Thursday, February 25, 2010

Bybelstudie deur Kobus van der Walt gehou op 24 Februarie 2010

“Gaan ons Eet in die Hemel?” [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFGEDEELTES – OPENB.19:7-9:
N.a.v. enkele teksverse (sien hiernaas) is die vraag, twee weke gelede gevra, nl. of ons in die hemel gaan eet en drink. Hiernaas ’n kortlikse kykie na hierdie verse.

Openb.19:7-9 ~ Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8 God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges. 9 Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.”  En dan veral hierdie volgende vers: Openb.19:18 ~ Kom eet die vleis van die konings, die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot.”

2. AGTERGROND:
T.w.v. agtergrond – die volgende t.o.v. hoofstuk 19.

Hoofstuk 19:1-6 skets vir ons ’n glansryke en goddelike visioen van vreugde en feesvieringe in die hemel oor die oordele van God oor Jerusalem. In verse 7-9 openbaar Johannes dat die Bruid van Christus haar voorberei vir die huweliksfees. Met die val van die Ou Tempel kom ons by die vestiging van die Nuwe Tempel – Ef.2:21-22 ~ In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon (sien ook: 1Kor.3:16; 2Kor.6:16).

Die verwoesting van Jerusalem en die Tempel was die laaste verlossingshandeling in die ganse proses om die Huidige Eeu in te lui. Jesus is as Koning gebore (Matt.2:2). Hy was geïdentifiseer as Koning tydens Sy doop en verheerliking (Matt.3:17; 17:5; Ps.2) en Hy was bestem om as Dawidskoning gekroon te word met Sy opstanding (Hand.2:30-31). Hy was amptelik gekroon tydens Sy hemelvaart (Dan.7:13-14) en uiteindelik was die verwoesting van Jerusalem en die Tempel, die besliste en finale teken dat Hy die beloofde Messiaanse Koning was wie se koninkryk sal groei totdat dit oor die hele aarde strek (Matt.24:30).

Openb.19:11-21 is ’n visioen van die Koning van alle konings wat oorlog verklaar teen Sy vyande (dit is ’n vervulling van Ps.110). Noudat Christus aan die regterhand van God sit as Koning van die konings, sluit Sy heerskappy Sy oorwinning van al Sy vyande in (1Kor.15:25-26). Die toneel wat hier beskryf word, kan vergelyk word met Dan.7. In Daniël se profesie word die kroning van Christus verbind met Sy oordeel van die nasies.

3. VERKLARING:
In die voorafgaande hoofstukke van Openbaring word ’n tragiese prentjie van Jerusalem geskilder – Jerusalem, op ’n tyd, die Stad van God; die Bruid van God, het die egbreekster geword en derhalwe die fokus van God se oordeel. Hoofstuk 18 klink soos ’n treurlied oor die val van Jerusalem, maar dan skielik in hoofstuk 19 verander die toneel, want hier kry ons te doen met ’n huweliksfees. Die oue lê agter die rug en die nuwe word nou omarm. In wese is hierdie Huweliksfees ’n vol inhuldiging van die Nuwe Verbond van Christus.

In hierdie hoofstuk word daar melding gemaak van twee etes of noenmale: die Huweliksfees van die Lam (19:1-10) en dan die noenmaal van die Grote God (19:12-21). Die tweede maaltyd is ’n bloedige maaltyd waartydnes die roofvoëls, wat hoog in die lug vlieg (19:17), die liggame opvreet, van diegene wat in Jerusalem uitgedelg is, waarop Christus in verse 1-6, die gelowiges oproep om eer aan God te bring vir wat Hy aan Jerusalem gedoen het en daarom vind ons vier uitroepe van Prys die Here in hierdie gedeelte (v.1; v.3; v.4; v.6) en al vier uitroepe volg op ’n oproep wat Christus tot Sy Bruid rig om eer aan God te bring vir Sy geregtigheid en die feit dat God Jerusalem verwoes het, sodat Christus ten volle gevestig kan word in Sy Koninkryk en waar Hy sal regeer, totdat Hy die Koninkryk aan Sy Vader sal oorhandig (1Kor.15:24-28). Die lofprysinge wat Christus hier inisieer is om eer aan God te bring vir die vestiging van die Nuwe Verbond en die Kerk word opgeroep om saam te sing in hierdie koor, want die vestiging van die Nuwe Verbond het die Kerk in staat gestel om die Bruid van Christus te word. Die vernietiging van Jerusalem en daarmee saam die Tempel, het die huwelik tussen Christus en Sy Bruid (die Kerk) voltooi en daarom volg daar nou die huweliksonthaal van die Lam – en dit was iets om oor fees te vier. Daarom dat ons in verse 7-8 ’n beskrywing kry van die Bruid wat haar voorberei vir die huwelik. Dit is interessant om te sien dat hierdie vier uitroepe van Prys die Here (of hallelujas), ’n pragtige herhaling is van die hallel-liedere wat uit die Psalms gesing was tydens die Paasmaaltyd. En ons moet ook in gedagte hou dat die Nagmaal, die Nuwe Testamentiese vervulling is van die Paasmaaltyd

Gedurende die Apostoliese tydperk, het die Apostels die kerk voorberei vir hierdie huweliksfees. Paulus het dit bv. as volg gestel: Nou wil ek hê julle moet ’n bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar! 2 Ek waak oor julle met ’n ywer wat van God kom, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus (2Kor.11:1-2 – sien ook Ef.5:25-27). Paulus wou die kerk voorberei en leer, sodat sy heilig en onbesmet gereed kon wees vir haar Bruidegom, Jesus Christus.

Nou vind die huweliksmaaltyd plaas. Ons moet verstaan, dat hierdie maaltyd ’n metafoor is, m.a.w. nie ’n letterlike maaltyd nie en hierdie maaltyd is ’n fees wat gevier word oor die val van die “Hoer van Babilon” en die straf van haar geliefdes met wie sy owerspel gepleeg het, nl. die konings van die land.

Aan die anderkant egter, vind ons die bekendstelling van die Bruid. Hierdie huweliksmaal, is ’n verbondsmaaltyd wat die nuwe verhouding (die Nuwe Verbond) verseël.

Dispensasionaliste leer dat hierdie maaltyd gedurende die sewe jaar wat die kerk weggevoer is (wegraping) na die hemel, saam met Christus, hierdie maaltyd sal geniet. En daarom, volgens die “Pre-Mil-groep”, word die kerk geseën, omdat hulle die straf en oordele wat gedurende die Groot Verdrukking op aarde geskied, vrygespring het.

Die ware betekenis van hierdie maaltyd is egter veel minder van ’n skouspel, maar beskik oor veel dieper betekenis as bloot net ’n fees van dankbaarheid en seën oor die oordele wat vrygespring is. Hierdie huweliksmaal, is die gemeenskap tussen Christus en Sy Kerk wat in 70 n.C. ten volle daargestel is en wat tot vandag toe nog voortduur. En ons geniet hierdie maaltyd op ’n sigbare wyse, elke keer as ons Nagmaal gebruik. Wanneer die Kerk van die Here Jesus om die Nagmaaltafel byeenkom, is ons besig om die Huweliksmaal van die Lam te geniet. Deur geloof het ons dus deel aan die Liggaam van Christus. Die huweliksmaal van die Lam is dus nie iets wat eendag in die hemel geniet gaan word nie – nee, dit is ’n maaltyd wat weekliks reg rondom die aarde plaasvind wanneer gelowiges deelneem aan die Nagmaal.

Toe Jesus saam met Sy dissipels om die Nagmaaltafel gesit het, het Hy gesê ~ Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink” (Matt.26:29). Wanneer is hierdie maal genuttig? Voor Sy hemelvaart en daarna tot en met Sy hemelvaart het Hy nie weer Nagmaal saam met Sy dissipels geniet nie en toe vaar Hy op na die hemel en tree Hy Sy Koninkryk binne (Dan.7:13-14 ~ My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14 Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie) en sedertdien vier Hy weer die Nagmaal saam met Sy kinders, wanneer ons die Nagmaal vier – soos wat Hy in Matt.26:29 belowe het. Ons moet besef dat die Nagmaal, baie meer betekenisvol is as wat ons baie keer dink dit is – Jesus die Christus is saam met ons aan tafel en vier Hy die bruilofsmaal saam met ons – en dit sal so aangaan, tot op die dag wat Hy sigbaar na die aard sal terugkeer (1Kor.11:24-26 ~ ...en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 25 Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” 26 Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom).

In Openb.19:17-21 kry ons te doen met ’n tweede maaltyd en hier is drie dinge van belang, nl. Die uitnodiging na die maaltyd; Die voorbereidings vir die maaltyd en Die nuttiging van die maaltyd, maar t.w.v. die verduideliking van vers 18, gaan ons net na die eerste kyk en op ’n ander keer na die res:
· Die uitnodiging na die maaltyd: Christus se vyande is oorwin en nou word roofvoëls, wat hoog in die lug vlieg (19:17) genooi na die maaltyd. Die mees neerhalende ding wat met iemand destyds kon gebeur het, was dat sy liggaam na sy dood nie begrawe word nie, maar vir die roofvoëls gelaat is – dit is presies wat in Jerusalem gebeur het met die nagenoeg 1.1 miljoen Jode wat in die stad gesterf het (sien ook 2Kon.9:30-37 t.o.v. Isebel se lyk). Esegiël het ook in Eseg.39:17-20 van Israel gepraat ~ “Mens, so sê die Here jou God, sê vir al die voëls en vir al die roofdiere: Kom bymekaar, kom, versamel van alle kante af rondom die offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied, die groot slagting op die berge van Israel; kom eet vleis en drink bloed. 18 Julle sal vooraanstaande mense se vleis eet en die bloed drink van regeerders van die aarde, almal in so ’n goeie kondisie soos die vet ramme en bulle van Basan. 19 Julle sal vet vleis eet tot versadigens toe en bloed drink tot julle dronk is, dié van my offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied. 20 Julle kan julle aan my tafel versadig eet aan perde en strydwabemannings, aan dapper vegters en allerlei soldate,” sê die Here my God.

4. SKRIFGEDEELTE – OPENB.22:1-2:
Nog ’n Skrifgedeelte in Openbaring waarna verwys is, is Openb.22:1-2 ~ Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. 2 Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

5. AGTERGROND:
Openb.21:2-22:5 beskryf die Nuwe Jerusalem wat neerdaal vanuit die hemel en word die oorspronklike verbond sodoende vervul. Die beskrywing van die Nuwe Jerusalem in hierdie hoofstukke, dui vir ons aan dat dit ’n simboliese verteenwoordiging van die kinders van God is – die kerk van die Ou- en die Nuwe Testament. Die stad word die Bruid van die Lam genoem, wat net nog ’n benaming vir die Kerk is (Openb.21:2,9; Joh.3:29; Rom.7:4; 2Kor.11:2; Ef.5:25-33; Openb.19:7-8).

In Openb.21 is die fokus gevestig op die Kerk as die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde en nou word hierdie tema voortgesit in hoofstuk 22. Ons moet daarop let, dat hierdie hoofstukke nié ’n nuwe kosmos of heelal beskryf nie. Nee, dit beskryf God se Nuwe Verbondskinders in skeppingstaal of skeppingsbeelde. So ’n beskrywing van die kerk vind sy beslag in die Ou Testament en is Openb.21:1, ’n direkte aanhaling van Jes.65:17. Die konteks van hierdie vers maak dit baie duidelik, dat ’n nuwe kosmos nie hier in gedagte is nie. Kom ons luister na Jesaja se woorde ~ Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie. 18 Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ’n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê. 19 Ek sal jubel oor Jerusalem, Ek sal bly wees oor my volk. Daar sal in Jerusalem nie meer iemand gehoor word wat huil of om hulp roep nie. 20 Daar sal geen kind sterf wat maar ’n paar dae oud is nie en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie. As iemand op honderdjarige leeftyd sterf, sal dit beskou word asof hy jonk gesterf het; as hy nie honderd word nie, sal hy beskou word as iemand wat vervloek is. 21 Dan sal mense huise bou en self daarin woon, hulle sal wingerde plant en self die druiwe eet. 22 Hulle sal nie huise bou waarin ander sal woon nie, hulle sal nie wingerde plant waarvan ander die druiwe sal eet nie. My volk sal so oud word soos ’n boom. Dié wat Ek uitverkies het, sal self die vrug van hulle handewerk geniet. 23 Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie, hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie, want hulle sal ’n volk wees wat deur die Here geseën word, hulle en hulle afstammelinge. 24 Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor. 25 Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here (Jes.65:17-25).

Jes.65 help ons dus om die konteks van Openb.21 en 22 te bepaal. Dit is baie duidelik dat Jesaja nie hier praat van ’n nuwe kosmos nie, want hy praat van dood en sondaars en vloeke en oordele. Die Woord is verder baie duidelik daaroor, dat niks hiervan in die ewige toestand gaan bestaan nie. Die teenwoordigheid van hierdie dinge maak dit dus duidelik, dat Jesaja nié hier praat van ’n nuwe kosmos nie. Die “nuwe skepping” wat hy beskryf, is dus ’n beskrywing van die “Nuwe Jerusalem” (die Kerk) wat jubel. M.a.w., God se verbondskinders word hier beskryf in kreatiewe taal. God het in soortgelyke kreatiewe taal, die gelowiges beskryf – bv. die Bruid van Christus; groot; helder; ens.

6. VERKLARING:
Hier in Openb.22:1-7 word die uitbreiding van die Kerk beskryf. Ons sal nog vorentoe sien dat die Kerk gaan aanhou om uit te brei. Ook hierdie eerste twee verse in Openb.22, is direkte aanhalings uit Eseg.47:1-12 ~ Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby. 2 Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit. 3 Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep. 4 Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom. 5 Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water ’n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat ’n mens sou moes swem; dit was ’n stroom waar ’n mens nie deur kon loop nie. 6 Die man sê toe vir my: “Sien jy dit, mens?” Hy laat my toe al langs die stroom terugstap. 7 Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal. 8 Die man het vir my gesê: “Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word. 9 Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe. 10 Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal ’n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte is wees as in die Groot See, en net so baie. 11 Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly. 12 Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”

Esegiël sien die “Rivier van Lewe” wat vanuit die Tempel vloei en die laaste 8 hoofstukke van Esegiël beskryf die manjifiekheid van hierdie Tempel. Esegiël is hier besig om die heerlikheid van die Nuwe Tempel, die Kerk van Jesus Christus, te beskryf. Derhalwe vloei die rivier van lewe vanuit die Kerk – almal wat geraak word deur hierdie rivier, ontvang die Lewe. Soos wat mense vanuit alle nasies deur die water wat uit die Tempel vloei (sending en evangelisasie), aangeraak word, word hulle genees deur die blare van die Boom van die Lewe wat elke maand vrugte dra – voortdurend dus en so is daar voortdurend mense uit al die nasies wat genesing ontvang en herskep word (Openb.21:24 ~ Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan).

[1] Kort Bybelstudie deur Kobus van der Walt (ANTIPAS Gemeente, Vereeniging) – Woensdagaand 24 Februarie 2010

Tuesday, February 23, 2010

Bybelstudie deur Kobus van der Walt gehou op 21 Februarie 2010

Openbaring Ontsluit – 17 (Nog Agtergrond en die Sesde Seël) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
In hoofstukke 6 tot 19 word God se naderende en onontkombare oordeel oor Israel vir ons op profetiese wyse beskryf en wel in ’n reeks van visioene waarin Johannes sien hoe dat die sewe seëls van die Boekrol, een vir een gebreek word. In hoofstuk 6 word ses van hierdie seëls gebreek. En dan na ’n onderbreking (hoofstuk 7) word die sewende seël in hoofstuk 8 gebreek en die breek van hierdie seël lei vir ons die sewe trompette binne wat verdere oordeel uitspel.

Daar bestaan ’n baie interessante verband tussen die oordeel oor Israel en die gebeure wat gelei tot die verwoesting van Jerusalem soos beskryf in Jesus se Olyfberggesprek. Dit sal goed wees as ons net eers vlugtig daarna kyk:
o Enersyds: Oorlog soos beskryf in Openb.6:1-2 (sien hiernaas) en vergelyk dit andersyds met Jesus se woorde in Matt.24:6 ~ Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie (sien ook Mark.13:7 en Luk.21:9).
o Internasionale twis soos beskryf in Openb. 6:3-4 ~ Toe Hy die tweede seël oopmaak, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” 4 Daar het ’n ander perd, ’n vuurrooie, uitgegaan. Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor. ’n Groot swaard is aan hom gegee, en vergelyk dit met Matt.24:7a ~ Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander... (sien ook Mark.13:8 en Luk.21:10).
o Hongersnood soos beskryf in Openb.6:5-6 ~ Toe Hy die derde seël oopmaak, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” Ek het gesien: daar was ’n swart perd. Sy ruiter het ’n skaal in sy hand gehad. 6 Toe het ek iets soos ’n stem by die vier lewende wesens hoor sê: “Net een skeppie koring vir ’n dagloon en net drie skeppies gars vir ’n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie” en vergelyk dit met Matt.24:7b ~ ...daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees (sien ook Mark.13:8 en Luk.21:11).
o Pes soos beskryf in Openb.6:7-8 ~ Toe Hy die vierde seël oopmaak, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” 8 Ek het gesien: daar was ’n vaal perd. Sy ruiter se naam was Die Dood, en die doderyk het agter hom aan gegaan. Aan hulle is mag oor ’n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde en vergelyk dit met Luk.21:11a ~ Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom.
o Vervolging soos beskryf in Openb.6:9-11 ~ Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10 Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” 11 Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is en vergelyk dit met Matt.24:9-11 ~ Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. 10 In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. 11 “Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei (sien ook Mark.13:9-13 en Luk.21:12-19).
o Aardbewings en kosmiese verskynsels soos beskryf in Openb.6:12-17 ~ Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het ’n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword. 13 Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van ’n vyeboom afval as dit deur ’n sterk wind geruk word. 14 Die hemel self het verdwyn soos ’n boekrol wat
opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud. 15 Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. 16 Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. 17 Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”
en vergelyk dit met Matt.24:15-31 ~ ...Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word (vers 29)... (sien ook Mark.13:14-27 en Luk.21:20:27).

Ons sal dus hiernaas sien dat Johannes onteenseglik praat van presies dieselfde gebeure waaroor Jesus geprofeteer het tydens die Olyfberggesprek – gebeure wat sou plaasvind in die lewe van dieselfde Jode wat Jesus die Messias verwerp en gekruisig het ~ Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur (Matt.24:34). Hierdie profesie is dan ook vervul in 70 n.C. met die val van Jerusalem. In die lig hiervan, is daar nog ’n baie interessante lyn wat ons moet trek, en wel tussen die prelude, of voorspel tot die oordeel in Openb.6:16 en die gebeure op die dag voor Jesus gekruisig is. Openb.6:16 ~ Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. In lyn hiermee – Luk.23:27-31 ~ ’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28 Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29 want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit ’n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’ 30 “Dan sal hulle vir die berge sê: ‘Val op ons!’ en vir die heuwels: ‘Bedek ons!’ 31 As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?” Jesus het hier oppad na Golgota, vir die treurendes gesê dat hulle oor hulself moet treur, want God gaan hulle binnekort (in hulle geslag nog) oordeel vir wat hulle aan Sy Seun gedoen het. Duideliker kan ’n mens dit tog nie kry nie! Hierdie profesie gaan inderdaad oor die naderende oordeel oor die volk van Israel in 70 n.C. en ons leef tans in ’n era waar Christus regeer vanuit die hemel.

Ons sal dan ook nou sien dat daar met elkeen van die seëls wat gebreek word, ’n perderuiter vrygelaat word wat oordeel saam met hom neem en soos reeds aangedui, gaan hierdie oordeel oor gebeure wat gedurende die eerste eeu na Christus vervul is en soos ons reeds gesien het, deur Jesus self geprofeteer is in Matt.24 (dit herinner ook aan Sag.6:1-7 ~Ek het weer ’n gesig gesien. Daar was vier strydwaens wat tussen twee berge uitgekom het, berge van koper. 2 Voor die eerste strydwa was bruin perde en voor die tweede swartes. 3 Voor die derde was wit perde en voor die vierde skimmels. 4 Ek het vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit, Meneer?” 5 Hy het vir my gesê: “Die strydwaens het gestaan voor Hom aan wie die hele aarde behoort. Nou gaan hulle in die vier windrigtings. 6 Die strydwa met die swart perde gaan noord, dié met die wittes gaan agterna, en dié met die skimmels gaan suid.” – Sien ook Hab.3:3-15).

2. AGTERGROND T.O.V. DIE PERDERUITERS:
Voor ons na die individuele verse van hoofstuk 6 gaan kyk, moet ons net eers na die agtergrond rondom die perderuiters kyk en daar is ten minste vyf aspekte wat ons in oënskou moet neem.
o Die Verbondsagtergrond: Ten einde Openb.6 behoorlik te verstaan moet ons eerstens iets van die Bybelse Verbondsvloek verstaan. God het ’n verbond met Israel gemaak en belowe dat hulle geseën sou word indien hulle gehoorsaam is aan die voorwaardes van die verbond, maar God het terselfdertyd oordeel belowe indien hulle ongehoorsaam aan die verbond sou wees.

Hierdie beloftes van seën en van oordeel en vervloeking word mooi saamgevat in Levitikus 26 en Deuteronomium 27 en 28.

In Deut.27 word die stamme van Israel verdeel en word die helfte na die Gerisimberg gestuur en die ander helfte na die Ebalberg. Hulle moes daarop die vloeke uitspreek wat sou rus op diegene wie God se Verbondsvoorwaardes oortree (bv. v.14-15 ~ Hulle moet die straf aankondig. 14 “Die Leviete moet hardop vir die hele Israel sê: 15 “Daar rus ’n vloek op elkeen wat ’n afgodsbeeld uitsny of giet en dit in die geheim êrens neersit om te vereer. Die Here het ’n afsku daarvan. Dit is mensewerk. “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’). Hulle moes dit doen ten einde mekaar te herinner aan die erns van ’n oortreding van hierdie voorwaardes en hoe ernstig God voel oor Sy verbond met Sy volk.

Met die lees van die Ou Testament, weet ons dat die Jode hierdie verbond gedurig geminag en die voorwaardes daarin vervat, oortree het. Hulle was keer op keer daarvoor geoordeel en gestraf en ongelukkig het hulle telkens hul les net vir ’n kort tydjie geleer. As ons egter na Matt.21:42-44 kyk, sien ons dat Jesus dit baie duidelik gemaak het, dat God (met groot piëteit gesê) by ’n punt gekom het waar dit die laaste strooi was en Hy die verbond opgehef het en besluit het om dit met ’n “ander volk” te sluit ~ Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë. 43 Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ’n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer. 44 “Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

Jesus het getreur oor Israel en Hy het begeer om hulle, Sy volk te maak, maar hulle het geweier, inteendeel, hulle het ook geweier om na God se Profete te luister (insluitende Jesus) en daarom het die tyd aangebreek dat God die bloed van Sy Profete, asook dié van Jesus Sy Seun moes terugeis – daarom dat Jesus gesê het ~ Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. 35 So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. 36 Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.” 37 “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! 38 Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat (Matt.23:34-38). Let veral op verse 36 en 38 ~ Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom..... Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat.

Baie van die oordele wat in Openbaring uitgespreek word is gewortel in die profesieë in Lev.26 en Deut.27-28. Of anders gestel, baie van die oordele soos uitgespreek in Openbaring, is die vervulling van die verbondoordele in die Ou Testament. Jesus Christus was op die punt om ’n Nuwe Verbond, met ’n nuwe groep mense te sluit en daarvoor het Hy nodig gehad om die Ou Verbond te verplaas op ’n sigbare en fisiese wyse, deurdat die Tempel in Jerusalem en Jerusalem self verwoes moes word (die setel of simbool van die Ou Verbond) – Hebr.10:9 (O.A.V.) ~ Hy (het) daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel.

o Agtergrond t.o.v. die Vloek: Die vloek of oordeel is ’n baie belangrike tema in Openbaring: God se vervolgde kinders het begeer dat God se oordele moes val op diegene wat Hom gehaat het. Hierdie tema kan duidelik gesien word in die oopmaak van die vyfde seël in Openb.6:9-11 (waarna ons later weer sal kyk) ~ Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10 Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” 11 Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is. In Matt.23 het Jesus ’n agtvoudige oordeel oor die Joodse leiers uitgespreek (sien Matt.23:13-32). Dit is direk hierna dat die Here Jesus Sy toehoorders die versekering gee dat die bloed van die martelare nog in hulle geslag, opgeëis sal word (soos reeds hierbo vermeld in Matt.23:33-36). Dit is dan ook hierdie martelare wat in Openb.6:9-11 (sien hierbo) by die Vader smeek om vergelding. Hierdie martelare was dan veral die Ou Testamentiese martelare van Abel af tot en met Sagaria. Hulle het geweet dat hierdie vergelding reeds in die huidige geslag voltrek sou word, waarop die Here vir hulle sê dat hulle nog vir ’n klein rukkie geduldig moet wees. Dit sou nog ’n klein rukkie wees, voor God “Sy volk” sou oordeel en die vonnis voltrek (hulle wat Sy verbond met hulle, keer op keer die rug gekeer het).

o Literêre Agtergrond: Hieroor het ons al heelwat gesê, maar in kort net die volgende:
- Ons wil baie dikwels en baie graag, dit wat in Openbaring staan op ons huidige situasie toepas (en ongelukkig doen geweldig baie Bybelverklaarders juis dit). Soos reeds op ’n keer gesê, is ons angstig om “nuusblad-eksegese” op Openbaring toe te pas.
- Baie verklaarders wil graag alles waaroor geprofeteer word in Openbaring, in chronologiese volgorde inpas. Ongelukkig kan ons dit nie doen nie, want, soos iemand dit eenkeer gestel het: Openbaring is soos ’n drie-sirkel arena (Sirkel 1 = die sewe seëls; Sirkel 2 = die sewe trompette; Sirkel 3 = die sewe bakke); al die gebeure vind gelyktydig plaas, maar word afsonderlik neergeskryf, of behandel, t.w.v. daarvan om die intensiteit van God se oordeel te beklemtoon.
- Wat die literêre agtergrond betref, moet ons ook verstaan dat profesie altyd oor baie simboliek beskik. Ons moet Openbaring letterlik verklaar, maar m.b.v. en d.m.v. figuurlike taal en beelde. Neem Openb.6:12-17 as voorbeeld waar ons lees van ’n groot aardbewing; ’n verduisterde, of “swart” son; ’n maan wat soos bloed geword het en sterre wat op die aarde val. Kom ons verklaar dit nou letterlik. Indien selfs net een ster op die aarde sou val, sou die planeet aarde totaal verwoes gewees het, inteendeel dit sou disintegreer. Hoe is dit moontlik dat die aarde nog bestaan en al hierdie dinge na Openb.6 geskryf kon word indien sterre op die aarde sou val? Indien ons na die vier perderuiters van Openb.6 kyk en dit ook letterlik toepas, beteken dit dat ons op ’n dag letterlik vier perderuiters op letterlike perde aan gegalop sal sien – een vuurrooie; een vale, ens. en die laaste vaal perd sal ’n gevolg hê – die “doderyk” wat ’n saam met die ruiter op die vaal perd, ’n derde van die aarde se mense dood maak – dit is tog nie letterlik moontlik nie! En al die regsinnige teoloë stem saam dat hierdie simboliek is. As ons in die geval van die perde instem dat ons hier met simboliek te doen het, moet ons hierdie reël tog oral en konsekwent in Openbaring toepas.

Dit is belangrik dat ons die literêre genre van Openbaring voortdurend in gedagte sal hou, wanneer ons dit verklaar.

o Historiese Agtergrond: Ons moet verder verstaan dat Openbaring aanvanklik gerig was aan die sewe gemeentes in Klein-Asië wat gebuk gegaan het onder geweldige vervolging. Nero was die keiser op daardie stadium en aanvanklik het die gelowiges erge vervolging van die Jode ervaar. Die Joodse Selote (onverdraagsame godsdienstige yweraars) het al sterker geword in Israel en ’n burgeroorlog was onvermydelik. In 66 n.C. het die Selote dan ook beheer oor Jerusalem geneem en alle Romeine uit die stad verjaag. Nero het uiteraard onmiddellik gereageer deur 50 000 troepe o.l.v. generaal Vespasius (wat later self Keiser geword het) na Jerusalem te stuur. Hierdie mag het met ’n 3½ jare lange offensief teen Jerusalem begin. Gedurende hierdie tyd is verskeie vredesaanbiedinge na die Jode gestuur, wat dit op hul beurt van die hand gewys het.

Intussen moet ons in gedagte hou dat, terwyl die Romeinse soldate, Jerusalem omsingel gehad het, daar ook gelowiges in Jerusalem was en hulle situasie was uiters benard.

Terwyl hierdie offensief aan die gang was, het Nero op 9 Junie 68 n.C., selfmoord gepleeg deur sy keel af te sny met ’n swaard (sommige historici beweer dat hy ’n swaard deur sy keel tot in sy brein gedruk het). Die ganse Romeinse Ryk is skielik in chaos gedompel en staan die volgende jaar bekend as die “Jaar van die Vier Keisers”, want nie minder nie as vier Keisers het die troon gedurende 69 n.C. bestyg Hulle was Galba, Otho en Vitellius en al vier van hulle het gewelddadig gesterf, totdat Vispasius terug geroep is van Jerusalem af en hy die volgende “groot” Keiser geword het, wat weer vrede in die Ryk kon bewerkstellig. Hy laat generaal Titus in beheer van die troepe rondom Jerusalem. Gedurende die jaar of wat, wat die opstande in die Ryk geduur het, was die aandag op en die aanslag teen Jerusalem verslap en kry die gelowiges, in ooreenstemming met Jesus se profesie in Matt.24:15-22, die geleentheid om uit Jerusalem te glip en na die berge te vlug.

Nadat Vespasius orde in die Ryk herstel het, het Titus sy aanslag teen Jerusalem verskerp en word die stad in die herfs van 70 n.C. ingeneem en totaal vernietig (daarmee saam die Tempel). Dit was natuurlik ook in ooreenstemming met Jesus se profesie in Matt.24:1-2. Daar was so ver bekend, geen gelowige in die stad gedurende hierdie slag nie en het nie een gelowiges dus gesterf toe Jerusalem val nie – Luk.21:17-19 ~ En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18 daar sal selfs nie eens ’n haar van julle kop af val nie. 19 Deur julle volharding moet julle julleself red.” – 1.1 miljoen Jode sterf in 70 n.C. in Jerusalem, maar nie een enkele gelowige nie!

Terwyl Johannes die Openbaringbrief geskryf het, het burgeroorlog reeds gebroei in Jerusalem en sou dit nog twee jaar neem, voor Jerusalem sou val en die Ou Verbond daarmee saam verwyder sou word en die Nuwe Verbond ten volle ingestel sou wees – daarom dat Johannes in Openb.1:3 sê ~ ...want die eindtyd is naby.

o Profetiese Agtergrond: Al is die Openbaring van Johannes ’n profesie, vind dit sy beslag in die Olyfberggesprek van die Here Jesus. Daar bestaan geen twyfel daaroor dat hierdie twee profesieë intrinsiek verbind is met mekaar en dat beide profesieë oor dieselfde gebeure handel en is dit duidelik dat hierdie profesieë gedurende die eerste eeu na Christus vervul word.

Hierdie gesprek (of profesie) van Jesus word in al drie die Sinoptiese Evangelies behandel (Matt.24-25; Mark.13 en Luk.21). Hierdie gesprek is egter nêrens in Johannes se Evangelie te vinde nie. Waarom sou dit so wees? Dit is tog immers ’n kardinaal belangrike tema in die Nuwe Testament, want die Nuwe Verbond kan nie ten volle ingestel word, voor die Tempel nie verwoes is nie. Is dit daarom nie voor die handliggend dat Johannes ook hieroor sou skryf nie?

Wel, die antwoord hierop is eenvoudig: Hy hét daaroor geskryf – net nie in sy Evangelie nie, maar wel in Openbaring en daar rapporteer hy baie meer volledig daaroor, as die ander Evangelieskrywers.

3. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Dit bring ons dan nou by ’n vers-vir-vers verklaring van Openb.6:12 en verder aan.
· Openb.6:12-14 ~ Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het ’n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword. 13 Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van ’n vyeboom afval as dit deur ’n sterk wind geruk word. 14 Die hemel self het verdwyn soos ’n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud. Namate die sonde en hardnekkigheid van Israel toegeneem het, en dit gelei het na die verwoesting van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C., het die vervolgde kerk in Jerusalem baie ernstig begin bid en gevra dat die Here se oordele gou moet kom. Daardie gebede het hul oorsprong in die hemel onder die martelare gehad en is deur ’n engel wat by die altaar gestaan het, vanuit ’n goue bak op die aarde uitgegiet. Nadat daardie gebede deur die kerk op aarde teruggebid is na die hemel, is die gebede verhoor – hemel en aarde was in harmonie.

Dit is op hierdie punt in Openbaring waar baie Bybelverklaarders die pad byster raak en wil hulle letterlike aardbewings sien gebeur – aardbewings in die toekoms – net voor Jesus se wederkoms, ens. (sien redenasie vroeër onder Literêre Agtergrond). Weer moet ons die vraag vra: Het ons hier te doen met letterlike dinge, of figuurlike gebeure? Indien dit letterlike gebeure is, dui dit onteenseglik op die einde van die wêreld, want hoe kan die aarde dit oorleef wanneer dit bots met ’n ster – praat nie eens van sterre nie. Maar weereens – indien hierdie die einde van die wêreld beteken, waarom en hoe kry ons nog ’n verdere 16 hoofstukke in Openbaring en veral indien die res van die gebeure na Openb.6:12-17, chronologiese gebeure is wat nog moet volg? M.a.w. indien hierdie gedeelte letterlik opgeneem moet word, moet Openbaring ook net hier eindig – maar dit gebeur nie en dit dui dus vir ons daarop dat die taal van hierdie gedeelte ook figuurlik gelees moet word. En wanneer ons hierdie gedeelte verklaar, moet ons weereens Skrif met Skrif vergelyk en hier speel die Ou Testamentiese profesieë, ’n baie belangrike rol. Tweedens moet ons onthou, dat taal baie dikwels, baie simbolies gebruik word en dit was veral die geval met die antieke tale (’n voorbeeld hiervan is bv. as iemand sê: “Ek het my dood geskrik”. Is hy dood? Nee!).

Die taalgebruik in Openb.6 is, wat ons “dekonstruksionistiese taal” (“decreation language”) kan noem. God se skepping bestaan uit sewe fundamentele strukture, nl. die son, die maan, die sterre, die aarde, die hemelruim, die land, en die mens. Dit is baie interessant om te sien dat al sewe hierdie strukture hier in Openb.6:12-17 vermeld word. Ons sien in die Skeppingsverhaal in Genesis, hoe dat hierdie strukture geskep word. In Openb.6 sien ons egter hoe dat hierdie selfde strukture verwyder word, of gedekonstrueer (“decreate”) word.

Die profesie van Jesaja het ’n skeppingsmotief wat regdeur die boek loop. Ons sien daar, dat God beskryf word as die Skepper van die fisiese heelal en dan, baie interessant, in Jes.43:15, is Hy ook Skepper van Israel. Aan die einde van die boek, skryf Jesaja oor God se nuwe skepping. Hy sê vir ons dat Israel geskep is vir God se heerlikheid, maar omdat Israel nie haar roeping gaan vervul nie, gaan God ’n nuwe skepping daarstel. Oor en oor gebruik Jesaja soortgelyke taal wat ons ook in Openb.6 aantref. Eerstens sien ons God se skepping van Israel t.w.v. Sy eer in Jes.42:5-9 ~ So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg: 6 Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. 7 Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan. 8 Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie. 9 Wat Ek vroeër aangekondig het, het plaasgevind. Ek kondig nuwe dinge aan. Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor. Net soos wat God die hemel en die aarde geskape het tot en vir Sy eer, net so het Hy Israel geskape as ’n volk van geregtigheid (Jes.4:5; 43:1, 7; 45:8-18). Sy verbondsvolk het Sy eer en heerlikheid aan al die ander nasies gedemonstreer. God het dit juis gedoen omdat die ander volke vasgevang was in afgodery en Hy was nie bereid om Sy heerlikheid met afgode te deel nie. Later lees ons dan van die nuwe skepping – Jes.65:17-18 ~ Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie. 18 Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ’n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê. Hierdie nuwe skepping was nodig omdat die ou skepping (die volk Israel) nie hul plig nagekom het nie.

Ook belangrik is om te let op die boodskap wat in Openb.6:12-17 deurgegee word. God sou Israel dekonstrueer en as teken hiervan sou sterre val, ens. Dieselfde taal word ook in Jes.29:6 en Joël 2:10 aangetref. Toe Juda uiteindelik onder die hand van die Babiloniërs geval het was daar egter geen sterre wat geval het nie; geen aardbewings, ens. nie. Die val van Nineve is met dieselfde tipe beeldspraak voorspel (Nah.1:1-5. Sien ook Jes.13:9-11). Beteken dit dat die profesieë onvervuld was? Natuurlik nie. Die taal wat gebruik was om Juda se val te voorspel was simbolies van aard – net so was dit die geval met Jerusalem en die Joodse heiligdom.

As ons hierdie feite in gedagte hou, kan ons mos nie daarop aandring dat Openb.6 letterlik geneem moet word nie. Die Dispensasionaliste loop hulleself hier in ’n geweldige probleem vas. Hulle argumenteer dat Openb.6 plaasvind gedurende die “Groot Verdrukking” en dat Christus gedurende Openb.19:11-16 terugkeer en dat Hy dan in Openb.20 ’n letterlike wêreldregering vestig na die “Groot Verdrukking”. M.a.w. Openb.20 vind chronologies plaas na Openb.6. Hulle argumenteer verder dat Israel weer hul regmatige plek sal inneem as volk van God en hulle saam met Christus vanuit Jerusalem oor die res van die wêreld regeer vir ’n 1000 jaar (gedurende die “Millennium”). Hierdie standpunt staan egter in skrille kontras met Jer.31:35-37 ~ So sê die Here, Hy wat die son bedags laat skyn, die maan en sterre beveel om snags te skitter, Hy wat die see onstuimig laat word, wat sy golwe laat druis, wie se Naam Here die Almagtige is: 36 Eers as hierdie dinge uit my teenwoordigheid verdwyn, sê die Here, sal die nageslag van Israel ophou om vir altyd in my teenwoordigheid ’n nasie te wees. 37 So sê die Here: As die hemel daarbo afgemeet kan word en as die fondamente van die aarde daaronder vasgestel kan word, sal Ek die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle gedoen het, sê die Here.

Hoe kan God teen Sy eie besluit, in Jer.31, die volk Israel weer tot haar vroeëre posisie herstel – veral as ons, soos hulle, die Woord hier en in Openb.6 letterlik verklaar?

· Openb.6:15-17 ~ Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. 16 Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. 17 Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?” Wanneer Openbaring praat van “die aarde” verwys dit gewoonlik na Palestina, eerder as die ganse aarde. Hierdie oordeel van Openb.6, kan ons dus sê, is van toepassing op al die konings, groot manne, ryk manne, hoofamptenare, magtige manne, slawe en vrymanne in Palestina. Ongeag hulle sosiale status, of hul amp, elke individu in Israel gaan geraak word deur die vernietiging van Jerusalem.

Dat hierdie mense ongelowiges was, is duidelik uit hul uitroep en omdat hulle smeek om die oordele van die Lam vry te spring – ongelowiges sal altyd eerder deur rotse bedek wil wees as om in die teenwoordigheid van God te staan om geoordeel te word (Luk.23:27-31). Gelowiges was verlos van hierdie komende oordeel oor Jerusalem (1Tes.1:10).

4. AFSLUITING:
Uit ons studie vanaand, is dit dus baie duidelik, dat Openb.6 in figuurlike taal, die Joodse oorlog in 67-70 n.C. voorspel, asook die val van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. Wat kan ons wat in die 21ste eeu leef, egter hieruit leer?
· Ons moet leer om Jesus, asook Sy oordele, ernstig op te neem.
· Ons kan met sekerheid weet dat Christus regeer en dat Hy besig is om Sy Koninkryk te vestig.
· Ons kan weet dat ons ’n onvergelykbare en lewende Koning aanbid en dat Hy geen gelyke het nie.
· Daar is geen ander Naam deur wie redding verkry kan word nie, nl. dié van Jesus Christus (Hand.4:12) en dat dit dodelike gevolge inhou indien ons Sy opdrag ignoreer, om ons te bekeer van ons sonde (Hand.17:30-31).
· Omdat ons Christus se Bruid is, is Hy ernstig oor Sy Kerk en die Nuwe Verbond, daarom mag ons nie kerk-kerk speel nie.
· Ons geloof gaan dus en moet altyd dus, oor Christus gaan en nie oor onsself nie.
· Christus was die onsigbare generaal in die Romeinse weermag en net so is Hy vandag steeds as soewereine God besig om Sy plan met ons en hierdie aarde ten uitvoer te bring – Hy is voorwaar in beheer!

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 21 Februarie 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 21 Februarie 2010

Die Brief aan die Efesiërs (Kinders van die Lig) – 16 [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.5:8-14 ~ Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9 Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10 Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11 en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak. 12 Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13 Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. 14 En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied: “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.”

2. INLEIDING:
Jesus het in Joh.8:12 die volgende uitspraak gemaak ~ Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee – Ek is die lig van die wêreld! Dit is baie interessant om die agtergrond te ken waarteen Jesus hierdie uitspraak gemaak het. Die vorige aand is die Fees van die Tabernakels afgesluit met ’n baie belangrike seremonie wat die “Illuminasie (of Verligting) van die Tempel” genoem word. Daar was vier geweldige groot goue kandelare – so hoog soos die hoogste muur van die Tempel en bo-op hierdie kandelare was daar bakke wat elk, 65 liter olie kon neem. Daar was ’n leer teen elk van hierdie kandelare en wanneer dit donker word op die laaste aand van die Fees van die Tabernakels, het die jong en gesonde priesters, olie opgedra in dit in die bakke gegooi, waarna ’n pit wat in die bak was, aangesteek is, wat op hul beurt weer die olie aan die brand gesteek het. Daar word vertel dat hierdie bakke vuur, so helder gebrand het, dat dit die hele Jerusalem verlig het. Nadat die kandelare “brand gemaak” is, het daar volgens die “Misjna” (Naam vir ’n versameling Joodse godsdienstige wette wat in die derde eeu n.C. bymekaargebring is), godvresende manne, met brandende fakkels in hul hande voor die kandelare gedans en gesing terwyl talle Leviete op harpe en liere en simbale en trompette gespeel het. Hierdie aangrypende afsluiting van die Fees van die Tabernakels, was gehou ter herdenking van die Vuurkolom wat die Israeliete gedurende die nagte in die woestyn gelei het in Eksodus.

Dit was dan na hierdie seremonie en in dieselfde Tempel, met die uitgebrande oliebakke, dat Jesus die volgende môre gesê het ~ Ek is die lig vir die wêreld. Daar kon nie ’n beter geleentheid vir Jesus gewees het, om vir Sy toehoorders te sê: “Die vuurkolom wat tussen julle en die Egiptenare gekom het; die wolkkolom wat julle bedags gelei het en die lig van heerlikheid wat die Tempel van Salomo gevul het – dit is Ek! Ek is daardie lig – wie My volg, sal nooit weer in duisternis lewe nie!”

3. VOLG GOD SE LIG NA:
Ons is steeds besig met die tema waarna ons die vorige twee weke gekyk het, nl. om navolgers van God te wees. So het ons in Ef.5:1 bv. gelees ~ Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Ons het ook gesien dat die belangrikste wyse waarop ons navolgers van God se deelbare eienskappe kan en moet wees, is om Sy liefde na te leef – daardie liefde wat Christus deur Sy lewe, vir ons kom demonstreer het. Paulus gaan egter nou met dieselfde tema voort en hy sê dat ons moet identifiseer met God se lig – ons moet dus God se lig ook navolg. Nou, hoe is dit moontlik om lig na te boots? Ons kan liefde naboots, deur liefde uit te leef, maar ons kan tog nie lig uitleef nie.

Die Woord praat daarvan dat God ons lig en ons Redder is (Ps.27:1). Ons sien in Jes.60:19, dat God vir ons ’n ewige lig sal wees. Sy Woord word ’n lamp genoem, wat vir ons die weg wys en ’n lig vir ons voete is (Ps.119:105).

Christus word in Jes.49:6 die lig vir die nasies genoem en in Joh.1:9 sê Johannes vir ons dat Jesus die ware lig is wat elke mens wat na Hom toe kom, verlig en in Joh.8:2 sê Johannes ook dat Jesus die lig vir die wêreld is. As ons dan navolgers van God moet wees, móét ons dus ook navolgers van Sy lig wees.

Ten einde te verstaan hoe dit moontlik is om God se lig na te volg, moet ons verstaan dat hierdie lig waarvan die Woord praat, in figuurlike sin gebruik word (intellektueel, asook moreel). Om God se lig dus na te volg, beteken om in waarheid en heiligheid te leef. Duisternis aan die anderkant beskik oor presies die teenoorgestelde eienskappe, nl. om in onkunde en valsheid te leef.

Intellektueel beteken dit, om te weet en te glo en moreel beteken dit om te dink en op te tree. In 2Kor.4:4 praat Paulus van hierdie intellektuele aspek, wanneer hy sê ~ Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is (sien ook rom.1:21; Ef.4:18). En in Jes.5:20 praat die profeet van beide hierdie aspekte van God se lig wanneer hy sê ~ Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter. Beide dit wat hulle geglo het, asook hul dade, was dus korrup. Paulus weer praat van die morele aspek van God se lig wanneer hy die gelowiges smeek om op te hou met die werke van die duisternis en liewer die wapens van die lig op te neem.

Elke persoon wat egter aan God behoort, wandel in die lig – beide intellektueel en moreel ~ Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig, sê Johannes in 1Joh.1:5-7, God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 6 As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7 Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

Ons moet daarom, as ons beweer dat ons God navolg, ook sy lig navolg – beide intellektueel, sowel as moreel. In verse 5 tot 7 meld Paulus, vyf praktiese kenmerke van God se lig, wat ons moet navolg, sodat ons, soos vers 8 sê, self lig kan word en wees. Paulus sê dat ons só moet leef, dat God se lig deur ons skyn en ons almal ken ’n prisma – wanneer lig aan die eenkant van ’n prisma inval, word dit opgebreek in al die verskille kleure waaruit lig bestaan en kom hierdie verskillende kleure aan die anderkant van die prisma uit – en dit is presies wat ons moet doen wanneer God se lig deur ons skyn – daardie Goddelike lig wat in ons is, moet opgebreek word, sodat mense die verskillende “kleure van God se lig” deur ons lewe kan sien en Paulus wys vir ons die verskillende “kleure” in vers 9, nl. ...alles wat goed en reg en waar is.

· Eerstens noem Paulus ... alles wat goed is. Paulus het hierdie selfde uitdrukking in 4:31 gebruik, toe hy gesê het, Wees goedgesind teenoor mekaar. Heelwat Griekse woorde word met “goed” of “goedheid” in die Nuwe Testament vertaal. Die Griekse woord vir goed wat in hierdie geval gebruik word, is "agathosune" en dit dui op dit wat intrinsiek goed is; wat vry van enige defekte is; mooi en eerbaar. Beide Johannes die Doper en Jesus het hierdie woord gebruik, toe hulle gesê het, dat indien ’n boom nie goeie vrugte dra nie, dit afgekap moes word (Matt.3:10; 7:19). Paulus gebruik ook hierdie woord wanneer hy vir Timoteus sê dat alles wat God geskape het, goed is (1Tim.4:4). “Kalos” (die basiese Griekse woord vir “goed”) of “agathosune” kan ook ’n morele betekenis hê – in 1Kor.15:33 gebruik Paulus dit in teenoorgestelde vorm wanneer hy sê, dat slegte geselskap, goeie sedes bederf.

Hierdie “goedheid” waarvan Paulus dan hier in Ef.5:9 praat, is ’n vrug van die lig en dit is ook een van die vrugte van die Gees (Gal.5:22) en daarom is 1Tes.5:15 ’n baie goeie samevatting van hierdie goedheid wat Paulus sê, een van die “kleure” van die lig is wat ons as gelowiges moet navolg, nl. ~ Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. Let op, hier staan nie net dat ons goed moet wees teenoor ons medegelowiges nie – nee, ons met ook goed wees teenoor alle mense en dit word vir ons bevestig in Rom.2:17 ~ Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.

· Wanneer ons God se lig nastreef, moet ons in die tweede plek, leef wat reg is. Ons moet dus geregtigheid leef. En wat beteken die woord geregtigheid? Dit beteken dat ons moreel onkreukbaar moet wees.

Wat Paulus hier vir ons wil sê, is dat ons in die eerste plek in die regte verhouding met God moet leef ~ ...lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig (Ef.4:24). Reg of dan geregtigheid, het ook te doen met hoé ons lewe. Almal wat regverdig verklaar is, moet in opdrag van die Skrif, reg lewe ~ Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil (Rom.6:13). Omdat Christus Sy eie aard van geregtigheid aan ons geskenk het, moet ons dit ook uitleef. 1Tim.6:11 sê ~ Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag na die geregtigheid. Die N.A.V. vertaal dit met ~ Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid. Omdat ons weet dat Christus geregtigheid is, moet ons ook godsalig lewe, daarom dat Johannes sê ~ As julle weet dat Hy regverdig is, dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is (1Joh.2:29).

· Die derde vrug van die lig wat ons moet nastreef, is
waarheid. Waarheid het alles te doen met eerlikheid, betroubaarheid, vertroue en integriteit.

4. DIE VRUG VAN LIG:
Ons sien dus dat goedheid primêr te doen het met ons verhouding jeens andere; geregtigheid weer het primêr te doen met ons verhouding met God en waarheid het hoofsaaklik te doen met persoonlike integriteit.

Sonder hierdie vrug, is daar geen getuienis van ’n lewe in Jesus Christus nie. Dit is waarom Jesus ons ook in Matt.7:15-16 as volg gewaarsku het ~ Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. 16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?

Alle mense dra vrug – diegene wie in die duisternis wandel, dra slegte vrugte en diegene wie in die lig wandel, dra goeie vrugte. En daarom kan ons sê dat diegene wat nie die vrug van geregtigheid in hom dra nie, geen deel aan Christus het nie. Daar bestaan net eenvoudig nie so iets soos ’n vrugtelose Christen nie. Kol.1:10 sê vir ons dat kinders van die Here, vrugte dra deur goeie werke en dat diesulkes sal toeneem in die kennis van God.

Wanneer ons as gelowiges in sonde val, ly die ryp oes van vrugte in ons lewens daaronder. Ons primêre fokus moet dus wees om voortdurend vas te stel wat dit is wat die Here behaag. Die mate waartoe ons gehoorsaam is aan die lig, sal bepaal hoeveel van die lig ons sal ontvang.

Dit is verder belangrik dat ons sal besef dat sekerheid van geloof, nie net gebaseer kan word op iets wat in die verlede gebeur het nie, maar dit kan slegs met sekerheid gebaseer word op die vrug wat voortgebring word vanuit ons geestelike lewens.

5. ONS OPDRAG:
In die lig van verse 8-10, kom Paulus nou en hy gee aan ons as gelowiges, ’n baie duidelike riglyn en opdrag – eerstens, negatief gestel ~ ...en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. Kinders van die lig (wat ons as gelowiges is), mag nie eens deel wees van, of selfs geassosieer word met die bose nie. Ons kan nie getuies vir Jesus Christus wees, as ons geassosieer word met die wêreld nie. Ons mag hoegenaamd nie God se standaarde afwater en kompromie maak met die wêreld nie. Inteendeel, Paulus sê dat ons nie eens kontak met sulke mense moet hê nie. Dit is waarom hy ook in 1Kor.5:9-11 aan die Korintiërs gesê het ~ In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. 10 Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. 11 Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.

Paulus sê dus aan ons in geen onduidelike taal, dat ons as gelowiges wat die lig van God wil nastreef, onder geen omstandighede mag ... meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. En hierdie vrugtelose praktyke van die duisternis het ons reeds in hoofstuk 4 behandel, nl.: Praktyke soos leuens en kwaadsprekery, woede, diefstal, vuil taal, bitterheid, woede en toornigheid. Aan die begin van hoofstuk 5 het ons gekyk na vrugtelose praktyke van die duisternis, soos: Ontug, onsedelikheid in enige vorm, gierigheid, growwe, ligsinnige of vuil taal.

Aan die positiewe kant sê Paulus in vers 11b-13 ~ ...maar stel dit eerder aan die kaak. 12 Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen. 13 Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val. Ons as gelowiges se verantwoordelikheid strek dus verder as bloot net om nié deel te neem aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. Ons moet juis die teenoorgestelde lewe, maar selfs nog meer as dit, ons moet hierdie praktyke van die duisternis, selfs onthul. Die Griekse woord hier dra ook die gedagte van konfronteer, teregwys, regstel, straf en dissipline. Ons het dus ’n verantwoordelikheid om hierdie sonde te konfronteer in mense (en veral mense wat hulself gelowiges noem en daarom ook ons broers en susters) se lewens – dit is waarom Jesus ook vir ons riglyne in Matt.18:15-17 gegee het oor hóé om dit te doen.

Die probleem waarom baie gelowiges nie sonde aanspreek nie, is omdat:
o Hul eie geestelike en morele huise nie in orde is nie en daarom het hulle nie die gawe van onderskeiding om dit te identifiseer as sonde nie.
o Hulle sonde nie ernstig opneem nie – hulle sal eerder saam met die sondaars lag daaroor, as om dit aan te spreek. Hulle herken die optrede as sonde en sal dit self nie doen nie, maar hulle sal dit nie aanspreek nie. Wanneer dit gebeur, misluk hulle nie alleen daarin om op te tree teen die bose nie, maar word hulle self daardeur besoedel. Ons mag nie eers met ’n glimlag luister na sulke praatjies nie – dit is waarom Paulus sê ~ Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.

’n Weiering of terughoudendheid om sonde aan te spreek (dit sluit die dissiplinering van gelowiges se sondige kinders, deur hulself in) is blatante ongehoorsaamheid aan die opdragte van God. Vers 14 sê dat sonde aan die kaak gestel word, sodat wanneer die lig daarop val, die onaanvaarbaarheid en lelikheid daarvan ontbloot word.

In vers 14b sluit Paulus hierdie perikoop af met die woorde ~ Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig. Hierdie woorde is gebaseer op die woorde in Jes.60:1 ~ Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Paulus verduidelik hiermee die profetiese woorde van Jes.60:1, deur te verklaar dat die teenwoordigheid van die Here, niemand anders as Jesus Christus self is nie – Hy die Messias, op wie elke Jood so gehoop het, hét gekom en Hy laat Sy lig skyn.

6. AFSLUITING:
Hierdie woorde in vers 14 is dus ’n oproep op almal wat vasgevang is in sonde, of steeds kompromie maak met sonde, deurdat dit sê, dat diesulkes wakker moet word en hulle bekeer en indien hulle dit doen, sál Christus se lig op hulle skyn en al hulle sonde verlig, sodat dit hanteer kan word – sodat dit bely kan word en dit in Christus Jesus se Naam vergewe kan word. Jesus Christus, die lang verwagte Messias en Redder en Saligmaker, is dus die Geneesmiddel vir almal wat in sonde vasgevang sit. Jes.55:6-7 is ’n Ou Testamentiese bevestiging hiervoor ~ Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. 7 Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer. Hoe genadig is God die Vader nie teenoor ons, deurdat Hy Sy Seun Jesus Christus gegee het om versoening van hierdie sonde vir ons te doen nie!

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 21 Februarie 2010

Monday, February 15, 2010

Openbaring Ontsluit - 16 (Die Dier en die Ander Dier) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
Ons het die vorige keer genoem dat daar in Openb.13:11 melding gemaak word van ’n “Tweede Dier” ~ Toe het ek ’n ander dier gesien wat uit die aarde uit kom. Hy het twee horings gehad soos ’n lam s’n, maar hy het soos ’n draak gepraat. Wie of wat was of is hierdie Tweede Dier? Voor ons egter daarby kom moet ons net eers na nog enkele sake t.o.v. Nero kyk.

2. DIE OORLOG VAN DIE DIER:
Ons het reeds aangedui dat die Dier, Nero moes wees, maar ten einde onteenseglik te bewys dat dit Nero was, moet ons aandag skenk aan Openb13:7 en enkele ander verwysings in die Woord en geskiedkundige gebeure wat ooreenstem met dit waarvan ons in die Woord lees. Openb.13:7 lees dan as volg ~ Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.

Indien die Dier, Nero was is dit bo en behalwe dit wat ons die vorige keer gesê het, nodig om aan te dui dat:
· Nero wél oorlog gevoer het teen die gelowiges, of anders gestel dat hy hulle fel vervolg het.
· Dat Nero hulle as Gelowiges vervolg het, en
· Dat hierdie vervolging vir ’n tydperk van 42 maande voortgeduur het (Openb.13:5).

Dit word algemeen aanvaar onder regsinnige teoloë, dat fel vervolging van gelowiges in die “Openbaring-era” onder Nero plaasgevind het, inteendeel dit het reeds begin terwyl Johannes aan Openbaring geskryf het. Bo en behalwe vers 7 hierbo vermeld, is Openb. 1:9 ook betekenisvol ~ Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het. Hieruit blyk dit baie duidelik dat vervolging van gelowiges aan die orde van die dag was, maar ook toon dit dat Johannes deel uitgemaak het van hierdie vervolging. ’n Verdere aanduiding dat die Romeinse Ryk verantwoordelik was vir hierdie vervolging, is die feit dat slegs Rome oor die mag beskik het om iemand na Patmos te verban. Patmos was ook bekend daarvoor dat Rome dit gebruik het as ’n strafkolonie. Hierdie vervolging was op hierdie stadium waarskynlik nog in sy kinderskoene, want Openb.2:10 en 3:10 dui daarop dat die vervolging maar pas begin het in Klein-Asië en Johannes wys verder daarop dat dit slegs vir ’n kort rukkie (24 maande) sou plaasvind – Openb.13:5 ~ Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.

Johannes noem self in Openb.1:9 dat hy en sy medegelowiges hulle in ’n tyd van verdrukking bevind. Hierdie vervolging, of tyd van verdrukking begin in 64 n.C., want net twee jaar vantevore (62 n.C.) het Paulus as Christen, hom beroep op die keiser (Nero) en is hy vrygelaat (Hand.25:11-12; 28:19). Die Christendom was dus nog nie op daardie stadium vervolg en verdruk nie, want dit was eers van 64 n.C. dat Christene as Christene vervolg is. Sulpicius Severus (360-420 n.C.) skryf bv. Nero was the first of the emperors who showed himself an enemy of the divine religion. Hy skryf voorts dat Nero die eerste keiser was wat gepoog het om die naam “Christen” verbied te kry.

Tot en met 64 n.C. was die Christendom beskou as ’n sekte wat uit die Jodedom gespruit het en derhalwe tot op daardie stadium onder die sambreel van Judaïsme, beskou is as ’n “wettige godsdiens”. Hierdie beskerming wat die Kerk in haar “kleuterdae” geniet het, was van die uiterste belang, ten einde die Evangelie, gedurende die Apostoliese tyd, die geleentheid te gee om stewig gevestig te raak, te groei en te versprei.

Hierdie vervolging van die gelowiges is nie net deur Christelike bronne bevestig nie, maar ook deur heidense bronne – so bv. het die Romeinse historikus Tacitus (56 n.C. 117 n.C.) verwys na die vervolgde gelowiges as, those who ... were vulgarly called Christians.

Nero se “oorlog” teen die gelowiges was die eerste van sy soort gemik teen gelowiges en tweedens het dit, soos reeds aangedui, tydens Johannes se tyd plaasgevind en derdens was dit dus uiters relevant vir die eerste eeuse gelowiges. Dit alles het egter net daartoe gelei dat die Christendom net verder uitgebrei het.

Die vervolging van gelowiges onder Nero was die heel ergste van alle tye – ons het al na verskeie metodes verwys waarop gelowiges gesterf het (brandende fakkels; Nero en sy beeshorings, ens.).

Dit was onder die regering van Nero dat die Nuwe Testamentiese Kerk, twee van haar mees prominente Apostels verloor het, nl. Paulus en Petrus. En Johannes is soos reeds aangedui, na Patmos verban gedurende hierdie tyd. Die voorbeeld wat Nero met hierdie optrede teen die Apostels gestel het, is slaaf nagevolg deur sy amptenary en grootskaalse vervolging van gelowiges het regdeur die Romeinse Ryk plaasgevind.

Baie interessant is die feit dat die tydperk van vervolging op gelowiges deur Nero, ooreenstem met die tydperk wat in Openb.13:5 gemeld word ~ Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen. Die vervolging het vanaf November 64 n.C. na die verwoestende brand in Rome begin, want nadat gerugte die rondte begin doen het dat dit Nero was wat die brande gestig het, het hy sondebokke nodig gehad om te beskuldig en sodoende die suspisie op hom te herlei na iemand anders toe – die gelowiges het dit ontgeld! Paulus (onthoof in Rome) en Petrus (gekruisig – onderstebo op eie versoek – nie waardig om soos Christus te sterf nie) is gedurende hierdie tyd en wel net voor Nero se selfmoord, gedood. Hierdie vervolging het amptelik voortgeduur tot en met die dood van Nero op 9 Junie 68 n.C. Nie een van die daaropvolgende keisers (Vespasianus en Titus) het die kerk lastig geval gedurende die volgende dekade nie. Ook het Domitianus daarna, dit nie gedoen nie.

Met ’n speling van enkele dae het die amptelike en gruwelike vervolging van die Christene dus vir 42 maande geduur – vanaf November 64 tot Junie 68. Hoe betekenisvol is hierdie feite nie – nie net pas die getal van die Dier, Nero perfek nie, maar ook die tydperk van geweldige vervolging van 42 maande speel af gedurende die regering van Nero.

3. KEISERLIKE AANBIDDING:
Ons lees die volgende in Openb.13:4 ~ Die mense het die draak aanbid omdat dit hy is wat die gesag aan die dier gegee het. Hulle het ook die dier aanbid en gesê: “Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer?” (sien ook 13:8, 12, 15; 14:9, 11; 16:2; 19:20; 20:4). Keiserlike aanbidding was algemeen in die Romeinse Ryk en was geïmplementeer deur Julius Caesar. Die Romeinse Senaat het hom selfs die titel, Jupiter Julius gegee, wat hom gelyk gestel het met die leidende Romeinse god, Jupiter.

Die tweede heerser, Augustus Caesar het aanbidding van hom in Rome verbied, dog hy het dit in ander gebiede toegelaat. Net soos wat dit die geval met Julius was, is ook Augustus na sy dood tot god verklaar.

Tiberius Caesar was die derde heerser. Na sy dood het verskeie stede in die Romeinse Ryk probeer om aangewys te word as die stad waar ’n aanbiddingstempel vir Tiberius opgerig kon word – Smirna het die bod gewen.

Gaius (“Caligula”) Caesar was die vierde heerser en hy het soveel van hom as god gedink dat hy die kop van sy eie standbeeld bo-op die kop van die god Jupiter geplaas het. Hy het ook daarop aangedring dat hy aangespreek word as Jupiter en hy het tempels tot sy eie eer opgerig.

Claudius Caesar was ook aanbid as god. Hy het o.a. ’n tempel ter ere aan sy eie goddelikheid laat oprig. Hy is ook aangespreek as “ons god Caesar”.

Nero was die volgende en hy was gesien as ’n aardse openbaring van die god Apollo. U sal onthou dat Nero homself gesien het as dié musikant en sanger in die Ryk en daarom verskyn hy ook op muntstukke as Apollo wat sit, terwyl hy ’n lier (’n Griekse snaarinstrument) speel. Oostelike provinsies se muntstukke het weer Nero se moeder (Agrippina) uitgebeeld met die inskripsie: “godin en moeder van ’n god”. In 55 is ’n groot beeld (tussen 33 en 37 meter hoog) van Nero in die Tempel van Mars, in Rome opgerig – Nero was ook gelykgestel met die god Jupiter.

Op inskripsies wat in Efese gevind is, is Nero aanbid as die “Almagtige God”, asook die “Redder”.

Terwyl die vorige keisers, met die uitsondering van Gaius en Nero, eintlik eers na hul dood tot gode verhef is en enkeles dit in hul leeftyd aanvaar het en selfs die oprigting van tempels tot hul eer toegelaat en in enkele gevalle selfs geïnisieer het, was dit Gaius en Nero wat openlik en ernstig daarop aangedring dat hulle in hulle regeringstyd reeds aanbid moes word as gode.

Ons lees in Openbaring van hierdie afgode aanbidding ~ Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die dier se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie (Openb.13:15). Die verwysing na keiserlike aanbidding in Openbaring, asook die realiteit en teenwoordigheid van keiserlike aanbidding in antieke literatuur en geskiedskrywing, plaas ons dus op die regte spoor wanneer ons sê dat die Romeinse Ryk en sy keiser by name Nero, Die Dier van Openbaring is.

4. DIE ANDER DIER:
Die Here Jesus het ons reeds op die Olyfberg gewaarsku teen vals profete ~ As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 24 Daar sal vals “christusse” en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. 25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26 En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie (Matt.24:24-26). Jesus praat hier van vals “christusse” wat in “daardie tyd” op die voorgrond sal tree – na watter tyd verwys Hy? Die “eindtye”? Die kort tydjie wanneer satan aan die einde van die millennium losgelaat gaan word? Wanneer? Kom ons kyk na die konteks – Vers 2 van hoofstuk 24 lees as volg ~ Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word. Waarna of na watter gebeure word hier verwys? Die val van Jerusalem en die vernietiging van die Tempel natuurlik. Hierdie vals “christusse” of vals profete, of die “Ander Dier” sal dus nog in die lewe van die lesers van die sewe briewe in Klein Asië, plaasvind – voor 70 n.C. in elk geval.

Die “Tweede Dier”, sien ons in Openb.13:11, het twee horings gehad soos dié van ’n lam s’n, maar hy het soos ’n draak gepraat. Ons moet onthou dat ’n lam ’n godsdienstige simbool is. Die Bees het ’n skyn van godsdienstigheid gehad, maar het misleidend gepraat soos ’n draak.

Ons weet vanuit die geskiedenis dat daar kort voor die Tempel verwoes is, verskeie vals “christusse” en valsprofete na vore getree het en wel vanuit die gevestigde godsdienstige instellings in Jerusalem. Satan het die “ou wynsak” gebruik om die Joodse godsdiens en sy leiers te gebruik in ’n poging om die mense van hul tyd te mislei en weg te draai van Christus. Lukas het bv. in Hand.8:9-10 van so ’n misleier gepraat – ’n misleier wat bekend gestaan het as “Die Groot Krag van God” ~ In dieselfde stad was daar ’n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, 10 en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.” Johannes en Petrus het in dieselfde tyd na Samaria gegaan om die Evangelie daar te verkondig en hulle het o.a. daar gebid vir die mense, vir die vervulling van die Heilige Gees. Hierdie Simon het gesien wat gebeur het en hy het dieselfde krag begeer en selfs geld aangebied om dit te kon kry (Hand.8:18). Hierdie Simon was ’n voorbeeld van die baie vals “christusse” wat in daardie tyd rond gegaan het.

Daar was bv. ook die geval van die Hoë Priester se sewe seuns wat in Efese ...rond gegaan het om bose geeste te besweer, (en wat) dit ook gewaag (het) om die Naam van die Here Jesus daarvoor te gebruik. Hulle het gesê: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.” 14 Dit was die sewe seuns van ’n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het (Hand.19:13-14). Hulle het selfs die naam van die Here Jesus probeer gebruik ten einde die mense te mislei.

Hierdie is twee voorbeelde van misleiers en vals “christusse” waarteen die Here Jesus in Sy Olyfberggesprek gewaarsku het en dan was daar natuurlik ook die vals “christusse” wat vanuit die Romeinse Ryk (politieke sisteem – Nero) gekom het, asook die godsdienstige sisteem wat Jesus uiteindelik gekruisig het, nl. die Joodse godsdienstige leiers.

5. AFSLUITING:
Waarom al hierdie gepraat oor Die Bees? Een van die redes is omdat daar so baie wanpersepsies en foutiewe verklarings bestaan oor Die Bees en dat hy nog “in die eindtye” gaan kom en dat mense letterlik in vrees en bewing leef by die gedagte aan Die Dier en sy merk en wat hulle as gelowiges te doen sal staan as Die Dier môre of oor tien jaar of ten minste iewers in hulle leeftyd sou kom – hulle vrees ’n marteldood deur Die Dier se aanhangers – hulle vrees die moontlikheid dat die groot hoer wat op ’n helderrooi dier sit (Openb.17), kragte sal saamspan met Die Dier, ens., ens.

Andersyds is dit belangrik om die identiteit van Die Dier te bepaal, ten einde die Skrif en spesifiek Openbaring reg te vertolk. Ook help dit om Ou Testamentiese profesieë soos o.a. Dan.9:24-27 en nuwe Testamentiese gedeeltes soos Matt.24:1-36; 2Tes.2:1-8 en soos reeds gemeld, Openbaring (enersyds, Openbaring 1-18 en andersyds – en veral) Openb.19-22), beter en reg te vertolk – in kort, help dit om die ganse Ou- en Nuwe Testament reg te vertolk.

Ons sien in Openbaring dat daar geweldige haat jeens die vroeë Kerk van die Here Jesus Christus, gekoester is. Aan die eenkant was daar die groepering of godsdienstige groep wat veronderstel was om ná aan die Christene te wees, nl. die Jode, wat fel vervolgers van die gelowiges was en aan die anderkant was daar die Romeinse Ryk en sy heerser met Nero aan die voorpunt, wat ook fel en waarskynlik dié felste vervolgers van die Kerk was.

Dit was te midde van al hierdie vervolging en swaarkry dat Johannes vanaf Patmos aan sy medegelowiges skryf en vir hulle sê: Ek het goeie nuus vir julle: Jesus gaan triomfeer oor al die vorme van verdrukking – en juis dít is dan ook die tema van die Boek Openbaring. Hoe moet ons dan hierdie “geskiedenis” van die vroeë kerk op ons van toepassing maak? Wel, o.a. deur te besef dat Jesus Christus die verheerlikte en soewereine Redder ís – en hierdie oorwinnende, verheerlikte en soewereine Jesus ís vandag steeds met ons – al gaan ons self ook deur moeilike tye en al sal ons of ons nageslag deur ’n kort tydperk gaan waartydens Satan vrygelaat gaan word, kan ons weet, dat Christus se beloftes aan die vroeë kerk, ook beloftes is wat vir ons geld – beloftes soos Openb.2:7 ~ Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is. Openb.2:11 ~ Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie; ...sal van die verborge manna kry, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam daarop gegraveer (Openb.2:17) ...Dié wat die oorwinning behaal sal .....mag en gesag ontvang om oor die nasies te regeer – dieselfde mag en gesag wat Jesus van die Vader gekry het (Openb.2:26-29); ..... sal wit klere dra en sy naam sal nooit uit die Boek van die Lewe gehaal word nie (3:5-6); ...sal die Naam van God en van Christus en die naam van die stad van God, die nuwe Jerusalem op die voorkop geskrywe kry (3:9-13); ...Dié wat die oorwinning behaal sal saam met Christus op die hemelse troon sit (3:21-22).

Ons sal dan D.V. volgende keer aangaan met ’n vers-vir-vers verklaring van Openbaring en wel met Openbaring 6.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging)Sondagaand 14 Februarie 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 14 Februarie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 15 (Navolgers van Christus) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.5:1-7 ~ Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2 Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. 3 Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. 4 Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. 5 Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is-want gierigheid is afgodery-het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie. 6 Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7 Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

2. INLEIDING:
Die vyfde hoofstuk van die brief aan die Efesiërs begin met een van die mees verrassende opdragte in die ganse Nuwe Testament: Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Die O.A.V. sê ~ WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders. Die meeste Engelse vertalings vertaal dit met ~ Therefore be imitators of God, as beloved children. Hierdie opdrag kom op geen ander plek in die Woord voor nie. Wat hierdie woorde so verrassend maak, is die feit dat hierdie opdrag so ’n hoë standaard stel – ’n standaard wat menslik onmoontlik is om te bereik.

3. GOD SE KARAKTEREIENSKAPPE:

Die Griekse woord wat hier vir “navolger” of “imitator” gebruik word is, "mimetes" – die Afrikaanse woord mimiek word ook hiervan afgelei) en dit beteken letterlik om iemand anders se karakter eienskappe na te boots.

Die vraag is, hoe kan Paulus vir ons sê dat ons die onmoontlike moet bereik? Hoe is dit moontlik om die volmaakte God se karakter na te boots en na te leef?

Ons moet verstaan dat daar in die teologie ’n onderskeid getref word tussen God se deelbare eienskappe en Sy nie- deelbare eienskappe.

Wanneer ons bv. van God praat, sê ons baie dikwels dat Hy self-bestaande is, m.a.w., Hy is nie van enige iemand of iets anders afhanklik vir Sy bestaan nie – Hy is God en Sy ganse wese en bestaan is in Homself opgesluit. Hierdie eienskap van God, is nie- deelbare eienskappe. Ons sê dat God van ewigheid tot ewigheid is en dit is ook ’n voorbeeld van Sy nie- deelbare eienskappe. So is ook Sy alomteenwoordigheid, m.a.w. die feit dat Hy oral terselfdertyd is, ’n voorbeeld van Sy nie- deelbare eienskappe. Ook Sy almag; Sy alwetendheid; Sy Majesteit en Sy heiligheid, ens.

Hierdie eienskappe van God is nie moontlik vir ons om na te volg nie, want dan sou ons ook God gewees het.

God beskik egter ook oor deelbare eienskappe. Dit is eienskappe soos geregtigheid; liefde; gramskap; wysheid; getrouheid; goedheid; genade; erbarming of medelye; vergifnis; ens.

Die probleem is egter, dat wanneer ons aan hierdie deelbare eienskappe van God dink – God wat volmaak is – ’n God wat volmaak lief het; wat volmaak vergewe; wat beskik oor volmaakte geregtigheid; ’n God wat volmaak vergewe, ens., besef ons maar net dat ons nie naastenby soos God kan vergewe, of lief hê nie – hoe kan Paulus dan vir ons sê ~ WEES dan navolgers van God (O.A.V.)? Wel, as Paulus sê dat ons navolgers van God moet wees, dan bedoel hy dit en dan is dit tog sekerlik moontlik.

Eerstens moet ons besef dat hierdie opdrag, ’n opdrag is wat ons nederig behoort te stem en ons afhanklikheid van God te laat besef.

Tweedens moet ons na die eerste gedeelte van vers 1 kyk, want daar staan ~ Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle.... Wat het Paulus hier in gedagte? Hy sê vir ons dat ons net soos aardse kinders, gehoorsame nabootsers van hulle aardse ouers is, ons ook gehoorsame nabootsers van ons Hemelse Vader moet wees. Maar meer nog – aardse kinders beskik oor hul ouers se temperament, geaardhede, persoonlikhede, ens. In Ef.1:5 het Paulus gesê dat ons kinders van God is ~ In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees (sien ook Joh.1:12). Omdat ons kinders van God is moet ons dus ook beskik oor Sy karaktereienskappe soos bv. Sy heiligheid en Sy liefde.

In die derde plek sien ons dat 5:1 begin met, “Omdat”. Omdat wat? Om dit antwoord, moet ons na die vorige vers gaan kyk, nl. Ef.4:32 kyk ~ Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Hierdie vers sê dus vir ons in watter opsig ons moet identifiseer met Christus – watter deelbare eienskappe van God ons dus moet navolg.

4. CHRISTUS SE LIEFDE:
As ons vers 32 saamvat, sien ons dus dat “liefde” die oorkoepelende karaktereienskap van God is, en dit is hierdie liefde wat ons moet navolg. Watter tipe liefde is dit? Vers 32 verskaf aan ons die antwoord. Eerstens sê dit, dat ons liefde, vergifnis moet weerspieël. Aangesien God ons op grond van Christus se versoeningswerk, vergewe het, moet ons mekaar ook so vergewe – vergifnis vloei immers voort uit liefde. Hierdie verband tussen God se vergifnis van ons en ons vergifnis van andere is uiters belangrik, want deur te verstaan dat ons vergewe is, is dit moontlik vir ons om andere te vergewe. En dit is dan presies wat Paulus ook sê dat ons moet doen – vergewe mekaar en wanneer ons dit doen, is ons nabootsers van Christus.

Hierdie liefde van die Vader sluit dus Sy goedgesinde en hartlike vergifnis van ons in en dit is daardie deelbare karaktereienskap van Hom wat ons moet navolg en uitleef teenoor andere. Is dit onmoontlik om hierdie karaktereienskap van God na te streef en uit te leef? Ek glo nie.

Ef.4:32 waarna Paulus dan verwys wanneer hy sê, “daarom”, word in vers 2 van hoofstuk 5 herhaal, wanneer hy sê ~ Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. Wanneer ons dan na beide kante van hierdie “daarom” kyk, word dit vir ons eers in 4:32 en dan weer in 5:2 bevestig dat Paulus vir ons sê dat ons die liefde van Christus moet navolg.

Hierdie liefde bestaan egter uit drie elemente. Die eerste het ons reeds aangespreek, nl. liefde wat vergewe. Ons sien egter in vers 2, ’n tweede element nl. dat liefde, gee ~ Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. Christus het Sy liefde aan ons betoon, deurdat Hy Sy lewe afgelê het vir ons – Hy het dus Sy lewe vir ons gegee.

Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat Christus nie net “sekere dinge” opgeoffer het vir ons nie, m.a.w. Hy het nie net Sy posisie in die hemel vir ’n wyle opgesê vir ons nie. Nee, Hy het Homself gegee – Hy het Sy lewe gegee.

Fil.2:5-8 beskryf hierdie feit vir ons pragtig ~ Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6 Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7 maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8 het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Ook in hierdie faset van God se liefde moet ons navolgers wees – ons moet bereid wees om ons lewe vir Christus neer te lê, maar ook vir mekaar. Ons moet ook bereid wees om onsself te verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en ons moet gehoorsaam wees tot in die dood toe – ons moet dus volhard hierin, tot aan die einde van ons dae. Dit is hoe Jesus Homself vir ons gegee het en dit is hoe ons, onsself uit liefde behoort te gee.

Die derde faset van Christus se liefde wat ons moet navolg, kan saamgevat word met die woord “leef”. Ons moet dus nie net glo en oortuig daarvan wees dat liefde, vergifnis en die gee van ’n lewe insluit nie. Nee, as ons navolgers of nabootsers van Christus wil wees, moet ons liefde oorgaan tot aksie – ons moet Christus se liefde, self begin lééf. Ons moet dus vergifnis begin lééf. Ons moet dus ons lewens begin aflê en ons lewens géé. Ons moet Christus se liefde begin lééf, anders is ons nié navolgers van Christus nie en kan ons Christenskap ernstig onder verdenking kom. Dit is waarom Paulus in v.2 sê ~ Lewe in liefde, soos Christus.....

Om liefde te lewe beteken egter ook om die ou mens af te lê en onsself te beklee met die nuwe mens. Maar dit beteken egter ook om daardie dinge af te lê waaroor ons verlede week gepraat het, nl. valsheid (leuens); woede; diefstal; vuil taal en bitterheid, want wanneer ons daardie dinge aflê, is ons besig om liefde te leef teenoor die Here; ons medemens en onsself.

Ons liefde moet dus lewend gemaak word in ons en hoe kry ons dit reg? Ons vind die antwoord o.a. in Fil.4:13 ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Ons kan die liefde nie lééf en ons kan die ou mens nie neerlê – in kort, ons kan nie navolgers van Christus wees, uit ons eie krag nie. Hoe kry ons dit dan reg? Deur ons na Christus te wend in gebed en die Woord van God. Ons kan Christus alleen navolg – Sy lewenstyl en karakter “kopieer”, indien ons tyd en nogmaals tyd met Hom spandeer. Kinders word soos hul ouers, omdat hul baie ure in die teenwoordigheid van hul ouers deurbring so moet ons met Christus ook doen.

5. MORALITEIT:
In skrille kontras met Paulus se oproep tot navolging van Christus se liefde, kom hy nou en sê aan sy lesers en daarom ook aan ons as gelowiges, dat indien ons, onsself gelowiges noem, ons moraliteit, of te wel ons sedelike lewe, bo verdenking moet wees. Inteendeel, Paulus sê in vers 5, dat indien iemand homself skuldig maak aan hierdie immorele optrede, so iemand besig is met afgodery en wanneer jy besig is met afgodery, impliseer dit dus dat jy God nie aanbid nie.

Hier word vir ons vyf onuitstaanbare onsedelike optredes genoem:
· Eerstens word “ontug en onsedelikheid” vir ons genoem: Die O.A.V. praat van hoerery en die Engels van “sexual immorality”. Die Griekse woord wat hier gebruik word is “porneia”, vanwaar ons, ons woord “pornografie” kry. Ontug verwys egter nie net na obskure foto’s en “bloufilms” nie – dit verwys na buite-egtelike omgang. Ontrouheid in die huwelik dus. Paulus noem hierdie sonde eerste hier in hoofstuk 5 – nie omdat dit die nommer een sonde in die oë van God is nie, maar omdat dit sulke verwoestende effekte op almal ná aan die oortreders het, asóók op die oortreders self én op die breëre gemeenskap.

Die positiewe antwoord wat Paulus hierop het, is getrouheid in die huwelik en ook hier moet ons navolgers van Christus wees, want Hy is volmaak getrou aan Sy Bruid, die Kerk.

Al verwys die Griekse woord hier in die eerste plek na ontrouheid in die huwelik, wil ek egter sê dat enige vorm van pornografie, ontug of hoerery en selfbevrediging, ook hierby gevoeg kan word, juis omdat hierdie vorme van seksuele immoraliteit, áltyd gepaard gaan met beelde of fantasieë oor ander vrouens (en natuurlik in die geval van vrouens sal dit gaan oor ander mans), wat niks anders is as “porneia” nie - Matt.5:28 ~ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. Ons moet só versigtig wees, omdat hierdie sonde so geweldig subtiel is en ek die bewering wil maak, dat die grootste aanslag op gelowiges in ons dag (en waarskynlik nog altyd), juis op hierdie vlak lê - seksuele immoraliteit, wat owerspel, selfbevrediging, voorhuwelikse seks, pornografie (sag en ekstreem – tydskrifte en films – middele, dade en beelde), fantasieë, flirtasies met die teenoorgestelde geslag en allerlei ander afskuwelike en God-onterende optredes en denke insluit. En die probleem met hierdie sonde is dat die oortreders altyd dink dat dit die laaste keer is, óf dat dit nie so erg is nie, óf dat dit die aanvaarde norm in ons dag is; óf die een lei uiteindelik tot ’n volgende en erger sonde. Die ironie is ook dat diegene wat hieraan deelneem, altyd dink dat die oortreding (wat dit ook al mag behels) hom of haar gaan bevredig, maar elke keer en meeste van die tyd, direk daarna sit jy met ’n klomp emosies en skuldgevoelens en dalk nog erger – besef jy dat dit jou ook maar nie volkome bevredig het nie en wil jy weer, meer hê – dit raak ’n bose kringloop waaruit jy nie kan ontsnap nie – in kort, dit word ’n verskriklike verslawing.

Dit word ook beweer dat hierdie sonde, waarskynlik dié sonde is waarmee die meeste gelowiges worstel.

Maar, daar ís egter goeie nuus vir diegene wie vasgevang is in hierdie sonde – 2Kor.3:16 ~ Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.” 17 “Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. 18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. En in Luk.4:18-19 sê Jesus self dat Hy ook vir diegene wat vasgevang is in seksuele sonde vry kan maak ~ Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, 19 om die genadejaar van die Here aan te kondig. [Diegene van u wat in hierdie sonde vasgevang is – kontak my asb. – lê jouself neer (onthou dit is ook liefde - selfneerlegging) t.w.v. jou siel en praat met my, sodat ons saam die Here se aangesig kan soek en ek jou vanuit die Woord kan help hoe om hierdie probleem – nee, hierdie verslawing en sonde te kan oorkom – Diegene wie nie die preek hoor nie, maar dit dalk per E-pos ontvang of op ons Blog lees, is ook welkom om my te kontak, of besoek gerus die volgende webtuiste vir hulp: http://www.settingcaptivesfree.com/, of koop die volgende boek – beskikbaar by “Augustine Bookshop” in Pretoria (012- 993-4606): Cleveland, Mike. THE WAY OF PURITY. Focus Publishing. Bemidji. Min. 2007. 188p. Ek beoog ook om binnekort met ’n Bybelstudie oor hierdie onderwerp te begin en almal wat vasgevang is in hierdie verslawing of wat meer wil weet ten einde andere te kan help, is welkom om my s.g.a.m. te kontak].

Paulus verwys verder in vers 3 na gierigheid wat ons as gelowiges moet aflê. Dit is baie moeilik om regtig te verstaan waarna Paulus verwys in vers 3, wanneer hy praat van gierigheid. Sommige kommentators verwys hier na gierigheid t.o.v. geld en besittings, ens. Andere verswyg enige kommentaar hieroor en andere weer sê dat Paulus sê dat hierdie gierigheid, onlosmaaklik deel uitmaak van onreinheid, omdat elke vorm van seksuele immoraliteit, ’n uitdrukking is van die mens se eie-wil, selfbevrediging en selfgesentreerde gierigheid. Dit is met hierdie lg. verklaring waarmee ek in hierdie verband saamstem, want ons moet hier kyk na die konteks waarin dit geskryf is. Hierdie gierigheid gaan dus oor iemand wat nie tevrede is met sy morele lewe soos wat dit is nie – hy wil nog meer hê en sal dus selfs owerspel pleeg om meer as net sy vrou bv. te kan besit. Hy kies om in onsedelikheid te verval ten einde homself te bevredig en om op hierdie wyse meer te kan kry as wat hy dink hy het. Om gierig te wees, is dus ook sonde en daarom immoreel en moet derhalwe ook afgelê word.

· Paulus sluit by hierdie immorele lewensstyl ook, ...growwe, ligsinnige of vuil praatjies (v.4) in, wat ook alles te doen het met ons morele lewe. Hierdie woord growwe praatjies verwys na obsene praatjies, of sedelose-, onkuise-, liederlike-, smerige-, skurwe-, of dubbelsinnige praatjies. Hierdie growwe praatjies sluit dus nou aan by die vorige sonde wat Paulus genoem het en wat op ’n morele vlak lê. ’n Persoon wat hom besig hou met growwe praatjies, is ’n immorele en sedelose persoon wat glad nie ag slaan op Bybelse norme en standaarde nie en is sy optrede en praatjies dus oneerbiedig.

· Saam met growwe praatjies, noem Paulus ligsinnige praatjies. Die Griekse woord is maklik om te onthou, nl."morologia". “Moro” = moroon en natuurlik “logio”, of “logos” = woord. Iemand wat hom skuldig maak aan ligsinnige praatjies, praat en tree dus op soos ’n gek. En hoor net wat sê die Verklarende Afrikaanse Woordeboek van ’n moroon – Dit is ’n bepaalde tipe swaksinnige waar die volwasse lyer geestelik gelyk is aan ’n kind van 7 jaar.

Sulke praatjies is praatjies wat enige iets wat prysenswaardig is en getuig van hoë morele standaarde, afbreek tot in die modder – dit is wat so baie TV- programme juis doen (en dit is veral tragies, en ek is jammer om dit te sê, dat so baie Afrikaanse programme, opvoerings en rolprente, juis dít doen – dink bv. aan Casper de Vries, Leon Schuster, Pieter Dirk Uys, alias Evita Bezuidenhout, Nataniël, "Groet die Grotman/Vrou", e.a.).

· Laastens noem Paulus vuil praatjies. Dit is uiteraard baie nou verwant aan growwe- en ligsinnige praatjies, maar vuil praatjies is die laagste vorm van immorele kommunikasie. Ons het verlede week gehoor dat Paulus vir ons sê ~ Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie.... (Ef.4:29a).

6. TER AFSLUITING:
Wat is die gevolg van al hierdie liefdeloosheid en immoraliteit? Paulus sê in verse 5 en 6 dat hierdie vorme van immoraliteit, afgodery is en dat diegene wat hulle hieraan skuldig maak, ...nie deel (het) aan die koninkryk van Christus en van God nie. God se gesindheid jeens perverse en verdorwe liefde en seksuele sondes kan duidelik gesien word in Num.25:1-9, waar die Israeliete verhoudings gehad het met Moabitiese vroue, waarop God 24 000 van hulle gedood het. God se gesindheid jeens seksuele sonde het nie verander nie – dink aan HIV.

Paulus het egter ook ’n boodskap vir diegene van ons wat nié skuldig is aan hierdie vorme van immoraliteit nie – hy sê in vers 6 ~ Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7 Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

Wat dan is die positiewe kant aan hierdie opdragte van Paulus? Paulus noem in die eerste plek vir ons ’n klompie positiewe eienskappe in vers 9, wat ons moet opneem (en waarna ons nog in die toekoms sal kyk), nl.: Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.

Tweedens is Paulus se openingswoorde van hierdie hoofstuk vir ons uiters positief, nl. dat ons navolgers van Christus moet wees. Daar is dus nie net ’n kant wat bestaan uit perverse en verdorwe liefde en immoraliteit nie. Nee, daar is ’n anderkant – ’n kant waar ons Christus se deelbare eienskappe van Sy karakter, deel van ons kan maak en elkeen van ons kan hierdie positiewe karaktereienskappe navolg, omdat dit reeds by wedergeboorte, potensieel in ons gedeponeer is met uitstorting van die Heilige Gees in ons lewe. Laat ons, ons daarom toespits met vrees en bewing, maar ook deur gebed en bestudering van die Woord en doelbewuste aflegging van die slegte en die opneem van die goeie, om navolgers van Christus Jesus te word.

Daar is ook hoop en uitkoms vir die van ons wat dalk só gebuk gaan onder skuldgevoelens oor die feit dat ons nie op hierdie stadium die navolgers van Christus is, soos wat die Woord van ons verwag nie – ons vind daardie uitkoms in die woorde van 2Kor.5:21 ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. Daar is ook ’n wonderlike belofte vir almal onder ons wat vasgevang is of was onder die sondes wat ek vandag genoem, nl. dié in Joël 2:25 ~ Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 14 Februarie 2010