Sunday, September 27, 2015

Die Boek Ester - 01 (“Die Majesteit en Heerlikheid van Jesus Christus”)

1.   INLEIDING:
      Die boek Ester is nie n baie lywige boek nie, maar dit is n geweldige ryk boek. Die verhaal van Ester speel homself hoofsaaklik af in die paleis van koning Ahasveros, die 32 jarige Persiese koning wat van 486-465v.C. regeer het en hierdie verhaal is gelaai met allerlei intriges.

      Dit is n verhaal wat handel oor n dodelike gevaarlike situasie waarin die Jode hulself bevind het. Dit handel oor n heldhaftige reddingspoging. En die hoofkarakter in hierdie verhaal is n weeskind uit die geledere van die bannelinge wat uitgestyg het tot die magtigste vrou in die land en waarskynlik dié magtigste vrou in die destydse wêreld.

      Die verhaal handel verder oor n minderheidsgroep wat onderdruk en verneder is, nl. die Jode in die oostelike diaspora (verstrooïïng), ná die Babiloniese ballingskap en wat uiteindelik deur die meerderheid heidene rondom hulle gerespekteer is. 

      Daar vind ook nie minder nie as tien feeste of bankette plaas deur die loop van die tien hoofstukke van Ester.

      Die boek bevat ook die komiese verhaal van n verwaande gek wat homself onbewustelik indoen, asook die naelskraapse ontsnapping van uitwissing, van die Joodse minderheid.

      Nog iets wat interessant is van die boek Ester, is dat die Naam van God nie eenkeer in die ganse boek genoem word nie, maar dít is die wonderlike van hierdie boek, want juis dít dui op n Almagtige en Alomteenwoordige God wat selfs in die donkerste en heidense deel van die wêreld, werksaam is.

      Hy wat die begin en die einde van alles ken - die Alfa en die Omega  - Hy weet reeds byvoorbaat dat die oorblyfsel van Sy volk (die Jode), uitwissing in die gesig staar en daarom is Sy verlossingsplan reeds in aksie gestel, sonder dat enige persoon dit weet. Dít is n blywende beginsel en karakter eienskap van God, as dit kom by Sy kinders - toe en nou! Wat ons verras, vang Hom nooit onkant nie - ons kan dus te alle tye rus en vrede vind in Sy soewereiniteit.

2.   SKRIFLESING:
      Ester 1:1-9 ~ Dit was in die tyd van Ahasveros. Hy het geregeer oor n ryk van honderd sewe en twintig provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Kus. 2In die tyd toe sy troon in die vestingstad Susan was, 3in die derde jaar van sy regering, het hy n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en ander in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername mense en die hoë amptenare van die provinsies was teenwoordig. 4By dié geleentheid het die koning al die rykdom waarmee sy koninkryk kon spog, al die prag en praal daarvan, honderd en tagtig dae lank vertoon. 5Daarna het die koning almal in die stad Susan, groot en klein, n week lank in die paleistuin onthaal. 6Daar het wit en bloedrooi linnedoeke gehang wat met pers linnetoue vas was aan silwerringe aan marmerpilare. Verder was daar silwer- en goue rusbanke op n plaveisel van vier soorte kosbare klip. 7Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe en daar was n oorvloed koninklike wyn soos n mens van n koning kon verwag. 8Op bevel van die koning is niemand gedwing om te drink nie. Hy het al sy paleisbediendes beveel om na elkeen se wens te handel. 9Koningin Vasti het intussen ook die vrouens onthaal in die paleis van koning Ahasveros.
3.   KENMERKE VAN GESAG:
      Die eerste hoofstuk van Ester beskryf vir ons n voorval wat in die paleis afspeel en dit verskaf aan ons die agtergrond vir dramatiese gebeure wat daarop sou volg en ons sien ook in die eerste nege verse, ses uitstaande kenmerke van Ahasveros se koningskap en gesag:

   Heerskappy:  In v.1 sien ons dat hy heerskappy gevoer het oor n Ryk wat 127 provinsies beslaan het - hierdie Ryk het van Indië tot by Kus gestrek - dit is ongeveer van die huidige Pakistan tot by Sudan in Noord-Afrika. Hierdie gebied het bekend gestaan as die Persiese Ryk. Koning Ahasveros was dus heerser oor bykans die hele bekende wêreld van destyds - inderdaad n magtige man, of sal ons sê, jongman.

   Koninklike Troon: In v.2 sien ons dat Ahasveros se paleis in die vestingstad Susan was en daar het hy vanaf sy troon, sy ryk regeer. Deur al die eeue heen was n troon die simbool van heerskappy en konnklike gesag.

      Hierdie troon was geleë in Persepolis en behalwe dat dit n besondere en selfs uitspattige gebou was, het argeloë die hoeksteen van die paleis opgegrawe waarop Ahasveros se arrogansie geopenbaar is - die volgende woorde staan o.a. op die steen geskryf: Ek is Ahasveros, die groot koning, die enigste koning, die koning van die ganse wêreld waarin allerlei tale gepraat word…” ens. Sy winterstad was die stad met die naam Susan - dieselfde stad waar Daniël sy visioen gehad het, waarvan ons in Dan.8 lees. Dit is n stad in die huidige Irak wat bekend was vir sy vrugte en pragtige blomme.

   Bankette: Ons lees die volgende in vv.3 en 5 ~ in die derde jaar van sy regering, het hy 'n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en ander in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername mense en die hoë amptenare van die provinsies was teenwoordig. Vers 5 ~ Daarna het die koning almal in die stad Susan, groot en klein,' n week lank in die paleistuin onthaal.

      Ahasveros het verskeie bankette of onthale aangebied en wat interessant is, is dat die woord vir banket, twintig keer voorkom in Ester, terwyl dit slegs vier-en-twintg keer voorkom in die res van die Woord.

      Die boek Ester begin met twee bankette wat deur Ahasveros aangebied word en dit eindig met twee bankette wat deur Mordechai aangebied is. Hierdie feeste was glansryke geleenthede en het o.a. ten doel gehad om die koning se rykdom en mag ten toon te stel. Hy het al die hooggeplaaste amptenare in sy koninkryk na die eerste banket genooi. Hierdie fees was o.a. gereël om Ahasveros se derde regeringsjaar te vier, maar veral ook om sy voorneme om Griekeland binne te val, bekend te stel.

      Hierdie feeste was uitspattig en het oor lang tydperke plaasgevind - in hierdie geval het die eerste fees n hele ses maande geduur, terwyl die tweede fees n week lank geduur het. Ahasveros wou dus in alles wat hy gedoen het, selfs die feeste wat hy gehou het, groter en beter wees as enige iemand anders. Dit kan darem aanvaar word dat dei feesgangers gekom en gegaan het, maar die fees was oop  vir al die genooides, vir die volle duusr van die 180 dae.

   Vertoning van Rykdom: Ons sien in vv.4 en 6 dat die koning sy rykdom ten toon gestel het ten einde sy koninklike prag en praal en heerskappy bekend te stel. Ons sien in v.6 dat hy al sy wit en bloedrooi linnedoeke gehang het en dit met pers linnetoue vasgemaak het aan silwerringe wat in die paleis se marmerpilare geheg was. Daar was ook silwer- en goue rusbanke op plaveisel van vier soorte kosbare klip. Al hierdie dinge - die linne; die marmer; die goud en silwer - alles was net beskore vir die heel rykstes en vernaamstes en Ahasveros het n oorvloed daarvan gehad.

      Terwyl die koning gespog het met sy rykdom het hy ook gespog met sy rykdom wat gesetel was in al sy vroue en daarom het hy terselfdertyd ook vir hulle n fees gehou.

   Bewys van Oordadigheid: Ons lees die volgende in v.7 ~ Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe en daar was n oorvloed koninklike wyn soos n mens van n koning kon verwag. Hierdie vers spreek vanself t.o.v. die koning se oordadigheid, want vir die volle duur van die fees (6 maande) is die beste wyn in die beste bekers geskink en almal kon soveel as wat hulle wou en net wanneer hulle wou, daarvan drink!

   Gesag: Wanneer die koning n opdrag gegee het, is so n opdrag sonder huiwering, onmiddellik gehoorsaam - ons sien dit o.a. in v.8 ~ Op bevel van die koning is niemand gedwing om te drink nie. Hy het al sy paleisbediendes beveel om na elkeen se wens te handel.

      Dit is baie duidelik uit hierdie beskrywing van koning Ahasveros se koningskap, dat sy regering gebasser was op n selfgerigteid en n grootheidswaan waardeur hy homslef as verhewe bo andere beskou het en hierdie eienskappe het tot uitdrukking gekom in sy heerskappy en sy sug na oorheering en gesag en in sy vertoning van sy rykdom en oordadigheid.

      Ons as gelowiges moet versigtig wees om nie konings en ander gesagsdraers te beny nie en ook versigtig wees oor hoe ons optree teenoor- en praat oor hulle, want ons weet dat behoorlike gesag en regering, n geskenk van God aan die mensdom is en Hy en Hy alleen stel diesulkes aan in hul gesagsposisies en dit gaan altyd gepaard met verantwoording, want wanneer iemand in n gesagsposisie, nié God se wil in sy gesagsposisie uitleef nie, hy eendag verantwoording sal moet doen oor die wyse waarop hy hierdie toegesegde gesag toegepas het en/of misbruik of nagelaat het om uit te voer.

      Die anderkant van die muntstuk is natuurlik ook waar en dit is dat wanneer ons gesag teenstaan, of ondermyn, of afkraak, ons besig is om gesag wat God daargestel het, teen te staan, of te ondermyn en ons sondig derhalwe direk teen die Here as ons volhard daarmee. Ons moet altyd onthou dat wanneer dinge nie na ons smaak gaan nie, dit hoogs waarskynlik die Here is wat daardie situasie gebruik om ons te beproef en die vraag is of ons die toets slaag of nie.

4.   DIE ENIGSTE WARE KONING:
      Soos ons netnou gesien het, het Ahasveros homself, die grootste koning, die engiste koning, die koning van die ganse wêreld genoem, maar spoedig, soos wat die verhaal in die boek Ester ontvou, sou hy agterkom dat daar maar net een Koning is, nl. die Koning van alle Konings - Jesus Christus! En voor Hóm verdwyn alle verganklike sieraad van menslike konings - waarom?

   Slegs Jesus Christus beskik oor ware Heerskappy: Jesus Christus heers nie alleen van Pakistan tot in Sudan nie, maar in en oor elke volk en nasie en taal van hierdie wêreld - ja meer nog, Hy is nie alleen die Koning van hierdie aarde nie - Hy is Koning van die ganse heelal - net Hy alleen beskik oor ware heerskappy.

      Dit is nie om dowe neute dat Pilatus n bordjie aan die kruis laat spyker het met die woorde - Jesus van Nasaret, Koning van die Jode nie. Wat nog meer beduidend is, is die feit dat hierdie woorde in Aramees (die Jode se taal), Latyn (die taal van die destydse Romeinse wêreld) en ook in Grieks (Joh.19:19-20) geskryf was. 

      God die Vader het Jesus uit die dood opgewek en laat opvaar na die hemel en Hy het aan Hom die Naam bo alle Name gegee! Daar is geen ander Naam groter as Syne nie! Hy regeer oor die lewende en die dode. Hy is Heerser oor alles en almal wat bestaan en is. Hy is Koning oor alle konings. Elke knie sal uiteindelik voor Hom buig.

   Christus op n Koninklike Troon: Christus se troon is gevestig in die hemele. Hoor wat het Johannes in Openb.5:6 gesien ~ Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, 'n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. Jesaja het in Jes.6:1 gesê ~ In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul.

   Ons Redder se Feeste: Ons Redder hou Sy eie feeste en bankette. Die eerste banket waarheen Hy Sy geliefdes nooi, is die Heilige Nagmaal. Daar is geen banket op aarde wat met die Nagmaal vergelyk kan word nie, want dit is n liefdesfees vir sondaars, wát hul status in die samelewing ookal mag wees - tydens hierdie Fees gedenk hulle, hul vergifnis wat hulle van die die Here God ontvang het en hulle gedenk die belofte van n ewige banket in die teenwoordigheid van die God.

      Die brood en wyn is simbole van Sy gebreekte liggaam en die bloed wat Hy vir ons aan die kruis gesort het - en dit alles ter wille daarvan om ons as gelowiges van die ewige dood wat ons verdien, te red.

      Hierdie eerste banket is maar net n voorsmakie van n veel, veel groter banket wat nog gaan plaasvind en waarheen ons as gelowiges reeds uitgenooi is, nl. die huweliksfees van die Lam van God.

   Ons Hemelse Koning beskik oor onmeetbare Rykdom: Ef.3:8 praat van die onpeilbare rykdom van Christus. Hy is ryk in heerlikheid en Hy is ryk aan genade. Hy is die Bron van onberekenbare vrygewigheid en mildadigheid. Die lewe wat Hy skenk, is die ewige lewe! Die heerlikheid wat Hy skenk, is die ewige heerlikheid. Die genade wat Hy op ons uitstort, is onbeperk, grensloos en kleurloos en nie Ahasveros of enige ander monarg of gesagsfiguur kan dit aan die wêreld bied nie.

   Ons Koning beskik oor die laaste en opperste Gesag: Ons lees in Matt.28:18 die volgende woorde van Jesus self ~ Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. As verheerlikte Here, is Hy waardig om oor alle gesag te beskik.

      Die Jode van wie daar later geskryf word in hierdie boek, het die nodige onderskeidingsvermoë ontvang om by Ahasveros met al sy menslike majesteit verby te kyk en n Groter Koning met opperste gesag raak te sien.

5.   AFSLUITING:
      Dit is so tragies dat Ahasveros nooit daartoe instaat was om dié Koning wat aan hóm die nodige aardse gesag geskenk het, raak te sien nie. Hierdie wete het die Jode se gebede om hoop en optrede positief beïnvloed.

      Net so moet die wete dat Jesus Christus die Opper Koning is, ons inspireer om met hernieude ywer en geloof te bid en op te tree in hierdie lewe.


      Al die prag en praal en gesag van Ahasveros het uiteindelik verdwyn en daarmee saam die hoop van hulle wat hul vertroue in Ahasveros geplaas het. Hoe anders is ons posisie nie, want ons aanbid die ewige en onveranderlike Koning - omdat Hy lewe, lewe ons ook - het ons hoop en kan ons, ons vertroue in Hom plaas omdat Hy die ewige, almagtige, alomteenwoordige, alwyse, genadige en soewereine God is! 

[Boodskap: Kobus van der Walt (3Riviere Baptiste Kerk) 27 September 2015]