Tuesday, December 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 40 (Dit is Verby! - 03)

Tot nou is die eerste vier bakke van God se oordeel oor die heelal uitgestort. Hiernaas volg die vyfde en sesde bakke. -

1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.16:10-11 ~ Die vyfde engel het toe sy bak op die troon van die dier uitgegooi, en daar het duisternis oor die koninkryk van die dier gekom. Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn 11en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie. Toe die vyfde engel sy bak op die troon van die dier uitgegooi het, het daar duisternis oor die dier se koninkryk gekom en die mense het hul tonge stukkend gebyt van die pyn! Steeds het hulle egter nie tot sondebesef gekom nie en het hulle voortgegaan om God te belaster en kwalik te neem vir die pyn wat oor hulle gekom het. Hierdie ramp wat oor die mense gekom het, herinner sterk aan die vyfde oordeelsbasuin in Openb.9:1-12, asook die plaag van duisternis wat oor Egipte gekom het ~ Daarna het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op, dan sal dit donker word in Egipte, so donker dat ’n mens dit kan voel.” 22Moses het toe sy hand in die lug opgesteek, en drie dae lank was dit pikdonker oor die hele Egipte. 23Die mense kon mekaar nie sien nie en drie dae lank kon niemand iets uitrig nie, maar in al die woongebiede van die Israeliete was daar lig (Eks.10:21-23).

Die ooreenkoms tussen die vyfde basuin en hierdie plaag in Egipte, is opvallend. In die geval van die vyfde trompet, het Johannes demoniese wesens uit die bodemlose put sien kom en is hierdie wesens aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie (Openb.9:4).

Wanneer ’n mens die geskiedenis van Israel se oorloë lees, kom ’n mens agter hoe demonies Jerusalem op daardie stadium opgetree het. Gedurende die vyfde trompet het ons gesien dat mense die dood sou soek om die lyding te kon ontsnap, maar hulle kon nie die dood vind nie. Ook terwyl ons gekyk het na die verduideliking van die vyfde trompet, het ons gesê hoe tragies dit was dat die mense eerder die dood gesoek het, as om hulle tot God te wend en hulle te bekeer. Die vyfde bak, wat eintlik maar net ’n verdere beklemtoning van die vyfde trompet is, maak die optrede van Jerusalem eintlik nog duideliker, deurdat die inwoners God belaster het, eerder as om hulle te bekeer.

Tydens die Israeliete se verblyf in Egipte, het die Farao ook sy hart verhard en nie toegegee nie. Hy sou eerder ly en die hele Egipte onderwerp aan God se oordele, as dat hy die knie voor die lewende God sou buig. Israel was niks anders nie – ly eerder, trouens belaster God eerder, as om die knie voor God te buig.

• Openb.16:12-16 ~ Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Die water daarvan het opgedroog om ’n pad vir die konings uit die ooste oop te maak. 13Toe sien ek uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die vals profeet drie onrein geeste kom wat soos paddas lyk. 14Hierdie geeste, wat wondertekens doen, is bose geeste. Hulle gaan na die konings van die hele wêreld toe om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige. 15“Kyk, Ek kom onverwags soos ’n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie.” 16Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word. Die afvalliges verhard hul harte nog verder en God se oordele is op hande. Eers moet die sesde bak egter uitgestort word en hierdie een word oor die Eufraatrivier uitgegooi.

Ons het reeds te doen gekry met van die "karakters" in hierdie gedeelte. "Die draak" byvoorbeeld, is die satan self. "Die dier" het ons gesien, is die Romeinse Ryk wat deur die keiser gelei is, met as lakei, die "vals profeet", wat die afvallige Judaïsme was. Uit die monde van hierdie drie hoofkarakters, het drie onrein geeste gekom wat soos paddas gelyk het. Weereens word ons herinner aan die plaag van die paddas in Eks.8:1-4 en die feit dat hier melding gemaak word van die Eufraatrivier, en dit vestig ons aandag op die sesde basuin soos beskryf in Openb.9:13-21.

Die drie onrein geeste, wat met paddas vergelyk word, het gepoog om die konings van die wêreld byeen te bring ...om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige. Wat hier opval, is dat die oorlog, die oorlog van God Almagtig is. Baie mense sê dat hierdie ’n verwysing is na die Slag van Armageddon, maar dit is nie die geval nie. Let op wat sê v.16 ~ Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word. Hierdie oorlog vind plaas op ’n plek met die Hebreeuse naam, nl. Armageddon. Toe Johannes die visioen ontvang het, was Rome dié wêreldmag wat uit 10 provinsies bestaan het en oor bykans die ganse breedte van die aarde gestrek het (vanaf die hedendaagse Skotland tot en met die hedendaagse Indië). Geen ander wêreldmag het ooit in die geskiedenis soveel lande onder haar beheer gehad as wat Rome gedurende die eerste eeu na Christus gehad het nie.

Teen die einde van die Joodse oorlog en kort na Nero se selfmoord, is die Romeinse Ryk in geweldige onrus gedompel, soveel so dat dit voorgekom het asof die Ryk tot ’n einde sou kom. Gedurende hierdie tyd het die Romeinse owerhede, groot nederlae gelei in opstande en oorloë wat in elkeen van die tien provinsies voorgekom het. Vir die volgende drie-en-’n-halwe jaar was daar ook fel meegeding om die troon in Rome. Gedurende hierdie tydperk het drie keisers geheers, net om vinnig-vinnig verplaas te word met ’n ander een. Keiser Vespasius het egter uiteindelik weer orde gebring in die Ryk.

Gedurende sulke opstande en chaos in ’n land (in hierdie geval, die Romeinse Ryk) is dit amper voor die handliggend dat so ’n land nie terselfdertyd ander lande byeen sal wil of kan bring vir ’n oorlog teen Jerusalem nie. Die Ryk was reeds "in die voet geskiet en gewond", waarom nog meer probleme vir haarself op die hals haal? Dit was egter presies wat gebeur het! Waarom? Die drie demoniese geeste het o.l.v. die satan, saamgewerk om die konings van die wêreld saam te snoer en aan te hits tot oorlog!

Voorts was daar maar net een stad (Jerusalem) wat gereed was om die hele Romeinse Ryk se weermag te konfronteer! Dit was absolute gekheid, maar dit is presies wat gebeur het toe God die stad oorgegee het aan daardie spesifieke demoniese invloed. Beide Rome en Jerusalem was gelei deur demoniese magte en tog was hierdie veldslag nie die veldslag van die satan genoem nie, maar die oorlog van God. God het die mens oorgegee aan sy eie ellendige en verdoemende gees en optrede en die gevolge was katastrofies.

Ons het dan gesien dat die magte van Rome op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word byeen gekom het. Armageddon sien ons dan, is ’n Hebreeuse woord en dit laat ons met twee Hebreeuse moontlikhede, nl. Harmageddon, of Armageddon. Harmageddon is die Hebreeuse woord vir "die Berg Megiddo", terwyl Armageddon weer die Hebreeuse naam vir " die Vlakte van El Megiddo" is. Die berg Megiddo is eintlik niks meer as ’n heuweltjie nie en is daarom niks besonders nie en daar is ook nie veel in die Ou Testament opgeteken t.o.v. hierdie heuwel nie. Die Vlakte van El Megiddo daarenteen, het ’n baie belangrike rol in die Ou Testamentiese geskiedenis gespeel. Ek is oortuig daarvan dat dit hierdie vlakte is waarna Openbaring verwys.

Die Kananiete was op hierdie einste vlakte deur Israel oorwin ~ Konings het gekom, hulle het geveg, die konings van Kanaän het geveg by Taänak, by Megiddo se waters, maar hulle het nie silwer buitgemaak nie (Rigters 5:19), maar dit was ook dieselfde plek waar Israel verslaan is en koning Ahasia gesterf het ~ Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, het hy in die rigting van Bet-Gan gevlug. Jehu het hom agtervolg en opdrag gegee: “Skiet hom ook!” Op die hoogte van Gur, by Jibleam, het hulle hom op sy wa raakgeskiet. Hy het nog tot by Megiddo gevlug, maar daar het hy gesterf (2Kon.9:27). Nog meer belangrik egter is die feit dat koning Josua op hierdie vlakte gesterf het.

Gedurende koning Josua se regering het Babilon pas Nineve, die Assiriese hoofstad verower en daarmee saam, ’n mag geword waarvan die destydse wêreld kennis van geneem het. In ’n poging om hulleself weer te vestig en hulle, hulle verliese kon konsolideer, het die Assiriërs ná die val van Nineve, ’n nuwe hoofstad in Haran gevestig. Hierdie poging is egter ook spoedig deur die Babiloniërs onderdruk. Die desperate Assiriërs het na Karkemis gevlug en hulp gesoek by die Egiptenare. Farao Neko het op hierdie hulpgeroep van die Assiriërs gereageer en sy magte na Karkemis gestuur. Later sou die bekende Slag van Karkemis hier plaasvind waar Nebukadneser se magte die Egiptenare verslaan het. Ten einde Karkemis te bereik, moes die Egiptenare by Jerusalem verby marsjeer. Josia het gedink dat die Egiptenare op pad was om Jerusalem aan te val, waarop hy boodskappers na Neko gestuur het om hom te waarsku dat sy magte aangeval sal word deur Josia en sy troepe. Neko het sonder sukses vir Josia probeer oortuig dat sy "visier" nie op Jerusalem "gemik" was nie

Ten spyte van waarskuwings deur God om hom te weerhou daarvan om Neko aan te val, het Josia nogtans voortgegaan en Neko aan te val. Hierdie slag het op die Vlakte van El Megiddo plaasgevind en word vir ons in kort in 2 Kronieke 35:20-27 beskryf ~ Alles wat Josia aan die tempel laat doen het, was afgehandel. Toe het koning Neko van Egipte opgetrek om in Karkemis, aan die Eufraat, te gaan oorlog maak. Josia het teen hom opgetrek, 21en Neko het met boodskappers vir hom laat weet: “Ons het niks teen mekaar nie, koning van Juda! My veldtog is dié keer nie teen jou nie, maar teen ’n vyand. God het gesê ek moet gou maak. Moenie in God se pad kom nie. Hy is by my en Hy sal jou vernietig.” 22Josia het Neko egter nie met rus gelaat nie. Hy het hom vermom met die oog op die geveg en nie geluister na wat Neko op bevel van God self gesê het nie. Hy het vir Neko in die Megiddovlakte gaan aanval. 23Die boogskutters het koning Josia raakgeskiet, en hy het vir sy lyfwagte gesê: “Bring my uit, ek is swaar gewond.” 24Hulle het hom van die strydwa afgehaal, hom op ’n ander wa gesit en hom na Jerusalem toe gebring. Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf. Die hele Juda en Jerusalem het oor Josia getreur. 25Jeremia het ’n treurlied oor Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het oor Josia gesing in hulle treurliedere. Dit word nou nog gedoen, dit het ’n gebruik in Israel geword. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere. 26Die ander verhale oor Josia, sy dade van trou in ooreenstemming met wat in die wet van die Here geskryf staan, 27die verhale van vroeër en dié van later, is opgeteken in Die Boek van die Konings van Israel en Juda.

Die dood van Josia het uiteraard ’n groot inpak op Juda gehad. Die skrywer van Kronieke sê dan ook dat Jeremia ’n treurlied geskryf het en dat die sangers en sangeresse hierdie treurliedere gesing het. Wat egter nog meer van belang is, is die feit dat hierdie liedere opgeneem is in die bundel met die titel "Die Treurliedere" en dit word vandag nog deur die Jode gesing. Josia se dood was nie maar net iets wat spoedig in die vergetelheid verdwyn het nie. Hierdie slag waarin Josia gesterf het, het een van dié belangrikste veldslae in die geskiedenis van Israel geword, soveel so dat sommige hedendaagse historici, wanneer hulle na hierdie slag verwys, praat van Israel se "Waterloo" (vir inligting oor die Slag van Waterloo, sien: http://en.wikipedia.org/wiki/Battle_of_Waterloo).

Wanneer mense praat van ’n volk se "Waterloo" word daar bedoel dat ’n bepaalde nederlaag tydens ’n militêre offensief, net so erg is as wat die nederlaag vir Napoleon en die Franse volk was tydens die Slag van Waterloo. Wanneer Johannes die geveg tussen Rome en Jerusalem beskryf as "Armageddon" kan ons moontlik praat van Jerusalem se "Waterloo". Die Jode van die eerste eeu het verseker geweet van Josia se dood by Armageddon en nou sê God vir hulle dat ’n ander Armageddon op hulle wag! Jerusalem staan op die vooraand van ’n soortgelyke, vernederende nederlaag soos gedurende die dae van Josia.

’n Ander vraag wat ons kan en moet vra is of "Armageddon" in die nabye toekoms lê (vir ons) – of selfs in die verre toekoms? Ons kan onomwonde sê: Nie nou en ook nie later nie! Die Slag van Armageddon was ’n slag wat bykans 2000 jaar gelede plaasgevind het gedurende die Joodse oorlog. Toe dit plaasgevind het, het God die weermagte van die Romeinse Ryk byeen gebring om Jerusalem te vernietig en hierdie feit word tot vandag toe beklaag. Heel belangrikste is egter dat daar géén, hoegenaamd géén, Skriftuurlike bewyse bestaan wat ’n toekomstige Armageddon ondersteun nie en daarom is Armageddon, deel van Israel se geskiedenis.

Sprake en voorspooksels van ’n situasie waartydens die wêreld vernietig gaan word, kom en gaan, maar daar is geen Bybelse onderskrywing of redes vir gelowiges om te glo dat die aarde ooit op "Armageddon-wyse" vernietig sal word nie. Trouens die Here God sê self in Gen.8:21-22 ~ Die Here het die offer aanvaar en Hy het by Homself gesê: “Ek sal nie weer so ’n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie. 22“So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.” Armageddon lê in die verlede en hoef ons nie ’n soortgelyke slagting te vrees nie.

Ook moet ons altyd onthou, dat elke gebeurtenis in die wêreld onder die soewereine beheer van God Almagtig val, Hy regeer die wêreld t.w.v. die Kerk van die Here Jesus. Ja, soms tugtig en kasty Hy; soms verdedig en ondersteun Hy, maar Hy regeer en beheer ten alle tye. Die vyand is niks anders as ’n klein en nietige pion in die hand van God nie – Hy ís die almagtige God en Hy het geen gelyke nie.

Volgende keer kyk ons na die sewende engel wat sy bak in die lug uitgegooi het.