Tuesday, April 27, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 25 April 2010

Keerpunte in Christus se Aardse Lewe - 03 (Sy Versoeking in die Wildernis - 02) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons het verlede week begin kyk na Jesus se versoeking en ons het o.a. gesien dat Jesus die wildernis ingelei is deur die Heilige Gees – ’n wildernis waar Hy geweldige eensaamheid ervaar het en van God verlate gevoel het – erger as wat Adam, of die Israeliete of ons ooit sou kon ervaar – daarom, het ons gesien dat Jesus met elkeen van ons kan identifiseer in ons “wildernis-ervarings”. Blaai nou saam met my na Matt.4:1-11.

2. SKRIFLESING:
Matt.4:1-11 ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn [die Grieks hier is erhmoV (eremos), wat eerder vertaal moet word met woesteny of wildernis] in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. 3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” 4 Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” 5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” 7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” 8 Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9 en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” 10 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” 11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

3. DIE VERSOEKER:
Jesus was die wildernis ingelei deur die Gees om deur Satan versoek te word. Eerstens moet ons vir mekaar vra hoe Matteus geweet het wat daar in die wildernis gebeur het? Hy was tog nie daar nie. Niemand was daar nie, behalwe Jesus self en die duiwel. Daar kan dus net een moontlike Bron vir hierdie gebeure wees – ek glo nie Matteus het dit by die duiwel gehoor nie. Jesus moes Sy dissipels dus hiervan vertel het. En hierdie is ’n belangrike punt, want hierdie is nie ’n waarnemer se weergawe nie, maar Jesus wat self vertel wat Hy daar in die wildernis ervaar het. Hy wou dat Sy dissipels eerstehands hoor en ervaar wat Hy daar deurgemaak het en dat Satan, die Versoeker, met Hom daar was en dat Sy lyding en Sy versoekings, direk van Satan gekom het.

Nie een van ons hoor die Satan ooit direk met ons praat wanneer hy ons versoek nie, want as dit die geval was, sou dit veel makliker gewees het om hom te weerstaan. Nee, dit is nie hoe Satan dit doen nie. Wanneer ek versoek word, is dit elke keer iets wat vanuit my eie binneste kom – dit is my eie gedagtes. Die kere wat ek versoek is, het ek nie eers daaraan gedink dat die Satan aan die werk was nie. Daar is tye dat ons vol pyn is; of hartseer is; of eensaam is, maar elke keer was dit my eie gedagtes; my eie vlees, wat ingegee het en toegee het aan die versoekings. En die ironie is dat baie van die dinge waaraan ons toegee, nie altyd eers boos lyk nie - trouens dit lyk so natuurlik en dit lyk reg, want my gevoelens en emosies sê vir my dat ek net eenvoudig sus of so moet optree. Die Satan sê nooit vir ons dat ons boos moet reageer of optree nie. Hy sê ook nie vir ons wanneer hy bose gedagtes in ons plant nie – dit is hoe hy werk, want hy is ’n leuenaar – trouens, hy ís die vader van die leuen (Joh.8:44); hy ís ’n misleier (2Joh.7).

Ons lees hier in Matteus, dat die Satan met Jesus gepraat het, maar ons moet nie maar sommer net aanvaar dat Jesus op daardie stadium besef het dat dit Satan is nie, want ons moet onthou dat Jesus volkome mens was – natuurlik sonder sonde, maar ons kan ’n sterk saak daarvoor uitmaak dat Hy ook nié Satan se stem gehoor het nie en dat Hy ook nié besef het dat dit Satan is wat Hom versoek het nie – later ja, toe Hy met Sy dissipels daaroor gepraat het, het Hy geweet dat dit Satan was en kon Hy vir hulle sê dat dit die satan was wat Sy gedagtes gevul het my bose versoekings – en ja, reg aan die einde van die veertig dae tydperk het Jesus geweet dat dit Satan was, daarom dat Hy in v.10 gesê het ~ Gaan weg, Satan.... En nadat Jesus dit gesê het, het Satan geweet dat hy die geveg verloor het, maar tot en met daardie punt het Satan gehoop dat hy Jesus kon versoek.

Adam en Eva het ook nie besef dat dit die Satan was wat hulle versoek het nie – totdat dit te laat was. Paulus waarsku ons ook dat die satan homself voordoen as ’n engel van die lig (2Kor.11:14) – hy doen hom nie self voor as ’n engel uit die hel nie – hy mislei ons, deur ons wys te maak dat wat hy voorstel, God se wil is. Dit is waarom dit so ontsettend belangrik is dat ons sal leer om Satan se versoekings te onderskei – om te weet wanneer dit hý is en wanneer nie, want hy is só subtiel; hy is só agterbaks en skelm en hy weet presies wanneer dit die “verkeerde tyd” is om ons aan te val. Hy weet wanneer ons in die “wildernis” is. Hy weet wanneer ons op ons swakste is. Hy weet wanneer ons die mees kwesbaarste is. Hy weet wanneer ons op ons moegste is. Hy weet wanneer ons emosioneel “omge-ellie” is. Dit is dán dat hy sy aanslae op ons loods, want dít is die tyd dat ons die mees vatbaarste is – wanneer ons nie nugter kan dink nie; wanneer ons nie die wil en krag en energie het om terug te veg nie.

4. DIE VERSOEKINGS:
Kom ons kyk dan nou na hierdie versoekings waardeur Jesus gegaan het. Ons het gepraat oor die plek waar Jesus versoek is – die wildernis. Ons het gekyk na die versoeker, nl. die Satan. Derdens dan, die versoekings.

Jesus het drie versoekings daar in die wildernis beleef (vandag net die eerste twee):
· Eerstens het die Satan, Jesus deur fisiese begeerte versoek. Die Gees van God dryf Jesus in ’n plek in waar daar geen kos was nie – en Jesus het honger geword. En die dae het verby gegaan en steeds was daar nie kos nie. En Jesus het nog meer honger geword. Wanneer ’n mens honger is, is dit baie moeilik om aan enige iets anders te dink as kos en nogmaals kos. Jesus het al swakker geword en na veertig dae is daar steeds geen kos nie en as daar nie spoedig kos kom nie, sal Jesus sterf. En dan skielik skiet ’n gedagte Hom te binne – die klippe!

Hy kan nog die stem hoor wat Hy by die Jordaan gehoor het, toe Hy gedoop is ~ ...Jy is my geliefde Seun (Matt.3:17). En skielik is die vraag daar in Sy gemoed: Indien Ek die Seun van God is, waarom kry Ek so swaar? As ek die Seun van God is, kan ek tog sekerlik vir daardie klippe sê om brood te word en dan kan ek eet en My hongerpyne stil en weer My kragte herwin! En die oomblik toe daardie gedagtes Hom te binne skiet, kon Hy aan niks anders dink nie, want dit klink tog na so ’n redelike en logiese ding om te doen. En hierdie gedagte moes in Sy kop gemaal het, want as Hy die Seun van die Almagtige God is, moes Sy Vader tog vir Hom die krag gegee het om dit te kan doen en as God Sy Vader is, sal God tog nie wil hê dat Hy moet sterf nie! Tewens, Jesus kon ewe maklik gedink het: Dit is tog my verantwoordelikheid om hier in die woestyn aan die lewe te bly, want Ek het nog ’n groter roeping wat op My wag en as Ek hier sterf, sal ek nie My Groot Opdrag kan uitvoer nie! En natuurlik wou Jesus Sy roeping vervul – maar Hy is honger!

Dit is baie belangrik om daarop te let dat Jesus se begeerte hier inherent goed was – daar is tog niks verkeerd met brood nie! Daar is niks fout te vind met iemand wat sy hongerpyne wil stil nie. Omdat Jesus volmaakte mens sonder sonde was, kon Hy dus nie versoek word deur iets wat op sigself boos was nie. Indien die duiwel sou kom met iets wat op sigself boos was, sou daar geen versoeking gewees het nie. Jesus kon egter versoek word deur iets wat goed was, maar op ’n tyd, of plek wat nie deur God in Sy soewereiniteit, goedgekeur was nie. Ons sal dit met elkeen van die versoekings sien – Satan wat Jesus se oënskynlike sober begeertes na dinge wat op sigself goed is, uitbuit.

Jesus is honger en Hy kry die idee om Sy hongerpyne te stil, maar dit was nie God se manier nie. Onthou, Jesus het gekies om gedoop te word. Hy het gekies om saam met sondaars daar in die doopwater te staan en te deel en te identifiseer met die vloek wat op ons rus. En wat was die vloek? Gen.3:17-19 ~ ...die aarde (is) deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word. Dit is waarom die Gees, Jesus na die wildernis gelei het – na die plek van dorings en distels. Jesus moes ook ervaar wat ander mense wat onder die vloek leef, ervaar in en deur hulle lewe. Hy moes ook behoeftes en honger beleef het, want Hy het Homself met ons vereenselwig – ons wat met sweet in ons aangesig, ons brood moet verdien. Wat sou dit beteken het, as Jesus die klippe in brood verander het? Dit sou impliseer dat Hy nie meer verder gewillig sou wees om te deel in ons vloek nie – in ons swaarkry nie. Die mens moet werk vir sy brood, maar Jesus kry Sy brood deur Sy Goddelike krag – Hy sou dus die vloek m.b.v. ’n wonderwerk gesystap het. Was dit die rede waarom die Vader, Jesus gesalf het met die Gees? Nee, Hy het die Gees ontvang sodat Hy die Goeie Nuus aan die armes (armes van gees) kon preek – nie om die pyn van die vloek te kon vryspring nie.

Die Vader se plan was dat Jesus die gevolge van die vloek, ten volle moes ervaar en Hy sou die vloek nie deur wonderwerkende krag vryspring nie, maar deur volkome swak te word en natuurlik, deur uiteindelik te ly en te sterf op Golgota en drie dae later op te staan en sodoende die vloek te oorwin – nie om dit te ontvlug nie. Dit was dus nie die Vader se wil dat Hy klippe in brode moes verander nie.

Wie het dan die suggestie in Jesus se gedagtes geplaas? Wie het hierdie vrae en begeertes in Jesus se gemoed opgeklits? Matteus sê vir ons dat dit die duiwel was. Satan het Jesus se desperate hongerpyne misbruik om Hom te versoek en weg te lei van God se wil vir Sy lewe.

Pastoraal is hier iets enorm belangrik. Ons het gesien dat Satan nie gewoonlik sy teenwoordigheid aankondig wanneer hy die krag van versoekings teen gelowiges van stapel stuur nie. Dit is ook waar dat hy nie gewoonlik gelowiges versoek met dinge wat boos op sigself is nie. Die normale strategie wat Satan gebruik, is die strategie wat hy hier in die woestyn toegepas het – hy buit gelowiges se begeerte na dinge wat op sigself nie verkeerd is nie, uit. Maar Satan dring by gelowiges daarop aan om daardie goeie dinge, op tye en op plekke en op maniere te begeer, wanneer dit nie binne God se wil is nie.

Gelowiges kan deur allerlei natuurlike, emosionele, intellektuele en fisiese begeertes versoek word – ’n begeerte na rus bv.; ’n begeerte na vriendskap; ’n begeerte na meer kennis van Woord; ’n begeerte na vreedsame familie verhoudinge; ’n begeerte na seksuele vervulling binne die huwelik; die begeerte na ’n arm om jou skouer as dit swaar met jou gaan – al hierdie begeertes is goeie begeertes, maar daar is tye dat God ons in situasies plaas, waar ons begeerte na hierdie dinge geblokkeer word en dan voel ons honger en dors en eensaam. Dit is egter op hierdie punt wanneer Satan gewoonlik kom en hy ons versoek om daardie “goeie dinge” wat nie nou vir ons beskore is nie, na te jaag en wel op wyses wat nie binne God se wil val nie.

Miskien is hier van julle wat worstel met “goeie begeertes”. Jou huwelik is dalk ver van hoe jy dit graag wil hê, of ver van wat die Woord van ’n huwelik verwag. Jou intieme verhouding is dalk nie soos wat jy dit dalk graag wil hê nie. Jou kinders is dalk rebels en jy begeer dat hulle die Here sal dien.

Toe Jesus in die wildernis was, moes Hy geduldig gewees het – Jesus moes vir God gewag het, want Sy tyd was nie God se tyd nie. En net so moet ons leer om te wag – al voel ons ook hóé desperaat “honger”. Ons moet vir God wag om ons gebede te verhoor. Ons moet vir God wag om ons behoeftes te bevredig op die wyse en tyd waarop Hý dit wil doen. En soms voel Sy manier baie hard en ongenaakbaar. Soms voel ons dat Hy liefdeloos is. Soms voel dit vir ons dat indien ons nog ’n dag langer moet wag, ons sal sterf. Maar geliefdes, dit is die beste weg om te volg – om geduldig op God te wag en steeds Sy wil na te jaag. Jesus het op God gewag en God se wil gevolg.

· Jesus is egter ook op ’n tweede wyse versoek. Dit het gekom deur Jesus se verlange na ’n een of ander teken van God die Vader. Ons as mense hou daarvan om bewyse te hê dat God met ons is – dat God ons lief het; dat God ons help. En weereens is dit ’n aanvaarbare en goeie begeerte om te koester. En Jesus het hierdie begeertes gekoester. Maar daar in die wildernis het Jesus geen tekens gehad nie. God het Jesus deur die Heilige Gees in hierdie verskriklike en verlate plek ingedryf en die Vader het Hom net daar gelos – so het dit ten minste gelyk. Sekerlik het Jesus gebid: Gee My vandag My daaglikse brood (Matt.6:11). Maar daar was geen brood.

Dit is pynlik en baie dikwels onverstaanbaar vir enige persoon wat lief is vir God en wat bid, maar wat geen antwoord ontvang nie. Dit is pynlik om te bid en jy ontvang ’n duidelike “nee” op jou gebed – maar om te bid en géén antwoord te ontvang nie, is nóg pynliker. Dit is pynlik vir ons en dit was pynlik vir die Here Jesus.

Weer word Jesus geteister deur gedagtes – duistere gedagtes. Gedagtes wat vra: Waar is jou Vader nou? As jy Sy Seun is, waarom luister Hy nie nou na jou nie? Het Hy jou vergeet? Hoe kan Hy van jou verwag om Hom te vertrou, as Hy geen teken aan jou gee dat Hy na jou luister nie? En skielik in Jesus se gedagtes is dit asof Hy nie meer daar in die wildernis is nie. Hy is skielik in Jerusalem en Hy is hoog bokant die stad. Dit is asof Hy vasklou aan die hoogste punt van die Tempel. Ons weet dat Hy nie fisies daar was nie. Markus sê ondubbelsinnig dat Jesus vir die volle veertig dae in die wildernis gebly het. Satan beskik nie oor die mag om mense oral oor die wêreld heen te “vervoer” nie. Nee, die satan val mense se gedagtes aan (soos die kinders dit sal stel – hy “smokkel met ’n mens se kop”). Hy val mense se gevoelens en emosies aan. Waarskynlik het Jesus (en ek sê dit met uiterste versigtigheid en piëteit) aan hallusinasies gelei a.g.v. Sy honger, want vir veertig dae het Hy geen kos gehad nie en is Hy blootgestel aan die Midde-Oosterse son. Die hele tyd was Hy geïsoleer van ander mense – Hy’s eensaam. Satan het Jesus verwoed aangeval. Satan het Jesus se toestand misbruik om Sy gedagtes te vul met vals gedagtes en verskriklike vrees en daarom het dit vir Jesus gevoel dat Hy daar op die hoogste punt van Jerusalem was en Hy ervaar hierdie begeerte om te spring.

Nou waarom was Jesus versoek om dit te doen? As Jesus dit gedoen het, sou Hy God gedwing het om iets te doen – om ’n wonderwerk te verrig t.w.v. Jesus. As God leef en as God werklik omgee, sal Hy ’n Engel móét stuur om Jesus te vang voor Hy die grond tref. Die gedagte wat in Jesus se gemoed opkom is die woorde in Ps.91:11-12 ~ Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 12 Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie....

Waar kom hierdie gedagtes vandaan? Gedagtes om iets te doen ten einde God te dwing om iets te doen? Wel, dit kom van Satan. Hy is daartoe in staat om sulke duistere gedagtes in ons gedagtes te plant – selfs in die gedagtes van die vleesgeworde, maar sondelose Christus. Hy het selfs Bybelversies misbruik om Jesus te probeer oortuig dat dit die regte ding is om te doen.

Jesus was dus versoek deur die satan om God te toets – om te sien of God werklik sal doen wat Hy in Sy Woord belowe – meer nog, om te eis dat God Homself moet bewys!

Die Israeliete was op dieselfde wyse in die woestyn versoek en hulle het “geval” vir Satan se versoeking. Dit het gebeur toe hulle by ’n plek genaamd Refidim gekom het waar daar geen water was nie (Eks.17). Die volk het begin kla en murmureer, want hulle en hul vee het dors geraak. Hulle het kwaad begin raak en hulle het dreigemente begin rondslinger. Hulle het vir Moses gesê: Ons het jou vertou en jy het ons in hierdie wildernis laat intrek – en nou? Wat gaan nou van ons word? Jy, Moses, jy moet nou iets doen om ons te red, want God het ons nou in die steek gelaat – hoe kan jy van ons verwag om in Hom te glo as Hy nie vir ons wys hoeveel Hy omgee en vir ons water gee nie? Die volk was so opstandig, dat Moses bang was dat hulle hom sou stenig.

Indirek was hierdie ultimatum wat aan Moses gestel was, eintlik aan God gestel, want Moses sê vir hulle in v.2 ~ Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef? (N.A.V.); ...waarom versoek julle die HERE? (O.A.V.). Julle mag dit nie doen nie! In hierdie geval het God egter gedoen wat die Israeliete wou gehad het – Hulle wou hê dat Hy Homself moes bewys – en Hy het, want Hy het water uit die rots laat vloei. Maar hulle het terselfdertyd God se toorn oor hulle ontketen, want hulle het God gedreig en vir Hom gesê dat hulle God nie kan vertrou, as Hy nie vir hulle ’n teken gee om daardeur te bewys dat Hy ís wie Hy sê Hy is nie. Moses hernoem die plek Massa (beteken: “op die proef stel”) en Meriba (beteken: “rusie”) (v.7). By hierdie plek het die volk dus getwis en God versoek, deur te vra of Hy met hulle is of nie.

Doen ons nie ook maar dikwels presies dieselfde nie? Sê ons nie ook maar soms, as God nie dít of dát doen nie, dit nie meer die moeite werd is om Hom te volg nie. Of: Ek kan God nie meer vertrou nie, want Hy luister net eenvoudig nooit na my nie. Of: Ek is seker maar nie gered nie, dit is waarom Hy nie my gebede verhoor nie. En wanneer Hy dit nié doen nie, voel ek in my diepste binneste dat ek Hom nie meer kan vertrou nie – of ek sê dit dalk selfs openlik.

Hierdie selfde krag van versoeking wat die Israeliete verlei het, het ook oor Jesus gekom daar in die wildernis. Dit was egter veel, veel intenser, omdat Hy Sy Vader so volmaak en intens lief gehad het en die feit dat Hy volmaakte gemeenskap met die Vader geniet het. Wanneer iemand, iemand anders baie lief het, is die seerkry soveel erger wanneer jy in die steek gelaat word deur daardie persoon.

Dit is nie verkeerd, of selfs sondig, om bepaalde dinge van die Here te vra nie – of selfs een of ander teken dat Hy my lief het nie, maar dit is sonde om in God te twyfel. En dit is sonde om dinge of antwoorde van God op te eis. Dit is sonde om God uit te daag om Homself te bewys.

Dink net weer vir ’n oomblik terug aan die Ps.91 wat Satan gebruik het om Jesus te versoek. In die Psalm staan daar baie duidelik dat hierdie belofte vir dié een is wat in die skadu’s van die Allerhoogste skuil – hierdie belofte is dus slegs van toepassing, indien Jesus Sy skuiling by die Allerhoogste vind. Daar ís geen skuilplek vir Jesus by die Allerhoogste as Hy aan die Allerhoogste wil voorskryf nie.

Indien jy Ps.91 deeglik deurlees, sal jy besef dat hierdie Psalm presies die teenoorgestelde beteken as die verdraaide weergawe of vertolking van die satan. In hierdie Psalm word gesê dat hy (en in hierdie geval Jesus) wat by die Allerhoogste skuil, beskerm sal word teen o.a. dodelike siektes (v.3); teen aanvalle bedags of snags, maar wat hierdie Psalm nié sê nie, is dat God iemand sal beskerm as hy homself doelbewus in gevaar stel en God daardeur as’t ware uitdaag nie. Dit wat die Psalm belowe, is presies wat die Vader gedoen het met Jesus terwyl Hy in die wildernis was – Wie het Hom bewaar van die wildediere in die woestyn en die warm son bedags? Deurgaans deur die veertig dae wat Jesus in die wildernis was, het God se Engele Hom bewaar.

Ps.91 is dus nié ’n uitnodiging aan Jesus, óf aan ons, om onsself in gevaar te dompel nie. Nee, dit is ’n uitnodiging om God te alle tye te vertrou, ongeag ons omstandighede; ongeag van wat ook al in die toekoms mag gebeur! Hierdie Psalm sê dus nié vir ons dat ons allerlei tekens moet vra ten einde te glo en te weet dat die Vader met ons is nie. Hierdie Psalm is ’n getuienis wat ons uitspreek, nl. dat die Vader altyd met ons is – ek voel dalk nie Sy teenwoordigheid nie; ek sien dalk nie wonderwerke nie; alles verloop dalk nie soos wat ek dit graag sou wou hê nie, maar Hy het my veilig bewaar, anders sou ek nie tot hier gekom het waar ek vandag staan nie.

Die ware betekenis van hierdie Psalm is dus die radikaal teenoorgestelde van wat Satan vir Jesus belowe. Satan sê: God het belowe om jou te bewaar – dus, dwing Hom om dit te bewys. Nee, die Vader doen dit in elk geval – al sien ons nie noodwendig die bewyse daarvan nie.
Dit dan was die tweede versoeking. As die Here wil sal ons volgende week na die laaste versoeking kyk, asook Jesus se oorwinning in die wildernis.

[1] Met erkenning aan Stephen Rees (Manchester, Engeland) – Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 25April 2010

Tuesday, April 20, 2010

Openbaring Ontsluit - 20 ("Die Einde van Jersalem - 01) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Die Openbaring boek handel grootliks oor die val van Jerusalem in 70 n.C.. Die vervulling van hierdie profesie is ook baie deeglik gedokumenteer in buite-Bybelse historiese geskrifte. Dit is slegs diegene wat hierdie geweldige historiese gebeure ignoreer, wat steeds op die uitkyk is vir ’n toekomstige vervulling van die Openbaring.

Openb.8 waarna ons vanaand gaan kyk, is ’n voortsetting van God se verbondoordeel wat Hy uitgestort het oor ’n afvallige volk, ’n volk wat die verbond versaak het wat God met hulle gesluit het. In baie opsigte is hierdie “Trompet-oordele” net ’n intensivering van die voorafgaande “Seël-oordele” (Openb.6) en dit sal nog verder geïntensiveer word deur die sewe “Bakke-oordele” (Openb.16) wat gaan volg.

Die basiese boodskap van die “Trompette” is dat Jerusalem se einde op hande is en dit is die tema wat ons na gaan kyk oor die volgende twee hoofstukke.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Die eerste ses verse van hoofstuk 8 bevat geen verwysings na enige oordele deur God nie. In teenstelling met die woeste aktiwiteite wat gepaard gegaan het met die “Trompet-oordele”, heers daar nou vir ’n tyd lank vrede en stilte in die hemel namate die engele voorbereidings tref om God se oordele en wraak uit te stort oor Sy “verbond-verbrekende-volk”, Israel.
· Openb.8:1-6 ~ Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank. 2 En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee. 3 ’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4 Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. 5 Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing gekom. 6 Die sewe engele met die sewe trompette het hulle toe gereed gemaak om daarop te blaas. In Openb.5 het Johannes gesien hoe dat die Vader ’n boek in Sy regterhand vashou – ’n boek wat geseël was met sewe Seëls. Aanvanklik kon niemand hierdie boek oopmaak nie, maar toe het die Lam van God, die Here Jesus Christus, die boek van Sy Vader geneem en die Seëls begin oopbreek. Die eerste ses Seëls was in Openb.6 oopgebreek en dit het geweldige oordele oor Jerusalem ontketen het. In Openb.7 was daar ’n onderbreking, waartydens God, Sy kinders beskerming verleen het, deur hulle te verseël teen die oordele wat aan die kom is. Nou, hier in Openb.8, word die sewende Seël gebreek. Hierdie sewende Seël stel die “Trompet-oordele” van God voor, wat gaan volg.

Voor die “Trompet-oordele” egter van stapel gestuur word, is daar ’n halfuur stilte in die hemel. Wat is die betekenis van hierdie halfuur stilte? Waarom is daar ’n stilte in die hemel? Hierdie stilte moet betekenisvol wees, want tot nou toe was die Openbaringboek, “vol geluide en geraas” en hierdie “geraas” gaan voort gesit word in die res van die boek. Ons het van luide aanbidding in Openb.4-5 gelees; van donder en weerlig in 4:5; ’n geweeklaag (5:4); sang (5:9); harde stemme (5:12; 6:10, 16; 7:2-3, 10); donderslae (6:10); die geluid van perdehoewe (6:2ff), ens. Maar nou heers daar ’n doodse stilte. Natuurlik is hierdie slegs die stilte voor die storm, maar dit is nogtans betekenisvol. Indien die Openbaring boek die Nuwe Verbond verteenwoordig, dan kan die Nuwe Verbond nie van stapel gestuur word voor al sewe seëls nie gebreek is nie. In ’n sekere sin is die sewe seëls slegs ’n belofte dat die oordeel gaan plaasvind, maar op hierdie stadium het die oordeel nog nie begin nie. Daar heers nou stilte in die hemel want die oordele van God gaan binnekort losbars. Die stilte is deel van die hemelse ontsag, maar ook vrees vir wat God gaan doen wanneer die oordeel uitgevoer gaan word ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! (Hab.2:20). En Ps.76:8-9 ~ As u toorn ontbrand, laat U die mens sidder en beef. Wie kan dan voor U staan? 9 Uit die hemel het U u uitspraak bekend gemaak. Die mensdom het bang geword en stil gebly.

Terwyl daar stilte in die hemel is, sien Johannes “sewe engele” voor God se troon staan. Daar word aan elke engel ’n trompet in die hand gegee. Hierdie is ’n besondere en uitgelese groep engele van wie ons weer ’n paar keer gaan hoor in die profesie (Openb.15:1, 6-8; 16:1; 17:1; 21:9). Die trompette getuig van oorlog. U sal onthou dat die Israeliete trompette moes dra en gebruik in die val van Jerigo (Jos.6). Hulle moes in stilte, een keer per dag vir ses dae om die stadsmuur marsjeer het. Op die sewende dag moes hulle sewe keer omgestap het, waarna hulle op die trompette moes blaas en waarop die stadsmuur in mekaar getuimel het en hulle die stad kon binneval en oorwin. In kort, die trompette het die val van die heidense stad aangekondig. Op dieselfde wyse verteenwoordig die trompette wat aan die sewe engele gegee is, die vernietiging van ’n heidense stad – Jerusalem!

In die geval van Jerigo moes die stad val, omdat dit in die pad gestaan het van die verowering van die Beloofde Land. Hierdie “Openbaring-trompette” kondig die val van die stad wat geestelik, Sodom en Egipte genoem word, aan – die heiden stad wat in die pad staan van die vrye voortgang van die Woord van God en die getuienis van Jesus Christus – die ontvouing van die Nuwe Verbond.

Daar is egter ’n agste engel wat by die hemelse altaar staan met ’n goue wierookbak. Hierdie engel was gereed om die wierook te same met die “gebede van die gelowiges” op die altaar te offer. Vantevore het ons gesien hoe dat die gebede van die vervolgde en vermoorde gelowiges van die Ou Verbond, aan God geoffer is, ten einde te pleit vir vergelding (Openb.5). Op daardie stadium, sal u onthou, is daar vir hulle gesê dat hulle nog ’n klein rukkie moes wag – ’n hulle wagtyd was nou verby – hulle gebede was op die punt om geoffer te word en sou hul vervolging en dood gewreek word.

Die tydsduur van die stilte is ook betekenisvol. Vers 1 sê dat daar ongeveer ’n halfuur lank stilte was. Hierdie tydperk dui op die tydperk wat die Hoë Priester gewoonlik in die Allerheiligste deurgebring het. Gedurende hierdie halfuur het almal wat in die binnehof van die Tempel was, uitbeweeg en dan neergeval het op hul knieë met uitgespreide hande in stilgebed. Gedurende hierdie halfuur was daar ’n doodse stilte in die ganse Tempel en het die ruik van die wierook wat die Hoë Priester aan God geoffer het, oor die Tempel gehang.

Die beeld van hierdie agste engel dui op die beantwoording van gebed wat ’n aanvang geneem het – die martelare van die Ou Verbond het geduldig gewag, maar hul gewag was oor. In essensie is die “Openbaring-trompette” die beantwoording van hul gebede en die rook van die wierook verteenwoordig God se oordele wat aan die kom is (soos die geval met ander beskrywings in die Woord van God se oordele) – sien bv. Ps.97:1-6 ~ Die Here regeer, die aarde moet juig, al die baie eilande moet bly wees! 2 Die Here is omgewe van donker wolke; sy troon is gebou op reg en geregtigheid. 3 ’n Vuur trek voor Hom uit en verteer sy vyande aan alle kante. 4 Sy weerligstrale verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe. 5 Berge smelt soos was voor die Here, voor die Here van die aarde. 6 Die hemel getuig dat Hy regverdig is en al die volke sien sy magtige verskyning.

Wat Johannes dus hier in die hemel sien gebeur, is ’n toneel van oordeel. God is besig om die gebede te verhoor van daardie gelowiges wat deur die eeue heen deur die Jode vervolg is. Ons sien dan ook in Matt.23:29-37 dat Jesus sê dat Hy diegene wat Sy kinders vervolg, sal oordeel – en nou heers daar weer ’n doodse stilte voor God se oordele losbars.

Die feit dat die oordeel van God op die punt is om los te bars, is ook duidelik vanuit v.5 ~ Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing gekom. Hierdie beeld is waarskynlik ’n sinspeling op Deut.13:12-16 ~ Wanneer jy hoor dat kwaadstokers gekom het in een van die stede wat die Here jou God vir jou sal gee om in te woon, en hulle sy inwoners verlei het deur hulle aan te spoor om vreemde gode te dien waarvan julle nie geweet het nie, 14 moet jy die saak deeglik ondersoek en haarfyn daarna uitvra. As die gerug waar is en die afskuwelike daad wel tussen julle plaasgevind het, 15 moet jy die inwoners van daardie stad sonder meer doodmaak. Die stad met alles daarin, selfs sy vee, moet as banoffer vernietig word. 16 Jy moet alles in die stad op die stadsplein bymekaarmaak en saam met die stad geheel en al verbrand as ’n offer aan die Here jou God. Die stad moet vir altyd ’n puinhoop bly. Dit mag nie weer herbou word nie. Dit is baie interessant om te weet dat historici vertel dat die vuur in sulke gevalle verkry is van die lampe wat in die Tempel was. Hierdie opdrag is bv. uitgevoer in Rigters 20 waar die Benjaminiete skuldig was aan afgodery. En nou hier in Openbaring 8 is dit Jerusalem se beurt om die selfde lot te ervaar.

Dit is so ironies dat hierdie Ou Testamentiese vuur van Deut.13 sy oorsprong by God gehad het en dat dit deur Sy priesters deur die eeue heen aan die brand gehou is, sodat dit ander “heilige vure” aan die brand kon steek (Lev.16:12-13; Num.16; Gen.22:6). Die enigste aanvaarbare manier om ’n afvallige stad te vernietig was m.b.v. God se vuur – die vuur van die altaar af en sodoende word die hele stad ’n brandoffer. Dit is hierdie selfde beeld wat hier in Openbaring gebruik word om God se oordele teen Jerusalem te beskryf.

Dit is so ironies! Die vuur hier word nie neergewerp op Kanaän of Egipte nie, maar op Juda! Soos reeds tevore gesê, moet die woord “aarde” hier vertaal word met die land Juda en die stad Jerusalem (konteks). Hierdie is dan God se oordeel teen die afvallige Joodse geslag in antwoord op die gebede van die Ou Testamentiese martelare.

Nie alleen was daar “vuur” op die aarde uitgestort nie, maar Johannes hoor ook “stemme” en donderslae en hy sien “weerlig” en daar is ’n “aardbewing”. Die vraag is of ’n mens hierdie letterlik of simbolies moet verklaar? Ons kan dit nie met sekerheid sê nie, maar wat wel interessant is, is die ooggetuie-verslag van Flavius Josefus wat die val van Jerusalem aanskou het. Josefus het vertel van ’n enorme storm gedurende die nag. Daar was stormsterk winde wat gewaai het, met geweldige swaar reënval en voortdurende weerlig en oorverdowende donderslae. Asof dit nie genoeg was nie, was daar onverklaarbare aardskokke en dreungeluide uit die aarde (dit is in ooreenstemming met 8:5). Hierdie gebeure was ’n baie duidelike teken van ’n komende oordeel – weereens is die geskiedenis en God se Woord in harmonie met mekaar!

Ons sien verder dat die sewe engele met die trompette gereed gemaak het om hul trompette te laat hoor, toe die agste engel gereed gemaak het om sy wierrookbak met vuur te vul (vv.5-6). Die oordeel is op hande! Die oordele word van stapel gestuur met die blaas van die sewe trompette.

Ons sal vanaand net na die eerste twee trompette kyk en dan oor die volgende keer of wat na die res.

· Openb.8:7 ~ Die eerste engel het op sy trompet geblaas. Daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. ’n Derde van die aarde is verbrand, ’n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand. Ons lees in Openb.11:8 die volgende ~ Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem. Hier word Israel, Sodom en Egipte genoem. Jerusalem het Egipte geword: ’n Volk wat gekant is teen God en wat Sy Kerk gevange hou deur vervolging – net soos in die destydse Egipte. In Lukas se weergawe van die Olyfberggesprek lees ons van Jesus wat die volgende gesê het ~ As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby (Luk.21:28). Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, het die dissipels waarskynlik terug gedink aan Israel se verlossing uit Egipte o.l.v. Moses. Dit is presies wat gebeur het in 70 n.C. God se kinders word verlos van hul onderdrukkers in Jerusalem – figuurlik genoem, Egipte. Wanneer ons die eerste Trompet vergelyk met Eks.9:22-26, sien ons die duidelike ooreenkoms tussen hierdie Trompet en die sewende plaag in Egipte. In Egipte het God die land getref met hael en vuur en nou doen Hy weer so in Jerusalem.

Toe die Vierde Seël gebreek is, het Johannes ’n “vaal perd” gesien en aan hierdie perd en sy ruiter is ...mag oor ’n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.

Ons sien iets nuuts hier met hierdie eerste “Trompet-oordeel”. Vantevore was daar aan die derde Perderuiter opdrag gegee om nie ...die olyfolie en die wyn (te) bederf nie (Openb.6:6). Die vier engele wat die vier winde van die aarde vasgehou het, het ook opdrag ontvang om nie ... die land en die see en die bome (te) tref nie (Openb.7:3). En waarom nie? Openb.7:3b ~ Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël. Nou ís die dienaars van God beseël en word opdrag aan die eerste engel gegee om sy trompet te blaas en sodoende ... ’n derde van die bome verbrand, en al die groen gras. Dit is ook baie interessant om te sien dat dit presies is wat Josefus gerapporteer het – hy skryf: The countryside, like the city, was a pitful sight, for where once there had been a multitude of trees and parks, there was now an utter wilderness stripped bare of timber; and no stranger who had seen the old Jedea and the glorius suburbs of her capital, and now beheld utter desolation, could refrain from tears or suppress a groan at so terrible a change. The war had blotted out every trace of beauty, and no one who had known it in the past and came upon it suddenly would have recognised the place.... Wat belangrik is om ook te meld, is dat God weereens mense gebruik het om Sy oordele oor Jerusalem uit te voer. Dit is gewoonlik die wyse waarop God se oordele uitgestort word op veroordeeldes – óf deur mense, óf deur “natuurlike” oorsake. Die wyse waarop God Sy oordeel oor Israel uitgevoer het, was d.m.v. die Romeinse weermag.

Die tweede trompet het gebeure tot gevolg wat baie mense sê, nie gedurende die eerste eeu moontlik was nie. En tog, hierdie gebeure wat Johannes sien is baie maklik verklaarbaar. Luister na Johannes.

· Openb.8:8-9 ~ Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos ’n groot berg wat brand, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword, 9 ’n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe het vergaan. Die eerste ding wat hier opval, is ’n groot berg wat brand en wat in die see gegooi word. Die woord “iets soos...” sê vir ons dat Johannes nie van ons verwag om hierdie gesig letterlik te interpreteer nie. Hy vergelyk bloot dit wat hy sien met iets wat lyk soos ’n brandende berg. Hy maak dus hier gebruik van simboliek. Maar wat beteken dit alles?

Dit wil voorkom asof die brandende berg, Jerusalem verteenwoordig. As ons kyk na Eks.15:17 sien ons dat daar na Israel verwys word as die berg wat aan die Here behoort. As ons na Skrifgedeeltes soos bv. 2Kon.19:31; Ps.74:2; Jes.10:12; 24:23; Joël 2:32, ens. kyk, sien ons dat dáár ook na Jerusalem as die Berg Sion verwys word. Jerusalem was op die Berg Sion gebou en daarom word die name dikwels in die Woord uitruilbaar gebruik.

Wat Johannes dus hier sien is dat die Berg Sion in die see gewerp word. Wie of wat is die see? In Openb.17:15 sien ons dat die woord “see” gebruik word vir – ...volke en stamme, nasies en tale. Die see verteenwoordig dus die heidennasies. In eenvoudige taal dan, word Jerusalem in die see gewerp wat tot gevolg het dat ’n derde van die water bloed word (’n oordeel wat in ooreenstemming is met die eerste Egiptiese plaag in Eks.7:19-20 – water wat in bloed verander). Rome was ’n heidense nasie en die Jode word in die arms van die heidene gegooi. Hierdie verklaring word ondersteun deur die woorde van die Here Jesus aan Sy dissipels in Matt.21:12-22 ~ Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi 13 en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ’n rowersnes.” 14 Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. 15 Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig. 16 Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?” 17 Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het. 18 Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry. 19 Toe Hy ’n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.” En die vyeboom het dadelik verdroog. 20 Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?” 21 Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. 22 As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.” Op die oog af lyk dit asof Jesus se woorde hier in vv.21-22 uit plek is. Die gebeure wat hier beskryf word het alles plaasgevind gedurende die laaste week van Jesus se aardse bediening. Dit was gedurende daardie week wat Hy die felste woorde tot die godsdienstige Israel gerig het. Daardie week het Jesus hoofsaaklik profeties gespreek oor die verwydering van Israel en haar vervanging deur die Kerk van die Nuwe Verbond. Die vervloeking van die Vyeboom was ’n kragtige voorbeeld hiervan.

Vyebome lewer slegs blare wanneer dit in die vrug is. Om blare dus aan ’n vyeboom te sien is om vye aan die boom te verwag. Hierdie vyeboom het egter belowe wat dit nie gelewer het nie – blare, maar geen vye nie. In vele opsigte was dit presies soos die Judaïsme in Jesus se tyd. Judaïsme het gespog dat dit die seën van God wegdra, omdat hulle die “volk van God” is, met die sigbare teken van die Tempel. Judaïsme het egter nét oor blare beskik – dit wat die Judaïsme beloof het, kon hulle nie lewer nie. Judaïsme het nie die seën van God geniet nie, omdat hulle nie plek gehad het vir die Messias nie. En daarom, al het dit die blare van godsdienstigheid gedra, kon dit geen verhouding met die lewende God bied nie. Deur die vyeboom te vervloek, het Jesus die gebeure wat binnekort sou plaasvind, nl. die verwydering van die Judaïsme en die seën wat oorgedra sou word aan die Kerk van die Here Jesus Christus, geprofeteer

Dit is in hierdie konteks dat Jesus praat van ’n “Berg-verskuiwende-geloof”. Maar wat het die verwydering van berge deur geloof, te doen met die vloek wat op Israel gerus het? Sommer baie om die waarheid te sê! Israel was die berg wat in die pad van die Kerk gestaan het. Die Kerk sou binnekort die “Groot Opdrag” ontvang (Matt.28:19-20), maar die Berg in die vorm van Judaïsme het in die Kerk se pad gestaan. Regdeur Handelinge kan gesien word dat die Judaïsme die grootste struikelblok in die weg van die Evangelie is. Net soos wat Jesus dan die vyeboom vervloek, so vervloek Hy Israel – as die Kerk net geloof in Jesus het, sal Hy die Berg van Joodse opposisie verwyder en in die see werp. En dit is presies wat gebeur met die tweede “Trompet- oordeel” – Judaïsme wat verteenwoordig word deur Jerusalem en die Tempel (die Berg), word in die hande van die heidense Rome (die see) gegee!

Die vervolgde Joodse gelowiges het by God gepleit om hul dood deur die Kerk op Israel te wreek – en God sou presies net dit doen. In Luk.12:49 het Jesus hierdie woorde van oordeel uitgespreek ~ Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is! Matt.3:7-12 werp meer lig op hierdie woorde in Luk.12. Johannes preek hier en sê dat sy toehoorders of met water deur Jesus gedoop sou word (redding), of deur vuur (oordeel). Ook hier waarsku Johannes die godsdienstige leiers dat die byl teen die wortel van die boom lê.

Daar bestaan geen twyfel daaroor dat Openb.8 ’n vervulling is van Matt.21. Christus se kinders het geloof soos ’n mosterdsaad. Hulle het vurig gebid dat die “Berg van Judaïsme in die see gewerp moes word” en hul gebede is in 70 n.C. beantwoord. Geskiednis verduidelik dus vir ons die profesie, kristalhelder – waarom moet ons soek na ’n “toekomstige vervulling” van iets wat God reeds tot vervulling laat kom het?

Ons moet bemoedig wees deur hierdie geskiedenis, want daar is allerlei berge wat in die pad staan van die Groot Opdrag. Nasies (en ander gelowe) opponeer die Evangelie van Jesus Christus, maar as ons met ’n mosterdsaad-geloof bid soos die martelare van ouds, sal hierdie “berge” ook in die “see” gewerp word. Paulus gee opdrag aan ons in 1Tim.2:1-8, om te bid vir die regering, sodat ons, ons geloof in vrede kan uitleef en dat die Evangelie derhalwe kan versprei. Die vraag is of ons gehoorsaam is aan hierdie opdrag van die Here. Ons moet nie pessimisties wees oor die verspreiding van die Evangelie nie – die kleinste gemeentetjie kan “berge versit”, indien ons geloof het soos ’n mosterdsaadjie.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 18 April 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 18 April 2010

Keerpunte in Christus se Aardse Lewe - 02 (Sy Versoeking in die Wildernis - 01) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. AGTERGROND:
Ons het twee weke gelede gekyk na Jesus se doop deur Johannes die Doper. Vanoggend gaan ons kyk na Jesus se versoeking. Matteus sê vir ons dat Jesus onmiddellik na sy doop weggevoer is na die woestyn, of te wel die wildernis, waar Hy blootgestel was aan aanvalle deur die Satan. Sy doop het dus onmiddellik gelei tot ’n tydperk van intense versoeking. Die Skrif beklemtoon ook die feit dat, al was dit nie wat die Here Jesus vir Homself sou kies nie, dit nogtans die Vader se wil was vir Sy Seun Jesus Christus, daarom dat Matteus ook in ons Skrifgedeelte vir vandag skryf, dat Jesus deur die krag van die Heilige Gees in die wildernis ingedryf was.

Blaai asb. saam met my na Matt.4:1-11. Ons gaan na vier dinge vanuit hierdie Skrifgedeelte kyk (een vandag en drie ’n volgende keer):
· Die Plek van Jesus se versoeking;
· Die Versoeker;
· Die Versoekings en
· Die Oorwinning

2. SKRIFLESING:
Matt.4:1-11 ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn [die Grieks hier is erhmoõ (eremos), wat eerder vertaal moet word met woesteny of wildernis] in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. 3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” 4 Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” 5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” 7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” 8 Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9 en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” 10 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” 11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

3. DIE PLEK:
Waar begin die verhaal van die Bybel? Dit begin met die Tuin (die Tuin van Eden). Adam was in ’n tuin geplaas en daar het God alles denkbaar aan Adam gegee wat hom genoegdoening kon verskaf – daar was vrugtebome met wonderlike vrugte aan; daar was die diere wat Adam se vriende was; Eva was daar wat sy helper was; Adam het Eva volmaak lief gehad en sy het hom volmaak lief gehad. En die beste van alles – God het afgekom en saam met Adam in die aandwindjie gewandel. In hierdie Tuin het daar geen pyn of hartseer bestaan nie; daar was geen vrees nie; geen gevaar nie; geen honger en dors nie; geen eensaamheid nie; geen siekte of dood nie.

Alles rondom Adam het getuig van God se liefde en volmaaktheid. Adam het dus al die rede in die wêreld gehad om God lief te hê en om Hom te vertrou en om Hom te gehoorsaam. En dan het die “Groot Versoeker” die Tuin binnegekom en hy (Satan – julle ken die verhaal) het met Eva gepraat – en wat sê hy vir haar? Hy sê, God gee nie om nie. God is besig om jou te mislei. God sal jou nie toelaat om van die vrugte van die Boom van Kennis te eet nie, want Hy wil nie hê dat jy wys sal word nie. God is nie eerlik nie, want Hy hou allerlei goeie goed weg van jou. Al gee Hy voor dat Hy jou vriend is, is Hy eintlik teen jou. Adam was die heeltyd daar terwyl die slang met Eva praat, waarop sy die vrug pluk en Adam neem die verbode vrug van haar en hy eet daarvan.

Adam het geen verskoning gehad nie – God het hom in ’n Tuin met volmaakte omstandighede geplaas, met tekens van God se volmaaktheid en God se goedheid rondom hom – en tog sondig Adam! Hy verander opeens van onskuldig na skuldig en hy trek God in twyfel, terwyl daar geen rede was om te twyfel in God nie, want al die getuienis van wie en wat God is, was oral rondom hom. En die straf op sy sonde? Hy sou sterf – inteendeel, van die oomblik wat hy die verbode vrug geëet het, was hy reeds in die oë van God morsdood en hierdie wêreld het ’n vervloekte plek geword – God sê aan Adam in Gen.3:17 ~ ...die aarde (is) deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit. Adam is ’n vervloekte en voortaan sal hy en sy nageslag op ’n vervloekte aarde leef! Hulle sal uit die Tuin gedryf word in ’n wêreld in wat ’n wildernis sal wees.

Adam was dus versoek in ’n Tuin. Hy was versoek in ’n volmaakte plek en Adam was in daardie volmaakte Tuin, ongehoorsaam aan God. Ten spyte van die feit dat God alles aan hom in die Tuin gegee het om hom gelukkig te maak, maar hy faal nogtans en dit is waarom hierdie wêreld ’n wildernis geword het.

En dan, honderde jare later het God die mensdom weer getoets, maar hierdie keer was dit nié in die Tuin nie – hierdie keer was dit in die woestyn – in die wildernis.

God kies vir Hom een nasie – die nasie van Israel en God lei hulle uit Egipte na die wildernis en daar het Hy hulle getoets vir veertig jaar lank, ten einde vas te stel of hulle aan Hom gehoorsaam sou wees. Dit was ’n moeilike plek om te oorleef – daar groei niks nie, net dorings en distels, maar nogtans gee God aan hulle wonderlike dinge – Hy betoon Sy liefde vir hulle daar in die wildernis – Hy het manna en kwartels vanuit die hemel vir hulle gegee en water uit die rots, sodat hulle nooit honger of dors geraak het nie. Daar was ’n wolkkolom oor die kamp in die dag en ’n vuurkolom in die nag. Hy het belowe dat hul klere nie gedaan sou raak nie – vir veertig jaar! En God het hulle daar in die wildernis getoets. Hy het hulle getoets deur pynlike gebeurtenisse, maar Hy het hulle ook getoets deur die betoning van Sy goedheid. Waarom het Hy dit gedoen? Om te sien of hulle Hom sou vertrou en gehoorsaam deur dik en dun – onder alle omstandighede. Hy wou aan hulle toon dat Hy ’n God is waarop hulle kon steun en Wie hulle kon vertrou. En wat het gebeur? Die Israeliete het die toets daar in die wildernis geheel en al gefaal. Daar was tye dat hulle kwaad geword het vir God en Hom kwalik geneem het vir hul omstandighede. Daar was tye dat hulle wou teruggaan na die land waaruit hulle verlos is; hulle het ’n goue kalf aanbid; hulle het gedreig om Moses te stenig; hulle het geweier om die Beloofde Land binne te gaan en so kan ons aangaan. Die ganse volk van Israel het die toets gedruip! Daarom dat bykans almal van hulle daar in die wildernis onder die oordeel van God gesterf het.

Sien u wat daar gebeur het? God toets die volk Israel daar in die wildernis, maar Hy toets ook die ganse menseras, want indien die Israeliete die toets sou druip, sou alle mense die toets druip, want ons is nie anders as hulle nie. Wanneer ons deur Eksodus en Numeri lees, lees ons, ons eie verhaal. Ons lees van die kere wat ons God blameer het; van die kere wat ons ongehoorsaam was aan God; wat ons geweier het om God te vertrou; van die kere wat ons afgode aanbid het. Ons weet wat gebeur het – ons het keer op keer op keer gesondig.

Ons praat dus van twee geleenthede waartydens die mens getoets is – Adam was in ’n volmaakte omgewing getoets, maar hy het gefaal en gesondig. Israel was getoets in ’n wildernis – ’n wildernis waar Israel versorg en beskermd was, maar nogtans het hulle gefaal. Adam het gefaal en elke mens daarna het deur hom gefaal. Israel was getoets en hulle het gefaal en daardeur het elke volk deur hulle gefaal.

4. DIE PLEK VAN JESUS SE VERSOEKING:
Kom ons kyk nou na Jesus: Soos ek aan die begin gesê het, wil ek dat ons na vier fasette van ons Skrifgedeelte kyk, nl.:
· Die Plek van Jesus se versoeking;
· Die Versoeker;
· Die Versoekings en
· Die Oorwinning

Kom ons kyk dan eerstens na die plek van Jesus se versoeking en dan sal ons D.V. volgende week na die res kyk.

Kan julle onthou wat die Stem tydens Jesus se doop gesê het? Dit is my geliefde Seun (Matt.3:17). Adam was God se seun deur die skepping (Luk.3:38). En Israel was God se seun deur die verbond – in Hos.11:1 sê God ~ Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep. Jesus was God se Seun van nature – Hy was die ewige Seun van God wat mens geword het. En nou dryf die Gees van God, die Seun van God die wildernis in – na die plek van vervloeking toe. Jesus gaan getoets word deur God en Hy gaan versoek word deur Satan. Jesus gaan egter nié op dieselfde wyse versoek word as Adam, waar alles rondom Hom perfek is nie. Nee, Hy gaan in die wildernis versoek word. Adam het ’n Helper aan sy, sy gehad – Jesus gaan stok siel alleen wees. Adam was voorsien van alles wat hy nodig gehad het en nog meer, terwyl Jesus ontneem gaan wees van alles. Selfs die diere was Adam se vriende, terwyl Markus vir ons vertel dat Jesus saam met die wilde diere in die wildernis was (Mark.1:13).

Jesus gaan ook nie soos die Israeliete versoek word nie – hulle het voordurend die wolk- en vuurkolom by hulle gehad, maar Jesus gaan in ’n plek versoek en getoets word, waar daar geen teken van God se teenwoordigheid is nie. Daar in die wildernis gaan geen teken vir Jesus wees dat die Vader omgee vir Hom nie. Wanneer Hy in die nag gaan slaap, gaan daar geen vuurkolom wees om Hom op te pas nie. Jesus was versoek, op ’n manier waarop géén ander mens ooit versoek was of sal wees nie. Die Heilige Gees dryf Jesus in ’n plek in waar Hy gestroop was van alle vorme van gerief en sekuriteit en versorging. Hy het honger geword; Hy het koud gekry; Hy het voortdurend allerlei gevare getrotseer; Hy was eensaam en daar was geen teken dat Sy Hemelse Vader omgegee het nie. Jesus het daar in die woesteny desperaat geraak, want die mees desperate en negatiewe gedagtes het Hom geteister.

5. AFSLUITING:
Ek ken nie regtig enige een van julle se “diepste binneste” nie en hier is van julle vandag wat dalk voel dat jy ook in die wildernis is – dalk voel jy al jare so en dalk voel jy dat God jou daarheen gedryf het – dat Hy jou in ’n baie pynlike en baie eensame en ’n ongenaakbare plek geneem het en dat jy ook versoek is – jy ervaar dalk dat jy versoek is om wanhopig te raak; jy is dalk versoek om in God te begin twyfel; jy is dalk versoek om net op te gee en jy het gewonder of die Here regtig verstaan hoe swaar jy kry – hoe swaar daardie versoeking is; of Hy regtig verstaan hoe dit is om “in jou wildernis” te wees.

Onthou egter dat Jesus presies weet hoe dit voel en hoe dit is om in die wildernis te wees – inteendeel, onthou dat Hy die wildernis ervaar het soos geen mens dit nog ooit ervaar het nie – selfs ons ergste “wildernis ervarings” denkbaar is nie naastenby soos Sy “wildernis ervaring” nie. In die ergste denkbare situasies in die woestyn, het die Israeliete steeds God se teenwoordigheid gehad en het hulle iets van God se vertroosting en versorging en beskerming geniet – maar nie Jesus nie. En God doen presies dieselfde vir ons ook – ons is nooit volkome alleen nie. Die meeste van ons het tog iewers familie en sommige van ons het tog iewers, ’n paar Christenvriende wat omgee vir jou en wat bid vir jou. Iewers was daar vir die Israeliete ’n oasis in die woestyn – iewers is daar ’n oasis in jou lewe. Maar, Jesus het geen oasis gehad nie. In Sy wildernis het Hy niemand gehad nie. In jou en my slegste oomblikke is daar tog iets wat ons kan doen om ons woesteny te verlig – al is dit ook net om ’n koppie tee vir jouself te gaan maak. Jesus het egter niks gehad om Hom te vertroos en te versterk nie – Hy was dieper in die wildernis en die duisternis as wat ek en jy ooit kan wees.

Jesus verstaan eensaamheid; Hy verstaan pyn; Hy verstaan hartseer; Hy verstaan verwerping; Hy verstaan vrees; Hy verstaan wanneer God geen teken gee dat Hy omgee nie. Hy verstaan hoe desperaat jou situasie is. Hy verstaan hoe verlore jy dalk is. Hy ken jou wroeginge en jou uitroepe, maar meer belangrik nog – Hy verstaan dit – My God, My God, waarom het U my verlaat (Mark.15:34).

Dit is die eerste punt wat ek wil maak – Waar was Jesus versoek? Hy was in die wildernis versoek. Jesus het in hierdie vervloekte wêreld ingekom; in hierdie wildernis-wêreld – ’n wêreld wat vervloek is deur Adam se sonde. En Jesus moes Sy Vader in hierdie wildernis-wêreld gehoorsaam en Hy het ter wille van jou en my en veral ter wille van die eer van God na die wildernis gegaan om daar versoek te word, sodat Hy met ons versoekings en beproewings kan identifiseer en daarom kan ons te alle tye die vrymoedigheid neem om na Hom te gaan, omdat Hy reeds die “pad geloop” het en daarom verstaan Hy.

As die Here wil, sal ons volgende week verder kyk na Jesus se versoeking in die woestyn en dan spesifiek na die Versoeker; die Versoekings en Jesus se Oorwinning.

[1] Met erkenning aan Stephen Rees (Manchester, Engeland) – Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 18 April 2010

Tuesday, April 13, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 11 April 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 18 (God se Bloudruk vir die Huwelik [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.5:22-33 ~ Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. 23 Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. 24 Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. 25 Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. 28 Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, 29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen 30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is. 31 Daar staan in die Skrif: “Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.” 32 Hierin lê daar ’n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. 33 Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ’n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

2. INLEIDING:
Wanneer dit in ons dae bekend raak dat twee mense gaan trou, hoor ’n mens allerlei opmerkings soos bv. Ek hoop dit sal hou; of wanneer iemand in ’n geselskap sou sê dat sy of hy gelukkig getroud is, dan hoor jy dikwels dat mense so iemand sal spot en sê, Wie probeer jy oortuig, ons of jouself? ’n Algemene regverdiging vir saambly in ons dae, is juis omdat jongmense eers, sogenaamd wil “seker maak of dit sal werk”. Wat is die probleem? Waarom word sulke opmerkings gemaak? Waarom is die mensdom so pessimisties oor die huwelik as instelling?

Deels is dit omdat ons in ’n sondige wêreld leef, waar niks volmaak is nie – waar niks is soos wat ons dit graag wil hê nie en omdat mislukte huwelike soveel traumatiese ervarings en gevolge inhou.

Die kruks van hierdie probleem is egter dat die mensdom vergeet het wat God se riglyne vir die huwelik is en dit is die regte plek om te begin as ons wil kyk na die huwelik, omdat dit die volmaakte plan is. Waar is hierdie plan van stapel gestuur? Tydens die skepping, toe God die huwelik ingestel het en dit omskryf het. Dit is belangrik om daarop te let dat God tot en met die instelling van die huwelik, Sy skepping – wat die man insluit – “goed” (Gen.1:27-31) genoem het. Ons sien egter in Gen.2:18 dat daar wel een ding was wat God nie goed gevind het nie ~ Verder het die Here God gesê: "Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke". Die skepping van die vrou was dus die afhandeling en voltooiing van God se volmaakte skepping en daarom is die huwelik as instelling goed en heilig, ongeag van wat die sondegevalle mens daarvan maak.

3. DIE ROL VAN DIE VROU:
Paulus kom dan nou hier in Ef.5:22-33 en gee in ’n neutedop vir ons die bloudruk vir suksesvolle huwelike soos wat God dit bepaal het en hy begin met die vrouens, deur aan hulle te sê wat hul rol en verantwoordelikheid in die huwelik is en hy gee twee redes, of dit word in elk geval geïmpliseer. Die eerste spruit uit die skeppingsopdrag en sluit aan by die man se hoofskap van sy vrou, terwyl die tweede rede voortspruit uit gelowiges se redding en handel oor Christus se Hoofskap van die Kerk. Hy sê dan in v.22a van ons Skriflesing ~ Vrouens, wees aan julle mans onderdanig. Dit is egter belangrik dat ons hiermee saam ook v.22b sal lees, nl. ~ ...net soos julle aan die Here onderdanig is. En dan ook v.23a ~ Die man is die hoof van die vrou. Die man se hoofskap word dus as feit gestel en vorm die fondasie vir die vrou se onderwerping. Paulus brei egter nie hier uit oor die oorsprong van hierdie stelling nie en daarvoor sal ons na 1Kor.11:3-12 en 1Tim.2:11-13 moet kyk. In beide hierdie Skrifgedeeltes verwys Paulus terug na die skeppingsverhaal in Gen.2 en beklemtoon hy die feit dat die vrou na die beeld van die man; uit die man en vír die man geskape is. Die N.I.V. sê ~ I will make a helper suitable for him. Paulus sê egter ook onmiddellik in hierdie Skrifgedeeltes, dat die man in die toekoms uit die vrou geskape sou word, wat dus impliseer dat die man en die vrou interafhanklik van mekaar sou wees – daar is dus geen sprake van oorheersing deur die man oor die vrou nie – die vrou is dus nié die man se vloerlap nie.

Hoe dit ook al sy, wanneer Paulus dan praat oor die rol van die vrou in die huwelik, plaas hy die klem op die doel en funksie van Eva se skepping en omdat Paulus sy argument hoofsaaklik op hierdie gronde baseer, het sy argument universele waarde en kan en mag dit dus nie as kultureel verarmd of beperkend verwerp word nie. Paulus se stelling het dus niks met chauvinisme te doen nie, maar dit het alles met die skeppingsleer, of skeppingsordes as julle wil, te doen. Die nuwe skepping in Christus Jesus, bevry ons dus van die besoedeling van verhoudings tussen geslagte wat deur die sondeval veroorsaak is (Gen.3:16), en dit herbevestig maar net weer die oorspronklike motief van die skepping.

Tot nou het ons dus gesien dat Paulus sê, dat vrouens hulle moet onderwerp aan hulle mans, dit is egter ontsettend belangrik dat ons voortdurend in gedagte sal hou, dat beide man en vrou gelyk is in die oë van God, maar dit impliseer nie dat hulle identies is nie – dit beteken dat hulle gelyk in status voor God is, maar verskillend in funksie.

Geen vrou het dus nodig om ’n huweliksaansoek van ’n man te aanvaar nie, maar indien sy wel vrywillig so ’n versoek aanvaar en in die huwelik tree met ’n man (en veral wanneer sy verklaar dat sy ’n gelowige is en derhalwe gehoorsaam wil wees aan God se opdragte), aanvaar sy, deur haar instemming tot die huwelik, die man se hoofskap oor haar. Inteendeel, ten diepste is dit presies wat vrouens wil hê – hulle wil gelei word deur hul mans.

Paulus sê egter ook in v.22 ~ Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Daar moet dus ’n ooreenkoms wees tussen ’n gelowige vrou se onderwerping aan Jesus Christus se Hoofskap in haar lewe en haar onderwerping aan die man se hoofskap in die huwelik.

Die vraag is nou, hoe moet ons hierdie onderwerping verstaan?
· Eerstens beteken dit NIE geestelike ongelykheid voor die Here Jesus nie. Beide man en vrou is na die beeld van God geskape en is dus gelyk in posisie voor God en ontvang ook dieselfde geestelike gawes vir diens aan Christus. Gal.3:28 ondersteun hierdie standpunt deur dat Paulus daar sê ~ Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. Geestelik is hier dus geen ongelykheid, of as u wil minderwaardigheid of meerderwaardigheid nie – slegs verskillende rolle.
· Tweedens impliseer onderwerping nié slaafse gehoorsaamheid aan die man nie – ’n vrou moet bv. nooit haar man in sonde navolg nie. Christus is en moet haar enigste oppergesag wees en die Heilige Gees moet haar gewete lei in wat reg en verkeerd is.
· Wat die Woord dus hier vir vrouens wil leer, is die gewillige, vrywillige en gelukkige onderwerping aan haar man, deur erkenning aan sy leierskap te verleen – daardie leierskap waartoe hy deur God in die huwelik geroep is. Deur haar vrywillige onderwerping gee sy erkenning aan- en eer sy haar man se groot verantwoordelikheid t.o.v. sy leiding in die huwelik en hul gesin. Wanneer die man sterk Goddelike leiding gee aan sy vrou en gesin – m.a.w. geestelike, sterk morele en liefdevolle leiding, sal dit nooit vir die vrou nodig wees om haar man se leierskap en hoofskap te bevraagteken nie – inteendeel, sy sal dan eerder verhef en verryk word deur haar onderwerping aan haar man.
· Laastens sien ons dat die huweliksverhouding, ’n uitdrukking is van die eenheid wat daar tussen Christus en Sy Bruid, nl. die Kerk, bestaan en daarom moet die vrou haar op dieselfde wyse aan haar man onderwerp as wat die Kerk haar aan Christus onderwerp.

4. DIE ROL VAN DIE MAN:
As ons dink dat daar hoë eise aan die vrou gestel word, dan is dit baie duidelik dat daar selfs nog hoër eise aan die man gestel word – v.25 ~ Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Daar word van mans verwag om NIE soos ’n despoot teenoor sy onderwerpende vroutjie op te tree nie, maar om haar lief te hê. Hierdie “liefhê” is nie sommer so ’n liefde nie – luister wat sê Paulus, hoe moet mans hul vroue liefhê ~ ... soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Ons het dus hier te doen met ’n opofferende liefde – ’n liefde wat gee ... tot die dood toe. Géén vrou sal hoegenaamd omgee om aan só ’n man te onderwerp nie – geen vrou sal stry teen onderwerping as haar man bereid is om vir haar te sterf nie.

In die proses wat Paulus die man se verantwoordelikheid jeens sy vrou beskryf, maak hy gebruik van vyf werkwoorde wat hy neem uit die voorbeeld wat Christus gestel het teenoor Sy Bruid, die Kerk.

· Eerstens dan soos ons gesien het – v.25 ~ ...soos (wat) Christus die kerk liefgehad (het). Wat beteken liefde regtig? Ene Walter Trobisch het liefde as volg gedefinieer: You, you, you. You alone. You shall reign in my heart. You are the one whom I have longed for, without you I am incomplete. I will give everything for you, and I will give up everything for you, myself as well as all I posess. I will love you alone, and I wil work for you alone. And I will wait for you.... I will never force you, not even by words. I want to guard you, protect you and keep you from all evil. I want to share with you all my thoughts, my heart and my body – all that I posess. I want to listen to what you have to say. There is nothing I want to undertake without your blessing. I want to remain always at your side.

Liefde soos hierdie, het geseënde en gelukkige en stabiele huwelike en -gesinne tot gevolg. Hoeveel mans – nee, hoeveel van ons, het ons vrouens so lief? Nie baie nie! En tog, is dit die standaard wat die Woord ondubbelsinnig aan ons stel. En indien ons as mans nie ons vrouens volgens hierdie standaard lief het nie? Hoor wat sê 1Pet.3:7 wat die gevolg dan is ~ Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder. As jou gebedslewe nie is soos wat jy dit graag sou wou hê nie – Gaan kyk na jou liefde vir jou vrou.

· Tweedens sien ons in v.25, dat Christus Sy lewe vir die Kerk afgelê het. Daardie liefde wat Christus vir alle sondaars gehad het toe Hy bereid was om aan die kruis vir ons te sterf, sodat ons die ewige lewe kan erf – dit is daardie selfde liefde wat ons as mans vir ons vrouens moet hê – ons moet onsself offer vir ons vrouens. Bitter min van ons (indien enige) sal ooit nodig hê om ons liefde vir ons vrouens op hierdie wyse te toon, maar daar is daagliks veel makliker maniere om ons liefde aan ons vrouens te betoon. Dit laat my dink aan die vrou wat op ’n keer aan haar man gesê het ~ Ek weet jy is bereid om vir my te sterf, maar terwyl jy wag om dit te doen; wil jy nie net gou die skottelgoed vir my afdroog nie asb.

· In v.26 sien ons dat Christus se doel met die Kerk (elke gelowige dus) is om die Kerk te laat groei in heiligmaking.

Die Griekse werkwoord wat hier gebruik word, is "hagiazo". Ons het nou al ’n paar keer wat ons besig is met Efesiërs, gesien dat Paulus, maar veral ook die Ou Testament vir ons leer dat, om iets of iemand te heilig, beteken om daardie persoon of artikel, opsy te sit vir uitsluitlike gebruik deur en vir die Here God. En dit is presies wat Christus begeer vir Sy Kerk, nl. dat elke gelowige, volkome toegewyd sal lewe aan sy roeping, nl. om God te verheerlik deur sy of haar lewe. Dit is ons as mans se verantwoordelikheid voor God om ons vrouens te help om toegewyd te leef aan Christus Jesus.

· Ons vierde punt hang baie nou saam met hierdie punt, nl. dat ’n heilige persoon iemand is wat opsy gesit is om heilig te wees en heilig te leef. Die implikasie hiervan is dat God, mans verantwoordelik daarvoor hou dat hulle, hul vrouens geestelik sal versorg en sal toesien dat hulle geestelik sal groei en volwasse sal raak in die Here Jesus Christus. Dit eindig egter nie daar nie, want die implikasie is dat die man wat die hoof van sy huishouding is, ook sal toesien dat dit met sy kinders sal gebeur – Ef.6:4 ~ En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil. Die man moet dus sy gesin reinig deur hulle te lei in die Woord van God.

· Laastens sien ons in v.27, dat Christus Sy Bruid, ...die kerk in volle heerlikheid by Hom (wil) neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. John Stott noem hierdie vers, die eskatologiese dimensie van die huwelik, m.a.w. die eindproduk, wanneer elke gelowige (die Kerk) voor God sal verskyn – skoon gewas van al hul sonde deur Jesus Christus. Net so moet ’n man nooit sy vrou oorheers en verneder en “soos ’n vloerlap” misbruik nie, maar hy moet haar geestelik lei en haar geestelik “skoon was” en hy moet meehelp en haar voorberei en haar aanmoedig, om sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik, te lewe en sodoende haar volle potensiaal in Christus Jesus te ontwikkel.

5. AFSLUITING:
Paulus het in vv.23-29, die huwelik geskets as die verhouding wat bestaan tussen die Kerk en Jesus Christus. Volgens Openb.21:9 is Christus die Bruidegom en die Kerk Sy Bruid. God se kinders, die Kerk, word deel van God se Koninkryk, deur hul geloof in Jesus Christus – Hy wat Sy lewe afgelê het vir elkeen wat in Hom glo en wie se sonde vergewe is deur Sy soendood.

In die lig hiervan, sluit Paulus sy rede af in vv.32-33 wanneer hy sê ~ Hierin lê daar ’n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. 33 Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ’n vrou moet aan haar man eerbied betoon. Elke man moet dus sy vrou liefhê soos wat Christus die Kerk lief het en elke vrou moet haar liefde vir Christus betoon, deur haar te onderwerp aan haar man se leierskap wat deur God aan hom opgedra is.

God het die huwelik o.a. ingestel, sodat ’n gelowige man en ’n gelowige vrou, die diepste moontlike wedersydse vervulling en geluk in mekaar kan vind. Gelowiges oor die algemeen, erken hierdie feit, maar raak tog soms ontmoedig a.g.v. die sondesmet en persoonlike mislukkings en daarom voel baie gelowiges (en baie mense oor die algemeen) dat die huwelik ’n hopelose saak is. In Christus Jesus, is niks egter ooit ’n hopelose saak nie en ek wil vandag vir julle ’n eenvoudige akroniem gee wat julle kan help om ’n huwelik wat soms hopeloos en uitsigloos lyk, om te draai. Ek noem die akroniem SODA. Ons weet dat soda iets is wat bruis en skoonmaak; wat borrelend en reinigend werk en dit is presies wat ons moet doen om ons huwelike, bruisend en borrelend, rein te hou:
S = Die “S” staan vir “seën”. Wanneer egpare mekaar seën beteken dit dat hulle op ’n beskaafde, liefdevolle, belangstellende, waarderende en opbouende wyse met mekaar praat – Altyd! Dit beteken egter ook dat jy gedurig vir jou lewensmaat sal intree by die Here en Sy seën sal afbid op hom of haar.
O = Die “O” staan vir “opbou”. Mans moet hul vrouens opbou deur hulle te komplimenteer en te prys en trots te wees op hulle, terwyl vrouens hul mans op dieselfde wyse moet opbou, maar ook deur op ’n liefdevolle wyse te reageer op hul mans se komplimente en “lofliedere”.
D = Die “D” staan vir “deel”. Om te deel beteken om sáám te doen. Om saam te doen impliseer om aandagtig en met belangstelling te luister; om lief te hê; om van mekaar te leer; om saam ondersoek in te stel; om terug te rapporteer; om saam te ontspan, ens.
A = Die “A” in ons akroniem staan vir “aanraking”. Ek weet baie mans is nie baie oop hiervoor nie, maar aanraking van beide mans en vrouens se kant is uiters noodsaaklik en belangrik.

Hierdie vier reëls is praktiese wyses om dít wat die Woord van God aan ons leer t.o.v. die huwelik, toe te pas en uit te leef.

Ek weet dat dit harde werk verg om hierdie akroniem toe te pas, maar as ons, ons huwelike tot eer van God wil uitleef; as ons ’n sukses van ons huwelike wil maak; as ons gelukkig wil wees, moet ons hard werk aan ons huwelike. Christus het so “hard gewerk” aan Sy “huwelik” met Sy Bruid, dat Hy Sy lewe afgelê het vir haar!

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 11 April 2010

Sunday, April 4, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 04 April 2010

Keerpunte in Christus se Aardse Lewe - 01 (Christus by die Jordaan) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Luk.3:1-22 ~ Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters. 2 In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3 Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4 So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja: “Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit. 5 Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word; die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word. 6 En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.” 7 Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8 Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9 Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” 10 Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” 11 Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.” 12 Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?” 13 En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.” 14 Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.” 15 Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16 Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17 Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.” 18 Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig. 19 Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20 Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit. 21 Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22 en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

2. INLEIDING:
’n Baie eienaardige man met die naam van Johannes die Doper is hier besig om te preek en op die oog af mag die inhoud van hierdie preek dalk vreemd en selfs onverstaanbaar voorkom, maar hierdie preek is ’n verstommende preek wat vandag nog net so geldend is.

3. DIE INHOUD VAN JOHANNES SE PREEK:
Ons gaan vanoggend kyk na hierdie preek van Johannes en wel onder die volgende vier opskrifte:
· Johannes het die status van die Staat Israel van die tafel afgevee (v.7-9). Talle mense het na Johannes kom luister en ons moet in gedagte hou dat hierdie mense almal afstammelinge van Abraham is en daarom het hulle ook aanspraak gemaak op al die beloftes van seën wat God aan Abraham gegee het. Hulle het dit regmatig gegrond op God se belofte aan Abraham, nl. dat Hy vir Abraham ’n groot nageslag sou gee en dat Hy hulle sou seën. Maar wat sê Johannes hierop? V.7 ~ Julle slange.... Die luisteraars maak aanspraak daarop dat hulle biologies, afstammelinge van Abraham is, maar Johannes sê dat hulle afstammelinge van die Slang (Satan) is.

Johannes voeg egter iets daarby – V.8b ~ En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. God kan dus afstammelinge van Abraham maak wat geen fisiese of biologiese bande met Abraham het nie – ’n nageslag dus wat kan deel in die beloftes wat God aan Abraham gemaak het t.o.v. sy nakomelinge.

Hierdie woorde van Johannes was geweldig ingrypend en skokkend, want sy toehoorders het een ding as vanselfsprekend aanvaar en dit was dat hulle ’n bepaalde geestelike status en waarborg gehad het, op grond van wie hulle in Abraham was. En wat doen Johannes? In net twee sinnetjies, pluk hy die mat onder hulle voete uit, deurdat hy vir die Jode sê dat hulle status voor God presies dieselfde is as enige iemand anders. Dit is die eerste groot uitspraak wat Johannes in sy preek maak – Julle status voor God is presies dieselfde as alle ander mense (die heidene dus ingesluit).

· ’n Tweede punt wat hy in sy preek maak en daarmee waarsku hy ook sy toehoorders, is die naderende oordeel van God wat aan die kom is. V.7b ~ Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Johannes waarsku die Jode dus dat hulle in lewensgevaar verkeer. Hy vergelyk hulle in v.9 met bome wat nie goeie vrugte dra nie en wat gevolglik afgekap en verbrand gaan word. Hy sê dus: Godsdienstige Jode, dit maak nie saak hoe diep julle wortels strek nie – selfs tot by Abraham – wat saak maak is of julle goeie vrugte dra en elke boom wat nie vrug dra nie, gaan afgekap en verbrand word. In plaas dus daarvan om Abraham se “seënbeloftes” te ontvang, gaan hulle God se verterende vuur ervaar.

· Derdens wys Johannes in sy preek na die koms van die Messias – die Verlosser. Wie gaan die verterende vuur van oordeel bring? Wie gaan dus die oordeel van God uitvoer? Verse 16 en 17 ~ Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17 Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.” Johannes kondig hier die koms van die Messias aan en hy skilder Jesus as Een met ’n skop (of ’n skopgraaf) in die hand – dit is amper soos ’n langsteel tuinvurk wat die boere van destyds op die dorsvloer gebruik het om die geoeste koring in die wind in te gooi, sodat die kaf wat ligter as die koring was, kon wegwaai en net die koring op die dorsvloer kon val. Hierdie kaf wat nie op die dorsvloer val nie, word dan later bymekaar gemaak en verbrand. Johannes sê dus dat die komende Messias, dié Een gaan wees wat die kaf van die koring gaan skei en die kaf gaan verbrand. Die Messias kom dus om die goddeloses van die gelowiges te skei. Hy gaan die wêreld veroordeel en God se kinders gaan soos die koring op die dorsvloer bymekaar gemaak word. Die gelowiges gaan dus vir ewig, veilig bewaar word, maar die goddeloses gaan in die vuur gegooi word.

Johannes sê hier in vers 16 dat hy net met water doop, maar dat Christus met water én met vuur gaan doop. Die Messias gaan dus Sy eie mense met water doop en hulle reinig met die Gees van God, maar ongelowiges gaan in vuur gedoop word – die vuur van God se wraak.

Wat belangrik is om hier van Johannes te verstaan, is dat hy die Messias verwag as die “Groot Regter” of “Veroordelaar” – “God se Laksman”. Ja, Christus gaan verlossing bring en Hy gaan die gawe van die Gees aan die ware kinders van God bring, maar Hy gaan terselfdertyd die sondaars doop met die groot vuur van oordeel.

Hou die luisteraars hier in gedagte – Johannes sê nie sommige van julle gaan hierdie vuur vryspring nie. Nee, hy sien hulle almal as sondaars – almal is skuldig – “die byl” lê teen elke een wat daar was, se “stam” – almal voor die voet is sondaars en verdien die vuur van God se oordeel! Hy beskryf hulle een na die ander in verse 12 en verder aan – die tollenaars, die soldate, ens. en hy spel hulle sonde vir hulle uit en hulle verdien almal die oordele van God en hulle gaan dit ook ontvang – hulle verdien dus om soos kaf verbrand te word.

· Vierdens doen Johannes ’n ernstige beroep op sondaars om hulle te bekeer – v.3 ~ Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. Johannes sê dus aan hierdie mense – Dit is nog nie te laat nie, want julle sondes kan nog vergewe word. Dit is nog te laat nie, maar julle moet julle bekeer en julle bekering moet opreg wees. Sommige mense het gesê dat hulle, hulle bekeer het, waarop Johannes dit verwerp het en daarom sê hy in v.8a ~ Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is.

Hulle moet dus die opregtheid van hul bekering bewys deur daadwerklike en sigbare optrede. En vir diegene wat hulle waarlik bekeer het, het hy daarop aangedring dat hulle gedoop moes word, as teken van hulle bekering, want hy het ’n doop van bekering van hul sondes gepreek – en baie mense het hulle bekeer en hulle laat doop, want hulle het die boodskap wat Johannes gepreek het, geglo. Hulle het geglo dat die Messias oppad was. Hulle het geglo dat die Messias, God se wraak gaan uitstort – ’n Doop van vuur wat sondaars gaan vernietig. Hulle het geweet dat hulle moes vlug van die naderende oordele van God. En hulle geweet dat die enigste manier om dit te doen was deur hulle sonde te bely en hulle te bekeer en God se vergifnis te soek. Daarom het hulle na Johannes gekom om gedoop te word in die Jordaanrivier.

4. DIE DOOP AS TEKEN:
Met hierdie vier punte in gedagte, kan ons nou die vraag vra: Waarom het Johannes gedoop? Ja, ons het reeds gesê dat dit ’n duidelike teken van bekering was. Waarom het Johannes egter die doop as teken gekies? Waarom was dit belangrik dat hierdie sondaars wat hulle bekeer het, in die Jordaanrivier gedoop moes word? Waarom moes hulle onder die water verdwyn wanneer hulle gedoop word?

Wel, onthou weer wat Johannes aan hulle gesê het: Hy het in v.16 vir hulle gesê ~ Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Die water waarin Johannes hulle doop is dus ’n heenwysing na die vloed van die Heilige Gees wat God se kinders sal oorspoel, maar terselfdertyd is dit ’n heenwysing na die vloed van vuur wat sondaars gaan verswelg.

Johannes neem diegene wat hulle bekeer, af in die water en hulle vertou hulleself toe aan hom, deurdat hy hulle weer uit die water sal bring – gewas van kop tot tone. Hierdie is dus alles ’n voorafskaduwing van wat die Messias met en vir Sy kinders gaan doen. Maar ook wat die Messias gaan doen met diegene wat hulle nie bekeer nie. Johannes sê dus vir hulle, dat net soos wat hy hulle veilig deur die water sal neem, net so kan en sal die Messias hulle veilig deur die komende vuur van oordeel neem. Hulle sal veilig en beskermd wees wanneer die res van die wêreld gedoop word in die vuur van oordeel – maar veel meer as net dit: Die Messias sal hulle nie net beskerm nie, maar Hy sal hulle in die Heilige Gees in dompel, of doop, sodat hulle skoon en nuut kan wees.

Die mans en vrouens wat hulle laat doop het, het deur hierdie optrede hulle vertroue uitgespreek dat die Messias hulle veilig deur die oordele van God sou neem. Johannes se doop was dus ’n doop van bekering, maar dit was ook ’n doop van geloof. Die mense wat hulle laat doop het, het dus gesê: Ja, dit wat Johannes gesê het is waar en ons glo dat die Messias kom. Ons glo dat Hy die wêreld met vuur gaan doop, maar die dag wanneer dit aanbreek, wil ons hê dat Hy ons sal beskerm en verlos. Op daardie dag moet Hy ons bymekaar maak en wegbêre soos wat ’n mens sal doen met uitgewande koring. Ons wil hê dat Hy ons veilig deur die doping met Vuur sal bring. Meer as dit nog, ons glo ook dat Hy ons in die Heilige Gees sal indoop en ons rein maak. Ons vertrou Hom om dit te doen wanneer Hy kom.

Kom ons som net vlugtig op wat ons tot nou toe gesê het:
- Johannes trek ’n streep deur die nageslag van Abraham, deur vir hulle te sê dat God se beloftes aan Abraham se nageslag nie op hulle van toepassing is, indien hulle, hulle nie sou bekeer nie – slegs diegene wat hulle bekeer kan dus aanspraak maak op die titel, “Abraham se nageslag”.
- Hy sê voorts, dat indien hulle, hulle sou bekeer, God hulle die ware Israel sal maak – die ware kinders van Abraham. God bring dus ’n nuwe volk byeen wat hulle bekeer en wag op die koms van die Messias.
- Hierdie nuwe volk van God, plaas hul vertroue in Christus die Messias om hulle te beskerm op die dag wanneer God se oordele oor die wêreld gaan losbars.
- Hulle plaas hulle vertroue in die komende Christus om hulle in die Heilige Gees te doop. Hulle vertrou Christus dus “vooruit”.
- En die teken van hierdie bekering en hul vaste vertroue wat hulle plaas in die Messias, is die doop deur onderdompeling.
- Johannes het die volslae leegheid en waardeloosheid van dít waarin hulle nog altyd geglo het, ontbloot deur sy prediking. Hy ontbloot die diepte van hul verlorenheid en hy skets aan hulle God se oordeel wat wag om oor hulle los te bars en hulle enigste hoop op verlossing en beskerming is nou op die Messias gevestig.

Die indruk wat dus in die gemoedere van hierdie toehoorders gelaat was, was ’n skrikwekkende gesig – ’n Messias wat met ’n byl kom om uit te kap, almal wat hulle nie bekeer nie. Hy het reeds die skop van God in Sy hand – gereed om die kaf van die koring te skei. Hy kom as ’n onuitblusbare en verterende vuur wat die kaf kom verbrand. Hy is die Almagtige wat die woede van God oor die skuldiges kom uitstort. Ja, al het hierdie mans en vrouens geglo en hulle bekeer, moes daar nogtans vrees in hulle harte geleef het by die gedagte aan die komende Messias. En dit is vir hierdie mense vir wie Jesus van Nasaret gekom het.

4. JESUS WORD GEDOOP:
Markus stel dit baie eenvoudig in sy Evangelie ~ Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom (Mark.1:9). En wat gebeur? – Hy, die Messias word ook deur Johannes die Doper gedoop. Die woorde “van Nasaret in Galilea” het eintlik alles gesê, want die Jode het geglo dat die Messias ’n Koning gaan wees wat geklee is in al Sy majesteit en wat alle ongeregtigheid gaan uitroei met die byl van oordeel – en wie kom by die Jordaanrivier aan? Jesus van Nasaret in Galilea! ’n Man in gewone klere – ’n Skrynwerker! Wat meer is, hulle verwag die Messias wat die gelowiges in die Gees kom doop en die ongelowiges in die vuur. En wat gebeur? Die Messias laat Hom deur Johannes doop! Jesus volg presies dieselfde weg wat elkeen van hierdie Godvresende sondaars gevolg het.

Jesus gaan saam met hulle in die water van die Jordaan; Hy staan saam met hulle daar; Hy vereenselwig Hom met hulle. Lukas som hierdie gebeure op in een sin, nl. in Luk.3:21a ~ Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop. Luister wat hier staan: Toe AL die mense hulle laat doop het – AL die mense! Waarop dui hierdie uitdrukking “AL die mense”? Dit dui op almal wat hulle bekeer het – die ware Israel met ander woorde. Wat Lukas dus eintlik hier sê, is dat toe almal wat geglo het hulle laat doop het, het Jesus saam met hulle die water ingegaan om ook gedoop te word. Jesus gaan dus ’n verhouding van eengesindheid met die ware Israel hier aan. Jesus verbind Homself met hierdie skuldige sondaars. Hy word gedoop, omdat hulle gedoop word.

Waarom doen Jesus dit? Waarom moet Jesus saam met hierdie mense in die Jordaanrivier gaan staan? Onthou wat ons gesê het. Die water is die teken van die oordeel van God wat oor die wêreld heen gaan spoel om die sondaars te veroordeel en Jesus sê deur hierdie optrede van Hom: Wanneer die vloed van oordeel aanbreek – wanneer daardie getygolf van God se oordele breek, sal Ek saam met My kinders daar deurgaan. Hulle het na My gekom vir beskerming – Ek sal dit vir hulle gee en die enigste manier waarop Ek dit kan doen is om saam met hulle deur die water te gaan – deur die vloedgety van oordeel. Jesus vereenselwig Hom dus met God se uitverkore volk, sodat hulle veilig in Hom kan wees; sodat hulle deur Hom beskerm kan word wanneer die vuur van God se oordele die wêreld tref.

Wat het hierdie mense gesê toe hulle gedoop is? Ons wil deur Jesus beskerm word. En wat sê Jesus deur Sy doop? Hy sê: Ek wíl julle beskerm, ongeag die prys. Jesus se doop is dus die teken dat Hy gewillig is om hierdie mense te red en te verlos van God se oordele. Hy is gewillig en gereed om verantwoordelikheid vir hulle te neem en ’n skild vir hulle te wees teen God se toorn en gramskap.

Die kern van Johannes se prediking was dat God Sy toorn op sondaars gaan loslaat en natuurlik was Johannes heeltemal reg toe hy dit gepreek het, want daar gáán ’n dag kom dat Jesus sigbaar gaan word, wanneer Hy saam met Sy magtige engele op die wolke gaan verskyn ten einde die mensdom en die ganse skepping te oordeel. Arme Johannes het nie alles geweet nie – Hy het nie insig in God se plan gehad nie, want Jesus die Messias moes, voor Hy die vuur van God se oordeel loslaat, eers self, ter wille van God se kinders, die vuur van oordeel ervaar. Jesus moes eers sélf “verdrink” in die “getygolf” van God se oordeel, voor Sy kinders veilig daardeur kon gaan. Eers dan, eers wanneer Jesus, die vuur van God se gramskap ervaar het t.w.v. Sy kinders, eers dan kan Hy die Heilige Gees op Sy mense uitstort.

Johannes het nie verstaan waarom Jesus gedoop moes word nie, daarom dat hy in Matt.3:14 Vir Jesus sê ~ Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe? Johannes weet dat die doop vir sondaarmense is en Jesus is sonder sonde, waarom moet Jesus dan gedoop word? Jesus het egter gekies om saam met die skuldiges te staan – om met hulle vereenselwig te word, sodat Hy die skuld van die sondaars en daarmee saam, God se gramskap op hulle sonde, kon wegneem en dat hulle dieselfde Gees wat in die gestalte van ’n duif op Jesus neergedaal het, kon ontvang (Luk.3:22).

5. AFSLUITING:
Jesus het daardie dag by die Jordaanrivier Homself verenig met die AL die mense wat hulle sou bekeer en hulle laat doop en ook in die toekoms hulle sou bekeer en laat doop – met die ganse nuwe Israel – met jou en my wat gered is dus.

Hierdie verhaal is ’n wonderlike verhaal, want hier sien ons dat Jesus op daardie dag met Sy doop Homself verbind het aan almal wat in Hom glo.

Miskien kan jy in jou geestesoog vir Jesus daar in die Jordaanrivier, tussen die groepie sondaars sien staan en miskien sien jouself ook daar staan – deel van daardie groepie sondaars. My liewe vriend en vriendin, Jesus het ook in die water ingeloop, sodat Hy jou en my Beskermer – my en jou Redder, vir ewig kan wees. Hierdie plan van God om sondaars wat hul bekeer te red, is reeds voor die skepping in werking gestel en dit het Sy eie Seun, Jesus Christus gekos om hierdie redding te bewerkstelling. En Jesus het gekies om in liefdevolle gehoorsaamheid deel te hê aan hierdie reddingsplan – selfs vir die ergste sondaar denkbaar. En dit is nié te laat om die knie voor Jesus Christus te buig as die Heilige Gees vandag met jou praat nie – hoor wat het aan die kruis op Golgota gebeur net voor Jesus gesterf het ~ Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word .... Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” 40 Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41 In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42 Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” 43 Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk.23:32 ,39-43).

“Staan jy saam met Jesus in die Jordaanrivier?” Indien nie, is dit nog nie te laat nie! Laat Johannes se wekroep in ons ore weerklink ~ Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe (Luk3:3b).

[1] Met erkenning aan Stephen Rees (Manchester, Engeland) – Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 04 April 2010