Tuesday, December 25, 2012

OM KERSFEES TE VIER OF NIE

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDING:

       Vir baie jare het ek persoonlik gewonder oor Kersfees – moet en/of mag gelowiges dit vier of nie. Ek het in die Gereformeerde kerk groot geword en ek was altyd as kind verward oor hierdie saak. Ons as familie het elke Kersfees by my oupa-hulle op Middelburg Kaap byeen gekom en dit was altyd ’n heerlike tyd van saam kuier en veral saam eet. Die etenstafel het Kersmiddag en-aand gekruin onder die kos en ek kan veral die koue, gerookte ham en koue pienk en groen sagopoedings met die handevol okkerneute daarin onthou – maar, Kersoggend is die hele familie eers na die plaaslike Gereformeerde gemeente toe – ons het almal in Joubertstraat af gestap, met ouma Kitty soos altyd, kiertsregop en met ’n spoed, aan die voorpunt. In die kerk het sy voor geloop en by die heel voorste bank gaan staan en ons het een na die ander ingeskuif – die voorste ry of drie in die kerk was oom Niklaas Stahl (my oupa se bynaam) en tannie Kitty se familie se rye – al 30 tot 36 van ons (my pa-hulle was 4 seuns en 4 dogters en almal was nie altyd daar nie)!

       Na die diens is ons huis toe vir die feesmaal, maar van geskenke en ek praat nie eens van ’n kersboom nie, was daar geen teken in die van der Walt familie se huis nie, want die Gereformeerde kerk het geleer dat dit verkeerd was. Die uitdeel van geskenke het egter gewoonlik op Oukersaand plaasgevind, máár by die huis van een van my aangetroude ooms, wat lidmaat van die N.G. Kerk was en wie se dorpshuis net om die draai van my oupa-hulle se huis was. Solank hierdie gebeurtenis net nie in die huis van ’n Gereformeerde ouderling was nie. Ek kan ook onthou hoe ek as klein seuntjie my verkyk het aan die reuse denneboom in my oom se agtertuin met sy dosyne gekleurde gloeilampe. By die een huis: Geen Kersboom. By die volgende huis: ’n Kersboom. Ek was ’n verwarde seuntjie en dit was vir baie jare die geval – tot ek getroud is met ’n lidmaat uit die N.G. Kerk en wat groot geword het met ’n Kersboom en die uitdeel van geskenke en sy het my stadig maar seker "ingebreek" en het ons ook ’n Kersboom in die huis begin kry en geskenkies uitgedeel op Oukersaand (waarom op Oukersaand sal ek ook nie weet nie).

       Intussen het my en my gesin se paaie gekruis met die Amerikaanse kultuur, toe ons middelste seun (Tommie) in die huwelik getree het met ’n Amerikaanse meisie (Allison – haar pa is ’n Gereformeerde Baptistepredikant nes ek) en ons het ook  verskeie ander Amerikaanse vriende en kennisse. Met ons kennismaking met die Amerikaanse kultuur, het ons agter gekom dat Kersfees, ’n nóg groter saak vir die Amerikaners is en dan spesifiek ook vir die Amerikaanse gelowiges.

       Ons hoor egter steeds talle stemme wat gedurig opgaan oor die viering van Kersfees en alles wat daarmee gepaardgaan – veral deesdae vanuit charismatiese kringe hoor ’n mens dit baie en word verskeie praktyke ongeverifieer toegeskryf aan die songod, Konstantyn en allerlei ander onbybelse praktyke en tradisies.

       Die vraag is dus: Om Kersfees te vier of nie? Is dit verkeerd, of mag ons maar? Weet ons wat die geboortedatum van Jesus is? Wat van geskenkies en ’n kersboom? Wat is reg en wat is verkeerd as dit kom by ons? Wat moet ons standpunt wees?

       Die Kersverhaal het mense deur die eeue heen so aangegryp, dat daar allerlei onbybelse verhale en gebruike ontstaan het en hoor ons liedjies in hierdie tyd in winkelsentra soos bv. "Little Drummer Boy" wat absoluut niks met die geboorte van Jesus te doen het nie. Ons sien oral ’n Kersvader met ’n lang wit baard en ’n bababedjie in ’n stal wat bykans toegesneeu is. Kerskaartjies is die eerste keer in 1846 gebruik en die sakewêreld het Kersfees uitgebuit vir ekonomiese doeleindes. Bitter min van hierdie dinge wat ons vandag in die wêreld sien t.o.v. Kersfees, het enige iets te doen met die Bybelse verhaal van Jesus se geboorte en het Kersfees werklik ’n mengelmoes van Bybelse waarhede, heidense idees, volksmitologie, en ekonomiese voordeel vir handelaars en vervaardigers geword. Kom ons kyk egter wat sê die Woord hieroor, want dit moet tog ons enigste vertrekpunt wees.


2.    SKRIFLESING:
Lukas 2:1-20 ~ In daardie tyd het keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe. 4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. 8Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.” 13Skielik was daar saam met die engel ’n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: 14“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het! 15Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.” 16Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. 17Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. 19Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. 20Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

3.    KERSFEES - JA:
       V.7 skets aan ons die toneel ~ Sy het haar Eerstelingseun
in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Ons sien die moeder van Jesus, Maria, hier waar sy Jesus in die wêreld bring en self die doeke om Hom draai – daar is geen vroedvrou of dokter nie – niemand om haar te help nie – ’n mens kan selfs wonder waar Josef op daardie oomblik was. Wat meer is, daar was nie eers ’n bababedjie vir Jesus nie en Maria lê Jesus neer in die diere se krip – Jesus word gebore in die mees armoedige, eenvoudigste en waarskynlik mees afkeuringswaardige plekke en omstandighede denkbaar.

       Die res van die verhaal beskryf vir ons die ervaring wat die skaapherders ervaar het – hulle word gekonfronteer met ’n skrikwekkende ervaring – ’n engel verskyn aan hulle (v.9)! Skaapherders was in daardie dae gesien as van die laagste sosiale wesens in die samelewing en tog kom die engel en hy verskyn aan húlle, met die wonderlikste nuus denkbaar ~ ...ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! Die koms van die lang verwagte Messias, die Lam van God, word bekend gemaak aan die eenvoudige herders!

       Hierdie herders het daardie selfde nag nog gegaan om Jesus te sien (vv.15-17). Hulle hou nie hierdie nuus vir hulleself nie ~ ... Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het (v.17). Wat interessant is, is dat ons nêrens lees van ander mense wat na Jesus gaan kyk het nie – selfs ook nie nadat hulle hierdie nuus van die herders aangehoor het nie. Die Redder is in hulle midde gebore en hulle gaan kyk nie na Hom nie – dit is bykans ondenkbaar en tog is dit presies wat ook maar in ons dag gebeur, nie waar nie? So min steur hulle werklik aan die Verlosser!

       Ons as gelowiges is egter pynlik bewus van die feit dat ons Redder wel gebore is en in teologiese taal praat ons van die vleeswording (incarnation) van Jesus Christus en in hierdie dae rondom Kersfees, word ons aandag veral gevestig op Sy vleeswording (of ons kersbome het of nie) en die belangrikheid daarvan, en daarom dink ek nie dit is hoegenaamd verkeerd om in hierdie tyd spesiaal aan God se Genadegeskenk aan ons (Jesus), te dink nie, trouens ek dink dit is baie belangrik dat ons dit sal doen en dat ons nie nét op Jesus se kruisiging en opstanding sal dink nie (hoe absoluut belangrik dit ook al mag wees), maar ook aan Sy vleeswording, want deur Jesus se vleeswording – Sy geboorte, het God Sy reddingsplan fisies in aksie gestel. Hy het egter ook o.a. deur Jesus se geboorte en die res van Jesus se lewe hier op aarde, Homself aan ons bekend gemaak en kon gelowiges deur Jesus se vleeswording, voortaan, gemeenskap met Hom hê en verenig word met Hom.

       Jesus se vleeswording was o.a. ook noodsaaklik t.w.v. Sy amp as Voorspraak (intercessory ministry) – Hy het waarlik een met ons geword, maar sonder sonde en Hy het al die versoekings en beproewinge ervaar wat ons maar kan ervaar en daarom kan Hy volmaak en volledig empatie met ons hê en volmaak intree by die Vader vir ons. Jesus word vir ons beskryf as ~ ...’n hoëpriester wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele (Hebr.7:26). Die Hebreërskrywer gaan voort en verseker ons dat... ~ Die Hoëpriester wat ons het, nie Een (is) wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebr.4:15). 

       As ons dan sien dat Jesus se vleeswording, nie alleen noodsaaklik was nie, maar ook uiters belangrik t.w.v. die Evangelie, dan is dit seker niks minder as reg om te sê dat dit vir ons as gelowiges net so belangrik is om Christus Jesus se vleeswording te vier. Ons kan dus sê: Kersfees - Ja! Terloops: Die Afrikaanse vertaling vir "Christmas" is nie vir my aanvaarbaar nie, want dit laat ’n mens te veel dink aan ’n wêreldse "kersfees" en daarom verkies ek om eerder te verwys na "Christusfees".

       As ons dus vra wat is Kersfees, sou ek dit soos volg stel: Kersfees is ’n viering van die vleeswording van Christus Jesus.

4.    25 DESEMBER:
       As ons dan die Christusfees vier moet ons tog sekerlik ook vra wanneer ons dit moet vier? Uit die staanspoor moet ons deeglik kennis neem van die feit dat daar baie "verklarings" is vir die datum van 25 Desember en meeste daarvan is ongegrond en mense wat bepaalde standpunte daarvoor of daarteen het, sal baie maklik as rede vir hul standpunt aanvoer: ...Omdat my dominee of pastoor so sê. Dit is egter nie genoeg nie, trouens dit is nie hoe ’n mens met standpunte en oortuigings behoort om te gaan nie.

       Voorts is daar geen aanduiding in die Woord van God van ’n spesifieke datum waarop Jesus gebore is nie – selfs nie eens ’n presiese jaartal nie. Ons moet ook daarop let, dat ons fokus eerder op die teologiese betekenis van die Kersverhaal in o.a. Lukas gevestig moet wees, eerder as om ’n datum uit die teks te probeer "wurg".

       Daar bestaan ook geen verwysing na Kersfeesvierings in die geskrifte van die vroegste Christen skrywers nie, trouens skrywers soos Irenaeus (130-200 n.C.); Tertullus (160-225 n.C.) e.a. het so ver gegaan as om die Rooms Katolieke gebruik om mense se verjaarsdae te vier, as heidens af te maak. As ons op hierdie gronde nie Kersfees mag vier nie, mag ons ook nie mense se verjaarsdae vier nie!
      
       Teenoor Jesus se geboorte, is daar baie duidelike en gedetailleerde beskrywings van Jesus se kruisiging en opstanding, nl. die 14de van die Hebreeuse maand Nisan (of Abib) en kan ’n mens selfs op grond van 1Kor.5:7-8 ’n sterk saak daarvoor uitmaak dat ons ’n Bybelse opdrag het om Paasfees te vier, trouens dit is ’n fees wat reeds gedurende die middel van die tweede eeu na Christus deur gelowiges gevier is ~ Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. 8Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid. Wat ook interessant is, is dat daar reeds gedurende die 2de eeu, in die Apokriewe boeke, opdrag gegee is dat Jesus se dood (die Paasfees) gedenk moet word (Die Sendbrief aan die Apostels). Gedurende hierdie selfde tyd is al meer vrae gevra en inligting "verskaf" oor die geboorte van Jesus. Tog is die Apokriewe boeke nié gesaghebbend en deel van die kanon van die Skrif nie.

       Waarskynlik die eerste datums wat verstrek was deur enige persoon, was deur Clement van Alexandrië wat in 200 n.C., verskeie moontlike datums gemeld het, nl. 21 Maart; 15 April; 20 April; 21 April; 20 Mei en 28 Augustus en ironies genoeg – hy het 25 Desember glad nie eens genoem nie.

       Gedurende die 4de eeu was twee datums hoofsaaklik gebruik om Jesus se geboorte te vier, nl. 25 Desember (in die westelike Romeinse state) en 6 Januarie (veral in Egipte en Klein Asië). 25 Desember was egter uiteindelik deur die vroeë Christene as die geboortedag van Jesus aanvaar, terwyl 6 Januarie uiteindelik die Driekoningfees geword het wat die koms van die Wysemanne na Bethlehem gedenk het (dit is o.a. een van die redes waarom bygelowiges glo dat daar slegte dinge met mense gebeur indien hul Kersbome eers ná 6 Januarie verwyder word!).

5.    VERSKEIE TEORIEË:
       Die vraag is, hoe het die vroeë gelowiges by 25 Desember uitgekom? Daar bestaan verskeie teorieë:
·           Dit het ’n heidense oorsprong. Die Romeine het gedurende die middel van Desember (waarskynlik die 17de), ’n fees gevier wat Saturnus as god gehuldig het en wat meer is, in 274 n.C. het die Romeinse keiser Aurelia ’n fees op die 25ste Des. begin vier, om die geboorte van "Sol Invictus" ("die onoorwonne son") te gedenk en op grond hiervan, het mense die afleiding gemaak dat Kersfees ’n uitvloeisel van hierdie heidense feesdae is en het die vroeë Christene hierdie datum gekies ten einde die gedagte aan Kersfees en die verkondiging van die Evangelie deur die Romeinse Ryk, aan te moedig. Mense wat hierdie argument aanvoer, beweer dat heidene meer aangetrokke sou voel tot die Christendom, indien Kersfees soos ’n heidense fees gelyk het.

       Nog ander teorieë beweer dat 25 Desember voortgespruit het uit allerlei ander heidense feeste. So is daar bv. heidense feeste gedurende die koue Desemberwinter gehou ten einde die gode gelukkig te maak, voor die lente en somer en plantseisoen aanbreek. Hierdie feeste het gepaard gegaan met allerlei orgies en afgodsaanbidding. Behalwe vir die Romeine en hulle "Sol Invictus", waartydens klein afbeeldings van die bepaalde god aan mekaar gegee is as geskenke en hulle groen, saamgevlegte takke oral in die huis gehang het om die bose geeste weg te hou (is dit waar die Amerikaanse "wreath", of blommekrans vandaan kom?), het die barbaarse- en antieke Noordlande, die "Yule-fees" gevier, waartydens die afgode Odin en Thor vereer is. In die Ooste en Persië is Mithra, die god van lig aanbid. In die huidige Engeland, het die Druïde ("the Druids") vreemde demoniese aktiwiteite en priesterlike aanbidding nagevolg, ens. Terloops, hierdie feeste in Engeland word tot vandag toe nog in sekere kringe gevier! Al hierdie heidense feeste het gedurende Desember plaasgevind.

       Ten spyte van die gewildheid van hierdie argumente, vind ons steeds geen verwysing hierna in enige vroeë Christelike skrywes nie, trouens die eerste verwysings na die viering van Kersfees het plaasgevind gedurende ’n tyd (250 - 300 n.C.), toe gelowiges juis nié gesteun het op, of geleen het van heidense gebruike en tradisies nie – en dít is betekenisvol – wat meer is, dit was eers gedurende 601 n.C. dat daar die eerste keer kompromie gemaak is deur pous Gregorius die Grote met heidense feeste en tradisies. Dit was ook eers gedurende die 12 de eeu dat die eerste suggestie gemaak was, dat die viering van Jesus se geboorte doelbewus gekies was om saam te val met die heidensefeeste.

       Hierdie eerste argumente t.o.v. die oorsprong van 25 Des., hou dus nie water nie.

·           ’n Volgende argument gaan oor die datums waarop Jesus tydens Paastyd, aan die kruis gesterf het en aan die anderkant, die datum waarop Maria bevrug is (Sy konsepsie dus).

       Soos reeds gemeld, is Jesus op die 25ste Maart gekruisig (Tertullus van Kartago). Daar word aanvaar dat Jesus op dieselfde dag verwek is, as waarop Hy gekruisig is (die 25ste Maart dus) en dit impliseer dus dat Hy nege maande later op die 25ste Desember gebore is. Augustinus het ook hierdie mening in sy bekende werk oor die Drie-Eenheid (399-419n.C.) gehuldig. Hierdie teorie "klink" vir my die naaste aan die waarheid en ek sal hiermee volstaan.

       Nog twee argumente wat ek graag met u wil deel, is die volgende:
·           Indien die 25ste dan die werklike datum van Jesus se geboorte is (en dit lyk voorwaar so), hoe moet ons die herders en skape in v.8 van ons Skriflesing verklaar? Desember weet ons, is dit winter in Israel en gedurende die wintermaande word skape op stal gehou – hoe klop die aankondiging van die herders dan met ’n datum soos die 25ste?

       Die een verklaring lui soos volg en ek wil vir geen oomblik sê dat hierdie verklaring outentiek is nie, maar dit is die enigste verklaring wat ek kon vind wat die naaste aan ’n aanvaarbare verklaring is: Gedurende Desember kry Israel gewoonlik hul meeste reën en is die veld grasgroen gedurende die laaste twee weke van Desember. Ook geniet Israel ’n baie matige temperatuur gedurende hierdie tyd en benut die herders dan gewoonlik hierdie situasie om hul skape te laat wei.

·           Nog ’n interessante motivering handel rondom Elisabet (moeder van Johannes die Doper). N.a.v. 1 Kron.24:10, het Dawid, opdrag gegee dat die 8ste orde van priesters – dié van Abia, gedurende die vierde maand van die jaar (Julie), diens in die Tempel moes verrig. In Luk.1:5 sien ons dat Johannes die Doper se pa, deel van die orde van Abia was en het hy dus sy diens in die Tempel gedurende Julie verrig. Nadat hy sy priesterdiens aan die einde van Julie voltooi het, het sy vrou Elisabet swanger geraak (Luk.1:24) – konsepsie het dus óf gedurende Augustus óf gedurende September plaasgevind en haar eerste maand was dus September of Oktober. In Luk.1:26 lees ons dat Maria in Elisabet se sesde maand swanger geraak het. Maria se eerste maand was dus gedurende Maart of April en haar negende maand was óf November, óf Desember.

6.    RAAK NIE, SMAAK NIE, ROER NIE AAN NIE :
       Indien hierdie verduidelikings die waarheid is, verskaf dit genoegsame rede vir ons om die geboorte, of liewer die vleeswording op 25 Des. te vier en indien hierdie redenasie ook net ’n "feëverhaal" is, behoort ons as gelowiges, soos ek reeds vroeër aangetoon het, steeds "Kersfees" te vier.

       Ek wil herhaal wat ek vroeër gesê het, nl. dat Kersfees ’n viering is van die vleeswording van Christus Jesus en dit is die gedagte wat ons moet koester en gedenk tydens Kersfees en of die wêreld nou die maan op daardie dag aanbid, of ’n stuk stomp langs die Vaalrivier, waarom moet ons, net omdat hulle moontlik sulke aktiwiteite op die 25 ste Desember voer, nie Kersfees – ons Christusfees nie ook op dieselfde dag vier nie? As ons nie mag nie, moet ons ook nie verjaarsdae vier nie (want dit het ’n heidense oorsprong) en moet ons ook nie op enige dag van die week eredienste hou nie, of inkopies doen nie, want op al die dae van die week is die wêreld besig om bv. die afgod Mammon (geldgod) te aanbid, ens.

       Geliefdes, Paulus waarsku in Kol.2:20-23, wanneer hy o.a. ’n pragtige uitdrukking gebruik (in die O.A.V.), nl. ...raak nie, smaak nie, roer nie aan nie... ~ As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? — almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan—volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ’n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees (O.A.V.).

       Wanneer dit kom by Kersfees, moet ons versigtig wees om nie te verval in allerlei vrae rondom die datum en geskenkies, ens. nie, want dan bevind ons onsself juis in ’n posisie waarteen Paulus hier in Kolossense waarsku – ’n mensgemaakte godsdiens!
      
       In Rom.14:1-12 stel Paulus dit baie duidelik, dat dit aanvaarbaar is vir gelowiges om vakansiedae te vier, hoewel dit nie vereis word nie (sien veral vv.5-6).

       Ons as gelowiges moet versigtig wees alvorens ons andere veroordeel wat vakansiedae onderhou (ook Kersfees), of nié onderhou nie (Kol.14:1-4). Gelowiges het m.a.w. die vryheid om te kies, of hulle bepaalde feesdae onderhou al dan nie (v.5).

       Daar is egter een uiters belangrike voorwaarde wanneer gelowiges, feesdae onderhou (ook Kersfees dus) en dit is dat daardie feesdag tot eer van ons Here Jesus Christus gehou sal word – vers 6 van Rom.14 ~ Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.

       In die lig hiervan moet ons daarom ook op Kersdag, ons aandag fokus op die vleesgeworde en gekruisigde Jesus, maar ook op die opgestane Christus – dit moet ons fokus wees en nie die geskenke en die liggies en alles wat baie dikwels gepaard gaan met ons Christusfees nie.

       Kersbome en geskenke? Dalk moet ek net volstaan deur te sê dat dieselfde redenasie t.o.v. heidense oorspronge en hoe ons dit sien en hanteer, ook hier van toepassing is – solank Christus Jesus sentraal staan en Hy en Hy alleen verheerlik word. Kom ons praat egter D.V. 25 Desember 2013 daaroor!

Mag u en u familie vandag ’n wonderlike en geseënde Christusfees ervaar!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Dinsdag 25 Desember 2012.