1. INLEIDING:
Vir baie jare het ek persoonlik gewonder oor Kersfees – moet en/of mag gelowiges dit vier of nie. Ek het in die Gereformeerde kerk groot geword en ek was altyd as kind verward oor hierdie saak. Ons as familie het elke Kersfees by my oupa-hulle op Middelburg Kaap byeen gekom en dit was altyd ’n heerlike tyd van saam kuier en veral saam eet. Die etenstafel het Kersmiddag en-aand gekruin onder die kos en ek kan veral die koue, gerookte ham en koue pienk en groen sagopoedings met die handevol okkerneute daarin onthou – maar, Kersoggend is die hele familie eers na die plaaslike Gereformeerde gemeente toe – ons het almal in Joubertstraat af gestap, met ouma Kitty soos altyd, kiertsregop en met ’n spoed, aan die voorpunt. In die kerk het sy voor geloop en by die heel voorste bank gaan staan en ons het een na die ander ingeskuif – die voorste ry of drie in die kerk was oom Niklaas Stahl (my oupa se bynaam) en tannie Kitty se familie se rye – al 30 tot 36 van ons (my pa-hulle was 4 seuns en 4 dogters en almal was nie altyd daar nie)!
Na die diens is ons huis toe vir die
feesmaal, maar van geskenke en ek praat nie eens van ’n kersboom nie, was daar geen
teken in die van der Walt familie se huis nie, want die Gereformeerde kerk het
geleer dat dit verkeerd was. Die uitdeel van geskenke het egter gewoonlik op
Oukersaand plaasgevind, máár by die huis van een van my aangetroude ooms, wat lidmaat
van die N.G. Kerk was en wie se dorpshuis net om die draai van my oupa-hulle se
huis was. Solank hierdie gebeurtenis net nie in die huis van ’n Gereformeerde
ouderling was nie. Ek kan ook onthou hoe ek as klein seuntjie my verkyk het aan
die reuse denneboom in my oom se agtertuin met sy dosyne gekleurde gloeilampe.
By die een huis: Geen Kersboom. By die volgende huis: ’n Kersboom. Ek was ’n
verwarde seuntjie en dit was vir baie jare die geval – tot ek getroud is met ’n
lidmaat uit die N.G. Kerk en wat groot geword het met ’n Kersboom en die
uitdeel van geskenke en sy het my stadig maar seker "ingebreek" en
het ons ook ’n Kersboom in die huis begin kry en geskenkies uitgedeel op
Oukersaand (waarom op Oukersaand sal ek ook nie weet
nie).
Intussen het my en my gesin se paaie
gekruis met die Amerikaanse kultuur, toe ons middelste seun (Tommie)
in die huwelik getree het
met ’n Amerikaanse meisie (Allison – haar pa is ’n Gereformeerde
Baptistepredikant nes ek) en
ons het ook verskeie ander Amerikaanse
vriende en kennisse. Met ons kennismaking met die Amerikaanse kultuur, het ons agter
gekom dat Kersfees, ’n nóg groter saak vir die Amerikaners is en dan spesifiek
ook vir die Amerikaanse gelowiges.
Ons hoor egter steeds talle stemme wat gedurig
opgaan oor die viering van Kersfees en alles wat daarmee gepaardgaan – veral
deesdae vanuit charismatiese kringe hoor ’n mens dit baie en word verskeie
praktyke ongeverifieer toegeskryf aan die songod, Konstantyn en allerlei ander onbybelse
praktyke en tradisies.
Die vraag is dus: Om Kersfees te vier of nie?
Is dit verkeerd, of mag ons maar? Weet ons wat die geboortedatum van Jesus is?
Wat van geskenkies en ’n kersboom? Wat is reg en wat is verkeerd as dit kom by
ons? Wat moet ons standpunt wees?
Die Kersverhaal het mense deur die eeue
heen so aangegryp, dat daar allerlei onbybelse verhale en gebruike ontstaan het
en hoor ons liedjies in hierdie tyd in winkelsentra soos bv. "Little
Drummer Boy" wat absoluut niks met die geboorte van Jesus te doen het nie.
Ons sien oral ’n Kersvader met ’n lang wit baard en ’n bababedjie in ’n stal
wat bykans toegesneeu is. Kerskaartjies is die eerste keer in 1846 gebruik en
die sakewêreld het Kersfees uitgebuit vir ekonomiese doeleindes. Bitter min van
hierdie dinge wat ons vandag in die wêreld sien t.o.v. Kersfees, het enige iets
te doen met die Bybelse verhaal van Jesus se geboorte en het Kersfees werklik
’n mengelmoes van Bybelse waarhede, heidense idees, volksmitologie, en
ekonomiese voordeel vir handelaars en vervaardigers geword. Kom ons kyk egter
wat sê die Woord hieroor, want dit moet tog ons enigste vertrekpunt wees.