Sunday, September 23, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 12 (Christus ons Ewige Hoëpriester)



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    VOORAF:
         In ons Skrifgedeelte van vanoggend, gaan ons kyk na ’n vergelyking tussen die destydse aardse hoëpriesters aan die eenkant en Jesus Christus as ons ewige Hoëpriester aan die anderkant.

       In die eerste vier verse vind ons die basiese vereistes wat gestel was aan ’n aardse (of Joodse) hoëpriester en in die res van ons gelese gedeelte, sal sien ons hoe dat Christus aan ’n ieder en ’n elk van hierdie vereistes voldoen.


2.    SKRIFLESING:
       Hebr.5:1-10 ~ Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes. 4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader.” 6En op ’n ander plek sê Hy: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” 7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

2.    INLEIDEND:
       Wanneer gelowiges mekaar bv. by ’n konferensie aan die etenstafel ontmoet, is een van die eerste vrae wat gewoonlik gevra word: Van watter gemeente is jy en wie is jou predikant? Een van die vrae wat Jode destyds waarskynlik vir mekaar kon gevra het, was: Wie is jou priester? Wie bring jou offers gereeld voor die aangesig van die Here? Indien ’n Jood vandag vir ons sou vra hoe ons sonde vergewe kan word indien ons nie ’n hoëpriester het nie, kan ons hom antwoord dat ons wel ’n Hoëpriester het – ’n volmaakte Hoëpriester, nl. Jesus Christus. Hy hoef nie elke jaar, soos die Ou Testamentiese hoëpriester, herhaaldelik versoening te doen vir ons sonde nie, want Hy is nie beperk tot ’n aardse tempel nie; Hy hoef nie eers sy sonde voor die Vader te bring voor Hy namens die volk offer nie. Nee, Hy het ’n eenmalige offer gebring wat vir al ons sonde betaal het. Dit is hoe wonderlik en groots ons Hoëpriester is. Wat meer is, Hy sit nou aan die Regterhand van God die Vader waar Hy voortdurend intree vir Sy kinders en daarom is Sy Hoëpriesterlike amp ver verhewe bo dié van enige aardse Hoëpriester.

3.    SKEMA:
·           Aardse Hoëpriesters (5:1-4):
o    Mens aangewys as hoëpriester (5:1a)
o    Verteenwoordig die mens voor God (5:1b)
o    Simpatiek gesind (5:2)
o    Bring self Offerandes (5:3)
o    Deur God geroep (5:4).
·           Jesus – Ewige Hoëpriester (5:5-10):
o    Vleesgeworde mens gekies tot Hoëpriester (5:6, 10)
o    Verteenwoordig die mens voor God (5:7, 8)
o    Simpatiek gesind (5:7-8)
o    Bring self Offer (5:9)
o    Deur God geroep (5:10).

4.    AARDSE HOËPRIESTERS:
       Soos reeds gesê vind ons in ons eerste vier verse, die basiese vereistes wat gestel was aan ’n aardse (of Joodse) hoëpriester.


o    Mens aangewys as hoëpriester:
       Eerstens, is al die hoëpriesters gedurende die Ou Testamentiese tydperk, deur God vanuit die volk gekies – hulle was nie ’n engel, of ’n klipvoorwerp, of enige iets anders nie – Hy moes mens gewees het, gekies vanuit die mense ~ Elke  is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel (v.1)., sodat hy met begrip en simpatie, die mense by God verteenwoordig.  

o    Verteenwoordig die mens voor God:
       V.1 leer ons dat elke hoëpriester ’n mens was wat uit die mense aangewys was as hoëpriester. Die rede waarom die hoëpriester een van die volk moes wees, was omdat een van sy primêre verantwoordelikhede was om die mens voor God te verteenwoordig en hy moes dit op ’n simpatieke en genadige wyse gedoen het – net ’n mens (’n volksgenoot) kon dit so doen.

       Tydens en selfs na die Ou Verbond was God onbereikbaar vir die gewone mens en dit alles het sy oorsprong tydens die sondeval in die Paradys gehad – die mens is deur God uit die Tuin verjaag en daarmee saam is die mens se toeganklikheid tot God afgesny. In die wildernis is die volk van God bv. gewaarsku om nie té na aan die berg Sinaï te kom, waar God gekies het om Homself aan Moses te openbaar nie. Ook in die Tabernakel en die Tempel was God verskuil agter die Voorhangsel wat tussen die Heilige en die Allerheiligste gehang het – net die hoëpriester kon een keer per jaar in die Allerheiligste in God se teenwoordigheid verskyn.  
      
o    Simpatiek gesind:
       ’n Hoëpriester moes simpatiek gesind wees teenoor die volk, anders kon hy hulle nie na behore by God verteenwoordig en intree vir hulle nie. Vers 2b sê vir ons baie duidelik waarom die hoëpriester simpatie met die volk kon hê ~ ... omdat hy self aan swakheid onderhewig is. Die eerste gedeelte van hierdie vers sê ook verder vir ons dat die hoëpriester baie bepaald simpatie gehad het met die onwetendes ("ignorant") en dwalendes ("wayward"). Die onwetendes was diegene wie gesondig het, sonder dat hulle besef het dat hulle sondig. Num.15:28 het hiervoor voorsiening gemaak ~ Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik gesondig het, voor My versoening doen, en as die versoening vir hom gedoen is, sal die sonde hom vergewe word. In teenstelling hiermee was openlike en doelbewuste sonde, ’n gruwel in die oë van die Here. Die klem het dus op simpatie geval en daarom moes die hoëpriester simpatie gehad het met diegene wat onwetend gesondig en afgedwaal het.

       Behalwe dat die priester self ook gesondig het, was hy egter ook onderworpe aan allerlei swakhede wat tot gevolg gehad het dat hy empatie met die volk kon hê. So het hy self gebuk gegaan onder allerlei fisiese swakhede en tekortkominge – hy het moeg geraak; hy het hartseer geraak; hy het trauma beleef; hy het beskik oor beperkte intellek; ens. Hy was derhalwe in alle opsigte deel van hierdie aardse bestel wat gebuk gaan onder die gevolge van die sondeval.

       Die hoëpriester moes iemand wees wat besondere sensitiwiteit gehad het met ander mense en hy kón sensitief wees omdat hyself alles ervaar het wat die algemene publiek ervaar het. God het egter ook die nageslag van Aäron besonderlik geseën met empatie en ’n sagte gees wat in staat was om andere te verstaan en te vertroos en met sagmoedigheid te hanteer en omdat hulle geweet het hoe afhanklik hulle self van God se genade was, was hulle die ideale persone om in te tree by God t.w.v. die volk.

o    Bring self offerandes:
       Die aardse hoëpriester was, soos ons reeds gesien het, intens bewus van sy eie swakhede – hy het self ook geworstel met sy eie sonde en hy het die aanklagte van die Heilige Gees in dié verband ook ervaar en geken en daarom kon hy nie alleen met die volk identifiseer nie, maar moes hy ook vir homself offers gebring het op die Groot Versoendag (Yom Kippur) voor hy offerandes namens die volk gebring het – die gebruik was dat hy ’n bul moes slag en offer vir sy eie en sy huisgenote se sondes – daarom dat v.3 sê ~ Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes. Hiermee saam het hy ’n gebed gebid wat in die "Mishna" opgeteken was en dit het as volg gelui (vry vertaal in Afrikaans): o Here, ek en my huis en die heilige nageslag van Aäron, het oortree en teenoor U gesondig. O Here, ek bid dat U my en my huis se sonde wat ons voor U begaan het, sal vergewe.

       Benewens die feit dat hy offers gebring het ten einde vergifnis vir sy eie sondes te kon ontvang, het hy ook offers namens homself gebring in ooreenstemming met Levitikus. Een van hierdie offers was bv. die graanoffer (Lev.2) waartydens die hoëpriester meel geneem en wierook en olie daaroor gegooi het en dit dan op die altaar verbrand het as simbool van dankbaarheid en toewyding.

o    Deur God geroep:
       ’n Ware hoëpriester kon nie maar net enige mens wees nie – Hy moes deur God geroep wees. Geen mens kon dus aansoek doen vir die amp nie en ook nie omdat hy die amp van hoëpriester begeer het nie. Hy moes deur God aangewys word – gekies deur God. Hy moes getrou en gehoorsaam wees aan God en sy roeping, dit is waarom die Hebreërskrywer in v.4 sê ~ Niemand eien hom die eer van toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. God het baie duidelike opdragte aan Moses gegee met die instelling van die priesterlike ampte ~ Jy moet jou broer Aäron en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar na jou toe laat kom uit die volk Israel uit en hulle aanstel om My as priesters te dien (Eks.28:1). Aäron en dié se nageslag was die geslag uit wie die priesters aangewys moes word. Toe Korag, Datan en Abiram en tweehonderd-en-vyftig manne, waarvan ons in Num.16 lees, teen hierdie opdrag van God in opstand gekom het, het God, hulle laat sterf en nie sommer net op só ’n manier nie – vers 31-32 sê vir ons hoe God, hulle om die lewe gebring het ~ Net toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop 32en maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings. Ons sien ook in 1 Sam.13:8 dat Saul sy koningskap verloor het omdat hy ongeduldig geraak het met Samuel as priester. In 2 Kron.26:16-21 lees ons van Ussia wat só ingenome met homself geraak het dat hy die tempel in is om self offers tot God te bring – die uiteinde hiervan, nadat die priester Asarja hom gewaarsku het om dit nie te doen nie, was dat hy daar in die tempel melaats geraak het en hy was melaats tot en met sy dood.

       Gewone priesters het hulleself nie eers aangematig om hoëpriester te wees nie – hierdie was ’n baie ernstige saak en nog meer ernstig in die oë van die Here God – die hoëpriester was deur God self geroep – hy en hy alleen het die volk voor God verteenwoordig.

       Die hoëpriester was voorwaar één met die volk; een uit die volk en een vir die volk!

5.    JESUS – EWIGE HOËPRIESTER:
       Ek het aan die begin gesê dat ons ook ’n Hoëpriester het, nl. Jesus Christus. Wanneer ons na vv.5-10 van ons Skriflesing kyk, sien ons dat Christus aan presies dieselfde vereistes voldoen het om waarlik Hoëpriester te wees – trouens Hy het volmaak daaraan voldoen. Hy was dus vleesgeworde God tussen die mense en daarom ook gekies vanuit die mense om uiteindelik Hoëpriester te kon wees.

o    Vleesgeworde mens, aangewys as Hoëpriester:
       Ten einde die volmaakte Hoëpriester te kon wees, moes Jesus self ook mens word, sodat Hy kon ervaar wat ons ervaar; sodat Hy kon deurmaak wat ons deurmaak. Soos reeds keer op keer die afgelope tyd aangetoon, het Jesus, sonder om eenkeer te sondig, ver meer ervaar as wat ons kon droom om te ervaar en daarom – juis daarom, kan Hy ten volle empatie met ons hê.

       Ek het vroeër gesê dat die mens, tydens die sondeval, alle toeganklikheid tot God verloor het, maar met die koms van Christus het God Homself egter nie meer afsydig gehou van die mens nie, trouens Hy het toegetree tot die wêreld van die mens, sodat Hy ’n simpatieke en genadige Hoëpriester vir die mens kon wees. Indien Christus nie mens geword het nie, sou Hy nooit Hoëpriester vir die mens kon wees nie – sou Hy ook nooit die volmaakte en volkome offer gebring het om eens en vir altyd God se geregtigheid op die mensdom se sonde en derhalwe, versoening tussen God en mens te kon bewerkstellig nie. Die vleeswording (menswording) van Christus was dus nie ’n opsie nie; dit was ’n absolute noodsaaklikheid – dit was noodsaaklik indien die mens gered moes word.

       Ons sit egter met ’n oënskynlike probleem – ons het gesien dat die hoëpriesters uit die nageslag van Aäron gekies moes word en Jesus was nie uit die nageslag van Aäron nie. Dit is waarom vv.6 en 10 vir ons sê dat Jesus volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel was. Ons lees so vroeg as Gen.14:18-20 van Melgisedek – hy was koning van Salem (’n antieke naam vir Jerusalem), maar terselfdertyd was hy ook priester van God. Ons gaan D.V. in Hebr.7 in meer detail na Melgisedek kyk, maar kom ek sê net iets kortliks oor hom. Hy het ’n paar eeue voor die Aäronitiese priesterskap ingestel is, geleef en sy priesterskap was sonder einde, teenoor die Aäronitiese priesterskap wat in die Mosaïese tydperk begin het en in 70 n.C., toe die Tempel in Jerusalem deur die Romeine verwoes is, tot ’n einde gekom het. Die priesterskap van Melgisedek was dus ’n meerdere priesterskap as dié van Aäron. Melgisedek se priesterskap is dus ’n baie beter beeld van Christus se Priesterskap as dié van Aäron, want Christus se Priestersamp volgens die orde van Melgisedek dui dus op beide Sy Koninklike-, sowel as Sy priesterlike amp (net soos Melgisedek). In Hand.2:36 word verwys na Christus se Koninklike amp ~ Die hele Israel  moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! Christus is dus ewige Koning. In Ps.110:4 sien ons dat Christus ook ewige Hoëpriester is ~ Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.   

       V.7 begin met die woorde ~ Gedurende sy aardse lewe... Ons Here Jesus is gedurende Sy aardse lewe voorberei vir Sy Hoëpriesterlike amp. Van Sy geboorte, tot en met Sy dood het Hy die sondige aanslae van hierdie lewe ervaar en het Hy presies geweet wat dit behels om deur hierdie aardse lewe van die mens te gaan. Hy was dus uitnemend voorberei vir Sy amp as Hoëpriester ~ Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.

       In hierdie gedeelte sien ons gevolglik dat Jesus aan al die vereistes voldoen het wat van ’n aardse hoëpriester vereis was, trouens meer as dit – Hy is ewige Hoëpriester.

o    Verteenwoordig die mens voor God:
       Ons sien ook dat Jesus, die mens voor God verteenwoordig het. In vv.7-8 word gepraat van Jesus wat ~ ...Gedurende sy aardse lewe, aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer (het) met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. Hierdie verse verwys na Jesus se stryd in die Tuin van Getsemane (Matt.26:36-46). Die aand voor Jesus se kruisdood, het Hy geworstel met Sy Vader, maar dit was nie omdat Hy nie fisies wou ly of sterf nie; dit het vir Hom gegaan oor die feit dat Hy sonde vir ons gemaak sou word en in die proses totaal van God afgesonder sou wees. Jesus het egter nie kontra God se wil gebid nie, daarom dat Hy Luk.22:42b gebid het ~ Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied! Sy gebed het dus daaroor gegaan dat Hy nié Sy Vader gevra het om Hom van die dood te spaar nie, want dit was tog immers waarvoor Hy na die aarde gekom het en Hy bevestig dit self in Joh.12:27, wanneer Hy sê ~ Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Nee, Jesus het hier gebid dat Sy Vader om uit die dood moes red, m.a.w. dat die Vader Hom weer sal opwek uit die dood.

o    Simpatiek gesind:
       Dit bring ons by die volgende eienskap van Jesus se Hoëpriesterskap wat in ooreenstemming met die Ou Testamentiese en aardse hoëpriesters was, nl. Sy volmaakte simpatie met ons. Dít wat Jesus daar in die Tuin van Getsemane, die aand voor Sy kruisiging op Golgota, beleef het, het en sal geen mens ooit beleef nie – ons lees in Luk.22:44 dat Jesus so ernstig gebid het en die realiteit van wat die volgende dag in Sy lewe sou plaasvind, só intens ervaar het, dat Hy letterlik, druppels van bloed gesweet het. Kan enige mens bereid wees om dieselfde pad as Jesus te loop – geen mens sal in staat daartoe wees nie, maar Jesus hét en daarom kan Hy by uitnemendheid simpatie met ons hê – trouens, as enige iemand bereid sou wees (soos wat Hy wás) om die mensdom se sonde op hom te neem, spreek dit tog immers van volmaakte en Goddelike simpatie en kan so ’n persoon werklik beskou word as die mensdom se volmaakte simpatiseerder. Indien iemand bereid was om die ganse mensdom se sonde op Hom te neem, sodat hulle nie God se toorn daarop hoef te beleef nie, kan ons sekerlik sê dat so ’n persoon die toppunt van simpatie verteenwoordig! Dit was Jesus ons ewige Hoëpriester – volmaakte Simpatiseerder.

o    Bring self offerandes:
       Paulus sê vir ons in 2 Kor.5:21 ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.  Petrus sê in 1 Pet.2:24 ~ Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Jesus het nié Sy eie sonde na die kruis geneem nie, want Hy het geen sonde gehad nie – nee, Hy het die ganse mensdom deur die eeue heen, wie in Hom glo en aan wie hulle hul lewens wy, se sonde op Hom geneem en dít na die kruis geneem en God die Vader het Hom gestraf en laat sterf, sodat ons kan lewe – Hy het die offer self geneem en voor God die Vader geoffer en daardie offer was Hyself – Jesus Christus, die volmaakte Offerlam, sodat daar eens en vir altyd, volmaakte versoening tussen God en mens bewerkstellig kon word! Daarom dat die Hebreërskrywer in v.9 vir ons sê ~ En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword.

o    Deur God geroep:
       Omdat Christus hierdie offer self gebring het en Hy aan alle vereistes vir die amp van Hoë Priester voldoen het, lees ons in v.10 ~ ...en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek. Geen aardse hoëpriester kon homself aanstel of kies nie en daarom het Jesus Homself ook nie aangestel nie - v.3 bevestig hierdie feit aan ons wanneer dit sê ~ Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader.

6.    AFSLUITING:
Jesus Christus het die Bron van ewige saligheid geword vir elkeen wat Hom gehoorsaam (v.9). Sy solidariteit met ons, impliseer dat Hy ons in volmaakteheid en volkomenheid kan red. Christus is ons triomfantlike en ewige Redder – Sy Goddelike verkiesing as beide ewige Koning en Hoëpriester tesame met die feit dat Hy volkome solidariteit en empatie met ons betoon, impliseer dat Hy die enigste ware en volmaakte Hoëpriester is wat ons saak voor God die Vader kan stel en wat versoening vir ons sonde kon doen – laat ons daarom die vrymoedigheid neem om met vertroue tot Hom in gebed te gaan met al ons worstelinge, maar ook vreugde en dankbaarheid en belydenis van sonde, want Jesus Christus, die Regverdige is getrou en volmaak om vir ons ’n Voorspraak by die Vader, te wees (1Joh.2:1b – O.A.V.).


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 September 2012

Sunday, September 16, 2012

Psalm 95 (Hoe om God te Aanbid)



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
 1.    VOORAF:

         John Stott het op ’n keer gesê: True worship is the highest and noblest activity of which man, by the grace of God, is capable. Ongelukkig moet ons erken dat, wat in baie kerke vandag aan die gang is, min tot niks te doen het met ware aanbidding van God nie en wanneer ons dit sê, moet ons uiteraard ook die hand diep in ons eie boesem steek, ten einde vas te stel hoe ons God werklik aanbid en of ons dit doen soos wat die Woord van God van ons vereis.

       Ps. 95 is ’n pragtige voorbeeld vir ons van hoe God aanbid moet word, trouens dit is ook ’n oproep tot ware aanbidding van God. Hierdie Psalm is egter ook ’n waarskuwing wat aan ons gerig word van wat sal gebeur, indien ons God nie aanbid nie. 

Sunday, September 9, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 11 (Christus ons "Pontifex")



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.



1.    VOORAF:
       Hoofstuk 4 sluit af deur weer terug te keer na die sentrale tema van Jesus as die Joodse volk se allerlaaste Hoë Priester. Ons gaan dan vanoggend na Jesus Christus as Hoë Priester kyk en ons gaan dit aan die hand van die volgende opskrifte doen:
·           Sy volmaakte Amp (v.14).
·           Sy volmaakte Medelye (v.15).
·           Sy volmaakte Uitnodiging (v.16).

2.    SKRIFLESING:
       Hebr.4:14-16 ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

3.    INLEIDEND:
       Hierdie perikoop vorm ’n baie belangrike oorgang van die een gedeelte van die Hebreërbrief na die volgende gedeelte.  

       Israel se Hoë Priesters was gedurende die Ou Testamentiese tydperk, of onder die Ou Verbond, afgesonder deur God en wel vir ’n twee-ledige bediening. Aan die een kant was hulle God se verteenwoordigers by Sy volk, deur o.a. die Woord van God aan die volk oor te dra, maar aan die anderkant het hulle ook die mense voor God verteenwoordig, deur die volk se gebede en offerandes voor Hom te bring.
      
       Dit is interessant om te weet dat, toe die vroeë Christene die Hebreeuse Ou Testament in Latyn vertaal het, hulle die woord vir "priester", vertaal het met die Latynse woord "pontifex" wat letterlik "brugbouer" beteken.

       Wat ook belangrik is om te weet t.o.v. die Hoë Priesterlike amp, was dat dit oorerflik was (Eks.29:29-30) – iets waaraan die skrywer breedvoerig aandag gaan skenk in hoofstuk 7. T.w.v. agtergrond moet ons ook voortdurend in gedagte hou dat die Hoë Priester die enigste was, wat die Allerheiligste in die Tabernakel (en later die Tempel) kon binnegaan en dit het net eenkeer per jaar geskied  en wel op die Dag van Versoening (Lev.16:1-25).

       Ons perikoop waarna ons vandag kyk, dien beide as ’n finale gevolgtrekking t.o.v. die vermanings in 3:1 tot en met 4:16, maar dien terselfdertyd as inleiding vir die wonderlike uiteensetting en verklaring, of lering oor die Hoë Priesterskap van Jesus die Christus, en wel tot en met 10:25.

       Tot nou was die boodskap in hierdie brief hoofsaaklik negatief: as jy nie glo nie, is jou verdoem – vir ewig verwyder van God se teenwoordigheid; jy sal nooit Sy rus kan binnegaan nie. Net soos wat die Hebreërskrywer hierdie negatiewe boodskap moes oordra, net so moet ons dit ook van tyd tot tyd doen, want God Almagtig is nie nét ’n liefdevolle en genadige God nie – Hy is ook ’n heilige God en daarom moet ons voortdurend gewaarsku word en moet ons andere ook aanhoudend waarsku en as ons baie mooi daaroor dink, is dit eintlik ’n boodskap wat ten alle tye verwelkom moet word, want agter hierdie boodskap van veroordeling, vind ons steeds God se liefde en genade (net soos dit die geval is met die tug in Matt.18).  

       Die boodskap verander egter nou na die positiewe kant, want die Evangelie van Jesus Christus hou ons nie alleen uit die hel nie, dit vermag veel-veel meer as net dit, want dit skenk aan ’n ieder en ’n elk wat sy geloof in Jesus Christus as Verlosser plaas, geestelike lewe. Ons moet verlossing in Christus dus nie alleen najaag omdat dit ons uit die hel kan hou nie – nee, ons moet dit najaag omdat dit aan ons die ewige lewe in Christus skenk. Ons moet daarna strewe en met alles in ons dit najaag, nl. om in God se rus in te gaan en nie omdat ons God se oordeel vrees nie, maar omdat God ’n genadige God is – Hy is nie net ’n regverdige Regter nie, maar ook ’n genadige en getroue Hoë Priester!