Tuesday, November 13, 2012

MANS & VROUENS – EENDERS EN TOG VERSKILLEND –04 (Die Vrou en die Bediening van die Woord)



1.    INLEIDING:
 
Daar bestaan uiteenlopende menings as dit kom by die vrou en die bediening van die Woord – ook die afgelope tyd in ons gemeente – ja, ons (as gemeente) is eenstemmig as dit kom by die vrou en ouderlingskap en daarom ook die vrou as herder en leraar van ’n gemeente, nl. dat dit op grond van o.a. 1Tim.2:11-15; 1Kor. 11:2-16 en 1Kor. 14:34-36, nie toelaatbaar is nie.  Ook het ons die afgelope paar weke gesien, dat die verhouding tussen man en vrou, een van leierskap (die man) en onderwerping (die vrou) moet wees. 

Dit is voorts nodig dat ons saam na die Woord sal gaan kyk om te sien wat ons gemeente se standpunt behoort te wees en waaraan ons, onsself moet onderwerp.

2.    SKRIFLESING:
1Tim.2:1-20 ~ Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2 vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3 So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6 wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. 7 Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie. 8 Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met ’n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis. 9 Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, 10 maar goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. 11 ’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. 12 Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. 13 Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. 14 Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. 15 Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ’n heilige lewe, en daarby beskeie bly. 

3.     VROUE MOET STIL WEES IN DIE EREDIENS:
Wanneer  ons hierdie gedeelte uit Timoteus se brief lees, is daar heelwat dinge wat van belang is, maar t.w.v. ons bespreking t.o.v. die vrou en die bediening van die Woord, gaan ons nie na alles kyk nie (stof vir latere ondersoek en prediking!).  Wat vir ons hier van belang is, is veral verse 11-15 en dan spesifiek vers 11, nl. ~ ’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. Wat beteken hierdie vers?  Ons stem saam dat dit beslis beteken dat ’n vrou nie in die gemeente lering mag gee nie, maar mag sy buite die gemeente lering gee?  En indien nie, wat van al die sendelinge en wat van vroue soos Miriam (Eks.15:20), Debora (Rigters 4:4; 5:7), Gulda (2Kon.22:14-20) en Anna die profetes (Luk.2:36-37), of vrouens soos Febe (Rom.16:1-16), of Priscilla (Hand.18:26), of Maria (Rom.16:6)?  En so is daar nog talle ander. 

Mag vrouens onder geen omstandighede mans leer nie?

Kom ons kyk eerstens na wat dit beteken as daar gesê word, dat vroue stil moet wees in die erediens. 

Ons weet dat die Woord vol daarvan is, dat vrouens, net soos mans, geestelike gawes ontvang ~  Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal... (1Kor.12:7-11).  Vroue moet ook hierdie gawes aanwend tot opbou van die liggaam van Jesus Christus ~ Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God (1Pet.4:10).  Wanneer hierdie gawes egter in die gemeente aangewend word, moet dit altyd in ooreenstemming met 1Kor.11:5-11 geskied ~ Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ’n vrou wie se hare afgeskeer is. 6 As ’n vrou nie iets op haar kop wil sit nie, kan sy ewe goed haar hare laat afsny. Maar aangesien dit ’n skande is vir ’n vrou om haar hare te laat afsny of afskeer, moet sy iets op haar kop sit. 7 ’n Man behoort nie iets op sy kop te sit nie. Hy is die beeld en sieraad van God, maar die vrou is die sieraad van die man. 8 Die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man. 9 Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. 10 Daarom behoort die vrou ’n teken van die man se gesag oor haar op haar kop te hê ter wille van die engele. 11 Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie.

In kort beteken dit (nié dat vroue nou hoede moet begin dra in hierdie gemeente nie), dat wanneer vrouens (ook ongetroudes) in die gemeente bv. bid, dit te alle tye in onderwerping en eerbied aan die mans en die leierskap in die gemeente sal geskied (ook hierop kan ons baie sê - stof vir latere ondersoek en prediking!).  Hierdie beginsel kan en moet terug gevoer word na die skeppingsordinansies in Gen.1-2, waaroor ons reeds gepraat het.  Hierdie gedeelte uit 1Kor.11 wat ons pas gelees het, is dan ook ’n “kommentaar” wat Paulus oor Gen.1-2 geskryf het. 

Hierdie “iets” wat elke vrou dus op haar kop moet sit, dui op ’n simboliese onderwerping aan die man.  Dit dui egter nié daarop dat vrouens minderwaardig is nie, want beide is na die beeld van God geskape – onthou dit gaan nie oor posisie nie, maar oor rolle.

4.     DIE VROU EN DIE BEDIENING VAN DIE WOORD:
Ons sien dus dat die vrou wel haar gawes in die gemeente kan en moet toepas, maar dat dit in onderwerping aan die man moet geskied.

Hier ontstaan egter nou ’n vraag, nl.:  Impliseer hierdie voorwaarde van “onderwerping” dat daar beperkings op ’n vrou se bediening geplaas word?  As ons na ons Skriflesing uit 1Timoteus kyk en dan spesifiek vers 12, dan blyk dit duidelik dat dit wel die geval is ~ Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees.  In kort kom dit daarop neer, dat vrouens nie aan mans lering mag gee nie en ook nie gesag oor mans mag uitoefen nie.  Die rede hiervoor spruit uit die Skeppingsordinansie, waar die man voor die vrou geskape is en hoe die man en vrou in sonde geval het – iets waarna ons reeds van tevore gekyk het.

Wat beteken die woord “lering” hier?  Hierdie woord “is saamgestel uit twee Griekse selfstandige naamwoorde, nl. “leer” (didaskalia) en leraar (“didaskalos”) en dit word gedoen aan die hand van 1Tim.4:11 ~ Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer en dan ook 2Tim.2:2 ~ Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer (sien ook 2Tim.4:2; Hand.2:24 en Rom.12:7). 

Wie mag hierdie dinge “leer”?  Manne wat die gawe ontvang het, om te leer.  Paulus verbied vroue dus om vir mans te preek, maar hulle mag wel lering gee aan vrouens en kinders. 

Wat moet “geleer” word?   Die gesagvolle wil van God soos geopenbaar in die Woord van God. 

In die lig van Titus 2:3-4, mag vrouens, ander vrouens leer ~ Net so moet jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag moet dié wees van mense wat ’n heilige lewe lei. Hulle moenie kwaadpraat of aan drank verslaaf wees nie. Hulle moet goeie raad kan gee, 4 sodat hulle die jonger vrouens kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees.  En in die lig van 2Tim.1:5 en 3:14-15a kan vrouens, kinders leer ~ Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is......Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was 15 en jy ken van kleins af die heilige Skrif.

In John Piper en Wayne Grudem se boek, “Recovering  Biblical Manhood and Womanhood”, Douglas Moo die volgende oor hierdie saak:  In light of these considerations, we argue that the teaching prohibited to women here includes what we would call preaching and the teaching of bible and doctrine in the church, in colleges, and seminars.  Other activities – leading Bible studies, for instance – may be included, depending on how they are done.  Still others – evangelistic witnessing, counseling, teaching subjects other than Bible or doctrine – are not, in our opinion, teaching in the sense Paul intends here. 

Wat ons as leierskap egter hierby wil voeg, is dat daar selfs ook wat hierdie lys van toelaatbare terreine betref, “gevaargebiede” bestaan en waar ons, saam met talle ander leiers van gemeentes en ander gesaghebbendes, voel dat dit onvanpas en/of gevaarlik vir vrouens is om te bedien, omdat nie een van ons verhewe is bo misleiding en verleiding nie en daarom voel ons dat dit bv. onvanpas en/of gevaarlik kan wees vir ’n vrou, om in, bv. ’n beradingsituasie te wees waar sy ’n man alleen bedien en net so ook vir ’n man om ’n vrou bv. alleen te “beraad” of te bedien.  En daarom is dit na ons mening, die ouderlinge se verantwoordelikheid om susters van ons gemeente te beskerm teen blootgestelde situasies bv. by Groenpunt Maksimum Gevangenis, maar nie nét daar nie.  Hierdie waarskuwing geld ook aan persone (mans en vrouens) wat persone van die teenoorgestelde geslag bedien in ’n bepaalde beroepsituasie – wys wakker  en versigtig, want jy moet besef dat jy blootgestel is en die vyand is ’n dief , ’n rower en ’n mense moordenaar!

Iemand het twee weke gelede gevra of hierdie optrede van die leierskap, “teologies of romanties” van aardgemotiveerd is – ons antwoord daarop is dat beslis teologies van aard is en dat dit baie maklik ook romanties kan raak en daarom moet die ouderlinge as herders, hul kudde op hierdie terrein beskerm.

5.    WAT VAN PRISCILLA EN ANDERE?:
Kom ons kyk net baie kortliks na enkele van die voorbeelde van vroue wat oënskynlik geleer het in die Woord.

In Rom.16:3 verwys Paulus na Priscilla as ’n medewerker.  Beteken dit dat sy ook geleer en gepreek het?  Nee, sy word “medewerker” genoem, soos talle ander mans en vrouens (bv.: Euodia en Sintige in Fil.4:2)  wie Paulus geken het en wie saam met hom gewerk het om die evangelieboodskap te versprei.

Verantwoordelike eksegese moet rondom elkeen van hierdie gevalle en andere ook gedoen word en wanneer ons die korrekte eksegetiese metodes toepas op Priscilla bv., moet ons eerstens vra:  Verbied Paulus, vrouens om enigsins deel te hê aan die bediening van die Evangelie?  En die antwoord is onomwonde, nee.   Daar is honderde bedieningsgeleenthede vir vrouens, maar ons kan nie uit Rom.16:3 aflei dat Priscilla, net omdat sy ’n medewerker genoem word, noodwendig lering aan mans gegee het nie.  Dieselfde geld vir Euodia en Sintige en ook met hulle is daar geen bewyse dat hulle gepreek het nie.  Net so kan ons dieselfde sê van bv. Febe.  Sy was ’n besondere vrou en het ’n baie belangrike rol  in die bediening gespeel.  Maar om enige iets anders uit hierdie feit af te lei, wat strydig is met 1Tim.2:12, is nie net foutief nie, maar berus ook op ernstige, ongegronde en foutiewe eksegese en ’n afleiding. 

Wat het hierdie vrouens en andere dan gedoen om as medewerkers bestempel te word?  Ons weet nie, want die Woord gee nie vir ons duidelike leiding hieroor nie, maar hulle kon net so wel saam met Paulus (of ander apostels) beweeg het en vrouens in gemeentes bedien het, waar Paulus gepreek het.  Of hulle kon op die apostel se tog, kos gemaak en bedien het, wanneer hulle nie in gemeentes was nie.  Ons weet egter nie en daarom kan ons nie ’n teologie bou rondom sulke aannames nie.   

6.  BUITE-KERKLIKE/PARA-KERKLIKE ORGANI-SASIES:
’n Laaste vraag waaraan ons aandag moet skenk, is of vrouens dan buite die gemeente, mans mag leer (onder die vaandel van bv. ’n parakerklike organisasie soos SIM of Operasie Mobilisasie, of Geopende Deure ens., of as u dan wil, onder die vaandel van ons gemeente by Groenpunt Maksimum Gevangenis vir mans)?

’n Argument wat dikwels geopper word is, dat die kerk nie betrokke is by die wêreld daarbuite nie en dan nog verder, dat daar nie mans beskikbaar is om die werk te doen nie en daarom word parakerklike organisasies en/of vrouens in hierdie bedieninge geregverdig.  Verder argumenteer diesulkes, dat so ’n organisasie, of so ’n bediening nie ’n kerk is nie en/of so ’n vrou, nie ín die gemeente bedien nie en daarom word so ’n bediening toegelaat en geld Nuwe Testamentiese opdragte aan die kerk nié in sulke situasies nie.

So ’n redenasie is niks anders as ’n liberale neiging wat die gesag van die Woord afwater en selfs ondermyn.

Ons kan redeneer dat ’n parakerklike organisasie of ’n vrou dan (kom ons verwys hierna slegs na parakerklike organisasie – P.K.O. en dan sluit dit ’n individuele vrou in), nie alles hoef te doen wat die Nuwe Testament van kerke vereis nie (bv. om nuwe gelowiges te doop, of om die Nagmaal op gereelde basis te bedien), máár wanneer ’n P.K.O. die dinge doen wat ’n kerk doen, dan geld al die Nuwe Testamentiese opdragte in daardie geval soos vir ’n kerk. 

Ons het verwys na die Nagmaal – kom ons kyk daarna as verdere voorbeeld:  Indien ’n gelowige bv. in ’n Bank werk en daar is vier ander gelowiges wat saam met hom daar werk, word daar nie van hulle verwag om die Nagmaal te gedenk nie, maar die oomblik as hulle sou besluit om dit gedurende een van hulle middagete pouses te doen, geld
die Bybelse “reëls” t.o.v. die viering van die Nagmaal nét so tydens daardie geleentheid, as wat dit van toepassing is in die gemeente.

Ons moet onthou, dat daar net een kerk is, en dit is die wêreldwye liggaam van Christus en alle P.K.O.’s is deel daarvan.  Hulle is soms net nie deel van ’n bepaalde plaaslike uitdrukking van die kerk van die Here Jesus Christus nie.  Die meeste P.K.O.’s onderwerp hulle aan die Woord en onderhou baie opdragte vanuit die Woord – ook sommige wat van toepassing is op gemeentes (bv.: die toepassing van Matt.18:15-17 op lede wat sondig), maar hulle kan nie sê dat 1 Korintiërs net aan ’n gemeente geskryf is en omdat hulle nie ’n kerk is nie, is dit nie op hulle van toepassing nie.

Dit is tog ’n belaglike redenasie, want sou dit waar wees, moet hulle al die Sendbriewe verwerp en sê dit is nie op hulle van toepassing nie, omdat al die Sendbriewe, óf uitsluitlik aan gemeentes, óf aan spesifieke individue geskryf is.  Om dus te sê dat hulle nie kerk is nie, of dat hulle, buite die gemeente optree, is nie ’n argument nie en word so ’n redenasie aangevoer om hulle eie bedieninge (wat in baie gevalle, té na aan hulle gekom het, of belangriker vir hulle geword het as die waarheid van die Woord) te regverdig. 

Ons en P.K.O.’s moet dus te alle tye en oral, ál die opdragte van die Woord gehoorsaam, wanneer (in die konteks van dit waaroor ons praat) ons die werk van die kerk doen en nié selektief wees nie.

Wayne Grudem sê:  Teaching the Bible to a mixed group of both men and women in a college or seminary classroom (en ek voeg by Groenpunt- of Leeuwhof Gevangenis) is sufficiently similar to teaching the Bible to men and women in a local church setting, and thus the same restrictions apply.  Another reason is that teaching Bible (l.w. hy sê nie preek, of evangeliseer nie – hy sê “teaching Bible”) in a college or seminar carries a responsibilty that is very similar to the Bible teaching role of elders in the New Testament, or even to the role of a mature, senior elder training younger elders.

Die opdragte in die Nuwe Testament sê nié, dat gelowiges hierdie opdragte slegs in ’n gemeentelike opset
moet uitleef nie, maar oral. 

6.     TEN SLOTTE:
Dit is dus baie duidelik dat geen vrou, lering van watter aard ook al, aan mans mag gee nie en sál dit dus ook nie in ons gemeente gebeur nie – ook nie buite die gemeente nie – bv. by Groenpunt- of Leeuwhof Gevangenis nie – selfs ook nie as daar geen man beskikbaar is om dit te doen nie – dan sal ons liewer glad nie betrokke wees by ’n bediening daar nie en ons as leierskap sál en hét ook nie enige vrou vanuit die gemeente tydelike toestemming verleen om voort te gaan met ’n bediening daar of op enige ander plek, as daar nie ’n man beskikbaar is om dit te doen nie.

*John Piper en Wayne Grudem se volledige en uitstekende 566 bladsye boek, “Recovering  Biblical Manhood and Womanhood” kan gratis en redelik vinnig van Piper se Webtuiste afgelaai word:


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op  20 April 2008

Monday, November 5, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 15 ("God se belofte kan vertrou word")


Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    SKRIFLESING:
            Hebr.6:13-20 ~ Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met ’n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met ’n eed by Homself bevestig 14en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou ’n baie groot nageslag gee.” 15En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is. 16Mense lê ’n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van ’n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. 17En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. 18Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. 19Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. 20Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

2.    INLEIDING:
       Die Hebreërskrywer het die voorafgaande paragraaf waarna ons die vorige keer gekyk het, afgesluit met ’n vurige wens dat sy lesers end-uit dieselfde ywer in hul geestelike- of geloofpad, aan die dag sal lê, as wat hulle gehad het toe hulle tot geloof in Jesus Christus gekom het – dat hulle met ywer in heiligmaking sal bly groei totdat die dinge waarop hulle, hul hoop gevestig het en wat aan hulle belowe is, in vervulling gekom het.

       Wat was hierdie hoop wat hulle gehad het? Waarna het hulle gestreef? Wat was hierdie belofte? Wat wou die Hebreërskrywer hê, moes hul dryfveer in die lewe wees, wat dan terselfdertyd tot gevolg sou hê dat hulle sou groei in heiligmaking? Ons as gelowiges kyk vooruit met ’n vaste hoop om eendag in die volmaakte en ewige teenwoordigheid van Christus Jesus te wees en om ook die volmaakte vreugde en heerlikheid van die ewige lewe te ervaar – dít is ons hoop en dít is die belofte wat God aan ons in en deur Jesus Christus gegee het – Jesus Christus is dus ons hoop, soos wat Paulus dan ook in 1 Tim.1:1 sê.

       Die Hebreërskrywer kom nou in ons gelese gedeelte en hy verduidelik en motiveer waarom hierdie belofte, m.a.w. God se belofte van redding, in vervulling sal kom vir elke individuele gelowige en hy gebruik twee voorbeelde om dit te verduidelik en te motiveer – eerstens gebruik hy ’n voorbeeld vanuit die Woord van God en dan spesifiek vanuit die Ou Testament, nl. God se belofte aan Abraham en tweedens gebruik hy ’n voorbeeld vanuit die alledaagse lewe, waar hy God se belofte van redding vergelyk met dié van ’n skip wat ’n hawe binnevaar.