Sunday, August 31, 2014

Keerpunte in Christus se Aardse Lewe - 01 (Christus by die Jordaan)

1.  SKRIFLESING:
Luk.3:1-22 ~ Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters. 2 In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3 Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4 So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja: “Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit. 5 Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word; die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word. 6 En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.” 7 Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8 Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9 Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” 10 Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” 11 Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.” 12 Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?” 13 En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.” 14 Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.” 15 Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16 Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17 Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.” 18 Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig. 19 Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20 Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit. 21 Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22 en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”.

2.                     INLEIDING:
’n Baie eienaardige man met die naam van Johannes die Doper is hier besig om te preek en op die oog af mag die inhoud van hierdie preek dalk vreemd en selfs onverstaanbaar voorkom, maar hierdie preek is ’n verstommende preek wat vandag nog net so geldend is.

3.  DIE INHOUD VAN JOHANNES SE PREEK: 
Ons gaan vanoggend kyk na hierdie preek van Johannes en wel onder die volgende vier opskrifte:
·      Die nageslag van Abraham;
·      God se naderende oordeel;
·      Die koms van die Messias;
·      ʼn Oproep tot bekering.

·      Johannes het die status van die Staat Israel van die tafel afgevee (v.7-9). Talle mense het na Johannes kom luister en ons moet in gedagte hou dat hierdie mense almal afstammelinge van Abraham is en daarom het hulle ook aanspraak gemaak op al die beloftes van seën wat God aan Abraham gegee het. Hulle het dit regmatig gegrond op God se belofte aan Abraham, nl. dat Hy vir Abraham ’n groot nageslag sou gee en dat Hy hulle sou seën.  Maar wat sê Johannes hierop?  V.7 ~ Julle slange....  

Die luisteraars maak aanspraak daarop dat hulle biologiese afstammelinge van Abraham is, maar Johannes sê dat hulle afstammelinge van die Slang (Satan) is.

Johannes voeg egter iets daarby – V.8b ~ En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.  God kan dus afstammelinge van Abraham maak wat geen fisiese of biologiese bande met Abraham het nie – ’n nageslag dus wat kan deel in die beloftes wat God aan Abraham gemaak het t.o.v. sy nakomelinge. 

Hierdie woorde van Johannes was geweldig ingrypend en skokkend, want sy toehoorders het een ding as vanselfsprekend aanvaar en dit was dat hulle ’n bepaalde geestelike status en waarborg gehad het op grond van wie hulle in Abraham was.  En wat doen Johannes?  In net twee sinnetjies pluk hy die mat onder hulle voete uit, deurdat hy vir die Jode sê dat hulle status voor God presies dieselfde is as enige iemand anders.  Dit is die eerste groot uitspraak wat Johannes in sy preek maak – Julle status voor God is presies dieselfde as alle ander mense (die heidene dus ingesluit).

·      ’n Tweede punt wat hy in sy preek maak en daarmee waarsku hy ook sy toehoorders, is die naderende oordeel van God wat aan die kom is.  V.7b ~ Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?  Johannes waarsku die Jode dus dat hulle in lewensgevaar verkeer.  Hy vergelyk hulle in v.9 met bome wat nie goeie vrugte dra nie en wat gevolglik afgekap en verbrand gaan word.  Hy sê dus:  Godsdienstige Jode, dit maak nie saak hoe diep julle wortels strek nie – selfs tot by Abraham – wat saak maak is of julle goeie vrugte dra en elke boom wat nie vrug dra nie, gaan afgekap en verbrand word.  In plaas dus daarvan om Abraham se “seënbeloftes” te ontvang, gaan hulle God se verterende vuur ervaar.

·      Derdens wys Johannes in sy preek na die koms van die Messias – die Verlosser.  Wie gaan die verterende vuur van oordeel bring?  Wie gaan dus die oordeel van God uitvoer?  Verse 16 en 17 ~ Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17 Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”  Johannes kondig hier die koms van die Messias aan en hy skilder Jesus as Een met ’n skop (of ’n skopgraaf) in die hand – dit is amper soos ’n langsteel tuinvurk wat die boere van destyds op die dorsvloer gebruik het om die geoeste koring in die wind in te gooi, sodat die kaf wat ligter as die koring was, kon wegwaai en net die koring op die dorsvloer kon val.  Hierdie kaf wat nie op die dorsvloer val nie, word dan later bymekaar gemaak en verbrand.  Johannes sê dus dat die komende Messias, dié Een gaan wees wat die kaf van die koring gaan skei en die kaf gaan verbrand.  Die Messias kom dus om die goddeloses van die gelowiges te skei.  Hy gaan die wêreld veroordeel en God se kinders gaan soos die koring op die dorsvloer bymekaar gemaak word.  Die gelowiges gaan dus vir ewig, veilig bewaar word, maar die goddeloses gaan in die vuur gegooi word.

Johannes sê hier in vers 16 dat hy net met water doop, maar dat Christus met water én met vuur gaan doop.  Die Messias gaan dus Sy eie mense met water doop en hulle reinig met die Gees van God, maar ongelowiges gaan in vuur gedoop word – die vuur van God se wraak.

Wat belangrik is om hier van Johannes te verstaan, is dat hy die Messias verwag as die “Groot Regter” of “Veroordelaar” –     “God se Laksman”.  Ja, Christus gaan verlossing bring en Hy gaan die gawe van die Gees aan die ware kinders van God bring, maar Hy gaan terselfdertyd die sondaars doop met die groot vuur van oordeel.

Hou die luisteraars hier in gedagte – Johannes sê nie sommige van julle gaan hierdie vuur vryspring nie.  Nee, hy sien hulle almal as sondaars – almal is skuldig – “die byl” lê teen elke een wat daar was, se “stam” – almal voor die voet is sondaars en verdien die vuur van God se oordeel!  Hy beskryf hulle een na die ander in verse 12 en verder aan – die tollenaars (geldgierigheid en diefstal), die soldate (geweldenaars en afpersing), ens. – hy spel dus hulle sonde vir hulle uit en hy sê dat hulle almal die oordele van God verdien en hulle gaan dit ook ontvang – hulle verdien dus om soos kaf verbrand te word.

·      Vierdens doen Johannes ’n ernstige beroep op sondaars om hulle te bekeer – v.3 ~ Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. Johannes sê dus aan hierdie mense – Dit is nog nie te laat nie, want julle sondes kan nog vergewe wordDit is nog te laat nie, maar julle moet julle bekeer en julle bekering moet opreg wees.  Sommige mense het gesê dat hulle, hulle bekeer het, waarop Johannes dit verwerp het en daarom sê hy in v.8a ~ Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is

Hulle moet dus die opregtheid van hul bekering bewys deur daadwerklike en sigbare optrede.  En vir diegene wat hulle waarlik bekeer het, het hy daarop aangedring dat hulle gedoop moes word, as teken van hulle bekering, want hy het ’n doop van bekering van hul sondes gepreek – en baie mense het hulle bekeer en hulle laat doop (heidene ja, maar ook Jode – besnyde nageslag van Abraham), want hulle het die boodskap wat Johannes gepreek het, geglo.

Hulle het geglo dat die Messias oppad was.  Hulle het geglo dat die Messias, God se wraak gaan uitstort – ʼn Doop van vuur wat sondaars gaan vernietig.  Hulle het  geweet dat hulle moes vlug van die naderende oordele van God en hulle het geweet dat die enigste manier om dit te doen was deur hulle sonde te bely en hulle te bekeer en God se vergifnis te soek en as teken van hul versoening met God, moes hulle, hul laat doop.  Daarom het hulle na Johannes gekom om gedoop te word in die Jordaanrivier. 

4.  DIE DOOP AS TEKEN:
Met hierdie vier punte in gedagte, kan ons nou die vraag vra:  Waarom het Johannes gedoop?  Ja, ons het reeds gesê dat dit ’n duidelike teken van bekering was.  Waarom het Johannes egter die doop as teken gekies?  Waarom was dit belangrik dat hierdie sondaars wat hulle bekeer het, in die Jordaanrivier gedoop moes word?  Waarom moes hulle onder die water verdwyn wanneer hulle gedoop word?

Wel, onthou weer wat Johannes aan hulle gesê het:  Hy het in v.16 vir hulle gesê ~ Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.  Die water waarin Johannes hulle doop is dus ’n heenwysing na die vloed van die Heilige Gees wat God se kinders sal oorspoel, maar terselfdertyd is dit ’n heenwysing na die vloed van vuur wat sondaars gaan verswelg.

Johannes neem diegene wat hulle bekeer, af in die water en hulle vertou hulleself toe aan hom deurdat hy hulle weer uit die water sal bring – gewas van kop tot tone.  Hierdie is dus alles ’n voorafskaduwing van wat die Messias met en vir Sy kinders gaan doen.  Maar ook wat die Messias gaan doen met diegene wat hulle nie bekeer nie.  Johannes sê dus vir hulle, dat net soos wat hy hulle veilig deur die water sal neem, net so kan en sal die Messias hulle veilig deur die komende vuur van oordeel neem.  Hulle sal veilig en beskermd wees wanneer die res van die wêreld gedoop word in die vuur van oordeel – maar veel meer as net dit:  Die Messias sal hulle nie net beskerm nie, maar Hy sal hulle in die Heilige Gees in dompel, of doop, sodat hulle skoon en nuut kan wees.

Die mans en vrouens wat hulle laat doop het, het deur hierdie optrede hulle vertroue uitgespreek dat die Messias hulle veilig deur die oordele van God sou neem.  Johannes se doop was dus ’n doop van bekering, maar dit  was ook ’n doop van geloof.  Die mense wat hulle laat doop het, het dus gesê:  Ja, dit wat Johannes gesê het is waar en ons glo dat die Messias kom.  Ons glo dat Hy die wêreld met vuur gaan doop, maar die dag wanneer dit aanbreek, wil ons hê dat Hy ons sal beskerm en verlos.  Op daardie dag moet Hy ons bymekaar maak en wegbêre soos wat ’n mens sal doen met uitgewande koring.  Ons wil hê dat Hy ons veilig deur die doping met Vuur sal bring. Meer as dit nog, ons glo ook dat Hy ons in die Heilige Gees sal indoop en ons rein maak. Ons vertrou Hom om dit te doen wanneer Hy kom.

Kom ons som net vlugtig op wat ons tot nou toe gesê het:
-     Johannes trek ’n streep deur die nageslag van Abraham, deur vir hulle te sê dat God se beloftes aan Abraham se nageslag nie op hulle van toepassing is, indien hulle, hulle nie sou bekeer nie – slegs diegene wat hulle bekeer kan dus aanspraak maak op die titel, “Abraham se nageslag”.
-     Hy sê voorts, dat indien hulle, hulle sou bekeer, God hulle die ware Israel sal maak – die ware kinders van Abraham.  God bring dus ’n nuwe volk byeen wat hulle bekeer en wag op die koms van die Messias.
-     Hierdie nuwe volk van God plaas hul vertroue in Christus die Messias om hulle te beskerm op die dag wanneer God se oordele oor die wêreld gaan losbars.
-     Hulle plaas hulle vertroue in die komende Christus om hulle in die Heilige Gees te doop.  Hulle vertrou Christus dus “vooruit”. 
-     En die teken van hierdie bekering en hul vaste vertroue wat hulle plaas in die Messias, is die doop deur onderdompeling.
-     Johannes het die volslae leegheid en waardeloosheid van dít waarin hulle nog altyd geglo het, ontbloot deur sy prediking.  Hy ontbloot die diepte van hul verlorenheid en hy skets aan hulle God se oordeel wat wag om oor hulle los te bars en hulle enigste hoop op verlossing en beskerming is nou op die Messias gevestig.

Die indruk wat dus in die gemoedere van hierdie toehoorders gelaat was, was ’n skrikwekkende gesig – ’n Messias wat met ’n byl kom om uit te kap, almal wat hulle nie bekeer nie.  Hy het reeds die skop van God in Sy hand – gereed om die kaf van die koring te skei.  Hy kom as ’n onuitblusbare en verterende vuur wat die kaf kom verbrand.  Hy is die Almagtige wat die woede van God oor die skuldiges kom uitstort.  Ja, al het hierdie mans en vrouens geglo en hulle bekeer, moes daar nogtans vrees in hulle harte geleef het by die gedagte aan die komende Messias.  En dit is vir hierdie mense vir wie Jesus van Nasaret gekom het. 

4.                  JESUS WORD GEDOOP:
Markus stel dit baie eenvoudig in sy Evangelie ~ Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom (Mark.1:9).  En wat gebeur? – Hy, die Messias word ook deur Johannes die Doper gedoop.  Die woorde “van Nasaret in Galilea” het eintlik alles gesê, want die Jode het geglo dat die Messias ’n Koning gaan wees wat geklee is in al Sy majesteit en wat alle ongeregtigheid gaan uitroei met die byl van oordeel – en wie kom by die Jordaanrivier aan?  Jesus van Nasaret in Galilea!  ’n Man in gewone klere – ’n Skrynwerker!  Wat meer is, hulle verwag die Messias wat die gelowiges in die Gees kom doop en die ongelowiges in die vuur.  En wat gebeur?  Die Messias laat Hom deur Johannes doop!  Jesus volg presies dieselfde weg wat elkeen van hierdie Godvresende sondaars gevolg het. 

Jesus gaan saam met hulle in die water van die Jordaan; Hy staan saam met hulle daar; Hy vereenselwig Hom met hulle.  Lukas som hierdie gebeure op in een sin, nl. in Luk.3:21a ~ Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop.  Luister wat hier staan:  Toe AL die mense hulle laat doop hetAL die mense!  Waarop dui hierdie uitdrukking “AL die mense”?  Dit dui op almal wat hulle bekeer het – die ware Israel met ander woorde.  Wat Lukas dus eintlik hier sê, is dat toe almal wat geglo het hulle laat doop het,  het Jesus saam met hulle die water ingegaan om ook gedoop te word.  Jesus gaan dus ’n verhouding van eengesindheid met die ware Israel hier aan.  Jesus verbind Homself met hierdie skuldige sondaars.  Hy word gedoop, omdat hulle gedoop word.

Waarom doen Jesus dit?  Waarom moet Jesus saam met hierdie mense in die Jordaanrivier gaan staan?  Onthou wat ons gesê het.  Die water is die teken van die oordeel van God wat oor die wêreld heen gaan spoel om die sondaars te veroordeel en Jesus sê deur hierdie optrede van Hom:  Wanneer die vloed van oordeel aanbreek – wanneer daardie getygolf van God se oordele breek, sal Ek saam met My kinders daar deurgaan.  Hulle het na My gekom vir beskerming – Ek sal dit vir hulle gee en die enigste manier waarop Ek dit kan doen is om saam met hulle deur die water te gaan – deur die vloedgety van oordeel.  Jesus vereenselwig Hom dus met God se uitverkore volk, sodat hulle veilig in Hom kan wees; sodat hulle deur Hom beskerm kan word wanneer die vuur van God se oordele die wêreld tref.

Wat het hierdie mense gesê toe hulle gedoop is?  Ons wil deur Jesus beskerm word.  En wat sê Jesus deur Sy doop?  Hy sê:  Ek wíl julle beskerm, ongeag die prys.

Jesus se doop is dus die teken dat Hy gewillig is om hierdie mense te red en te verlos van God se oordele.  Hy is gewillig en gereed om verantwoordelikheid vir hulle te neem en ’n skild vir hulle te wees teen God se toorn en gramskap.

Die kern van Johannes se prediking was dat God Sy toorn op sondaars gaan loslaat en natuurlik was Johannes heeltemal reg toe hy dit gepreek het, want daar gáán ’n dag kom dat Jesus sigbaar gaan word en wanneer Hy saam met Sy magtige engele op die wolke gaan verskyn ten einde die mensdom en die ganse skepping te oordeel.  Arme Johannes het nie alles geweet nie – Hy het nie insig in God se plan gehad nie, want Jesus die Messias moes, voor Hy die vuur van God se oordeel loslaat, eers self, ter wille van God se kinders, die vuur van oordeel ervaar.  Jesus moes eers sélf “verdrink” in die “getygolf” van God se oordeel, voor Sy kinders veilig daardeur kon gaan.  Eers dan, eers wanneer Jesus, die vuur van God se gramskap ervaar het t.w.v. Sy kinders, eers dan kan Hy die Heilige Gees op Sy mense uitstort.

Johannes het nie verstaan waarom Jesus gedoop moes word nie, daarom dat hy in Matt.3:14 Vir Jesus sê ~ Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?  Johannes weet dat die doop vir sondaarmense is en Jesus is sonder sonde, waarom moet Jesus dan gedoop word?  Jesus het egter gekies om saam met die skuldiges te staan – om met hulle vereenselwig te word, sodat Hy die skuld van die sondaars en daarmee saam, God se gramskap op hulle sonde, kon wegneem en dat hulle dieselfde Gees wat in die gestalte van ’n duif op Jesus neergedaal het, kon ontvang (Luk.3:22).

5.                  AFSLUITING:
Jesus het daardie dag by die Jordaanrivier Homself verenig met AL die mense wat hulle sou bekeer en hulle laat doop en ook in die toekoms hulle sou bekeer en laat doop – met die ganse nuwe Israel – met jou en my wat gered is dus.  

Hierdie verhaal is ’n wonderlike verhaal, want hier sien ons dat Jesus op daardie dag met Sy doop Homself verbind het aan almal wat in Hom glo.

Miskien kan jy in jou geestesoog vir Jesus daar in die Jordaanrivier tussen die groepie sondaars sien staan en miskien sien jouself ook daar staan – deel van daardie groepie sondaars.  My liewe vriend en vriendin, Jesus het ook in die water ingeloop, sodat Hy jou en my Beskermer – my en jou Redder, vir ewig kan wees. Hierdie plan van God om sondaars wat hul bekeer te red, is reeds voor die skepping in werking gestel en dit het Sy eie Seun, Jesus Christus gekos om hierdie redding te bewerkstelling.  En Jesus het gekies om in liefdevolle gehoorsaamheid deel te hê aan hierdie reddingsplan – selfs vir die ergste sondaar denkbaar.  En dit is nié te laat om die knie voor Jesus Christus te buig as die Heilige Gees vandag met jou praat nie – hoor wat het aan die kruis op Golgota gebeur net voor Jesus gesterf het ~ Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word .... Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” 40 Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41 In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42 Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” 43 Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk.23:32 ,39-43).
“Staan jy saam met Jesus in die Jordaanrivier?”  Indien nie, is dit nog nie te laat nie!  Laat Johannes se wekroep in ons ore weerklink ~ Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe (Luk3:3b).



[1]Met toestemming van en erkenning aan Stephen Rees (Manchester, Engeland).
Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondagoggend 31 Augustus 2014

Sunday, August 24, 2014

Psalm 62 (“Rus in God Alleen”)

1.     INLEIDING:
       Iemand het nou onlangs in die pers gesê dat witmense in Suid-Afrika, ʼn bedreigde spesie is en dan wil ek daarby voeg – praat nie eens van mense wat Gereformeerd in hul teologiese oortuigings is nie en dan kan ons nóg verder gaan en dalk ook sê, dat Gereformeerde Baptiste onder spesifiek die Afrikaner ʼn bykans uitgestorwe spesie is.
Ek dink nie ek oordryf as ek sê dat die meeste indien nie almal van ons nie, deesdae baie gereeld bedreig voel, veral ook as ons sien hoe haat en wantroue tussen rasse, dikwels oorkook en veral toeneem. In ʼn wetenskaplike studie wat nou onlangs deur die “Gauteng City-Region Observatory (GCRO)” in samewerking met die Universiteit van die Witwatersrand uitgevoer is, is bevind dat die hoeveelheid swartmense wat sê dat hulle witmense nooit sal vertrou nie, toegeneem het van 68% in 2009 tot 73% in 2013; witmense wat swartmense nie vertrou nie het in die ooreenstemmende tyd van 40% tot 44% toegeneem. Kleurlinge en Indiërs stem saam – die persentasie onder hulle is onderskeidelik 55% en 61% (http://citizen.co.za/228709/blacks-whites-dont-trust-survey/).
Met sulke statistiek, kan ʼn mens baie maklik sê, “wat se kans het ons op versoening en vrede? Wat se kans het ons dat geweld op wittes sal afneem, ens? Kan die politici, of die weermag of polisie aan ons enige sekuriteit, of uitkoms bied?”
As ons as gelowiges egter so redeneer, is dit die verkeerde reaksie – As ons dit vra, is dit die verkeerde vrae wat ons vra, want ongeag wat die situasie ook al mag wees; ongeag wat wetenskaplike navorsing en statistiek ook al mag sê, ons moet op ʼn ander plek wees en ons moet op ʼn ander plek soek vir oplossings en gemoedsrus. Dawid het ʼn bietjie meer as 3000 jaar gelede, ʼn soortgelyke situasie ervaar en hy verskaf aan ons die oplossing en antwoord.

2.     SKRIFLESING:
Ps.62:1-12 ~ Vir die koorleier. ’n Belydenis. ’n Psalm van Dawid.
2Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. 3Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan. 4Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger en my probeer doodmaak, ’n man wat reeds is soos ’n muur wat wil omval, ’n klipmuur wat omgestoot word? 5Hulle probeer my uitwerk; hulle skep behae in leuens; met die mond seën hulle, in die hart vervloek hulle.  Sela
6Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. 7Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. 8God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. 9Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit!
God is vir ons ’n toevlug.      
Sela
10Mense is verganklik, mense is niks: op ’n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks. 11Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie. As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie. 12Een ding het ek God hoor sê, nee, twee: dat net God mag het 13en ’n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.

3.     SAMESTELLING EN KONTEKS:
       In die meeste ander vertalings van die Bybel lees ons die opskrif van hierdie Psalm soos volg, “VIR die musiekleier; op die wysie van: Jedútun. ’n Psalm van Dawid.” Hierdie Psalm van Dawid is waarskynlik deur ʼn baie bekende koormeester in Dawid se tyd, getoonset – ʼn man van Jerusalem met die naam Jedútun.

       Die Psalm is in drie dele, of stansas van vier verse elk verdeel, nl. vv.2-5; 6-9 en 10-13.

       Dit is baie moeilik om ʼn datum aan hierdie Psalm te koppel en baie kommentators waag dit nie eens om daaroor te spekuleer nie.

4.     1ste STANSA – DAWID SE VERTROUE (vv.2-5):
In die eerste stansa van die Psalm spreek Dawid ʼn weeklaag (“lament”) uit, maar sy vertroue oorskadu egter sy weeklaag en hy spreek selfs verbasing uit oor die situasie.

·         God is sy sterkte (vv.2-3):
Dawid en die volk word bedreig deur ʼn vyand – dalk die Babiloniërs, wat hulle wil vernietig en wegvoer in ballingskap, of mense in sy binnekring, wat ek dink die waarskynlike vyand hier ter sprake is – ons sal netnou sien wie dit hoogs waarskynlik was (v.5).

Dawid wag egter in stilte en vertroue op die Here en dit is nie soseer op grond van sý “groot” geloof nie, maar eerder op grond van wie en wat God is, want Dawid vermeld voortdurend in hierdie kort Psalm, bepaalde attribute (karaktereienskappe) van God en omdat sy God is wie Hy is, plaas hy sy vertroue in niemand anders nie.

In v.2 sê Dawid dat hy net by God rus vind. Die OAV sê dat Dawid “stil” is ~ Ja, my siel is stil tot God. Die ESV sê ~ For God alone my soul waits. Hoe moet ons hierdie woord “rus” of “stil”, of “wag” verstaan? Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, is דּוּמִיָּה [duwmiyah /doo·me·yaw/] en kom van die woord דָּמָה [damah /daw·mam/]. Dit kan dus beteken dat Dawid bloot net kalm is, maar dit kan ook beteken dat hy in stilte wag op ʼn antwoord of reaksie van God. Hoe dit ook al sy, Dawid wil vir ons hier sê dat hy in stilte (van stem) en kalmte (van hart), in vertroue wag op die Here. Dawid is dus vas oortuig dat God hom sal bevry van sy vyand en dit is die punt van hierdie tweede vers – “my redding kom van God alleen”.

Vers 3 is gelaai met beskrywings van God se attribute en dit vorm die basis vir sy vaste vertroue en geloof in God. Ook hierdie vers begin soos die vorige een met, net Hy....

       Daar is drie eienskappe van die Here wat Dawid hier besing. Eerstens sê hy dat die Here, sy rots is en dit impliseer dat God die Voorsiener is van Dawid se sterkte en sy geloof, so asof hy sê dat hy sy lewe bou op ʼn vaste rots. Dit herinner aan Jesus se woorde in Matt.7:24 ~ Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Ook Jesus se woorde in Matt.16:18 ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

       Die tweede uitdrukking wat hy gebruik is, ...my redding. Hy het hierdie uitdrukking ook in v.2 gebruik, maar daar het hy sy eie redding uit die vyand se hande beskryf – hier verwys hy egter nou na God se reddende genade – God is verteenwoordigend van alles wat redding impliseer – alle redding kom dus van God en nét van Hom alleen. God is dus Dawid se Rots van redding.

       Die derde uitdrukking is ...my veilige vesting. Die meeste Engelse vertalings praat hier van “my fortress”, of “my high tower”. Dit alles dui maar net ʼn plek aan waar jy veilig is en beskerming ervaar. Dawid wil dus hierdeur sê dat God sy Beskermer is en dat hy in Hom veilig is en daarom kan hy met sekerheid sê dat hy vas en stewig staan; dat hy nie sal wankel soos die OAV sê nie. Die meeste Engelse vertalings sê, “I shall not be greatly shaken” en die nuwe ADV (Afrikaanse Direkte Vertaling) vertaal dit met, ...ek sal nie maklik wankel nie. Dawid sê dus in v.3 dat hy nie sal wankel nie, omdat sy beskerming en redding geleë is in die stewige Rots, God Almagtig.

·         Sy krisis (vv.4-5):
       In vv.4-5 verwys Dawid na die krisis wat hy in die gesig staar. Hy begin deur ʼn retoriese vraag te vra ~ Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger en my probeer doodmaak... Dawid wys derhalwe daarop dat hy die vyand se primêre teiken is – hulle wil hom onttroon en dood hê, trouens die Hebreeus hier is baie kru en sê eintlik dat sy vyande hom wil slag.

       Die ergste van alles is dat Dawid in homself ook aan sy einde voel – dalk was hy depressief oor iets, of dalk sieklik, want hy beskryf homself as ~ ...’n man wat reeds is soos ’n muur wat wil omval, ’n klipmuur wat omgestoot word? Hierdie uitdrukking van Dawid staan in skrille kontras met wat die Here in Jer.15:20 deur Jeremia t.o.v. die koningshuis belowe het ~ Ek maak jou vir hierdie volk ’n bronsmuur waardeur hulle nie kan dring nie; hulle sal teen jou veg, maar hulle sal jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou help en jou red

       Dawid gaan egter voort en nou praat hy nie meer met die vyand nie, maar ván die vyand en hy sê dat hulle ʼn behae daarin skep om hom van sy koningskap te stroop (ESV ~ They have counseled only to thrust him down from his high position). Hy sê dat hulle leuens oor hom vertel ten einde hom in onguns te bring. Dit wil dus lyk asof sy vyand tog dalk mense in sy binnekring is, want indien die Babiloniërs leuens oor hom sou versprei, sou Dawid se eie mense dit tog nie geglo het nie. Koning Dawid sê dat hierdie mense dubbelhartig is – hulle is vals en huigelagtig, want voor hom seën hulle hom (ʼn buitelandse mag sou dit tog ook nie gedoen het nie), maar agteraf vervloek hulle hom – die Hebreeuse woord vir vervloek sê so lekker – קָלַל [qalal /kaw·lal/].

Sela – wees stil en oordink dit.

5.     2de STANSA – DAWID SE VERMANING (vv.6-9):
       Ons sien dat hierdie tweede stansa ʼn basiese herhaling van die eerste stansa is – in die eerste word die fokus gevestig op Dawid se vyande en die feit dat hy stil geword het en rus in die Here gevind het. Hierdie tweede stansa wys egter dat stilte nie onaktief is nie, want behalwe dat dit onrealisties is om bloot net agteroor te sit en alles net oor te laat aan God (“let go and let God”), het ons ook ʼn verantwoordelikheid – innerlike vrede en kalmte is noodsaaklik ja en dit moet deurgaans deur jou beproewing in stand gehou word en hier kom ons aandeel ter sprake – ons moet ons “rus in die Here”, in stand hou en dit doen ons o.a. om met God daaroor te praat en “saam met Hom te werk” daaraan.

       Dawid begin v.6 met dieselfde woorde as v.2 ~ Net by God vind ek rus. Waarskynlik vermaan hy homself en herinner hy hom weer daaraan dat hy op God moet vertrou, want sy vertroue het dalk vir ʼn oomblik die wyk geneem en het die donkerwolke van beproewing dalk sy vertroue in God ondermyn. Hierin lê ʼn geweldige les vir ons en dit herinner so sterk aan die boodskap van Habakuk ook – wanneer dinge té erg raak – herinner jouself aan wie God is en wat Hy vir jou gedoen het – vestig opnuut weer jou vertroue in die Rots, want net Hy kan jou red en net Hy kan ʼn veilige vesting verskaf waar jy stewig kan staan teen die aanslae.

       Hierdie oortuiging van Dawid word herhaal in v.8, waardeur hy homself opnuut weer herinner daaraan dat sy heil by God geleë is.

       Dawid eindig hierdie tweede stansa, deur sy volksgenote te vermaan om ook op die Here te wag en Hom ten alle tye, met alles te vertrou. Wat meer is, hy moedig hulle aan om hul harte voor God uit te stort, omdat Hy hulle Vader is en daarom kan hulle na Hom gaan – hulle moet dus net soos hy, glo en vertrou, maar ook bid en hul omstandighede met God deel.

Sela – wees stil en oordink dit.

6.     3de STANSA – DAWID SE WAARSKUWING (vv.10-13):  
       In die derde en laaste stansa waarsku Dawid dat mense nie hul vertroue in materiële besittinge en dan spesifiek geld moet plaas nie, maar in die almagtige en liefdevolle God en Vader.

       Hy sê dat die mens verganklik is en dat hy in vergelyking met God, niks is nie – soveel te meer materiële dinge en daarom baat dit niks om op jou rykdom te steun in tyd van nood nie (of jou geleerdheid; of wat ook al), want dit beteken absoluut niks nie en as God dan almagtig is, is Hy tog ver, ver verhewe bo die mens en materiële dinge, waarom dan nie liewer jou vertroue in Hom plaas nie? Die mens het God nodig, want net Hy is betroubaar en almagtig en liefdevol! God sal ongetwyfeld elkeen beloon wie sy vertroue in Hom plaas en daarom moet ons nie allerlei planne beraam om ons eie verlossing uit onaangename situasies te probeer bewerkstellig nie – ons moet geduldig wag op Hom vir redding.

7.     TOEPASSING:
Hierdie Psalm is ʼn pragtige getuienis van iemand wat sy vertroue in die Here plaas. Die Psalmis het homself hier in ʼn lewensbedreigende situasie bevind, maar hy is nie gevul met angs en vrees nie. I.p.v. ʼn vreesagtige optrede, plaas hy sy vertroue in die Here om uitkoms te gee. Hy weet dat die Here die nodige krag en sekuriteit kan verskaf om deur te druk, want hy weet dat net God alleen dit kan doen, maar hy weet dit omdat hy sy Maker ken, maar meer nog as dit, hy weet dat die Here sy volk se Verlosser is, want reeds in 2 Samuel het hy verskeie beloftes van God ontvang.

Eerstens het God Sy belofte van ʼn land vir Sy volk wat Hy tydens die eerste twee verbonde gemaak het, herbevestig aan Dawid – 2 Sam.7:10 ~ Ek sal vir my volk Israel ’n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie. Die Here gaan egter in vv.12-13 voort en hy belowe aan Dawid dat sy seun Salomo hom sal opvolg en hy sal die verwoeste Tempel weer herbou – ʼn huis vir God se Naam.

Die belofte gaan egter voort en die Here sê vir Dawid in v.13 en 16 van 2 Sam.7, dat Hy die troon van Sy Koninkryk vir ewig sal bevestig en dat dit vir altyd sal vasstaan. Hierdie is natuurlik ʼn verwysig na die Messias, Jesus Christus wat die Seun van Dawid genoem word (Mat.21:9). Hierdie feit is heelwat later deur die Engel bevestig wat Maria besoek het ~ Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie” (Luk.1:32-33). Lukas skryf ook in Hand.13:34
die volgende ~ God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het.

       Die punt van Psalm 62 kan as volg saamgevat word: God alleen is in staat om die getroues te red van hul destruktiewe en boosaardige vyande en net Hy kan Sy kinders veilig bewaar en red, want Hy en net Hy alleen is beide Verlosser en Regter. Hy is dus die Een wat red, maar Hy is ook die Een wat Sy kinders uiteindelik sal vergoed vir hul getrouheid.

       Paulus sê in sy brief aan die Filippense die volgende ~ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Fil.4:4-7).

       Wanneer vrees en onsekerheid; twyfel en swaarkry in ons harte wortel skiet, moet ons, onsself herinner daaraan dat God almagtig is en dat die onmoontlike vir Hom niks is nie. Hy is die soewereine Een wie die lotgevalle van die mensdom bepaal – ook ons sʼn. Hy het ons lewens in Sy hand en Hy belowe in  Joh.10:28 ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Niks is vir God onmoontlik nie; Hy is die liefdevolle en genadige Koning wat ons, in ons donkerste ure sál ondersteun en dra – ons moet uitroep om hulp en glo en weet dat Hy ons lief het en ons nié sal verlaat nie.

Om op te som dan: Wanneer ons beproef word sê Dawid vir ons, dat ons basies twee dinge moet doen:
·           Erken jou afhanklikheid van God en roep v.7 in herinnering ~ God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.

·           Stort jou hart voor God uit. Dit impliseer openheid en eerlikheid voor Hom en daarvoor is v.8 vir ons ʼn riglyn ~ Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ’n toevlug. Sela.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 24 Augustus 2014

Sunday, August 17, 2014

Habakuk, ʼn Profeet met ʼn boodskap vir ons – 04 (“Habakuk se Gebed”)

1.     INLEIDING:
       Tot nou het ons gesien dat Habakuk twee keer sy hart teenoor die Here oopgemaak het – die eerste keer het hy gevra waarom die Here so traag was om hom te antwoord. Toe God wel antwoord sê Hy vir Habakuk dat Hy die Babiloniërs gaan stuur om Sy volk te straf. Hierdie was nie die antwoord wat Habakuk graag wou hoor nie, waarop Habakuk vir die Here gevra het hoe Hy so iets kon doen – ʼn goddeloser volk as sy eie wat gebruik word deur die heilige God om sý volk te straf! Dit was onverstaanbaar vir Habakuk.

In hoofstuk 2 antwoord God hom weer en die sentrale boodskap van Sy antwoord is ook die sentrale boodskap van die boek en ook een van die sentrale temas van die ganse Bybel, nl. Hab.2:4 ~ ...die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe (OAV). Dan eindig God se antwoord met die woorde van 2:20 ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!
Uiteindelik verstaan Habakuk – hy verstaan dat God heilig is en dat Hy soewerein is en Habakuk vind berusting, waarop hy “uitbars” in lofprysing en aanbidding voor die Here!

2.     SKRIFLESING:
       Hab.3:1-19 ~ ’n Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van ’n klaaglied. 2Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn 3God kom van Teman af, die Heilige kom van Paranberg af. Sela. Die hemelruim is vol van sy majesteit, die aarde vol van sy roem. 4Hy kom met die glans van die lig, weerligte blits uit sy hand, sy hand so vol mag. 5Voor Hom uit gaan die pes, in sy voetstappe volg die dood. 6Wanneer Hy staan, skud die aarde; wanneer Hy kyk, bewe die nasies. Die eeue-oue berge verkrummel, die ou-ou heuwels val inmekaar, die berge waaroor Hy van ouds af gewandel het! 7Ek het gesien hoe onheil die tente van Kusan tref, hoe die tentdoeke van Midian bewe. 8Was U kwaad vir die riviere, Here? Het u toorn teen die strome ontvlam? Het die see U woedend gemaak dat U op u perde gery het, op die strydwaens waarmee U oorwin? 9U het u boog uitgehaal en met ’n eed die opdrag aan die pyle bevestig. Sela. U het die aarde oopgebreek en riviere laat stroom. 10Toe die berge U sien, het hulle gebewe, stormwaters het verbygespoel, die diep water het gedreun en sy golwe hoog laat opslaan. 11Toe u vlieënde pyle blits en u blink spies flikker, het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek. 12In u gramskap stap U oor die aarde, in u toorn vertrap U die nasies. 13U het uitgegaan om u volk te red, om u gesalfde koning te red. U verpletter die aanvoerder van die goddeloses, U stroop hulle kaal van kop tot tone. Sela. 14Met sy eie pyle deurboor U die aanvoerder wanneer sy manskappe uitstorm om ons te verstrooi terwyl hulle jubel soos dié wat die ellendiges in hulle skuilplekke verslind.15U trek deur die see met u perde sodat die magtige waters bruis. 16Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. Tog sal ek geduldig wag dat die dag van die oordeel moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is. 4
Vir die koorleier. Met snarespel.
3.     GEBEDSANG (3:1, 19b):
Ons sien in vv.1 en 19b dat hierdie gebed gesing was  ~ ... Op die wysie van ’n klaaglied en in v.19b, waar die gebed afgesluit word met die woorde ~ Vir die koorleier. Met snarespel. Ons sien dit ook in die “drie selas” wat in vv.3, 9 en 13 gebruik word. Daar bestaan ʼn verskeidenheid van verklarings vir hierdie woord, maar die mees waarskynlike is dat dit ʼn aanduiding was aan
die sangers of koor wat die lied gesing het, dat hulle aan die einde van daardie betrokke versreël vir ʼn wyle moes stilbly en nie sing nie, sodat beide die sangers en die luisteraars, die woord wat pas gesing was kon oordink. Hierdie “selas” in Habakuk se loflied staan ook geskryf aan die einde van die drie hoofopskrifte of verse (stansas) van sy lied. In vv.2-3 hoor ons van sy ontsag vir God. In vv.4-12 getuig hy van God se almag en in vv.13-15 gaan dit oor God se getrouheid en dan sluit hy sy lied af met waarskynlik een van die beste en roerendste geloofsverklarings, van alle tye (vv.16-19), hoewel lg. nie gepaard gaan met ʼn “sela” nie

       Hierdie gebed van Habakuk het so ʼn geweldige impak op die Judeërs gemaak, dat dit deel geword het van die Jode se liturgiese aanbidding. Hierdie gebed is dan ook later deur die Judeërs gebruik as gebed wanneer die volk ʼn nasionale ramp verwag of ervaar het.

       Wanneer ʼn mens na hierdie gebed kyk, is dit duidelik dat Habakuk berusting gevind het en dat hy geen verdere klagstaat teen die Here kan of wil inbring nie, trouens hy gebruik nou ook hierdie gebed om sy volk te lei in aanvaarding en onderwerping aan God se regverdige, maar ook genadige verordeninge wat die Here aan hom geopenbaar het.

4.     GOD WORD VERHEERLIK (vv.2-15):
       Op grond van wat Habakuk weet en gehoor het, van wat God in die verlede gedoen het, reageer hy op drie maniere.
·        Habakuk se ontsag vir God (vv.2-3):
       Hy is vervul met ontsag en dit toon sy persoonlike reaksie op God se krag en soewereiniteit. Ons het in 1:5 gesien dat God aan hom gesê het dat hy sy oë moet oopmaak en kyk wat die Here onder die nasies van die wêreld doen en nou verstaan Habakuk dit en besef hy opnuut weer dat hy met die Lewende God te doen het en waarskynlik het hy hier terug gedink aan die pad wat die Here met die Judeërs deur die eeue geloop het en die talle kere wat Hy hulle gered het uit allerlei verknorsings en beproewing, maar ook staan hy opnuut in verwondering oor die Here se bekendmaking van Sy oordele wat teen Israel sowel as die Babiloniërs, aan die kom is.

       Wat die profeet dus van die Here gehoor en besef het, laat hom nie in vrees soos ʼn ongelowige nie, maar in verwondering en aanbidding oor die grootsheid en almag en genade en soewereiniteit van God. Hier het Habakuk waarskynlik gedink aan die woorde van die Psalmdigter wat gesê het ~ O God wat aan my reg verskaf, antwoord my as ek roep. Toe ek in die nood was, het U my bevry. Wees my ook nou genadig en hoor my gebed! (Ps.44:2). Hy herinner hom dus self aan al die kere dat God hom en hulle as volk gered en gedra en versorg het en dit versterk sy geloof en hy besef dat God dit weer sal doen.

       In v.3a getuig die profeet van God wat van Teman en van Paranberg af gekom het. Nou waar is Teman en Paran? Teman is in die suidelike deel van Palestina geleë en die Paranberge nog verder suid en wel op die oostelike grens van die Sinai Skiereiland – die plek waar die volk Israel skuiling gevind het van die Egiptiese weermag wat hulle agtervolg het, maar dit is ook die plek waar die Berg Sinai geleë is – die berg waar God Sy wette aan die volk gegee het – dit is ook die plek waar God begin het om Sy volk te lei, te beskerm en te veroordeel en as volk te vorm. Dit is daar in die suide dat God se magtige teenwoordigheid ervaar en gesien is.

       Hy besef egter ook terselfdertyd dat God ʼn heilige God is en daarom ook ʼn regverdige God – ʼn regverdige God wat sonde móét straf, want omdat Hy heilig is, kan Hy nie duisternis verdra nie en daarom moet diegene wie Hom verwerp, gestraf word en dit sluit die Judeërs in, maar ten spyte van die feit dat God sy volk gaan straf, getuig hy van Sy Maker se majesteit en roem in v.3b ~ Die hemelruim is vol van sy majesteit, die aarde vol van sy roem. Met hierdie gedagte vind ons die eerste “sela” in hierdie lied – so asof hy wil sê, wees stil en oordink hierdie feit en wat dit vir jou inhou – God is ʼn ontsagwekkende God!
·         God se almag (vv.4-12):
       Die profeet kom in vv.4-12 by sy tweede stansa of vers van sy loflied, wanneer hy weer “sela” sê (v.9) en wys hy sy lesers op God se almag en sê hy daardeur dat hulle bietjie hierdie karaktereienskappe van God moet oordink – Hy wat hulle vyande vernietig; Hy wat geskep het; Hy wat wonderwerke doen en beskerm – Hy wat oordeel – bedink dit – bedink Hóm en stel jou vertroue in Hóm en aanbid en verheerlik Hóm.

       In vv.4-5 sê Habakuk dat wanneer God kom, kom Hy o.a. om te oordeel en dit gaan gepaard gaan met weerligstrale en pes, dood en allerlei ander strawwe – dink aan die tien plae in Egipte (Eks.7:1-12:32), maar die Israeliete het dit self ook ervaar wanneer hulle afvallig geraak het – dink aan Eks.16:20 waar daar miet in die manna gekom het, omdat die volk nie die manna hanteer het soos beveel was nie; dink aan Num.21:6 waar baie Israeliete gesterf het nadat slange hulle gepik het, omdat hulle in opstand gekom het oor hulle ongelukkigheid dat God en Moses hulle uit Egipte gelei het. Dink aan die vele veldslae teen die vyand wat hulle verloor het (bv. Num.21).

       Vv.6-15 is baie moeilik om te verklaar, omdat dit in poëtiese taal geskryf is en tog is dit duidelik genoeg omdat dit handel oor God se verdediging van Sy volk toe Hy hulle uit Egipte gelei het en ook terwyl hulle in die wildernis rondgeswerf het en deurentyd word na God se almag verwys – kom ons kyk daarna:

       In v.5 verwys hy na die pes wat die Egiptenare getref het toe die Farao geweier het om die volk te laat trek. In v.6 herinner hy homself en die volk aan die gebeure by die Sinaiberg toe God opdragte aan Moses gegee het (hou in gedagte dat die volk elke woord gehoor het wat God vir Moses gesê het- Eks.19:9) en dan lees ons in Eks.19:16-19 ~ Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ’n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ’n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. 17Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. 18Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ’n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud, 19en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.

       Habakuk sien in v.7 twee Bedoeïene vyande (die tente van Kusan), nl. die Kussiete en die Mideaniete wat gedurig ʼn doring in Israel se vlees was en hoe die volk hulle gevrees het, maar Kusan was uiteindelik deur Otniël verower (Rigters 3:10) en die Mideaniete deur Gideon (Rigters 6-8).

       In v.8 vra Habakuk weer ʼn retoriese vraag en dit was waarskynlik n.a.v. die feit dat die heidenvolke daarop geroem het dat die natuur oor goddelike magte en attribute beskik het wat tot hul beskikking was en wat hulle aanbid het, maar Habakuk weet, net soos wat die Joodse geskrifte ook verklaar het, dat net een lewende God die natuur beheer – dit is waarom dit in Christelike kringe bv. onaanvaarbaar is om van “Moeder Natuur” te praat en besef ʼn mens maar net meer en meer waarom die “hiper-Groenes” tot ʼn groot mate, almal ʼn klomp “New Agers” is.

       Wanneer Habakuk homself op hierdie retoriese vraag in vv.8-9a antwoord, verwys hy waarskynlik na die skeiding van die Rietsee (Skelfsee – OAV) toe die Israeliete droogvoets daar deurgetrek het en die Egiptiese weermag omgekom het toe die water hulle verswelg het (Eks.13-14). Hoe dit ook al sy – hy besing steeds God se almag en in v.9 gaan hy voort deur na God as die magtige krygsman te verwys en die gebruik van die uitdrukkings, boog en pyl is algemene gebruiksvorme in die Joodse literatuur wanneer daar verwys is na God se oordele.

       In vv.9b-10 gaan hy voort en getuig hy steeds van God se almag deur te verwys na die skepping, toe see en land van mekaar geskei is – dink aan Asaf se woorde in Ps.74:15 ~ Ú het fontein en stroom oopgeslaan; Ú het standhoudende riviere laat opdroog. V.11 weer, verwys na die keer toe die son stil gestaan het tydens die slag van Gibeon waarvan ons in Jos.10 lees (sien spesifiek v.13) en laastens wat God se almag aan betref, getuig Habakuk in v.12 hoe nie net die Judeërs nie, maar ook die res van die volke van die aarde, God se gramskap of woede oor hul sonde sal ervaar en hy doen dit nog steeds aan die hand van militêre beeldspraak wanneer hy God beskryf as Een wat deur die aarde marsjeer en Sy vyande vertrap soos koring op ʼn dorsvloer uitgetrap word, of soos wat Amos in Amos 1:3 beskryf hoe Gilead vertrap is ~ So sê die Here: Oor drie oortredinge van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle Gílead met ysterdorssleë gedors het, of soos wat Jesaja in Jes.25:10 beskryf wat met die Moabiete gaan gebeur ~ Want die hand van die Here sal rus op hierdie berg; maar Moab sal vertrap word op sy plek soos strooi vertrap word in die water van ’n miskuil.

       Niks of niemand kan staan teen die almag van God nie – nie die natuur nie en geen afgod of nasie op aarde nie – Hy is voorwaar die Almagtige!

·         God se getrouheid (v.13-15):
       Weer kondig Habakuk die derde vers van hierdie lied aan deur na God se getrouheid en genade te verwys en dit te besing, daarom dat hy aan die einde van v.13 weer “sela” sê. Hy die Verbondsgod wat nie net straf nie, maar ook vergewe en red – oordink dit ʼn bietjie – “sela”!

       Die uitdrukking “u gesalfde koning” in v.13 verwys na een of meer van die konings van Israel en hul dikwels hulpeloosheid teen die vyand, maar dan gaan hy verder in vv.13 en 14 en verwys hy na Jahweh (die Verbondsgod) se getrouheid, deur die stryd namens die volk teen die vyand te wen. Hier het hy waarskynlik die oorwinning van Dawid oor Goliat in gedagte gehad (1 Sam.17), asook die oorwinning wat behaal is oor die Babiloniërs wat God belowe gaan kom (en wat ons vandag weet wat wel gebeur het); die oorwinning oor die Egiptenaars en soos reeds gesê is, die Kussiete, die Mideaniete en vele ander van die vyande van die Israeliete.

       Hierdie derde stansa (vers) van Habakuk sluit hy in v.15 af, deur weer na God se almag te verwys en hy sê daardeur, dat net soos wat God die Israeliete destyds gered het, net so sal Hy dit weer doen wanneer sy volksgenote deur die Babiloniërs weggevoer word, sal Hy hulle red en weer terug bring na die Beloofde Land!

       Wat tog interessant is om te meld is die letterlike vervulling van die woorde van v.15 ~ U trek deur die see met u perde sodat die magtige waters bruis. Toe Babilon aan die hand van die Mede en Perse geval het (Dan.5; Jes.46:1-2), het dit gebeur op ʼn tydstip dat die Eufraatrivier opgedroog het – toeval? Nee, God se “perde het vooruit gegaan en die waters van die Eufraat so laat bruis dat dit opgedroog het”!

5.     GELOOFSVERKLARING (vv.16-19):
       Habakuk kom nou aan die einde van sy gesprek met God en God het hom op al sy vrae geantwoord en wel tot so ʼn mate dat hy een van die kragtigste geloofsbelydenisse in die ganse Bybel uitspreek. Hierdie geloofsverklaring word deur baie mense beskou as die mees roerende woorde in die Bybel (ek sou eerder sê – van die mees roerende... – dink maar net aan Jesus se woorde aan die kruis en spesifiek toe Hy gesê het, “Tetelestai, dit is volbring!”).

       Habakuk se gesprek eindig met ʼn verklaring t.o.v. waar hy in sy verhouding met God staan. Hierdie gedeelte van die lied word in musikale terme ʼn musikale brug genoem wat ʼn nuwe musikale tema inlei en wat dikwels gepaard gaan met ʼn verandering in sleutel. In die eerste gedeelte van die lied (3:2-15) het hy gesing van God se almag en getrouheid, maar nou hier in 3:16-19 sing hy van sy nuutgevonde vreugde en geloof in die Almagtige en soewereine God – selfs al is daar nie kos op die tafel nie.

       Hierdie musikale brug begin in v.16a met ʼn verbinding met die refrein in 3:2 ~ Here, ek het gehoor. Habakuk erken hierdeur dat hy God gehoor het – hy verstaan wat die Here vir hom t.o.v. sy volk se ballingskap gesê het, maar ook wat die uiteindelike verwoesting van Babilon betref – hy onderwerp hom volkome aan die soewereiniteit van die Almagtige, maar hy sidder en bewe by die besef hiervan, want hy weet ook dat die straf en uiteinde wat op die Judeërs wag, verskriklik gaan wees indien God nie op ʼn stadium gaan ingryp nie, maar hy vertrou Jahweh en hy glo wat Hy aan hom belowe het en daarom verklaar hy dat hy geduldig sal wag, ongeag wat ook al. Hy plaas dus nie eerstens sy vertroue in sy eie siening en vermoëns nie, maar in die almagtige en soewereine vermoë van Jahweh – hy spreek sy onderwerping aan die soewereine wil van sy Skepper uit, deur te sê dat hy geduldig sal wag op die voltrekking van God se beloftes aan hom. Wat meer is, hy weet verseker dat God nie gaan wag tot die oordeelsdag voor Hy die Babiloniërs gaan straf nie, maar dit gaan nog in sy lewe gebeur, want hy hou vas aan die belofte wat hy in 2:3 van die Here ontvang het ~ Die openbaring geld vir ’n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

       Die meeste Judeërs het hulle lewe gemaak uit die produksie en verkoop van vye, druiwe, olywe en ander landbouprodukte, asook skape, bokke en beeste. Al sou die Judeërs dan ook misoeste hê en die vee té maer is om te slag, spreek Habakuk in vv.17-19 steeds sy vertroue uit dat hy en sy volksgenote tydens storms en swaarkry kan weet dat hul Vader naby is, maar hy weet ook dat God net so naby is en hulle net so goed versorg in tye van voorspoed, want Hy is die Verbondsgod wat Sy beloftes gestand doen en in tye van swaarkry is Hy steeds hul Redder en daarmee onderskryf hy ook die woorde van die lied wat Dawid geskryf het en wat Samuel in 2 Sam.22:3 herhaal het ~ Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, 3my God, my rots, by wie ek my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos.

       Ten spyte van die dreigende gevaar is Habakuk steeds op ʼn plek waar hy die Here, “my God” noem, want hy weet ten spyte van wat ook al, hy nooit sy redding sal verloor nie. Paulus stel vir ons hierdie selfde voorbeeld wanneer hy in Rom. 8:38-39 sê ~ Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

6.     AFSLUITING:
       Daar is soveel vir ons om uit Habakuk se lied te leer en toe te pas in ons lewe, want hy het onder al sy omstandighede, steeds gesing ~ ...nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder (v.18). Die vraag wat jy dalk nou mag vra is hoe kon hy dit gesing het as alles rondom hom in duie gestort het? Hy verskaf self die antwoord in v.19 ~ Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Habakuk se geloof was nie gesetel in sy geloof nie, maar in sy getroue God en Vader. Anthony Sevlaggio het eenkeer gesê, “The Bible teaches us that our ultimate destiny is not based on our faithfulness, but rather on His”.

       Wat moet ons doen wanneer ons beproewing ervaar? Bo en behalwe dit wat ek verlede Sondag gedeel het, kan ons n.a.v. vandag se Skrifgedeelte ook nog die volgende byvoeg:
·        Habakuk het na sy gesprekke met die Here, sy omstandighede beter verstaan, maar wat veral belangrik is, is dat hy dit aanvaar het, want hy het geweet en onwrikbaar geglo dat sy omstandighede volledig binne die wil van sy soewereine Vader lê en ons moet besef dat probleme en beproewing, alles deel uitmaak van God se doel met ons lewens, maar, en dit is belangrik, daar is ʼn baie spesifieke eindpunt aan hierdie probleme en situasies gekoppel.

       Net ʼn belangrike opmerking hier: Wanneer ons, ons situasie aanvaar impliseer dit nie dat ons gaan lê nie, maar dat ons juis ons kop sal optel in die omstandighede en weet dat ons Vader in beheer is – ook van daardie situasie en dat Hy my sal deurdra.
·        Ons moet leer om geduldig te wag op God se “eindpunt”, maar dit vereis krag en stamina om te kan wag, veral omdat ons as mense geneig is om haastig te wees en baie gou resultate wil sien, maar ons tyd is nie altyd God se tyd nie en daarom moet ons leer om stil te raak en geduldig te wees. As ons maar net dink aan hoe geduldig die Here met ons is, is dit beslis ʼn karaktereienskap wat ons moet aanleer. Ons moet leer om in Hom te rus en hierdie rus, is ʼn rus wat nie toegee aan versoeking om nie meer jou vertroue in die Here te stel nie, geen wonder dat Jesaja die volgende gesê het nie ~ So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê (Jes.30:15).
·        Habakuk het ook geleer om hom te verbly in die Here (vv.17-19). Wanneer ons nie ʼn kalm gees en innerlike stilte ervaar nie, kan ons, ons nie in opregtheid in die Here verbly nie. Ons het in v.17 ook gesien dat Habakuk die feite van sy situasie, hoe onaangenaam en onaanvaarbaar ook al, vierkantig in die gesig gestaar het en homself in die Here verheug – nie in sy omstandighede nie, maar in die Here en dit is waar ons fokus moet wees – altyd, wanneer dit goed of sleg gaan. Waarom? Omdat die Here, Here is – Almagtige. Soewereine Skepper van die heelal – op Hóm moet ons fokus gevestig wees.

       William Cowper, die bekende Engelse digter, maar ook baie sieklike man, het n.a.v. Habakuk se lied, ook sy oortuiging van ʼn versorgende en beskermde God, as volg in een van sy gedigte uitgedruk:
Though vine nor fig tree neither
Their wonted fruits should bear,
Though all the fields should wither,
Nor flocks nor herds be there;
Yet, God the same abiding,
His praise shall tune my voice;
For, while in him confiding,

I cannot but rejoice.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 17 Augustus 2014