Sunday, August 30, 2015

Die Profeet Sagaria - 16 (“Die Ou Verbond verplaas deur die Nuwe Verbond ”)



1.   INLEIDING:
      Ons kom vandag by die laaste hoofstuk van die Porfeet Sagaria. Hierdie hoofstuk van Sagaria is waarskynlik een van die hoofstukke in die Bybel (naas Openbaring natuurlik) waaroor daar bitter min ooreenstemming bestaan.

      Sommige verklaarders sien die vervulling van hierdie profesie reeds in die tyd van die Makabeërs (Hiper-Pretersite bv.) - die Makabeërs was die leiers van n Joodse rebellegroep wat beheer van Judea geneem het  gedurende die tweede en derde eeu voor Christus. Hulle het die Joodse geloof weer stewig gevestig, o.a. deur gedwonge bekerings en hulle het ook die grense van Judea uitgebrei en die invloed van die Hellenisme (n vermenging van die Joodse godsdienstige tradisies met die Griekse kultuur) drasties verminder.

      Andere weer is vas oortuig daarvan dat hierdie profesie in letterlike vervulling sal gaan met die uiteindelike herbou van Jerusalem en die Tempel in Jerusalem (die Millennialiste) tydnes die duisendjarige vredestyd (na die wegraping).

      Die mees aanvaarde en regsinnige beskouing van hierdie profesie, dui egter op die beskrywing van gebeure in die vestiging en uitbreiding van die Kerk van die Here Jesus Chirstus en hierdie tydperk strek vanaf die koms van Jesus, tot en met Sy wederkoms.

2.   SKRIFLESING:
      Sag.14:1-21 ~ Die dag van die Here kom. Wat in jou buitgemaak is, Jerusalem, sal binne-in jou verdeel word. 2Ek sal al die nasies bymekaarmaak vir n oorlog teen Jerusalem. Die stad sal ingeneem word, die huise sal geplunder word en die vrouens verkrag word. Die een helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan, maar die ander helfte sal nie uit die stad verwyder word nie. 3Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het. 4Daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal n groot kloof van oos na wes ontstaan. Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe. 5Julle sal deur die kloof in my berg vlug, want die kloof sal strek tot by Asal. Julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda. Dan sal die Here my God kom, en al die hemelwesens sal by jou wees. 6Daardie dag sal daar nie lig wees of koue of ryp nie. 7Dit sal n besondere dag wees. Wanneer dit sal wees, weet net die Here. Daar sal nie dag of nag wees nie: as dit aand word, sal daar steeds lig wees. 8Daardie dag sal daar n vars stroom water uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die ooste toe en een helfte na die see in die weste toe, somer en winter. 9Die Here sal koning wees oor die hele land. Daardie dag sal die Here die enigste God wees, en sy Naam die enigste Naam. 10Die hele land, van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem, sal soos die Jordaanvallei word. Jerusalem sal gelig word daar waar hy nou is, hy sal hoog lê, van die Benjaminpoort af tot waar die poort vroeër was, tot by die Hoekpoort en die Gananeltoring, tot by die koning se wynkuipe. 11Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal n veilige woonplek wees. 12Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met n groot ramp tref: hulle vleis sal wegvrot terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal wegvrot in hulle oogkaste, hulle tonge sal wegvrot in hulle monde. 13Daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak: die een sal die ander aan die hand gryp en hom aanval. 14Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdomme van al die nasies rondom sal bymekaargemaak word: goud, silwer en klere in groot hoeveelhede. 15Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is. 16Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier. 17Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie. 18En as die Egiptenaars nie kom nie, sal die Here hulle met dieselfde ramp tref as die ander nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie. 19Dit sal die straf wees vir Egipte en vir al die nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie. 20Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: Gewy aan die Here, en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees. 21Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees. Die mense wat kom offer, sal van die potte vat en vleis in hulle kook. Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees.

3.   JERUSALEM GEOORDEEL (vv.1-2):
      Soos reeds gesê, pas die Millennialiste v.1 toe op n Groot Verdrukking en n daarop volgende 1000-jarige vrederyk, waartydens Chirstus fisies en letterlik die wêreld vanuit Jerusalem polities sal regeer en die ganse aarde herskep sal word tot sy oorspronklike glorie - dit alles gaan natuurlik vooraf gegaan word met Christus se neerdaal op die Olyfberg.

      Volgens die Millennialiste is vv.12-15 n beskrywing van die inval in Jerusalem deur n gekombineerde wêreldmag, maar hierdie militêre mag sal deur Chirstus met die aanvang van die millennium (1000 jarige Vrederyk) verslaan word en dan sal van die oorlewende nie-militêre personeel van die heidene, Christus jaarliks in Jerusalem kom aanbid. Hulle gaan voort en sê dat vv.16-17 daarop dui dat die nuwe wêreldorde onder Christus, beide Jood en heiden sal insluit en hulle sal soortgelyke offerrituele uitvoer as tydens die Ou Testamentiese tydperk (Asseblief! Waar staan al hierdie goed in die Woord van God?)

      Nie net is hierdie teologiese stroom radikaal in stryd met die verlossingsgeskiedenis nie, maar bekende teoloë soos Meredith G. Kline; A.A. Hodge; B.B. Hoerfield en verskeie andere beskou hierdie Millennialistiese teologie as Evangeliese kettery, want ons weet dat die volheid van tyd, soos o.a. omskryf in Jes.2:2-4 en 1 Kor.10:11 en Hebr.9:26, reeds deur Jesus ingelei is terwyl Hy op aarde was en is die tempel- en offerdienste vir goed verwyder ~ EN nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie (Mark.1:14-15). Ook Gal.4:4 ~ Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit n vrou, gebore onder die wet.

      Maar terug na Sagaria. Ons moet heel eerste besef dat Sagaria apokaliptiese taal gebruik wanneer hy hier skryf en dit beteken dat dit wat aan hom geopenbaar is, so oorweldigend vir hom was dat dit vir hom baie moeilike was om dit wat hy van die Here ontvang het, in woorde uit te druk en daarom moes hy van alledaagse taal, gebeure en plekke gebruik maak om dit vir sy lesers te verduidelik - daar word dus baie gebruik gemaak van metafore en simbole ten einde die ongewone en unieke te beskryf.

      Ons het reeds in Sag.13:7 gesien dat die Herder, Jesus Christus, met die swaard geslaan sal word en dat Sy skape verstrooi sal word. Dit is in ooreenstemming met wat Jesus in Mark.14:27 gesê het ~ Toe sê Jesus vir hulle: "Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word.

      Hierdie profesie gaan voort in Sag.14 en in vv.1-2 beskryf Sagaria vir ons die gebeure wat uiteindelik sou lei tot die val van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C.     Wanneer dit gebeur gaan die Here optree as Regter oor Jerusalem en haar inwoners. As Koning, Regter en Regeerder gaan die Here Sy weermag stuur om ~ die moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek (Matt.22:7).

      Wat gaan op daardie verskiklike dag gebeur? Die Here gaan die nasies byeenbring (die Romeinse Ryk se weermag) en hulle gaan optrek teen Jersualem soos inderdaad dan ook in 70 n.C. gebeur het. Op daardie dag sal die stad oorgeneem word en verskriklike dinge gaan gebeur - hoor net wat het Jesus van hierdie dag gesê ~ Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie, en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. "Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. Bid dat julle nie in die winter of op 'n sabbatdag hoef te vlug nie, want in daardie tyd sal daar so' n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie. En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort (Matt.24:17-22).

      In die lig van Jesus se uitspraak in Matt.24:34, asook Openb.1:1, is dit baie duidelik dat Sagaria in vv.1-2 God se oordeel oor Jerusalem en die Jodedom, met die val van Jerusalem deur die Romeine beskryf en hy doen dit op baie grafiese wyse - hierdie veldslag moes iets verkrikliks gewees het ~ huise sal geplunder word en die vrouens verkrag word (v.2).

      Hierdie Slag van Jerusalem word as volg deur die baie bekende en gerespekteerde teoloog, Don Carson beskryf: Never was so high percentage of a great city so thoroughly and painfully exterminated and enslaved as during the Fall of Jerusalem in 70 AD.

      Nadat Jerusalem en die Tempel geval het, het Titus (die bevelvoerder van die Romeinse mag) opdrag gegee dat die fondasie van die stad en die Tempel met ploeë omgedolwe moes word. Hierdie word deur die Talmud bevestig (n geskirf wat deur die Judaïste opgestel en bygehou word om die Joodse kultuur, gebruike en geskiedenis te boekstaaf en die praktiese implikasie van dit alles vir die Jode). Dit is ook bevestig in die verslag wat opgestel is deur die bevelvoerder van die soldate wat na die val van Jerusalem agtergebly het, nl. Terentius Rufus - hy was verantwoordelik was vir die omdolwe van die fondasies. Wat is so besonders rondom hierdie feite - kom ons lees Miga 3:12 ~ Daarom is dit julle skuld dat Sion soos 'n stuk land geploeg sal word, dat Jerusalem' n puinhoop sal word, dat die tempelberg 'n hoogte vol bossies sal word. Hierdie profetiese woorde van Miga is nagenoeg 800 jaar voor die val van die Tempel uitgespreek!

      Wat ook interessant is, is dat Flavius Josephus (37-101),  die Palestyns Joodse historikus, wat van priesterlike afkoms was en wat namens die Romeine, die Joodse geskiedenis geboekstaaf het,  getuie was van hierdie verksiklike gebeurtenis.

      Hierdie inval in Jerusalem was inderdaad Die Dag van die Here ten einde hulle, wat weier om deur Christus regeer te word, te verwoes. Hierdie was natuurlik ook n vervulling van Jesus se woorde in Luk.21:20 ~ Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is.

      Nadat die Romeine die stad binnegeval het sal n groot getal van die inwoners gedood word, andere sal as slawe weggevoer word en andere sou net verjaag word uit die stad en aan hul eie lot oorgelaat word.

      Wat egter nog belangriker is, is dat die Tempel altyd simbool was van die absolute en onoorkomenlike skeiding tussen die Jode (God se volk) en die heidendom, maar met die vernietiging van die Tempel word n nuwe era ingelei waar die Bloed van Christus in die woorde van Hebr.9:14, ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!

      Baie mense glo dat Jesus in Sy Profetiese Rede, of Olyfberg diskoers (Matt.24-25) geprofeteer het oor Sy wederkoms en die herbou van die Tempel - daar is egter nêrens sprake van die herbou van die Tempel in hierdie gedeelte, of in enige ander gedeelte van die Nuwe Testament nie. Die verwarring ontstaan omdat mense n aanname maak t.o.v. die uitdrukking die einde van die wêreld   in Matt.24:3 ~ Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: "Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees. Die OAV noem dit, die voleinding van die wêreld en die meeste Engelse vertalings praat van the end of the world of the end of the age.

      Wanneer ons na v.3 kyk, moet ons egter die konteks in gedagte hou. T.w.v. die konteks - kom ons lees net eers v.1 van Matt.24, want dit sê vir ons waaroor die gesprek tussen Jesus en Sy dissipels gaan ~ Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. Baie duidelik word hier van die fisiese Tempel waar Jesus so pas was, gepraat en dan gaan Jesus voort in v.2 en Hy sê ~ Maar Hy antwoord hulle: Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.

      Ongelukkig is die NAV hier swak vertaal, omdat dit letterlik na die einde van alles verwys (die wederkoms en oordeel), terwyl die ESV nader aan die waarheid is, wanneer dit praat van,  the end of the age. Toegegee, n mens kan baie maklik hier dink aan die wederkoms, maar as ons verder na die konteks kyk en dan uiteindelik by o.a. Matt.24:15-16 kom, sien ons dat hierdieend of the age baie duidelik verwys na die vernietiging van die Tempel - m.a.w. daar kom n einde aan die era van Judaïsme, of die Tempeldiens, en alles wat daarmee gepaard gaan - n be-eindiging van die Ou Verband en die finale begin van die Nuwe Verbond ~ Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan- wie dit lees, moet dit goed begryp- dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug.

      Die dissipels vra vir Jesus in v.3 wanneer hierdie dinge gaan gebeur - watter dinge? Vv. 1-2 sê vir ons dat dit gaan oor die vernietiging van die Tempel en soos nou net gesien, dui die konteks ook daarop. Die dissipels se vraag was baie eenvoudig en op die man af en het twee vrae geïmpliseer, nl.: Wanneer gaan die Tempel verwoes word en tweedens, wat gaan die teken wees wat gaan aandui wanneer Jesus die Tempel gaan verwoes, m.a.w wat gaan die teken wees om die einde van die tyd aan te dui?  Jesus gee die antwoord self in Matt.24:15-16 ~ Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwelis vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan- wie dit lees, moet dit goed begryp- dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Dit kan hier tog ook nie gaan oor die wederkoms nie, want wie sal op daardie dag die berge kan invlug om so Christus se wederkoms te ontduik?

      Die Jode het tyd in twee periodes ingedeel, nl. die era van die Wet en die era van die Messias en die einde van die een impliseer die begin van die nuwe. Vir die Jode het die nuwe nog nie aangebreek nie en is hulle dus nogsteeds in die oue (alhoewel die moderne Jode nie eers meer die offerdiens, ens. instand hou nie), maar die dissipels vra vir Jesus hier in Matt.24, wanneer die uurglas gaan leegloop vir die tydperk van die Ou Verband (Engels: age)? Dievoleinding van die wêreld of the end of the age is dus verbondstaal en moet ons dus verstaan dat dit hier gaan oor die beëindiging van die Ou Verbond en as simbool daarvan, sou die Tempel vernietig word - wat inderdaad, nie lank na Christus se   hemelvaart, gebeur het nie.

4.   DIE OLYFBERG SKEUR (vv.4-9):
      God se oordeel oor Jerusalem word verder uitgebeeld deur Christus wat op die Olyfberg staan en dit gaan gepaard met nog simboliek. V.5 sê vir ons dat mense deur die kloof in Sy berg sal invlug en dit sal n besondere dag wees.

      Vantevore was die berg simbool van die skeiding tussen die Jode en die heidendom, maar nou gaan die berg skeur en gaan bekeerde Jood en bekeerde heiden, een word - die Kerk van die Here Jesus word een en die weg word gebaan vir die Evangelieboodskap om die wêrld binne te gaan.

      Paulus borduur voort op hierdie beeldspraak wanneer hy in Ef.2:14 sê ~ Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie- Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het.

      Sagaria gaan voort in v.6 en hy sê dat daar op daardie dag lig sal wees. V.6 begin deur te sê dat daar op daardie dag nie lig sal wees nie Nee, daar staan daar sal nie lig of donker wees nie en dan sluit hy v.7 af deur te sê dat wanneer dit aand word, sal dit steeds lig wees. Dit beteken maar bloot net dat daar nie meer dae en nagte sal wees nie, maar net lig - net dag. Soos voor die eerste skeppingsdag toe lig en donker geskep is, was dit net lig en dit impliseer dat vir diegene wat deur die kloof in Chirstus kon invlug, die donker van beproewing nie meer plek het in ie teenwoordigheid van die heerlikheid van God waarbinne elke gelowige homself nou bevind nie, want die fokus is nie meer op die omstandighede en boosheid rondom hulle nie, maar op die groter realiteit van God se teenwoordigheid.  

      Die vars stroom water waavan v.8 melding maak is die Evangelie boodskap wat van wes na oos sal versprei - die wêreld deur en genesing bring vir diegene wie hulle skuiling in Christus se teewoordigeheid vind ~ Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit (Openb.22:1).

      Wanneer die Here gevrees word, sal Hy gevrees word as die Groot Koning oor die hele aarde (v.9) en elke keer dat iemand uit die kloue van die satan gered word, triomfeer Christus as die Groot Koning ~ Al julle volke, klap julle hande; juig tot eer van God met 'n jubelende stem, want aan die Here, die Allerhoogste, kom eerbied toe; Hy is die Groot Koning oor die hele aarde (Ps.47:2-3).

5.   DIE GEVOLG VAN GOD SE STRAF (vv.10-15):
      In vv.10-15 vind hier weer n grafiese beskrywing van wat met die nasies gebeur wat teen God kies, maar eers sê Sagraia in vv.10-11 dat God se kinders verhoog sal word en hulle sal veilig in God se rus kan ingaan.

      In teenstelling met wat met God se kinders gebeur, gebeur die verskriklikste dinge met hulle wat teen God veg - wat teen Hom kant kies. God se toorn word losgelaat oor Sy vyande. Daar word o.a. in v.12 gesê dat hulle oë sal wegvrot en hul tonge sal wegvrot in hul monde en dit kan moontlik die gevolg wees van die haters van God se neerhalende operkings oor God se kinders en die feit dat daar neergesien word op hulle - dat hulle verkleineer word.

      n Verdere gevolg van God se straf op diegene wie ongeregtigheid stook, is dat hulle teen mekaar sal optrek en mekaar sal uitdelg. God se vyande word en sal uitendelik permanent vernietig word, maar God se kinders sal staande bly - veilig bewaar en ons ervaar hierdie oorwinning en sekuriteit deur geloof ~ want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof (1Joh.5:4).

6.   GOD SE SEëN (vv.16-20):
      Dei laaste gedeelte van Sagaria skilder die universele seën wat God sal uitstort oor al Sy kinders in die finale staat.

      In v.16 sien ons dat almal in die heidennasies nie verwoes gaan word nie, omdat sommige van hulle tot Christus gaan kom en Hom en Hom alleen as die ware en lewende God aanbid. Ons het o.a. al in Sag.8:23 gesien dat Sagaria verwys na die heidennasies wat na die Kerk sal kom, bedoelende na Christus en redding sal ervaar  ~ So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: "Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.

      Die wedergeboorte van die heidene word in terme van die Joodse Huttefees uitgedruk en het niks te doen met die deelname aan hierdie jaarlikse Joodse fees nie, maar die vergelyking word gebruik om die heidene se vreugde en dankbaarheid vir God se seën en genade, soos met die Loofhuttefees, uit te druk. Hierdie fees vind gewoonlik tydens die insameling van die herfsoes plaas en is derhalwe vir Sagaria, n simbool vir die insameling van heidene in die Christendom in.

      Deel van die Loofhuttefees was om te bid vir die seën van goeie reën en so bid die bekeerde heidene ook vir God se soewereine seën in en op hul lewe en dit is in teenstelling met wat Sagaria in vv.17-19 van die ongeredde heidene sê, wanneer hy hulle vergelyk met o.a. Egipte op wie die seën van reën nie val nie en wel omdat hulle nie deel wil hê aan God se seën nie ~ Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie

      Sagaria sluit sy profesie af in vv.20-21 af deur te verwys na perde op wie se tuie die woorde aan die Here gewy, geskryf staan en hierdie is n vergelyking met die drag wat die Hoë Priester moes aantrek ~ Jy moet 'n blom van suiwer goud maak en daarop, soos op' n seëlring, graveer: Aan Die Here Gewy." Jy moet dit met 'n blou toutjie aan die tulband vasmaak. Dit moet aan die voorkant van die tulband wees. Dit moet op Aäron se voorkop wees as teken dat hy aanspreeklik is vir elke ontwyding van die offers deur Israel. Die blom moet gedurig op Aäron se voorkop wees as teken dat Ek, die Here, die Israeliete goedgesind is (Eks.28:36-38).

      Met hierdie vergelyking wil Sagaria sê dat al die gelowiges, synde bekeerde Jood, of bekeerde heiden, deur God se genadewerking, geheilig word - vergewe is deur Jesus Christus se soendood en dat hulle hul dankbaarheid en vreugde teenoor God moet betoon soos wat die Jode dit tydens die Loofhuttefees gedoen het. Bo en behalwe die feit dat ons geheilig is, word ons egter ook opgeroep om heilige lewens te lei, net soos wat die Hoë Priester homself moes reinig voor hy in die teenwoordigeid van God in die Allerheiligste verskyn het - daarom dat Petrus ook in 1 Pet.1:16 ~ Wees heilig, want Ek is heilig.

      Ons wat uit die heidendom geroep is om deel van God se Koninkryk te word, het soveel stof tot dankbaarheid dat die Olyfberg gekloof is; dat die Ou Verbond verplaas is deur die Nuwe Verbond, sodat ons deel kon word van God se ewige Koninkryk! 

 [Boodskap: Kobus van der Walt (3Riviere Baptiste Kerk, 30 Augustus 2015)]