Sunday, February 12, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 05 (Die Gemeente in Sardis)

1.     SKRIFLESING:

Openb.3:1-6 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis: So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. 2Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. 3Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. 4Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is. 5Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. 6Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.

-

2.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het vanaf Tiatira, in ’n suid-oostelike rigting gedraai en na die stad Sardis gegaan.  Ons kan onsself indink oor die afwagting wat onder die gemeentelede in Sardis geheers het, want teen hierdie tyd het hulle dalk al gehoor van die briewe wat by die gemeentes in Efese, Smirna, Pergamum en Tiatira, afgelewer is en hulle kon dalk ook gehoor het van die goeie dinge waaroor Christus die vorige gemeentes aangeprys het – en as Hy dit met hulle kon doen, hoeveel te meer nie met hulle nie, want dit was geen geheim dat hulle bekend gestaan het as ’n groot, sterk en lewende gemeente, maar kom ons kyk wat het alles in hulle brief gestaan.

2.    DIE GEMEENTE IN SARDIS (3:1-6):
·           Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.3:1a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis.  Die stad Sardis is in ongeveer 1200 v.C. gestig en was die ou hoofstad van die provinsie Lidia en het beroemd geraak vir sy rooi kleursel en wolprodukte, asook sy spoelgoud wat uit die nabygeleë Pactolusrivier gekom het.  Goud en silwer munte was waarskynlik ook die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld, hier in Sardis gemunt. 

Die stad was geleë op ’n hoë berg wat onbereikbaar was van drie kante, a.g.v. loodregte kranse en aan die eenkant kon jy die stad net met ’n steil paadjie bereik.     Ook was hierdie stad bekend vir sy immoraliteit en dit opsigself het dit baie uitdagend gemaak vir gelowiges om daar, geestelik te kon oorleef en dit word bevestig deur die feit dat min van die gelowiges nie “hulle klere besoedel” het nie (v.4).  Aanbidding van die godin Diana (soos in Efese) het ook hier plaasgevind. 

Die stad is in 17 n.C. deur ’n verwoestende aardbewing bykans heeltemal plat gevee, maar was later weer herbou.

Hierdie gemeente het waarskynlik ook tot stand gekom onder die bediening van Paulus (Hand.19:10).  Heel moontlik was die mees prominente inwoner van Sardis, ’n man met die naam van Melito.  Hy was ’n apologeet (iemand wat die Christelike geloof verdedig het) en het gedurende die tweede eeu na Christus, as biskop van Sardis gedien.  Hy word ook erken as die persoon wat die vroegste erkende kommentaar oor gedeeltes van Openbaring geskryf het. 

·           Die Beeld van Christus:
Openb.3:1b ~ So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het.  Christus staan besonderlik bekend as dié Een van wie die Reinigende Heilige Gees kom en onder Wie se gesag en leiding die Kerk staan (sterre = 1:20).  Alhoewel die kerk deur die bloed van Jesus Christus gekoop is, is dit deur die Heilige Gees dat Christus se verlossing en versoening, toegepas word.  Dit is deur die Gees dat individue en gemeentes se geestelike lewe tot stand kom en groei – dit is deur die werking en die krag van die Heilige Gees dat die lewenslange proses van stry teen die sonde en heiligmaking plaasvind.  Dit is deur die Gees dat geestelike gawes geskenk en toegepas word aan en in die gemeente.  Dit is deur die Gees dat die kerk gebou word.  In kort, dit is deur die Heilige Gees dat Christus Sy Bruid (die kerk) voed en deur die ouderlinge, lei en regeer Hy die kerk.  Deur Homself as die Skenker van die Gees, asook die ouderlinge voor te stel, maak Christus dit baie duidelik, dat Hy die Hoof van die kerk is en aan Wie almal moet onderwerp.

·           Christus se Bestraffing:
As ons na die volgende hoofpunt, wat die struktuur van die briewe volg, wil kyk, nl. Christus se aanprysing, wyk dit hier so bietjie af van die normale volgorde wat die teksverse volg en spring ons eers na Christus se bestraffing en ons vind dit in Openb.3:1c ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.  As Hoof van die gemeente en deur Sy alwetendheid, is Christus 100% bewus van die gemeente se valsheid.  Hierdie gemeente het op die oog af ’n wonderlike reputasie gehad, maar van binne was dit korrup en vals en geestelik morsdood.  Daar het geen lewensaar tussen die gemeente en Christus bestaan nie.

Alles het administratief en organisatories baie goed gegaan in die gemeente – so ook wat betref die bywoning van die eredienste en selfs die groei van die kerk in lidmaattal.  Oënskynlik was daar ook niks fout te vinde met hulle teologie of dissipline nie.  Maar, soos die geval met die kerk in Efese, was die geloof van die lidmate dooie werke en het daar geen liefde vir Christus bestaan nie. Die prediking het waarskynlik ook nie uit liefde, dankbaarheid en gehoorsaamheid aan die Woord en tot eer van God geskied nie.

Kerklike “sukses” gaan dus nie net oor pragtige geboue, groot lidmaat getalle, pragtige en oënskynlik geseënde bedieninge en allerlei programme nie.  Ook gaan dit nie oor vooraanstaande name in die gemeente nie.  Selfs met al hierdie dinge kan ’n gemeente geestelik morsdood wees en in die gemeente van Sardis was daar oënskynlik geen geestelike groei en heiligmaking teenwoordig nie. 

Ons kan ook nie uit die brief agterkom of daar enige dwaalleer of vervolging in die gemeente was nie en waarom sal die satan dan nou ook ’n dooie kerk wíl mislei en vervolg?  Ons sal egter binnekort sien dat van hierdie dinge wel in die gemeente teenwoordig moes gewees het.

Hierdie gemeente was waarskynlik meer besorgd oor hulle reputasie by mense as oor hul reputasie in die hemel – meer besorgd oor die goedkeuring en aanprysing van ander gemeentes en mense, as vir die aanprysing van Christus.

Die hartseer ding van hierdie gemeente was dat hulle mislukkings nie die uitsondering was nie, maar die reël en daarom was Christus se eerste woorde, nie soos in die ander gevalle, ’n woord van gelukwensing nie, maar een van kritiek.  Dalk is hierdie dan ook ’n aanduiding van hoe Christus voel oor mense wat hulle voordoen vir iets of iemand wie hulle nie is nie.

·           Christus se Raad:
Nog steeds is ons nie by die normale volgorde nie en kyk ons eers na Christus se raad, wat ons in Openb.3:2-3 vind.    Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. 3 Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.  Christus gee hier ’n viervoudige oplossing aan die oorblyfsel van die gemeente wat getrou gebly het en Hy praat spesifiek met die oorblyfsel van getroues, omdat dit nie help om met die “dooies” te praat nie.

Eerstens moes die gemeente wakkerskrik en besef dat aanvaarding by die wêreld, nie noodwendig aanvaarding by God is nie.  Hulle kon dus nie maar net voort dryf en maak soos almal om hulle maak nie.  Hulle moes aktief betrokke raak en sonde in hulle midde identifiseer en dit met wortel en tak uitroei.

Tweedens moes hulle daardie dinge versterk wat nog oorgebly het, maar wat op die punt gestaan het om ook dood te loop.  ’n Radikale geestelike lewe het kort gekom in die gemeente en dit moes weer aangeblaas word.

Derdens moes die getroue gelowiges wat oorgebly het in die gemeente, alles wat hulle vantevore gehoor en ontvang het, in herinnering roep.  Hulle moes terugkeer na die Woord van die Here.  Dit is dus duidelik dat die Here Jesus ’n baie hoë premie plaas op die lê van die regte fondasies in ’n gemeente, want dit stel bepaalde standaarde waarvolgens ’n gemeente kan en moet lewe en wanneer dit nodig mag wees (soos hier in die geval van die gemeente in Sardis), kan daar “teruggegryp” word na die standaarde en fondasie wat in die verlede gelê is.  Dit herinner ons aan 2:5 ~ Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.  Hier in Sardis was dit dus nodig om die fondasie weer stewig te ontgin en waar nodig oor te lê, want slegs dít kan die restourasie proses in die gemeente suksesvol laat verloop – ’n mens kan amper sê dat dit ’n “back-to-basics” situasie is.

Vierdens moes hulle op ’n plek kom waar hulle sondebelydenis moes doen.  Geen geestelike verval kan reggestel word deur dit “reg te dokter” met allerlei menslike oplossings, programme of tegnieke nie – ernstige en opregte selfondersoek moet gedoen word; sonde moet bely word en bekering moet plaasvind waar nodig.

Hierdie vier stappe, indien dit toegewyd toegepas en uitgeleef word, sal geestelike herlewing in elke individuele lidmaat, maar ook in die gemeente, korporatief tot gevolg hê.

·           Christus se Aanprysing:
Nou keer ons terug na Christus se aanprysing en wel in Openb.3:4 ~ Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is.  In die midde van hierdie dooie gemeente, gevul met mense wat ongered was, was daar darem ’n paar opregte gelowiges.  Ongelukkig was hulle nie genoeg om die gemeente se status in die oë van Christus van ’n dooie gemeente na ’n lewende gemeente te verander nie, maar Christus het nie diegene wat getrou aan Hom gebly het, vergeet nie.  Dit laat ’n mens dink aan Mal.3:16-17 en Hebr.6:10 ~ Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is ’n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam. 17 Hulle sal vir My ’n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk (Mal.3:16-17) en ...God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie (Hebr.6:10).

Een van die deurlopende temas van die Woord is dat God voortdurend besig is om Sy “getroue oorblyfsel” (Sy kinders wat getrou aan Hom bly), te bewaar.  Paulus beskryf dit pragtig in Rom.11:1-5 ~ “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra. Beslis nie! Ek is immers self ook ’n Israeliet, ’n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2 God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: 3 “Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.” 4 Maar wat het God hom geantwoord? “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.” 5 Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.  God het dus ’n “oorblyfsel” – selfs in die dooie gemeente van Sardis!  Daar was ’n paar opregtes tussen die huigelaars en geveinsdes; ’n paar nederiges tussen die hoogmoediges; ’n handjievol tussen die wêreldlinge; ’n paar koringare tussen die onkruid.

Christus beskryf die paar mense wat getrou gebly het, as ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie.  Die woord besoedel in die Grieks beteken om te  “bevlek”; of te “besmet”, of te “skend”, of “vuil te maak”, of te “verontreinig”, of te “besoedel”, of te “onteer”.  Hierdie woord was ook gebruik wanneer wol gekleur is en derhalwe moes dit ’n bekende woord in die gemeente van Sardis gewees het. 

“Kledingstukke” of “klere” word weer in die Skrif gebruik om karakter te versinnebeeld, Jes.64:6 ~ Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; of Judas 23 ~  Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.

Die wonderlike nuus vir die getroues in Sardis is dat hulle met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God kon kom omdat hulle klere nie bevlek is nie, maar dat hulle getrou was aan hulle goddelike karakter.

Christus sê ook spesifiek vir hierdie gelowiges dat hulle altyd in wit klere by (Hom) sal wees omdat hulle dit waardig is.  In die antieke dae het mense wit klere aangetrek wanneer hulle fees gevier het en wit het ook reinheid gesimboliseer.  Hierdie “wit klere van reinheid” wat Christus hier in v.4 & v.5 belowe, is dieselfde klere wat Christus gedra het Matt.17:2 ~ Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.  Ook die heilige engele dra hierdie wit klere (Matt.28:3).  En hoe word hierdie gelowiges se klere wit? – Openb.7:14 ~ ...Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.

Elke gelowige – m.a.w. elke heilig verklaarde (heilig verklaar deur God en nie mense, of soos in die R.K.K. nie) sal uiteindelik volmaakte heiligheid en reinheid ontvang in die hiernamaals.

Ten spyte van die feit dat ons dalk mag dink of glo dat ons dalk sosiaal nie so belangrik soos sommige mense is nie; of dat ons dalk akademies of intellektueel, of finansieel minder goed bedeeld en geseënd is, mag ons nooit, ooit dink dat Christus nie ons getrouheid raaksien nie.  Ook nie omdat ons dalk ’n klein gemeentetjie is nie.  Hy ken elkeen van ons op die naam en Hy ken ons werke!

·           Christus se Belofte:
Openb.3:5-6 ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. 6 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.  Nadat Christus die gemeente aangespreek en raad aan hulle gegee het, kom Hy met hierdie wonderlike bemoediging en belofte.

Eerstens, soos reeds gesê, sal al die getroue gelowiges geklee word in wit klere (onthou:  wit simboliseer reinheid – skoon gewas deur die bloed van Christus dus).  Alle ware gelowiges sal hierdie wit klere dra wanneer hulle aansit by die bruilofsmaal van die Lam van God – Openb.19:7-9 ~ Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8 God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges. 9 Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.” 

Tweedens belowe Christus dat Hy nooit die name van die ware gelowiges uit die Boek van die Lewe sal vee nie. Trouens, Christus belowe dat Hy elke getroue gelowige se naam voor die Vader en die Engele sal noem en verklaar dat ons aan Hom behoort.  Hier herbevestig Christus dus die belofte wat Hy in Matt.10:32 gemaak het, nl. ~ Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.  Die gerusstellende waarheid en sekuriteit t.o.v. die gelowige se ewige redding loop soos ’n goue draad regdeur die Woord van God en word waarskynlik nêrens mooier en vollediger beskryf as in Rom.8:28-39 nie ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30 Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek.  En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. 31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here

Hierdie brief aan Sardis word in vers 6 afgesluit met Christus wat daarop aandring dat die gemeente moet ag slaan op hierdie brief se inhoud.  Die gelowiges, of te wel diegene wat hulle gelowiges noem, moet dus wakker skrik voor dit te laat is en die handjievol gelowiges kan getroos voel met die wete dat hulle redding tot in ewigheid verseker is.

Wat het van Sardis geword?  Het hulle geluister na die waarskuwing?  Het daar herlewing gekom?  Die feit dat ’n man soos Melito etlike dekades na die skryf van hierdie brief daar gedien het, wil tog vir ons ’n aanduiding gee dat daar iets van ’n herlewing in die gemeente in Sardis moes plaasgevind het.

Ons kan ook bemoediging put uit hierdie brief en weet dat dit nooit te laat is om ons te bekeer en toe te sien dat die regte grondslag ook in ons lewe en in die lewe van ons  gemeente gelê word nie. Laat ons saam, maar ook individueel ons oë opnuut vestig op Jesus Christus en ons leer en lewe volkome aan Hom toewy.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 12 Februarie 2012