Sunday, March 18, 2012

Die Brief aan die Filippense - 01 (Vreugdevolle Diensknegte)

 Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDING:
Op 'n stadium gedurende die Tweede Wereld Oorlog het Hitler en sy Duitse lugmag, ’n geweldige lugaanval teen Engeland en spesifiek Londen geloods. Tydens hierdie aanval het die inwoners van Londen baie moedeloos geraak en is die eertydse Britse Eerste Minister, Sir Winston Churcill gevra om die volk toe te spreek, waarop hy toe o.a. die volgende agt woorde kwyt geraak het: "Never give up! Never, never, never give up!" Daar sal tye in jou lewe kom, waar jy ontmoedig sal voel, veral wat betref jou wandel met die Here – het van ons nie maar so van tyd tot tyd gevoel wat ons gemeente ook aan betref nie? Paulus wil vir ons deur sy brief aan die gemeente in Filippi sê, "moet nooit ooit moed opgee nie en moet nooit voel om tou op te gooi." Wat ons nodig het, is om soos ’n bulhond vas te byt om nooit te laat los nie, ongeag ons omstandighede; ongeag die laagtepunte of teleurstellings wat ons in ons persoonlike lewes; ons geestelike lewes; ons gemeentelike lewes, mag ervaar, wel wetende dat God besig is om in ons te werk en die goeie werk wat Hy in ons begin het, deur te voer en dit te voleindig op die dag wanneer die Here Jesus weer kom (Fil.1:6). Hierdie is dan ook die kern van die boodskap van die pragtige Filippensebrief – ’n brief wat ook bekend staan as Paulus se "Vreugdebrief".
3.    AGTERGROND:
Filippi was in die noord-ooste van Griekeland geleë (net wes van die huidige Turkye en net suid van die huidige Joego-Slawië en Bulgarye) op die besige militêre roete wat die Romeine gebou het om Europa met Asië te verbind.

Die gemeente in Filippi was die eerste gemeente wat op Europese bodem deur Paulus gestig is (Hand.16:12-40) en wel tydens sy tweede sendingreis en is tussen 54 en 63 n.C. uit ’n gevangenis in of naby Efese geskryf.

Hy deel in hierdie brief, iets mee van die omstandighede waarin hy homself bevind en hy bedank die gemeente vir hul tasbare hulpverlening wat hy van hulle ontvang het. Hy is egter besorg oor die eenheid en welsyn van die gemeente wat bedreig word deur die optrede van dwaalleraars. Hy beklemtoon ook die feit dat die nuwe lewe in Christus deur God geskenk word aan dié wat glo. Hierdie lewe oortref alle ander dinge en bring vrede en blydskap ongeag die omstandighede van die gelowige, daarom kan die apostel uit die gevangenis hierdie brief skryf met die tema: Wees altyd bly in die Here (4:4).

In hierdie kort brief van slegs 104 verse vind ons bykans al die groot leerstellinge van die Bybel en hier word verskeie diepsinnige uitsprake gemaak, oor onderwerpe soos liefde, hoop, vreugde, ens. Hierdie is ’n uiters praktiese boek wat onderwerpe aanspreek soos, "Hoe om God se wil vas te stel"; "Hoe om jou saligheid uit te werk"; "Hoe om die  lewende Christus te ken"; ens.

Ek het netnou gesê dat hierdie brief ook "Paulus se Vreugdebrief" genoem word, want Paulus het self die Bron van ware vreugde ontdek en hy het geleer dat ’n mens tevrede moet wees ongeag die omstandighede waarin jy verkeer – hy het geleer om hom in alles te verheug in die Here.   

4.    BREË OMLYNING VAN BRIEF:
Die hooftrekke van die brief sien as volg daar uit:
Die Vreugdevolle Dienskneg van Christus Jesus (1:1–11);
Die Optimistiese Gevangene (1:12–30);
Die Nederige "Kruisdraer" (2:1-18);
Die Bedagsame Sendeling (2:19–30);
Die Rustelose Idealis (3:1–21);
Die Taktvolle Pastor (4:1-9);
Die Dankbare Ontvanger (4:10-23).

5.    SKRIFLESING: 
Fil.1:1-11 ~ Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. 2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! 3Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. 7Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. 9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer

6.    GROETEWOORD:
Toe ek op skool was, het ek geleer dat jy ’n brief begin deur die geadresseerde se naam bo aan te skryf en jy sluit die brief af met jou naam onder aan die brief – nie in die eerste eeu nie. Paulus begin sy brief soos wat alle ander briewe in daardie tyd geskryf was ~ Van Paulus. Paulus identifiseer hom baie duidelik in die aanhef van die brief, sodat daar geen onduidelikheid kan bestaan oor wie die afsender van die brief is nie. Nie net ken die gemeente Paulus as die apostel wat hul gemeente geplant het nie, maar hulle onthou hom ook as die man wat die Evangelie bedien het aan Lidia op die oewer van 'n nabygeleë rivier buite Filippi; sy bestraffing van die waarsêersgees in die slavin; sy botsing met die stadowerhede en sy gevangesetting daar in Filippi – hy is dus ’n bekende onder die gemeentelede.

Paulus voeg egter die naam van Timoteus by syne in die aanhef van die brief. Timoteus was ’n jong man wat saam met Paulus beweeg het en die Evangelie verkondig het sover hulle gegaan het. Daar het ’n hegte band bestaan tussen die twee – soveel so dat hy hom selfs as sy "seun" aangespreek het (1 Tim.1:2; 2 Tim.1:2, 2:1). As ons kyk na teksverse soos bv. 2 Tim.1:7-8 en 2 Tim.2:1, wil dit voorkom asof Timoteus ’n skaam jongman was en dat hy selfs sieklik was, daarom dat Paulus vir hom sê dat hy wyn moet drink vir sy maag ~ Moenie langer net water drink nie. Gebruik ’n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede (1 Tim.5:23). Ten spyte van hierdie oënskynlik swak eienskappe waaroor Timoteus beskik het, was hy tog ’n jongman wat oor die nodige eienskappe beskik het wat nodig was om ’n "man van God" te word. In 2 Tim.1:5 sien ons dat hy beskik het oor ’n opregte geloof wat al in sy ouma en ma teenwoordig was. Hy het ’n bepaalde geestelike genadegawe van God ontvang (2 Tim.1:6). Timoteus het ook oor ware vriendskap vir mense en spesifiek vir Paulus beskik (2 Tim.1:2,4) en sy lewe was gekenmerk deur genade wat hy van God ontvang het met sy eie wedergeboorte – hy was dus ’n jongman wat oor die nodige kenmerke beskik het om ’n goeie bedienaar van die Evangelie te word (1 Tim.9-10).

Ons kan dus sê dat Paulus en Timoteus, op daardie stadium dat Paulus die brief geskryf het, "spanmaats vir die Evangelie" was. Paulus gaan egter voort en hy hang bepaalde etikette om sy en Timoteus se nekke, deur te sê dat hulle dienaars of diensknegte van die Here Jesus Christus is. Die woord wat Paulus hier in die Grieks gebruik, is δοῦλοi (douloi) en dit beteken letterlik om vasgebind of verweef te wees aan iets of iemand; of om ’n slaaf van iemand te wees en om ’n slaaf van iemand te wees, impliseer dus dat so iemand o.a. ’n nederige gees sal openbaar.

Gesien in die konteks sê Paulus dus dat hy en sy medewerker Timoteus, diensknegte van Christus Jesus is. Hierdie uitdrukking "douloi" of "doulos" word baie dikwels in die Griekse Ou Testament gebruik wanneer daar van iemand gepraat word as ’n dienskneg van die Here – iemand wat deur God aangestel is om ’n spesiale taak uit te voer. Dit laat ’n mens bv. dink aan Moses van wie daar in Num.12:7 en Jos.14:7 gepraat word as dat hy ’n dienskneg van God is. Dieselfde geld vir Josua (Jos.24:29; Rig.2:8); Abraham (Ps.104:42); Dawid (Ps.88:3) – trouens al die Ou Testamentiese profete (Jer.25:4; Eseg.38:17).

Ons moet verstaan dat slawe destyds geen regte, of voorregte, of vryheid gehad het nie en met hierdie feit in gedagte sê Paulus aan die gemeente in Filippi dat hy en Timoteus, slawe van Jesus Christus is en omdat hulle aan Christus behoort, beskik hulle oor geen regte; geen voorregte en geen vryheid nie. Ons moet egter nie dink dat hierdie etiket wat Paulus om sy nek hang, net op hom as Apostel van toepassing is nie, want hy gebruik hierdie selfde gedagte in 1 Kor.6:19-20 wanneer hy praat van ons as gelowiges ~ Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.  

In die tweede gedeelte van v.1 sê Paulus ook (soos wat die gebruik destyds was) aan wie hierdie brief gerig is, nl. ~ Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. Die brief is dus nie net aan die voorganger of ’n paar uitgesoekte lidmate gerig nie, maar aan al die lidmate in die gemeente. Die Griekse woord wat hy hier vir "almal" gebruik, is ἅγιος (hagios). Die O.A.V. is weereens die korrekte vertaling, want dit praat van al die "heiliges" ("saints"). Hierdie brief is dus vir al die mense in die gemeente bedoel, maar nie soos wat die N.A.V. wil suggereer, almal voor die voet nie. Nee, hierdie brief is vir al die heiliges bedoel – almal wat wederbaar is, m.a.w. hulle wat gered en verlos is deur Jesus Christus – soos Rom.8:30 dit stel ~ Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. ’n Verdere aspek van iemand wat ’n "heilige" is, is om God Drie-Enig te verheerlik. ’n Heilige is dus iemand op wie se skouers ’n geweldige verantwoordelikheid rus en waarvan 1Pet.2:9 waarskynlik vir ons die beste beskrywing gee van ons verantwoordelikheid as "heiliges" ~ Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Paulus gaan egter voort en hy sluit die ouderlinge en diakens by hierdie groep gelowige lidmate in. Waarom sou hy hier ’n uitsondering maak – ’n mens sou tog aanvaar dat al die ouderlinge en diakens deel uitmaak van die "heiliges" in die gemeente? Daar is verskeie verklarings waarom Paulus hierdie groep mense uitsonder, waaronder die volgende:
·           Paulus wou sy waardering uitspreek teenoor die leiers in die gemeente omdat hulle die inisiatief geneem het om geskenke of te wel liefdegawes aan hom te gestuur het terwyl hy o.a. in die tronk was, maar ook tydens ander geleenthede;
·           ’n Ander moontlikheid is dat Paulus aan hulle ’n suggestie wou deurgee dat hulle moet toesien dat die opdragte in die brief deurgevoer moet word;
·           Sommige kommentare sê dat Paulus hierdie twee groepe uitsonder, omdat hy die gesag van hierdie spesiale mense in die gemeente wou onderstreep en bevestig;

Enige een van al hierdie redes kon wel die geval gewees het en daar kon selfs ’n totaal ander rede hiervoor bestaan het – ons weet nie regtig nie.

7.    DIE BRON VAN VREUGDE:
In hierdie eerste vers van Filippense is Paulus besig om die grondslag te lê vir die res van sy brief – sy "vreugdebrief". Ons moet baie deeglik kennis neem hiervan, want as die basis vir ons vreugde nie op die regte grondslag gevestig is nie, is alles puur verniet. Dit is soos iemand wat ’n luukse huis bou, met al die nuutste katoeters (elektroniese toestelle, ens.) geïnstalleer in hierdie huis – vensters wat outomaties oop en toe maak; ligte wat op beweging aan en af skakel ens., maar as daar een foutjie in die bedrading is, help al daardie luukse en duur fieterjasies net mooi niks nie. Dieselfde geld vir ons geestelike lewe. Christus bied aan ons ’n diep, allesoorheersende vreugde en voldaanheid (tevredenheid) en Paulus verskaf aan ons hier in v.1 daardie soliede fondasie waarop ons vreugde in Christus gebaseer moet word:
·           Die basis vir ons as gelowiges om vreugdevolle diensknegte te wees, is om slawe vir Christus te wees. Paulus het homself en Timoteus reg aan die begin van hierdie brief geïdentifiseer as slawe van Christus en wanneer Paulus so na homself verwys, val die klem op die "verpligte, ondergeskikte en verantwoordelike" aard van sy slaafskap – dit is m.a.w. iets wat hy geweldig ernstig en met toewyding opneem en uitleef. Waarom is dit Paulus se gesindheid? Ons vind die antwoord in 1 Kor.6:19-20 wat ek netnou ook aangehaal het ~ Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. Om ’n Christen te wees; om ’n gelowige te wees impliseer dus om ’n slaaf te wees – ’n slaaf van Jesus Christus – ons behoort nie meer aan onsself nie.

Daar was in die antieke tye, drie maniere waarop ’n mens ’n slaaf kon word:
-        Nadat die vyand ’n oorwinning oor jou volk behaal het en jy as slaaf weggevoer was;
-        Jy word as ’n slaaf gebore omdat jou ouers slawe was;
-        Jy het ’n slaaf van iemand geword, omdat jy nie jou skuld teenoor daardie persoon kon betaal nie.

In die geval van gelowiges, is ons slawe op grond van al drie hierdie redes!
-       Sonde het ons oorwin en daarom is ons nie vry om te doen wat ons weet reg is nie;
-       Ons is as sondaars ontvang en gebore en daarom van geboorte af al vyande van God, wat daarop ingestel is om net ons "eie ding te doen" – ons eie belang te soek; om ’n selfgesentreerde lewe te leef.
-       Ons het "opgehoopte skuld" a.g.v. ons erfsonde – skuld wat ons nie kan, of kon betaal nie ~ Die loon wat die sonde gee, is die dood... (Rom.6:23a).

MAAR en dit is geweldig belangrik, Rom.6:23b gaan voort en sê ~ ...die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here. In Joh.8:34, 36 sê Jesus ~ ...Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde... ...36Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees. Net Jesus kan ons deur Sy plaasvervangende dood, vry maak van ons slawekettings. Hy doen dit egter net wanneer ons, ons toestand verstaan en erken en na Hom uitroep vir vrymaking en redding. Die oomblik wanneer ons egter vrygemaak word deur Hom, word ons slawe van Hom en begin ons groei in heiligmaking ~ Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here (Rom.6:23).

Jy mag dalk nie hou van die idee om iets of iemand se slaaf te wees nie, maar ons sál altyd iets of iemand in hierdie lewe dien – dit sal óf sonde en sy meester die satan wees, óf dit kan Jesus Christus wees! Paulus sê nie verniet in Rom.6:14 ~ Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. Ons kan nie die sonde en hierdie wêreld so ’n bietjie dien en so ’n bietjie vir Jesus nie, want dan is Openb.3:16, waar van ons ~ Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg!

Die grondslag vir volmaakte en oorweldigende vreugde is om Jesus Christus as jou Heer en Meester te erken en jouself as slaaf aan Hom te onderwerp.
·           ’n Tweede aspek van vreugdevolle diensknegskap is egter ook om ’n geheiligde in Christus Jesus te wees. Die grondbetekenis van die woord "geheilig", is om "opsy gesit te wees". Ons het netnou al na die Griekse woord vir "geheiligdes" gekyk, nl. ἅγιος (hagios) – ’n "geheiligde" is iemand wat uitsluitlik afgesonder is, of opsy gesit is vir God.

Ons moet besef dat God ons as geheiligdes verklaar het, die oomblik toe Hy Sy Seun Jesus Christus se soenoffer vir ons aan die kruis aanvaar het en nou moet ons, soos die Engelse sê "live up to it" en Sy wil begin doen. Ons is geheiligdes in Christus Jesus!

Het julle opgemerk hoe sentraal Jesus Christus staan in Paulus se lewe? Hy verwys nie minder nie as drie keer in die eerste twee verse en agtien keer in die eerste hoofstuk van die Filippensebrief, na Christus! Geliefdes, die Evangelie gaan oor Jesus Christus; ons lewes moet gaan oor Jesus Christus, want buite Christus is daar geen vreugde nie en kan daar geen verwagting wees op ’n ewige heerlikheid saam met Hom nie! Iemand het een keer gesê: "To be “in Christ” means that all that is true of Christ is true of you. When Christ died to sin, you died. When He was raised, you were raised to newness of life in Him. Is He presently enthroned at the right hand of the Father, over all rule and authority? Then you are there in Him (Ef.1:20-23). Just as the branch is organically connected to the vine and draws its life from it, so we are in Christ (Joh.15:1-6). We are to abide or live in Christ by keeping His commandments (Joh.15:10).
·           Om ’n dienskneg te wees wat die vrede van God in jou lewe ervaar, moet jy in die derde plek deel wees van ’n plaaslike gemeente. Om ’n gelowige te wees, is nie ’n individuele saak nie – dit is ’n korporatiewe saak – "’n saam-saak". As gelowiges; as diensknegte van Jesus; as slawe van Christus, het ons ook ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar ~ Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade (Hebr.10:24) – ons kan nie gehoor gee aan hierdie opdrag, as ons op ons eie, God wil probeer behaag nie.
·           Laastens, is die grondslag om vreugdevolle diensknegte van Jesus Christus te wees, om ontvangers van God se genade en vrede in Christus Jesus te wees.

Wat beteken "genade"? Genade, is God se onverdiende guns wat Hy betoon aan diegene wat Sy oordeel verdien (elkeen van ons dus!) en Hy skenk dit aan elkeen wat dít besef ~ ’n Arbeider se loon word nie vir hom as ’n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof (Rom.4:4-5). Die vraag wat jy vir jouself vanoggend moet afvra, is of jy al God se onverdiende guns ontvang het – het jy al deel gekry aan Sy genade?

Wat beteken "vrede"? Vrede word ervaar deur elke gelowige wat God se genade deelagtig geword het. Die volgorde hier is belangrik, want jy kan nie God se vrede ervaar, of in vrede met God verkeer as jy  nog nie Sy reddingsgenade in jou lewe ervaar het nie. Vrede dui dus op daardie toestand (en kan ek maar sê, emosie) wat jy in jou "diepste binneste" ervaar wanneer jy versoen is met God deur Jesus Christus.

Ons moet ook besef dat hierdie genade en vrede wat ons van God ontvang, beide vertikaal, sowel as horisontaal van krag is – ons moet dus hierdie selfde genade en vrede ook teenoor die wêreld daarbuite uitleef ~ elke nasie, stam, volk en taal (Openb.7:9)!  

8.    AFSLUITING:
Die vraag wat ons vandag vir onsself moet afvra, is: Wie dien ek? Wie is my Meester? Indien ek sê dat ek ’n slaaf van Jesus Christus is, moet ek dienooreenkomstig begin leef, want ek kan nie twee here dien nie – Jesus het self in Matt.6:24 gesê ~ Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep....


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Meyerton) - Sondagoggend  18 Maart 2012