Jesus "die Lam van God" – hy weet dat die Jode teenoor wie hy getuig, alles geweet het van die offerlam wat deur die loop van die vorige klompie eeue deur die volk Israel geoffer is en hy gebruik hierdie kennis van die Israeliete om te getuig van Christus die Offerlam.  Hy weet dat die Jode die verhaal van hul vader Abraham geken het en hoe God ’n offerlam voorsien het om in die plek van Isak geoffer te word.  Die Jode het onthou hoe hulle voorouers, die Paaslam se bloed aan die deurkosyne moes verf ten einde die doodsengel van hul gesin af weg te hou, ens.  Die Jode het geweet dat verlossing die dood van ’n plaasvervanger vereis het.

Johannes gebruik hierdie kennis van die Jode ten einde hulle daarop te wys dat Jesus gekom het om as Plaasvervanger op te tree vir diegene wat in Hom glo.  As gelowiges moet ons hierdie selfde kennis van die Lam van God gebruik om vir mense te vertel van Jesus se plaasvervangende offer.
·           Derdens wys Johannes in v.33 daarop dat Jesus die Een is wat die Heilige Gees aan Sy volgelinge sou gee, of anders gestel dat Jesus in die lewe van gelowiges sou kom leef.  Daarom, wanneer ons van Jesus getuig, praat ons nie net van Wie Hy is en wat Hy gedoen het nie, maar ook wat die resultaat van geloof in Jesus Christus is, daarom dat Johannes in v:12 sê ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Net ter afsluiting, enkele riglyne t.o.v. getuielewering:
·           Ons moet onsself voortdurend afvra of getuielewering vir ons ’n prioriteit is.
·           Ons moet entoesiasties wees oor ons geloof in Jesus Christus.
·           Ons moet opreg wees in ons geloof en lewenswandel.
·           Ons moet voortdurend op die uitkyk wees vir geleenthede om te getuig.
·           Ons moet voorbereid wees om ten alle tye en onder alle omstandighede te getuig.
·           Ons moet altyd Christusgesentreerd wees.  Ons moet die gekruisigde en verrese Jesus Christus verkondig.

Ons het gesien dat die Heilige Gees op Jesus gerus en Hom bemagtig het vir Sy roeping hier op aarde.  As ons na Rom.5:5 kyk is dit dieselfde Heilige Gees wat ons ook bemagtig om o.a. getuies vir Jesus te kan wees, maar dit is terselfdertyd ook deur dieselfde Heilige Gees dat ons gemotiveer kan raak om ons roeping as gelowiges na te kom deur te getuig.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 21 Augustus 2011

Sunday, August 14, 2011

Psalm 51 (Dawid se Boetelied)

1.    INLEIDING:
Charles H. Spurgeon het van die Psalms gesê:To be saved singing is to be saved indeed

Die Psalms is ’n skatkamer vir ons as gelowiges, want die Psalms is vir ons gegee om te lees en dit te verstaan; om dit te oordink; dit te sing en dit te gebruik as basis vir ’n baie meer intieme aanbidding van God (Ps.100 is ’n klassieke voorbeeld hiervan).  Die Psalms dien ook as bemoediging en opbou van ons geestelike lewens – inkort, dit is vir ons gegee om ons ganse lewe te verander en te verryk.

Die Psalms gee egter ook vir ons ’n kykie in die lewe van die digters, omdat dit so intens deursigtig is en presies sê hoe, wat en wie die skrywers en sangers van die liedere is.

Net voor ons kyk na Psalm 51 – net die volgende t.o.v. die Psalms in geheel:
·           116 van die 150 Psalms het titels en ons moet besef dat hierdie titels outentiek en geïnspireerd is en daarom inherent deel is van die Psalms, want hierdie titels of opskrifte verklaar die Psalm en daarom moet dit gelees word.  As ons bv. na 2Sam.22:1 kyk sal ons almal saamstem dat vers 1 van 2Sam.22 geïnspireerd en van God is en daarom gelees moet word – dit lees as volg ~ Dawid het die woorde van hierdie lied tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul.  Wanneer ons na Ps.18:1 kyk, sien ons die presiese woorde van 2Sam.22:1 hier herhaal word as ’n opskrif en kan ons dus nie anders as om te besef dat die opskrifte van die Psalms geïnspireerd is en daarom gelees moet word nie.  Die Psalms is dus Woord van God.
·           Tweedens, moet ons besef dat die Psalms ’n God-gerigte boek is en daarom móét ons dit lees.
·           Derdens is dit interessant om te weet dat 75 van die 150 Psalms deur Dawid geskryf is, terwyl 12 deur Asaf; 1 deur Heman en 2 deur Salomo geskryf is.  Moses het 1 geskryf en 48 is deur onbekende outeurs geskryf.
·           Dawid het die 150 Psalms in vyf boeke of bundels verdeel (Boek 1 = Ps.1-41; Boek 2 = Ps.42-72; Boek 3 = Ps.73-89; Boek 4 = Ps.90-106 en Boek 5 = Ps.107-150)

2.     SKRIFLESING: 
Kom ons blaai na Ps.51.  Ek lees vanuit die O.A.V. omdat die N.A.V. die grondteks baie swak vertaal het en die gees en historiese agtergrond baie min tot glad nie in gedagte gehou het tydens die vertalingsproses nie.

’n Boetelied van Dawid.
VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid,
2     toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.
3     Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
4     Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
5     Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
6     Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
7     Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
8     Kyk, U het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
9     Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
10     Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
11     Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
12     Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.
13     Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
14     Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ’n gewillige gees.
15     Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
16     Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
17     Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
18     Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
19     Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
20     Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
21     Dan sal U ’n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.

3.    BELYDENIS:
Verskeie bekende individue het op hul sterfbed na Ps.51 gegryp en dit voorgedra.  So het beide Sir Thomas More en Lady Jane Grey hierdie Psalm aangehaal toe hulle onderskeidelik onder die regering van koning Henry VIII en Queen Mary as martelare gesterf het.  Koning Henry V het op sy sterfbed gevra dat hierdie Psalm aan hom voorgelees word en William Carey (die bekende sendeling na Indië en ander dele van die Verre Ooste) het gevra dat hierdie Psalm as teks gebruik sal word tydens sy begrafnis.

Ek wil graag hierdie Psalm vanoggend onder die volgende vier hoof- en subopskrifte behandel:
1.    Belydenis (vv.3-9)
-      "Ek het gesondig teen God" (vv.3-4)
-      "Ek is ’n sondaar" (vv.5-8)
2.    Restourasie (vv.9-14)
3.    Lofprysing (vv.15-19)
4.    Voorbidding (vv.20-21)

Andrew Murray skryf in sy boekie, "Confession and Forgiveness", dat ’n Londense sielkundige op ’n dag vir Billy Graham gesê het, dat ongeveer 70% van alle mense in sielsieke inrigtings, daar is omdat hulle nie vergifnis kan ontvang vir bepaalde dade wat hulle begaan het nie en hulle derhalwe met onverwerkte skuldgevoelens en ’n slegte gewete worstel.  Die oomblik dat hulle vergifnis ontvang, sal hulle weer "normaal" kan funksioneer – dit is inderdaad ’n baie interessante waarneming en dit is presies waaroor Ps.51 gaan, nl. vergifnis.

Ps.51 is een van die 7boetpsalms (die ander is 6, 32, 38, 102, 130 en 143) en is waarskynlik die bekendste van die 7. 

·           "Ek het gesondig":
Ten einde Ps.51 reg te verstaan, moet ons kortliks na die agtergrond van hierdie boetelied kyk.  Die skrywer van hierdie Psalm is Dawid en die opskrif van die Psalm (’n Boetelied van Dawid) dui vir ons aan dat hy diep in sonde geval het.  Ons sien in 2Sam.11 dat hy owerspel gepleeg het met Batseba, vrou van Urija.  Nadat hy owerspel gepleeg het, het hy sy sonde onsuksesvol probeer wegsteek, waarop hy Urijatoe laat vermoorhet.  Asof hierdie reeks van sondes nie erg genoeg was nie, begaan hy ’n nog groter sonde en dit is dat hy vir bykans ’n jaar nie berou oor hierdie sondes gehad het nie en dit derhalwe nie bely het nie.  Dit was eers na die dood van sy kind en nadat God die profeet Natan na Dawid gestuur het om hom te konfronteer met sy sonde, dat hy tot ware insig oor sy sonde gekom het. 

Nadat Natan Dawid gekonfronteer het, bely hy sy sonde.  Wat bely Dawid?  In 2Sam.12:13 sê hy ~ Ek het gesondig teen die Here (2Sam.12:13)

Hoor u wat Dawid nié sê nié?  Hy sê nie:Ek het gesondig nie.  Nee, hy sê: Ek het teenGod gesondig.  Ons moet besef datelke keer dat ons sondig, ons nie maar net sondig nie, of dat ons maar net ’n oortredingbegaan het nie. Nee, ons sondig teen God!

Kom ons kyk weer na v.3.  Dawid sê hier dat hy besef dat hy nie vergifnis verdien nie, maar hy pleit om God se onverdiende genade ~ Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid.  Sy en daarom ook ons belydenis en vergifnis word gebaseer op die realiteit van God se genade – God se genade en niks anders nie.

Dawid het ernstig oortree in die oë van God en hy besef dit baie deeglik, trouens hy besef dat hy onder die destydse wetgewing die dood verdien het, want enige opsetlike sonde (wat hy drie keer begaan het) is gewoonlik volgens die Wet, met die dood gestraf en daarom dat hy om genade pleit en in die prosesgebruik hy drie woorde vir sy sonde, nl. "oortreding" (v.3 – "transgressions"); "ongeregtigheid" ("skuld" = N.A.V. in v.4 – "iniquity") en "sonde" (v.4 –"sin").

Dit is ook interessant om te sien dat hy vir elkeen van hierdie benaminge van sy sonde, ’n ander metafoor gebruik – hy vra dat God sy oortredinge sal uitdelg of uitwis.  Die Hebreeuse betekenis is letterlik om sy oortredinge uit te vee soos wat ’n mens ink uit ’n boek sou uitvee ("blot")

Wanneer hy om genade vra t.o.v. sy ongeregtigheid of skuld, vra hy die Here om hom skoon te was daarvan.  Die beeld wat hier gebruik word, is die van ’n antieke wasserywerker wat ’n kledingstuk in water geweek het en dit daarna ingeseep het, dan uitgedraai het en dit laastens weer uitgespoel het ten einde dit behoorlik skoon te kry. 

Laastens vra hy dat hy van sy sonde gereinig ("purify") sal word.

Dawid wil deur die gebruik van hierdie drie woorde wat hy gee vir sy sonde en die drie woorde vir sy vergifnis, die omvang en die intensiteit van sy sonde beskryf, maar ook die geweldige grootsheid van God se genade – hy wil met hierdie drieledige smeking van hom, erkenning daaraan verleen, dat sy vergifnis, ’n lang en deeglike proses sal wees – wat meer is, hy wil dit nie anders hê nie, want hy "bedoel besigheid" as hy om vergifnis vra.  Dit is asof hy sê:Here doen dit asb. – doen dit deeglik, maar dóén dit net asseblief! Hy het vergifnis en verandering nodig en hy begeer dit, al vat dit ook wat!

Dawid weet dat hy gesondig het en die probleem is dat sy sonde altyd voorop in sy gedagtes gaan wees.  Die gevolge van sy sonde kruip in elke hoekie en area van sy lewe in en dit sal vir altyd by hom "spook" – selfs in sy nalatenskap sal hierdie klad altyd voorop staan wanneer daar aan hom gedink word – so dink ons vandag nog aan hom as ’n owerspelige moordenaar.

Die probleem met sonde is dat dit dikwels selfs permanente skade aanrig.Hoor wat het Natan vir Dawid in 2Sam.12:13-14 gesê ~ Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. 14Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.’n Verdere gevolg van Dawid se sonde was dat hy nie die voorreg sou hê om die Tempel in Jerusalem te bou nie (Hand.7:46; 1Kon.6).

Sonde het altyd gevolge – sommige meer en andere minder intens, maar sonde baar altyd gevolge, ongeag of ons vergewe word of nie.  Ons moet onthou dat sonde, altyd sonde teen God is – dit is rebellie teen God – dit is waarom Dawid die woord "oortreding" eerste vir sy sonde gebruik het.

Wanneer ons sondig – bv., ek vertel ’n leuen – Sê ek net so vinnig in die verbygaan, vergewe my Vader vir die leuen wat ek nou vertel het?  Nie Dawid nie (en natuurlik moet ons op presies dieselfde plek wees) – nee, Dawid erken sy sonde; hy bely sy sonde – hy noem dit dus weer by die naam teenoor die Here; hy ween oor sy sonde en hy erken dat God die volste reg het om hom te straf – Hy sê met ander woorde aan God, dat hy die volle verantwoordelikheid vir sy sonde dra.Sy belydenis is opreg, intens, persoonlik en gedetailleerd.

Die vraag wat ons natuurlik op hierdie stadium kan vra, is hoe dit dan moontlik is dat Dawid na al hierdie oortredings van hom steeds een van God se gunsteling seuns was (Hand.13:22)? Die antwoord is eenvoudig:Dit is omdat Dawid so opreg en eerlik was oor sy sonde en God se eer gesoek het in die hele proses – op hierdie grondslag het God dus steeds ’n rebel wat ’n owerspelige moordenaar was, lief.  Hierdie feit behoort ons baie sterk aan te spreek oor hoe ons oor ons sonde voel; hoe ons, ons sonde sien en hoe ons daarop reageer.

·           "Ek is ’n sondaar":
In verse 5 tot 8 erken en bely Dawid dat hy al van selfs voor sygeboorte af ’n sondaar is, trouens hy erken dat hy van die oomblik van konsepsie af ’n sondaar is ~ Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het (v.7 – N.A.V.).  Hierdie feit laat ’n mens opnuut weer besef wat ’n geweldige oortreding aborsie in die oë van God is – van die oomblik van konsepsie af was Dawid belaai met sonde

4.    RESTOURASIE:
In v.9 verwys Dawid na die hisopplant (nie in die O.A.V.!) wat God moet gebruik om sy sonde weg te neem.  Die hisop was ’n welriekende plant met grys blare en wit blommetjies (Origanum syriacum) en is gebruik as kwas om bloed en/of water te sprinkel tydens verskeie van die reinigings seremonies (Eks.12:22; Lev.14:4-6; Num.19:18).

Na Dawid se sondebelydenis, uiter hy die volgende en pragtige woorde in v.9, nl. ~ Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees.  In die Engelse vertalings vind ons die woorde ~ Create in me a clean heart....Hierdie woord "create", of te wel "skep" is presies dieselfdewoord as wat in Gen.1:1 gebruik word, wat dui op God wat uit niks, iets nuuts skep, m.a.w. net God kan hierdie herskeppingswerk in Dawid se hart doen.  Dit gaan dus nie oor wedergeboorte nie, maar dit gaan daaroor dat Dawid God vra om hom in so ’n mate te verander dat hy God kan dien soos wat God dit van hom verwag.  Net God kan hierdie herskeppingswerk verrig – vergifnis en die genesing van ’n bose hart is ’n wonderwerk en kan net deur God gedoen word.

In v.13 maak Dawid ’n baie interessante opmerking, wanneer hy sê ~ Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.Dalk het Dawid die gebeure in 1Sam.16:14 hier in gedagte gehad toe die Heilige Gees van Saul af onttrek het, maar wat wel belangrik is, is dat hierdie nie ’n verwysing is na die feit dat Dawid dalk sy wedergeboorte verloor het nie; hy is ook nie bang dat hy sy koningskap sal verloor nie – wat hy wel hier wil sê, is dat hy verdien om verlore te gaan; dat hy verdien om ontneem te word van die Heilige Gees.  Nee, hy openbaar hier ’n opregte en hartverskeurende berou oor sy sonde en hy vra in v.14 dat God hom sal restoureer (herstel) ~ Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.

Dawid het vantevore die vreugde van God se kindskap ervaar, maar hy het dit vir ’n tyd lank verloor nadat hy in sonde geval het en daarom vra hy dat God hom sal herstel en daardie oorspronklike vreugde wat gepaard gaan met redding, weer aan hom sal skenk.

5.    LOFPRYSING:
Die bewys dat God, Dawid vergewe het word bevestig in vv.15-19 waar ons sien dat Dawid, God loof en prys omdat God Natan gestuur het om sy sonde aan die lig te bring, sodat sy verhouding herstel kon word met God.Dit moet ook ons gesindheid wees wanneer ons sonde aan die lig kom, want dit maak dit weer moontlik vir ons om in die regte verhouding met God te kan wees.

Uit dankbaarheid lê Dawid egter ook ’n gelofte teenoor Godaf, waarin hy belowe dat hy ander sondaars sal leervan wat God van die mens verwag en wat God se geregtigheid behels, m.a.w. hy sal hulle leer t.o.v. God se heiligheiden die implikasies daarvan vir sondaars.

Hierdie gelofte van Dawid vind sy vervulling in Ps.32 en Paulus wys vir ons dat Dawid die leerstuk van regverdigmaking reg verstaan wanneer hy Ps.32 aanhaal in Rom.4:7-8 ~ Geseënd is die mensewie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word.8Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.Dawid het dus al geweet dat vergifnis slegs op grond van die komende Messias se soendood plaasvind en dat daar geen vergifnis kan wees sonder geloof in die Messias, Jesus Christus nie.

Die gelofte wat Dawid maak om sondaars te leer om op te hou sondig is ook in ooreenstemming met Paulus se woorde in Rom.6:1-2 ~ Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?

6.    VOORBIDDING:
Dawid sluit Ps.51 af met voorbidding vir Jerusalem.  As koning wat in sonde verval het, het hy veroorsaak dat die hele stad en volk van Israel in gevaar verkeer – die stadsmure van Jerusalem wat ’n simbool van sekuriteit is, word bedreig deur die bose en sonde, daarom dat Dawid bid en sê ~ Laat Sion u liefde en u goedheid ondervind:herbou tog die mure van Jerusalem.  21Dan sal die offers wat voorgeskryf is, weer vir U aanneemlik wees:  offerdiere wat heeltemal verbrand word.  Dan sal hulle weer bulle op u altare offer.  Hy bid hierdie gebed sodat Jerusalem en sy inwoners, God se genade sal ervaar en weer in opregtheid hul offers aan God kan bring en dat dit nie blote rituele sal wees nie, maar dat dit vanuit opregte harte kan kom. 

Dawid is dus nie net besorgd oor individuele restourasie nie,maar ook oor korporatiewe restourasie – hy bid ook vir die volk in geheel.

7.    TOEPASSING:
Geliefdes, God begeer van ons dat ons, ons sonde sal bely en indien ons in die woorde van 1Joh.1:9, ...ons ons sondes bely—(is) Hy getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Ons moet besef dat elkeen van ons ook "koning" oor ’n "koninkryk" is.  Of daardie "koninkryk" jou vrou en/of gesin is; of dit jou werk is; jou vriendekring, ens. – jou sonde het ’n effek op daardie"koninkryk" en dit breek die mure van jou invloedsfeer af en jy stel almal in daardie "koninkryk" bloot aan die besmetting en gevolg van jou sonde.  Ons moet altyd in gedagte hou dat wat ons ook al doen, dit ’n effek op ander mense het (goed of sleg).

Die negatiewe gevolge van Dawid se sonde was o.a. dood en vernedering, maar die positiewe kant daarvan (omdat Dawid reg en Bybels omgegaan het met sy sonde) was dat sy verhouding met God herstel was.  Mag ons gesindheid ook altyd een wees van opregte belydenis en bekering van ons sonde en dat ons in liefde ook andere sal leer van wat God van ons verwag en wat die implikasies van God se heiligheid in die mens se lewe is.  Dat ons altyd sal onthou en dit ook vir andere sal leer, dat God koninkryke herstel en beskerm – dat Hy weer die "stadsmure" van ons lewe sal opbou as ons, onsself in opregtheid ootmoedig.

Jesus weet van elke sonde wat ons begaan, want Hy het dit reeds aan die kruis vir ons gedra.  Hy pleit ook by die Vader vir genade en vir reiniging van ons sonde en daarom moet ons, ons geloof in Jesus Christus plaas vir die vergewing van ons sonde, want Rom.3:26-27 leer ons dit ~ Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo

Wanneer ons Ps.51 lees en dink aan ons eie sonde, kan ons saam met Dawid in dankbaarheid sing en God loof en prys, want Hy het Jesus Christus vir ons gegee wat namens ons, vir ons sonde gesterf het aan die kruis op Golgota en waar Hy in Sy menslikheid só met ons geïdentifiseer het, dat Hy namens ons die oordeel van God op Homself geneem het – daardie oordeel wat Dawid, maar ook jy en ek verdien het!

Bid Psalm 51:
·           Vader heel die pyn in my hart oor my sonde.  Ek sien die vernietigende effek van my sonde op ons omgewing, maar ook op die mense rondom en na aan my.  Wees my genadig en barmhartig Here.
·           Here ek het teen U gesondig en help my om soos Dawid in hierdie Psalm, ook my sonde in opregtheid te bely en my daarvan te bekeer.
·           Help my om my te verheug in U liefdevolle tugtiging ten einde my te restoureer.
·           Help my om verantwoordelik om te gaan met die burgers van my "koninkryk" en seën hulle.
·           Rus my toe sodat ek ’n getuienis teenoor hulle kan wees tot U eer.
·           Help my om U te prys soos wat Dawid gedoen het
·           Dankie Here dat U die Heilige Gees aan my geskenk het om die sonde in my lewe uit wys
·           Ek ervaar U liefde deur U tugtiging, want daardeur wil U my herstel, ja U wil my ganse lewe restoureer, sodat ek ’n lofoffer vir U kan wees.