Sunday, January 30, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 07 (“Navolgers van Christus”)


1.     SKRIFLESING:
Fil.3:17-19 ~ Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18 Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19 Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.  

2.     INLEIDING:
Kinders het baie dikwels die een of ander held wie se leefwyse en optrede en maniere hulle baie dikwels navolg.  Jy sien dit bv. in seuntjies wat graag soos Jonty Rhodes wil veldwerk doen, hulle sal net soos hy duik na die paaltjies om ’n kolwer te probeer uithardloop, al staan hulle by die paaltjies.  Of jy sien dit in meisies wat almal skielik die haarstyl van een of ander popsangeres navolg. 

Ons wil baie dikwels graag soos iemand anders wees en ons volg dan ook die voorbeeld, of gewoontes na van so ’n persoon.  In kort, die mens is baie beïnvloedbaar deur ’n invloedryke persoon of groep mense – dikwels is dit omdat ons graag “in” wil wees, of omdat daardie persoon optree soos wat ek graag sou wou optree, of dit lyk of klink oulik.

Hierdie tendens by die mens om een of meer identifikasiefiguur of –figure te hê is niks nuuts nie,  Paulus praat in ons Skriflesing oor presies dieselfde ding, nl. om ’n navolger van iemand te wees, maar Paulus kwalifiseer dit baie duidelik vir sy lesers, wanneer hy sê dat hulle nie navolgers van sommer enige persoon moet wees nie en dan spreek hy hierdie saak aan onder twee opskrifte, nl.:
·         Navolgenswaardige voorbeelde;
·         Verwerplike voorbeelde.

3.     NAVOLGENSWAARDIGE VOORBEELDE:
Kom ons kyk dan eerstens na, navolgenswaardige voorbeelde en Paulus kom met ’n verklaring na vore in v.17 wat waarskynlik nie gemaklik op sy lesers se ore geval het nie – hy sê ~ Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. Wees ’n navolger van my, sê hy!  Van my!  Is Paulus nie ’n bietjie arrogant wanneer hy dit sê nie?  Is hy nie vol van homself nie?  In 1Kor.4:16 het hy presies dieselfde ding vir die gemeente in Korinte gesê, toe hy gesê het ~ Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld! (1Kor.4:16).

Hoe kan Paulus so iets kwyt raak?  In 1Kor.11:1 sê hy weer dieselfde, nl. Volg my voorbeeld...  Hy kwalifiseer egter in die tweede gedeelte van vers 1 wat hy daarmee bedoel, wanneer hy sê ~ ... soos ek die voorbeeld van Christus volg.

Die gemeente in Filippi het presies geweet wat hy met hierdie oënskynlik arrogante uitdrukking bedoel het, want hy het dit reeds in 4:9 verduidelik, toe hy gesê het ~ En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.  Met ander woorde, hy sê vir hulle:  Dit wat julle van my geleer het t.o.v. God Drie-Enig – dít is wat julle moet navolg en doen.

Wat Paulus dus bedoel wanneer hy vir sy lesers in Fil.3:17 sê ~ ...wees my navolgers ... en lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel, het dus niks te doen met sy eie lewe wat in elk geval, vol sonde is nie; of sy karakter wat beslis nie vlekkeloos is nie.  Nee, dit gaan daaroor dat hy vir hulle sê:  Ten  spyte van al my gebreke en sonde, volg ek Jesus Christus met my hele wese na en dit is wat ek wil hê julle ook moet doen – volg Jesus Christus in alles na, soos wat ek probeer doen

Hierdie lesers van Paulus se brief, het geweet dat hy nie vol van homself is nie en dat hyself, net soos hulle sukkel met sonde, want hy het dit reeds in 3:12 vir hulle gesê ~ Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.

Paulus moes egter ook ten diepste geweet het dat sy eie voorbeeld en leefwyse van so ’n aard moes wees dat dit navolgenswaardig was, trouens hy het dit meer as eenkeer ook gesê in sy sendbriewe aan gemeentes.  Dink bv. aan 1Tim.1:16 ~ Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.  Hier is ’n pragtige voorbeeld van hoe hy vir almal duidelik laat blyk het dat hy ’n sondaar is en volgens hom, dié grootste sondaar, maar dat God hom uit genade gered het en op dieselfde wyse moet sy lesers ook sy voorbeeld navolg en soos hy, in Christus Jesus glo; Hom navolg en God se genade in hul lewens ervaar.

Paulus gaan egter nog ’n stappie verder, deur bv. in Titus 2:7 dit op Titus se hart te druk, dat Titus op sy eie lewenswandel en voorbeeld moet let, wanneer hy sê ~ In alles moet jy self vir hulle ’n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag.... Paulus sê dus vir Titus, dat die mense na sy optrede en voorbeeld kyk en as hy derhalwe nie die regte voorbeeld stel nie, kan hy nie navolgenswaardig wees nie.  In 1Tim.3:2 en verder aan, verskaf Paulus ’n lys van eienskappe waaraan ouderlinge moet voldoen, deurdat hy begin en sê ~ ’n Ouderling moet onberispelik wees... en wat daarop volg.

Paulus is dus pynlik bewus van die feit dat hyself ook ’n navolgenswaardige lewe moet lei, maar deur hierdie voorbeeldige lewe wat hy lei; deur hierdie onberispelike optrede, moet mense se fokus op Christus Jesus gevestig word en nie op homself nie.  Die gemeente in Filippi kan dus na sy eie lewe kyk en dit ook navolg, máár die voorbeeld wat hy spesifiek wil hê dat hulle moet navolg, is sy ywer om Jesus Christus na te volg en aan Hom gehoorsaam te wees en dít is wat hul dryfveer en fokus ook moet wees – die eer van die Here!

4.     VERWERPLIKE VOORBEELDE:
Paulus sê egter nie net aan sy broers in Filippi, dat hulle sy voorbeeld moet navolg nie, hy sê ook vir hulle dat daar mense is wie se voorbeeld hulle nié moet navolg nie en hy noem hulle in v.18, ...die vyande van die kruis van Christus.  Hierdie benaming staan in skrille kontras met wat hy in Gal.6:4 aan die Galasiërs gesê het, nl. ~ Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.  Jy roem dus óf in die kruis van Jesus Christus, óf jy is ’n vyand van die kruis van ons Here Jesus Christus.  En dít is hierdie lg. vyande van die kruis wat Paulus voorhou as slegte voorbeelde wat nie nagevolg moet word nie.

Wie en wat is hierdie “vyande van die kruis” en hoe tree hulle op?
·    Eerstens sê hy dat die verderf hulle einde is (v.19).  Die woord verderf wat hy hier gebruik is in die Grieks apwleia (apoleia), wat ’n fisiese, geestelike of ewige verwoesting en die dood in die ewige verdoemenis impliseer.  Die woord beteken egter ook om iemand anders se lewe só te verwoes dat hy óók uiteindelik in die ewige verderf sal beland.  Dit laat ons dadelik dink aan Jesus se woorde in Matt.10:28 toe Hy gesê het ~ ... vrees Hom (God) eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.  En dit is waarteen Paulus sy lesers wil waarsku:  Moenie die voorbeeld van die vyande van die kruis navolg nie, want hulle uiteinde is die ewige verderf en hulle wil julle inslurp, sodat julle saam met hulle in die ewige verderf kan vergaan.

Paulus is hartseer wanneer hy hierdie dinge vir sy broers in die gemeente skryf.  Waarskynlik was dit omdat hy geweet het hoe hard hy daar gewerk het; hy weet watter voorbeeld hy aan hulle gestel het; hy weet wat hy hulle geleer het.  Hy weet dat sy lering, net soos in Efese, gepaard gegaan het met trane (Hand.20:31), omdat hulle waarskynlik so dikwels net niks wou doen ten opsigte van die boodskap wat hy gebring het nie.  En nou hier in Filippi is daar oënskynlik steeds  mense wat die vyande van die kruis wil navolg, daarom sê hy dat hy dit tot sy verdriet weer vir hulle moet sê (v.18)

Daar is egter nog ’n rede waarom Paulus moontlik hartseer is en R.C. Sproul stel dit pragtig wanneer hy sê:  Paul weeps, not because he fears someone can undo what Christ has done, but because of the destruction in store for opponents of the gospel.  This destiny completes the destructive process initiated by their own sin [2].

Watter rede ook al die bron vir sy hartseer was, glo ek dat iets van beide motiewe korrek kan wees.
·      Tweedens beskryf Paulus hierdie vyande wat nie nagevolg moet word nie, deur drie voorbeelde in v.18 te noem:
-                  Eerstens sê hy dat hulle maag hulle god is.  In Titus 1:12 word daar na hierdie mense verwys as lui vrate. Dit gaan nie hier in die eerste plek oor vet of “ronde” mense nie.  Dit gaan, soos Rom.16:18 dit stel, oor mense wat hulle eie drifte en drange volg.  Dit gaan hier oor selfsugtige begeertes wat gewoonlik aangedryf word deur trots en selfgesentreerdheid.  Hierdie mense dien Christus dus nie, maar hulle eie vlees en begeertes.  Hulle eie belange word voorop gestel en nie Christus Jesus nie.  Hierdie mense is waarskynlik daardie vals leraars teen wie Paulus ál die Nuwe Testamentiese gemeentes voortdurend gewaarsku het – hulle wat verdeeldheid wou saai en gemeentes uit mekaar wou ruk en waarom?  Omdat hulle hul eie agendas en hul eie identiteit op gemeentes wou afdwing – in kort, hulle wou gemeentes uitmekaar skeur, deur verdeeldheid te saai en vals leer te verkondig.
-                  Tweedens sê hy dat hulle skande hulle trots is.  Hierdie vyande van die kruis is baie trots op dit wat hulle doen en verkondig, maar hulle is soos Judas 13 dit stel, wolke sonder reën; vrugtebome sonder vrugte; branders wat net skuim spat; sterre wat rond beweeg en derhalwe nie rigting kan verskaf nie (skepe in die ou dae het m.b.v. ’n sekstant hulle posisie en rigting op die sterre gepeil) – hulle kan geen voorbeeld stel nie; hulle kan nie rigting aandui nie – hulle is gedoem en diegene wat hulle navolg is net so gedoem – hulle trots sal hulle skande word en uiteindelik sal hulle, hulle trots in hul sakke moet steek, omdat dit teen hulle gaan tel wanneer hulle verantwoording voor God moet doen.
-                  En laastens sê hy dat hulle aardsgesind is.  Wat bedoel Paulus met die uitdrukking, aardsgesindheid?  Rom.8:5a sê ~ Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur.  Wat is hierdie sondige natuur?  Kol.3:2 sê dat dit is om jou ...gedagtes te rig op die dinge wat op die aarde is.

Aardsgesindheid beteken verder dat hierdie mense net aan die wêreld en dít wat die wêreld bied dink; hulle leef vir die vlees – die gode van hul maag.  En hulle einde is verwoesting en verdelging.  Sulke mense is vyande van die kruis – dít terwyl die kruis die wêreld en die vlees oorwin het; die kruis impliseer opoffering en swaarkry, terwyl aardsgesindheid, net selfgerigte plesier soek en bied.
 
Met sulke mense sê Paulus mag die gelowiges nie identifiseer nie, want hulle pad lei reguit na die verderf, trouens Jesus het self in Matt.7:13 gesê ~ ...Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.  Die hartseer realiteit hiervan is dat só baie mense wat deur hierdie “aardsgebondenes” beïnvloed word, saam met hulle op ’n pad van ’n selfverwoesting is.  Dit impliseer dus dat aardsgebondenheid nie net beperk word tot mense wat nié die Here dien nie – mense wat hulleself Christene noem, maar wat steeds hierdie wêreld en dit wat hierdie wêreld bied lief het, is ook aardsgebonde en diesulkes moet versigtig wees dat hulle nie ook op verwoesting en die ewige verderf afstuur nie.

5.     TOEPASSING:
Hierdie pleidooi wat Paulus in hierdie gedeelte tot die gemeente in Filippi rig is vandag nog net so relevant en die vraag wat jy vir jouself moet afvra is of jy met aardsgesinde mense identifiseer en hulle voorbeeld navolg, of kan jy soos Paulus sê ~ Wees my navolgers, broers?  En is die voorbeeld wat jy stel geskoei op die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het?  Jy moet so versigtig wees met wie jy in hierdie lewe “skouer skuur” en met wie jy identifiseer en dit raak nie net jou sosiale vriendskappe nie – dit raak ook organisasies waaraan jy mag behoort.  Dit raak jou ontspanning; jou stokperdjies; jou lees- en kykstof, ens.

Daar gaan egter iets hiermee gepaard.  Die vraag wat jy ook vir jouself moet afvra is:  Huil ek ook soos Paulus oor die aardsgebondenes?  En wat doen ek daaromtrent?

Paulus praat nie in hierdie gedeelte waarna ons vanoggend gekyk het, van redding nie, maar van heiligmaking.  Is heiligmaking ’n ernstige saak vir jou, of staan jy steeds met een voet in die wêreld en maak jy jouself skuldig aan wêreldgelykvormigheid? 

Geliefdes, ons moet saam met Paulus uitroep ~ Dit is werklik so.  Ek het besef dat enigiets wat ek kan hê eintlik ’n verlies is as ek dit vergelyk met die voorreg wat ek het om Christus Jesus my Here te ken.  Noudat ek in Christus Jesus ingeplant is, gee ek alles prys en beskou ek die dinge van hierdie wêreld as drek, sodat ek Christus as wins kan kry, met die doel dat ek Hom kan ken en die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde terwyl ek aan Sy dood gelykvormig word, sodat ek onder lyke kan opstaan (Fil.3:8, 10-11 – geparafraseer).


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 30 Januarie 2011
[2] Chrispin, Gerard.  Philippians for Today.  2005.  Day One Publishers.  Leominster,  HR6 8NZ. United Kingdom.  p.259. (ISBN 1 84625 000-5)

Monday, January 24, 2011

Openbaring Ontsluit - 28 (“Die Heilige Oorlog - 03”) [1]


1.     INLEIDING:
In Joh.12:31 het Jesus die volgende aan Sy dissipels oor Sy komende kruisiging gesê ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. In Johannes Calvyn se kommentaar oor hierdie gedeelte sê hy die volgende (ek haal aan in Engels)As if He had already finished the fight, the Lord now rejoices as the Victor, not only over fear but also over death... And although Christ had already begun to set up the kingdom of God, it was His death that was the true beginning of a properly-ordered state and the complete restoration of the world.  Calvyn het onwrikbaar geglo dat die kruisgebeure, die aanvang van die hervorming en herstel van die wêreld was.  Hy het dus geglo dat die kruis die beginpunt was van die herstel van die verhouding tussen die mens en God.  Hierdie is dan ook deurgaans die onderliggende tema van Openbaring. Hierdie brief van Johannes is dus nie een of ander mistiese geskrif wat ons allerlei leidrade gee sodat ons die toekoms kan ontrafel nie.  Nee hierdie profesie is primêr vir ons gegee, sodat ons die Persoon van Jesus Christus beter kan leer ken en kan sien hoe dat Hy Sy koninkryk deur die kerk, vestig in hierdie wêreld.

Openbaring 12 is een van die duidelikste gedeeltes in die Woord om hierdie waarheid aan ons te openbaar.  Hierdie hoofstuk vertel vir ons van die heilige oorlog en hoe dit by Israel begin het (God se Ou Verbondsvolk) en hoe hulle deur die groot draak, satan geteister is.  Satan het dan ook die volk vervolg omdat die ware Israel in die midde van die Ou Verbondsvolk bestaan het – hulle wat vooruit geglo het in die Saligmaker, Jesus Christus. 

Satan het egter die Joodse volk om nog ’n rede vervolg en dit was omdat hy geweet het dat die Messias vanuit die volk van Israel gebore sou word en daarom wou hy die volk verwoes, sodat Jesus Wie belowe is dat Hy die satan se kop sou kom vermorsel, nie gebore sou word nie – Satan het dus in voortdurende vrees geleef!  Jesus is egter gebore en Hy het uiteindelik opgevaar na die hemel en die satan het derhalwe sy fokus verskuif en gefokus op die kerk – die ware Israel van God – dit alles sien ons in 12:1-6.

Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart, het ’n hemelse viering en feestelikheid tot gevolg gehad en ons behoort saam te jubel met almal in die hemel oor hierdie gebeure rondom Jesus.

Nadat Johannes die groot rooi draak gesien en sy magte gesien het, het hy ’n harde stem in die hemel gehoor.  Dit was ’n stem wat feesvieringe verteenwoordig het en hoor net wat sê die stem in v.10 ~ Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde!  Wat het hier gebeur (vanuit “hemelse perspektief”)?  Christus het na die hemel terug gekeer, Satan is neergewerp op die aarde en Christus se koninkryk het gekom.  Toe Adam gesondig het, het Satan die heerskappy wat aan Adam gegee was, onwettig vir homself opgeëis.  Die Laaste Adam het die satan egter nou verslaan en die heerskappy en gesag terug geneem.  Satan het geen gesag meer in hierdie wêreld nie en alle gesag op aarde en in die hemel behoort nou aan Christus.

Omdat Christus die oorwinning behaal het, het ons ook die oorwinning oor die satan behaal, omdat ons in Christus Jesus ingeplant is ~ Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie (Openb.12:11). Die woord “oorwin” is in die Grieks ’n juridiese woord, wat letterlik beteken om ’n gunstige uitspraak te ontvang.  Die satan het die Ou Testamentiese gelowiges aangekla, maar in Christus het hulle ’n gunstige uitspraak ontvang en is hulle vrygespreek op alle aanklagte.  Hierdie oorwinning is natuurlik aan die kruis behaal.  Die Ou Testamentiese gelowiges het Christus en Christus alleen vertrou vir hulle geestelike oorwinning – en ons moet van hulle leer.  Daar word in ons dae baie gepraat van geestelike oorlogvoering, maar wanneer ons geteister word deur die vyand, oorwin ons hom en sy bose engele, nie in eie krag nie, maar deur die kruis van Jesus en Sy Evangelie.  Ons kyk na Hom en Hom alleen in ons stryd teen die vyand.

Wanneer ons dit doen, het ons oneindig baie rede om ons te verheug in Christus, want met die insig wat ons vandag deur die Woord van God het, weet ons waar ons heil lê – kennis en insig wat die Ou Testamentiese gelowiges nie oor beskik het nie, maar nogtans het hulle “vooruit” in Christus Jesus geglo en in Sy Naam gejubel.  Ons kan jubel en God verheerlik, want Christus sit op Sy troon in die hemel en die vyand kan ons nie meer aankla nie.

Openb.12:12 stel ons bekend aan die materiaal wat gaan volg in 12:13-17.  Johannes skryf ~ Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het.  Diegene wat in die hemel “tabernakel” (woon),  het baie rede tot feesvieringe, omdat die satan nie met hulle, hul “woonplek” deel nie, maar daar heers ’n ander gesindheid op aarde, want die duiwel is uitgestort op die aarde en daaroor is hy baie kwaad – die ongeredde aardbewoners behoort opreg rede te hê om bekommerd en vreesbevange te wees. 

Die satan se primêre fokus het egter nou (ná Golgota en die opstanding) verskuif na die kerk.  Ons as gelowiges – die kerk van die Here Jesus Christus, het egter niks om te vrees nie.  Ja, ons word ook geteister deur die satan, maar ons weet dat ons in en deur Christus reeds die oorwinning behaal het.

2.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Openb.12:13-17  ~ Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. 14 Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg. 15 Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. 17 Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. 18 Die draak het toe op die seestrand gaan staan.  In die eerste ses verse van hierdie gedeelte, sien ons dat die groot rooi draak oorwin is en dat hy sy stryd teen die “Kind” (die Messias) verloor het en nou verskuif hy sy fokus na die “vrou” wat die “Kind” in die lewe gebring het, nl. die Joodse kerk.  Die kerk word egter bewaar, deurdat God aan haar twee groot arendsvlerke gegee het.  Hierdie is natuurlik Ou Testamentiese  beeldspraak ~ Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5-6 As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel (Eks.19:4-6).  Ons lees ook in Deut.32:10-12 ~ Hy het sy volk in die woestyn gevind, in ’n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. 11 Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, 12 so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ’n ander god by Hom nie.  In beide hierdie gedeeltes word Israel se uittog uit Egipte beskryf in terme van arendsvlerke.  Hier in Openb.12:14 word die ware Israel van God weer gered van die “nuwe Egipte” (Jerusalem – Openb.11:8), deur arendsvlerke.  Hulle word gered en weggelei na ’n veilige plek (en hier moet ons weer na die O.A.V. kyk, omdat die N.A.V. hierdie gedeelte nie korrek vertaal het nie) ~ ...sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd.  Ons het hierdie tydsduur van ’n tyd en tye en ’n halwe tyd al vantevore gesien en toe ook vasgestel dat dit dui op ’n tydperk van drie-en-’n-half jaar.  Die gelowiges word uit Jerusalem na Pella in die woestyn gelei vir die duur van die verwoesting van Jerusalem. 

Hierdie gebeure het egter nie die groot rooi draak se aanvalle gestop nie, want ons sien in vv.15-16 die volgende ~ Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het.  In Egipte het die satan die Farao gebruik in sy poging om die volk van God uit te wis.  Die Farao het opdrag gegee dat al die seuntjies onder die ouderdom van 2 in die Nylrivier gegooi moes word.  God het egter Sy volk beskerm.  By die Rietsee (Skelfsee – O.A.V.) het Satan gedink dat hy die volk in ’n val gelei het, toe hulle te staan gekom het voor die see en die Egiptiese weermag wat in aantog was van agter.  Weer red God Sy volk deur die water te kloof.  Ons vind hierdie selfde beeldspraak van water, weer hier in Openb.12 waar Satan poog om die vrou te vernietig.  God gryp egter weer in ~ ...maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het (v.16). Soos in die verlede ook reeds aangetoon, verteenwoordig die aarde, Jerusalem.  Satan se poging om die kerk te vernietig, was geabsorbeer deur Jerusalem gedurende die Joodse oorlog.  Alhoewel die “vloedgety” van die Romeinse Ryk oor Jerusalem gespoel het, het God weereens Sy kinders bewaar, want dit was die afvallige Jerusalem wat in die slag gebly het en nie “die vrou” nie.  Die draak se wraak het tot gevolg gehad dat Jerusalem en die tempel vernietig is – die vernietiging van Judaïsme en die dood van 1,1 miljoen Jode, maar die gelowiges het ongeskonde daarvan afgekom – ons het voorwaar niks te vrees nie!  Onthou:  Dit kon nie “maanskyn en rose” vir die gelowiges in Pella gewees het nie – weggeruk van hulle besittings, werk, ongeredde vriende en familie en vir 3½ jaar in die woestyn, maar God het hulle te midde van die swaarkry bewaar!  Satan smee allerlei planne teen die Bruid van Christus, maar hy is ’n blote pion in die hand van God en kan hy derhalwe niks aan God se kinders doen, sonder dat God dit toelaat nie.

Weereens moet ons besef dat die satan nie nou sommer net handdoek sal ingooi nie en daarom is hy steeds daarop uit gewees om oorlog te maak teen die oorblyfsel van die saad van “die vrou”, wat God se gebooie onderhou – hulle wat die getuienis van Jesus Christus in hulle dra – die nuwe verbondskinders van God – ONS! 

Na die verwoesting van Jerusalem het die satan sy aandag op die Nuwe Testamentiese kerk begin vestig.  Ons sien dit in die sewe gemeentes in Klein-Asië (Openb.2-3).  Maar steeds bewaar God Sy kerk al is daar vandag omtrent geen steen meer sigbaar van die sewe gemeentes in Klein Asië nie – ons is getuienis daarvan.  Die kerk is nie daar verwoes nie en het steeds van krag tot krag gegaan – ja daar was die Rooms Katolieke era en vele ander tye en gebeurtenisse wat gelyk het asof die satan weer die oorwinning kan behaal, maar telkens kom God en red Hy Sy kinders (dink bv. aan die Hervorming).

Al is ons egter getuienis van God se beskerming van die kerk teen die vyand deur die eeue heen, het die satan se aanslag teen die kerk nie opgehou nie, maar ons is steeds verseker van ’n Hoërhand wat ons beskerm – die kerk sal nooit vernietig word nie.  ’n Pragtige bewys hiervan is die kerk in Sjina wat ten spyte van erge vervolging, van bykans geen gelowiges, tot bykans 50 miljoen gelowiges gegroei het en daar word steeds daagliks groot getalle nuwe gelowiges bygevoeg.

Ja, Satan is ’n brullende leeu, maar hy is ’n reeds oorwonne brullende leeu. Laat ons daarom in oorwinning wandel, deur Christus lief te hê en Hom voortdurend in gehoorsaamheid na te volg en te dien.


[1]Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging)Sondagaand 23 Januarie 2011
Francois Koch van Swakopmund (Namibie) het gister in ons gemeente gepreek en ek het ongelukkig nie die teks van sy preek ontvang nie - daarom dat daar geen preek vandag op die BLOG gepubliseer is nie - sien egter gisteraand se Bybelstudie vanuit Openbaring hiernaas.

Sunday, January 16, 2011

Openbaring Ontsluit - 27 (“Die Heilige Oorlog - 02”)

1.     INLEIDING:
Soos so dikwels in die Openbaringbrief, moet ons besef dat nie alle gebeure altyd streng volgens tyd- of chronologiese volgorde weergegee word nie.  Ook is dit die geval met vv.7-12 waarna ons nou gaan kyk.  Die eerste 6 verse waarna ons die vorige keer gekyk het verteenwoordig die geskiedenis van God se volk vanaf die uittog uit Egipte (en selfs voor dit) tot en met die groot verdrukking wat kort voor lank sou plaasvind en wel nog in Johannes se tyd (soos ons alreeds vantevore gesien het). Die tema van die groot verdrukking sal weer in vv.13-17 aangespreek word.  Die verse tussen-in (12:7-12) verduidelik aan ons waarom daar soveel teenkanting en haat in vv.1-6 en 13-17 is.  Dit is asof Johannes sê:  Laat my net eers gou toe om ’n bietjie meer agtergrond te gee ten einde 12:1-6 beter te verstaan....

2.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Openb.12:7-12 ~ Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8 maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9 want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom. 10 Toe het ek ’n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. 11 Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie. 12 Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het.” .

3.    MIGAEL EN DIE GROOT DRAAK:
Hierdie gedeelte weerspieël ’n geveg tussen twee weermagte.  Die goeie weermag word aangevoer deur Migael en sy engele, terwyl die bose weermag aangevoer word deur die draak en sy engele.  Dit is belangrik om daarop te let dat Migael se weermag, die aggressors in hierdie geval is en hulle beskerm nie net bloot hul grondgebied nie – nee, hulle trek op teen die draak en sy engele.  Migael en die draak is die twee generaals, terwyl die engele die onderskeie soldate is.

In v.9 word die draak onteenseglik geïdentifiseer as die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word.  Dit is egter nodig om in meer detail na te vors wie Migael werklik is, omdat dit nie so voor die handliggend in bg. verse uitgespel word nie.

Daar word in drie boeke van die Bybel gepraat van Migael, nl.: Daniël, Judas en Openbaring.  Ons kom die eerste keer in aanraking met Migael in Dan.10.  Ons lees in die eerste vers van Dan.10 dat iets wat moeilik was om te verstaan, aan Daniël geopenbaar was.  Daar word nie presies vertel wat hierdie verskriklike ding was wat aan Daniël geopenbaar is nie, maar wel dat dit in die verre toekoms sou plaasvind.  Daniël het egter geweet wat hierdie ding was en dit het hom daartoe gedryf om te vas en te treur (Dan.10:2-3).  Terwyl hy gevas en getreur het, het hy ’n ander visioen ontvang.  In vv.4-6 beskryf hy hoe hy, terwyl hy by die Tigrisrivier was, ’n manjifieke Wese gesien het.  Al was Migael nie alleen nie, het net hy die visioen gesien. 

Met hierdie agtergrond bring dit ons by ’n baie belangrike Skrifgedeelte wat meer lig sal werp oor die geveg waarin Migael en die draak betrokke was, nl. Dan.10:10-21 ~ Daarna het ’n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. 11 Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. 12 Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. 13 Die engel van die Persiese ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. 14 Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.” 15 Terwyl hy dit vir my sê, het ek sprakeloos my kop na die grond toe laat sak. 16 Toe het iemand wat soos ’n mens gelyk het, my lippe aangeraak, en ek kon weer my mond oopmaak en praat. Ek het vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “Meneer, die visioen het my so ontstel dat ek geen krag meer het nie. 17 Hoe kan ek, u dienaar, met iemand soos u praat, Meneer! My kragte het ingegee, ek kan skaars nog asemhaal.” 18 Toe het hy wat soos ’n mens gelyk het, my weer aangeraak en vir my krag gegee. 19 Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.” 20 Hy het toe vir my gesê: “Nou weet jy waarom ek na jou toe gekom het. En nou moet ek teruggaan om teen die engel van Persië te gaan veg, en as ek met hom klaar is, sal die engel van Griekeland kom. 21 Maar eers sal ek jou vertel wat in die Boek van die Waarheid opgeteken is. Daar is niemand wat my teen hulle bystaan nie behalwe julle engel Migael.

Die indruk wat ’n mens hier kry, is dat die heerlike wese nou verdwyn en dat ’n hand Daniël nou vir drie weke aanraak.  Hierdie hand moes onteenseglik, die hand van ’n engel gewees het en heel waarskynlik was dit die hand van Gabriël, want dit was gewoonlik hy wat met Daniël gepraat het, wanneer Daniël gebid het – Bv.: Dan.9:21 ~ ...terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom (sien ook 8:15-16).

Daniël het gevas en gebid ten einde hierdie visioen te verstaan, maar steeds het hy geen duidelikheid daaroor gekry nie.  Die antwoord was reeds op die eerste dag beskikbaar, maar die engel van Persië (dink aan die Rekenaarspeletjie waarop kinders versot is – “The Prince of Persia”!) het Gabriël vir 21 dae teengestaan en verhoed dat hy die antwoord aan Daniël gee.  Hierdie engel van Persië was vanselfsprekend ’n demoniese wese en dalk Satan self – ons kan nie met sekerheid sê nie, want hy was kragtig genoeg om die engel Gabriël te kon weerstaan.  Ons sien egter in v.13 dat Migael, een van die hoof engele, of te wel, een van die vernaamste prinse, tot die hulp van Gabriël gekom het en kon hy die antwoord aan Daniël verskaf.  Presies wie Migael is, is nie vir ons duidelik nie, behalwe dat die Woord hom een van die vernaamste prinse noem en dit is ook duidelik dat hy ’n kragtiger wese as Gabriël is.  Verder is dit ook duidelik dat Gabriël en Migael bondgenote is en volgens v.21 word Migael ook geïdentifiseer as Daniël en die volk van God, se “prins”.  Net twee hoofstukke verder (12:1) word Migael die groot engel of die prins van die volk genoem en daar sien ons dat hy die wag oor die volk hou.

Ons lees dan in Dan.21:1 die volgende ~ In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.  Waarna word hier verwys?  Nooit in die geskiedenis van die volk was daar ooit so ’n verskriklike tyd soos wat hier van gepraat word nie.  Waarna word hier dan verwys? 

Dit kan nie anders wees, as die val van Jerusalem in 70 n.C. nie, want daar was geen erger lot wat die volk van Israel ooit oorgekom het as daardie gebeure in die jaar 70 n.C. nie.  En wie was deur die engel Migael bewaar in daardie tyd?  Hulle wie se name in die boek opgeskryf is.  En wie was hulle?  Die gelowiges wat betyds uitgelei is uit Jerusalem na Pella en sodoende die val en verwoesting van Jerusalem vrygespring het!

4.    DIE AARTSENGEL:
Na hierdie voorval in Daniël kry ons eers weer laat in die Nuwe Testament te doen met Migael en wel in Judas vers 9 ~ Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.” 

Eerstens is dit interessant om hier te sien, dat die engel (Migael) hom nie veroorloof het om die satan te beledig, of te veroordeel nie.  Hy het egter wel ’n geldige beskuldiging teen die satan gerig.  Waarom doen hy dit?  Omdat die wraak en veroordeling net God toekom (Rom.12:19).  Dit laat ’n mens dink oor mense wat hulleself uitgee as “duiwel uitdrywers” en wat betrokke is by sg. “bevrydingsbedieninge” en die wyse waarop diesulkes te kere gaan wanneer hulle die duiwel begin bestraf!  Hulle vergeet heeltemal van Rom.12 en hulle matig hulleself meer mag aan as waaroor Migael bv. beskik!

Tweedens word hier na Migael as ’n aartsengel verwys.  Daar word op geen ander plek in die Woord verwys na (’n) ander aartsengel(e) nie.  Migael is dus die enigste aartsengel.  Daar word dikwels deur mense na Gabriël as die/’n aartsengel verwys, maar daar is geen Skrifbewyse daarvoor nie.  Migael is die aartsengel en die woord aartsengel beteken “die hoof van die engele”.

Ons moet egter ook na enkele ander teksverse gaan kyk waar daar sprake van “die hoof van die engele” is.

Jos.5:13 is baie interessant en ons moet daarna kyk ~ Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar ’n man voor hom met ’n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s’n?” 14 “Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.” Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?” 15 Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is ’n gewyde plek.” Josua het dit gedoen.  Hier het Josua te doen met die aanvoerder van die leër van die Here.  Min kommentators sal stry daaroor dat ons hier te doen het met die Here Jesus Christus self, want Josua word aangesê om sy skoene uit te trek omdat hy op heilige grond staan.  Waarom was die grond heilig?  Omdat Josua in die teenwoordigheid van die heilige God self was (Eks.3:1-6)!

Ons vind nog ’n verwysing na hierdie Soewereine Engel en wel in Eks.23:20-23 ~ “Ek, die Here, stuur ’n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het. 21 Gee ag op die engel en luister na hom; moet jou nie teen hom verset nie. Hy sal jou nie vergewe as jy teen hom in opstand kom nie, want Ek het aan hom my volmag gegee. 22 As jy goed ag gee op hom en alles doen wat Ek sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders. 23 “My engel sal voor jou uitgaan en jou bring by die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete, en dan sal Ek hulle uitwis.  Hier gee die Here aan Moses en die Israeliete die versekering dat die Engel hulle na die Beloofde Land sou lei.  Weereens is daar breë eenstemmigheid daaroor dat hierdie “engel” weereens ’n verwysing na Jesus Christus is.

Die gevolgtrekking waartoe ons dus moet kom (dit kan nie anders nie), is dat die aartsengel niemand anders kan wees as Christus self nie.  Hierdie feit blyk ook duidelik uit 1Tes.4:13-18, waar ons vertel word dat Jesus met die stem van die aartsengel sal terugkeer na die aarde met Sy tweede koms.  Die woord aartsengel kom net twee keer voor in die Woord:  Eenkeer in Judas vers 9 waar daar verwys word na Migael en eenkeer in 1Tes.4:16 waar daar na Christus verwys word.  Dit blyk dus duidelik dat Migael en Christus een en dieselfde Persoon is.  Christus gaan met die stem van ’n aartsengel terugkeer na die aarde, omdat Hy Die Aartsengel is!

In Dan.12:1 word daar gesê dat Migael diegene wie se name in die Boek van die Lewe opgeskryf is, sal beskerm – is dit nie slegs Christus Jesus wat kan veroordeel of regverdig verklaar nie?  Is dit nie op grond van Christus se soendood alleen dat ons name in die hemel opgeskryf word nie?  Migael is kragtiger as Gabriël.  En Migael (Jesus) en Gabriël is bondgenote.  Migael se naam beteken juis ook “wie soos God is”.  En wie anders as Christus Jesus is soos God?

In Judas het ons gesien dat Migael en die vyand gestry het oor Moses se liggaam en Migael het gedurende hierdie situasie geen grondige beskuldiging teen die satan ingebring nie, want die Here God het die satan gestraf.  Dit wil dus voorkom asof Judas met hierdie skrywe van hom in Judas vers 9, die woorde in Sag.3:1-5 in gedagte gehad het ~ Die Here het my ’n gesig laat sien. Ek het die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan, en regs van hom het die Satan gestaan, besig om Jesua aan te kla. 2 Die Here het vir die Satan gesê: Ek sal jou straf, Satan, Ek wat Jerusalem my woonplek gemaak het, sal jou straf. Hierdie man is soos ’n stuk hout wat uit die vuur gered is. 3 Jesua het klere aangehad wat liederlik bevuil was. Hy het daar voor die engel gestaan, 4 en die engel het vir sy helpers gesê: “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.” Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.” 5 Toe sê ek: “Hulle moet ’n skoon tulband op sy kop sit!” Hulle het die skoon tulband op sy kop gesit en hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar by staan.  Jesua staan hier voor die engel van die Here (Jesus Christus).  Satan staan ook daar en hy bring beskuldiging in teen Jesua.  Ook hier bestraf die engel van die Here nie die satan nie – God doen dit self.
Volgens Sag.3 handel hierdie dispuut oor Jerusalem wat die Ou Testamentiese kerk verteenwoordig. 

Net soos wat die Nuwe Testamentiese kerk, die Liggaam van Christus is, is die Ou Testamentiese kerk liggaam van Moses.  Dit gaan dus nie hier in Sag.3 oor die fisiese liggaam van Moses nie, maar oor die geestelike Liggaam van Moses, nl. die Ou Testamentiese kerk, wat hier verteenwoordig word deur die hoëpriester, Jesua en Jerusalem.  Migael die aartsengel in die woorde van Judas, is dieselfde as die engel van die Here en beide verwys ondubbelsinnig na Jesus Christus. 

Dit blyk dus baie duidelik uit hierdie redenasie en die Skrifverwysings, dat Migael, Christus self is.

Die Jehova se Getuies glo natuurlik ook dat Migael en Jesus een en dieselfde Persoon is.  Die vraag is nou of ek dieselfde glo as die “Jehova se Getuies”?  Die antwoord hierop is ’n baie duidelike “NEE!”  Ek glo dat Jesus Christus, God is – en die “Jehova se Getuies” glo dit nie.  Dit beteken dus dat ek glo dat Migael God is en die “Jehova se Getuies” glo dit nie.  Ons moet versigtig wees dat ons nie iemand veroordeel wanneer dit wil lyk asof hy saamstem met bepaalde uitsprake van sektes of kultusse, ens. nie.  Die Rooms Katolieke glo ook in die maagdelike geboorte van Jesus, Sy kruisdood en Sy opstanding uit die dood, maar dit maak nie van my ’n Katoliek nie, want die Roomse glo ook aan allerlei ander onbybelse dinge en daarom maak een ooreenkoms nie van my ’n Katoliek nie!

5.    DIE OORLOG IS GEWEN:
Terug na Openb.12:7-12 egter.  Met die feit dat Migael, Jesus Christus is, is dit betekenisvol dat Migael die Een is wat die aanvaller, of die aggressor is in die oorlog soos beskryf in Openb.12.  Christus word voorgestel as Migael en Hy en sy heilige engele voer oorlog teen die satan, wat die draak genoem word, en sy gevalle engele (demone) en ons sien dat die satan met sy gevalle engele, saam deur Christus en Sy engele uit die hemel op die aarde neergewerp word (v.4; Judas vers 6; 2Pet.2:4). 

Jesus het ook tydens Sy aardse bediening, as aggressor teen die satan en sy demone opgetree – dink bv. aan die kere wat Hy demone uit mense gedryf het (Matt.8:16; 29-34; 9:32-35; 12:22-28, ens.).  Christus en engele word dikwels verbind aan mekaar:  Die engele het Hom bv. versorg en gedien na Sy versoeking in die wildernis (Matt.4:11). Jesus kon meer as 12 legioene engele ingeroep het om Hom te beskerm teen Sy inhegtenisname (Matt.26:53).  ’n Engel het Hom in Getsemane versterk (Luk.22:43). 

Die duiwels was ondergeskik aan die dissipels, omdat Satan soos weerlig uit die hemel geval het.  Meer fenomenaal selfs as dit, was die redding wat bewerkstellig was deur die Persoon en Werk van Christus.  Vroeër in Openb.12:5 het Johannes die vleeswording en die hemelvaart van Christus gesien, maar nou sien Hy die kruis.  En dit is deur die kruis dat Migael en Sy engele die draak en sy demone oorwin.  Dit was dan in hierdie konteks (met verwysing na Sy kruisiging) dat Jesus in Joh.12:31 sê ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.  En later brei Paulus uit op hierdie waarheid toe hy gesê het ~ Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15 Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol.12:13-15).  Dit is deur die kruis dat Jesus die vyand ontwapen het en die skrywer van die Hebreërboek stem hiermee saam ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15 en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry (Hebr.2:14-15).  Johannes sê in 1Joh.3:8 ~ ...wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.  Dit was dus gedurende Jesus se aardse bediening dat Hy die satan en sy gevalle engele oorwin het.

Voor hierdie gebeure op Golgota was die wêreld vasgevang in die kloue van Satan.  Israel was die enigste volk met ’n monoteïstiese godsdiens (God is die enigste ware God), terwyl die res van die wêreld vasgevang was in die greep van die satan.  Die satan het sedert die sondeval, onverpoosd voortgegaan met hul geveg teen die mensdom en voortdurend aanklagtes voor God ingebring (ook bekend as die aanklaer van ons broeders – Openb.12:10 – O.A.V.)  – dink hier aan Job byvoorbeeld. 

MAAR, ná Golgota lyk die prentjie egter veel anders, want die Evangelie was nog nooit vantevore so wydverspreid en gevestig deur die wêreld soos vandag nie!  Die satan en sy demone is verslaan deur Jesus Christus en hy en sy demone is neergewerp uit die hemel en daarom kan hy geen beskuldigings meer inbring teen die kinders van God nie (Rom.8:33) hy het geen toegang meer tot die troon van God nie!  Christus sit nou op die hemelse troon en Hy tree vir ons in by God die Vader!  Rede tot onuitspreeklike vreugde!

Die oorlog is gewen! Ons moet egter onthou dat ons probleme nog nie verby is nie, want die satan is neergewerp op die aarde en hy loop soos ’n brullende leeu rond opsoek na iemand om te verslind (1Pet.5:8).

Diegene van ons wat egter in Christus ingeplant is hoef nie die brullende leeu te vrees nie, want ’n ander Leeu, die Leeu uit die stam van Juda, se “brul is veel harder” en daarom sal die poorte van die hel nie die kerk van die Here Jesus Christus oorweldig nie (Matt.16:18)!