Sunday, October 4, 2015

Die Boek Ester - 02 (“Mans en Vrouens in die Huwelik”)

1.   INLEIDING:
      Ons het verlede week gesien hoe dat koning Ahasveros n banket aangebied het vir al die hooggeplaastes in sy koninkryk en hoe hy gespog het met sy koningskap, sy koninkryk, asook sy rykdom. Hierdie fees het 180 dae lank geduur, waartydens die beste koninklike wyn voortdurend beskikbaar was.

      Na hierdie fees het hy n verdere fees vir sewe dae lank aangebied vir die res van die gemeenskap. Ahasveros se vrou, koninging Vasti het ook in hierdie tyd, n fees vir die vroue aangebied. Ons het ook gesien dat Ahasveros (hy het ook bekend gestaan as Xerxes) se een paleis se hoeksteen, die volgende inskripsie op gehad het: Ek is Ahasveros, die groot koning, die enigste koning, die koning van die ganse wêreld.

      Ek het ook gesê dat ons sekerlik kan aanvaar dat die genooide gaste kon kom en gaan soos hulle wou, want dit is ondenkbaar dat al die uitvoerende- en hooggeplaaste amptenary, n volle 6 maande kon wegbly van die werk. Maar wat van die gasheer? Hy was tog gasheer en hy moes tog sy gaste ontvang ens.? Kom ons lees van Ester 1:10 af verder aan.

2.   SKRIFLESING:
      Ester 1:10-22 ~ Op die sewende dag, toe die koning baie vrolik was van die wyn, het hy sewe paleisbeamptes geroep: Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas. 11Hy het hulle beveel om koningin Vasti, met haar kroon op, na hom toe te laat kom sodat hy vir al die mense, al die hoë amptenare, kon wys hoe mooi sy is. Sy was n baie mooi vrou. 12Koningin Vasti het egter geweier om te kom soos die koning haar deur sy paleisbeamptes beveel het. Toe het die koning baie kwaad geword. Hy was woedend 13en het raad gevra by sy adviseurs wat geweet het hoe en wanneer om op te tree, want dit was gebruiklik dat die koning die kenners van wet en reg sou raadpleeg. 14Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was by die koning. Hulle was die sewe hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het en die hoogste poste in die koninkryk beklee het. 15Hy vra hulle toe: Wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti wat nie gehoorsaam was aan die bevel van die koning deur sy paleisbeamptes nie? 16Toe sê Memukan vir die koning en die hoë amptenare: Koningin Vasti het nie net teen die koning verkeerd opgetree nie, maar ook teen al die hoë amptenaren al die mense in al die provinsies van die koning. 17Haar optrede sal bekend word by al die vrouens en sal daartoe lei dat hulle geen ontsag meer vir hulle mans het nie. Hulle sal sê: Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het nie gekom nie. 18Die vooraanstaande vrouens van Persië en Medië wat van die koningin se optrede gehoor het, sal dit vandag nog aan hulle mans vertel en hulle met minagting behandel. Dit sal die mans woedend maak. 19As u dit goedvind, vaardig n koninklike bevel uit en laat geskryf word in die wette van Persië en Medië, wat nie herroep kan word nie, dat Vasti nie meer voor koning Ahasveros mag verskyn nie en dat hy haar as koningin vervang met iemand wat haar beter sal gedra as sy. 20As die bevel wat die koning uitvaardig, bekend word oor sy uitgestrekte koninkryk sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met eerbied behandel. 21Die koning en sy hoë amptenare het hierdie voorstel goedgevind, en die koning het gedoen wat Memukan gesê het 22en briewe gestuur na al die provinsies, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. Hierin het gestaan dat elke man baas moet wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.
3.   VASTI SE WEIERING:
      Wat gebeur hier? Terwyl Ahasveros aangeklam is, stuur hy sewe van sy paleisbeamptes om sy vrou, koningin Vasti te laat haal. Net interessantheidshalwe, die NAV praat hier van paleisbeamptes, maar hierdie was nie sommer net gewone paleisbemaptes nie, hierdie Hebreeuse woord het ook in die Grieks voorgekom, nl eunoukhos - in Engels eunuch en daarom sal die OAV se hofdienaar meer aanvaarbaar wees. Ons moet egter ook kennis neem van die feit dat hierdie hofdienaars nie maar net gewone hofdienaars was nie. Hierdie hofdienaars se manlikheid is hulle ontneem en daarna baie spesifiek aangestel om die koning se harem (n harem was die vroueafdeling van n Midde-Oosterse paleis) op te pas en te versorg.

      Hierdie sewe hofdienaars of eunogs moes vir Vasti gaan haal, want Ahasveros wou haar skoonheid aan sy gaste ten toon stel - m.a.w. aan al die manne wat saam met hom fees gevier het en waarskynlik dalk ook saam met hom dronk was, moes haar aanskou.

      Hierdie optrede neem iets van n staatsritueel aan, want Vasti ontvang ook opdrag om die koninklike kroon te dra. Vasti word n lewende en wandelende trofee en daarom deel van die koning se trofeë, rykdom en majesteit. n Mens kan maar net wonder of Ahasveros tot so n drastiese en laakbare stap sou oorgaan, as hy nie beskonke was nie.

      Die rede waarom Ahasveros sewe eunogs gestuur het, was waarskynlik om haar in n koninklike draagstoel die banketsaal binne te dra, om sodoende verdere luister aan die koninklike feesvieringe te verleen en dit kon ook bygedra het tot n dramatiese oomblik en om patriotisme en lojaliteit te skep, voor die koning sy generaals opdrag gee om Griekeland te gaan verower.

      Daar word in die geskiedskrywes vertel dat koningin Vasti n onaangename vrou was, maar sy was terselfdertyd n magtige vrou op wie haar man verlief was. Wat gebeur toe die Eunogs by Vasti kom? Sy weier om na die koning te gaan! Waarom het sy geweier? Omdat sy nie bereid was om
   voor n spul besope mans verneder te word nie.
   sy was nie bereid om saam met Ahasveros se rykdom en
besittings vertoon te word nie, want sy was nie maar net nog n n rooi linnedoek, of n spoggerige goue rusbank in die paleis se banketsaal nie en
   sy was nie bereid om as koningin op dieselfde wyse hanteer
te word as die koning se klomp bywywe nie - sy was tog immers die koningin.

      Vasti se weiering lei tot Ahasveros se woede (v.12), want  hy ís darem die koning van bykans die hele wêreld en geen mens durf dit waag om hom teen te gaan nie - nie eens die koningin nie. Weereens kan n mens maar net weer wonder of Ahasveros so kwaad sou word vir sy beeldskone vrou, as hy nie dronk was nie?

      Te midde van die feit dat die koning onder die invloed was, roep hy sy raadgewers nader en vra hulle wat hom te doen staan in die lig van die wet. Hierdie raadgewers was gewoonlik baie goed onderlê in die wette van die land, maar terselfdertyd was hulle ook sterrewiggelaars, m.a.w. hulle was astroloë.

      Memuka, een van die raadgewers, gee hom egter nie raad vanuit die wet nie, maar hy waarsku dat Vasti se optrede verrykende gevolge in die ganse Ryk tot gevolg mag hê.

      Die raad wat Memuka gee, word gegee in die lig van die feit dat Vasti n invloedryke vrou was en dat haar optrede daartoe sou lei dat die vrouens hulle mans met minagting sou hanteer en die mans sou op hulle beurt weer woedend raak vir hul vrouens. Die raadgewers het dus n gees van feminisme in die Ryk gevrees en ook n situasie waar die mans nie meer beheer oor hul huishoudings sou hê nie.

      Dit is interessant om die afgelope klompie jare te kon sien hoe talle vrouens uit Joodse- en Christelike kringe, wat voorstanders van vroueregte en die bevordering van feminisme is, terug gegryp het na die boek Ester ten einde hulle saak te probeer bevorder. Vroueregte en -vrouevryheid is weliswaar belangrike sake, maar die boek Ester gaan hoegenaamd nie primêr daaroor nie en daarom kan n mens nie die boek buite konteks aanhaal en toepas om vroueregte te onderskryf nie.

4.   VASTI SE LOT:
      Die uiteinde van Vasti se weiering om voor die koning en sy gaste te verskyn, was dat sy gewoon net Vasti geword het - gestroop van haar koninklike status en sy sou nooit weer voor die koning mag verskyn nie.

      Die koning was uitgelewer aan sy raadgewers en hy kon nie anders as om uitvoering te gee aan dít wat hulle voorgestel het nie. Hoe anders is dit nie as in ons as gelowiges se geval, waar ons Raadgewer, die Heilige Gees, altyd die waarheid vertel en omdat Hy volgens die wil van die Vader optree sal Hy altyd die regte raad vir ons gee.

      Dit was een ding om Vasti se koninklike status van haar weg te neem, maar dit was n ander ding om n bevel uit te vaardig dat vroue hulle aan hulle mans moes onderwerp, want dit was nie die regte wyse om hul doel te bereik nie, want deur die koning se behandeling teenoor sy vrou, het hy reeds n swak voorbeeld gestel, deur respek te probeer afdwing op iemand anders, eerder as om dit te verdien.

      Hierin lê n les vir ons mans - ja, die vrouens moet hulle onderwerp - nie aan ons nie, maar aan die gesag waarmee God ons as mans beklee het - dit impliseer dus dat ons, ons gesagstatus waardig moet wees en ons kan net ons vrouens se agting en hule onderwerping aan ons ontvang, wanneer ons hulle in die lig van Ef.5:25-30 behandel ~ Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. 28Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, 29want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen 30omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is

      Ahasveros wou dus op andere afdwing wat hyself nie kon regkry nie - Passie het sy sinne verblind. As die koning en sy raadgewers gedink het dat Vasti se optrede verkeerd was, dan was húlle optrede nog meer verkeerd.

6.   TOEPASSING:
       Ons vind twee dinge uit hierdie gebeure in Ester 1:10-22, wat op ons op onsself moet toepas en dit is die gevaar wat opgesluit lê in onbeperkte mag en tweedens, mag en leierskap in veral huweliksverhoudings. Kom ons kyk kortliks na beide hierdie sake:

   Die gevaar van onbeperkte mag: Ons het die afgelope tyd
gepraat oor die owerhede en die gesag wat aan hulle deur God gegee is, maar die probleem is dat talle van hulle misbruik maak van daardie gesag en mag. Ons sien dit gedurig rondom ons - daar gaan bykans nie n nuusberig verby waarin daar nie gerapporteer word oor hierdie of daardie gesagsfiguur wat vasgetrek is vir bedrog nie - dit is iets wat aan die orde van die dag is - dit is niks anders as misbruik maak en uitbuiting van n gesgsposisie waarin hulle geplaas is nie.

      Misbruik maak van gesag gaan egter veel verder as bloot net selfverryking. n Mens kry allerlei politieke en militêre vergrype. Waarksynlik die bekendste figuur wat hierdie vergrype versinnebeeld is dié van Hitler wat nagenoeg sesmiljoen Jode om die lewe laat bring het. Dink aan Josef Stalin van Rusland; president Marcos van die Filippyne; Noriega van Panama; Khomeini van Iran; Pol Pot van Kambodja; Idi Amin van Uganda en so kan ons aangaan. Die heel naaste despoot aan ons wat absolute misbruik maak van sy onbeperkte mag is ons buurman Robert Mugabe.

      Ons vind hierdie situasie selfs in die Christelike Kerk vandag. Dink aan die talle priesters in die R.K.K. wat beskuldig word van kindermolestering. Dink aan leiers in Protestantse Kerk wat misbruik gemaak het van hulle mag - so iemand is bv. n man met die naam van Jim Jones. Onder Jones se invloed en misleiding het meer as 900 lidmate (of sal ons eerder sê, volgelinge) op 18 November 1978 in Jonestown, Guyana, selfmoord gepleeg. Jones het o.a. vir sy volgelinge gesê dat die owerhede nie tevrede is met hul lewensstyl nie en indien hulle die aanslag van die owerhede wil ontduik moet hulle, hul lojaliteit aan hom bewys deur gif te drink (baba
tjies en jong kinders moes eerste die sianied-drankie gedrink het).

      Die Bybel is ook vol van soortgelyke gevalle waar gesagsfigure misbruik gemaak het van hulle gesag - dink bv. aan die bekendste Ou Testamentiese koning, nl koning Dawid - hy het sy magte as koning misbruik ten einde sy begeerte na n ander man se vrou te bevredig. Selfs van die dissipels het hierdie sug na mag gehad - dink aan Jakobus en Johannes wat vir Jesus gevra het ~ Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra. 36Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? het Hy hulle gevra. 37Hulle het Hom geantwoord: Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand (Mark.10:35-45 - sien ook: Matt.20:25-28 enLuk.22:24-30).

      Die geskiedenis toon aan ons dat mag in mense se hande, baie maklik omsit in onbeheerde mag - mag wat vir persoonlke doeleindes aangewend word - absolute mag wat lei tot allerlei vorme van korrupsie. Daarom kan ons met sekerheid sê dat slegs n koning met n volmaakte karakter, waardig is om algehele en onbeperkte mag te ontvang en ook net só n Koning is waardig genoeg om blindelings na gevolg te word. Dit is daarom dat Jesus Christus, die ewige Koning is; die alomteenwoordige Koning; die heilige Koning en daarom is Hy wat die Outeur van die boek Ester is, alleen waardig om absolute mag te kan ontvang, omdat net Hy dit met en in morele volmaaktheid kan hanteer.

      Die Nuwe Testament leer ons dat Jesus, die Seun van God, gekroon is as Koning van alle konings en net aan Hom is heerskappy oor alle wêreldse magte en skepsele gegee ~ Toe neem die duiwel Hom na n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid. 10Maar Jesus sê vir hom: Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien (Matt.4:8-10).

      Koning Jesus veroordeel dié tipe leierskap soos wat in Ahasveros se regeringstyd geheers het en vandag nogsteeds aangetref word en daarom word die verlossing van die volk Israel gedurende die Persiese tydperk geskets teen die agtergrond van n tipe leierskap wat God veroordeel.

      Die tipe leierskap wat Christus van ons verwag tref ons in Joh.13 aan waar Jesus vir alle leiers en alle mense die voorbeeld stel van heilige mag en -leierskap, wanneer Hy die voete van Sy dissipels was - n voorbeeld van nederigheid en diensbaarheid, waar dit nooit gaan om eie belang nie. Hierdie Koningskap wat Jesus gekenmerk het, het Hy deurgaans gehandhaaf tot en met Sy kruisiging, waar Hy Sy kinders gedien het deur soos n misdadiger aan n kruis gespyker te word - die laagste en verskiklikste vorm van straf en dood in daardie dae en dit alles ter wille daarvan om Sy onderdane (Sy kinders) vry te koop - te bevry van die tiranie van die satan ~ Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Fil.2:5-8).

   Leierskap in die Huwelik: Omdat die skrywer van Ester die
voorbeeld van n man en vrou gebruik, is dit toepaslik om die hele saak onder die loep te neem.

      Beide Ester 1:12-22 en Ef.5:21-33 bespreek die respek wat n vrou vir haar man moet hê en Ef.5 spreek dan spesifiek die Christenvrou aan. Die kerngedeelte in Ef.5 vind ons in v.21, nl. ~ Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Kom ons lees egter die res van hierdie gedeelte met aandag ~  Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. 23Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. 24Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.

      Die vrouens mag nog moontlik sê dat ek en Paulus op hulle pik en aan die mans n vrypas gee om teenoor hul vrouens op te tree soos Ahasevros teenoor Vasti opgetree het, maar daar rus n nóg groter verantwoordelikheid op die skouers van die mans - kom ons lees verder in Ef.5 vanaf v.25 en kyk wat sê Paulus, wat van die man verwag word ~ Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. 28Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, 29want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen 30omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is. 31Daar staan in die Skrif: Daarom sal n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees. 32Hierin lê daar n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. 33Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

      In Ester 1 word respek van die Persiese vrouens vereis d.m.v. n koninklike dekreet of wet, maar die Efesiërs 5-vrou se respek vloei voort uit n natuurlike reaksie op haar man se liefde vir sy vrou, soos wat Christus die Kerk lief het en Homself neergelê het vir Sy Bruid.

      Beide vrou en man moet mekaar dien en respekteer soos n dienskneg sy meetser en hierdie wedersydse respek word vir ons gemodelleer deur die Dienskneg Jesus Christus. Ons vind hierdie selfde wederkerige optrede in 1 Pet.2:13-14 en 3:1-2 en 7. 2:13-14 ~ Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is 14of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys - 1 Pet.3:1-2 ~ Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om n woord te sê nie en v.7 ~ Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

      Ons sien dus hier, dat die vrou haar moet onderwerp aan haar man, MAAR terseldertyd sien ons dat die man sy vrou moet liefhê soos wat Christus die Kerk liefhet - en hoe het Christus die Kerk lief? Hy het Sy lewe neergelê vir Sy Bruid en daarom moet ons as mans ook diensknegte wees teenoor ons vroue - nie n Baas-Klaas-situsie nie, maar uit liefde tree ons as die leiers en gesagsdraers op deur ons vrouens ook te dien EN vrouens mag nie misbruik maak van die man se diensknegskap nie, maar hom respekteer en waardeer en liefhê daarvoor.

      Net so tussen hakies, maar net so belangrik: As die man die vrou nie werklik lief het soos Christus die Kerk nie, impliseer dit nié dat die vrou nou haar onderwerping maar onder die mat kan invee en die man al sy dae gee nie - nee, sy moet nogsteeds gehoorsaam wees aan die opdrag in die Woord om haar te onderwerp aan hom - sy moet nogsteeds ’n Christusgesindheid teenoor haar man openbaar. En, indien die vrou haar steeds nie aan die man kan onderwerp nie, ontvang hy nie ’n vrypas om nié sy vrou lief te hê nie - nee, hy moet haar steeds liefhê soos Christus die Kerk - daar is natuurlik perke aan beide kante en indien die ander party volhard in haar disrespek of hy volhard in sy miskenning en “nie-liefhê” van sy vrou nie, moet daar opgetree word (Matt.18 bv.)

      Hoe anders moet die houding en gesindheid en optrede van die man in ons tyd nie wees nie, maar talle en talle mans tree vandag nog op asof hulle een van Ahasvers se raadgewers is - asof hulle die despoot van die Persiese koninkryk self is.

(Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Drie Riviere Baptiste Kerk op 04 Oktober 2015)