Tuesday, April 28, 2015

Die Profeet Sagaria - 11 (“Die Here Voorsien”)

1.   INLEIDING:
      In die vorige gedeelte waarna ons in Sagaria gekyk het (9:1-17) het ons te doen gekry met n inleiding tot die tweede deel van Sagaria se boodskap wat handel oor die toekoms van God se volk - van n volk wat terugkeer uit ballingsakp na n volk wat vol verwagting is vir die koms van die Lydende Messiaanse Koning - Hy wat nie net die volk Israel met Hom sal verenig nie, maar ook Sy finale Koninkryk sal vestig - dán sal Christus erken word as die Koning, nie net in Jerusalem deur Sy volk nie, maar ook deur die nasies - die sentrale boodskap dus van die Nuwe Testament.  
2.   SKRIFLESING:
      Sag.10:1-12 ~ 1) Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom. Hy maak die reënwolke en laat die stortreëns val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld. 2) Wat die afgodsbeelde sê, is bedrog; wat die waarsêers sien, is leuens; die drome wat hulle vertel, het nie plaasgevind nie; hulle probeer troos met wat nie bestaan nie. Daarom moes die volk weg, moes hulle in ellende beland soos skape wat nie 'n wagter het nie. 3) Maar nou het my toorn ontvlam teen die herders, Ek gaan rekenskap eis van die voorbokke, sê die Here. Ja, die Here die Almagtige het Hom die lot van sy kudde Juda aangetrek, Hy gaan hulle sy trotse oorlogsperd maak. 4) Uit Juda sal die hoekklip kom, uit hom sal die tentpen, uit hom die pyl en boog vir die oorlog kom, en uit hom sal elke onderdrukker padgee. 5) Soos sterk vegsmanne sal die mense van Juda die vyand soos modder in die strate vertrap. Hulle sal veg, want die Here is by hulle; hulle sal die perderuiters op die vlug jaag. 6) Ek sal Juda sterk maak, Ek sal Josef red. Ek laat hulle terugkom, want Ek is jammer vir hulle. Dit sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie. Ek is die Here hulle God en Ek het hulle gebede verhoor. 7) Die mense van Efraim sal soos sterk vegsmanne wees, hulle sal vrolik wees asof hulle wyn gedrink het. Hulle kinders sal dit sien en bly wees, hulle sal juig oor My, die Here. 8) Ek sal vir hulle fluit en hulle bymekaarmaak. Ja, Ek gaan hulle red, en hulle sal net so baie wees as tevore. 9) Al verstrooi Ek hulle weer onder die volke, sal hulle My daar in die ver plekke onthou, en hulle en hulle kinders sal bly lewe en terugkom. 10) Ek sal hulle laat terugkom uit Egipte, Ek sal hulle uit Assirië uit bymekaarmaak en hulle na Gilead en die Libanon toe bring, en dié sal nie genoeg plek vir hulle hê nie. 11) Die volk sal deur die gevaarlike see trek, die golwe in die see sal oorwin word en al die Nyldieptes sal opdroog. Die hoogmoed van Assirië sal tot' n val kom, die heerskappy van Egipte sal die wyk moet neem. 12) Ek, die Here, sal by my volk wees en hulle sterk maak. Hulle sal in my Naam voortgaan. Die Here het dit gesê.

      Ons gaan in hierdie gedeelte vandag kyk na die Here se voorsiening t.o.v. Sy volk
   se fisiese behoeftes (vv.1-2);
   se suiwering (vv.3-5);
   se bemagtiging (vv.6-12).

3.   DIE VOLK SE FISIESE BEHOEFTES (vv.1-2):
      Die volk het pas uit ballingskap terug gekeer en die land lê braak en onbewerk. Ten einde die landbou weer aan die gang te kry, het hulle reën nodig en daarom roep Sagaria die volk op om te bid vir reën - reën op die regte tyd en hy herinner hulle daaraan dat slegs God instaat is om reën op die regte tyd te verksaf, omdat Hy die Almagtige Skepper van wolke en reën is en hy beklemtoon hierdie feit, omdat die volk vantevore hulle tot afgode gewend het in tye van o.a. droogte - dit in teenstelling met God se belofte in Deut.11:13-14 ~ As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel, sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes.

      Sagaria gaan dan verder en sê in geen onduidelike taal, waarom die afgode nie kan help nie, want sê hy, dit is nie die waarheid nie - dit is bedrog; wat die afgodedienaars sê wat gaan gebeur, gebeur nooit nie; die waarsêers is vol leuens en drome wat gedroom word, realiseer nooit nie, wat meer is, hulle is ook nie instaat om die volk te vertroos nie en omdat die volk in die verlede hulle tot hierdie nuttelose gode gewend het, is hul gestraf en weggevoer in ballingskap - daarom is dit tyd dat die volk terugkeer na die Here en Hom vra om uitkoms te gee en Sy reën te laat val op die regte tyd, want net Hy en Hy alleen kan dit laat gebeur, omdat Hy die Skepper God is - Skepper van die wolke en die reën.

4.   DIE VOLK SE SUIWERING (vv.3-5):
      Vers 3 begin met die woorde, “…maar nou…” Met hierdie uitdrukking wil Sagaria sê, dat as gevolg van die afvalligheid en sonde van die volk - die feit dat die volk hulle gewend het tot afgode en derhalwe hul rug gedraai het op God, gaan Hy nou die situasie verander. In die lig van die afwesigheid van ware herders in Israel, gaan die Here n reinigingsproses van stapel stuur en gaan hy alle vals- en dwaalleraars verwyder en rekenskap eis van die voorbokke - letterlik, die leiers - hulle wat die voortou geneem het in die vals leer wat versprei is en wat die volk aangemoedig het om vals gode te raadpleeg vir reën en ander behoeftes. Let op: hierdie woord herders verwys nie net na die geestelike leiers nie, maar ook na die politieke leiers - almal in gesagsposiesies.

      God se voorneme in Eseg.34 om die geestelike en politieke  leiers onder die volk te straf oor die pastorale verwaarlosing en dwaalleer, gaan nou n realiteit word hier in Sagaria 10 - hoor wat het Esegiël geprofeteer ~ My kleinvee het rondgedwaal oor al die berge en oor al die hoë heuwels, hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na hulle gevra nie. " Daarom, herders, hoor die woord van die Here:" My kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef, "sê die Here my God," Ek sal die herders straf (Eseg.34:6-8).

      Die Here gaan egter nie net die volk se leiers straf vir hul dwaaleer nie, maar Hy gaan ook voosien in die volk se geestelike behoeftes - daarom dat Hy in v.3b sê ~ Ja, die Here die Almagtige het Hom die lot van sy kudde Juda aangetrek, Hy gaan hulle sy trotse oorlogsperd maak.  Hierdie is ook n vervulling van die belofte wat in Eseg.34:9-11 (en verder) gegee is ~ Hoor die woord van die Here, herders! So sê die Here my God:"Ek gaan optree teen die herders:Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak 'n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie." So sê die Here my God:"Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.

      Uiteindelik sal God afreken met alle heidense leiers en Sy volk geestelik restoureer en een ware Leier aan hulle gee en hierdie Leier sal oor drie leierskapseienskappe beskik:
   n Hoekklip: Daar is maar net een ware leier, nl. die Hoekklip
wat uit Juda kom - Jesus Christus (v.4). Met hierdie uitdrukking en verwysing na die Hoekklip, het ons te doen met waarskynlik die mees belangrike Messiaanse beeld in die ganse Bybel. DIe oorspronklike idee van hierdie beeld kan terug gevoer word na Jes.28:16 ~ So sê die Here my God: Ek gaan in Sion 'n klip neersit,' n uitgesoekte klip, 'n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie. Ook Ps.118:22-23 ~ Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë. Jesus het ook na Homself verwys as die Klip, toe Hy hierdie selfde Ps.118 in Matt.21:42 aangehaal het.

      In Hand.4:11-12 het Petrus ook verwys na Jesus as die steen, toe hy gesê het ~ Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.

      Petrus gaan nou in 1 Pet.2:4-5 voort en sê ~ Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om' n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

      In Ef.2:19-22 sê Paulus ~ Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete,' n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as' n geestelike huis waarin God woon.

      Sagaria sê dus vir die volk dat God hulle geestelik sal herstel en stabilitiet en sekuriteit sal gee en dít sal Hy doen deur die Messias (Jesus Christus) wat Hom en die volk sal saamsnoer, net soos wat n hoeksteen in n gebou, die mure saamvoeg en stabiltiet daaraan verleen. Die vorige herders het die volk weggelei van die Here af; die volk kon nie op hulle staamaak nie, maar die Hoeksteen wat God gaan stuur, sal n vaste vesting vir hulle wees.

   n Tentpen: Daar word ook melding gemaak van n tentpen in
v.4. Daar was destyds twee soorte penne waarna hierdie tentpen verwys het. Eerstes was daar die pen wat die tent m.b.v. n spantou aan die buitekant geanker het teen stormwinde (spesifiek in Bedoïne tente). Dit was hierdie selfde tipe pen waarmee Jael die vrou van Geber, Sisera vermoor het toe sy die pen deur sy slaap geslaan het (Rigters 4:21-22).
     
      Daar was egter ook n pen wat aan die binnekant van n tent of huis gebruik was, waaraan mense hul gereedskap, eetgerei of ander kosbare besittings gehang het (Eseg.15:3). Hier het Sagaria dalk Jes.22 in gedagte gehad toe die Here vir Jesaja gesê het om na die bose hoë amptenaar Sebna te gaan en vir hom te sê dat hy vervang gaan word met Eljakim en dan gaan Hy voort in v.23 en sê ~ Ek sal hom in sy amp bevestig, hy sal wees soos 'n spyker wat goed ingeslaan is, in sy amp sal hy die trots van sy hele familie word.

      Watter pen Sagaria hier in gedagte het is nie duidelik nie en dit maak ook nie regtig saak nie, want in beide gevalle verwys die pen enersyds na God se oordeel en vernietiging en net so sê Sagaria, gaan Jesus Christus al die bose leiers straf en vernietig, asook die boosheid wat hul omring het en Sy kinders sal in totaliteit herstel word. DIe Messias is andersyds, Almagtige God in wie die volk kan skuil; op wie hulle kan vertrou, omdat Hy onwankelbaar is - …’n pen wat in n vaste plek ingeslaan is (OAV).

   n Pyl en Boog:  Die pyl en boog in v.4 verwys ook na die Groot Vernietiger, die Messias Jesus Christus, wat die bose uiteindelik finaal gaan oorwin ~ Ek het gesien: daar was 'n wit perd. Sy ruiter het' n pyl en boog gehad. 'n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin (Openb.6:2).

      Uit hierdie gedeelte is dit dus duidelik dat die Here omgee vir Sy kinders - Hy ís in hulle midde en Hy suiwer hulle van bose leiers en herstel hulle geestelik en uiteindelik sal hulle ook oorwinning in en deur Hom ervaar - Hy die Ware en volmaakte Leier - Hy wie die volmaakte Hoekklip is; die onwankelbare Tentpen wat in n vasteplek ingeslaan is; die magtige Pyl-en-Boog.

5.   DIE VOLK SE BEMAGTIGING (vv.6-12):
      Die tema van ons laaste paar verse (vv.6-12) handel oor die volk se bemagtiging - God gaan hulle versterk en Hy gaan dit doen deur die twee koninkryke te herenig.

      Met die dood van Salomo in 931 v.C. het 9 Israeliese stamme hulle in die noorde gevestig en het bekend gestaan as Samaria, terwyl die stamme van Juda en Benjamin in die suide hulle gevestig het as Juda (die stam van Simeon het in die verre suide gebly).

      Die grootste en invloedrykste Noorder-stamme was dié van Manasse en Efraim en hulle was beide afstammelinge van Josef. Die Here sê nou in v.6 dat Hy Juda wat terugkeer uit ballingskap, na hul straf op hul sonde, weer sterk gaan maak deur Josef terug te bring en saam te voeg met Juda - bedoelende dat die Here die noordelike stamme weer sal herenig met die suidelike stamme - n belofte wat reeds in Eseg.37:15-28 gemaak is ~ So sê die Here my God: Ek vat die Josefhout wat staan vir Efraim en die Israelitiese stamme wat sy bondgenote is, en Ek sit dit teen die Judahout en Ek maak van die twee een stuk hout, sodat hulle in my hand een stuk is (v.19). Juda se redding lê dus opgesluit in die stam van Josef.

      God vergeet nie Sy kinders nie en Hy belowe om hulle genadig te wees, daarom dat Hy in v.6 sê ~ Ek laat hulle terugkom, want Ek is jammer vir hulle. Dit sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie. Die Amplified Bible stel dit baie mooi ~ I will bring them back and cause them to dwell securely, for I have mercy, loving- kindness, and compassion for them. Dit is hoe die Here voel oor hulle wie aan Hom behoort - vol genade en liefde en besorgdheid.

      Verse 8-12 verskaf aan ons meer detail oor hoe die Here  hulle gaan herstel en bemagtig en dit begin met n pragtige beeld, nl. ~ Ek sal vir hulle fluit. Skaapherders het gewoonlik hulle veë gelei  en geroep deur n deuntjie te fluit, of om op n fluit te speel en Sagaria wil met hierdie beeld sê dat die Here, die Groot Herder besig is om Sy kudde bymekaar te maak soos n skaapherder sy skape - Hy roep hulle byeen vanuit al die windstreke en al die skape wat sy stem ken, reageer positeif ip sy fluit-geroep.

      Dit is dus duidelik dat die Here Sy verbondskinders nie alleen  onthou nie, maar húlle sal ook Sy stem herken wanneer Hy hulle roep.

      In v.10 verwys die profeet na ander nasies (Egipte en Assirië wat al die nasies verteenwoordig) en sê dat die Here Sy kinders uit al die nasies waarheen hulle weggevoer is, sal terugbring en hulle sal soveel wees dat daar nie eers plek vir hulle sal wees in die grondgebied van Gilead en die Libanon nie. 

      Die opmerking in v.11 dat die volk deur die gevaarlike see sal trek en dat die golwe oorwin sal word en die Nyldieptes sal opdroog, verwys na die Israeliete se uittog uit Egipte en hul tog deur die Rooi See. Wat wil Sagaria hierdeur sê? Dat die Almagtige God wat die uittog uit Egipte kon orkestreer en wel op so n wyse dat selfs die natuur Hom nie kon stuit nie, dat Hy met dieselfde kragtige hand die heidennasies sal oorwin en hulle sal hul heerskappy verloor en daar sal dus niks in die pad staan van God om Sy kinders byeen te bring en vir Sy kinders om na Hom te kom nie.

      Geen nasie en geen natuurkrag sal dus oorweldigend genoeg wees om God daarvan te weerhou om Sy kinders bymekaar te maak en te herstel nie, daarom dat Sagaria in v.12 afsluit met die woorde ~ Ek, die Here, sal by my volk wees en hulle sterk maak. Hulle sal in my Naam voortgaan. Die Here het dit gesê.

6.   AFSLUITING:
      In hierdie profesie van Sagaria het ons te doen met kosbare beloftes aan God se kinders, wat Hy deur die Israeliete in Sagaria se tyd maak, maar ook wanneer ons die lyn deurtrek na die Kerk van ons Here Jesus, want net soos wat die Here Sy volk destyds byeen gebring het, net so bring Hy vandag nog al Sy uitverkorenes bymekaar, ongeag die moeilikhede en aanslae van hierdie wêreld - net soos wat Hy Sy volk uit Egipte en uit ballingsakp gebring en verenig het, net so bring Hy ons uit die duisternis en verenig Hy ons in Sy kerk,

      Dit blyk baie duidelik uit hierdie gedeelte waarna ons vanoggend gekyk het, dat Sagaria homself nie net blindstaar teen die feit dat God sy volksgenote met mekaar, maar ook met God gaan verenig nie, maar hy versit ook die horison van sy verwagting van die Lydende Messiaanse Koning wat sal kom, want dán sal God erken word as dié Koning, nie net in Jerusalem deur sy volk nie, maar ook deur die nasies, n boodskap wat ook in die Nuwe Testament weerklank vind.

      Net soos wat die Here Sy volk se lot vernader het, net so gaan Hy ons lot ook verander wanneer ons, ons tot Hom wend.

      Ons is as gelowiges saamgesnoer in Jesus Christus. Hy wat n vaste vesting vir ons is - net soos n tent in stormwind stewig geanker is, net so kan ons in Christus rus en ons vertroue in Hom stel. In Hom is ons stewig geanker teen die aanslae van die bose en die vlees - die voorwaarde is net dat ons met alles aan Hom  moet hang soos die volk van die Here destyds hul kosbaarhede aan die pen in die huis gehang het.

      Ons Pyl-en-boog, die Groot Vernietiger, Jesus Christus sal uiteindelik ook ons vyand, die satan, asook die sonde, finaal vernietig en ons volkome, geestelik suiwer en sal ons die finale oorwinning in Hom ervaar.


      Hy is voorwaar ons genadige en liefdevolle Vader en ons dank Hom dat Hy, Sy fluit ook tot ons gerig het en dat Hy ons instaat gestel het om daardie unieke uitverkiesende fluit te kon hoor, daarom eer ons Sy heilige Naam.

(Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente op 26 April 2015)