Sunday, November 24, 2013

Die Boodskap van Daniël - 09 (Getroue Daniël)

1.     INLEIDING:
       Sekerlik die wonderlikste etiket wat om enige gelowige se nek gehang kan word, is dié wat om Daniël se nek gehang was en waarvan ons in Dan.6:6 lees ~ Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens. Sal dit nie wonderlik wees as dieselfde etiket ook om elkeen van ons nekke gehang kan word nie! Die probleem is egter dat dit waarskynlik nie altyd van almal van ons gesê sal kan word nie – allermins van my!

       Waarom kon hierdie "etiket" om Daniël se nek gehang word? Daar is sekerlik heelwat redes wat daarvoor aangevoer kan word, maar ten minste drie redes staan vir ons uit:
·           Hy het in ’n vreemde wêreldkultuur geleer hoe om in daardie kultuur te leef, maar nie deel van daardie kultuur te word nie – hy was in daardie kultuur, maar nie van daardie kultuur nie. Paulus sê in Fil.3:20 ~ Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Daniël het nie vasgekyk teen hierdie wêreld nie – teen die Babiloniese Ryk nie – sy oë was gevestig op die hemelse koninkryk vanwaar hy sy Messias verwag het.
·           Hy het alles gedoen asof vir die Here.
·           Hy was ’n man van gebed.

2.     SKRIFLESING:
Daniël 6:1-29 ~ Darius die Mediër het die koningskap oorgeneem toe hy twee en sestig jaar oud was. 2Hy het besluit om honderd en twintig goewerneurs-generaal aan te stel om oor sy hele koninkryk te regeer. 3Oor hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik behartig kon word. 4Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel. 5Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. 6Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.” 7Die ministers en die goewerneurs-generaal storm toe by die koning in en sê vir hom: “Mag die koning baie lank lewe! 8Al u ministers en al die goewerneurs, goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar ’n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word. 9Stel dan nou so ’n dekreet op en vaardig dit skriftelik uit sodat dit nie verander kan word nie; dit moet onherroeplik wees, ’n wet van Mediërs en Perse.” 10Koning Darius het toe so ’n dekreet uitgevaardig. 11Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank. 12Daniël se   vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek. 13Toe gaan hulle na die koning toe en hou die koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos ’n dekreet uitgevaardig dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word.” Die koning het geantwoord: “Ja, en dit staan vas. Dit is ’n onherroeplike wet, ’n wet van Mediërs en Perse.” 14Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.” 15Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het ’n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer. 16Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.” 17Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in ’n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.” 18Daar is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. 19Die koning is na sy paleis toe en het ’n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie. 20Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. 21Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?” 22Toe antwoord Daniël: “Mag die koning baie lank lewe! 23My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.” 24Die koning was baie bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het. 25Op bevel van die koning is die mense wat vir Daniël verkla het, gebring en in die leeukuil gegooi saam met hulle kinders en hulle vrouens. Hulle het nog nie in die leeukuil grond gevat nie of die leeus was op hulle en het hulle verskeur. 26Koning Darius het toe aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld gewoon het, ’n skrywe gerig: “Voorspoed! 27Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word. Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. 28Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde; Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.” 29Dit het goed gegaan met Daniël gedurende die regering van Darius en die regering van Kores die Pers.

3.     VERDERE AGTERGROND:
       Wanneer 'n mens so deur Daniël lees kan jy nie anders as om te wonder wat die sin van Daniël se lewe nou regtig was nie. Op hierdie stadium van sy lewe was hy reeds ongeveer 85 jaar oud; sy volk was steeds in ballingskap in 'n goddelose land; hyself kon waarskynlik nie veel van sy geboorteland onthou nie, want hy is as jong seun weggevoer na Babilon. In sy leeftyd het hy konings sien kom en konings sien gaan en die ergste van alles – al sy insette; profesieë; sy getuienis, ens., het bykans niks gehelp nie, want die konings en die Babiloniese volk was steeds 'n spul goddelose en wreedaardige heidene.

       Dit moes uiters frustrerend en selfs ontmoedigend vir hom gewees het, om te kon ervaar dat hy wat in senior posisies in die regering gedien het en wat waarlik "man van God" was, nie sy volk uit ballingskap kon red nie en nêrens lees ons dat hy iemand "na die Here gelei" het nie – hy was nie 'n Abraham vir sy volk nie en ook nie 'n Moses nie, trouens wat dalk nog die hartseerste van alles was, is dat talle Israeliete – volk van God, so ingesluk was deur die kultuur en goddeloosheid van Babel, dat hulle, toe die volk heelwat later wel toegelaat was deur Kores, om terug te keer na Israel, gekies het om in die land van afgode, in ballingskap te bly!   Bitter min mense het geleer van Daniël en wou leer van Daniël – in mense se oë was hy selfs dalk 'n mislukking en as hy 'n voorganger van 'n gemeente was, sou mense nie twee keer gedink het om na hom te gaan luister nie, trouens hy was verafsku en 'n gehate man in sekere kringe; hy was ook eenkeer ter dood veroordeel, máár – dit het nie vir Daniël om Daniël gegaan nie – dit het vir Daniël oor God gegaan en Daniël was en is tot vandag toe 'n toonbeeld van getrouheid – getrou aan God en nie aan homself nie.

4.     BETROUBAARHEID:
       Daniël het geweet dat sy God 'n getroue God was en dat God ook van hom trou vereis het. Vir hom was die woorde van Deut.32:4 nie net 'n troos nie, maar dit was ook vir hom 'n realiteit en hy het onwrikbaar daaraan geglo – Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar. Let daarop dat Daniël nie hierdie teksvers vir hom geneem het as belofte wat hom vertroos het nie; beloftes waarop hy kon staan en waarhede wat hom kon dra in tye van moeilikheid nie – nee, dit het sy fokus op God gevestig – God is die getroue God; God is die regverdige God; Sý werk is volmaak; Hý is betroubaar en omdat God hierdie getroue en regverdige God is, het hy wat Daniël is, geen ander keuse nie - nee, wíl hy geen ander keuse hê as om getrou te bly aan hierdie wonderlike God nie.

·           Historiese Agtergrond:
       Kom ons keer egter terug na die historiese agtergrond en Daniël se situasie op hierdie stadium van sy lewe.

       Volgens Dan.5:31 was Darius van die Mede, ongeveer 62 jaar oud toe hy Babilon geannekseer het in 539 v.C. Darius was die heerser van die Mediërs en die Perse in die huidige Iran (oos van Babilon), of te wel die land van die Ariërs.
      
       Ons lees egter aan die einde van hoofstuk 5 in v.29 van Kores die Pers wat die regeerder was – hoe moet ons dit verstaan – wie was dan nou eintlik die regeerder – Darius of Kores? Die waarskynlikste verklaring hiervoor is dat die Mede die naam Darius gebruik het, terwyl die Perse dieselfde man, Kores genoem het (amper soos my oudste seun – hier in S.A. is hy Kobus en in Engeland waar hy die afgelope 14 jaar woon is hy James).

       Darius alias Kores het na sy anneksasie van Babilon, 120 goewerneurs- generaal aangestel en drie ministers (v.3) van wie Daniël een van die ministers was. Op hierdie stadium was Daniël ongeveer 85 jaar oud en het hy nog nie aan aftrede gedink nie, trouens hy was só betroubaar en bekwaam dat hy kop en skouers bo die ander twee ministers uitgetroon het, sodat koning Darius hom tweede in bevel van die koninkryk wou stel (v.4).

·           Betroubare Daniël:
       Ons lees in v.5, dat die ander amptenare rede gesoek het om 'n saak te bou teen Daniël sodat die koning hom nie sou bevorder nie. Daniël het egter ook geglo soos Paulus in Fil.3:20 ~ Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag en omdat hy 'n burger van die hemel was, het hy dit wat die Here oor sy pad gebring het om te doen, gedoen en hy het dit gedoen soos wat Paulus later aan die gemeente in Efese geskryf het, hoe hulle hul werk moet doen ~ Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie (Ef.6:6-7). As die werksmag in ons land maar hierdie gesindheid aan die dag kan lê (en dan praat ek nie eens van die regeringslui en staatsamptemare nie), sal ons hierdie land op sy kop draai.

       Ons lees egter in v.4 dat die ander regeerders niks, absoluut niks teen Daniël kon vind om hom in diskrediet by die koning te bring nie – geen luiheid; geen wanadministrasie; geen bedrog; geen omkopery; geen nepotisme; niks nie en daarom moes hulle 'n "Plan B" in aksie stel.

5.     DIE WET VAN MEDE EN PERSE: 
       Die amptenary het besef dat indien Daniël moes kies tussen sy God en die koning van die Perse, die koning van die Perse beslis nie die keuse sou wees nie en daarom moes hulle konflik tussen die wet van God en die wet van die Perse te beweeg bring en dit was hulle "Plan B", want hulle het gedink dat Daniël se sterkste punt, nl. sy godsdiens, sy achilleshiel gaan wees en daarom besluit hulle om 'n voorstel aan die koning te maak ~ Al u ministers (let op hoe lieg hulle – die waarheid was dat slegs twee van die drie ministers so besluit het) en al die goewerneurs, goewerneurs- generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar 'n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word (v.8).

       Koning Darius was gevlei – hy gaan aanbid word! Hy bekragtig onmiddellik die dekreet (v.9). Die arme man se ego was so gestreel, dat hy nie besef het wat hy doen nie – totdat hy besef dat sy getrouste onderdaan en minister, die eerste gaan wees wat in die leeukuil gegooi sal moet word en toe hy die dekreet wou omdraai, herinner sy slu ministers hom daaraan dat ’n wet van Mediërs en Perse, onherroeplik was (v.13).

6.     DANIËL SE REAKSIE:
       Wat was Daniël se reaksie toe hy van hierdie dekreet hoor? Sekerlik het die gedagte van kompromie by hom opgekom, want hy moes Jer.25 en 29 goed geken het en daarin kon hy sien dat die einde van sy en sy volk se ballingskap in sig was – wat sou so ’n bietjie kompromie nou regtig saak gemaak het? Die Here sal Sy jarelange en getroue dienskneg tog sekerlik hierdie een keer oorsien en vergewe en dan kan hy bly lewe om saam met sy volk terug te keer na die land van melk en heuning – wat meer is, hierdie dekreet is slegs vir 30 dae geldig en dis mos nie so lank nie, net so ’n kort rukkie kompromie maak, wat meer is, eintlik was dit nie eers regtig nodig om kompromie te maak nie – hy kon maar steeds net in die geheim voort gaan om te bid – agter toe deure; snags in sy bed – wie sal weet? – dit kan mos nie so erg wees nie, maar nie Daniël nie. Nee, hy bly openlik bid – drie keer per dag en die implikasie van vv.11-12 was dat hy dit openlik gedoen het, want sy vyande moes hom gesien het en daarom storm hulle sy huis binne en sleep hom voor die koning. Daniël skaam hom nie vir sy God nie; hy skaam hom nie vir sy godsdiens en sy oortuigings nie – hy is bereid om die prys te betaal – selfs al is die beëindiging van die ballingskap op hande!

Tog moes Daniël bekommerd gewees het, want toe hy hoor van die bevel, lees ons in v.11, het hy gaan bid – nie net het hy dit gedoen om die goddelose amptenary te wys dat hy nie skrik vir mensgemaakte wette nie, maar ten diepste moes hy tog immers ook bekommerd gewees het en vra hy God om hulp en ons weet dat die gebed van 'n gelowige 'n kragtige uitwerking (het) (Jak.5:16). Daniël het nie hierdie gebed gebid omdat hy gedink het dat hy onbesproke voor God gestaan het nie, want hy het sekerlik die woorde van Dawid geken wat gesê het ~ As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie (Ps.66:18), trouens Daniël bid self later in Dan.9:18 ~ Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. Hy het dus geweet dat hy niks, absoluut niks gehad het om op staat te maak nie, behalwe God se genade en soewereine wil.

       Daniël is ’n enkele man wat op sy eie gestaan het vir die Waarheid en hierdie een man se gehoorsaamheid en lojaliteit, sal ons sien, gaan ’n ongekende impak hê – massas is nie noodwendig nodig om "die aarde te laat bewe nie".

       Daar was egter nog een aspek waaroor Daniël beskik het en dit was geloof. Dit is goed en wel om te bid, maar as jou gebed nie gepaard gaan met geloof nie, dra dit nie veel krag nie. Jesus het nie verniet in Mark.11:22-24 gesê ~ Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê:`Lig jou op en val in die see, 'en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

7.     DANIËL EN GOD SE ENGEL:
       Daniël word egter gearresteer en Darius moet by die wet hou en sy getroue minister moet in die leeukuil gegooi word. Gewapen met geloof; met die Waarheid en gehoorsaamheid, word Daniël in ’n kuil met honger leeus gegooi en om seker te maak dat hy nie ontsnap of hulp van buite kry nie, word die opening met ’n klip en die koning se kenteken op sy ring, verseël. Daniël word aan homself en sy eie lot oorgelaat en tog, net voor hy in die put gegooi word, kom daar ’n vertroostende en selfs bemoedigende woord vanuit ’n totaal onverwagse oord – Darius, waarskynlik onder die indruk van Daniël se getrouheid en geloofsgetuienis sê hy vir Daniël ~ Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red (v.17b).

       Nadat Daniël se lot oënskynlik in die leeukuil verseël is, ervaar die twee menslike hoofkarakters in hierdie drama daardie nag, twee interessante en absoluut uiteenlopende ervarings. Darius kon nie slaap, eet of enige iets doen nie – en Daniël? Daniël se reaksie in v.23 laat dit klink asof hy ’n wonderlike nag se rus agter die blad het en ook geen wonder nie, want die leeus was so mak soos lammetjies, maar nog meer wonderbaarlik, daar was ’n engel in Daniël se teenwoordigheid en dié het die leeus se bekke gesluit gehou – wat ’n ervaring!

       Die koning wat nie kon slaap nie haas hom die volgende oggend na die leeukuil om te sien of Daniël nog lewe! Het jy al so daaroor gedink: Waarom sou hy dit doen? Honger leeus; ’n man word tussen hulle ingegooi; daar is nie uitkom kans nie? Ten diepste moes koning Darius tog besef het dat Daniël se God lewe en dat Hy almagtig is, trouens in v.21 noem hy God, die lewende God – wat ’n getuienis het Daniël nie teenoor hom uitgeleef nie!

       Nadat die koning na Daniël roep, getuig Daniël weer teenoor Darius ~ My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit (v.23). Daniël sê eintlik vir Darius: Dit is die hemelse regbank wat oor my lot besluit het en nie ’n aardse koning nie – die Almagtige God is die Groot Regter en nie ’n aardse koning nie. Hoe ironies ook dat Daniël die koning groet met die woorde ~ Mag die koning baie lank lewe! (v.22), terwyl die heidense Darius sê ~ Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. 28Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde (vv.27-28). Weer soos in die geval van Nebukadneser bring ’n aardse en heidense koning, eer aan God in die hemel (4:37)!

       Vol blydskap en dankbaarheid laat die koning Daniël dadelik vry, maar terselfdertyd laat hy almal wat Daniël verkla het, in die leeukuil gooi en die honger leeus het ’n feesmaal – hul bekke is nie meer gesnoer nie – die engel is weg.

       Met Daniël het dit verder goed gegaan (v.29) en ons is nie seker daarvan nie, maar waarskynlik het Daniël nie lank hierna nie, terug gekeer na sy land van geboorte.

8.     AFSLUITING:
       Wat ’n wonderlike verhaal is hierdie van Daniël en die leeukuil nie! Ons het baie meer Daniëls in hierdie land van ons nodig (en mag ek sê in ons gemeente ook?) – Daniëls wat gewillig is om "hul vensters oop te maak" en openlik eer aan God te bring, sodat die wêreld – ook ons vyande dit kan hoor en sien.

       Dit is ook wel so dat baie gelowiges nie soos Daniël uit die bekke van die leeus gered word nie, want ook ons ervaar beproewing en vervolging. In Hebr.11:33 lees ons van geloofshelde ...deur (wie se) geloof hulle koninkryke verower (het), die reg van God gehandhaaf en verkry (het) wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop (’n waarskynlike verwysing na Daniël), maar net twee verse verder lees ons van gelowiges wat doodgemartel is (v.35); ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap (v.36) en in v.37 lees ons van gelowiges wat met klippe doodgegooi, in stukke gesaag en met die swaard vermoor is. Andere weer wat rondgeswerf het in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel, maar die woorde in v.35b was hul diepste verlange ~ ...hulle wou die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig word – sommige gelowiges word dus deur God geroep om te getuig en te wen deur te leef, ander weer om te wen deur te sterf, maar aan die einde van die dag wen ons almal ~ As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Rom.14:8).

       Ons moet nie moedeloos word as ons getuienis oënskynlik nie suksesvol is nie – ons moet gehoorsaam en getrou wees en soos Daniël ons geloof ten alle tye uitleef, want al kom net een persoon deur ons lewe tot bekering, was dit die moeite werd. Daniël (en moenie sy vriende vergeet nie) was sy lewe lank sy lewe lank ’n geloofsreus in Babilon, maar nêrens lees ons van massa bekerings; van ’n herlewing in Babilon nie – nie eens onder sy eie mense nie – net twee mense wat ons van weet, het n.a.v. Daniël se betrokkenheid, die lewende God geprys en erken as Here – Nebukadneser en Darius.

       Daar is egter ’n paar lesse wat ons uit hierdie verhaal van Daniël kan neem en ek noem ’n paar:
·           Die mens se mag is beperk en word gegee en weggeneem deur God.
·           Die belangrikheid en krag van gebed word vir ons pragtig in vandag se Skrifgedeelte beklemtoon.
·           Of ons beskerm word of nie, ons het ’n ewigheid waarna ons kan uitsien en waarheen ons met vertroue op pad is.
·           Dikwels word ons deur beproewing juis bemoedig en versterk in ons geloof – kan julle dink hoe moes Daniël op die spreekwoordelike wolke geloop het na sy nag se ervaring met ’n engel van God en rustige en vreedsame leeus? As God Daniël uit ’n brandende oond en nou weer uit ’n leeukuil kon red, hoeveel te meer kan en sal Hy ons nie uit ons "brande oonde en leeukuile" red wanneer ons Hom daarom vra nie?
·           Hierdie verhaal van Daniël is vir ons ’n voorafskaduwing van iets veel-veel groter – van Een wat ook valslik beskuldig was, maar anders as Daniël, het geen engel Sy moordenaars gestop nie en het Hy die hoogste prys betaal – vir ons! Net soos Daniël hoef ons geen aardse regter te vrees nie, want God is ons Regter en deur Jesus se soendood is ons reeds vrygespreek.

       Wanneer ons, ons vertroue plaas in Jesus Christus vind iets merkwaardigs plaas. Dieselfde krag wat Daniël gered het – dieselfde krag wat Christus uit die dood opgewek het, word ons ook deelagtig ~ ...en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het... (Ef.1:19-20). Hierdie selfde krag het ons reeds uit ’n geestesdood opgewek, maar sal ons ook opwek uit die fisiese dood wat op ons almal wag, waarna ’n ewige saligheid op ons wag!





[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 24 November 2013

Sunday, November 17, 2013

Die Boodskap van Daniël - 08 (Die Skrif is teen die Muur)

1.     SKRIFLESING:
       Daniël 5:1-30 ~ Koning Belsasar het ’n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. 2Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. 3Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. 4Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. 5Meteens verskyn daar toe ’n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. 6Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik. 7Hy het hard geroep dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders ingebring moes word en hy sê toe vir hulle, sy raadgewers: “Enigiemand wat kan lees wat hier geskrywe is en dit vir my kan uitlê, sal ’n koninklike kleed aangetrek word en ’n goue halsketting omgehang word, en hy sal as derde in rang regeer.” 8Al die koninklike raadgewers het ingekom, maar hulle was nie in staat om wat geskryf is, te lees en dit vir die koning uit te lê nie. 9Toe het koning Belsasar nog banger en bleker geword. Ook sy hoofamptenare het verslae gestaan. 10Onderwyl die koning en sy hoofamptenare aan die praat was, het die koningin die eetsaal binnegekom. “Mag die koning baie lank lewe!” het sy gesê. “U moenie so bang en bleek wees nie. 11Daar is ’n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is. In die dae van u voorganger is daar gevind dat hy skranderheid, insig en wysheid het soos dié van die gode. U voorganger, koning Nebukadnesar self, het hom aangestel as hoof van die towenaars, die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders. 12Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee.” 13Daniël is toe na die koning toe gebring, en die koning het vir hom gevra: “Is jy die Daniël uit die Judese ballinge wat deur my voorganger die koning hierheen gebring is uit Juda? 14Ek het gehoor dat die gees van die gode in jou is en dat jy oor skranderheid, insig en buitengewone wysheid beskik. 15Die raadgewers, die voorspellers, is na my toe gebring sodat hulle kan lees wat geskryf is, en dit vir my kan uitlê, maar hulle is nie in staat om ’n uitleg te gee nie. 16“Ek het gehoor jy kan dinge uitlê en probleme ontrafel. As jy dan nou vir my kan lees wat geskryf is, en dit kan uitlê, sal daar vir jou ’n koninklike kleed aangetrek word en ’n goue halsketting omgehang word, en sal jy as derde in rang regeer.” 17Toe het Daniël die koning geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke en gee u beloning maar aan iemand anders. Ek sal in elk geval vir u lees wat geskryf is en dit vir u uitlê. 18“Die allerhoogste God het aan u voorganger Nebukadnesar koningskap en mag, roem en eer gegee. 19Vanweë hierdie mag wat God hom gegee het, het al die volke, nasies en taalgroepe vir hom gesidder en gebeef. Hy het doodgemaak wie hy wou en hy het laat lewe wie hy wou; hy het verhoog wie hy wou en hy het verneder wie hy wou. 20Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor. 21Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak. Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil. 22Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. 23U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. 24Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe. 25“Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ’n einde daaraan gemaak. 27‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. 28‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.” 29Daniël is toe op bevel van Belsasar ’n koninklike kleed aangetrek en ’n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk. 30Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor..

2.     INLEIDING:
       Belsasar verskyn hier in hoofstuk 5 sonder enige aankondiging, of enige agtergrond en die rede hiervoor is omdat die boek Daniël nie bloot net 'n verslag van geskiedkundige gebeurtenisse rondom God se volk is nie, trouens wanneer 'n mens na Daniël kyk en dit vergelyk met geskiedskrywes, besef 'n mens dat Daniël nie veel aandag skenk aan historiese chronologie nie, daarvoor sal 'n mens na ander geskrifte moet gaan kyk.
       Die profeet Daniël is egter meer geïnteresseerd in die geestelike konflik wat onderliggend is aan die geskiedkundige gebeurtenisse in die wêreld en wat op dramatiese wyse na vore kom in bepaalde gebeurtenisse soos weergegee in die boodskap van Daniël. In kort gaan dit dus oor die konflik wat daar heers tussen die koninkryk van hierdie wêreld en die koninkryk van God.
       Hierdie onaangekondigde verskyning van Belsasar laat 'n mens egter met 'n vraag, nl.: Wie is hierdie man, want nêrens in die geskiedskrywes verskyn die naam Belsasar in die lys van konings van Babilon nie.
       In v.2 word na Belsasar verwys as die opvolger van Nebukadneser. Hierdie is egter nie die korrekte vertaling nie en is die OAV en die meeste Engelse vertalings nader aan die waarheid, wanneer dit hierdie verwysing vertaal met dat Nebukadneser die vader van Belsasar was – en tog is dit ook nie heeltemal korrek nie, want Belsasar was die seun van Nabonidus, die laaste koning van Babilonië. Twee verdere vrae ontstaan dan: Indien Nabonidus die laaste koning was, hoe kan daar van Belsasar as koning gepraat word? Tweedens, indien Nebukadneser nie die vader van Belsasar was nie, waarom verwys die Bybel dan op hierdie wyse na Belsasar?
       Sonder om in detail hieroor te verval, net die volgende – en hieroor bestaan daar ook nie heeltemal klarigheid nie:
·           Belsasar was waarskynlik tydelik in bevel van die koninkryk geplaas terwyl sy pa Nabonidus besig was met 'n veldslag gedurende sy 7de tot 11de regeringsjaar.
·           Ons moet egter ook verstaan dat die uitdrukking "vader van..." vele betekenisse kan hê – o.a. verwys dit nie noodwendig na die biologiese Pa van 'n bepaalde persoon nie, maar eerder op 'n verskeidenheid van verhoudinge waarin die twee persone tot mekaar kan staan. So kon die uitdrukking "Pa van...." verwys na iemand se grootvader iewers terug in sy voorgeslag. 'n Voorbeeld hiervan is Abraham, wat die vader van die Jode is. Ons sien bv. in Joh.8:39 dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes vir Jesus gesê het ~ Ons vader is Abraham.
       Net 'n laaste opmerking en dit is dat Nabonidus nie in die Bybel vermeld word nie en kry mens die indruk in Daniël, dat Nebukadneser die heel laaste koning was, maar volgens geskiedskrywes en opgrawings, was Nebukadneser se opvolger, Nabonidus die laaste koning – onthou Daniël is nie 'n geskiednisboek nie.

3.     DIE BANKET (vv.1-4):
       In vv.1-4 sien ons dan dat Belsasar 'n banket of partytjie vir 'n duisend van sy hoofamptenare, vrouens en byvrouens gehou het en hierdie partytjie het gepaard gegaan met 'n wyndrinkery en soos gewoonlik, is daar te veel gedrink en het menige van die partytjiegangers beskonke geraak. Ander voorbeelde van sulke partytjie is bv. dié waarvan 'n mens in Ester lees, waartydens Ahasveros sy vrou Vasti verwerp het en uiteindelik met Ester getrou het. Nog ’n voorbeeld is die bekende fees van Herodes in Mark.6, waartydens die onthoofding van Johannes die Doper geëis is.
       Ons lees in v.3 van ...die goue en die silwerbekers wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem en dit is dieselfde ...voorwerpe van die huis van God, (wat deur Jojakim) na die land Sínear gebring (en) in die huis van sy god (geplaas is). Die feit dat hier in hoofstuk 5 weer verwys word na hierdie voorwerpe, vestig weer vir ons die aandag op die stryd tussen lig en duisternis, want hierdie voorwerpe was van silwer en goud en was gebruik in die Tabernakel in opdrag van God (Eks.30:1-10) en was dus heilige voorwerpe omdat dit gewy was aan God, trouens dit was so heilig dat dit met draaghoute gedra moes word.
      Belsasar kom nou tydens hierdie fees en hy onteer hierdie heilige voorwerpe en laster derhalwe direk teen God, deur wyn uit hierdie voorwerpe te drink en in die proses hierdie heilige voorwerpe te misbruik om eer aan sy afgode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip te bring (v.4). Hoe ernstig het God die verkeerde hantering van Sy heilige voorwerpe beskou? 2 Sam.6:6-7 ~ En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel. Daarop het die toorn van die Here teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het. Baie mense vind dit moeilik om te verstaan waarom God so ingrypend optree teen die wangebruik van Sy heilige voorwerpe, trouens selfs Dawid het dit nie verstaan nie – v.8 ~ Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het. Wat ons moet verstaan, is dat God heilig is en ons vol sonde is – as God vir Ussa, wat maar net wou help, so gestraf het, hoeveel te meer nie vir Belsasar nie!
            Nie alleen het Belsasar God se heilige voorwerpe onteer nie, maar hy het hom ook openlik geskaar by die afgode en daarom teen God, deur wyn te drink ter ere van sy afgode. In Ps.46:11 sê God ~ Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. In Ps.96:4-5 lees ons die volgende ~ Die Here is groot, al die lof kom Hom toe, ontsagwekkend is Hy bo alle gode. 5Al die gode van die volke is niks: dit is die Here wat die hemele gemaak het. Belsasar het God nie erken nie en hy het nie lof aan God gebring deur sy misbruik van die heilige tempelvoorwerpe nie. God deel nie Sy eer met iets of iemand anders nie en daarom tree Hy op teen enige iemand wat nie eer aan Hom en Hom alleen bring nie.

4.     DIE TEKEN (vv.5-9):
       Soos baie kere is God baie geduldig met sondaars (dink maar net aan onsself), maar met Belsasar se gefuif en laster het God geen geduld gehad nie en Hy tree onmiddellik op – 'n geheimsinnige vinger skryf teen die muur in die banketsaal (NAV = hand; אֶצְבַּע [ʾetsbaʿ /ets·bah/] = vinger – OAV e.a. – korrek = vinger). Hierdie vinger, is dieselfde vinger waarvan die Farao se towenaars in Eks.8:19 gesê het ~ Dit is die vinger van God. Die vinger van God skryf verdoemende woorde op die muur in Belsasar se banketsaal.
       Toe Belsasar die woorde sien het hy doodsbleek geword; sy knieë het gebewe en sy heupe het "losgeraak", wat daarop dui dat hy waarskynlik neergeslaan het op die grond.
            In hierdie vreesbevange toestand roep hy na sy waarsêers en voorspellers, maar nie een van hulle kon hierdie woorde wat teen die muur geskryf gestaan het, verklaar nie en Belsasar het nog bleker geword. Die feit dat niemand hierdie oënskynlik eenvoudige boodskap kon verklaar nie, herinner 'n mens aan die woorde 1 Kor.1:18-19 ~ Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” Hierdie is natuurlik 'n aanhaling uit Jes.29:14 ~ Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen met hierdie volk: die een ongehoorde ding na die ander, sodat die wysheid van sy wyse manne sal verdwyn, die verstand van sy verstandige mense tot niet sal gaan.     

5.     DIE PROFEET GENADER (vv.10-16):
       'n Vrou kom die vreesbevange Belsasar te hulp. Hierdie vrou word in die teks genoem as Belsasar se vrou – die koningin. Daar is baie Bybelverklaarders wat reken dat dit eerder Belsasar se moeder was, want Belsasar se vrouens was reeds in die saal (v.2) en slegs die koningin (die vrou van Nabonidus) sou die reg hê om onaangekondig by die banketsaal in te loop – dit is egter nie belangrik om regtig te weet wie dit nou werklik was nie, wat saak maak, is dat 'n vrou die oplossing tot 'n verklaring aanbied, wanneer se in v.11a sê ~ Daar is ’n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is en dan gaan sy in v.12 voort en sê ~ Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir
 Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee, waarop Daniël dadelik na Belsasar geneem is.
       In vv.13-16 het Belsasar allerlei vleitaal gebruik en ook 'n wonderlike belofte aan Daniël gemaak dat indien hy die skrif teen die muur kan verklaar, hy hom derde in beval van die koninkryk sou maak.

6.     DIE PROFEET SE VEROORDELING (vv.17-24):
       Nadat Daniël geduldig gewag het vir Belsasar om klaar te praat, laat blyk hy duidelik dat hy nie beïndruk is met Belsasar se mooi praatjies en beloftes nie en begin hy in vv.17-24 vir Belsasar so bietjie agtergrond gee oor sy voorvader (Nebukadneser) en wat alles met hom gebeur het en hoe God hom gestroop het van sý arrogansie.
       Hy sê ook vir Belsasar dat dit tragies is dat hy nie uit Nebukadneser se situasie geleer en homself voor God verootmoedig het nie en omdat hy dit nie gedoen het nie, het God se geduld met hom opgeraak. Paulus skryf in Rom.2:4-5 ~ God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? 5Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek. Presies dit wat Paulus hier sê, was Belsasar se voorland – God het reeds Sy regverdige oordeel oor Belsasar uitgespreek deurdat Hy dit teen die muur met Sy vinger geskryf het en nou gee Daniël vir die koning die uitleg van dit wat geskryf is.

7.     DIE UITLEG (vv.25-28):
       ...Getel, getel, geweeg en verdeel  26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ’n einde daaraan gemaak (v.25-26), of anders gestel: God het jou jare getel en jou regeringstyd is verstreke; jy is geweeg en te lig bevind en jou koninkryk gaan verdeel word en aan die Mede en Perse gegee word.

8.     DIE GEVOLGE (vv.29-31):
       Na hierdie uitleg reageer Belsasar op ’n eienaardige wyse – al het Daniël die koning se aanbod tot bevordering, ens. (v.16) van die hand gewys, hou Belsasar tog by sy belofte en bevorder hy Daniël (v.29), maar ’n mens kry amper die indruk dat hy dit doen om net vir oulaas dalk Daniël en Daniël se God se guns te wen, maar alles is puur verniet, want in v.30 lees ons ~ Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor en daarmee saam het die eens magtige Babiloniese Ryk verdwyn. Belsasar het op die hardste moontlike manier geleer dat God alleen die Almagtige is; dat Hy soewerein is en dat Hy en Hy alleen regeer.

9.     AFSLUITING EN TOEPASSING:
       Wanneer ons na v.22 kyk, sien ons dat Belsasar se sonde ’n keuse was wat hy uitgeoefen het ~ Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. Die voorbeeld van wat van hom verwag was, het nie ver in die verlede gelê nie, maar hy het gekies om te sondig; hy het gekies om in duisternis te leef. Paulus noem hierdie keuse in Rom.8:7, ...vyandskap teen God. Johannes weer, noem dit in 1 Joh.3:4 ~ wetteloosheid (OAV). In Joh.3:19 sê Jesus ~ ...en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. In Joh.5:40 sê Hy ~ Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.

       Daar is ’n paar belangrike lesse te leer uit hierdie verhaal van Belsasar:
·           Sonde is nie passief nie en het altyd gevolge – die een sonde lei tot ’n volgende, of wanneer jy sondig, raak daardie sonde baie maklik ’n gewoonte. Nebukadneser het gesondig deur homself te vereer en daarvoor het God hom ’n tyd lank gestraf met o.a. kranksinnigheid – Eks.20:5 ~ Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Belsasar het nog verder gegaan – hy het God belaster en daarvoor is hy gedood.
       Hierdie is die patroon wat sonde volg – dink aan Jona, sy aanvanklike ongehoorsaamheid het tot uiteindelike rampspoed gelei en so is daar nog vele ander voorbeelde in die Woord
       Paulus som hierdie agteruitgang van sonde in die mens se lewe baie mooi op in Rom.1:21-28 (ek som op) ~ ...omdat, al weet hulle van God, (maar) hulle Hom nie as God eer en dank nie... (v.21); ...gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid... (v.24); ...gee God hulle oor aan skandelike drifte... (v.26); ... (en) brand (hulle) van begeerte... (v.27); ...en omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is. (v.28). Die een sonde lei tot ’n ander en dit raak net erger en erger.
       Met hierdie feit in gedagte moet ons baie versigtig wees hoe ons omgaan met sonde en baie seker maak dat ons nie sonde in ons harte vertroetel nie – voor ons, ons oë uitvee, neem dit hand oor hand toe.
       Ons het ook geen verskoning as ons hierdie dinge weet, maar volhard steeds in ons sonde nie – dit is waarom Daniël vir Belsasar gesê het ~ Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet (v.22).
·           Sonde stel ons bloot aan gevaar. Rom.6:23a sê ~ Want die loon van die sonde is die dood. Belsasar se sonde het hom al nader aan hierdie realiteit gebring, want toe sy sonde die toppunt bereik het, het hy letterlik ’n paar uur later gesterf (v.30). Ons weet dat ’n permissiewe lewe baie dikwels lei tot bv. HIV Vigs en uiteindelike die dood, ens. Ons moet dus versigtig wees om nie onverskillig om te gaan met sonde nie.
·           God is nie onbetrokke en passief nie. Net soos wat sonde nie passief is nie, is God ook nie passief en onbetrokke by die mens se sonde nie. Belsasar se sonde en God se vinger teen die muur het letterlik die boodskap vir Belsasar uitgespel, nl.: die skrif is aan die muur vir jou Belsasar.
       Daar is baie kere dat dit vir ons voorkom asof God glad nie sonde raaksien en/of daarop reageer nie, maar ons moet nie dink dat God nie daardeur geraak word nie, of dat Hy dit vir altyd sal ignoreer nie. John MacArthur het nou onlangs tydens die "Strange Fire- konferensie" gesê, dat dit verstommend is dat God nie die misleiers en meelopers in die ekstreem Charismatiese groepe, oombliklik van die aarde af wegvee nie, maar toe antwoord hy homself deur te sê dat hy aan die anderkant oortuig is daarvan dat God geduldig wag, omdat daar nog mense in hierdie groepe is wat tot bekering gaan kom – dat daar nog uitverkorenes is wat verlos gaan word vanuit daardie groepe en dit is waarom God oënskynlik niks aan daardie sonde doen nie – dit is waarom Hy geduldig is met hul sonde en wat die ander betref wat nie tot bekering gaan kom nie – God se wraak word net meer en meer opgepot teen hulle.
       Ons moet egter ook onthou dat ons primêre roeping as gelowiges is om God in en deur ons lewe te verheerlik en sonde verhoed ons om dit te doen, omdat sonde in ons lewe tot God se oneer strek. Bykomend hierby is natuurlik ook die feit dat ons sonde die Heilige Gees bedroef en dit verbreed net die kloof wat deur sonde veroorsaak word.
       Nebukadneser en Belsasar is nie die enigste twee kontrasterende Bybelfigure nie – dink maar net aan die kontras tussen Kain en Abel – Kain wat God gehaat het en Abel wat God liefgehad het. Dink aan Jakob en Esau – die een word begenadig en gered; die ander verlore. Daar was Dawid en Saul; die elf dissipels en Judas en dan in ons verhaal Nebukadneser en Belsasar.
       Wat is dit wat die verskil tussen twee kontrasterende figure veroorsaak? Wat bepaal dat die twee nie dieselfde is nie? Hoe verklaar ons die geheimenis van iemand wat uitverkies is en gered word en ’n ander wat verwerp word; wie nie uitverkies is nie en derhalwe verdoem word?
       As ons so deur die Woord van God lees, dan kan ons
nie anders as om te besef dat God kies wie Hy wil en verwerp wie Hy wil nie. Die wie God se guns geniet kan Hom maar net dank vir genade onverdiend ontvang!   
       Babilon het twee trotse konings gehad – die een was verneder en God het aan hom ’n berouvolle hart geskenk en sodoende is sy lewe en sy koninkryk vir ’n tyd lank gespaar. Die ander was verneder voor sy vrouens en hoofamptenare, maar hy het homself nie bekeer nie en hy het die hoogste prys daarvoor betaal – Matt.16:26a ~ Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor...? Daarteenoor, as Jesus Christus jou Verlosser en Saligmaker is, mag jy dalk alles in hierdie lewe verloor, maar jy sál die ewige lewe as wins verkry.





[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 17 November 2013

Sunday, November 10, 2013

Openbaring Ontsluit – 52 (Satan Gebind - 03)

1.     INLEIDING:
       Ons het reeds aangetoon dat ons nou midde in die "millennium" leef; die millennium wat rondom 70 n.C. begin het en eers afgesluit sal word wanneer die laaste uitverkorene tot redding kom. Regdeur hierdie tydperk sal Satan gebind wees; ingeperk en beperk wees t.o.v. sy optrede soos voor die koms van Christus, toe hy die nasies van die aarde mislei het. Daar kom egter ’n tyd dat hy vir ’n kort tydjie vrygelaat sal word (20:3), maar sy finale nederlaag sal kort daarna volg.   

2.    SKRIFLESING:
       Openb.20:7-15 ~ Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. 8Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. 9Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. 10Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. 11Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. 12Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

3.     SATAN WORD OORWIN:
       Ons sien hier in v.7 dat die satan na die millennium weer vrygelaat sal word en dit vind plaas aan die einde van die era van die kerk en wanneer dit gebeur, sal hy weer gesag ontvang om die nasies te mislei. Ons weet egter dat hierdie loslating van die satan en sy misleiding nie ’n effek op die gelowiges sal hê nie, want almal wat God geroep het om kinders van Hom te wees, sal gered word. Die satan sal spesifiek "Gog en Magog" mislei. "Gog en Magog" is verteenwoordigende uitdrukkings of name in die Ou Testament, van wat téén God was (Eseg.38-39). Ons sien dus hier dat Satan vir oulaas diegene wie hy mislei het, byeen maak en oorlog voer teen die "geliefde stad" (Jerusalem).

       In Openbaring word daar telkens van die "geliefde stad" gepraat, of te wel van Jerusalem en elke keer verwys dit na die Kerk van die Here Jesus. Wat dus hier geskryf staan, is dat die satan op een of ander wyse diegene wie hy verlei het, bymekaar bring om teen die Kerk oorlog te voer. Hier word dus van ’n geestelike oorlog gepraat, eerder as ’n fisiese oorlog. Weereens moet ons onthou dat dit nie ’n oorlog is wat lank gaan duur nie. Daar gaan dus heel aan die einde van die menslike geskiedenis ’n geweldige opstand vir ’n tydjie teen die Kerk van Christus kom.

       Wanneer Satan egter dink dat hy die oorwinning gaan behaal oor die Kerk, volg sy vernietiging en word hy finaal oorwin ~ Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer (v.9b). Is hierdie ’n letterlike vuur? Hierdie is waarskynlik ’n verwysing na Paulus se lering oor die Tweede Koms van Christus ~ God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo (2Tes.1:6-10).

       Daar is mense wat hierdie gedeelte sal interpreteer met die val van Jerusalem in gedagte en dit kan waarskynlik ’n geldige interpretasie wees, maar ek dink as ’n mens na die hele gedeelte, asook die res van Openb.20 kyk, sou hierdie gedeelte beter inpas by ’n verklaring wat handel oor Jesus se wederkoms aan die einde van die menslike geskiedenis. Let op dat ...wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn.Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie (2Tes.1:7b, 8), bevestig tog hierdie interpretasie, nie waar nie? Christus gaan dus met vuur vanuit die hemel terug keer na die aarde ten einde wraak te neem op Gog en Magog – hulle wie deur die satan mislei is en ingespan is teen die kerk.

       Dit is o.a. hier waar ons teologiese paaie met dié van die Pre-Millennialiste skei. Volgens die Pre-Millennialiste vind die wederkoms van Christus in Openb.19:11-21 plaas en dit word dan gevolg deur ’n "1000-jarige vrederyk", soos beskryf (volgens hulle) in Openb.20. Die Skrif toon egter ondubbelsinnig aan dat Christus se wederkoms eers aan die einde van die millennium sal plaasvind, want dan eers gaan die satan in die poel van vuur gewerp word.

       Die millennium (of te wel "die era van die kerk") waarin ons onsself nou bevind, is ’n tyd van wonderlike Evangelie-seën regoor die wêreld (Openb.20:1-6) en eers aan die einde van hierdie tydperk (ons weet nie hoe lank hierdie millennium gaan duur nie), sal Jesus liggaamlik en sigbaar terugkeer na die aarde (20:7-10) en sal Satan finaal geoordeel word.

4.    GOG EN MAGOG:
       Kom ons keer egter terug na vv.7-10 en ons sien dat die millennium beëindig word en daar word ook melding gemaak word van Gog en Magog – nou wie is Gog en Magog en wat doen hulle of gaan hulle doen?

       Net t.w.v. agtergond: Daar word dikwels in die Nuwe Testament en uiteraard ook in Openbaring na Ou Testamentiese teksverse; gebeurtenisse; of mense verwys ten einde iets te illustreer wat reeds gebeur het, of nog gaan gebeur, maar dit is nie noodwendig 'n profetiese woord wat vanuit die Ou Testament, vooruit wys na gebeurtenisse in die Nuwe Testament, of selfs nog verder nie – dit dien dus net as voorbeeld. So kan ons bv. kyk na Isebel waarvan Openb.2:20 praat. Ons kry met haar te doen in o.a. 1 Konings en sien ons dat sy die bose vrou van koning Agab was.  Wanneer ons in Openbaring 2 van haar lees, wil Johannes nie vir sy lesers laat verstaan dat sy steeds leef nie, maar bloot net dat daar 'n individu in die gemeente van Tiatira was, wat net so boos soos Isebel is.

       Op dieselfde wyse is die verwysing na Egipte, Sodom en Babilon bv., 'n sinspeling op Israel van Openbaring se boosheid – Israel is m.a.w. nie nou skielik Egipte nie, maar wanneer dit kom by boosheid, is Jerusalem nét soos Egipte. Wanneer ons in Openbaring lees van Gog en Magog, moet ons hierdie selfde beginsel in gedagte hou en kyk of dit nie dalk ook net 'n vergelyking is nie.

       In Eseg.38-39 word daar ook melding gemaak van Gog en Magog, maar ook hier is dit nie noodwendig 'n direkte profesie t.o.v. die toekoms, of die einde van tye nie. Wat Johannes hier sê deur die gebruik van hierdie vergelyking, is dat die gebeure aan die einde van die tye, baie sal ooreenstem met die gebeurtenisse waaroor Esegiël geprofeteer het en as ons hierdie gedeelte in Openb.20 wil verstaan, moet ons iets van Eseg.38-39  verstaan en het dit niks te doen met Rusland ('n dekade of wat terug was dit die "Rooi Gevaar"), of deesdae met Irak, ens. nie. Net om aan te toon hoe ver sommige mense gaan en hoe onverantwoordelik hulle omgaan met die Woord, kan ek net die volgende vinnig noem, hoe van diesulkes by Rusland uitkom wanneer hulle praat oor o.a. Openb.20 se Gog en Magog en die "Slag van Armageddon", ens.  

       Esgiël se profesie t.o.v. Gog en Magog begin in Eseg.38:1-2 ~ Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, draai jou gesig na Magog se land toe, na Gog toe, die hoofregeerder van Mesek en Tubal, tree op as profeet teen hom. Drie woorde wat hier van belang is, is "hoofregeerder"; "Mesek" en "Tubal". Die NAV gebruik die woord "hoofregeerder" i.p.v. "die vors van Ros" (OAV). "Ros" is egter nader aan die oorspronklike Hebreeus - רֹאשׁ, רֹאשׁ [roʾsh /roshe/] (sien ook die ASV en meeste ander goeie Engelse vertalings). En natuurlik is "Mesek" in die OAV "Meseg" (מֶשֶׁךְ [Meshek /meh·shek/]).

       Mense wat Rusland en allerlei ander bloeddorstige beelde in hierdie gedeelte inlees, grond hul verklarings bloot net op die fonetiek, i.p.v. behoorlike eksegese, ens. en wanneer hulle na die fonetiek luister, klink die woord "Ros" vir hulle soos "Rusland" en die woord "Meseg", soos Moskou en die woord "Tubal" klink soos Tobolsk, 'n stad in die suid-weste van Rusland, vanwaar aanvalle geloods kan word op Israel!

       Behalwe dat 'n mens nié so met die Woord kan omgaan nie, kan hierdie name onmoontlik in Esegiël ingelees word, want die name "Rusland" (terugspoorbaar slegs tot 1538 n.C.); "Moskou" (1147) en Tobolsk (1586), het nog nie eens in Esegiël se tyd bestaan nie en daarom sou die skrywer nie eens hierdie name gebruik het nie.

       Nog iets opvallend is dat die wapens wat in hierdie stryd gebruik was, van hout gemaak was en sommige "dIspensasie-teoloë" beweer dat hierdie ook dui op Rusland, omdat Rusland skynbaar op 'n stadium beweer het dat hulle houtgewere met hout koeëls ontwerp het – hoe belaglik om dan te sê dat Rusland in hierdie slag, met houtgewere gaan veg en dit in 'n moderne era van kernwapens en projektiele!

       Net nog een laaste opmerking: Dit is verstommend om te sien hoe dat Israel ook deur baie in Openabring 20 ingelees word en dan spesifiek in vv.8-9 en tog wanneer ons bloot net hierdie verse lees, is daar hoegenaamd geen sprake van Israel, of 'n verwysing of skimp in die rigting van Israel nie – dit gaan hier oor God se kinders (v.9 – konteks!) en die wêreld – hier is dus geen (soos in die res van Openbaring) enige verwysing na Israel nie – trouens, Rom.10:12 sê uitdruklik dat daar geen verskil tussen Jood en heidin is nie ~ “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik...

       Hoe dit ookal sy – Ons sien in hierdie verse in Esegiël, dat Esegiël profeteer oor 'n persoon of mag met die naam van Magog, afkomstig van die land Gog. Hierdie Gog was 'n prins van 'n land noord van Israel. In Eseg.38:5 sien ons dat Magog 'n geweldige groot en sterk multinasionale mag (Eseg.38:15; 39:11-12) byeen gebring het om Israel aan te val – 'n verswakte Israel wat pas uit ballingskap uit terug gekeer het. Die uiteinde was – en nie baie lank na die profesie nie - dat God hierdie magtige vyand verwoes het.

       Johannes se profesie in v.8 verwys dus bloot net na 'n gebeurtenis soortgelyk aan dié in Esegiël se tyd wat aan die einde van die millennium gaan plaasvind, nl. dat die vyande van God en wel o.l.v. die satan wat op daardie stadium vir 'n kort tydjie vrygelaat gaan word, 'n aanslag op gelowiges sal maak, maar net soos in die geval van die verswakte Israel in Esegiël se tyd – en kan ek byvoeg die handjievol gelowiges in 70 n.C. in Jerusalem (weggelei na Pela), sal die oorweldigende massas niks teen God se kinders kan uitrig nie. Hierdie  – in plaas dus van die allerverskriklkste "wins-genererende-fiksie boeke" van bloed en perdehoewe en moord en doodslag, is hierdie boodskap 'n bemoedigende boodskap van beskerming en oorwinning vir al gelowiges in daardie kort tydjie wat die satan losgelaat sal word aan die einde van die millennium!

5.     DIE LAASTE OORDEEL:
       In vv.11-15 van ons Skriflesing, vind ons die finale "geskiedenis-beëindigende" oordeel, uitgebeeld en dit vind plaas nadat alle dooies deur die eeue heen, opgestaan het. Soos ons binnekort sal sien, fokus hierdie spesifieke gedeelte oor die oordeel wat oor die ongelowiges gevel gaan word – die fokus van die gelowiges se oordeel was Golgota!

·           Wie is die Regter? Dit is duidelik uit ons verse onder bespreking, dat Jesus Christus self die Regter is. Ons het alreeds die Seun van die Mens op ’n "wit wolk" gesien (14:14); die Woord van God op ’n "wit perd" (19:11); nou sien ons Hom op die "groot wit troon". Dit pas dan ook pragtig in by die Bybelse prentjie wat vir ons in Joh.5:22-29 geskilder word ~ Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. 23Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. 24“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. 26Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. 27Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. 28Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.” V.22 toon dus baie duidelik vir ons aan dat Jesus Christus die Regter gaan wees.

·           Wie is die Veroordeeldes? In v.12 (van Openb.20) sien ons dat die veroordeeldes, al die dooies (groot en klein) is. Waar kom hulle oral vandaan? V.13 ~ Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was. Alle dooies van alle plekke af, sal opgewek word aan die einde van tye, ten einde geoordeel te word.

·           Die Oordeel: Daar gaan twee boeke direk na die opstanding geopen word – vers12 ~ ... en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Daar is dus eerstens, ’n "boek van werke" (vv.12-13). Diegene wat aan die hand van hierdie boek veroordeel gaan word, word op grond van hul eie werke veroordeel. Wat is die uiteinde van hierdie oordeel? Vers 15 ~ As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi. Diegene wie se name opgeteken is in die "boek van werke", word op grond van hul werke geoordeel – dit impliseer dus ook dat al hul sonde in hierdie boek opgeteken is en dat hulle dus ook in die lig van hulle sonde geoordeel gaan word.

       Die "boek van werke" is egter nie die enigste een wat geopen gaan word nie – daar is ook die "boek van die lewe" (v.12). Wat is hierdie boek? Dit is ’n lys met al die name van diegene wat vergewe is en vir wie geregtigheid deur die kosbare bloed van Jesus bewerkstellig is – en hulle name was alreeds voor die grondlegging van die aarde in die "boek van die lewe" geskryf. Diegene wie deur Christus se kruisdood met God versoen is, se name is nêrens te vinde in die "boek van werke" nie. Hierdie optrede van God is regverdig, want die verloregaandes het, op grond van God se uitverkiesinde wil, gekies om God die rug te keer, of hoogstens om Hom deur werke te probeer beïndruk, wat ons natuurlik weet, nie goed genoeg is nie. Diegene wie geregverdig is, ontvang God se seën, omdat Christus alles gedoen het wat nodig was om God tevrede te stel.

       Wat ’n wonderlike wete – as jou naam in die "boek van die lewe" is, is dit nié in die "boek van werke" nie, want Jesus Christus se geregtigheid; Sy offer wat Hy aan die kruis gebring het; Sy Kruisdood; het jou en my oortredings uit die "boek van werke" gevee en terselfdertyd ons name in die "boek van die lewe" geskryf, want Christus het die Wet namens ons, volkome vervul. As dit nie goeie nuus is nie, weet ek nie wat is goeie nuus nie!

       Diegene wie se name egter nie in die "boek van die lewe" geskryf is nie, sal gevonnis word ~ Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi (vv.14-15) – ewige skeiding van God en ewige foltering – dit is die vonnis wat voltrek word op almal wie nie deur Christus se bloed gereinig is nie. Volgens Mark.9:42-50 sal die vuurpoel ’n plek wees waar ...die wurm nie dood(gaan) nie en word die vuur nie geblus nie.”

       Wat word dan regtig vir ons hier in Openb.20 geleer? Tussen Christus se kruisiging en die verwoesting van Jerusalem, is die satan gebind vir ’n lang tydperk ("millennium") en gedurende hierdie tydperk sal die kerk van die Here Jesus Christus uitbrei en sal die Evangelie oral oor die wêreld heen verkondig word – op hierdie wyse regeer die kerk (die gelowiges) saam met Christus. Aan die einde van die millennium (soos ons reeds gesien het), sal die satan vir ’n kort tydjie losgelaat word, maar na hierdie kort tydjie, sal Christus fisies terugkeer na die wêreld. Satan sal in die poel van vuur gewerp word. Die algemene opstanding sa plaasvind en Christus se finale oordeel sal daarop volg. Nadat die oordeel afgehandel is, sal Christus die Koninkryk aan Sy Vader oorhandig (1Kor.15:24-28). Dit sal die einde van die mens se geskiedenis op aarde wees.

6.     AFSLUITING:
       Openb.20 handel dan gedeeltelik oor die millennium, maar dit is veel, veel meer as net dit! Dit toon ook aan ons dat die satan tans gebind is en dat Christus se Koninkryk stadig maar seker vooruit beur hier op aarde en dat die Evangelie na al die uithoeke van die aarde uitgedra word en dat gelowiges selfs tydens die kort tydperk aan die einde van die millennium, wanneer die satan vrygelaat sal word, nie hoef te vrees nie en dat Christus dan uiteindelik na daardie kort tydperk sal terugkom en diegene wie se name in die "boek van die lewe" geskrywe staan, sal ’n ewigheid saam met die Vader in die hemel deurbring – Dit is voorwaar goeie nuus!



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 10 November 2013