Sunday, June 30, 2013

Psalm 25 ("Dawid en sy Krisis")



1.    INLEIDING:
       Bitter min mense indien enige hou van krisisse, of gebeurtenisse wat nie te wagte was nie. Ons verkies om in ons "hokkies" te bly sit, eerder as dat ons "hokkies" geskud word. As verandering moet plaasvind, hou ons daarvan om bekend te wees met die detail van die verandering, maar wanneer die uitkoms daarvan onseker is, raak ons ongemaklik en selfs angstig en baie mense is dikwels geneig om altyd die ergste uitkomste in enige onbekende situasie te voorsien. 

       Ek luister die afgelope week na ’n bespreking op RSG oor die gevolge vir blankes in Suid-Afrika, wanneer Madiba te sterwe sou kom. Een ou tannie van iewers op die platteland het ingebel en vertel hoe sy in angs die afgelope paar maande al leef oor die gevolge wat Madiba se afsterwe gaan inhou vir haar en die blankes in die breë; kort-kort word die "Nag-van-die-langmesse", wat verkeerdelik toegedig word aan Siener van Rensburg, opgehaal en kon jy agterkom hoeveel mense in vrees leef – vrees vir die onbekende.   

       Die vraag is, hoe moet ons as gelowiges die onbekende hanteer? Hoe moet ons reageer as iets negatiefs; iets onaangenaams ons moontlik in die gesig staar? Kom ons kyk wat die Psalmdigter aan die hand doen om sulke krisisse die hoof te bied.

2.    SKRIFLESING:
       Psalm 25:1-22 ~ Van Dawid. Tot U, Here, rig ek my, 2my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. 3Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. 4Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. 5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. 6Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. 7Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is. 8Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, 9Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. 10Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. 11Ter wille van u Naam, Here, vergewe my, my sonde, want dit is groot. 12As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, 13sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. 14Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. 15My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. 16Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. 17Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende. 18Kyk hoe sleg gaan dit met my en hoe swaar kry ek. Vergewe tog al my sondes. 19Kyk hoe baie vyande het ek en hoe fel haat hulle my. 20Beskerm my en red my, laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. 21Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. 22O God, red Israel uit al sy nood.

3.    AGTERGROND:
       Hierdie Psalm is ’n "Akrostieke Psalm". Dit is ’n Psalm wat in die vorm van ’n naamdig, of te wel ’n alfabetiesegedigsvorm, geskryf is. Dit beteken dat, in die geval van ’n Hebreeuse Naamdig Psalm ("acrostic psalm"), elke vers met die opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Die Hebreeuse alfabet bestaan uit 22 letters, vandaar die 22 verse in hierdie Psalm – hoewel 3 van die letters weggelaat is en 3 herhaal word. Daar is in totaal, 9 sulke naamdig Psalms, waarvan Ps.119 waarskynlik literêr die beste vorm daarvan is (die ander is Ps. 9, 10, 34, 37, 111, 112 en 119).

       Daar is verskeie verklarings waarom dit in hierdie vorm geskryf is, maar die mees aanvaarbare verklaring is dat die Psalmdigter dit só geskryf het, sodat hierdie Psalm makliker gememoriseer kon word, wat hierdie Psalm dus ’n "bloudruk vir dissipelskap" maak, want bykans elkeen van die verse in hierdie Psalm het te doen met leiding en daarom kan ons hierdie Psalm ’n "teksboek-psalm" noem, omdat dit vir ons ’n pragtige voorbeeld stel van hoe om te leef ten einde God te verheerlik en derhalwe deur Hom geseën te word.

       Die skrywer van hierdie Psalm, wat volgens oorlewering, Dawid was, skryf van ’n dubbele krisis wat verandering in sy lewe tot gevolg gaan hê. Eerstens, is daar ’n militêre dreigement van buite – Juda se vyande is aan die opmars teen hulle en tweedens ervaar Dawid ’n innerlike krisis, want hy word gekonfronteer met sy eie sonde.

       Wat doen Dawid om hierdie twee probleme die hoof te bied? Hy bid tot God. Hy maak nie maar net vinnig sy eie plannetjies om hierdie twee krisisse te hanteer nie – hy vra die Here watter pad hy moet kies en wat hom te doen staan, want hy besef dat watter keuse hy ook al maak, dit nie ’n maklike pad vir hom sal wees nie, veral nie as hy die weg kies waar hy sonder die vriendskap en ondersteuning van God loop nie en daarom kies hy om die Goddelike pad te bewandel, wat tot gevolg het dat hy baie ernstig tot Sy Skepper bid. Waarskynlik het Dawid Ps.1 hier ingedagte gehad, omdat Ps.1 vir ons baie duidelik daarop wys dat ons die regte pad moet kies en daarom kan Ps.25 ook, net soos Ps.1, gesien word as ’n wysheidspsalm.

4.    DAWID SE GEBED:
       Kom ons kyk dan na Dawid se gebed in meer besonderheid.
      
       Die eerste gedeelte (vv.1-7) begin waar Dawid sy fokus vestig op die Here – hy spreek sy geloofsvertroue in God uit, asook sy afwagting op ’n antwoord en leiding van die Here. Hierdie gedeelte van sy gebed word afgesluit met sy versugting daarna dat die Here sy nood sal onthou, maar nie sy sonde en rebellie nie.

       In die tweede gedeelte van sy gebed (vv.8-15), fokus hy op die feit dat indien hy nederig en gehoorsaam is; indien hy berouvol oor sy sonde is; indien hy God eer en eerbied teenoor Hom betoon en indien hy in afwagting is op God se leiding, sal die Here hom lei en beskerm.

       Die finale gedeelte van Dawid se gebed vind ons in vv.16-22. Hy erken die feit dat wanneer hy die Here aanbid en dien, hy noodwendig vyande in hierdie lewe sal hê en daarom het hy die Here se liefde en genade soveel meer nodig in sy lewe en daarom is dit vir hom só belangrik dat ’n intieme verhouding tussen hom en Sy Skepper gehandhaaf sal word.

4.1  Afhanklikheid (vv.1-3):
       In die openingsverse van hierdie kosbare Psalm kom Dawid en hy bely sy afhanklikheid van God ~ Tot U, Here, rig ek my, 2my God, op U vertrou ek (v.1-2). Die feit dat die Psalmdigter hier begin met die woorde, .... Tot U, Here... en dan, ... rig ek my – eers die Here en dan eers Dawid – dit is nie bloot net stilisties van aard, of ter wille daarvan dat die gebed poëties van aard moet wees nie – dit is spesifiek in hierdie volgorde geskryf nie, ten einde die fokus op God te vestig en nie op Dawid nie. Dieselfde volgorde vind ons in v.2, waar die skrywer weer God eerste noem en daarna homself.

       Dawid gebruik die woord "beskaam" in v.3, op 'n ander manier as waarop ons deesdae die word "skaam" gebruik ~ Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Paulus gebruik ook hierdie woord in Rom.8:24 en wel as "hoop", wanneer hy sê ~ Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop.... Van watter hoop praat Paulus hier? Die hoop van verwagting – daardie verwagting wat ons as gelowiges het, nl. dat ons ’n vaste verwagting het dat Christus gaan terugkeer en dat ons in ewigheid met Hom verenig gaan word – Hy sal ons dus nie in die steek laat nie – ons sal nie beskaam word nie!

       Die tema en die betekenis van hierdie uitdrukking "beskaamd", is nie om verleentheid uit te druk nie, maar om te sê dat iemand wat Sy vertroue in God stel, nie teleur gestel sal word nie, juis omdat God betroubaar is – letterlik staan hier dus dat God ten alle tye vertrou kan word en Hy Sy kinders, wie hul vertroue in hom plaas, nie sal verwoes, of ruïneer nie. Ons kry dieselfde gedagte in Ps.31:2 wanneer Dawid sê ~ By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou. Hierteenoor, rig die Psalmdigter ’n waarskuwing tot alle mense wat nie die Here in alles vertrou nie, wanneer hy sê ~ Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Hier verwys hy natuurlik na sy vyande wat in opmars is teen Juda en maak hy ’n geloofsverklaring en sê hy dat sy vyande wat nie op God vertrou nie, bedroë daarvan gaan afkom wanneer hulle Juda probeer aanval. Sy vyande het geen hoop op oorwinning nie, maar hy wat Dawid is, het ’n vaste vertroue dat God aan sy kant is.

       Dawid sê dus in v.3, dat niemand wat sy verwagting, of sy vertroue in die Here stel, teleurgestel sal word nie.

4.2  Leiding (vv.4-10):
       In vv.4-10 gaan hy nou voort met sy gebed en hy vra vir die Here, dat Hy hom nou sal "wys", "leer" en "lei".

        Eerstens dan, vra Dawid dat God, Sy wil aan hom sal "wys", of te wel sal openbaar. Dit is dieselfde gebed wat Moses in Eks.33:13 bid ~ As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk. Wat is die wil van God waarvoor Dawid en Moses bid en kan ons ook daarvoor vra? Hierdie wil en waarheid waarvoor hulle vra, is dieselfde as dit waarvan die Here in Jes.55:8-9 praat ~ My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; 9soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. Hierdie gedagtes en optrede van God wat ver verhewe bo ons gedagtes en optrede is – dít is waarvoor Dawid en Moses vra, nl. God se Waarheid.

        Dawid vra in Ps.15:2-5 dat God hom sal leer om in hierdie Waarheid te wandel, sodat hy ...onberispelik (kan) wandel en (sal) doen wat reg is, (en dat hy) met sy hele hart die waarheid (sal) praat, 3nie kwaad (sal) praat nie, sy medemens nie kwaad (sal) aan doen nie en niemand (sal) beledig nie; 4(om te verag) dié wat deur God verwerp is, maar almal (te) eer wat die Here dien; (om) sy woord (te) hou, selfs tot sy eie skade, 5sy geld nie op rente uit (te) leen nie en hom nie (te) laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.

       ▪ Dawid vra ook dat die Here hom in hierdie Waarheid van God sal lei, sodat hy daarvolgens kan wandel en lewe, want dan sal hy ...nooit wankel nie (v.6).

       Hierdie Waarheid is ook vir ons beskikbaar, want dit is opgeteken in God se Woord en daarom moet ons ook saam met Dawid en Moses daarvoor vra, sodat ons ook nooit sal wankel nie.

       In v.6 vra Dawid dat die Here Sy liefde en trou aan hom sal bewys. Hierdie liefde, of in Engels, "compassion", asook God se trou is in die Hebreeus in die meervoudsvorm geskryf. Wat hy dus vra, is dat God sal onthou om Sy oorvloedige trou en lojale liefde aan hom te bly betoon – dat God in ooreenstemming met Sy oorvloedige liefde en genade aan hom sal bly dink.
                
       In teenstelling met v.6, vra Dawid in v.7 dat God nié aan sy sonde van die verlede en sy rebellie van sy jeug, moet dink nie – dit laat ’n mens nogal dink aan Job wat in Job13:26 sê dat God hom laat boet vir die sondes van sy jeug.

       Genadiglik kan ons ook vra dat die Vader nie die sonde van ons jeug sal onthou nie, want Jesus Christus het juis vir al ons sonde gesterf en volkome vergifnis vir ons aan die kruis verkry. In vv.6-7 vra Dawid dus dat God nie sy sonde moet onthou nie, maar eerder na hom sal kyk deur die "bril" van God se oneindige en oorvloedige genade en liefde.

       In die volgende vier verse (vv.8-11) gaan die Psalmdigter voort om vergifnis te vra, deur homself en God aan ’n paar van God se attribute (karaktereienskappe) te herinner. Eerstens sê hy en bepeins hy die feit dat die Here goed en regverdig is – so goed en regverdig, dat Hy selfs aan sondaars die pad wys. Dit impliseer nié dat die Here, sondaars eensydig vergewe nie – daar is ’n voorwaarde, nl. dat Hy die sondaars wat na Hom in nederigheid (v.9) kom en hulle voor Hom verootmoedig en Sy verbond en verordeninge bewaar (v.10), m.a.w. wat aan Hom en Sy Woord gehoorsaam is, die regte pad sal aanwys – juis omdat Hy oorvloedig genadig en liefdevol is. Hierdie pad wat Hy vir ons aanwys, is ook nie ’n gedetailleerde padkaart vir ons lewe nie. Nee, die fokus is op die Waarheid soos vervat in God se Woord – daardie Waarheid wat ’n lig vir ons voet en ’n lamp op ons pad is.

4.3  Genade en Vergifnis (v.11):
            In v.11 vra Dawid weer dat die Here hom sal vergewe, maar die keer sê hy iets baie interessants – hy sê ~ Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde. Waarom vra Dawid dat sy sonde vergewe moet word t.w.v. God se Naam? Ps.130:4 ~ Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word (OAV). Ons word in die eerste en laaste plek vergewe, sodat God gevrees en verheerlik kan word!

4.4  Eerbied (vv.12-14):
       Die OAV vertaal v.12 as volg ~ Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. Die Meeste Engelse vertalings vertaal v.12 op dieselfde wyse en gebruik ook die woord "vrees" ("reverence"). Hierdie teksvers fokus dus op die man wat die Here vrees en as Dawid vra wie hierdie persoon is wat die Here vrees, dan antwoord hyself en sê, dat dit diegene is wie deur die Here geleer word en wát leer die Here hulle? Hy leer hulle watter weg om te kies, of soos die NAV sê ~ ...watter pad hy moet kies, nl. die beste pad – daardie pad wat die Here sal eer en as hy daardie pad kies, sál hy voorspoed geniet – wat meer is, ook sy nageslag, sê v.13, sal hierdie voorspoed geniet.

       Hierdie feit is in ooreenstemming met Eks.20:12 wat sê ~ Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Die vraag wat ons dadelik vir onsself ook moet vra, is of hierdie voorspoed op materiële en/of geestelike dinge dui? Ek is van mening dat dit beide impliseer. Eerstens verwys v.13 uitdruklik na die land wat sy nageslag sal bly bewoon. Lev.26 is ook duidelik hieroor ~ As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, 4sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra..., ens. (vv.3-4) – dit dui dus op die materiële. Natuurlik kan ons nie nou wild en wakker begin rondloop en allerlei rykdom en materiële voorspoed van die Here opeis  nie. Nee, die voorwaarde is deurgaans - As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe. Hiermee saam moet ons egter ook onthou, dat die Here ons ook deur tye van beproewing kan neem en dat dit nie noodwendig altyd net "maanskyn en rose" sal wees nie – of anders gestel, wanneer ons God se voorskrifte nakom en Sy gebooie gehoorsaam en dit gaan terselfdertyd met ons sleg, lê die "fout" nie noodwendig by my nie, maar kan dit wees omdat God besig is om ons te beproef (sien ook Deut.4:1).

       Vers 14 sê egter vir ons, dat hierdie belofte van voorspoed beslis ook op geestelike vlak lê ~ Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. In v.4 het Dawid gevra dat die Here vir hom, Sy weë sal bekend maak en nou bevestig hy dat die Here dit wel doen, as hy wat Dawid is, die Here dien. Die feit dat God hom in Sy vertroue neem en Sy hart met Dawid deel, dui verder op ’n intieme verhouding tussen Dawid en die Here en dit is die voorwaarde wat God ook aan ons stel, indien ons Sy geestelike seën wil ervaar – ’n intieme verhouding en dan sal Hy ons deur Sy Woord en die Heilige Gees lei.

4.5  Afwagting (vv.15-21):
       Dawid wil in v.15 vir ons leer dat indien ons begeer om deur die Here geleer en gelei te                                                                                                        word, ons, ons oë gedurig op die Here moet rig. Oë in hierdie geval dui op ons geestelike fokus en waar dit moet wees – ons moet dus in die gewoonte kom, om tydig en ontydig in gebed tot die Here te verkeer ~ Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm (Ps.123:2). Paulus sê dus nie verniet vir ons in 1 Tes.5:17 ~ Bid gedurig nie.

       In vv.16 tot 20 neem Dawid ons terug na wat hy aan die begin gesê het, t.o.v. sy innerlike stryd oor sy sonde, asook die uiterlike bedreiging van sy vyande wat teen hom optrek. Hy vra die Here om te kyk ~ ... Kyk hoe sleg gaan dit met my (v.18) en ~ ... Kyk hoe baie vyande het ek (v.19). Om die Here te vra om te kyk, dui daarop dat hy wil hê dat God moet ingryp in sy situasie. By implikasie erken hy dan ook dat sy bedreigings – beide innerlik en uiterlik is as gevolg van sonde in sy lewe en daarom vra hy ter gelykertyd dat die Here hom moet vergewe.

       Nou wil ek net dadelik weer sê, dat ons weereens nie moet doen wat die mense wat die "voorspoedteologie" aanhang, doen nie, nl. om iemand anders, of onsself, konstant daarvan te beskuldig dat wanneer dit met ons sleg gaan, dit altyd is a.g.v. sonde in ons lewe nie (Job is tog ’n goeie voorbeeld hiervan). Ja, dit kan a.g.v. sonde in ons lewe wees, maar dit kan ook wees dat ons beproef word deur die Here. Hier in Dawid se geval, weet hy egter dat die innerlike en uiterlike bedreigings wat hy ervaar, die vrug van sonde in sy lewe is – ons sal ook weet wanneer ellende ons tref, of dit is a.g.v. sonde in ons lewe en dan moet ons ook sê wat Dawid sê ~ Sien my in genade aan, Here (v.16a) en ~ ... Vergewe tog al my sondes (v.18b). Ons moet egter ook doen wat Dawid gedoen het ~ ... want by U skuil ek (v.20b).

4.6  Voorspraak (v.22):
       Dawid sluit sy gebed af met die woorde in v.22 ~ O God, red Israel uit al sy nood. Hierdie vers volg nie die Naamdig volgorde van die Hebreeuse alfabet nie en was moontlik ’n liturgiese byvoegsel deur Dawid self gewees, maar dit is ’n gebed vir uiteindelike en volkome verlossing. Dit is ’n tydlose gebed wat ons ook gedurig behoort te bid in ons afwagting op die finale dag van verlossing ~ Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting (Rom.8:19-22) en in die woorde van Johannes in Openb.22:20 ~ Kom Here Jesus!

5.    AFSLUITING:
       Psalm 25 dien vir ons as riglyn oor hoe om te bid wanneer ons innerlike en uiterlike bedreigings en stryd ervaar; wanneer ons die onbekende in die gesig moet staar. Kom ons maak dit prakties op ons lewens van toepassing, deur daarop te let dat ons moet staatmaak op God se getrouheid (v.3) en die feit dat Hy ons altyd in die Waarheid lei (vv.4-5).

       Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat Hy ons Redder is (v.5) en in Sy groot genade en liefde ons vergewe (vv.6-10). Ons groot Beskermer is ook die Een wat ons in Sy vertroue neem, deur ons voortdurend in die Waarheid te lei (vv.15-20).

       My vraag is, waar staan jy en ek t.o.v. hierdie riglyne? Maak ons staat op Hom? Vra ons Hom na Sy Waarheid? Verlustig ons daarin dat Hy ons lief het?


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 30 Junie 2013.

Sunday, June 23, 2013

Die Boodskap van Daniël - 03 (God se Getrouheid)



1.    INLEIDING:
       Sinclair Ferguson sê: "True faithfulness in Scripture is first exercised in small things and in private. If we fail there, any faithfulness we show in public will be hypocrisy, a performance for the crowd and not an expression of loyalty to our Lord." Hierdie is ’n waarheid wat Daniël prakties in sy lewe toegepas het – hy was nie ’n man vir vertoon nie; vir voorgee nie – nee, hy was ook in die kleine getrou.

       Ons het die vorige keer gesien dat Daniël en sy vriende, Gananja, Misael en Asarja, na die paleis gebring was waar hulle opleiding moes ontvang om die koning en sy koninkryk te dien. Ons het egter ook gesien dat daar ’n geweldige aanslag geloods was teen hierdie jongmanne se taal, kultuur en godsdiens, ten einde hulle te breinspoel, sodat alles wat verband gehou het met hulle afkoms, vernietig kon word, maar God was getrou en Hy het hulle vasgehou deur hierdie beproewing en aan hulle die krag en die geloof gegee om vas te staan op die beloftes wat God aan hulle voorgeslag gegee het.

2.    SKRIFLESING:
       Daniël 1:8-21 ~ Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. 9God het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël. 10Maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by hom.” 11Toe sê Daniël vir die amptenaar wat deur die hoofpaleisbeampte aangestel is om toesig te hou oor Daniël, Gananja, Misael en Asarja: 12“Maak asseblief tien dae lank ’n proefneming met ons en laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink. 13Vergelyk dan ons voorkoms met dié van die jongmanne wat van die koning se kos eet, en handel dan met ons na bevind van sake.” 14Die amptenaar het toe hulle versoek toegestaan en tien dae lank ’n proefneming met hulle gemaak. 15Ná tien dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het. 16Toe het die amptenaar die koning se kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir hulle net groente gegee. 17God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê. 18Op die tyd wat koning Nebukadnesar bepaal het dat die jongmanne voor hom gebring word, het die hoofpaleisbeampte dit gedoen. 19Die koning het met hulle gepraat en hy het onder almal niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Toe het hulle in diens van die koning getree. 20In enige saak wat wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra het, was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk. 21Daniël het in diens van die paleis gebly tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.

3.    DANIËL DIE STANDVASTIGE:
       Ons sien in v.8 dat die koning ’n bepaalde dieet voorgeskryf het vir die jongmanne wat hy uit die Judeërs geneem het om opgelei te word. Daniël het egter besluit om nié die koning se voorgeskrewe kos te eet en van die wyn te drink nie, want hy wou homself nie verontreinig nie.

       Die kruks hier is nié omdat die koning se kos en wyn  nie kosjer was nie, m.a.w. dat dit nie volgens die Joodse voedselwette (die "Kashrut") voorberei is, soos o.a. uiteengesit in Lev.11 en Deut.14 nie. Dit het ook nie daaroor gegaan dat die kos en die wyn eers aan die Babiloniese afgode gewy is, voor Daniël-hulle dit gekry het om te eet en te drink nie, want dan sou dit ook die geval gewees het met die groente wat hulle gevra het om te eet. Indien daar intrinsiek iets boos en onaanvaarbaar t.o.v. die Babiloniese kos was, dan sou Daniël hom permanent daarvan weerhou het en as ons later in Daniël kom, sal ons sien dat dit nie die geval was nie, maar dat hy tog later van die "lekker kos en vleis en wyn" geniet het (Dan.10:3).

       Waarom het hierdie jongmanne dan hierdie dieet versoek? Dit was vir hulle iets soos ’n vastydperk wat hulle vir hulself uitgeroep het, ten einde hulle voortdurend te herinner dat hulle nie afhanklik is van die koning se voorsiening nie, maar dat hulle afhanklik is van hulle Skepper God. Indien hulle afhanklik sou wees van Nebukadneser se kos, sou dieselfde sonde in hul lewens herhaal word, as wat koning Hiskia begaan het, toe Hiskia sy afhanklikheid van Babel getoon het, deurdat hy al sy skatte vir die gesante uit Babel gewys het en waarop Jesaja vir hom gesê het ~ Daar kom ’n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here (2 Kon.20:17).

       Daniël se gesindheid t.o.v. die weerhouding daarvan om die koning se kos te eet het dus eerder gelê op die vlak van wat Paulus in 1 Kor.10:25-26 vir ons sê ~ Alles wat in ’n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen, 26want die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here, asook 10:31 ~ Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Vir Daniël het dit in die eerste en laaste plek gegaan oor die eer van die Here en in hierdie spesifieke situasie, dat hy daardeur sy afhanklikheid van God wou betoon en nie die koning van Babel nie.

       Ons moet ook in ons dag bepaalde dinge in ons lewens inbou, om ons te herinner aan ons afhanklikheid van God – een so ’n goeie gebruik is bv. om die seën aan tafel te vra wanneer ons eet. Nog ’n manier is om daagliks, bv. ’n skriftelike lys by te hou van al die seën wat ons van die Here ontvang. Nog ’n manier is om van tyd tot tyd te vas van kos, of ander plesier wat die wêreld ons bied. Onthou net, dat ons nie wette oor hierdie sake moet maak, of sulke wette op ander gelowiges aanlê nie, want dan is ons juis presies net waar Sinclair Ferguson, wat ek aan die begin aangehaal het, sê ons nie moet wees nie – "True faithfulness in Scripture is first exercised in small things and in private." Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar en dit is dat ons andere wat dalk ’n ander oortuiging huldig (t.o.v. vas bv.), moet respekteer.

       Daniël het nie hierdie besluit van hom sommer so op die ingewing van die oomblik geneem nie – v.8 sê dat hy "hom voorgeneem" het om nie die koning se kos en wyn te geniet nie. Hy het ’n besluit voor God geneem om dit nie te doen nie – dit laat ’n mens nogal dink aan Jonathan Edwards se 70 Vastevoornemens waarvan ons so maand of drie gelede gepraat het, nie waar nie? Daniël het ’n vaste voorneme geneem en hy het vir die voorgenome tydperk (ons weet nie hoe lank nie) daarby gehou – kom wat wil en daarom het die standvastige Daniël die hoofpaleisbeampte, of te wel Aspenas (1:3) versoek om hul dieet te verander na net groente en water. Let ook daarop, dat Daniël nie ’n bohaai opgeskop het oor die kos nie – nee, v.8 sê, ...hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. Dit was nie nodig om stof op te skop nie, want Daniël het ’n verbond met God aangegaan oor hierdie saak en daarom het hy geweet dat God aan sy kant was.

4.    DIE BEAMPTE SE ONWILLIGHEID:
       Nadat Daniël sy versoek gerig het aan Aspenas, was Aspenas baie huiwerig om toe te gee aan hierdie versoek, maar ons sien in v.9 dat God (ek wil amper sê: "weereens") nie slegs betrokke is by die groot dinge van die heelal nie, maar selfs ook by die klein, alledaagse en oënskynlik onbenullige dingetjies soos hierdie versoek van Daniël. Omdat die Here hierby betrokke is, kan ons sê, dat die amptenaar geen keuse gehad het as om toe te gee en gehoor te gee aan Daniël se versoek, maar nie voor hy eers sy onwilligheid te kenne gegee het nie – v.10 ~ Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by hom.

5.    DANIËL SE VOORSTEL:
       Omdat Daniël vas oortuig daarvan was dat die Here sy en sy maats se begeerte sal eer, nl. om getrou aan Hom te bly en Hom altyddeur te verheerlik, gee Daniël nie bes nie – hy aanvaar nie Aspenas se kommer nie en hy maak ’n baie wyse voorstel in v.12 – ’n voorstel wat hy geglo het sal werk, nl. dat Aspenas ’n proefneming moet maak.

       Ons moet nie vergeet dat Daniël se doel met hierdie dieet was om uiteindelik eer aan God te bring, eerder as aan Nebukadneser nie, want as hulle goed gelyk het ná die koning se spesiale dieet, sou die koning die eer gekry het, maar nou gaan God die eer ontvang en soos wat ek in die begin gesê het, is dit die primêre rede waarom hulle nie die koning se kos wou eet nie.

       Aspenas gee toe aan Daniël se versoek, want het hy moontlik gedink, hy het nog tien dae grasie om te kyk of die jongmanne se dieet dalk tog werk en as dit nie werk nie – wel, die koning gaan mos nie weet van hierdie onderlinge reëling nie. Wat Aspenas egter nie besef het nie, is dat God ook die hart van ’n heidense amptenaar kan sag maak en guns by hom vir God se kinders bewerk en dit is presies wat hier gebeur het – hy gee toe aan die versoek en hy laat toe dat die jong Judeërs vir tien dae lank slegs groente en water gebruik, want God het guns in sy hart vir die jongmanne gewerk.

6.    DIE GEVOLG:
       Wat was die gevolg van hierdie proefneming? Vier dinge:
·           V.15 ~ Ná tien dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het. Hulle het fisies uitgestaan bo die ander "studente".
·           V.16 – Aspenas het ...die koning se kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir hulle net groente gegee.
·           Daar gebeur egter ook iets anders met hierdie jongmanne se verstand – v.17a ~ God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid..
·           Vierdens ontvang Daniël ook op geestelike vlak, die vermoë om ...enige gesig of droom uit (te) lê (v.17b).

       God seën hierdie jongmanne op fisiese, verstandelike en geestelike vlak vir hul gehoorsaamheid aan Hom en omdat hulle Sy eer deurgaans eerste gestel het. Hierdie seën wat hulle uit Sy hand ontvang was natuurlik ook noodsaaklike toerusting wat hulle vorentoe in diens van die koning sou nodig kry, sodat God weereens verheerlik sou kon word.

       Geliefdes, as God in ’n heidense amptenaar se hart kan werk en as hy hierdie wonderlike dinge in die lewens van jongmanne kan bewerkstellig, dan kan en sal Hy dit mos met ons ook doen – nie sodat ons noodwendig enige gewin daaruit sal put nie, maar om primêr beter toegerus te kan wees om in die nou en in die toekoms, God se eer nog meer en beter te kan verklank – die voorwaarde: Dit is iets van ’n "heilige kringloop": Ons moet God se eer deurgaans eerste stel en nie onsself gedurig op die voorgrond wil plaas nie, sodat Hy weer en weer verheerlik kan word.

7.    DIE BELONING:
       Na die tien dae "vastydperk" het Daniël-hulle voor Nebukadneser verskyn en die koning het, in die woorde van v.19 ~ ...onder almal niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Wat het Nebukadneser so beïndruk? Uit die konteks kan ons sien dat hul voorkoms hom moes beïndruk, maar hulle sou ook in wysheid en met diep insig op al die koning se vrae gereageer het, trouens ons sien dit in v.20 ~ In enige saak wat wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra het, was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk. "Tien maal" beter was die resultaat van Daniël en sy vriende se getrouheid aan God en hul vaste voorneme om Hom deurgaans te verheerlik in al hul doen en late!

       Hoe wonderlik is dit nie dat God vir Daniël-hulle weg geneem het uit hul geliefde Juda en hul koesterende kultuur en godsdiens en hulle in vreemde en vyandiggesinde omgewing geplaas het nie – ’n omgewing waar hulle reeds en in die toekoms nog baie beproewing sou ervaar, ten einde hulle in ’n unieke posisie te plaas waar hulle ’n seën vir hul vyande en die gemeenskap waarin hulle hulself bevind het, kon wees!

       Sien ons, ons omstandighede en beproewing altyd in hierdie lig – ’n situasie waarin God ons geplaas het, sodat ons ’n seën kan wees vir diegene wat die Here oor ons pad in daardie betrokke situasie bring?

       As die Here vir Daniël en sy vriende in hulle omstandighede, getrou kon hou aan Hom, dan kan Hy dit mos ook vir ons doen in ons onaangename en beproewende omstandighede – God is daartoe in staat om juis dit te doen, trouens dit is wat Hy van die begin af gedoen het en wat Hy sál doen, totdat Hy ons kom haal, ongeag die intensiteit, die duurte, of die plek van ons beproewing, want wanneer die wêreld op sy "slegste" is, is God se genade en getrouheid voldoende.

       Ons lees in v.21 dat Daniël in diens van die koning gestaan het tot die eerste regeringsjaar van koning Kores. Wanneer was dit en wat het toe gebeur en wat moet ons daarvan maak?
·           Die geskiedenis toon aan ons dat koning Kores 70 jaar nadat Daniël en sy vriende in ballingskap weggevoer is, aan bewind gekom het.
·           Kores se eerste jaar as heerser, was ook die jaar waarin die ballinge toegelaat was om weer terug te keer na Juda vanuit ballingskap (2 Kron.36:22-23).
·           Derdens, impliseer dit dat Daniël vir bykans die res van sy lewe in ballingskap, in die paleis vir die koning van Babel, diens gedoen het. Hierdie feit is nog meer verstommend, of sal ek liewer sê, wonderbaarlik as in ag geneem word dat Daniël diens gedoen het onder verskeie konings wat gekom en gegaan het deur hierdie tydperk van ballingskap – en almal was tevrede en beïndruk met hom. God se getrouheid jeens Daniël was derhalwe meer as genoeg, om hom te dra vir die volle tydperk wat die ballingskap geduur het.

8.    TOEPASSING:
       Wanneer ons so na Daniël se verhaal luister, dan is ons meer geneig om ons te identifiseer met die massas ballinge waarvan daar niks in Daniël gesê word nie – daardie Judeërs wat ook ander name ontvang het; wat ook vir ’n leeftyd blootgestel was aan ’n nuwe kultuur en die afgodediens van Babel; hulle wat as slawe gewerk het en nie die luukse van Daniël en sy maters se paleislewe geniet het nie. As ons Daniël lees, kan ons maklik dink dat die boodskap van Daniël is, dat ons soos Daniël moet wees en dan sal alles goed gaan met ons, maar hoe meer ons luister na hierdie verhaal, hoe meer besef ons dat ons nie naastenby is, of kan wees soos Daniël nie.

       Die goeie nuus van die Evangelie van Jesus Christus, is egter nie net dat God trou bewys aan ons, as ons getrou aan Hom is nie. Dit is dat ’n Verlosser gekom het om ons juis los te maak – om ontroue individue soos ons, te verlos. Ons redding hang dus nie af van ons pogings en ons getrouheid om nie toe te laat dat hierdie wêreld ons besmet nie, maar uit en uit op die suiwere en onbesmette offer wat Jesus Christus aan die kruis op Golgota gebring het. Jesus was nie ’n hemelse banneling wat vir ongeveer 33 jaar na die aarde weggevoer is nie – nee, Hy het vrywillig gekom en vrywillig Sy lewe kom neerlê. Hy het baie meer en erger verduur as wat Daniël en al die ander ballinge in Babel beleef het – óf as wat ons ooit kan droom om in ons lewe te verduur ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie (Hebr.4:15). Jesus het getrou en onbesmet gebly deur al hierdie beproewing heen, tot die einde toe ~ Inteendeel (1 Pet.1:19), julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Wat meer is, Jesus het reeds deur Sy beproewing gegaan en Hy sit nou aan die regterhand van God waar Hy optree as ons Hoë Priester en voortdurend intree vir ons. Hy het reeds vir ons ’n plek berei in die hemel en Sy teenwoordigheid in die hemel is juis  sekuriteit en bewys vir ons dat ons eendag saam met Hom in die hemel sal wees.

       Die kruis is dus die middel of wyse waarop God se getrouheid ons as ontroue mense verlos en gered het en Christus se opstanding en hemelvaart is bewys en sekuriteit van jou en my ewige erfenis wat op ons wag.

       Ons moet onsself gereeld herinner aan die Evangelie. Ons moet ons oë vestig op die gekruisigde, opgestane en verheerlikte Jesus Christus, juis omdat Hy die weg na die ewige lewe is. Plaas jou vertroue in Hom en vra Hom om opregte en ware getrouheid in jou te werk. Vra Hom om jou in plekke te plaas waar jy ’n seën en ’n getuie vir Hom kan wees. Kweek ’n ewigheidsperspektief en leef daarvolgens, sodat jy ook in tye van beproewing aan daardie ewigheidsperspektief kan vashou.

       Wees altyddeur afhanklik van Christus se verlossingswerk en hou op om soos Daniël te probeer wees, want Daniël was nie so oulik om dit in eie krag te kon doen `nie – hy het dit reggekry, omdat sy oë op sy Hemelse Vader gevestig was en Hom vertrou het om die goeie in hom te doen.


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 Junie 2013

Sunday, June 16, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 21 ("Die Volledige en Volmaakte Offer")



1.    INLEIDING:
       Ons gaan vanoggend na Hebreërs 10:1-18 kyk en met hierdie hoofstuk, kom ons by die hoogtepunt van die Hebreërskrywer se bespreking van Jesus as ons Hoë Priester en die volmaakte en volledige offer wat Hy gebring het. In die vorige hoofstukke het hy geargumenteer dat Jesus veel hoër en groter as die engele is (1:5-14), maar dat Hy net vir ’n kort tydjie minder as die engele geword het (2:7), ten einde met ons, Sy kinders te kan identifiseer (2:10-18). Op grond van die feit dat Hy met ons kon identifiseer, deur Sy vleeswording en Sy lyding, kon Hy deur God die Vader aangestel word as Hoë Priester volgens die orde van Melgisedek en is Hy derhalwe ook ver verhewe bo die ou verbond se Levitiese priesters (5:1-11; 7:1-28). As verhewe en volmaakte priester, kon Hy ook ’n volmaakte offer aan die Vader bring – ’n offer wat deel is van ’n beter verbond (8:3-13) – ’n offer waar dierebloed nie gevloei het nie, maar die volmaakte Hoë Priester, Jesus Christus se eie bloed en daarom was Sy volmaakte offer, die hoogste en laaste offer wat gebring was; ’n offer wat God ten volle bevredig het; ’n offer wat nooit weer herhaal hoef te word nie; ’n offer wat volkome versoening tussen God en Sy uitverkore kinders bewerkstellig het.  

2.    SKRIFLESING:
       Hebr.10:1-18 ~ Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie. 2As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. 3Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, 4omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem. 5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. 6Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! 7Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.” 8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd. 11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy: 16“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” 17Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” 18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

3.    DIE BEPERKINGS VAN DIE OU VERBOND:
       Ons sien hier in ons Skriflesing, dat die Hebreërskrywer die vorige 9 hoofstukke bondig saamvat en sy hele teologie rondom Christus hier uiteensit.

       Hy begin dan in vv.1-4 om weer na die Wet en die ou offerstelsels te verwys en hy wys weer vir ons daarop dat hierdie maar net heengewys het na die "weldade", of "beter dinge" wat sou kom.

       In vv.1b en 2 stel die skrywer dit duidelik, dat die offerstelsel van ouds, nié permanente en volledige vrymaking van sonde kon bewerkstellig nie? Waarom sou God dan die offerstelsel ingestel het, as dit dan oënskynlik geen waarde gehad het nie? Die doel met die offerstesel was dat die mense moes verstaan, dat hulle in ’n persoonlike verhouding met God moes staan en nie bloot maar net die offerstelsel moes gebruik om hul gewetens te sus nie. Nee, hulle moes hulleself deur die bring van offers, voor God verootmoedig het en in ’n verhouding met Hom getree het, dit is waarom Samuel aan koning Saul gesê het ~ Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme (1 Sam.15:22). Jesaja gaan verder en hy sê in Jes.1:13 ~ Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie: Ek het ’n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie. Jeremia sê weer vir ons in Jer.7:21-22 wat die mens eerder moet doen i.p.v. nuttelose offergawes ~ Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. 23Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.

4.    CHRISTUS SE SOENDOOD:
       Daar was maar net een manier waarop die mens in verhouding met God kon staan en waarop hy permanente vergifnis vir sy sonde kon ontvang, en dit is deur God se Seun, Jesus Christus se vleeswording en soendood aan die kruis en dit is wat die Hebreërskrywer vir ons hier in vv.5-10 sê.

       Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat God die Vader dit so gewil het dat Sy Seun, Jesus Christus na die wêreld moes kom, ten einde die volmaakte offer te kon bring en daarom het Jesus ’n liggaam ontvang, soos ons dit ken, sodat Hy geoffer kon word, want sonder daardie liggaam sou offerbloed nie kon vloei nie en sou daar nie ’n liggaam gewees het wat geoffer kon word nie en sou die tweede en beter offer nie gebring kon word nie en daarom is die enigste effektiewe versoening wat maar gebring kan word, dié wat Christus gebring het, want geen bul of bok kan in ons plek sterf vir ons sonde nie, maar Christus het dit vír ons gedoen en dit is waarvan die mensdom – ons, verlossing afhang.

       Christus het dus na die wêreld gekom om die wil van Sy Vader te gehoorsaam. Hierdie hele saak van gehoorsaamheid is baie belangrik om na te kyk. In v.5 haal die skrywer aan uit Ps.40:7(sien OAV) en wel uit die Griekse vertaling van die Ou Testament (wat bekend staan as die Septuaginta) en hy plaas die Psalmdigter se woorde hier in die mond van Jesus. Wat letterlik hier staan is, "My ore wat U geopen het" en die woord "open" kan ook vertaal word met "deurboor". Hier word ons weer terug gelei na ’n seremonie wat in Eks.21:1-6 homself afgespeel het, toe ’n Hebreeuse slaaf wat sy meester so lief gehad het, nie van hom wou weggaan na sy 6 jaar diens nie en hy gevra het om langer aan te bly. As teken van sy toewyding aan sy meester, het hy toegelaat dat sy eienaar ’n gaatjie in sy oor steek met ’n els as teken dat hy vir altyd sy eienaar se slaaf is – dit was teken van sy algehele toewyding aan sy eienaar. Die oor het dus gedien as simbool van die hele liggaam wat aan die eienaar behoort. ’n Gehoorsame en pligsgetroue dienskneg het dus angstig geluister met sy oor, sodat hy met sy hele liggaam, sy eienaar kon dien en gehoorsaam.

       Geen dienskneg het die Vader meer lief gehad as Jesus nie en daarom was Sy gehoorsaamheid en toewyding volmaak. Paulus sê vir ons in Fil.2:5-8 dat ons hierdie selfde gesindheid van oorgawe en volmaakte gehoorsaamheid moet aanneem ~ Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

       Vers 10 sê dat dit die wil van God was dat Sy kinders, geheilig en afgesonder moes word vir Hom, want geen mens wat nie geheilig is, kan gemeenskap met die heilige God hê nie en vir ons as "in-sonde-ontvang-en-gebore-mense", moet daar iets met ons gebeur, alvorens ons heilig verklaar kan word om sodoende gemeenskap met God te mag hê en daardie "iets wat moet gebeur", is dat ons sondeskuld verwyder moet word en Jesus het presies dit gedoen! Dit is waarom vv.9 en 10 soos volg lees ~ Daarna sê Hy: Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.    

5.    DIE VRYMAKENDE NUWE VERBOND:
       Dit is baie duidelik dat Jesus alles gedoen het, wat nodig was vir ons om eens en vir altyd volkome gered te kan wees – al ons sonde is weggeneem, maar in skrille kontras daarmee, was dit nie die geval tydens die Ou Testamentiese bedeling nie. Die Ou Testamentiese offerandes het nooit tot ’n einde gekom nie – die oomblik as jy ’n offer gebring het, moes jy weer van voor af begin het om ’n nuwe offer te bring.

       ’n Verdere interessante kontras wat ons in vv.11-12 vind, is die feit dat daar baie priesters in die Ou Testamentiese sisteem was, teenoor die een enkele Priester in die Nuwe Testamentiese bedeling.  

       Die Levitiese sisteem het uit 24 ordes bestaan en elke orde het honderde priesters gehad wat beurte gemaak het om die altaar te bedien. Hierdie stelsel het dus nie gebuk gegaan onder ’n tekort aan priesters nie, maar dit het oor geen effektiwiteit beskik nie. Daarteenoor het Christus as enkele Priester opgetree en sy dienswerk was so effektief, dat dit in ewigheid afgehandel is ~ Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem (Kol.2:14).   

       Die skrywer wys ook vir ons daarop dat die priesters dag vir dag in die tempel gestaan en hulle diens verrig het, terwyl Christus, nadat Hy sy offer gebring het, aan God se regterhand gaan sit het – die staan van die aardse priesters dui spesifiek op hul onafgehandelde werk, teenoor Christus se afgehandelde werk – daarom, soos ons reeds in hoofstukke 1 en 8 gesien het, sit Hy. Hierdie is natuurlik ook ’n vervulling van die openingsverse van Ps.110 ~ Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” 2As die Here die septer, simbool van u mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande! Ons vergifnis; ons vervolmaking; ons heiligverklaring, is afgehandel – ons kan en mag in die teenwoordigheid van God verskyn en die teken daarvan was natuurlik toe Jesus aan die kruis gesterf het en die voorhangsel in die tempel geskeur het ~ Maar Jesus het met ’n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas. En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder (Mark.15:37-38).  

       Nie alleen is ons vergewe en kan ons met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God staan nie, maar Christus het ook die vyand oorwin, trouens Hebr.2:14 sê vir ons dat Hy die satan vernietig het ~ Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig. Meer nog, Christus het al sy vyande (insluitende die gevalle engele – demone) oorwin en hulle gestroop van hul wapens, toe Hy uit die dood opgestaan het ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol.2:15).

       Vers 14 in die NAV is oënskynlik voor die handliggend en baie eenvoudig, want soos ons dit daar lees, staan daar (ek parafraseer): "Deur Christus se offer aan die kruis, het Hy diegene wat deur God uitverkies is, vir ewig vrygemaak van sonde". Daar staan egter veel meer in hierdie vers as bloot net dat ons vry is van die sonde. Die OAV is nader aan die kol, hoewel amper onverstaanbaar ~ Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. Die woordjie "volmaak" (ESV & NASB = "perfected") is egter ’n baie belangrike woord in hierdie vers. Die Griekse woord wat hier gebruik word is τελειόω (teleioō) en dit beteken letterlik  om sy doel te bereik, of om aan die einde te kom, of om iets volmaak af te handel en te voltooi. Dit is dieselfde woord wat in Joh.4:34 gebruik word, wanneer Jesus sê ~ My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Of Joh.17:4 ~ Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.

       Wat die Apostel dus vir ons hier sê, is dat ons nie net volledig vergewe is vir ons sonde nie, maar dat ons reeds volkome en volmaak voor God staan – ja, ons benodig reiniging wanneer ons in sonde val, maar ons hoef God se oordele nie meer te vrees nie en daarom is ons reeds geheilig en volmaak. Ons het hier te doen met die tipiese "reeds-en-nog-nie" aspek van die Woord. Ons is geheilig en volmaak, maar ons is ook nog nie heeltemal daar nie en daarom is ons op pad daarheen, maar die goeie nuus is dat, omdat ons op pad is, dit bewys is dat ons reeds daar is! Paulus beskryf hierdie "reeds, maar nog nie" op pragtige wyse in Rom.7:15-25 ~ Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. 24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

       Soos Paulus, vind ons as gelowiges ons midde in hierdie konflikterende begeertes. Aan die een kant hou die Gees van God ons opregte geestelike begeertes en doelwitte in stand, wat voortspruit uit ons wedergeboorte, maar aan die anderkant ervaar ons hoe dat ons vlees ons voortdurend pootjie en hindernisse in ons pad plaas om hierdie opregte en heilige begeertes en doelwitte te bereik en dit is baie dikwels so erg, dat dit ons ver terugsleep op ons geestelike pad.

            Ons moet nie hierdie konflik onderskat nie en ons moet besef dat hierdie konflik en frustrasie met ons sal wees tot aan die einde van ons lewe hier op aarde, maar deur hierdie feit in gedagte te hou en gereeld teen versoeking te bid en doelbewus daaraan te werk om die slegte af te lê en die goeie op te neem ("putting off and putting on"), kan ons deur en met die hulp van die Heilige Gees, hierdie begeertes en dade en spesifieke slegte gewoontes, "dood maak". T.w.v. ons geestelike groei, maar primêr ter wille daarvan dat God deur ons lewe verheerlik sal word, móét ons dit aflê, trouens Paulus waarsku ons in Rom.8:13 wanneer hy sê ~ As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Ook in Kol.3:4 sê Paulus dat ons Christus se wederkoms tegemoet gaan en dat ons dan Sy heerlikheid met Hom gaan deel, maar om ons daarop voor te berei, gaan hy voort in v.5 en sê ~ Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.

            Te midde van hierdie stryd wat ons voer en die "male sonder talle" kere wat ons "vou" en toegee aan die versoekings en vleeslike begeertes, verskaf die Woord van God ook troos en bemoediging aan ons ~ Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Kor.10:13). Ons moet terselfdertyd ook daaraan vashou – en dit is die wonderlike Goeie Nuus van die Evangelie vir gelowiges, nl. dat ons vergifnis permanent is, daardie offer wat Jesus gebring het om ons te versoen met God die Vader en die vloek wat sedert die sondeval in die Paradys oor die mensdom hang (die erfsonde), is permanent verwyder, omdat Jesus die volmaakte en finale offer gebring het, maar terselfdertyd kan ons ook met vrymoedigheid na die Vader gaan en vergifnis vra vir ons daaglikse sonde (die sondesmet) – daardie sonde waarvan Paulus in o.a. Rom.8 en Kol.3 praat. Christus se offer was permanent van aard en daarom kan ons steeds vergifnis ontvang vir ons daaglikse sonde. 1 Kor.6:11 ~ Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

       Die Hebreërskrywer gaan egter in v.15 verder as die beloftes wat Paulus neergepen het en hy herinner ons daaraan dat ons vergifnis permanent is. Omdat Jesus se offer permanent is, is vergifnis permanent – Golgota het dus ’n permanente einde gebring aan die offerandes van die Ou Testament. Sulke offers is nou oorbodig en onnodig. Dit het wel gedien as voorafskaduwing van die beter verbond wat sou kom, maar dit het geen waarde daarna meer gehad nie – dit is waarom ons vandag nog steeds geen offerandes in die Joodse geloof sien nie – selfs al maak miljoene Jode nie deel uit van die nuwe verbond nie.

       Hierdie waarheid, sê die Hebreërskrywer, het die Heilige Gees in ons harte bevestig, daarom dat hy aan die begin van v.15 sê ~ Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Wat getuig die Heilige Gees aan ons? Vv.16-17 ~ Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” 17Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” Hierdie is natuurlik twee verwysings na die profesie wat Jeremia in Jer.31:33-34 gebring het en Jesus se soendood was dan ook die vervulling van hierdie profesie  ~ Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

       Ons Verbondsgod het dus as deel van die nuwe verbond, aan ons belowe dat Hy Sy Gees op ons sal uitstort, ten einde ons wysheid en krag te gee om Sy Woord te gehoorsaam, daarom dat Hy sê, dat Hy Sy wette in ons hart gee en in ons verstand skryf. Hy gaan egter voort in v.17 en herhaal weer, deur te sê dat Hy nooit weer aan ons oortredings sal dink nie. Wat ’n bevrydende gedagte is dit nie! Daarom dat die skrywer in v.18 sê ~ Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
      
6.    AFSLUITING:
       Dit is egter so dat baie gelowiges steeds worstel met sonde wat reeds vergewe is – waarom gebeur dit? Omdat hulle hierdie waarhede waaroor die Apostel skryf en waarvan die Heilige Gees ook getuig, enersyds nie wil glo of verstaan nie en andersyds omdat baie dink dat hulle steeds self iets kan of moet doen t.o.v. hul sonde en hul saligheid en veral om aanvaarbaar vir God te wees.

       Geliefdes, die enigste manier om ontslae te raak van ons sonde en ons skuldgevoelens oor sonde en om derhalwe aanvaarbaar vir God te wees – om permanente vrede te ervaar, is om op Christus se soendood te vertrou en die Woord te glo wanneer dit sê, dat niks, absoluut niks anders van ons vereis word nie. Onthou dit: God se aanvaarding van jou het nog nooit en sal ook nooit op enige prestasie van jou kant af, berus nie. Laat ons eerder ons dwaasheid en sonde van ongeloof bely en onsself toevertrou aan Christus Jesus ons Verlosser.

       Daar is niemand soos ons Here Jesus Christus nie. Hoe verskriklik gaan dit nie wees vir miljoene der miljoene mense wanneer hulle eendag van aangesig tot aangesig met Hom te doen gaan kry nie! Hy is hulle Maker, maar ook hulle Regter. Aan die anderkant egter, hoe wonderlik, genadig en liefdevol is Hy nie teenoor ons wat waarlik glo dat Hy vir eens en vir altyd, vir ál ons sonde boete gedoen het nie! Hy het ons aanvaar en sal ons in der ewigheid nooit verwerp nie! Die Here God het ’n verbond – ’n ewige verbond met ons gesluit en daarom hét Hy ons vergewe en daarom sál ons eendag, die vervulling van Christus se Hoë Priesterlike gebed beleef, nl. ~ Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het (Joh.17:24).


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 16 Junie 2013.