Sunday, August 30, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (30 Augustus 2009)

Die Heilige Nagmaal - 04 (Die Liggaam van Christus) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Iemand het een keer gesê dat die beste manier om te leer hoe belangrik dit is om iets ordentlik en reg te doen, is om die gevolge te sien, wanneer dit verkeerd gedoen word. Dit is baie dikwels dan ook die manier wat gebruik word om mense te motiveer om dinge eerder van die begin af reg te doen, omdat hulle die gevolge kan sien indien dit verkeerd gedoen word. So word daar bv. ’n ent voor ’n gevaarlike plek op die pad, waar daar gewoonlik baie ongelukke plaasvind, ’n motorwrak langs die pad geplaas,.

Op dieselfde wyse toon die Woord van God vir ons die gevolge van die sonde. Dit word nie gedoen om ons depressief te maak nie, maar juis om ons te motiveer om heilige lewens na te jaag. Juis na aanleiding hiervan, kan ons baie leer uit die Korintiërs se gedrag tydens hulle gebruik van die Nagmaal.

2. SKRIFLESING:
1Kor.11:23-34 ~ Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24 en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 25 Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” 26 Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. 27 Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28 Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29 want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. 30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. 33 Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. 34 As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie ’n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.

Die rede waarom Paulus vir die Korintiërs skryf en aan hulle verduidelik hoe die Nagmaal gevier moet word, het gespruit uit die feit dat hulle dit op ’n onwaardige wyse gebruik het, daarom dat Paulus hulle in vers 27 waarsku, deur aan hulle te sê ~ Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Hy sê dus aan hulle dat dit God bedroef wanneer hulle die Nagmaal op onvanpaste wyse gebruik, omdat dit effektief, die ware betekenis van Christus se kruisdood en die doel met die Nagmaal, misken. In plaas daarvan dat hulle só optree dat hulle God se seën kan ontvang, tree hulle juis só op dat hulle God se oordele gaan ontvang.

Hierdie gedeelte is dan ook spesifiek in die Woord opgeneem, ten einde aan ons te toon hoe ons dus nié moet optree nie. Daarom is dit baie belangrik dat ons ter harte sal neem wat die Here hier vir ons wil leer. Ek wil dan spesifiek vanoggend fokus op drie aspekte:
· Die uitdrukking, die liggaam van die Here, soos wat ons aantref in vers 29;
· Waarom die Here die gemeente in Korinte getugtig en geoordeel het (verse 30-32);
· Hoe ons die Nagmaaltafel behoort te benader (verse 33-34).

3. DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS:
Vers 29 dan ~ ...want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself. Hierdie aanklag van Paulus is, om die minste te sê, ontstellend. Paulus sê dat dit die liggaam van Christus is wat geëet en gedrink word en tweedens sê hy dat indien ons dit nie besef nie, daar bepaalde gevolge is wat gedra moet word.

Hier is dus onderskeiding ter sprake. Die meeste Engelse vertalings praat van “discern” ~ For anyone who eats and drinks without discerning the body.... Die Griekse woord wat hier gebruik word is "diakrino". Dit beteken om behoorlik te skei en in hierdie geval dan, om te oordeel tussen wat reg is en wat nie reg is nie. As ons dit dan toepas op die Nagmaal, is dit om ’n behoorlike onderskeid te tref tussen die sakramentele gebruik van die voedsel op die Nagmaaltafel (die brood en die wyn) en die gebruik van dieselfde kos (die brood en wyn) vir alledaagse gebruik.

Ons moet besef dat die Nagmaal nie maar net nog ’n maaltyd is nie. Die Nagmaal is ’n baie spesiale en unieke maaltyd. Dit het niks te doen met voedsel vir die maag nie, maar dit het alles te doen met voedsel vir die siel. Dit het alles te doen met Jesus Christus; die Kruis en die Opstanding; die Evangelie en die weg tot saligheid.

Die brood en die wyn wat in die sakrament van die Nagmaal gebruik word, is dus simbole om te toon wat Christus gedoen het; wat Hy steeds doen en wat Hy nóg gaan doen vir Sy kinders. Dit is dus sigbare tekens van die onsigbare genade wat voortgevloei het uit die volmaakte en volkome offer wat Christus aan die kruis gebring het.

Om dus die Liggaam van Christus tydens die Nagmaal te onderskei, of soos vers 29 dit stel, te besef dat die brood die liggaam van Christus is, is om te verstaan en te besef wat die Nagmaal simboliseer en leer – dit is om enersyds te besef hoe dat opregte en getroue deelnemers geseën word, wanneer hulle aan die Nagmaal deelneem. Maar aan die anderkant moet ons ook besef dat ons op eerbiedwaardige en nederige wyse ons aan die Nagmaal moet onderwerp. Die Here Jesus skenk dus seën aan waardige deelnemers aan die Nagmaal.

Om op eerbiedige en nederige wyse deel te neem aan die Nagmaal, impliseer ook dat daar aan die anderkant, op oneerbiedige wyse aan die Nagmaaltafel aangesit kan word en dit is presies wat vers 27 aanspreek ~ Elkeen wat op ’n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.

Wanneer ons dan op ’n ongepaste wyse van die brood eet en van die wyn drink, eet en drink ons ’n oordeel oor onsself. Hierdie is ’n tipiese negatiewe opmerking, maar met ’n positiewe motief. Die eerste vraag is waarskynlik waarom Paulus hierdie saak so sterk gestel het? Is dit nie ’n mindere saak nie? Waarom sou die Here so sterk hieroor voel? Ten einde dit te beantwoord moet ons na die betekenis van Bybelse simbole kyk.

’n Voorbeeld van die ongepaste gebruik of misbruik van simbole in die Ou Testament, vind ons bv. in Daniël 5. Ons lees hiervan van vers 1 af ~ Koning Belsasar het ’n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. 2 Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. 3 Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. 4 Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. 5 Meteens verskyn daar toe ’n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. 6 Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik.

Hierna het koning Belsasar voorspellers, sterrekykers en besweerders ingebring om vir hom te verklaar wat dit alles beteken het. Daniël het egter uiteindelik in vers 23 – 30 die volgende vir Belsasar gesê ~ U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. 24 Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe. 25 “Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’ 26 En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ’n einde daaraan gemaak. 27 ‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. 28 ‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.” 29 Daniël is toe op bevel van Belsasar ’n koninklike kleed aangetrek en ’n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk
. En dan hierdie woorde: 30 Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.

Belsasar het die Tempelsimbole misbruik en hy het met sy lewe daarvoor geboet – die misbruik van Bybelse simbole is dus ’n baie ernstige saak. Om egter die Nagmaal te misbruik is meer as bloot net die agtelosige gebruik van die brood en wyn. Dit sê presies wat jy dink en hoeveel jy omgee vir dit wat Jesus gedoen het. Dit is gelykstaande aan die skuld wat Stefanus in Hand.7:52 voor die deur van diegene gelê het, wat Jesus gekruisig het – Hy het gesê dat hulle, verraaiers en moordenaars is. Dit is verder ook gelykstaande aan die onbelyde sonde van die verlorenes in die hel, want soos die Hebreërskrywer in Hebr.6:6 sê, ...kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting.

4. WAAROM GOD DIE KORINTIËRS OORDEEL:
Die Korintiërs het nie gedink dat hulle Christus tot ’n bespotting gemaak het nie, maar dit was nodig dat Paulus hulle op hul sonde wys, sodat hulle hulself kon bekeer en waardig aan hulle roeping as gelowiges kon optree. Hulle moes sien en hoor, hoedat sommige van hulle na die Nagmaaltafel gestrompel het in hul beskonke toestand, of hoe dat hulle aangesit het aan die tafel, terwyl hulle in hul harte, hul broers wat saam met hulle in dieselfde gemeente was, verag het.

Ons sien in vers 30, dat die Korintiërs reeds God se oordeel ervaar het en in vers 31 verduidelik hy aan hulle, hoe hulle hierdie oordeel van God kan afweer en in vers 32 verduidelik hy aan hulle wat hulle te doen staan om nie verder te oortree nie.

Paulus sê in vers 30 vir die Korintiërs ~ Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. Paulus praat dus hier van die realiteit van God se oordeel en straf. Ons moet verstaan dat siektes nie altyd God se straf op sonde is nie, want alle mense – sondaars, sowel as Godvresendes word op een of ander tyd siek. Siekte is wel die gevolg van die sondeval. Dit is waarom Prediker in hoofstuk 9 vers 2-3 sê ~ Een en dieselfde lot tref almal: die regverdige en die goddelose, die goeie, die reine en die onreine, die een wat offer en die een wat nie offer nie. Soos dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar, soos dit gaan met die een wat ’n eed aflê, so gaan dit met hom wat weier om ’n eed af te lê. 3 Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood.

Ek het gesê dat siektes nie altyd die gevolg van sonde is nie, máár dit is egter wel so dat siekte óók die gevolg van sonde kan wees. Ons vind wel sulke voorbeelde in die Woord – bv. in Num.12, waar Moses met ’n Kussitiese vrou getrou het en in plaas daarvan dat Aäron en Mirjam, Moses direk oor sy sonde aanspreek, het hulle met ompaaie gekom en die gevolg hiervan was dat die Here, beide Aäron en Mirjam met melaatsheid gestraf het.

Ons sien in Hand.12 dat Herodes nie eer aan God gebring het nie en as gevolg daarvan sien ons in vers 23b, dat Herodes deur wurms verteer (is), en (dat hy) gesterwe (het).

Ons fokus moet egter nie daarop wees om te probeer vasstel of ons siekte die gevolg van sonde is of nie. Nee, ons fokus moet gedurende beproewing en daarom ook siekte, voortdurend op ons behoefte aan Christus wees.

Maar terug by die Korintiërs – hulle het wel God se straf op hul sonde, fisies ervaar in die vorm van siektes en selfs die dood in hul midde. Hierdie was presies soos wat 1Pet.4:17a dan ook sê ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. Die Korintiërs kon egter hierdie oordeel en straf vrygespring het, as hulle maar net, soos vers 29 dit stel, besef (het) dat dit die liggaam van die Here is, dan sou hulle nie ’n oordeel oor hulleself geëet en gedrink het nie.

Wat is Paulus se oplossing hier vir hulle? Vers 32 ~ As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. Die Korintiërs sou hulleself baie ellende en verdriet gespaar het, as hulle maar net kon onderskei tussen hulle eie sondige gesindhede en optrede en aan die anderkant, wat die regte optrede by die Nagmaalstafel moes wees.

5. BENADERING VAN DIE NAGMAALTAFEL:
Wanneer ons na bv. ’n Presidensiëlefunksie uitgenooi sou word, sal ons baie seker maak presies wat van ons verwag word om bv. aan te trek. Ons verstaan dus die belangrikheid van so ’n funksie. Wanneer ons egter uitgenooi word om by die Nagmaaltafel aan te sit, word ons genooi om saam met die Hemelse Koning fees te vier. Hoeveel te meer moet ons nie dan voorbereid en met die regte ingesteldheid en kennis na die maaltyd toe gaan nie! Die Nagmaal is nie maar net ’n rituele gebeurtenis in die kerk nie, of selfs ’n wêreldse funksie nie, Nee, Christus is die Koning van konings en die Here van here. Hy is die Verlosser van hierdie wêreld! Hoeveel te meer moet ons, onsself derhalwe nie voorberei vir hierdie Maaltyd nie!

Wat moet óns gesindheid dan wees? Vers 33~ Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. Hier het Paulus verwys na die gesamentlike maaltyd wat plaasgevind het op die Sondag waarop die Nagmaal gevier is en waar ryk en arm saam geëet het. Die doel hiermee was om onderlinge eenheid te demonstreer. Die wyse waarop hulle dit egter gedoen het, het juis die teenoorgestelde versinnebeeld, omdat die rykes vroeg opgedaag het en al die kos opgeëet het en teen die tyd dat arm lidmate daar opgedaag het, was daar nie meer kos om te eet nie. Hierdie selfde gesindheid het dan oorgespoel na die Nagmaal en het hulle daardeur verdeeldheid en oneerbiedigheid teenoor Christus gedemonstreer. Wat gewone etes dus aan betref, sê Paulus dus vir hulle, dat hulle moet wag totdat almal daar is, voor hulle begin eet, anders was dit niks anders as ’n Bacchusfees, of ’n swelgparty nie.

Getroue deelname aan die Nagmaaltafel vereis dus op soortgelyke wyse, deeglike voorbereiding en die hele gemeente moet saamkom om dit saam te geniet en daardeur eenheid in Christus Jesus te demonstreer.

Paulus gaan verder en hy sê in vers 34a ~ As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie ’n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die punt wat Paulus hier wil maak is dat hulle nie na een van die maaltye moet kom net omdat hulle honger is nie, want dan moet hulle eerder by die huis bly. Nee, die primêre doel met hierdie maaltye was om eenheid en gemeenskap te demonstreer. Derhalwe moes hulle ook nie die Nagmaal of die liefdesmaal bloot net as gewone maaltye beskou het nie.

6. AFSLUITING:
Die Korintiërs moes dus beide hierdie maaltye met erns en toewyding bejeën het. Hulle moes hulleself deeglik ondersoek het, ten einde vas te stel of hul motiewe suiwer is, alvorens hulle aan die Nagmaaltafel aangesit het, maar hulle moes ook hul uiterste bes gedoen het om hierdie maaltye by te woon, want daardeur het hulle eenheid met Christus gedemonstreer, maar ook eenheid met die Liggaam van Christus – hul broers en susters.

Daarom is dit geen ligtelike saak om deel te neem aan die Nagmaal nie, maar ek glo dat dit ook geen ligtelike saak is om deel te neem aan ons maandelikse Gemeente-ete na die Nagmaal nie. Al vind ons maandelikse gemeente-ete nie soos destyds ter gelykertyd met die Nagmaal plaas nie, dink ek steeds dat dit ’n pragtige voortsetting is van ’n Bybelse gebruik uit die vroeë kerk en deur ook dit by te woon, betoon ons as gemeente, onderlinge eenheid.

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 30 Augustus 2009

Monday, August 24, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 23 Augustus 2009

Openbaring Ontsluit – 11 (’n Blik op die Troonkamer) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Nadat Christus aan Johannes klaar gesê het wat hy aan die sewe gemeentes in Klein-Asië moes skryf, sien Johannes skielik ’n oop deur in die hemel. Dit is dan ook hier waar die Pre-Millennialiste; Post-Millennialiste en die A-Millennialiste se interpretasie van Openbaring begin uiteenloop en dit bereik sy hoogtepunt in Openb.20. Ek wil vir onomwonde sê, dat ek nié ’n Futuristiese interpretasie (Pre-Millennialisme - wegraping) aan Openbaring kan heg nie, bloot net omdat daar nie genoeg getuienis daarvoor in die Skrif te vinde is nie en daarom gaan ek voortaan, hoofsaaklik aandag skenk aan die Historiese siening (A-Millennialisme). Ons sal egter ook van tyd tot tyd en soos nodig na die Preteristiese standpunt (Post-Millennialisme) kyk.

T.w.v. agtergrond: Johannes ontvang hierdie visioen om die aandag te vestig op God se soewereiniteit t.o.v. die geskiedenis van die heelal en Christus wat die toekoms gaan ontsluit.

Vanaf vers 6 tot 8 sal ons lees van die sewe seëls wat gebreek gaan word, maar hier kry ons eers ’n voorafblik van die Romeinse regering wat die volgende driehonderd jaar gaan heers, tot en met Konstantyn se vestiging van die Christendom as die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk.

Daar volg in verse 8 tot 11, sewe trompette op hierdie seëls en verwys na die val van die Westerse- en daarna die Oosterse Romeinse koninkryke en verder aan tot en met die einde van die wêreld. Die seëls en trompette gee dus die geskiedenis van die sekulêre en politieke geskiedenis weer van Johannes se tyd en verder aan. Met 11:19 word daar egter ’n ander rigting ingeslaan wat spesifiek na die kerk se interne sake verwys.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
Openb.4:1 ~ Hierna het ek, Johannes, in die hemel ’n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ’n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur.” Johannes word steeds deur die Gees gelei, maar nou sien hy dinge wat vanaf daardie oomblik, en nog verder aan in die toekoms gaan gebeur en spesifiek t.o.v. die Christelike geskiedenis.

Openb.4:2 ~ Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ’n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. Johannes sien hier ’n troon wat in die hemel gevestig staan en skep die idee van die sentraliteit van universele mag en regering. Op hierdie hemelse troon sit daar Iemand. Hierdie Persoon is niemand anders as God die Vader self nie en dit laat ’n mens o.a. dink aan 1Kon.22:19 ~ Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan.

Openb.4:3 ~ Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ’n reënboog met die glans van smarag. God beskik nie oor menslike liggaamsdele nie en daarom openbaar Hy Homself deur Sy bepaalde eienskappe en in hierdie geval word Hy voorgestel d.m.v. ’n opaal (of te wel jaspis, wat ’n melkagtige wit edelgesteente is) wat Sy attribuut van heiligheid voorstel. Ook lyk Hy soos karneool (of te wel sardius – ’n bloedrooi variëteit van die edelsteen, kornalyn) wat ’n uitbeelding is van God se toorn. Dan sien Johannes ook God se voorkoms as ’n reënboog wat weer dui op God se genade, soos met die daarstel van die reënboog (Gen.9:13-17). Hierdie reënboog het die glans van ’n smarag wat bloot maar net dui op die basiese kleur van ’n reënboog, nl. groen.
God openbaar Homself dus as ’n heilige God wat sonde haat en oordeel, maar Hy is terselfdertyd ’n liefdevolle en genadige God wie se reddingsgenade in Jesus Christus geopenbaar word.

Openb.4:4 ~ Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone. God se verhewenheid en Koningskap word geïllustreer en beklemtoon deur vier-en-twintig ander trone wat rondom God se troon staan. Hierdie vier-en-twintig ouderlinge is die Engele van die Kerk van die Here Jesus Christus. Ons het van hierdie Engele gelees toe ons na die sewe briewe gekyk het en hierdie sewe gemeentes het die ganse kerk verteenwoordig, maar waarom word hier na ’n “dubbele dosyn engele” verwys? Esegiël verwys in Eseg.8:16 en 11:1, na 25 manne wat die Hoë Priester en 24 ander priesters verteenwoordig. In hierdie geval vervang die Lam van God die Hoë Priester en die kerk die korrupte priesterskap in Esegiël se tyd. Die Futuriste glo dat hierdie 24 ouderlinge die gelowiges verteenwoordig wat weggeraap gaan word voor die “groot verdrukking”. So bietjie later egter meer hieroor, wanneer ons na verse 9 tot 11 gaan kyk. ’n Ander beskrywing is dat 12 van hierdie 24 ouderlinge na die 12 stamme van Israel verwys en die ander 12 na die 12 Apostels. Watter standpunt ook al die korrekte is, aan die einde van die dag verteenwoordig hierdie 24 ouderlinge, die ganse volk van God in alle tye en op alle plekke in die geskiedenis op aarde. Hulle verteenwoordig dus die “nuwe mensdom”.

Met die sondeval het die mensdom verlore gegaan, maar uit hulle het God vir Hom ’n nuwe volk geskep. Deur Sy uitverkiesende genade in Christus Jesus het Hy ons Sy aangebore kinders gemaak. In die visioen van die 24 ouderlinge, sien ons die hoogtepunt van ons verlossing, die onbeskryflike klimaks van God se genade oor gevalle sondaars. Petrus beskryf dit in onoortreflike woorde ~ Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1Pet.2:9).

Openb.4:5 ~ Daar het weerligstrale, dreunings en donderslae van die troon af gekom. Vlak voor die troon het sewe fakkels helder gebrand. Dit is die sewe Geeste van God. Hierdie vers is ’n baie duidelike weerspieëling van Dan.7:9-28 en Eseg.1:26-28, want beide hierdie gedeeltes praat ook van dieselfde vier metafore wat voortspruit uit die Troon waarvan vers 5 praat.

Hierdie weerligstrale, dreunings en donderslae (wat) van die troon af gekom (het), dui op God se ontsagwekkende majesteit en stem ooreen met Eks.19:16 ~ Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ’n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ’n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. Dit herinner ook sterk aan Eseg.1:13 ~ Die vorm van die wesens, hulle voorkoms, was soos dié van gloeiende kole vuur; hulle was net soos die vlamme wat heen en weer tussen hulle beweeg het. Die vuur het helder geskyn en blitse het uit die vuur geskiet.

Die sewe fakkels wat hier van melding gemaak word, verwys na die Heilige Gees en is ’n direkte verwysing na Openb.1:4 ~ ...en van die sewe Geeste voor sy troon. Hierdie sewe Geeste wys ook heen na die ewige oordeel oor die wêreld. Ook in die profesie Nahum (2:3-4) en Jesaja (4:4) lees ons daarvan. Die getal sewe dui op die volle werking van die Heilige Gees. Só het Hy dit in Egipte gedoen met vuur wat Hy na die aarde uitgeskiet het (Eks.9:23). Ook Sy eie volk moes by die berg Sinaï bewe voor die donderslae en blitse en die geluid van ’n baie harde trompet (Eks.19:16). Ook die Filistyne is met donderweer verslaan (1Sam.7:10). Dit is altyd die teken van God se indoordeel wat kom.

As ’n mens so na hierdie Skrifgedeeltes luister, is dit geen wonder dat mense wat so gekonfronteer was met God (insluitende die engele), op hul gesigte neerval in die teenwoordigheid van God!

Openb.4:6a ~ Voor die troon was dit soos ’n spieëlgladde see, helder soos kristal. ’n See soos hier beskryf moes voorwaar ’n manjifieke gesig gewees het. Hierdie beeld is in ooreenstemming met Eseg.1:22 ~ Bokant die wesens se koppe was iets wat gelyk het soos ’n gewelf, blink en skrikwekkend soos ’n ysberg. Die gewelf was bokant hulle koppe oopgespan. Hierdie is see is ’n beskrywing van die vloer voor God se troon en is tegelykertyd ’n beskrywing van al die chaotiese kragte en magte in die wêreld, wat tot rus gekom het voor God se soewereiniteit en soos beklemtoon deur Christus se opstanding uit die dood. deur God se wysheid.

Hierdie see is egter ook simbool van God se voorsienigheid wat openlik en deursigtig vir almal is, wat dus impliseer dat daar geen toeval in hierdie lewe is nie – alles geskied volgens God se soewereine wil en dit word soos in Ps.25:11, aan God se kinders bekend gemaak ~ Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.

Openb.4:6b-8 ~ Naby, rondom die troon, was daar vier lewende wesens, vol oë van voor en van agter. 7 Die eerste lewende wese het soos ’n leeu gelyk en die tweede soos ’n bul; die derde het ’n gesig soos dié van ’n mens gehad en die vierde het gelyk soos ’n arend wat vlieg. 8 Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” Ons lees reeds in Esegiël (1:10 en 10:12-15) van hierdie vier wesens, nl. die leeu, die kalf, ’n mens en ’n arend.

Hierdie beelde herinner sterk aan die sesde skeppingsdag, wat ook die hoogtepunt van die skepping was. Hierdie vier lewende wesens sien ons dan as die verteenwoordigers van God se skepping. Die skepping het sy volmaakte heerlikheid verloor weens die sondeval van die mens, maar God bring ’n “herskepping”. Openb. 21 sê dat daar ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gaan wees, want die eerste hemel en die eerste aarde gaan verby gaan.

Hierdie vier lewende wesens verteenwoordig ook die vier hoeke van die aarde (7:1) en kan ook gekoppel word aan die vier belangrikste sterre konstellasies, nl. Leo (die leeu), Taurus (die bul), Akwarius (die man) en Scorpio (die arend). Hierdie vier wesens het dan ook God se majesteit en heerlikheid geproklameer met ’n lofsang, deurdat hulle dag en nag sonder om te rus, gesê (het): “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” Die ganse skepping – hemel en aarde proklameer dus God se majesteit en dit is interessant om te sien dat die ouderlinge in vers 11, dieselfde lied saamsing. God is dus voortdurend (dag en nag) die fokus en objek van hulle aanbidding en lofprysing. Die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge is dus veral gefokus op God se heiligheid en Sy almag. En soos ons reeds (vanoggend) gesien het, is God se heiligheid nie bloot maar net nog een van Sy eienskappe (attribute) nie, maar ’n samevatting van al Sy attribute.

Die ses vlerke waaroor hierdie lewende wesens beskik het, dui op hulle verantwoordelikheid en voorreg om God voortdurend te verheerlik. Die baie oë waaroor hulle beskik, is ’n aanduiding dat niks wat binne hul verantwoordelikheid sfeer val, ongesiens verbygaan nie.

Ons sien dus uit hierdie gedeelte, dat die Drie-enige God en net Hy alleen, die middelpunt van ons aanbidding moet wees. Dit is ook belangrik dat ons na aanleiding hiervan sal besef dat ons aanbidding van God, bepaal word deur wat ons dink van God en hoe ons Hom sien.

Ook sien ons uit hierdie gedeelte, dat die ganse skepping, nié t.w.v. hom (die skepping) self bestaan nie, maar t.w.v. en tot eer van God.

Ons moet verder besef dat, omdat God heilig is, kan en mag en sal Hy nie sonde ongestraf laat nie. Omdat Hy heilig is, kan geen poging van ons kant, onsself regverdig voor Hom laat staan nie. Maar, omdat God heilig is, het Hy ook voorsiening gemaak vir ons wat in sonde is, deurdat Hy Sy Seun Jesus Christus, as Tussenganger en volmaakte Offerlam vir ons gegee, sodat ons onbeskroomd voor God kan verskyn.

Geen wonder dat die vier lewende wesens voortdurend uitroep, Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.

Openb.4:9-11~ Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 10 kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê: 11 “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.

Saam met die vier lewende wesens wat God voortdurend vereer, kniel die 24 ouderlinge en aanbid en besing hulle God. Dit impliseer dus dat die ouderlinge in voortdurende aanbidding voor God is. Ons het ook reeds gesien dat hierdie 24 ouderlinge verteenwoordigend is van alma wat in Christus uitverkies en gered is en daarom sien ons dus ook by implikasie dat ons as gelowiges eendag in die hiernamaals, voortdurend in aanbidding voor God sal wees. Hierdie tweede loflied wat die ouderlinge sing is ’n lied waardeur hulle God besing en eer vir Sy wonderlike skeppingsdade en in die proses haal hulle die krone van hul koppe af (krone = teken van redding en verheerliking) en lê dit voor God se voete om daardeur eer en heerlikheid aan Hom te bring, omdat Hy alleen, waardig is om ons lofprysinge te ontvang. Hierdie is die eerste van ses kere wat hulle hulself voor God neerbuig en voor Hom kniel (5:8, 14; 7:11; 11:16; 19:4). So ’n liggaamshouding (neerbuig en kniel) is ’n natuurlike betoning van eerbied en ontsag en ook ’n natuurlike reaksie wanneer iemand in die teenwoordigheid van God verkeer – dit is ’n natuurlike reaksie op Sy majesteit; Sy heerlikheid en Sy heiligheid (Gen.17:3; Jos.5:14; Eseg.1:28; 3:23; 43:3; 44:4; Matt.17:6; Hand.9:4).

Hierdie optrede van die ouderlinge om neer te kniel voor God en hul krone voor Sy troon neer te lê, dui verder daarop dat hulle hoegenaamd nie besorgd is oor hul eie heiligheid nie; ook nie hul eie eer of vergoeding (die kroon) wat hul ontvang het nie. Al hierdie dinge raak verdof en word op die agtergrond geskuif, inteendeel dit raak betekenisloos in die teenwoordigheid van God.
Deur hierdie lied erken die ouderlinge dat God oor alle reg beskik om te enersyds te red wie Hy wil en te oordeel wie Hy wil

[1] Bybelstudiereeks deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 23 Augustus 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (23 Augustus 2009)

Bybelse Aanbidding - 01 (God se Heiligheid en Heerlikheid) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons praat baie maklik en sê baie gou en ook baie dikwels, dat ons die Here ken. Ons sê dat ons op allerlei wyses met God praat. Ons sê ook gereeld dat ons die Here hoor praat met ons deur Sy Woord. Ons sê gereeld dat ons gemeenskap met God het. Ons sê ook dat ons God gereeld verheerlik deur ons lofprysing en aanbidding.

Jesaja was ’n profeet van God wat ’n baie nou verhouding met God gehad het – ’n Profeet wat God se stem – Sy direkte spreke, gereeld gehoor het, maar kom ons luister net na wat Jesaja se reaksie was toe hy ’n kykie gekry het in ware aanbidding van die Drie-Enige God.

2. SKRIFLESING:
Jes.6:1-6 ~ In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2 By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. 3 Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” 4 Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. 5 Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” 6 Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. . 7 Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” 8 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

3. INLEIDING:
Ons probleem as gelowiges, is dat ons God so maklik laat inpas by óns besige lewens; óns dagboek; en selfs by ons vorm van godsdiens, dat ons aanbidding van God so dikwels (en dalk permanent), niks anders is as bloot maar net nog ’n aktiwiteit nie – ons gaan maar net deur die “motions”. Die probleem is egter dat wanneer ons bely dat God ewig is; dat Hy almagtig is; dat Hy alomteenwoordig is; dat Hy alwys is; dat Hy soewerein is, kan ons aandag en ons tyd en ons aanbidding nie maar net bloot verval in roetine en net maar nog ’n aktiwiteit wees nie. Inteendeel, ons aanbidding en die lof en eer wat ons aan Hom bring behoort die hoogtepunt van ons dag te wees (elke dag) – dit behoort die mees uitstaande, ernstigste en heerlikste gebeurtenis van ons dag te wees! Ongelukkig gebeur dit bitter min, indien ooit, dat ons onsself losmaak van hierdie wêreld en sy trekkragte sodat ons God in al Sy heerlikheid en heiligheid kan verheerlik.

Ons moet besef dat die God wat ons sê ons ken, dié Een is oor wie duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene engele, hard uitgeroep en sê, Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang. Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is. Hulle sê dat Hý die Een is aan wie toekom, al die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid, ja Hý is die Een voor wie die ouderlinge gekniel het om aanbid te word (Openb.5:11-14).

Hierdie God wat ons sê ons aanbid, het net ’n woord gespreek en die ganse heelal het tot stand gekom. Hy spreek net ’n woord en tienduisende engele staan gereed om Sy opdragte uit te voer. Hy is volkome uniek en waarlik glansryk en onvergelykbaar en volkome heilig – daar is niemand soos Hy nie – nêrens of ooit nie.

Wanneer ons so daaroor dink, dan begin ons twee keer dink of ons God régtig ken en wil ons net soos Jesaja uitroep en sê ~ Dit is klaar met my! Ek is verlore!

4. DIE HEILIGHEID VAN GOD:
Ten einde ons gesindheid en siening van ons aanbidding van God te verander en in die regte perspektief te plaas sodat dit in ooreenstemming met die Woord kan geskied, moet ons uiteraard na die Woord gaan kyk, en sien hoe God van die skepping af beplan en bepaal het, dat Sy kinders Hom moet aanbid. En daarvoor moet ons by die middelpunt van ons aanbidding kom, nl. die Heilige God self.

As ons net weer kan kyk na die konteks van die visioen wat Jesaja gehad het, sien ons dat koning Ussia gesterf het en dat daar baie onrus in die land was, ook het die volk van Juda hulleself o.a. oorgegee aan afgodery. Jesaja sien en besef egter dat die Hemelse Koning nie aardsgebonde is nie – Hy is nie onderworpe aan aardse gode nie, want Hý is die soewereine Here God en die ewige Koning van Heerlikheid.

Hierdie visioen van Jesaja plaas sy land en volk se huidige omstandighede in perspektief vir hom en word sy oë gevestig op die Here en word hy terselfdertyd voorberei vir die baie spesiale roeping waartoe die Here hom roep. Sy primêre roeping was om die volk te herinner aan die intieme verhouding wat daar tussen God en hulle bestaan het – die verbond wat tussen Abraham en God gesluit was. Jesaja moes dus die volk oproep om weer in daardie verbondsverhouding met God te staan, soos wat dit vantevore die geval was.

God laat Jesaja egter toe om die derduisende engele te sien wat aan God eer bring en uitroep ~ Heilig, heilig, heilig is die Here van die Leërskare! (Jes.6:3). Ons sien ook dat dit die lied is wat op ons lippe sal wees, wanneer ons eendag by die engelekoor sal aansluit in die hemel (Openb.4:8).

Wat beteken dit as ons sê dat God heilig is? Wat beteken dit régtig as die engele uitroep dat God heilig is? Die woord “heilig” beteken in die Grieks, om “opsy gesit te wees”; of om “uniek te wees”; “enig in sy soort”; of om “afgesonder te word vir iets bepaalds”. Ons het ’n tydjie gelede ook hierna verwys en die voorbeeld gebruik van ’n skottel wat opsy gesit en afgesonder moes word vir ’n bepaalde funksie in die tempel en derhalwe is daardie skottel, “heilig” genoem en kon dit nie vir gewone huislike gebruik aangewend word nie (sien bv. Dan.5:23). Hierteenoor kry ons skottels wat nié afgesonder is vir gebruik in die tempel nie en daardie skottels is ook bruikbaar, maar nie heilig nie, omdat die nie deur God opsy gesit is vir Sy gebruik nie.

Om dan te sê dat God heilig is, is om ’n baie unieke eienskap aan Hom toe te dig en dui vir ons daarop dat Hy afgesonder is en dat Hy gans anders is as enige iets of iemand anders. Dit bevestig die feit dat God nie soos mense of engele of diere of vals gode, of enige iets anders is nie. In kort dus – daar is niks of niemand soos God nie – Hy is dus uniek en dit is waarom Jesaja in Jes.57:15 sê ~ So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes. Hierdie wete opsigself maak dit so wonderlik vir ons om gemeenskap met God te mag hê.

Op watter wyse is God hoog en verhewe, m.a.w. op watter wyse is Hy heilig? Ten einde dit te antwoord, moet ons na die verskillende karaktereienskappe van God kyk. Bv.:
· Hy is almagtig (“omnipotent” – sien bv. Gen.18:14; Matt.19:26). Sy krag word geopenbaar in Sy magtige dade, soos bv. die skepping; redding en oordeel. Niemand anders het soortgelyke krag nie – nie op aarde of in die hemel nie. Wat sy almag betref is Hy dus heilig.
· Die Woord openbaar ook dat God ’n alwyse God is (“omniscient” – sien bv. Ps.139:1-6; Matt.10:29-30; Rom.11:22). Hy weet alles – Hy weet alles wat reeds gebeur het, wat nou gebeur en wat nog gaan gebeur – in die fynste detail denkbaar. Niemand anders beskik oor soveel kennis nie – God is uniek wat dit betref en daarom, wat kennis aan betref, is God dus heilig – uniek en afgesonder.
· God is alomteenwoordig – oral ter gelykertyd (“omnipresent” – 1Kon.8:27-29; Ps.139:7-12; Hand.17:27-28). Wie in die hemel of op aarde kan dit regkry? Wie kan dit verstaan? Wat ruimte aan betref is God dus ook heilig – net Hy kan dit doen – net Hy is afgesonder om so te wees!
· God is ewig – Hy is sonder begin en sonder einde (“eternal” – Ps.90:1-2; Jes.43:10-13; Openb.1:8). Hy leef op so ’n wyse dat ons dit nie eens naastenby kan verstaan nie – Hy ís die Gewer van lewe, omdat Hý lewe ís! Wat hierdie aspek aan betref, nl. tyd en ewigheid, is Hy dus ook heilig.
· God is geregtigheid (“righteous” – Gen.18:25; Ps.7:9-12; 145:17). Sy optrede is te alle tye en in alle opsigte reg en regverdig. Hy begaan nooit, ooit enige sonde nie en tree nooit, ooit onregverdig op nie en daarom laat Hy ook geen sonde of ongeregtigheid ooit ongestraf nie, maar terselfdertyd gaan die goeie ook nooit ongeseënd by Hom verby nie. God is dus ook volmaak in dit wat reg en verkeerd is, en daarom dus ook volkome heilig wat geregtigheid betref.

Ons moet verstaan dat daar talle karaktereienskappe is wat ons op ’n gekwalifiseerde wyse, met God deel (bv. liefde, goedheid, wysheid ens.), maar ons ooreenstemmende eienskappe verskil steeds onmeetbaar van Syne en is dit onvolmaak en daarom nie heilig nie.

Ons sien dus dat heiligheid, nie één van baie beskrywings van God is nie – heiligheid ís die somtotaal van God se karakter en sluit al hierdie gemelde eienskappe in.

5. DIE HEERLIKHEID VAN GOD:
In Jesaja se visioen, het die Engele ook uitgeroep, Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid! (Jes.6:3b). In die Woord is die teenwoordigheid van God (of soos die O.A.V. dit vertaal, die “heerlikheid” van God), die mees dramatiese manifestasie van die belangrikheid van God. Om van God se heiligheid te praat, is om van die essensie van Sy karakter te praat; maar om van God se heerlikheid, of teenwoordigheid te praat, is om God se onbeskryflike belangrikheid in die geskiedenis en die skepping te beskryf.

Hierdie woord “heerlikheid” of “teenwoordigheid”, is in die Hebreeus “kãvôd” en dit is die woord wat gebruik word om iemand van belang te beskryf. So is daar bv. na Josef se belangrikheid verwys as “kãvôd”, toe sy broers vir hul pa, Jakob vertel het van Josef se belangrike pos wat hy in Egipte beklee het (Gen.45:13). Alle mense beskik dus oor hierdie innerlik “kãvôd”, maar die Here het ’n innerlike kwaliteit wat ver verhewe bo enige mens se innerlike “kãvôd” is. Wanneer hierdie uitdrukking, nl. God se heerlikheid, of Sy teenwoordigheid, of Sy “kãvôd”, gebruik word, word daar verwys na alle vorme en uitdrukkings van Sy teenwoordigheid – soos bv. die sterre en die hemele in Ps.19:1 ~ Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Wanneer die Bybel dan die uitdrukking, “God se teenwoordigheid”, of “God se heerlikheid” gebruik, sê dit basies vir ons dat Hy die mees belangrike- of uitnemende (“pre-eminent”) Persoon in die ganse heelal is en dat alles aan Hom onderworpe is.

Jesus Christus word dan ook in die Nuwe Testament as die finale openbaring van God se heerlikheid beskryf – Hebr.1:3 ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Johannes sê dat, al het geen mens God al gesien nie, het Jesus die Vader aan ons geopenbaar ~ Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak (Joh.1:18). In Joh.1:14 sê Johannes, dat ons deur Jesus Christus, wél hierdie heerlikheid van God aanskou het ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Ten einde God weer na behore te verheerlik en te aanbid, moet elkeen van ons individueel, maar ook ons as gemeente, weer opnuut begin fokus op hierdie openbaringe van God, nl. Sy heiligheid en Sy heerlikheid, soos geopenbaar deur die Woord en in Jesus Christus. Sonder dít, sal ons lofprysing en aanbidding van God al meer en meer afgewater raak. Máár met dít voortdurend in gedagte sal dit vir ons moontlik wees om ons oë op die ewige gevestig te hou (2Kor.4:16-18). En deur dit te doen, sal ons verander word en sal ons aanbidding weer die heerlikheid van die Here begin weerspieël, omdat die sluier van ons gesigte af weggeneem is, soos dit hoort en sal ons, soos 2Kor.3:18 dit stel, al meer verander (word) om aan die beeld van Christus gelyk te word. (En sal die) heerlikheid wat van ons uitstraal, steeds toe(neem).

6. ONS REAKSIE OP GOD SE OPENBARING:
Ons moet besef dat wanneer ons werklik gekonfronteer word met hierdie openbaring van God, nl. Sy heiligheid en heerlikheid, sal ons reaksie ook dieselfde wees as dié van Jesaja in Jes.6:5 ~ Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” En wanneer dít nie ons reaksie is nie, moet ons besef dat daar ten diepste groot fout is met ons insig, ons gesindheid en ons eerbied t.o.v. van ons aanbidding en van Wie God werklik is.

Diegene wie gekonfronteer was met hierdie heiligheid en heerlikheid van God, was net soos Jesaja geheel en al oorweldig – dink aan Johannes op Patmos ~ Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is (Openb.1:17). En Jakob, nadat hy by Bet-El wakker geword het, ná sy gesig van die leer waarteen die Engele op en af geklim het? Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” 17 Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel (Gen.28:16-17).

Nie net is daar elke keer ’n erkenning van Wie God is nie, maar daar is ook telkens opregte belydenis en ’n gewilligheid om God in gehoorsaamheid te dien. Wat gebeur met Jesaja nadat hy gekonfronteer is met die teenwoordigheid van God? Jes.6:6-8 ~ Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7 Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” 8 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” En met Jakob? Gen.28:18-22 ~ Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit. 19 Hy het die plek Bet-El genoem. Die stad was voorheen bekend as Lus. 20 Jakob het toe ’n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, 21 sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees. 22 Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal ’n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U ’n tiende gee.” En wat was Johannes se reaksie? Johannes het opgestaan en geluister na wat die Here vir hom gesê het en hy het alles neergeskryf en die eindresultaat was die wonderlike brief van Openbaring, wat o.a. die sewe briewe aan die gemeentes in Klein-Asië ingesluit het.

7. GOD SE GENADE:

Onse God is egter ook ’n genadige God. Kom ons kyk net kortliks na wat Hy elke keer gedoen het in die geval van Jesaja en Johannes en Jakob.
· Jesaja: Jes.6:6-7 ~ Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7 Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”
· Jakob: Gen. 28:13-15 ~ Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14 Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15 Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”
· Johannes: Openb.1:17b-19 ~ Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, 18 die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. 19 Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur.

8. AFSLUITING:
Daar ís dus vergifnis en herstel vir ons moontlik as ons nie op die regte plek is t.o.v. ons aanbidding, en eer, en lofprysing, en aanbidding van God nie, nl. God se genade en God se vergifnis in en deur Jesus Christus!

God-Drie Enig moet voorwaar die Middelpunt van ons aanbidding wees en dit mag nooit anders wees as dit nie. Laat ons daarom nie moedeloos wees oor ons tekortkominge nie, maar laat ons eerder intens bewus raak, van Wie God werklik is en kom ons verootmoedig onsself voor God se genadetroon en vra dat Hy ons individueel, maar ook gesamentlik as gemeente sal vergewe en sal oprig, sodat ons ook kan sê ~ Hier is ek! Stuur my!

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 23 Augustus 2009

Tuesday, August 18, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 16 Augustus 2009

“Openbaring Ontsluit - 10 (Briewe aan Sewe Gemeentes ~ Laodisea)” [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:

Ons briewebesteller het nog net een brief in sy possak en hy is fluks oppad na die sewende gemeente in Laodisea. In vele opsigte is hierdie brief ook die tragieste van al sewe die briewe wat hy oorspronklik in sy possak gehad het, omdat dit die enigste was waarin Christus dit onmoontlik gevind het om ná Sy bestraffing selfs één enkele woord van aanprysing te gee. Selfs in die dooie gemeente van Sardis was daar darem ’n groepie lewende Christene wat ’n paar woorde van lof kon ontvang, maar in Laodisea was daar nie eens so ’n oorblyfsel nie!

Maar al is hierdie brief die droewigste van al die briewe, is hierdie brief waarskynlik ook die teerste en liefdevolste van almal en dit is omdat die bestraffing uit ’n hart vol liefde gekom het, omdat Hy ’n uitnodiging aan hierdie groep mense stuur wat spreek van Sy liefde.

2. DIE GEMEENTE IN LAODISEA (3:14-22):
· Die Geadresseerde Gemeente:
Openb.14a: ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea. Die gemeente van Laodisea was in ’n vooruitstrewende en welvarende stad geleë. Die stad was op ’n plato geleë en daar was geen water in die nabye omgewing nie en daarom moes water daarheen aangelê word d.m.v. ondergrondse kanale. Die bankwese het hier gefloreer en die stad was so ryk, dat dit self (onafhanklik van Rome) vir die herstel van die stad na die aardbewing van 60 n.C. kon betaal. Daar was ’n baie bekende medieseskool gevestig en hulle het bekend geraak vir hulle oogkundige navorsing en hulle het ’n oogsalf daar ontwikkel en vervaardig wat alom bekend was. Ook het die stad bekendheid verwerf vir sy sagte swart wol wat in klere en matte gebruik was. Ons sal ook mettertyd sien dat al drie hierdie uitstaande kenmerke van die stad (wol, bankwese en salf) ’n rol speel in hierdie brief aan die gemeente. Daar het nagenoeg 7 500 Joodse mans (en nog meer vrouens en kinders) in Laodisea gewoon en dit was bekend dat dit finansieel baie goed gegaan het met die Jode daar.

Die gemeente was waarskynlik deur Epafras (’n medewerker van Paulus) gestig en die eerste herder en leraar was waarskynlik Argippus (Filemon 1:2).

· Die Beeld van Christus:
Openb.3:14b ~ So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het. Christus stel Homself hier bekend as die Amen. Hierdie woord “amen” kom nege keer voor in Openbaring, maar hier word dit die enigste keer as ’n titel of ’n naam gebruik en dit is ’n Hebreeuse uitdrukking wat gebruik word om iets wat gesê word met baie sterk klem te bevestig, m.a.w. wanneer daar “amen” gesê word, is dit asof die spreker met erns en klem sê, “dit sál so wees!” Christus wil dus vir die gemeente met hierdie naam sê, dat hulle moet luister, want wat Hy gaan sê is vas en seker en dit word met uiterste erns dus gesê. As die “Amen-Christus”, wou Christus dus hê dat hierdie lou en self-misleide gemeente sal besef en weet dat Christus die Een is, deur wie God Sy doelwitte bereik ~ Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (dit is Christus) is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons (2Kor.1:20 – O.A.V.).

Ook sê Christus dat Hy Seun van God is deur wie alles geskape is en daarom, omdat Hyself God is, durf hulle nie Sy brief ignoreer nie, want Hy is geloofwaardig en wanneer Hy getuig moet daar geluister word.

· Christus se Aanprysing:
Soos reeds gesê, is hier geen aanprysing van Christus se kant aan die gemeente in Laodisea nie.

· Christus se Bestraffing:
Openb.3:15-16 ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! 16 Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg. Christus se verwysing hier na “koud” en “warm”, dui op die werke wat voortgespruit het, of nié voortgespruit het uit hierdie gemeente se geestelike lewe. Dade, of werke is gewoonlik ook ’n aanduiding van mense se geestelike toestand en dit word bevestig deur o.a. Matt.7:16a ~ Aan hulle vrugte sal julle hulle ken (sien ook Rom.2:6-8). Al word redding geheel en al geskenk uit genade en geloof alleen, bevestig dade of vrug, die teenwoordigheid van opregte en ware redding en wedergeboorte ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? (Jak.2:14). Die alwyse Here het presies geweet wat die toestand van die gemeentelede van Laodisea was en dat hulle deur die afwesigheid van vrug in hul lewens, toonbeelde was van ’n ongeredde gemeente.

Christus bestraf hulle oor die feit dat hulle louwarm is. Die metaforiese taal wat Hy hier gebruik (...nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was), is ’n verwysing na die toestand van die stad se water – omdat dit oor baie kilometers deur ondergrondse kanale na die stad gevloei het, was die water vuil, besoedel en louwarm teen die tyd dat dit by stad uitgekom het. Die water was nie warm genoeg om in te bad nie (soos die water van die warmwaterbron by die nabygeleë Hierapolis) en dit was ook nie koel en verfrissend, soos die water by Kolosse nie. Laodisea se vuil en louwarmwater was eintlik nutteloos. In die lig van hierdie vergelyking met die water van die stad, sê Christus dat Hy hulle uit Sy mond spuug, net soos wat ’n mens die water van Laodisea sal uitspoeg as jy dit onbehandeld sou drink.

“Warm mense” is daardie gelowiges wat geestelik lewend is en oor die vurigheid van ’n veranderde hart beskik. Die “geestelik-koue mense” is weer daardie wat Christus openlik verwerp. Die Evangelie laat hulle koud en onaangeraak. Hulle stel nie belang in Christus of die Woord van God, of die Kerk van die Here Jesus nie. Die “koues” maak ook geen geheim daarvan nie.

Om dus “louwarm” te wees pas in geeneen van hierdie kategorieë nie. Hulle is m.a.w. nie waarlik gered nie, maar hulle verwerp ook nie die Evangelie openlik nie. Hulle is deel van ’n gemeente; hulle woon eredienste by en hulle maak aanspraak daarop dat hulle Christus ken. Net soos die Fariseërs, is hulle ook tevrede om ’n godsdiens van selfregverdiging te leef. Hulle is soos huigelaars wat allerlei speletjies speel. Die Here beskryf sulke mense in Matt.7:22-23 ~ Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ 23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Die “louwarmes” is soos die ongelowige Jode waarvan Paulus in Rom.10:2 gesê het ~ ...want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. Hulle beskik oor, wat Paulus in 2Tim.3:5 noem, ...die uiterlike skyn van die godsdiens, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie.

Die probleem met mense soos hierdie, is dat dit veel-veel moeiliker is om hulle met die waarheids-evangelie te bereik. Niemand is moeiliker om te bereik as ’n vals Christen nie.

Volgens John Stott is sulke louwarm gemeentes soos hierdie een in Laodisea, algemeen in ons tyd – Hy skryf... Perhaps none of the seven letters is more appropriate to the twentieth (twenty-first) century church than this. It describes vividly the respectable, sentimental, skin-deep religiosity which is widespread among us today. Our Christianity is flabby and anaemic. We appear to have taken a lukewarm bath of religion.

Christus het ’n ernstige probleem met die toestand in hierdie gemeente en die groep mense wat hulleself Christene noem. En omdat hulle toestand net so erg is as wat warm soutwater vir ’n dorstige mens is, sê Christus: ... Ek (gaan) julle uit my mond uitspoeg.

’n Gemeente is net bruikbaar vir die Here Jesus wanneer sy God liefhet en die wêreld en wêreldgelykvormigheid haat – jy kan nie beide lief hê nie en ’n neutrale gesindheid is net so erg, want dít rig meer skade aan as openlike geloofsversaking. Die wêreld reageer met skok en verbasing teenoor mense wat hulle geloof versaak of wat Godverloënend optree, maar kort voor lank is dit verby en het die “geskoktes” herstel, maar neutrale gesindheid het ’n effek op mense wat baie dikwels “rimpelinge tot in die hemel” veroorsaak, omdat dit die eer en heerlikheid van God aantas en dit mislei dosyne mense wat op die ou einde in ontnugtering sit en dikwels nie weer daar uitkom nie. Iemand wat dus sy Eerste Liefde verloor is presies dieselfde as iemand wat geestelik lou is. God haat beide en Hy sal gemeentes en mense wat hieraan skuldig is, uitwerp.

Ons sien dus dat die eerste en die laaste gemeentes wat briewe ontvang het, nl. Efese en Laodisea, beide die risiko geloop het om geheel en al verwerp te word deur Christus indien hulle hulself nie sou bekeer nie.

Die vraag wat ons en alle ander gemeentes dus moet vra, is nié of ons sukkel met mense wat terugval nie; of pas ons die tug genoegsaam en reg toe nie; of hanteer ons konflik reg nie? Nee, die regte vraag is of ons konsekwent is in ons liefde vir Christus en of ons geestelike groei en of ons ’n geesdrif en ywer het om Christus meer en meer lief te hê.

· Christus se Raad:
Openb.3:17-20 ~ Julle sê: Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. 18 Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. 19 Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. 20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. Hierdie gemeente in Laodisea het “breëbors gespog”, maar ongelukkig is hulle gespog op ’n verrotte fondament van veronderstelde geloof en geestelike rykdom gebou. ’n Ongesonde en selfs ’n onheilige selfvoldaanheid van onafhanklikheid het posgevat in hierdie gemeente. Dit is heel waarskynlik so, dat die rykdom van die stad en omgewing ook aan hulle “afgesmeer” het en het dit waarskynlik ’n windmakerige en pragtige kerkgebou tot gevolg gehad, met pragtige binneversiering en duur parafernalia om lofprysing aan te help; reuse spaarrekenings; ens.

Hierdie gevoel van sekuriteit en rykdom was egter ’n illusie en ’n hersenskim, want presies die teenoorgestelde was waar van hul geestelike toestand. So ver dit hulle getrouheid en getuienis betref, was hulle volgens vers 17, ellendig en beklaenswaardig, arm, blind en kaal. Hierdie leë dade en toestand waarin hulle verkeer, het hulle toestand voor die Here bevestig en was die woorde van die Here Jesus in Matt.7:21, waar van hulle ~ Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. En net soos die ryk jongman was hulle mislei t.o.v. hul geestelike toestand (Matt.19:16-22). Die rykdom van hierdie Gemeentelede het tot gevolg gehad dat hulle ’n vals oortuiging van sekuriteit en geestelikheid gehad, omdat hulle rykdom hulle laat dink het dat dit ’n weerspieëling was van hulle geestelike rykdom. Hulle was ryk en geestelike trots ja, maar brandarm wat betref reddingsgenade. Hulle het gedink dat almal rondom hulle, jaloers op hulle sou wees, maar eintlik moes almal hulle intens jammer gekry het, want hulle was geestelik ellendig, beklaenswaardig, arm, blind en kaal.
Die Here Jesus kon hierdie gemeente met een “handveeg” uitgewis het, maar nadat Hy hulle geestestoestand uitgespel het, kom Hy egter in vers 18 en gee Hy raad aan hierdie gemeente wat kan lei tot opregte en ware redding en daarom bied Christus hulle drie produkte te koop aan, nl. geestelike goud; geestelike klere en geestelike insig.

Hy bied redding aan hulle aan die hand van hierdie drie uitstaande kenmerke van die stad waarin hulle as gemeente geleë is, nl. rykdom; swart wol en die oogsalf wat in die stad vervaardig is. Natuurlik leer Christus nié dat redding verdien kan word deur goeie werke nie, want verlore sondaars hét geen betaalmiddele om hulle redding te koop nie (Jes.64:5-6), wat Hy wel vir hulle sê, is dat die “betaalmiddele” wat Hy vir hulle bied om gered te word, dieselfde is as dié in Jes.55:1 ~ Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Al wat sondaars dus moet aanbied as betaling ten einde gered te word, is hulle verlore toestand en in ruil daarvoor bied Christus vir hulle vergifnis van sonde en word die verhouding tussen die Vader en die sondaar herstel.

In die gees van die welvarende Laodisea bied Christus dan vir hulle die volgende aan:
- Eerstens sê Hy dat hulle goud van hom moet koop, want hierdie goud wat Christus aanbied, is gelouterde goud – m.a.w. dit is sonder enige onsuiwerhede en dit verteenwoordig die onskatbare rykdom van ware redding en verlossing. Petrus vergelyk ook die geloof met goud in 1Pet.1:7 ~ Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hierdie aanbod van goud is dus ’n waarborg van ewige rykdom.
- Tweedens bied Christus vir hulle wit klere aan. Dit staan in skrille kontras met die swart wol waarvoor Laodisea bekendheid verwerf het en wat ’n versinnebeelding van die gemeente se verlore toestand was – dit is in ooreenstemming met Jes.64:6a ~ Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere. Die morele naaktheid waarin hierdie gemeente verkeer het, was o.a. as gevolg van hulle wêreldgelykvormigheid. Christus kom egter nou en Hy bied aan hulle geregtigheid om hulle sonde te bedek – geregtigheid in die vorm van rein wit klere soos o.a. in Openb.3:4 beskryf ~ Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is.
- Laastens bied Christus aan hulle oogsalf om aan julle oë te smeer. Die Here Jesus wil aan hulle sê dat Hy helende salf aan hulle bied, ten einde hulle geestelike blinde oë te genees. Hierdie blindheid van die gemeente het gemanifesteer in ’n gebrek aan begrip en kennis van geestelike waarhede. Dit laat ’n mens dink aan Jesus se woorde aan die Fariseërs in Matt.23:26 ~ Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees. Soos alle verlore mense het ook hierdie gemeentelede in Laodisea nodig gehad dat hul blinde oë geopen moes word ~ Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God (Hand.26:18).

Waarom kom Christus en sê Hy dat Hy diegene wat Hy liefhet, bestraf en tug? Hierdie opmerking dui eerstens daarop dat hierdie gemeente nie gered was nie en daarom word hulle bestraf en getugtig, maar hoe klop dit met die feit dat Hy sê dat Hy hulle liefhet? Eerstens moet ons besef dat Christus ’n besondere liefde vir Sy uitverkorenes het, maar verse soos Mark.10:21 en Joh.3:16 dui vir ons aan dat Christus ook ongeredde mense liefhet. Mark.10:21 ~ Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” en Joh.3:16 ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Christus het dus ook hierdie ongeredde “Laodisente” lief, maar Hy waarsku hulle om hulle te bekeer, anders gaan Hy hulle straf en tugtig.

Ten spyte egter van hierdie dreigement kom Christus, soos telkemale met van die ander gemeentes en nooi Hy hierdie ongereddenes wat hulself Christene noem, om die deur van hul harte oop te maak vir Jesus Christus - en as iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. Ons moet egter hier in gedagte hou dat ons nie hierdie teksvers kan misbruik in Evangelistiese situasies nie, want ons moet onthou dat hierdie woorde gerig word aan ’n gemeente – daar word dus geklop aan die hart van ’n gemeente en nie die van ’n individu nie.

Hierdie woorde van Christus impliseer ook dat daar geen enkele gelowige in daardie gemeente was nie.

Hierdie uitnodiging na ’n maaltyd dui op intieme gemeenskap wat in die vooruitsig gestel word deur Christus en indien daar bekering sou plaasvind en wanneer hulle aansit by die maal, sal hulle geseën word. Daarom dat Openb.19:9 sê ~ Toe sê die engel vir my: Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is. Die Griekse word wat in vers 20 gebruik word vir “feesmaal”, dui op die hoofmaaltyd wat in die aand genuttig is. Christus dring dus by hulle aan om hulle te bekeer, sodat hulle saam met Hom aan die feestafel kan aansit, voor die nag hulle oorval – die nag van ewige duisternis.

· Christus se Belofte:
Openb.3:21-22 ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 22 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Hier gee Christus ’n wonderlike belofte aan elkeen in die gemeente wat luister en hulle bekeer – hulle sal saam met Christus op Sy troon gaan sit, soos wat Christus gedoen het nadat Hy die sonde en die dood oorwin het. Matt.19:28 ~ Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. Die reg om saam met Christus op ’n troon te sit en te regeer is maar een van baie beloftes wat gemaak word aan gelowiges soos wat ons die afgelope tyd gesien het – ons sal eet van die Boom van die Lewe (Openb.2:7); Ons sal die Kroon van die Lewe dra (2:10); ons sal beskerming ontvang teen die tweede dood (2:11); ons sal van die verborge manna eet (2:17); ons sal nuwe name ontvang en dit sal op ’n wit steentjie geskryf word (2:17); Ons sal gesag ontvang en heers oor die nasies (2:26-27); ons sal die môrester as besitting ontvang (2:28); ons sal wit klere ontvang wat reinheid en heiligheid demonstreer (3:5); ons sal ’n pilaar in die Tempel van God wees (3:12) en die Naam van God, asook die Naam van Christus en ook die naam van die nuwe Stad Jerusalem sal op ons geskryf word. En met hierdie uitnodiging en belofte in hulle ore, kom Christus met die uitnodiging soos in al die ander briewe ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

[1] Bybelstudiereeks deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 16 Augustus 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (16 Augustus 2009)

“Die Brief aan die Efesiërs - 04 (Die Funksie van die Heilige Gees in die Reddingsproses)” [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons het in die vorige tien verse van Ef.1 gesien dat diegene wat in Christus ingeplant is, bepaalde seën ontvang.

Eerstens het gelowiges reeds lank voor die grondlegging van die aarde, die eerste seën ontvang, nl. die feit dat hulle in Christus uitverkies is. Tweedens ontvang gelowiges die seën van verlossing en hierdie verlossing het o.a. vergifnis, oorvloedige genade, geestelike onderskeiding en die vereniging onder Een Hoof, nl. Jesus Christus, tot gevolg.

Kom ons kyk dan nou na die volgende perikoop, nl. Ef.1:11-14.

2. SKRIFLESING:
Ef.1:11-14 ~ Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12 Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13 Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14 Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Hierdie gedeelte wat ons pas gelees het, is die einde van een lang sin in die Grieks wat van vers 3 af gestrek het tot hier aan die einde van vers 14. Paulus begin egter weer hierdie nuwe perikoop met dieselfde loflied waarmee hy afgeskop het in verse 4-6 en dit handel oor God se plan van verlossing wat Hy reeds voor die skepping van die heelal, in gedagte gehad het en wat sal voortduur regdeur die ewigheid.

Wat verder interessant is, is dat Paulus tot en met vers 10 gepraat het van alle uitverkorenes, maar nou hier in die volgende verse begin hy hom toespits op die heidene wat ingesluit is by God se plan van verlossing. Ons sien dit eers in vers 11, waar Paulus sê ~ ...Deur Christus het ons deel geword van die volk van God – baie duidelik verwys hy hier na die Jode, wanneer hy praat van “ons”, maar in vers 13 sê hy ~ ... Deur Christus het ook julle deel geword. Wie is die “julle” waarvan hy hier praat? Die heidene.

Paulus besing dus in hierdie perikoop, die wonder van die uitverkiesing van beide Jood en heiden, daarom dat hy hierdie perikoop afsluit met die woorde ~ ...Daarom moet ons sy grootheid prys.

3. DIE FUNKSIE VAN DIE HEILIGE GEES:
Nog ’n interessante verwikkeling wat ons in hierdie gedeelte vind, is die aandag wat Paulus skenk aan die rol of funksie van die Heilige Gees in die reddingsproses van die mens – vers 13b ~ In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël... en wat daarop volg. Hierdie werking van die Heilige Gees is dan ook die eerste werking van die Gees in ’n uitverkorene se lewe en in teologiese terme word dit die “effektiewe roeping” van ’n gelowige genoem. Vers 11 verwys dan ook hierna ~ Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

Op die oog af klink vers 11 dieselfde as vers 4, nl. ~ So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In vers 4 verduidelik Paulus egter aan sy lesers, dat gelowiges reeds voor die skepping, vooruitbestem was tot redding, maar hier in vers 11verduidelik hy hoe hierdie vooruitbestemde redding geskied. En hierdie geboorteproses geskied deur die werking van die Heilige Gees, wanneer die Gees ons oë oopmaak ten einde te kan sien wat Christus vir ons gedoen het toe Hy aan die kruis versoening vir ons sonde bewerkstellig het. Verder, dat die Heilige Gees aan ons die geloof geskenk het om in Christus te glo en derdens dat Hy ons wil verander ten einde Christus as Persoonlike Saligmaker te omhels.

Ons moet verstaan dat hierdie “effektiewe roeping” van die Heilige Gees, absoluut noodsaaklik is, want sonder dit, sal geen mens, ván sonde, ná Christus draai nie. Inteendeel sonder die Heilige Gees se “effektiewe roeping” sal die mens nog verder wegdwaal van Christus en Sy heerskappy en Sy Goddelikheid verwerp. Sonder die Heilige Gees kruisig die wêreld Christus maar net keer op keer. Dit is waarom Christus die Heilige Gees gestuur het, sodat... ~ ...wanneer Hy kom, Hy (sal) bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9 Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10 die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11 die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel (Joh.16:8-11).

Die eerste funksie van die Heilige Gees is dus om diegene wat in Christus uitverkies is, te oortuig van sonde en sodoende geloof in Christus in hul binneste te bewerk.

Wanneer ons verder na verse 11 en 12 kyk, vind ons ’n tweede funksie van die Heilige Gees. Ons sien dat Paulus sy gedagte in vers 11, nl. dat ons deel geword het van God se volk, nou verder voer in vers 12 en sê dat ons as God se uitverkore volk, Christus moet verheerlik vir die feit dat ons volgens Sy raadbesluit, nou deel uitmaak van God se volk. ’n Tweede funksie dus van die Heilige Gees, is om ons op te roep om Christus te verheerlik.

Wanneer ons Joh.15:26 in gedagte hou, sien ons dat, in baie opsigte, die primêre doel met die Heilige Gees, juis is om Christus te verheerlik ~ Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig en Joh.16:13-14 ~ Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14 Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.

Die oomblik wanneer die kerk hierdie Bybelse feit vergeet en meer op die Heilige Gees fokus as op Christus, dan is so ’n kerk se aanbidding en Woordverkondiging nié meer Woord-gesentreerd nie, omdat dit nie meer Christus-verheerlikend is nie. Wanneer mense bv. vrae begin vra soos, “het jy al die Heilige Gees ontvang”, of “het jy al die ‘second blessing’ ontvang”, of “spreek jy in tale”, ens., dan is die kerk nie besig om Christus te verheerlik nie. Wanneer die klem méér op die verheerliking van die Heilige Gees geplaas word en nie op die verheerliking van Christus nie, is sulke optrede nie van die Heilige Gees nie, maar van ’n ander gees ~ Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 3 En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is (1Joh.4:2-3).

Daarteenoor, waar en wanneer Christus ook al verheerlik word, kan ons weet dat dit ’n werk van die Heilige Gees is en kan ons Hom daarvoor dank.

In die lig van dit wat ek so pas gesê het, is dit egter belangrik dat ons sal besef dat die “verheerliking van Christus” deur die Heilige Gees, nié sonder ons mag plaasvind nie en daarmee bedoel ek nie dat die Heilige Gees afhanklik is van ons deelname al dan nie, wat ek daarmee bedoel, is dat ons aktiewe deelnemers aan die verheerliking van Christus, saam met die Heilige Gees sal wees, dit is waarom Paulus in verse 12 en 14 sê ~ Daarom moet ons sy grootheid prys en die “ons” hier verwys na die Heilige Gees tesame met ons.

Gelowiges baseer baie dikwels hul geloof op opeenvolgende gebeurtenisse en ervaringe, waar hulleself die fokus is. Aan die anderkant kan gelowiges ewe maklik die teenoorgestelde doen en ons geloof uiters abstrak en dogmaties beleef en hanteer en word God se werk in ons, geheel en al eensydig gesien – net Hy doen die werk en ons absoluut niks nie. Hulle vergeet dat God middellik werk. Byvoorbeeld: Tydens wedergeboorte werk God deur die Woord en die Gees verlig en open die Woord vir ons, net so, wanneer Christus verheerlik word, word dit deur die Gees én ons gedoen, deurdat ons deur die Gees na Christus gelei word en ons dan deur ons lewe, meer en meer aan Christus gelykvormig word – dit is hoe God middellik werk.

Die vraag wat ons, onsself dus voortdurend moet afvra, is of ons Christus voortdurend deur ons lewe verheerlik? Verheerlik ons Hom deur ons spreke en dade? Verheerlik ons Hom deur ons doen en late? Indien nie, het ons geen deel aan die Gees nie, omdat dit juis die doel met Sy koms was.

’n Derde funksie (onthou die eerste twee is, dat die Gees ons oortuig van sonde, geregtigheid en waarheid en tweedens dat Hy Christus verheerlik) – die derde dan, is dat Hy al die gelowiges byeen bring en in die Kerk van Jesus Christus inplant. Paulus spreek hierdie onderwerp volledig aan in hoofstuk 2, maar in verse 11-14 het ons dan ook gesien dat nie net die Jode nie, maar ook die heidene in die kerk van Christus ingeplant word.

Hierdie was ’n baie belangrike saak in Paulus se tyd, omdat die Jode baie vyandiggesind was teenoor die heidense gelowiges en uiteraard het dit ook vir ons verrykende betekenis, omdat almal van ons uit die heidennasies stam en hier vind ons dan ook die wonderlike gerusstelling dat die Koninkryk van God ook vir ons geopen is deur Jesus Christus en dat ons deur die Heilige Gees in die Kerk ingeplant is.

Christus word dus verheerlik deur die Heilige Gees, elke keer wanneer Hy ’n gelowige in die kerk inplant en daarom is dit geen geringe saak wanneer mense deel word van ’n gemeente nie, inteendeel dit is rede tot lofprysing aan Christus.

Die vierde funksie van die Heilige Gees volgens ons gelese gedeelte, is die verbintenis tussen die Heilige Gees en die Woord van God. In vers 13 verwys Paulus as volg na die Woord ~ ...die waarheid wat aan julle verkondig is... en ...die evangelie van julle verlossing.

Op dieselfde wyse as wat Christus deur die Heilige Gees verheerlik word en nie van Hom geskei mag word nie – op dieselfde wyse spreek die Heilige Gees altyd deur die Woord van God en kan die Gees en die Woord nie van mekaar geskei word nie. Die Heilige Gees spreek en werk nóóit los van die Woord nie. Hierdie feit was een van die groot ontdekkings wat die Reformatoriese Vaders, soos Luther en Calvyn, gemaak het. Hulle het geglo in die werk van die Heilige Gees wanneer dit gekom het by die wedergeboorte van gelowiges; hulle het geglo dat dit die Heilige Gees was wat mense tot geloof gebring het en hulle het geglo dat dit die Heilige Gees is wat mense laat volhard en laat groei het in die geloof. Hulle het in die werking van die Heilige Gees geglo omdat die Woord hulle daarvan geleer het.

Dit beteken dus dat die Heilige Gees nié in die na-Apostoliese tyd, meer deur mense profeteer nie, omdat ons glo en bely dat die kanon van die Woord afgesluit is en die Woord algenoegsaam is, m.a.w. dit bevat alles wat ons nodig het vir redding. Daarom is die funksie van die Heilige Gees nou, om ons geestesoë te open en die Woord te verstaan wanneer dit gepredik of gelees word.

Ons lees laastens in vers 13 van ’n vyfde funksie van die Gees, nl. dat Hy ons ...in Christus..as die eiendom van God beseël.

Omdat ons as gelowiges nie die volheid van God se beloftes by wedergeboorte ontvang nie – omdat dit, soos 1Pet.1:3-4 dit stel, vir ons in die hemel in bewaring gehou word as ...’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis, gebeur dit dikwels dat ons as gelowiges in die versoeking val om te twyfel oor ons redding, juis omdat dit so onwerklik lyk en voel (sien Rom.8:23).

Paulus gee egter aan ons die versekering in Rom.8:9 dat elkeen wat aan God behoort, die Heilige Gees ontvang het (sien ook 1Kor.6:19) en word ons derhalwe, soos wat Ef.1:13 dan ook sê, deur die Heilige Gees beseël as kinders van God. Wat beteken hierdie uitdrukking, om “deur die Heilige Gees beseël te wees as kinders van God”? Hierdie seël verwys na die amptelike identifikasiemerk wat destyds op ’n brief, of kontrak, of ander belangrike dokumente geplaas was. Hierdie seël het gewoonlik uit warm was bestaan wat op ’n koevert of dokument gedrup is en dan is ’n seëlring daarin gedruk. So ’n dokument is dan amptelik verbind met die draer van die ring en bekragtig deur die gesag wat hy gedra het.

Hierdie is dan presies dieselfde gedagte wat ons het wanneer ons verwys na die beseëling deur die Heilige Gees. Hierdie seël impliseer vier primêre dinge: Sekuriteit, egtheid/betroubaarheid, eienaarskap en gesag.

· Kom ons kyk kortliks na wat sekuriteit beteken: In antieke tye het die seël van bv. die koning, sekuriteit en onaantasbaarheid geïmpliseer. Ons sien dit bv. in die geval van Daniël toe hy in die leeukuil gegooi is. Koning Darius het sy seël op die ingang na die put geplaas - Dan.6:18 ~ Daar is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. Indien enige iemand behalwe die koning, hierdie seël gebreek het, sou hy boet met sy lewe. Op soortgelyke wyse was die grafkelder van Jesus geseël deur die seël van Pilatus (Matt.27:62-66).

Op ’n veel-veel meer permanente en intenser wyse word ons as gelowiges beseël deur die Heilige Gees en kan niks of niemand hierdie seël verbreek en ons derhalwe uit Sy hand ruk nie.

· Egtheid is ’n tweede ding wat hierdie beseëling van die Heilige Gees impliseer. Daar kan geen vals seël wees nie. As ons kyk na die verhaal van Isebel (vrou van koning Agab) in 1Kon.21:6-16), het sy briewe in die naam van Agab geskryf waarin sy uiteindelik Nabot se grond bekom het en alhoewel sy bedrog gepleeg het, is die grond gekonfiskeer omdat die seël op die briewe wat sy in die koning se naam geseël het, eg was.

Wanneer God die Heilige Gees aan ons skenk, is dit Sy seël wat Hy op ’n brief plaas, waarin daar staan: “Hierdie persoon behoort aan my en hy is ’n ware en egte burger van My Koninkryk.”

· Derdens is hierdie seël waarmee ons beseël word, ’n teken van eienaarskap. Wanneer die Heilige Gees ons seël, verklaar Hy dat ons God se eiendom is van die oomblik dat ons gered is tot in ewigheid. Die Heilige Gees se seël verklaar dat die “transaksie van redding” amptelik en finaal is. Dit kan vergelyk word met die gebeurtenis in Jer.32, waar Jeremia ’n stuk gegrond van sy neef Ganamel gekoop het. Nadat hy daarvoor betaal het, is die transaksie beseël – vers 10 ~ Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ’n skaal.

· In die vierde plek verleen die seël van die Heilige Gees, gesag aan gelowiges – gesag om te proklameer, te leer, te bedien en God se Woord en die Evangelie te verdedig.

Die Heilige Gees waarborg nie alleen ons erfenis in Jesus Christus met ’n seël nie, maar Hyself is ook ’n waarborg van ons verlossing. Vers 14a ~ Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Hierdie woord “waarborg” is in die Hebreeus, “arrabon” en het oorspronklik verwys na die betaling van geld ten einde ’n kooptransaksie te verseker. ’n Vorm van hierdie woord is ook gebruik om na ’n verloofring te verwys wat as pand van waarborg aan die meisie gegee is, waardeur die jongman dus ewige trou sweer aan sy verloofde. Op dieselfde wyse wil die Heilige Gees gelowiges daarvan verseker dat elkeen, sy of haar volle erfenis gaan ontvang. Die Heilige Gees is die kerk se “verloofring” wat as pand van belofte aan Christus se bruid gegee word.

4. AFSLUITING:
Ons moet egter daarop let, dat ons erfenis wat gewaarborg is, al is dit hoe wonderlik, nie die primêre doel met ons redding is nie. Die groot en oorheersende doel met God se redding van gelowiges is om lof en eer aan Hom te bring. Paulus bevestig hierdie feit in beide verse 6 en 12 ~ Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het en ... Daarom moet ons... die grootheid van God prys. God red ons dus ter wille van Sy eer, inteendeel die ganse skepping – mens en dier is geroep om eer aan God te bring – Jes.43:20-21 ~ Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. 21 Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.

Ons as individue, maar ook ons as gemeente is geroep om eer aan God te bring. Ek dink u sal met my saamstem, dat wanneer ons die woorde in Openb.5:11-14 lees, ons nog onmeetbaar ver is van dit wat ons kan en behoort te doen t.o.v. lofprysing en aanbidding. In Openb.5:11-14 staan daar ~ Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ’n groot menigte engele gesien. Daar was duisende derduisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12 uitroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.” 13 Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.” 14 Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.

In die lig hiervan het ek dit goed gedink om vir ’n wyle weg te breek van ons studie van die brief aan die gemeente in Efese en na die Woord te gaan kyk en te sien wat die Woord vir ons leer t.o.v. lofprysing en aanbidding.

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 16 Augustus 2009

Tuesday, August 11, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (09 Augustus 2009)

“Dawid se Hantering van Beproewing”[1]


Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.


1. INLEIDING:

Ons as mense bevind ons baie dikwels in baie moeilike situasies waar ons nie herwaarts of derwaarts weet nie. Ons verloor alle visie en hoop wat daar moontlik nog oor was. Dit lyk nie of daar enige oplossing is nie en niemand kan vir ons die regte raad gee nie.

Wanneer ons onsself in so ’n situasie bevind, moet ons vasstel hoe God wil hê dat ons as gelowiges moet optree en die situasie hanteer. M.a.w. wat is God se standaard vir sulke uitsiglose of hopelose situasies?

Ons moet altyd onthou, dat God in Sy alwysheid en genade, vir ons reeds die antwoorde op ál ons probleme, in Sy onfeilbare Woord verskaf het. En ten einde vir ons ’n antwoord te verskaf, kan ons na ’n situasie in koning Dawid se lewe gaan kyk. Hy was menige keer in soortgelyke situasies, of ten minste lyk dit so.

2. SKRIFLESING:

Kom ons kyk na Ps.3 ~ ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. 2 Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. 3 Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela 4 Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. 5 As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela 6 As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. 7 Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. 8 Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan. 9 Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk. Sela.

Dawid het waarskynlik nog nooit vantevore in sy lewe so ’n laagtepunt beleef soos toe hy hierdie Psalm geskryf het nie. Hy skryf hierdie Psalm, terwyl hy vlug vir sy eie seun Absalom. U kan gerus na die detail van hierdie vlugtog van Dawid gaan kyk in 2 Samuel, hoofstukke 15 en 16. In kort kom dit hierop neer: Terwyl Dawid besig was met die dag tot dag regering van die land, het sy seun Absalom die harte van die burgers van Israel gesteel en het Absalom uiteindelik ’n rebellie teen sy pa in die nabygeleë stad van Hebron van stapel gestuur. Hierdie rebellie het so skielik en so onverwags plaasgevind, dat Dawid in die nag, met ’n handjievol leiers uit Jerusalem, na ’n skuilplek in die woestyn vlug. Dawid se eie seun maak jag op hom en ons sien in 2 Samuel dat Dawid daaroor treur.

Wat vir my besonders is in ons gelese Psalm, is Dawid se eerlikheid. In vers 1 sê hy onbeskroomd dat hy vir sy eie seun gevlug het. Dawid se omstandighede was dus verskriklik en uitsigloos, maar hy is eerlik daaromtrent en hy steek niks weg nie, daarom dat hy verder in vers 2 sê ~ Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. Wat hy eintlik sê, is dat daar menslik gesproke, geen uitkoms uit sy haglike situasie is nie. In 2Sam.15:12 sien ons werklik hoé haglik dit was ~ Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.

Dawid is nie besig om voor te gee nie. Hy steek nie sy gevoelens weg nie – hy is openlik en eerlik oor sy situasie. Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons mense kry (onsself?) met wie dit haglik gaan en as jy hulle vra hoe dit gaan, sal hulle sê dat dit goed gaan. Hulle gee voor dat dit goed gaan. Dalk is dit omdat hulle aan “positiewe denke” glo en glo dat as hulle positief praat, hulle situasie sal verander, of anders gestel – hoe dikwels hoor ons nie mense sê, moenie so negatief praat nie, want dit wat jy bely sal jy oor jou bring – probleem is net, dat dit “reeds oor hulle is” en dit is niks anders as ’n vorm van mistisisme nie.

Dawid weet presies in watter situasie hy homself bevind en dit moes bitter vir hom gewees het – sy eie seun maak jag op hom en dan sien hy ook, hoe hy, die “eens geliefde koning”, se onderdane teen hom in opstand kom. Hy word selfs gespot, want in vers 3 staan daar geskrywe dat sy vyande sê ~ Van God kom daar vir hom geen hulp nie! Die mense beswadder sy naam – kom ons kyk net na enkele dinge wat die mense van hom gesê het: Terwyl hy loop en vloek, het Simeï uitgeroep: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar en jou skurk! 8 Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou het die Here die koningskap aan jou seun Absalom gegee. Nou sit jy self in die ellende omdat jy ’n moordenaar is (2Sam.16:7-8). Dit is erg genoeg om voor jou eie kind uit te vlug. Dit is erg genoeg dat bykans die hele volk teen jou draai, maar om nog te hoor dat mense sê dat hy ’n moordenaar en skurk is en dat hy nou maar net kry wat hy verdien – dít is erg!

Nog erger was egter die feit dat Dawid besef het, dat hy die volk rede gegee het om so oor hom te voel. Waarom? Omdat hy blatant gesondig het teen God en dat dit sy sonde was wat aan die wortel van sy dilemma gelê het. Een van Dawid se sondes was o.a. die moord wat hy laat pleeg het op ’n ander lojale ondersteuner van hom, nl. Urija die Hetiet – Batseba se man. En natuurlik was daar nog die sonde met Batseba self ook. Aan die eenkant kon Dawid gevoel het dat hy nie kan staatmaak op God se beskerming en hulp nie, maar aan die anderkant het hy egter ook verstaan en geweet dat God ’n genadige God is wat sonde vergewe. Wanneer jy verstaan en glo dat God ’n genadige en getroue God is, laat jy nie toe dat jou mislukkings en jou sonde jou lam lê nie.

Spyt is ’n verlammende ding en ja, Dawid sou sekerlik graag wou terug gaan op sy lewenspaadjie en sy sondige optrede met en teen o.a. Batseba en Urija wou regstel, maar hy het geweet dat hy dit nie kon doen nie – jy kan nie terug gaan in die verlede nie, jy kan net die nou en hier verander. So, wat doen jy? Die Woord sê dat jy jou sonde bely en glo dat Christus jou sonde op Hom geneem het en dan jy staan op en jy gaan aan, want jy weet dat God getrou is en dat wanneer Hy vergewe, Hy jou vergewe het en jou nie meer hanteer asof jy skuldig is nie.

Wanneer God in Christus vergewe, herstel Hy die verhouding tussen Hom en jou volkome. Die gevolge van jou sonde mag steeds daar wees, maar Hy hou niks meer teen jou nie. En dit was waar van Dawid, want vir baie jare moes hy die gevolge van sy sonde dra – gevolge wat in sy persoonlike lewe gemanifesteer het, maar ook in sy familielewe en in die lewe van die volk van Israel – maar God het Hom vergewe toe hy sy sonde bely het en wat ons dan sien, is dat Dawid hier in die openingsverse van hierdie Psalm, sy verknorsing waarin hy verkeer uitlig, maar ons sal ook sien dat hy nie op hierdie punt bly vashaak nie.

3. DRIE SLEUTELS:

As ons dan weer na verse 1 en 2 kyk, is Dawid se situasie vanuit ’n menslike oogpunt, hopeloos. My vraag vanoggend aan jou is, of jy ook voel asof jy in ’n hopelose situasie vasgevang sit? Is jou “vyande” ook baie? Word jy ook beswadder? Is jou eie kind ook in opstand teen jou? Vlug jy van ’n bepaalde probleem af? Het jy spyt oor iets uit die verlede – iets wat net bly spook by jou? Ly jy aan een of ander vorm van beproewing? Voel jy die lewe behandel jou onregverdig? Kom ons kyk of Dawid se Psalm ons nie vandag kan help nie, want ook hy was in ’n geweldige situasie vasgevang.

As ons na die res van hierdie Psalm kyk sal ons drie sleutels sien, wat ons kan help in tyd van beproewing. Hierdie was sleutels wat Dawid gehelp het, maar die Woord van God is ook vir ons in ons tyd gegee en daarom is hierdie drie sleutels ook vir ons bedoel.

· Sleutel nommer een:

Stel jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid. Vers 4 ~ Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. Skielik hier in vers 4 draai Dawid sy oë weg van die menigte wat hom leed wil aandoen – hy maak ’n 180 grade draai en hy keer sy rug op sy probleem en hy hef sy oë op na God. Dawid het hier ’n wilsbesluit geneem en dit is presies wat ons ook moet doen – ’n wilsbesluit om ons probleem die rug te keer. Ons kan bly tob oor ons probleme. Ons kan, soos ’n vark in die modder bly lê. En hoe langer jy tob oor die probleem, hoe groter word die probleem. Hoe langer ’n vark in die modder bly lê, hoe vuiler word hy. Nee, ons moet ’n wilsbesluit neem om, om te draai en ons oë op God te vestig.

Wat doen Dawid? Hy draai om. Van verse 1-3 draai hy om na vers 4 en wat daarop volg en plaas hy sy vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid. Wat ook al mag gebeur, dit is deel van God se voorsienigheid – dit is deel van Sy soewereiniteit, ook Sy soewereiniteit vir en in jou lewe.

Ons praat hier van God se wysheid. Hoe het God se wysheid in Dawid se geval gemanifesteer? Dit geskied op drie maniere:

w God se wysheid het Dawid se beskerming behels ~ U, Here, beskerm my aan alle kante. Die O.A.V. sê ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut. Dawid gebruik hierdie woord “skild” baie in sy Psalms, maar hierdie is nie ’n gewone skild soos deur ’n soldaat gedra nie – die betekenis van hierdie woord “skild”, dui op beskerming en ’n skild wat reg rondom en bo-oor en onder ’n persoon strek – dit is die betekenis van die Hebreeuse woord hier. Volkome beskerm, maar indien ’n pyl wel deurkom is dit ’n pyl wat God in Sy alwysheid en soewereiniteit, toelaat om deur te kom om my seer te maak. Dit is soos wat Rom.8:28 sê ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dawid het hierdie waarheid t.o.v. God geglo.

Wat dus ook al met ons gebeur – ons moet besef dat dit deel uitmaak van God se wyse voorsienigheid. En wanneer hierdie pyl wel deur die skild kom, moet ons onsself drie vrae afvra:

- Eerste vraag – Kon God die “pyl” gekeer het? Natuurlik kon Hy, want alles is vir Hom moontlik – Hy is tog immers almagtig.

- Tweede vraag Het Hy die pyl gekeer? Wel. As jy beproewing ervaar het Hy logieserwys nié die pyl gekeer nie.

- Derde vraag Waarom het Hy nie die pyl gekeer nie? Wanneer ons hierdie vrae vra, is dit ’n manier om erkenning aan God te gee, deur te sê dat Hy my skild is, maar wanneer die pyl wel deurkom, het Hy ’n rede daarvoor en die rede daarvoor is dat Hy dít wat jy ervaar, toegelaat het, sodat jy verander kan word ten einde meer soos Hy te word.

Die probleem met ons as mense, is dat ons “beskerming” heeltemal anders definieer as wat God dit doen. Ons definieer dit met beskerming teen armoede, beskerming teen siekte; met geluk; sukses, ens. Ons as gelowiges moet egter besef dat God se beskerming – Sy beskerming wat Hy in wysheid verleen, ook beproewing kan behels, want daardeur beskerm Hy ons teen iets wat veel erger kon gewees het – dalk uiteindelike sonde. En onthou, Sy doel met ons lewe is heiligmaking.

Die vraag is dus, of ons God regtig vertrou – vertrou ons Hom dat Hy die beste weet? Ons moet dus in God se wysheid vertrou, wat Sy beskerming behels

w Ons sien God se wysheid tweedens in die tweede helfte van vers 4 (en ek lees uit die O.A.V., omdat dit vir ons beter lig op die onderwerp sal plaas) ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. M.a.w., Here, U is my eer. Wat bedoel Dawid hiermee? Ons vind die antwoord in 1Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Al verkeer Dawid in groot gevaar en in die diepste dieptes van ellende, kyk hy in geloof na God as die Bron van Sy toekomstige eer en heerlikheid. En wanneer ons dit so sien, maak die N.A.V. meer sin ~ U herstel my eer en aansien. God sal Dawid uiteindelik bevry en herstel en weer bevestig as koning, maar op God se tyd en op God se manier.

Dawid het geglo in God se geregtigheid en dat God uiteindelik die verkeerde met die regte sal regstel. Dit is presies dieselfde voorbeeld wat Christus vir ons nagelaat het in 1Pet.2 – toe Christus onregverdig gely het, het Hy nie in weerwraak gereageer nie, nee Hy het Homself oorgee aan dié Een wat regverdig oordeel ~ Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel (1Pet.2:23). As iets onregverdig is, wees net geduldig, want God sál dit uiteindelik regstel. Dit is egter belangrik dat ons sal besef dat Hy dit óf in hierdie lewe sal regstel, óf dalk eers in die hiernamaals. God kies die tyd – nie ons nie. God kies die wyse – nie ons nie.

Die Skrif sê egter dat daar wel heerlikheid in ons huidige beproewing is. Die Woord sê dat as ons ly, het ons deel in Christus se lyding. Daar sit dus ’n groot stuk heiligmaking in ons lyding in hierdie lewe.

w Derdens word God se wysheid gesien deur die wyse waarop Hy ons bemoedig. Vers 4 (O.A.V.) ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. Die indruk wat ’n mens kry in die openingsverse van hierdie Psalm is van iemand wie se kop gehang het, van bekommernis; van moedeloosheid; van skaamte. Maar Dawid sê dat hy weet dat God hom sal help en sy kop weer sal optel. Hierdie beeld van iemand wat van ’n situasie beweeg van “kop-onderstebo” na “kop-omhoog”, is ’n vergestalting van iemand wat van wanhoop na vreugde en oorwinning beweeg.

God se wysheid word dus vergestalt in die wyse hóé Hy bemoedig en wánneer Hy bemoedig, daarom dat Dawid sê, al is ek nou moedeloos en magteloos, my beker van vreugde sal binnekort weer oorloop, omdat ek in God se wysheid en voorsienigheid vertrou.

Hierdie gesindheid staan in so ’n skrille kontras met die wêreld, want die wêreld kan geen oplossings bied nie; geen hoop nie; geen vrede nie; geen vreugde nie, want iemand wat sonder Christus Jesus is, ís iemand wat sonder hoop en vrede en vreugde is. Dit is waarom ons so ’n wonderlike getuienis vir die wêreld kan wees wanneer ons deur beproewing gaan – beproewing is waarskynlik die beste tyd vir getuienislewering, want wanneer dit sleg gaan met jou en jy jou vertroue in God en sy wysheid en voorsienigheid plaas, is dit waarskynlik een van die kragtigste Evangelistiese boodskappe wat jy maar kan uitdra.

Ons eerste sleutel is dan om jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid te plaas.

· Sleutel nommer twee:

Rus in die wete dat God vir jou omgee. Verse 5-7 ~ As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Wanneer Dawid na die Here uitroep, het hy geweet dat God omgee en dat Hy hom hoor, inteendeel die Psalmdigter skryf die volgende in Ps.116:1 ~ Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. 2 Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

Dawid was ’n man van gebed en hy sou beslis in sy benarde situasie gebid het. God hoor ons gebede. Waarom? Omdat Hy omgee. Die Woord is vol daarvan – bv. 1Pet.5:7 ~ Werp al julle bekommernisse op Hom, (waarom?) want Hy sorg vir julle.

God hoor dus ons gebede en Hy verhoor ons gebede. Ons moet egter net altyd in gedagte hou, dat Hy ons gebede op een van vyf moontlike wyses verhoor – Hy sê:

w Ja;

w Nee;

w Nog nie;

w Anders as wat jy dit graag beantwoord wil hê;

w Ver bo dit wat jy ooit kon dink.

God beantwoord ons gebede, maar heel waarskynlik en baie dikwels anders as wat ons dit graag verhoor wil hê. Die punt is egter: God beantwoord ons gebede – altyd! En daarom moet ons rus in die wete dat Hy op die beste moontlike manier sál antwoord en ons moet ons daaraan onderwerp – waarom? Omdat Hy vir my omgee en Hy net die beste vir ons wil hê – al is dit nie nou nie, maar dalk eers heelwat later.

Omdat Dawid geweet het dat God vir Hom die beste sal gee, rus Hy in God en gaan hy slaap – vers 6 ~ As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Dawid se vyande is op sy spoor; Dawid bid in vertroue, want hy weet dat God omgee en wat doen hy? Hy gaan slaap en wat meer is, hy sê dat hy goed slaap!

Die wêreld sou verwag dat hy slapelose nagte sou hê, maar sy vertroue in God se omgee-liefde laat hom toe om goed te slaap.

Daar is ’n verskil tussen stres en druk. Druk is van God, terwyl stres my onbybelse reaksie op God se druk is. Dit is wat die Bybel angs en vrees noem en die Griekse woord beteken letterlik om uit mekaar geskeur te word. As ons dus stres oor God se druk, is ons besig om onbybels op te tree en derhalwe te sondig en rus ons nie in die wete dat God vir ons omgee nie. Dawid rus in die wete dat God sy gebede hoor en verhoor en dat God vir hom omgee.

Dawid het wakker geword met die wete dat God hom gehelp het. Vers 6 ~ ...ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Wil jy weet of God in jou lewe werk en jou help? Wel, jy sit vanoggend hier in lewe en gesondheid. Hy lei jou wanneer jy leiding nodig het. Die belangrike is dat ons dit moet begin raaksien in ons lewe – in elke klein en groot gebeurtenis en ons moet sóós Dawid, eer aan God begin gee hiervoor ~ want die Here sorg vir my, sê Dawid. Dit herinner aan Fil 4:6-7 ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Let baie mooi op hier – hierdie vrede wat alle verstand te bowe gaan is ongeag die antwoord wat ons op ons gebed ontvang.

Vers 7 ~ Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. Let op: Dawid sê nie hier dat sy vyande verdwyn het nadat hy gebid en geslaap het nie. Nee, hulle is steeds daar, maar hy rus en vertrou in die wete dat God beter weet en dat God omgee.

Die tweede sleutel dan - Rus in die wete dat God vir jou omgee.

· Sleutel nommer drie:

Plaas jou hoop in die belofte van God se oorwinning. Vers 8 en hoor net hoe mooi stel die O.A.V. dit ~ Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek. Dawid het van twee feite t.o.v. God se betrokkenheid in hierdie wêreld geweet en dit het hoop en sekuriteit aan hom verskaf:

w Eerstens - God se uiteindelike oorwinning is gewaarborg. Dawid is so oortuig van hierdie feit dat hy sê: Staan op, HERE en dan sal ek verlos wees. Later sou Dawid weer getuig van hierdie vaste geloof en oortuiging van hom, toe hy in Ps.68:1 die volgende geskryf het ~ As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, en dié wat Hom haat, vlug vir Hom.

Die wêreld dink dat alles buite beheer is en dat God niks daaromtrent kan of wil doen nie, maar dit is nie wat 2Pet.3:1-9 vir ons sê nie. Daar staan o.a. in vers 7 ~ Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. God ís in beheer en Hy gáán uiteindelik oorwin en dit is op hierdie wete dat Dawid sy hoop plaas en daarom kan Dawid sê ~ Want U hét al my vyande op die kakebeen geslaan. Dawid sê verder: Laat hulle my maar aanval, maar hulle kan my nie seermaak nie, want “sonder ’n heel kakebeen en sonder tande, is hulle byt niks nie”, want God gaan sy vyand uiteindelik volkome oorwin en hy gaan deel in daardie oorwinning, want ons beproewing is uiteindelik net tydelik van aard, wanneer ons dit vergelyk met die ewigheid.

w Daar is ’n tweede ding wat Dawid van God geweet het en wat hom hoop gegee het – God se ewige besluite (of sy verordeninge) is onveranderlik en staan vas. Ons sien hierdie feit in vers 8 en ek lees dit uit E.S.V. ~ Salvation belongs to the Lord. Hierdeur sê Dawid dat niks, absoluut niks in God se pad sal staan om Sy besluite ten uitvoer te bring nie. Dit was een van die lesse wat Job geleer het teen die einde van sy beproewing. Job 42:2 ~ Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Jes.46:10-11 ~ Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek. 11 Ek roep ’n roofvoël uit die ooste, uit ’n ver land roep ek ’n man wat my besluit sal uitvoer. Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom, Ek het dit beplan en Ek sal dit doen. En deur Wie behaal God hierdie oorwinning? Openb.5:5b ~ ...Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal... – Jesus die Christus het die oorwinning behaal.

4. AFSLUITING:

Dawid se moed was nie geleë in homself nie, maar in God. 1Sam.30:6 ~ Dawid was baie benoud, maar ...... hy het homself versterk in die HERE sy God.

Ons kan hierdie selfde moed hê, as ons hierdie drie sleutels wat Dawid op sy situasie toegepas het, in ons lewe en op ons beproewing toepas.

· Stel jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid.

· Rus in die wete dat God vir jou omgee.

· Plaas jou hoop in die belofte van God se oorwinning.



[1]Boodskap deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondag 09 Augustus 2009