Sunday, October 21, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 14 ("Bewaar Jou Kosbare Pand")


1.    SKRIFLESING:
       Hebr.6:4-12 ~ Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting. 7Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. 8Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur. 9Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter: dat julle gered sal word. 10God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. 11Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. 12Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

2.    INLEIDING:
       Ons het verlede week gesien dat die Hebreërskrywer sy lesers gekonfronteer het en vir hulle gesê het dat hulle geestelik onvolwasse is (5:11-6:3). In vandag se gedeelte sal ons sien dat hy sy lesers waarsku en vir hulle sê dat hulle in gevaar verkeer (6:4-8), maar hy volg die waarskuwing op, deur vir hulle te sê dat hy vertroue in hulle het dat hulle nie uit die geloof sal val nie (6:9-12) en ons sien dit o.a. in die manier waarop hy sy lesers aanspreek as "geliefdes" (v.9). Hy praat dus nie hier met vreemdelinge, of met ’n groot groep mense waaronder daar ’n klomp minder bekendes, of selfs vreemdelinge is nie. Nee, hy praat met individue; met vriende en hy praat individueel met hulle, net soos wat Jesus individueel by elkeen van ons betrokke is.   

       Ek wil vanoggend se boodskap n.a.v. Hebr.6:4-12, die volgende titel gee: "Bewaar Jou Kosbare Pand". Ons ken almal ’n pandjieswinkel – dit is ’n besigheid waar jy van jou besittings kan gaan ingee en die eienaar ken dan ’n waarde daaraan toe en jy ontvang dan daardie waarde in kontant. Die voorwaarde waarop hierdie besighede egter onder die wet bedryf moet word, is dat jy ’n waarborg (of pand) in geskrewe vorm ontvang, wat waarborg dat jy binne ’n sekere tydperk jou besittings wat jy verpand het, kan terug kry, met die voorwaarde natuurlik, dat jy die kontantbedrag wat jy daarvoor ontvang het, sal terug gee aan die eienaar van die pandjieswinkel. Die Afrikaanse Verklarende Woordeboek beskyf die woord "pand" o.a. soos volg: Dit is ’n gewaardeerde besitting wat in pand, as waarborg gegee word.

       Die kruks met so ’n transaksie is dus dat jy jou "pand" baie deeglik moet bewaar, anders kan jy nie jou besittings terugkry as jy dit weer wil hê nie.

3.    DIE GELYKENIS VAN DIE SAAIER:
       Omdat hierdie gedeelte in Hebreërs moeilik is om te verstaan, wil ek dit graag aan die hand van die "Gelykenis van die Saaier" verklaar[1] (Matt.13:1-23; Mark.4:1-20 en Luk.8:1-15). Ons gaan egter nie hierdie volledige gelykenis nou saam lees nie, omdat ons dit goed ken en ek gaan dus net vlugtig daarna verwys – in hierdie geval sal ons weer sien dat Skrif, Skrif verklaar.

       Die "Gelykenis van die Saaier" leer ons dat wanneer God se Woord gedeel en verklaar word, daar altyd verskillende reaksies daarop sal wees:
·           Eerstens is daar diegene wat die Woord hoor, maar op wie die gepredikte Woord, geen effek het nie - Mark.4:14-15 ~ Die saaier saai die woord. 15Daar is mense by wie daar soos op ’n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is.
·           Dan is daar tweedens, die mense wat die Woord aanhoor en selfs entoesiasties daarop reageer, net om kort daarna koud en kil daarteenoor te staan en hul rug daarop te draai – een van die redes is dat hulle besef dat die prys wat betaal moet word vir dié pad, nét té groot is en hulle sien nie daarvoor kans nie – hoeveel keer het ons dit nie maar ook in ons eie gemeente gesien nie – besoekers wat kom en na ’n rukkie maar net weer verdwyn en wanneer jou pad later weer met hulle s’n kruis, sien jy maar net dat daar geen vrug in hul lewe is nie, trouens in baie gevalle is die verval maar net nóg groter. Mark.4:16-17 ~ Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan. 17Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig.
·           Derdens is daar diegene wat die Woord hoor, dit aanvaar en dit het werklik ’n langtermyn effek op hul lewens – Mark.4:18-19 ~ Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, 19maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. In hierdie geval ontkiem die saad en daar vind groei plaas en alles lyk oënskynlik reg en goed, maar uiteindelik raak dit duidelik dat die persoon besig is om al hoe kouer en kouer te word – iets is verkeerd. Dit wat aanvanklik so belowend gelyk het, raak uiteindelik verstrengel deur die onkruid van hierdie wêreld en word daar al meer en meer kompromie met die wêreld en al sy versoekings gemaak – uiteindelik "verlep en sterf hierdie plantjie."
·           Laastens kry ons diegene wat die Woord hoor; dit met blydskap en opgewondenheid ontvang en wat die Evangelie van Jesus Christus, koester en laat groei – Die Woord van God het ’n lewenslange impak op hul lewens. Die saad ontkiem; die plant groei en dra uiteindelik vrug – en die volgende seisoen en die seisoene daarna dra dit weer en weer vrug – Mark.4:20 ~ Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.
      
       Ons moet hierdie gelykenis in gedagte hou wanneer ons na ons Skrifgedeelte van vanoggend uit Hebreërs kyk en dan veral vv.4-8 en in die besonder vv.7-8, want dit beskryf vir ons die derde persoon in Jesus se gelykenis – kom ons lees net weer vv.7-8 ~ Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. 8Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.

       In die eerste twee gevalle van Jesus se gelykenis, sien ons dat die saad, óf deur die voëls opgevreet is; óf die plante het kort en swak worteltjies gehad; óf die plantjies het te vinnig gegroei; óf die son het die plantjies verskroei en is uiteindelik dood. In lg. twee gevalle, is dit egter nie van toepassing nie, trouens in beide gevalle het die plantjies ontkiem en wortel begin skiet en beide het sterk begin groei – maar ongelukkig, tot op hierdie stadium was dit dieselfde, totdat die plantjie weer en weer saad moes vorm en vrug moes dra.

       Met dit in gedagte, kom ons kyk nou weer na Hebr.6:4-5 ~ Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het. U sal met my saamstem dat hierdie ’n baie mooi beskrywing is van die vierde persoon in Jesus se gelykenis – die een op wie die Evangelie ’n lewenslange en lewensveranderende impak gehad het – hy is verlig; hy ontvang die gawe van die Heilige Gees (wedergeboorte); hy geniet dit om na die Woord te luister en dit bou hom geestelik op en rig sy lewe; hy ontwikkel ’n ewigheidsperspektief, ens. In kort, hierdie man is waarlik wedergebore – ’n opregte gelowige.

       Verse 4-5 beskryf ook vir ons die derde persoon in Jesus se gelykenis. Hy het "verligte oë" ontvang; hy het ’n baie definitiewe geestelike ervaring gehad wat hom in staat gestel het om die waarheid van die Evangelie raak te sien. Hy het kennis gemaak met die werkinge van die Heilige Gees en hy het selfs die Woord gelees, Bybelstudies bygewoon en die gepredikte Woord geniet en ja, hy het selfs die ...kragte van die toekomstige wêreld ondervind – maar helaas, net vir ’n tyd lank, want dit is hier waar die ooreenkoms van die twee wat in vv.4-5 beskryf word, eindig! Onsigbare kloue het hierdie derde man terug getrek na die wêreld toe.

       Die verskil tussen hierdie twee het mettertyd duidelik geword – die derde man se grond waarop sy saad geval het, was uiteindelik oortrek van die onkruid en niks anders kon daar groei nie – dit was goed vir niks – dit wat moontlik nog kon vrug dra, het uiteindelik ook gesterf.

Ons vierde man bly groei in die Woord, soveel so dat die Hebreërskrywer se woorde in Hebr.5:12-14 nie meer op hom van toepassing is nie – daar waar die apostel vir sy lesers sê dat hulle al op daardie stadium in hul geestelike lewe al onderrig behoort te gee, maar dat hulle steeds gevoed moet word op melk – hierdie vierde man kán al onderrig gee. Wanneer hy gly op die pad, keer hy elke keer terug na Jesus, wat Hom optel en weer stewig, terug op die pad plaas.

Dit is in so 'n skrille kontras met die derde man – toe hy begin "gly", het hy homself nie na Jesus gewend nie, en het hy buite beheer terug in die wêreld ingegly, trouens hy het op die ou einde gekies om te val – om sy rug op Jesus Christus te keer! Wat in werklikheid gebeur, word vir ons in vv.5-6 van Hebr.6 beskryf ~ Vi hierdie man wat ...die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting. Hierdie man het sy hart verhard en hy span saam met die vyand en kruisig Jesus opnuut! Hy word ’n skandvlek op die naam van Christenskap en mense in die wêreld sal sê: Hy was mos ’n Christen en kyk nou – Jesus het niks vir hom beteken nie en waarom sal Jesus vir ons iets beteken!

Vir "nommer vier" is die belofte in v.7 waar, nl. ~ Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën, maar v.8 is tegelykertyd waar van die derde man wat vir ’n tyd lank "die pad geloop" het en toe terug geval het ~ Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur – hoor u, ... Die uiteinde daarvan is die vuur!

4.    SONDE TEEN DIE HEILIGE GEES:
Uit hierdie gelykenis van Jesus blyk dit dus duidelik dat die laaste twee persone oënskynlik beide na verlostes in Jesus Christus lyk, maar dit is baie duidelik dat die bewys vir kindskap nié lê daarin, of jy alles reg doen nie; of jy die Woord goed ken nie; of jy allerlei "geestelike belewinge" ervaar nie – nee, die bewys vir enige iemand wat daarvan getuig dat hy wederbaar is, lê in die vrug wat hy in sy lewe dra en of hy geestelik volhard tot die einde toe.

       Wat leer ons uit hierdie gelykenis en uit hierdie gedeelte van Hebreërs vanoggend?
·           Vv.4a, 6a en 8b  ~ Wanneer mense een keer deur God verlig is, (v.4a) ...en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring (v.6a)... Die uiteinde daarvan is die vuur (v.8b). Waarom is dit hulle uiteinde? Omdat hulle gesondig het teen die Heilige Gees – Jesus is baie duidelik hieroor, wanneer Hy in Mark.3:28-29 sê ~ Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. 29Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde. Sonde teen die Heilige Gees kan en sal nooit vergewe word nie. Jesus het hierdie woorde gespreek nadat die skrifgeleerdes, wat sy wonderwerke aanskou het, nogtans gesê het dat Hy van Beëlsebul (die duiwel) was – hulle het gesondig teen die Heilige Gees, want Jesus het in die krag van die Heilige Gees daar opgetree, toe Hy die demone verdryf het en nogtans maak hulle ’n bespotting van Jesus.

       Ons moet besef dat geloofsversaking ("apostasy"), nie afvalligheid ("backsliding") is nie – Sonde kan en sal vergewe word wanneer gelowiges dit bely, maar sonde teen die Heilige Gees kan en sal nooit vergewe word nie.

·           Tweedens moet ons besef dat almal wat "Here, Here" roep, of wat God in Sy almag sien optree en selfs daarvan getuig, nie noodwendig gered is nie. Dink aan die Israeliete wat God male sonder tal sien optree het, maar steeds God versaak het en nie hul oë gevestig het op die komende Messias vir hul redding nie. Dink aan koning Saul van Israel, of Judas Iskariot – dít is sonde teen die Heilige Gees.

·           Ons moet ook nie dink dat hierdie woorde van die Hebreërskrywer té erg is om vir mense in en van die wêreld te sê nie – die wêreld moet hierdie boodskap hoor! Die Woord van God is vol voorbeelde waar sulke mense by die naam genoem word en waar hulle ook gewaarsku word – ons het pas gesien dat Jesus dit met die Skrifgeleerdes gedoen het. Dit is ons as gelowiges se verantwoordelikheid om dit vir mense in en van die wêreld te sê – ons moet hulle waarsku, voor dit te laat is. Ons weet nie hoe ver iemand nog kan val voor dit te laat is nie en daarom moet ons uitgangspunt een wees van, dit is nooit te laat om iemand te waarsku nie. Behalwe natuurlik wanneer mense God die Heilige Gees openlik belaster (sien bv.: https://www.facebook.com/groups/13902175611547), maar teenoor sulkes behoort ons steeds nie te swyg nie en moet ons hulle waarsku en stilmaak.

·           Laastens is hierdie verkriklike gedagte en feite tog geweldig vertroostend vir elke gelowige, want indien jy bang sou wees dat jy dalk op ’n stadium teen die Heilige Gees gelaster/gesondig het, maar jy aangespreek voel daaroor en/of jy voortdurend ná sonde en belydenis, jou verootmoedig en God se genade en vergifnis soek en jy met nuwe ywer terugkeer na die Here, is dit bewys dat jy nié teen die Heilige Gees gelaster het nie. Godloënaars wil nie bely en vergifnis vra nie; Godloënaars wil God nie met ywer dien nie!

       Die feit van laster teen die Heilige Gees en dat diesulkes nie gered sal word nie, hou egter verdere vertroosting vir ons as gelowiges in, want wanneer ons die innerlike getuienis van die Heilige Gees ervaar en weet dat ons weet dat ons in en deur Jesus Christus gered is, kan ons met vreugde en opgewondenheid en afwagting en sekuriteit, uitsien na die ewigheid, want soos wat Paulus in Rom.8:35-37 tereg vra, kan ons ook bevestigend daarop antwoord ~ Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.

5.    KOMMER:
       Vers 9-12 van Hebr.6 sluit af met wonderlike en bemoedigende woorde. Die skrywer sê in v.9 dat hy wel hierdie donker prentjie aan sy lesers (en aan ons) geskets het, maar sê hy ~ ... oor julle (is ons) oortuig van beter: (nl.) dat julle gered sal word. Hoe weet die skrywer dat sy lesers wel gered is? Ons vind die antwoord in v.10 ~ Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie.
      
       Hulle dra vrug in hulle lewe – dít is waarom die skrywer weet dat hulle wel gered is. Ja, die jong gelowiges en bekeerlinge uit die Jodedom was geestelik baie onvolwasse en baie het selfs daaraan gedink om terug te keer na die Judaïsme en daarom was dit nodig dat die apostel hierdie waarskuwings tot hulle rig, maar aan die anderkant het hulle lewens dermate verander dat hy geweet het dat hy sy waarskuwings rig tot ware gelowiges (Kol.1:8).

       Daar is egter tog nog steeds ’n mate van kommer by die apostel, nl. dat daar wel gemeentelede mag wees wat die skyn van heiligheid om hulle het – mense wat deel uitmaak van daardie groep, maar wie se saad tussen die onkruid gesaai is – as u wil – mense wie se huise op die sand gebou is en wat presies dieselfde lyk as diegene wie wederbaar is, maar wie se huise ineenstort wanneer die storms opsteek – wie se lewens nie stewig op die Rots, Jesus Christus gevestig is nie. Nie een van ons weet regtig wie in ons midde sit wat nie waarlik gered is nie – net die Here weet dit – daarvoor is  2 Tim.2:19 té duidelik ~ Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid.

6.    AFSLUITING:  
       In die lig van hierdie moontlikheid wat tog bestaan, skryf die apostel in vv.11-12 en sê hy ~ Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. 12Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

       Wat sê die apostel hier? Hy sê vir hulle: "Ek het julle gewaarsku dat indien julle omdraai en terugkeer na die Judaïsme (of die heidendom) julle moet weet dat julle verlore is, maar op grond van die werke en vrug in julle lewe, is ek egter oortuig daarvan dat julle wel gered is, maar tóg – tóg, van tyd tot tyd wonder ek en bekommer ek my oor sommige van julle se redding en daarom pleit ek by julle – lê elke dag vir die res van julle lewe dieselfde ywer aan die dag as vroeër en moenie traag raak nie, maar werk julle eie heil, met vrees en bewing uit"  (Fil.2:12).

       Dit wat ek hier geparafraseer het, is die punt van hierdie gedeelte waarna ons vanoggend gekyk het, maar in baie opsigte is dit ook die sentrale boodskap van die hele Hebreërbrief – dit is ook wat ek vanoggend vir elkeen van julle wil sê en wat elkeen van ons vir mekaar behoort te sê. "Bewaar Jou Kosbare Pand!"



[2] LET ASB. DAAROP dat ek in hierdie boodskap, BAIE swaar gesteun het op Stuart Olyott se verklaring van hierdie Skrifgedeelte uit Hebreërs!

Sunday, October 14, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 13 (Strewe na Geestelike Volwassenheid)




Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDEND:
       Toe ons met die Hebreërbrief begin het, het ek gesê dat hierdie brief verskeie waarskuwings bevat wat gerig was tot die Jode wat op die punt gestaan het om gelowige Christene te word, maar ter gelykertyd word hierdie waarskuwings ook gerig tot die Joodse gelowiges – enersyds om hulle te waarsku teen geestelike verval, maar andersyds ook as bemoediging om te volhard op die geloofpad waartoe hulle deur Jesus Christus geroep is. Hierdie bemoediging was nodig, omdat hierdie jong gelowiges onder geweldige druk verkeer het om te swig onder die versoeking om terug te keer na die Judaïsme, a.g.v. kritiek, twyfel en veral vervolging. Die primêre motief met hierdie waarskuwings is egter om die ongelowige Jode wat die Evangelie gehoor en geken het, te waarsku.

       Ons het die eerste waarskuwing in 2:1-4 gekry, waar dit gegaan het oor die verwaarlosing van die Evangelie en die tweede was in 3:7-10 wat die verhardheid van hul harte aangespreek het.

       Die derde waarskuwing wat ons in vandag se Skriflesing aantref gaan oor geestelike onvolwassenheid en word steeds gerig tot Jode wat waarskynlik al heelwat kennis dra van die Evangelie en sommige mag selfs al iets van ’n belydenis t.o.v. ’n geloof in Jesus Christus gehad het, maar wat hulleself nog nie volkome oorgegee het aan ’n volwaardige geloof in Christus Jesus nie. Die Hebreërskrywer wil nou vir hulle (en natuurlik ook vir die gelowige Jode) vertel van die gevaar wat daaraan verbonde is om nie die beloftes van die Nuwe Verbond te aanvaar nie, want daarsonder kan hulle nie die ewige lewe beërwe nie – hulle kan só naby wees en tog nog só ver! 



 2.    SKRIFLESING:
       Hebr.5:11 – 6:3 ~ In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer. 12Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. ’n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie. 13Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ’n kind. 14Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei. 6 Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ’n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God, 2die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie. 3Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat.

2.    MELGISEDEK / ONBEGRIP:
       In die voorafgaande gedeelte het die Hebreërskrywer na Melgisedek verwys en begin verduidelik dat Jesus volgens die orde van Melgisedek as Hoë Priester aangestel is, maar dit is asof hy homself eers hier in v.11 en verder aan, in die rede val, omdat hy besef dat daar talle van sy lesers is wat nog nie geestelik ver genoeg gevorder het om te verstaan waarvan hy gaan praat, as hy sou voortborduur daarop om Christus se bediening met dié van Melgisedek te vergelyk nie, daarom dat hy in v.11 sê dat dit moeilik gaan wees om dit aan hulle te verduidelik, omdat hulle so traag is om te leer.

       Paulus verduidelik hierdie feit baie mooi in 1 Kor.2:14 wanneer hy sê ~ Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word en dit is presies waar hierdie Jode was – hulle kon nie verstaan nie, a.g.v. die feit dat hulle nie die Gees van God het nie. Die rede waarom hulle nie die Gees van God in hul lewe het nie, is omdat hulle nie wederbaar was nie, of andersyds, diegene wie wel wederbaar is, laat nie toe dat die Heilige Gees hulle verder leer nie.

       Hierdie situasie wat die skrywer hier mee te doen het, is hoegenaamd nie vreemd aan ons dag nie, want vandag kry ons steeds derduisende mense wat die Evangelie hoor, maar hulle nie daaraan steur nie; of wat emosioneel opgewel word deur een of ander prediking, of konferensie, of iets dergeliks, maar steeds is hulle nie bereid om ’n pad van oorgawe en toewyding aan Jesus Christus te loop nie. Natuurlik is daar ook gelowiges wat nie veel aan hul eie saak doen ten einde geestelik te vorder en te groei nie. Die probleem met sulke mense is dat hulle met verloop van tyd al hoe verder weg dwaal en geestelik al hoe meer veragter en/of verhard.

       Hierdie feit geld egter nie net vir ongelowiges wat baie na aan die Waarheid leef of wat met die Waarheid gekonfronteer word nie – natuurlik geld dit ook (soos ek reeds aangedui het) vir gelowiges, want meer as een van ons (indien nie almal nie) het al ervaar hoe dat ons veragter in die geloof, of al hoe meer afgestomp raak as ons bv. ons gebedslewe of "stiltetyd" afskeep. Dieselfde geld egter ook as ons nie daarop ingestel is om ons kennis, geloof en oortuigings met andere te deel nie. Ons moet wees waar Paulus was toe hy gesê het ~ ...want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie (Hand.20:27).

       In 5:12 verwys die skrywer na die grondwaarhede van die Woord en hierdie grondwaarhede, is ’n verwysing na die Ou Testament – hy sê dat die Jode dit nie eers na behore ken nie en daarom kon hulle nie die skrywer se redenasie volg t.o.v. Melgisedek en Jesus nie.

       In teenstelling met die N.A.V. lees v.11 in die O.A.V. as volg ~ ...omdat julle traag geword het om te hoor. Die meeste Engelse vertalings bevestig hierdie vertaling deur te sê ~ ...you have become dull of hearing. Die implikasie hiervan is dat hulle op ’n tyd anders was – hulle het m.a.w. op ’n stadium, oor meerdere kennis beskik – hulle is dus nie soos babatjies wat gebore word met ’n natuurlike en instinktiewe behoefte aan melk nie – hulle het daardie behoefte alreeds op ’n stadium gehad, maar hulle het teruggeval en het dit nou weer nodig.

       Die skrywer wil egter ook vandag vir ons deur hierdie verse sê dat ons ook voortdurend daarna moet streef en sal toesien dat ons behoorlik onderrig sal word in die grondwaarhede van die Woord, maar dat ons verder as dit sal groei, sodat ons kan onderskei waarop dit aankom – wat reg en verkeerd is. ’n Geestelike babatjie is nie gewoond aan ordentlike en voedsame vaste kos nie en daarom moet hy groei in geestelike waarhede, sodat hy uiteindelik vaste kos kan hanteer.

       Ons moet onsself voortdurend vra, of ons die elementêre waarhede goed genoeg ken sodat ons dit met andere kan deel? Ons moet ons self voortdurend toets en vasstel of ons nog ’n lus het om meer te leer – of ons gemotiveer is om meer te leer van God se Woord? Ons moet ons deurentyd die vraag afvra of ons steeds geestelik groei, of het daar stagnasie in ons geestelike wandel pos gevat? Indien ons met eerlikheid kan sê dat ons, onsself leerstellig en met die Woord bemagtig en toerus, moet ons nog steeds vasstel, of ons dit wat ons leer, in en deur ons lewe toepas al dan nie, want as ons nie ons kennis toepas en uitleef nie, is ons soos wat Paulus in 1 Kor.13:1 sê ~ ...’n stuk klinkende metaal en baat dit ons alles net mooi niks.

3.    BASIESE ELEMENTE VAN DIE OU VERBOND:
       In 6:1-2 vind ons ’n aanmoediging wat die skrywer rig tot sy lesers, deur vir hulle te sê dat hulle nie moet stilstaan by die "eerste dinge", of te wel die basiese beginsels van die geloof nie, want dit is nie nodig om weer na hierdie basiese dinge te kyk nie en dan noem hy die ses basiese eienskappe of elemente van die Ou Verbond, nl.: bekering van dooie werke; geloof in God; die reinigingswette; handoplegging; die opstanding van die dooies en die ewige oordeel.

       Die apostel gaan van die veronderstelling uit dat sy lesers vertroud is met die basiese eienskappe van die Ou Verbond. Hy insinueer egter dat dit noodsaaklik is dat elkeen wat nié vertroud is daarmee nie, sal toesien dat hulle dit onder knie kry, alvorens hulle kan verwag om enigsins, geestelik verder te groei. Die skrywer sê egter dat hulle hierdie basiese dinge mos ken en daarom moedig hy hulle aan om eerder "na ’n volgende rat oor te skakel" en om met die hulp van die Heilige Gees, te groei na geestelike volwassenheid.

       Voor ons egter aangaan, laat ons net vlugtig kyk na hierdie ses basiese elemente van die Ou Verbond:
·           Bekering van dooie werke:
       Esegiël sê in Eseg.18:4b ~ ...Dit is die mens wat sondig wat sal sterf en Paulus stel dit op ’n ander manier in Rom.6:23, nl. ~ Die loon wat die sonde gee, is die dood. Die Ou Testament het die Jode dus geleer dat hulle hul rug moes keer op die sonde en bose werke, asook wettiese en -dooie werke en dat hulle, hulself moes bekeer. Die probleem met hierdie leerstelling was dat dit ál was wat die Israeliete onder die Ou Verbond geweet het – "draai weg van die sonde". Selfs in Johannes die Doper se tyd is slegs bekering gepreek ~ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matt.3:2). Dit is eers in Jesus Christus dat hierdie leerstelling rypheid bereik het, soos wat ons dan ook lees in Hand.20:21 ~ Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo – Glo in Jesus Christus!

Toe Paulus voor koning Agrippa verskyn het, het hy die basiese leerstellinge van die Ou Verbond herhaal, toe hy gesê het ~ Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas (Hand.26:20). Hy gaan egter voort in v.26, deur te sê dat ~ ...Christus moes ly en die eerste (was) wat uit die dood op(ge)staan (het). Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring. Paulus gaan dus verder as om net bekering te preek – Hy fokus op die soendood van Jesus Christus – dít is waar die fokus van ons bekering moet lê – nie om beter mense te wees nie; nie om uit die moeilikheid te bly nie; nie om seën te kan ontvang nie – nee, Jesus Christus! Hy ís en móét die middelpunt; die dryfveer, van ons bekering wees. Bekering is dus totaal betekenisloos sonder Jesus Christus, daarom dat Jesus self in Joh.14:6 gesê het ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Bekering is bloot net ’n aksie waar die oortreder wegdraai van die bose en enige mens kan dit doen en dit is nie verkeerd nie, maar ware bekering eindig nie daar nie, want dit word slegs effektief wanneer die oortreder na Jesus Christus kom en in Hom rus.

Dit is asof die Apostel vir sy lesers vra (en daarom ook vir ons): Weet jy waar en hoe jou lewe as gelowige begin het? Weet jy wat die wedergeboorte behels? Trouens, is jy waarlik wederbaar? Maak seker jy verstaan dit sodat jy kan aanbeweeg en verder groei.

·           Geloof in God:
       Die tweede element wat in v.2 genoem word, is geloof in God.  Wat belangrik is om hier te verstaan, is dat dit die mens niks baat om in God te glo, maar nie ook in Jesus Christus nie. Daar is geen aanvaarding vir enige mens by God, sonder geloof in Jesus Christus nie – Hand.4:12 ~ (dit is Jesus) bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.

·           Die reinigingswette: Die derde element t.o.v. die Ou Verbond word vir ons in Afrikaans (en selfs sommige Engelse vertalings) vertaal met "die leer van die doop". Hierdie uitdrukking of vertaling is egter ietwat misleidend, want dit is nie presies wat in die oorspronklike teks staan nie. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is βαπτισμός (baptismos). Hierdie woord kom vier keer voor in die Nuwe Testament en drie keer verwys dit na "afwassing" ("washing/cleansing") en eenkeer verwys dit na die doop. Die klem val egter op die reiniging van sonde en nie die handeling of uitvoering van die sakrament van die doop (βαπτίζω / baptizō) nie. Hierdie woord dui dus eerder op die seremoniële reiniging wat voorgeskryf was vir talle seremonies, handelinge, ens.

       By die ingang van elke huis was daar bv. ’n kom met water en moes elkeen wat die huis binnegaan hul hande "βαπτισμός" (baptismos). Dit is hierdie seremoniële optrede en –wette wat die apostel sê, hulle van moet vergeet en eerder begin fokus op daardie dinge wat van belang is vir hulle geestelike groei.

       Dit is interessant om te sien dat selfs die Ou Testament voorspel het dat die seremoniële reinigingswette uiteindelik deur God self vervang sou word met ’n geestelike een ~ Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery (Eseg.36:25).

·           Handoplegging: Die volgende element is dié van "handoplegging". Gedurende die Ou Verbond moes elke persoon wat ’n offer bring, sy hande op die kop van die offerdier plaas, om daardeur sy vereenselwiging met die offer te simboliseer, maar ook om die oordra van sy sonde na die dier te simboliseer (Lev.1:4; 3:8, 13) – die dier wat geoffer gaan word.

       Ons identifisering met Jesus Christus vind nie plaas deur Hom aan te raak, soos die Rooms Katolieke dikwels doen met beelde van Christus nie, maar dit vind plaas wanneer ons deur die Gees en in geloof, ín Jesus Christus ingedoop word (die wedergeboorte) en hierdie Doop met die Heilige Gees (Matt.3:11; Hand.1:5; 1 Kor.12:13) word verbind met die "oplê van hande". Wanneer verkore mense vir bepaalde take afgesonder was, was hulle egter ook "die hande opgelê" – dink bv. hier aan Barnabas en Saulus toe hulle uitgestuur is op hul eerste sendingreis ~ Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan (Hand.13:3). Bemagtiging en Doop met die Heilige Gees word dus in die Nuwe Testament, geassosieer met handoplegging – ons kan dit m.a.w. ook bekragtiging, of bemagtiging deur die Heilige Gees noem.

·           Die opstanding van die dooies en die ewige oordeel: Oor die laaste twee elemente, nl. die opstanding van die dooies en die ewige oordeel, word daar nie baie in die Ou Testament geskryf nie (die opstanding: Job 19:23-27 en Dan.12:1-3 en die oordeel: Gen.18:25; Jes.33:22 en Dan.7). Daar word egter baie aandag aan hierdie twee onderwerpe in die Nuwe Testament gegee en deurentyd is Jesus Christus in die middelpunt van hierdie twee onderwerpe, daarom dat Hyself in Joh.11:25 sê ~ Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook. Die opgestane liggaam word o.a. ook vir ons in detail in 1 Kor.15 beskryf en dan staan daar spesifiek in vv.42-44 die volgende ~ So is dit ook met die opstanding van die dooies; wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; 43wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 44’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ’n natuurlike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. In 1 Joh.3:2 sê Johannes ~ ...ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. (N.A.V.) Omdat ons Hom sal sien soos Hy is (O.A.V.).

       By implikasie sê die Hebreërskrywer vir sy lesers: Waarom wil julle by die gebrekkige lering van die Ou Testament t.o.v. hierdie onderwerp bly vassteek as daar soveel meer te lere is oor ons opgestane liggame? Nee man, groei uit die melkkossies uit en begin vaste voedsel inneem!         
       Jesus is egter terselfdertyd ook die Regter wat veroordeel, trouens wat ook die ewige oordeel uitspreek oor diegene wie nie in Hom glo nie ~ Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Kor.5:10). Die Nuwe Testament se lering t.o.v. God se oordele is nie ’n gewilde boodskap nie, maar dit is ’n boodskap waaraan die wêreld gereeld herinner behoort te word en as ons dink aan God se oordele, behoort dit groot dankbaarheid by ons tot gevolg te hê, want ons beskik oor sekuriteit waaroor die res van die wêreld nie beskik nie ~ Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Rom.8:1).

       Kom ons keer net vir ’n oomblik terug na die ses basiese elemente van die Ou Verbond, dan is dit baie interessant om te sien hoe die Hebreërskrywer alreeds met die skryf van hierdie brief, onwetend (?) drie teologiese studievelde hier afgebaken het en dan plaas hy die twee onderafdelings by elk nog boonop bymekaar! Bekering en geloof, is beide die studieveld van die (wat ons in die teologie noem) Soteriologie (die leer oor Christus as die Saligmaker); reiniging en bekragtiging deur die Heilige Gees, word beide in die studieveld van die Pneumatologie (die leer omtrent die Heilige Gees) behandel en laastens maak die opstanding en oordeel deel uit van die Eskatologie (die leer van die laaste dinge).

 4.   AS GOD DIT TOELAAT:
       Die laaste vers van die gedeelte waarna ons vanoggend kyk is 6:3 en lees soos volg ~ Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat. Hierdie is ’n kort, maar kragtige vers – wat beteken dit? Wat die Hebreërskrywer verlang, is dat sy lesers sal voortbeur en na meer vaste kos soek, maar hy is pynlik bewus van die feit dat God hulle sal moet help en net Hy en Hy alleen sal hulle verstande en harte kan verlig deur die werking van die Heilige Gees ~ ...want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Fil.2:13). Hy erken dus die feit dat sy lesers van nature nie wil groei in die geloof nie, maar terselfdertyd besef hy dat dit net die Heilige Gees is wat hulle sal kan leer en meerdere insig kan laat verkry.

       Hy sê egter vir hulle, dat hulle ’n besluit moet neem; die regte besluit moet neem, ten einde te wil groei in hulle kennis van die Woord, maar dat so ’n besluit in afhanklikheid van die Here geneem sal moet word – ons is voortdurend afhanklik van Hom, vir motivering om in die Woord te wees; te studeer; te groei, maar ons is ook afhanklik van Hom om die Woord vir ons oop te maak, sodat ons kan verstaan en dan die heel belangrikste – dit baat ons niks as ons oor al die kennis beskik, maar nie toepas en uitleef wat ons leer nie en daarvoor is ons intens afhanklik van Hom, om ons die krag en onderskeiding en wysheid te gee ten einde in gehoorsaamheid aan God en Sy Woord te leef.

            Geliefdes, beskik julle oor ’n behoefte om geestelik te groei en is julle bereid om te groei? Of is julle tevrede met hoe julle geestelike lewe en kennis op die oomblik daaruit sien? Paulus moedig ons aan – trouens, hy waarsku ons in Rom.12:1-2 met die volgende woorde ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.