Sunday, June 28, 2015

Die Handelinge van die Apostels - 03 (“Jesus se Hemelvaart”)

1.   INLEIDING:
      Daar word nie baie oor Jesus se hemelvaart gepraat en selfs gepreek nie, maar tog is dit n baie belangrike faset van Jesus se bediening op aarde en wat daarop gaan volg en daarom wil ek hê dat ons vandag in meer besonderheid kyk na Jesus se hemelvaart.

2.   SKRIFLESING:
      Hand.1:9-11 ~ Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10) Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11) Dié sê toe vir hulle: "Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het. 12) Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver.

3.   DIE HEMELVAART - DIE EVANGELIES:
      Jesus se hemelvaart is n baie belangrike gebeurtenis op die Christelike kalender en dit word op die 39ste dag na Paas-Sondag gevier, m.a.w. op n Donderdag en tien dae voor Pinksterdag. Waarom is dit so n belangrike dag? Omdat dit Christus se verheerliking gedenk - die dag waarop Hy Sy plek aan die regterkant van die Vader op Sy hemelse troon ingeneem het.

      En tog, as dit so belangrik is, is dit baie eienaardig dat die Evanglieskrywers so min aandag hieraan skenk, so asof dit gladnie belangrik was nie, trouens Matteus en Johannes vermeld dit nie eens in hul Evangelies nie en Markus noem dit in een enkele versie. Lukas skenk egter so bietjie meer aandag aan Jesus se hemelvaart, maar ook nie veel meer nie.

      Waarom was dit nie n tema of gebeurtenis waaroor die Apostels gerapporteer het nie? Kom ons kyk kortliks daarna:

   Die doel met die Evangelies:  Ons moet eerstens onthou dat die doel met die Evangelies was om die Evangelie te openbaar en bekend te maak, m.a.w. die fokus was gerig op die Goeie Nuus van Verlossing in en deur Jesus Christus. Tegnies gesproke was redding voortgebring deur die dood van Jesus en Sy opstanding was die bewys van redding en verlossing. Die hemelvaart het nie n direkte bydrae gelewer tot  die werk aan die Kruis nie, of anders gestel, die hemelvaart was en is nie instrumenteel in die reddigproses nie.

      Dit is dus nie n kwessie dat die hemelvaart nie belangrik was vir die Evangelieskrywers nie, maar dit is irrelevant t.o.v. die reddingproses en daarom maak dit nie primêr deel uit van die Evangelies nie.

   n Ongewilde tema: Tweedens was die hemelvaart nie n onderwerp waaroor die dissipels graag gepraat het nie.

      Die dissipels was binne-in die intieme kring van Jesus en  hulle was daagliks en bykans permanent in Sy wonderlike teenwoordigheid - hulle wou nie afskeid neem van Hom nie; Sy weggaan sou n geweldige leemte in hul midde laat en elke keer wat Jesus oor Sy vertrek gepraat het, was die dissipels hartseer ~ Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: `Waar gaan U heen? 'nie. Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid (Joh.16:6). Hy het ook vir hulle belowe dat Hy weer sal kom, maar ten spyte daarvan was hulle steeds bedroef ~ Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie (Joh.16:22).

      Dan was daar natuurlik ook nogsteeds die verwagting by hulle van n fisiese koninkryk met Jesus as die fisiese koning.

4.   DIE HEMELVAART - VOORAF:
      Terwyl die hemelvaart nie eintlik in die Evangelies vermeld is nie, is dit egter nie die geval met Handelinge nie en is dit nodig dat ons sal vasstel wat word oor die hemelvaart gesê en dan spesifiek moet ons, onsself ook afvra wat die betekenis van die hemelvaat is.

      Ons het met die boodskap oor die eerste paar verse van Handelinge gesien dat die Handelingeboek, n voortsetting van sy eerste boek, die Evangelie van Lukas is en dit is derhalwe logies dat sy inleiding van Handelinge, iets van n herhaling van die slotgedeelte van Lukas sal bevat - daar moet tog immers n brug wees tussen die een boek, na die ander boek en wanneer ons die Evangelies lees, dan wil dit soms voorkom, asof Jesus bykans direk na Sy opstanding, opgevaar het na Sy Vader, maar dit is nie die geval nie - Jesus het nog vir veertig dae op aarde gebly voor Sy hemelvaart (Hand.1:3) - waarom? Daar is n drieledige rede hiervoor en ons het dit reeds in vv.3-5 gekry:

   Fisiese Opstanding: Eerstens was dit nodig dat die dissipels oortuig kon wees van Jesus se fisiese en liggaamlike opstanding. Ten einde die res van die gebeure wat sou volg ná Sy hemelvaart en waarvan daar in Handelinge gerapporteer word, te verstaan en daaraan mee te doen, moes hulle oortuig wees van die feit dat Jesus opgestaan het en lewe. Hoe sou hulle van Jesus se opstanding (soos reeds gesê, n essensiële element van wedergeboorte) - hoe sou hulle daaroor kon getuig as hulle Jesus nie eerstehands fisies en lewend gesien het nie - hulle sou nie kon getuig waaroor hulle bv. in Hand.2:23-24 getuig het nie ~ God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. Na Jesus se opstanding het Hy Homself getoon aan die vrouens naby die graf (Matt.28:9-10); aan Sy dissipels (Luk.24:36-43; Hand.1:3) en aan meer as vyfhonderd ander mense (1 Kor.15:6).

   Opdragte: Tweedens moes Jesus nog n tyd ná Sy opstanding in die midde van Sy dissipels deurbing ten einde bepaalde opdragte aan hulle te gee - so het Hy hulle bv. opdrag gegee om nie uit Jerusalem pad te gee, alvorens hulle nie die gawe van die Vader (die Heilige Gees) ontvang het nie.

   Wanbegrippe: Laastens het Jesus hierdie veertig dae gebruik om bepaalde wanbegrippe onder die dissipels uit te klaar. Hier het dit o.a. gegaan oor die dissipels se koninkryksverwagting (Hand.1:6-8).

5.   DIE HEMELVAART - GOD SE HEERLIKHEID (vv.9-10):
      Kom ons kyk egter na die hemelvaart self en die gebeure rondom Christus se hemelvaart.

      Die hemelvaart moes n onbeskryflike ervaring en gesig gewees het, veral as ons in gedagte hou dat Christus nie in die wolke in opgeneem is, of -verdwyn het nie. Daar staan in v.9 ~ 'n wolk het Hom weggeneem - nie sommer net wolke nie: n wolk. Hierdie woord vir wolk is in die Grieks νεφέλη (nephelē) wat dui op n bepaalde wolk. Ons vind hierdie selfde gedagte, of uitdrukking wanneer daar in Eks.13:21 gepraat word van die wolkkolom ~ Die Here het bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en snags met' n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nag kon trek. Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly. Net so min as wat die vuurkolom nie maar net só n vuur was nie, net so was die wolkkolom ook nie maar net n gewone wolk nie. Net soos wat die wolkkolom (en die vuurkolom) teken en getuie was teenoor die volk van God (en buitestaanders) dat God op n besondere wyse met Sy volk is, net so was hierdie wolk waarin Jesus weggeneem is, n teken van God se heerlikheid en teenwoordigheid - hierdie wolk was eerder n manifestasie van God se Shekinah heerlikheid - n woord wat nie spesifiek in die Bybel voorkom nie, maar n woord wat deur Joodse Rabbis geskep is, om die konsep van God se teenwoordigheid uit te druk en dit beteken letterlik (in Engels), He caused to dwell en daarmee het die Rabbis spesifiek verwys na die wolk- en vuurkolomme.

      Ons sien n pragtige voorbeeld van hierdie teenwoordigheid van God in Eks.33. Nadat God vir Moses gesê het dat die volk n moedswillige volk was (hardnekkig in die OAV en stiff-necked in die meeste Engelse vertalings), rig hy n tent buite die laer op en dan lees ons in vv.7-11a die volgende ~ Moses het 'n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat. Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. Die Here het direk met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. Moses is in die teenwoordigheid van God - God verskyn in al Sy heerlikheid aan Moses en Hy praat met Moses.

      Hierdie wolk waarin Jesus weggeneem is, was waarskynlik dieselfde Shekinah-wolk wat die volk van God van die onbeskryflike teenwoordigheid van God in Eksodus beleef het, maar ook was dit teken van die heerlike en heilige ontmoeting tussen God die Vader en God die Seun, Jesus Christus - wat n gebeurtenis! Wat n oomblik! Wat n getuienis!

      Hierdie onbeskryflike gebeurtenis en oomblik was terselfdertyd n vooruitskouing van die koms van God se Koninkryk, asook die wederkoms van Christus!

      Die Hemelvaart was die laaste en onteenseglike bewys of verklaring, dat Jesus Christus die bose en die sonde oorwin het, maar dit is tersefdertyd ook teken en getuienis van die krag wat binnekort op elke gelowige uitgestort sou word wanneer die Heilige Gees sou kom.

6.   DIE HEMELVAART - BETEKENIS:
      Behalwe dat hierdie gebeurtenis n hemelse gebeurtenis moes wees vir Christus se volgelinge wat daar teenwoordig was, moet daar tog n diepere betekenis vir ons ook in Christus se hemelvaart opgesluit lê - kom ons kyk kortliks daarna:

   Skeiding: In n gekwalifiseerde sin was die hemelvaart n liggaamlike skeiding tussen Christus en sy volgelinge, maar tog is dit belagrik om daarop te let, dat die Bybel nêrens vir ons sê dat Sy volgelinge gehuil het oor die skeiding wat gekom het nie. Waarom sou dit die geval wees? Omdat Christus se vertek n nuwe era binnegelei het waar Sy volgelinge nog meer intieme gemeenskap met Hom kan geniet deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees ~ En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matt.28:20). Dit impliseer ook dat meer gelowiges (regoor die wêreld) nou gelyktydig Sy teenwoordigheid kan beleef.

   Volvoering: Die hemelvaart is tweedens, simbool van die volvoering van Jesus se roeping; van Sy vleeswording; van Sy versoeningswerk aan die kruis ~ Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (Hebr.1:3b). Jesus se aardse roeping is nou afgehandel.

   Verheerliking: Toe Christus terug gekeer het na Sy Vader, het dit gepaard gegaan met grootsheid en heerlikheid, want Hy is direk daarna verheerlik en het Hy, Sy plek aan die regterhand van God die Vader ingeneem ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (Fil.2:9).

   Bevestiging: Die hemelvaart was n bevestiging van Wie Christus was en is. Die hemelvaart was n bevestiging van Sy aanspraak dat Hy van die Vader gekom het, soos deur Johannes in Joh.1:14 weergegee ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid

      Wat meer is, die hemelvaart is ook bevestiging van ons geloof en die sekuriteit wat ons in Christs Jesus het - bevestiging dat Hy ons Voorspraak is ~ Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (Hebr.6:19-20)

   Verbinding: Jesus se hemalvaart dien as n verbinding tussen Christus se verlossingswerk en ons heiligmaking. Dit dien verder as verbinding tussen die Evangelies en die Sendbriewe; tussen wat deur Christus bewerkstellig is en wat Chirstus nog deur die Heilige Gees gaan doen, maar ook tussen dit wat Christus tydens Sy aardse bediening gedoen het en wat Hy nou nog steeds doen as simpatieke Hoë Priester - Hy wat al ons beproewing en veel-veel meer op aarde beleef het. Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebr.4:14-16).

   Verwagting: Die hemelvaart het ook n verwagting tot gevolg in elke gelowige, want ons weet dat Jesus gaan terugkeer, net soos wat Hy opgeneem is in die hemel, trouens dit is deur die twee mans in die witklere (engele) aan die dissipels en alle gelowiges belowe net nadat Jesus deur die wolk weggeneem is.

   Voorbereiding: Die hemelvaart het tot gevolg dat Jesus nou vir ons plek in die hemel voorberei ~ In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie (Joh.14:2).

   Uitstorting: Die uitsorting van die Heilige Gees is n direkte gevolg van die hemelvaart en daarmee saam ook die begin van die Kerk van die Here Jesus Christus ~ Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor (Hand.2:33).

   Roeping: Die hemelvaart van Jesus beklemtoon die feit dat ons as gelowiges n roeping ontvang het - n roeping om Sy Koninkryk op aarde te laat kom; om dissipels van mense regdeur die wêreld te maak ~ Hy het vir hulle gesê: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word (Mark.16:15-16).

   Verheerliking: Laastens is die hemelvaart simbool van Jesus se verheerliking ~ Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is (Fil.2:9).

7.   DIE HEMELVAART - DIE BELOFTE (v.11):
      Ons lees in v.11 dat, terwyl die disipels nog verwonderd gestaar het na die wolk waarin Jesus opgeneem is in die hemel, twee manne in wit klere aan hulle verskyn en vir hulle sê ~ Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het. Die gelowiges ontvang die belofte - n Goddelike belofte - dat Jesus weer gaan terugkeer.

      Hierdie was natuurlik nie nuwe nuus vir die dissipels nie, want Jesus het bv. vir hulle reeds in Matt.24:27 gesê ~ Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig, maar ook wat hierdie feit aan betref het hulle dit in verband gebring met die vestiging van n aardse koninkryk. Nadat die twee engele egter vir die dissipels hierdie versekering gegee het, gepaardgaande met die realiteit van Jesus wat so pas weggevoer is, verstaan hulle meteen wat dit alles beteken, daarom dat die Apostels daarna oor hierdie realiteit kon skryf - soos bv. Petrus in 2 Pet.3:10 ~ Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met' n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

      Is die wederkoms iets om na uit te sien? Ek besef dat n mens boeke kan skryf n.a.v. hierdie vraag, maar ek wil dit net kortliks beantwoord en daarom wil ek vra dat ons na Titus sal blaai - kom ons lees Tit.2:11 ~ Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Hier lees ons van die verskyning van genade en dit verwys natuurlik na die eerste koms van Christus.

      In v.13 lees ons ~ terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Hier lees ons van die verskyning van God se heerlikheid en dit verwys na Christus se tweede koms. Hierdie twee uitdrukkings gaan hand-aan-hand - die een kan nie sonder die ander een nie. Christus se eerste koms het alles te doen met die uitstort van God se genade oor Sy uitverkorenes en Christus se tweede koms het alles te doen met God se heerlikheid wat ons, Sy uitverkorenes deelagtig sal word wanneer ons verheerlik sal word. V.12, wat in-getoebroodjie is tussen vv.11 en 13, bevestig dit ~ terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Is dit nie genoeg rede om na Christus se koms uit te sien nie - om verheerlik te word en God se woorde op daardie heerlike dag te hoor ~ Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer (Matt.25:23).

8.   DIE VERVULLING VAN DIE BELOFTE:
      Wat gaan gebeur op die dag van die vervulling van die belofte van Christus se wederkoms? Hebr.9:27-28 ~ 'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. Uit hierdie vers is n paar dinge baie duidelik:

   Afspraak: Almal van ons het dus n afspraak met die dood - een of ander tyd. Toe Adam en Eva in sonde geval het, het die dood n absolute sekerheid vir elke mens op aarde geword ~ Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom.5:12).

   Eenmalige Sterwe: Almal van ons gaan net eenmaal sterf - die dood is n finaliteit en ons sterf net een maal - dit is finaal. Ons gaan nie weer aan die lewe raak en sodoende weer n kans kry nie - dit is finaal en verby ons sterf net eenkeer (v.27)!

   God se Oordeel: Die derde realiteit wat die Hebreërskrywer hier aanraak, is dat die oordeel (God se oordeel) ná die finale en sekere dood sal plaasvind (v.27). Met hierdie woorde sê die Hebreërskrywer dus aan ons dat daar tog iets na die dood gebeur - ons gaan dus nie dood-dood wees soos n grashalm na die dood nie - ons gaan sterf ja, maar ons lees in Hebr.9:27 ~ n Mens is bestem om net een maal te sterf. Ons moet verstaan dat die een maal sterf, of te wel die onafwendbare sterwe van alle mense, daarop dui dat die mens fisies/vleeslik gaan sterf, maar dan gaan v.27b voort en sê ~ net daarna kom die oordeel. Dit wys daarop dat die mens nié geestelik sterf nie en dat iets bepaalds ná die fisiese dood plaasvind, nl. dat elke mens geoordeel gaan word. Hierdie gebeurtenis (God se oordeel) is beslis die verskriklikste;  die mees angswekkende en beslissendste en finale gebeurtenis in die mensdom se geskiedenis, want op daardie oomblik gaan die mensdom te doen kry met die heilige, toornige (angry) en almagtge God, voor wie elke siel verantwoording sal moet doen oor sy/haar lewe en sonde; oor of hy/sy Hom vertrou het vir lewe en vir dood en Hom aanbid het en Hom nagevolg het, al dan nie.

      Hoor net wat sê Hebr.10:27 ~ Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.

      Let ook net op die woorde in Hebr.10:30 ~ Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: "Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld;" en verder: "Die Here sal oor sy volk oordeel. Hier word verwys na diegene wat voorgehou het dat hulle gelowiges is, maar dit nie régtig was nie.

      Maar wat van diegene wie werklik uitverkorenes van God is - gaan hulle ook geoordeel word? Is daar darem n stukkie goeie nuus te midde van hierdie verskiklike en somber realiteit? O ja, daar is goeie nuus - wonderlike nuus! Om hierdie vraag dus te beantwoord, nl. of gelowiges ook geoordeel gaan word, moet ons terug gaan na Hebr.9:28 ~ So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag. Jesus het eens en vir altyd, vir alle gelowiges se sonde gesterf - vir ál hulle sonde en daar is derhalwe versoeing bewerkstellig tussen ons en die Oordelende God en daarom gaan Jesus, wanneer Hy weer kom, kom om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

      Die vraag of vrae wat jy vandag vir jouself moet afvra, is: Sien jy werklik uit na Jesus se wederkoms? Wat meer is: Is jy gereed vir Jesus se tweede koms? Verwag jy Jesus soos die Hebreërskrywer in v.28 gesê het? Indien dit nie die geval is nie, is dit nog nie te laat om dit reg te stel nie, maar moenie uitstel nie, want 1 Tes.5:2 sê ~ Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag. Moenie uitstel nie - ek pleit by jou t.w.v. die ewigheid, moenie uitstel nie!


      Maranatha - Kom Here Jesus, kom gou!

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 28 Junie Mei 2015