Sunday, January 29, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 03 (Die Gemeente in Pergamum)

1.         INLEIDING:
Ons het met die vorige twee gemeentes in Openb.2 gesien, dat daar ’n algemene patroon in die struktuur van elk van die sewe briewe in Openb.2 en 3 voorkom:
·           Elke brief is deur Christus aan ’n spesifieke gemeente gerig.
·           Elke brief stel die Hoof van die plaaslike gemeente (Christus Jesus) voor as ’n spesifieke karakter, of beeld.
·           Elke brief onthul ondubbelsinnig dat Christus oor volkome kennis beskik t.o.v. die toestand van daardie spesifieke gemeente.
·           Met die uitsondering van een gemeente, ontvang elke gemeente een of meer lofuitinge of aanprysinge.
·           Met die uitsondering van twee gemeentes, ontvang elke gemeente kritiek of een of meer bestraffinge oor een of meer situasie(s) wat in die gemeente bestaan.
·           Elke gemeente ontvang ten minste ’n vermaning en daarmee saam gee Christus raad aan hulle.
·           Elke gemeente ontvang een of ander belofte t.o.v. getrouheid.

Die briewebesteller wat die sewe briewe uitgedra het, waarmee ons in Openbaring 2 en 3 te doen kry, het nou sy reis wat by die hawestad Milete begin het, oor land verder hervat en hy het noordwaarts gereis om sy derde brief aan die herder van die plaaslike gemeente te gaan oorhandig. -


2.      DIE GEMEENTE IN PERGAMUM (2:12-17):
·                Die Geadresseerde Gemeente: 
Openb.2:12 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum, of soos in die O.A.V. genoem, Pérgamus.  Die toestand in Pergamum was heeltemal anders as in die vorige twee stede waar die briewebesteller reeds aangedoen het, nl. Efese en Smirna. Pergamum was die Romeinse hoofstad in
-
Klein-Asië. Dit was ook gesien as ’n akademiese stad, wat beskik het oor ’n baie groot biblioteek. Ongelukkig was hierdie ook ’n stad wat bekend gestaan het as die setel van paganistiese (of heidense) aanbidding. Die god van genesing is o.a. hier aanbid (slang wat gevleg is om staf = Mediese Vereniging van S.A. se embleem, asook die S.A. Militêre Gesondheidsdienste – die S.A.W. Mediesekorps). Keiseraanbidding was ook sterk aan die orde van die dag. Hierdie was dan ook die eerste stad in Asië wat ’n tempel ter ere van die keiser (Caesar) opgerig het.

·                    Die Beeld van Christus:
Openb.2:12b ~ So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het. Die Here Jesus identifiseer Homself hier op ’n baie eienaardige wyse – ’n tweesnydende swaard, of ’n dodelike swaard! Net by die aanhoor van hierdie bekendstelling van Christus klink dit asof hier slegte nuus of minder goeie kommentaar, aan die kom is en ’n mens kan maar net wonder of  hier ’n oordeel uitgespreek gaan word. Ek dink dat ons ’n aanduiding kry van wat aan die kom is, deur die besonderse beskrywing van hierdie swaard.

Ons sien in Openb.1:16 dat hierdie swaard uit Christus se mond kom ~ In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ’n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom.  Hierdie swaard het dus beslis iets te doen met wat gesê gaan word in hierdie brief. Die swaard in hierdie geval, is dus Christus se kragtige Woord soos beskryf in Ef.6:17 ~ Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God

Waarskynlik ’n nóg beter beskrywing van die Woord van God, vind ons in Hebr.4:12 ~ Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.  Ook 2Kor.10:4-5 ~ Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5 en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. Hierdie swaard is dus baie, baie skerp – meer nog: dit het twee sulke skerp kante – dit spreek dus van verwoestende onoorwinlikheid! Soos wat Jes.55:11 tereg ook sê ~ So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. Ons sien dus dat hierdie swaard se eenkant, oortuig van sonde en die anderkant verskaf vrede; die eenkant verskeur die sluier wat ons sonde vir onsself bedek; terwyl die anderkant verskeur die sluier wat Christus vir ons verberg, sodat ons Hom kan sien; die eenkant verwond die siel; die ander vestig ons aandag op die Groot Geneesheer en laat die helende balsem oor ons verwonde siele spoel.

Die feit dat hier in die enkelvoud gepraat word (die skerp  swaard), dui daarop dat daar net een gesaghebbende swaard is – net die Woord van God is dus gesaghebbend. Alle ander geskrifte is dus nié deur God geïnspireer nie.

·           Christus se Aanprysing:

As ons verder na hierdie gemeentebrief kyk en dan spesifiek onder die opskrif, "Christus se aanprysing", sien ons dat die adres op die koevert van hierdie brief dus ewe maklik as volg kon gelees het: Aan die gemeente van Christus, naas die troon van die satan, Pergamum. Uit hierdie vers blyk dit duidelik, dat Christus in hierdie vers te kenne gee dat Hy minstens twee dinge van hierdie gemeente weet:
-        Hy weet presies waar hierdie gemeente geleë is en hoe die omgewing, die mense en die geestelike klimaat van die stad daaruit sien. Dit mag dalk vir ons vreemd voorkom dat Satan oor aardse trone beskik, maar ons moet in gedagte hou dat hy die god van hierdie wêreld is en in hierdie koninkryk van hom, het hy baie onderdane. Onder hierdie onderdane is daar soveel wat so fanaties lojaal is aan hom, dat hulle enige iets sal doen om sy plan ten uitvoer te bring. Die plek waar sulke mense saamgevoeg word – of dit nou in besighede is, of sosiale klubs, casino’s, bordele, bendes, terroristegroepe, of waar ook al; dáár is Satan se troon. Enige groepering van mense wat ’n bose oogmerk het, kwalifiseer om ’n vesting vir die satan te wees.

Dit is egter die twee praktyke van afgodery wat ons reeds genoem het (die aanbidding van die god van genesing en die keiserlike aanbidding), wat hierdie stad by uitstek laat kwalifiseer het as ’n vesting of troonkamer vir die satan, want dit is beide mens (die keiser) en die satan (slang as simbool van satan) wat hier aanbid is. ’n Meer dodelike kombinasie van aanbidding (mens en satan), kan daar nie wees nie. Dit is dan spesifiek hierdie twee vorme van afgodery wat Pergamum uitnemend laat kwalifiseer as “troon van Satan”.

Christus het geweet dat hierdie afgodsentrum uiters korrup kan inwerk op die inwoners van die stad, maar ook op die gelowiges in Pergamum. En op grond daarvan kom Christus en Hy prys die gemeente aan vir die feit dat hulle, hulself daarvan weerhou om deel uit te maak van hierdie bose aktiwiteite. Deur hierdie situasie kan ons ook leer dat ons geen verskoning het om kompromie te maak met ons geloof en ons oortuigings wat gegrond is op die Woord, wanneer ons in ’n omgewing beweeg, vakansie hou, werk ens., waar mense besig is met goddelose praktyke nie – ons moet, soos die gemeente in Pergamum,  getrou bly aan die Naam van Jesus Christus en nie ons geloof in Hom, afsweer nie....

-        Tweedens is Christus baie deeglik bewus van die gemeente se standvastigheid ten spyte van fel vervolging teen hulle. ’n Gemeente wat getrou bly aan hulle roeping en gehoorsaamheid aan God gaan noodwendig die spot en die hoon en die vervolging van die wêreld ervaar – veral ’n wêreld waar afgodery baie sterk aangehang word. Christus prys hierdie gemeente juis vir die feit dat hulle te midde van geweldige vervolging, steeds “die pad loop”. As voorbeeld van hulle gehoorsaamheid, maar ook waardeur hulle gaan, en die prys wat hulle daarvoor betaal, word Antipas (waarskynlik ’n getroue lidmaat) as voorbeeld genoem wat gesterf het vir sy geloof en oortuigings en getuienis. Die gemeente in Pergamum het voorwaar aanprysing nodig gehad, maar ook verdien.

·           Christus se Bestraffing:
Openb.2:14-15 ~ Maar Ek het ’n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat
hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. 15 So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen.

Alhoewel Christus die gemeente aangeprys het, was hulle nogtans skuldig aan ’n paar dinge. En al was dit net ’n paar dinge, was dit nogtans ernstige oortredings. Eerstens het hulle mank gegaan onder ’n gebrek aan leerstellige (of dogmatiese) onderskeiding en tweedens was hulle laks in die toepassing van die tug in hulle midde.

Wanneer ons oppervlakkig na verse 14 en 15 kyk, kan dit lyk asof daar twee teologiese of dogmatiese strominge in die gemeente toegelaat is – dié van die Bileamiete en dié van die Nikolaïete. Die taalkonstruksie van die verse laat dit egter lyk asof dit twee verskillende groeperinge is wat hul stempel afgedruk het op die gemeente, maar as ons die verse parafraseer, sal dit waarskynlik help om die betekenis van die oënskynlik twee groepe, beter te verstaan – Dit is omdat julle verdraagsaam is t.o.v. die leer van Bileam, dat julle die Nikolaïete in julle midde verduur.   Die gedagte van hierdie verse kan dus óf histories, óf kontemporêr geïnterpreteer word. Histories:  Daar bestaan ’n genetiese identiteit tussen die dwaalleer van Bileam en dié van die Nikolaïete – beide behoort dus tot presies dieselfde soort dwaalleer.

Wat dit egter ook kan beteken is, kontemporêr geïnterpreteer, dat die een dwaalleer so sterk is, dat as jy eers daarvoor “geval” het, die ander een nie weerstaan kan word nie.  In wese beteken hierdie twee benaderings egter op die ou einde presies dieselfde ding.

Wat was die leer van Bileam dan? Tyd ontbreek ongelukkig om in detail daarop in te gaan, maar u kan gerus Num.22-25 gaan lees om meer te wete te kom van die bediening van hierdie eienaardige profeet. In kort kan ons egter sê dat die aangrensende Moabiete, die Israeliete gevrees het, waarop koning Balak van Moab die profeet Bileam in diens geneem het om vloeke oor Israel uit te spreek, ten einde die Israelitiese weermag te verswak ens. God het egter nie toegelaat dat Bileam se vloeke enige effek het nie, trouens Hy dwing Bileam om Israel elke keer te seën wanneer hy veronderstel was om hulle te vervloek. Bileam het egter teen betaling voortgegaan en meegehelp om Israel se sedes só te ondermyn, dat hulle die gramskap van God op die hals gehaal het en hulle uiteindelik tog tot ’n val gekom het.

In kort kom die leer van Bileam dus daarop neer, dat die aanhangers van Bileam so mislei word dat hulle sondig, deurdat hulle vrees vir en skuld oor sonde en die gepaardgaande straf daarop, net verdwyn en hulle geestelike groei derhalwe belemmer word. Dit opsigself lei dus logieserwys tot verdere sonde, wat selfs afgodediens en seksuele immoraliteit ingesluit het.

Wanneer ons na Christus se aanprysing kyk en dit vergelyk met wat so pas gesê is t.o.v. die leer van Bileam, dan maak dit amper nie sin nie, want sekerlik moes die “Pergamiete” tog die verskil gesien het as hulle so sterk gestaan het wat hul leer en lewe betref. Die probleem is egter dat hierdie leer van Bileam só subtiel was dat dit baie moeilik onderskei kon word.  Hoe het dit gebeur?  Die teologiese benadering van die leerstellinge van Bileam was om Goddelike genade teenoor die mens se verantwoordelikheid te verabsoluteer, m.a.w. daar is geleer dat wanneer jy ’n kind van die verbond is, jy genoegsaam geïsoleer word teen sonde en enige vorm van boosheid. Genade immuniseer dus die gelowige teen die skadelike effekte van  allerlei sondige plesiere.

Gelowiges, so het die Bileamiete geleer, is vry om die lewe te geniet saam met hulle goddelose bure, terwyl en solank hulle onder die verbond staan. As sout en lig is gelowiges in elk geval verplig om ten volle betrokke te wees by die wêreld, want sout raak nooit laf as dit op vleis ingevryf word nie. Wat meer is, so het hulle geredeneer, diegene wat gereeld betrokke is by wêreldse aktiwiteite, bekom meer en meer kennis en bekwaamhede om mense in die wêreld te help. Dít is in kort wat die teologie van Bileam gekenmerk het.

Alhoewel dit nie wil voorkom asof die meerderheid van die  lidmate van Pergamum self skuldig gestaan het wat hierdie misleiding aan betref nie, was hulle té genadig jeens ander lidmate en mense in die omgewing wat wel skuldig was aan die aanhang van hierdie leer. Die gemeente was dus skuldig t.o.v. die tug. Dalk was ’n gejaag na meer lidmate, of verdraagsaamheid t.w.v. vrede en ’n strewe na eenheid; of ’n skeefgetrekte en onbybelse siening van die liefde, van die redes vir hierdie “blindeoog-gesindheid”, of kompromie van die gemeente. 

U mag dalk wonder of die aanprysing wat die gemeente ontvang het, nie genegeer of weerspreek word deur die kritiek van Christus nie, want hoe is dit moontlik dat ’n gemeente aan die eenkant fel gekant kan wees teen heidense aanbidding, maar terselfdertyd kompromie maak wat haar leer en dissipline aan betref? Die kort en die lank daarvan is dat dit baie dikwels baie maklik is om die ooglopende en ernstige sondes te weerstaan, maar die subtiele beïnvloeding en/of leer van vooraanstaande lidmate is nie altyd so maklik onderskeibaar nie en is ook nie altyd so maklik om te onderdruk nie – en dít was die probleem in die gemeente in Pergamum.

·           Christus se Raad:
Openb.2:16 ~ Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond. Christus waarsku die gemeente om hulle te bekeer en die regte te doen, m.a.w. dit was nodig dat hulle, hul teologie en dissipline moes uitsorteer. Indien hulle dit nie doen nie, sal Hy toetree met vinnige en ongenaakbare oordeel. Dit is belangrik om daarop te let dat Christus nie dreig om die gemeente in geheel te oordeel nie, maar slegs daardie mense in die gemeente wat skuldig is aan kompromie en sonde. Daar is dus geen wegkruipplek of wegkomkans vir die skuldiges nie. Die oordeel sal gefel word deur die swaard van Christus se mond – dit is Sy Woord! Die patroon regdeur die Woord, is dus eers ’n Profetiese oordeel wat uitgereik word en dadelik opgevolg word met fisiese straf wat baie dikwels baie subtiel uitgevoer word. Die Korintiërgemeente is hier ’n sprekende voorbeeld van hierdie optrede van die Swaard van Christus se mond ~ ...want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. 30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie (1Kor.11:29-32).

·           Christus se Belofte:
Openb.2:17 ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom ’n wit steentjie gee met ’n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry. Na die kras waarskuwing wat die gemeente ontvang, is daar ’n boodskap van sekuriteit en opbou van geloofsvertroue – ’n belofte van Christus. Hierdie boodskap vir die oorwinnaars sluit die verborge manna in, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe geheime naam wat net bekend is aan die eienaar van die steentjie.

Hierdie verborge manna wys terug na die manna wat binne in die verbondsark was (Eks.16:32-34 ~ Moses het ook nog gesê: “Die Here het beveel: ’n Volle twee liter manna moet vir die nageslag bewaar word sodat hulle die kos kan sien wat Ek julle in die woestyn gegee het nadat Ek julle uit Egipte bevry het....” 

Hierdie manna in die Ark het weer heengewys na Christus Jesus in Sy volheid. In hierdie lewe kan ons Christus as die ideale manna – die Brood van die Lewe, ervaar (Joh.6:33,35). Sonde het egter tot gevolg dat ons nie Christus in Sy volheid kan ervaar en geniet nie.  In die hiernamaals sal ons Christus egter in Sy volmaakte volheid ervaar, maar vir diegene buite Christus, is hierdie manna in hierdie lewe en soveel te meer in die hiernamaals, verborge en buite bereik. 

Die wit steentjie getuig van onverganklike en ewige seën.  Die kleur van die steen (wit) dui op reinheid – die reinheid van elke gelowige se ewige saligheid. 

Die naam op die steen dui op ewige en Goddelike eienaarskap van elke gelowige individu. God se uitverkorenes is dus uitgesonderde en spesiale mense. Die eindelose en veeltalligheid van die hiernamaals sal nie die uniekheid van elke individuele gelowige ondermyn nie en sal derhalwe nie afbreuk doen aan die kwaliteit en belangrikheid van elke individu nie – elkeen sal dus maksimale en ewige heerlikheid ontvang.

Die nuutheid van elke naam herinner aan Jes.62:2-3 ~ Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het. Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir jou gekies het. 3 Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ’n koninklike tulband vashou. Hierdie nuwe naam dui op onbeskryflike heerlikheid en ervaring en voorreg wat ons in die hiernamaals sal ervaar,  wat ongekend is in vergelyking met dit wat ons nou hier op aarde ervaar – en dit sal nooit terug getrek kan word nie! 

Die feit dat hierdie nuwe naam net aan die eienaar daarvan bekend sal wees dui op die unieke ervaring wat elke individu van die heerlikheid sal ervaar en niemand anders sal weet hoe hy dit ervaar nie.

3.    AFSLUITING:
Ons moet besef dat die satan – ja, ek moet sekerlik eers sê dat die satan waarlik bestaan, al leer die liberale  teoloë ("Nuwe Hervormers") dat daar geen duiwel is nie, en dat hierdie selfde satan waarvan die Bybel vol is, ook ’n vervolger van gelowiges is (Openb.2:13), asook ’n misleier (Openb.2.14-15) en hy is daarop uit om ons te laat vervolg en te laat dood en daarom moet ons bid – bid vir mekaar en vir onsself, dat ons staande sal bly en geliefdes moet nié die vyand onderskat nie – hy is subtiel, uiters subtiel en as jy nie pasop nie, is jy kort voor lank vasgewikkel in sy web. Genadiglik weet ons en word ons vertroos en bemoedig vanuit Hand.4:12 ~ Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.

Wanneer ons so luister na die leer van die Nikolaïete en die Bileamiete, dan is dit ’n waarskuwing wat tot ons gerig word om nie toe te gee aan ’n gees van traak-my-nie-agtigheid, of sogenaamde vryheid en immoraliteit nie, want 1Pet.1:15-16 leer ons dat ons, net... soos Hy wat (ons) geroep het, heilig is, (ons) ook in (ons) hele lewenswandel heilig (moet) wees. 16Daar staan immers geskrywe: Wees heilig, want Ek is heilig. ’n Heilige lewe is nie ’n opsionele ekstra in die gelowige se lewe nie; dit is ’n verpligting; ’n voorwaarde. Dit is die einddoel wat elkeen van ons moet najaag – elke dag van ons lewe en daarom moet ons gedissiplineerde lewens lei en as mense ons uitskel dat ons outyds is; of fundamentalisties is – hoor die stem van satan agter sulke uitroepe!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 29 Januarie 2012