Monday, October 10, 2011

Die Evangelie van Johannes - 07 (Jesus se Eerste Wonderwerk)

1.     SKRIFLESING: 
Joh.2:1-12 ~ Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi. 3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” 4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.” 5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” 6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.” Hulle het dit tot bo toe volgemaak. 8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”  Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” 11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. 12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

2.    INLEIDING:
Die vorige keer wat ons na die Evangelie van Johannes gekyk het, het ons gesien hoe dat Jesus Sy dissipels geroep het om Hom te volg.  In hierdie gedeelte sien ons hoe dat Jesus se openbare optrede by ’n bruilof in Kana begin het.

Hierdie wonderwerk by die huwelik het nie net Jesus se goddelikheid gedemonstreer nie, maar dit het ook ’n diepgaande effek op Jesus se eerste volgelinge gehad, want dit het aan Sy volgelinge bevestig dat daar veranderende- en herskeppende mag in Jesus gesetel was – Hy kon en het die spreekwoordelike water van Judaïsme verander in die wyn van Christenskap.  Hy verander die water van Godloosheid in die wyn van die volheid van ’n ewige lewe in Jesus Christus. Of as u wil, Jesus verander die water van wettisisme in die wyn van die Evangelie en God se onverdiende genade.

Op bloot menslike vlak was Jesus se wonderwerk ook van belang vir die bruidegom en sy familie, want destydse huwelike het dikwels vir dae geduur en wyn het ’n belangrike rol gespeel in die feesvieringe en daarom sou dit vir die bruidegom en sy familie ’n groot verleentheid gewees het, indien die wyn sou opraak.  Hierdie wonderwerk van Jesus was dus om meer as een rede, baie belangrik.

Ek wil dat ons na hierdie gedeelte kyk onder die volgende ses opskrifte:                                               
·         Jesus en die Geleentheid (2:1-3);
·         Jesus se Vraag (2:4);
·         Jesus en Maria se Opdragte (2:5-8);
·         Die Seremoniemeester se Verbasing (2:9-10);
·         Die Kruks (2:11-12);
·         Toepassing.

3.    JESUS EN DIE GELEENTHEID (2:1-3):
Ons sien in v.1 dat Johannes vir ons sê dat Jesus op die derde dag by die huweliksfees aangekom het.  Hierdie "derde dag" waarna hy verwys, is die derde dag nadat Jesus vir Filippus en Nataniël geroep het.  Hy en Sy ses dissipels stap na ’n dorpie genaamd Kana.  Dit was ’n dorpie in die heuwels van Galilea.  Die presiese ligging is nie aan ons bekend nie, maar alle aanduidings is dat hierdie dorpie ongeveer 14 kilometer noord van Nasaret was.

’n Huwelik was destyds ’n baie belangrike en luisteryke fees en in ’n dorpie soos Kana sou dit die hele gemeenskap betrek het. 

Die huwelik is altyd voorafgegaan deur ’n verlowing wat ’n baie ernstige seremonie was, waartydens die paartjie plegtig trou aan mekaar beloof het.  ’n Verlowing was so ’n bindende ooreenkoms, dat die verbreking van ’n verlowing in dieselfde ernstige lig as ’n egskeiding beskou is. 

Die huwelik het op ’n Woensdag plaasgevind in die geval van ’n maagd en op ’n Donderdag in die geval van ’n weduwee.  Die bruidegom en sy vriende het gewoonlik die voorafgaande nag in ’n skouspelagtige optog met fakkels en lanterns, na die bruid se huis beweeg.  Daar het dan toesprake plaasgevind en geluk- en seënwense is uitgespreek, waarna die bruid en bruidegom en al die ander teenwoordiges, na die bruidegom se huis gegaan het vir die huweliksonthaal en soos reeds gesê, het hierdie fees, baie dikwels vir dae aangehou en moes die bruidegom en sy familie die verversings en veral die wyn, wat ’n belangrike deel uitgemaak het van die onthaal, moes voorsien en indien die wyn sou opraak, was dit ’n baie groot verleentheid vir die bruidegom en sy familie, trouens hulle was volgens wet verplig om aan sekere standaarde te voldoen wat betref die feesvieringe.

In v.2 sien ons dat Jesus en Sy dissipels ook na die bruilof genooi was.  Ons weet nie of Jesus na die huwelik genooi was omdat hy familie was en of hy net saam met sy jongste dissipel, Natanael wat van Kana was, genooi is nie.  Die punt is egter dat Jesus en Sy dissipels ook genooi is en dat Jesus die uitnodiging aanvaar het.

Jesus se moeder (Maria) was ook by die huwelik en sy het agtergekom dat die wyn opgebruik was.  Ons weet nie regtig hoe sy daarvan kennis geneem het nie.  Miskien was sy ’n "baie naby familielid" en het sy van haar familielede se verleentheid geweet.  Dit is ook moontlik dat sy gemoeid was met die reëlings van die onthaal en daarom geweet het van die probleem.

Ons moet onthou dat Jesus tot nou, nog geen wonderwerk gedoen het nie en Maria het nie geweet dat Hy by magte was om dit te kon doen nie – of was sy?  Maria het tog geweet dat sy ’n maagd was toe sy Jesus verwag het.  Ook het engele met haar gepraat oor Jesus voor haar swangerskap.  Sy moes dus geweet het dat Jesus nie maar net ’n gewone mens was nie en wat meer is, sy het Jesus se lewe geken en geweet dat Hy anders was as ander mense.  In kort, sy moes geweet het dat Hy die Messias was.  In die lig hiervan, kom Maria na Jesus en sê vir Hom dat die wynkanne leeg is.  Hierdie was dus ’n indirekte versoek tot Jesus om iets aan die saak te doen.

Wat hierop sou gebeur, is dat Jesus se dissipels en diegene wat binnekort aan Jesus se wonderwerk blootgestel sou word, hulle eerste openbaring van God se mag en heerlikheid sou ervaar en hulle nuut gevonde geloof se fondasie sou terselfdertyd gelê word.

4.    JESUS SE VRAAG (2:4):
Jesus se reaksie op Maria se opmerking teenoor Hom dat die wyn opgeraak het, is baie interessant.  In die O.A.V. sien ons dat Hy haar aanspreek as "Vrou".  Dit mag vir ons uiters oneerbiedig en hard voorkom as Hy haar so antwoord, maar in die Grieks was dit nie so intens of onbeleefd soos dit vir ons in die Afrikaanse kultuur mag klink nie, trouens die Griekse woord vir vrou in hierdie verband is γυνή (gynē), wat ’n baie beleefde aanspreekvorm was.  Jesus het dit bv. weer gebruik in Sy laaste oomblikke aan die kruis, toe Hy Sy geliefde dissipel gevra het om om te sien na Maria (19:26); ook toe Hy die Samaritaanse vrou by die put aangespreek het (4:21); die owerspelige vrou (8:10), asook vir Maria Magdalena by Lasarus se graf (20:15).

Jesus vra egter ook vir Maria waarom sy Hom by die saak betrek.  Jesus se openbare optrede as die gestuurde Messias (Seun van God) het amptelik begin en Jesus wil hierdeur vir haar sê, dat sy nie langer na Hom moet kyk as haar kind nie, maar as die Verlosser, Jesus die Christus.  Deur hierdie reaksie van Jesus, word daar dus ’n nuwe verhouding tussen Hom en Maria gevestig, nl. dié van Verlosser en volgeling, of dissipel.

Tweedens sê Jesus aan Sy moeder, dat Sy tyd of Sy uur (O.A.V.) nog nie gekom het nie.  Daar word kort-kort deur hierdie Evangelie verwys na Jesus se tyd of uur (bv.7:6, 8, 30;8:20).  Wat Jesus egter hier gesê het, is dat Hy na die aarde gekom het met Joh.12:23 as doelwit, nl. dat Hy verheerlik moes word; dat Hy gekruisig moes word; dat Hy uit die dood moes opstaan.  Die huweliksonthaal was dus nie die plek vir Hom om Homself te openbaar, of Homself as Messias bekend te maak nie.

5.  JESUS EN MARIA SE OPDRAGTE (2:5-8):
Maria het dus oënskynlik iets groters in gedagte gehad as wat Jesus uiteindelik gedoen het, maar Sy berus haar egter by Jesus se antwoord en sy gee opdrag aan die dienaars om presies te doen wat Jesus hulle sê om te doen – so asof sy vir hulle wil sê:  Doen alles wat Hy vir julle sê om te doen, al klink of lyk dit ook hoe absurd of onmoontlik – doen dit net! 

Hierdie kinderlike geloof en vertroue van Maria in Jesus as Messias, moet ons ook aanspoor om ons onvoorwaardelike geloof en vertroue in Jesus te plaas, ongeag van wat en hoe Hy ook al ons bepaalde versoek of situasie gaan hanteer – ons moet Hom ten alle tye vertrou dat Hy net die beste volgens Sy wil vir ons sal laat geskied.  Hierdie selfde beginsel geld dus ook ons gehoorsaamheid aan die Woord van God – dit maak nie saak hoe onmoontlik, of absurd, of onregverdig dit ook al mag klink of lyk nie, ons moet Sy Woord ten alle tye en met oorgawe gehoorsaam.

Jesus gee opdrag aan die diensknegte om die kanne vol water te maak, waarop hulle dit tot oorlopens toe vol gemaak het.  Daar was 6 kanne en saam het dit nagenoeg 450 tot 700 liter water bevat wat Jesus in wyn verander het.  Ons kan vra, waarom so baie wyn?  Deur hierdie, amper oordadigheid van Jesus, wou Hy die grootsheid van Sy gawe en die oorvloed van Sy liefde betoon.

Dit is ook opmerklik dat Jesus opdrag gee dat die waterkanne wat gebruik was vir die Jode se reinigingseremonies gevul moes word.  Ook hier sien ons ’n subtiele optrede van Jesus om die ou Judaïstiese reinigingsgebruike en Judaïsme in totaliteit met God se krag in Christus te suiwer en te verander.

Nadat die diensknegte die klipkruike gevul het, gee Jesus opdrag aan hulle om van die inhoud uit te skep en na die seremoniemeester te neem.
  
6.    DIE SEREMONIEMEESTER SE VERBASING (2:9-10):
Toe die seremoniemeester die wyn proe was hy stomgeslaan – nie oor die wonderwerk wat plaasgevind het nie, want hy het nie geweet dat Jesus die water in wyn verander het nie (net die diensknegte het geweet), maar oor die gehalte wyn wat vir hom aangebied is en die feit dat ’n mens gewoonlik die beste wyn eerste voorgesit het, omdat die gaste later gedurende die fees te veel wyn gedrink het en dan nie meer die gehalte kon onderskei nie, maar nou gebeur die teenoorgestelde – die beste wyn word laaste voorgesit!  Hy het onmiddellik die bruidegom geroep en vir hom gesê ~  ’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou (v.10).  Waarskynlik was sy opmerking bedoel as ’n kompliment teenoor die bruidegom.

Ons moet besef dat Jesus nooit tweede beste vir ons as Sy kinders gee nie – dit wat Hy ook al vir ons gee en doen, is die heel beste vir ons op daardie stadium – niks wat Hy doen of gee is minderwaardig of onvoldoende nie.  In vergelyking met die wêreld en selfs ander gelowiges, mag dit wat Hy vir ons gee of aan ons toevertrou, op daardie oomblik dalk minderwaardig of gebrekkig voorkom, maar wanneer ons dit in die lig van die ewigheid beskou, sal ons altyd sien en besef dat dit Sy beste vir óns spesifiek is.  

7.    DIE KRUKS (2:11-12):
Ons vind in vers 11, die kruks van hierdie gebeure in Kana ~ Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.  Wat sê Johannes vir ons hier?  Hy wil vir ons sê dat alles wat hy in hierdie Evangelie van hom skryf ten doel het dat mense Jesus die Christus sal ontmoet; beter sal leer ken en uiteindelik tot reddingsgeloof in Christus sal kom.  Die metode wat Johannes in sy skrywe gebruik, is om die soeklig op Jesus se tekens en gesprekke te laat val en derhalwe sy lesers se aandag te vestig op Jesus Christus, die Seun van God, wat gekom het om vir skuldige sondaars aan die kruis te kom sterf en weer uit die dood uit op te staan.  Dit is presies wat hier tydens Jesus se eerste wonderwerk plaasgevind het ~ ...Sy dissipels het tot geloof gekom. 

Daar het egter nog iets veel meer betekenisvol gebeur.  Ons lees ook daarvan in v.11, nl. ~ Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, of soos die O.A.V. dit stel ~ Hy het sy heerlikheid geopenbaar, m.a.w. Hy het deur hierdie eerste wonderwerk van Hom, onteenseglik aangetoon dat Hy waarlik die Seun van God is.  Johannes bevestig hierdie feit in Joh.20:31 wanneer hy sê ~ Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.  Die primêre rede waarom Jesus se dissipels geglo het, was nié omdat Hy ’n wonderwerk gedoen het nie, maar omdat hulle Hom as Messias herken en erken het.  Die wonderwerk het dus weggewys van die daad self en die fokus op die "Wonderwerker", Jesus Christus gevestig.  Dit is waarom ons nie veel detail het oor die huwelik self nie – ons weet nie watter rol Maria daar vervul het nie; ons weet nie wie die bruidegom was nie (familie of kennis); ons weet nie hoe lank die fees geduur het nie, ens.  Nee, die fokus word vierkantig op Jesus geplaas.

Natanael het ons in Joh.1:49 gesien, het reeds in Jesus as Messias geglo, toe hy uitgeroep het ~ Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!   Die ander dissipels het voor hierdie wonderwerk reeds genoeg van Jesus geweet om Hom te volg, maar nou, na hierdie wonderwerk het hulle Sy heerlikheid gesien en Hom waarlik as Messias erken.

8.    TOEPASSING:
Wanneer ons na ’n toepassing van hierdie gedeelte in die Johannes Evangelie kyk, moet ons eerstens besef dat ons gedurig daarop bedag moet wees dat ons nie ook, allerlei rituele en wettiese gebruike in ons godsdiensbeoefening inbring soos die Jode met die klipkanne en hul reinigingsrituele, wat uiteindelik niks met God te doen het nie.  Jesus het die klipkanne gereinig en net so wil Hy hê dat ons begeerte na Jesus sal wees en nie na allerlei gewoontes en strukture; na die skouspelagtige en dit wat die sinne bevredig  nie.  Ons moet voortdurend na die kerk (na ons gemeente) en na ons self kyk en probeer vasstel of daar nie allerlei formaliteite en tradisies en gebruike is wat niks met die Woord en met Jesus te doen het nie.  Jesus het vernuwing en reiniging na Kana en vir Judaïsme gebring wat dit vir altyd sou verander en dit is presies dieselfde wat Hy vir jou en my begeer.

Ons moet ons oë vestig op Jesus self en nie Sy wonderwerke, of dit wat Hy vir ons doen of kan doen nie.  As dit die geval is, is ons in presies dieselfde bootjie as die vyfduisend, nadat Jesus, hulle gevoed het en Hy in Joh.6:26 aan hulle gesê het ~ Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.  Ons moet doen wat Hy in v.27 vir die menigte gesê het ~ Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.

Laastens wil ek net graag onder u aandag bring dat hierdie eerste wonderwerk van Jesus in Kana, vir ons prakties en baie eenvoudig aantoon hoe dat sondaars gered word en in elkeen van die simbole waarmee ons te doen kry in hierdie verhaal, sien ons wat met sondaars gebeur wanneer hulle tot redding in Jesus Christus kom:
·        Eerstens het ons ’n klomp bruilofsgaste wat dors is.  Hierdie is ’n baie mooi uitbeelding van die verloregaande wêreld rondom ons.  Die wêreld smaak die plesiere van hierdie wêreld, maar ervaar geen vervulling en tevredenheid nie.  Die Woord van God nooi sondaars wat dors na die waarheid, om na Christus te kom vir redding en vervulling.  Joh.4:13-14 sê ~ Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.  Jesus nooi die verloregaande wêreld in Joh.7:37 deur te sê ~ As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.  Openb.22:17 stel dit ook pragtig ~ Die Gees en die bruid sê: “Kom!”  En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!”  En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!  
·        In die tweedeplek vind ons die leë waterkruike.  Ons kan hierdie leë kruike vergelyk met die mens se hart wat verhard en leeg is.  Die Woord van God vergelyk die mens op verskeie plekke met ’n kruik of kleipot – bv. 2Kor.4:7 ~ Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.  ’n Sondaar se lewe mag pragtig lyk van buite, maar wat God in so ’n mens se binneste sien, is leegheid en nutteloosheid, behalwe as God self ’n genadige en wonderwerkende reddingswerk in so ’n leë kleipot verrig.  Dit laat ’n mens onmiddellik dink aan die woorde in 2Tim.2:20-21 ~ In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.
·           Derdens was die kleipotte met water gevul.  Water wat gebruik word vir wasdoeleindes word in die Bybel vergelyk met die Woord van God (Ef.5:26; Joh.15:3 O.A.V.).  Al wat die diensknegte by die huweliksfees moes doen, was om al die kruike te vul met water.  Presies dieselfde moet gebeur met iemand wat tot wedergeboorte kom – hy moet homself vul (of was) met die Woord van God.  En wanneer ons die Evangelie met mense deel, moet die Woord van God met sulke mense gedeel word, want dit is deur die Woord van God dat die Heilige Gees oortuig van sonde en ongeregtigheid.

In die Ou Testament het Moses die water in Egipte verander in bloed wat oordeel geïmpliseer het (Eks.7:19).  Jesus het egter water in wyn verander wat genade en vreugde simboliseer en ons sien in Ef.5:18 dat wyn die Heilige Gees simboliseer.
·           Dan was daar die water wat in wyn verander het.  Eers wanneer ’n sondaar se hart gevul word met die Woord van God, kan Christus die wonderwerk van vreugde en volheid en redding teweeg bring.  Wanneer ons na Hand.8:26-40 kyk,  sien ons hoe dat Filippus die Woord van God met die Etiopiese hofdienaar gedeel het, vóór die wonderwerk van redding plaasgevind het.
·           Laastens sien ons dat die gebeure in Kana, die begin van Jesus se wonderwerke tydens Sy aardse bediening was en dit dui vir ons ook op die wonderwerke wat dag vir dag ná ’n sondaar se wedergeboorte in so ’n persoon se lewe plaasvind.

Geliefdes, ons moet Maria se woorde aan die diensknegte, ter harte neem toe sy gesê het ~  Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.  Dit moes onsinnig vir die diensknegte geklink het toe Jesus vir hulle gesê het om die kanne vol water te  maak, terwyl daar ’n tekort aan wyn was, maar God gebruik baie dikwels die onmoontlike en selfs die oënskynlik onsinnige,  om kinders van Hom te maak.  Dit is waarom Paulus in 1Kor.1:27 vir ons sê ~ En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam.

As ons wil sien dat mense na Christus kom, moet ons gehoorsaam wees aan God; moet ons nie vermaak en ontspanning en die skouspelagtige aan ’n verloregaande wêreld gee nie, maar die Woord, want dit is die Woord en die prediking van die Woord wat die Heilige Gees gebruik om siele te red.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 11 September 2011