Wednesday, February 27, 2013

Oscar, geweld teen vrouens en kinders, vrou in die amp, en laaste maar nie die minste nie, die Calvinistiese geloof

Hierdie is geneem uit die Blog van Pro Regno ( http://proregno.com/2013/02/27/oscar-geweld-teen-vrouens-en-kinders-vrou-in-die-amp-en-laaste-maar-nie-die-minste-nie-die-calvinistiese-geloof/ ):
Ek lees die volgende boodskap op die gksaforum:
"Die burgerregte-organisasie AfriForum oorweeg dit om die Gelykheidshof te nader met ʼn klag van diskriminasie teen die minister van vroue, kinders en gestremdes, Lulu Xingwana,  nadat sy gister op ʼn Australiese nuusprogram gesê het dat jong Afrikaners en hul Calvinistiese geloof blameer moet word vir geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika. Xingwana het haar uitspraak gister op die Australiese nuuskanaal ABC News gemaak: “Young Afrikaner men are brought up in the Calvinist religion believing that they own a woman, they own a child, they own everything and therefor they can take that life because they own it….”
Sien die volledige onderhoud hier: Pistorius case highlights South Africa's gun violence
Voor ek my spesifieke bydrae tot hierdie onderwerp maak, net 'n vinnige paar opmerkings:
1. Me. Lulu behoort aan 'n party wat die humanistiese godsdiens aanhang, wat leer "mothers own a baby, they own a child, they own everything and therefore they can take that life because they own it" via 'abortion-murder' natuurlik.  Nou hoekom is een 'n misdaad  en boos (moord en verkragting gevalle), maar nie die ander een nie (aborsie) ?  Albei is natuurlik boos en verkeerd.
2. Die ware calvinistiese geloof leer dat alles behoort aan God (Ps.24:1), nie aan enige mens nie, ook nie die humanistiese verlossingsstaat (die ANC) nie, en daarom moet almal en alles volgens sy goeie wet en Woord ingerig word, in liefde en waarheid. Daarom moet liefde en geregtigheid volgens die Woord geskied tussen mense onderling, ongeag hul geslag (man en vrou) of ouderdom (ouers en kinders).
3. Deur die wettige owerhede wat God daar stel (Rom.13), mag 'n lewe geneem word na 'n billike regverdige verhoor.  Die individu mag nie die reg in eie hande neem nie, behalwe in gevalle van nood en selfverdediging.

Sunday, February 24, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 19 ("Die Aardse- en die Hemelse Tabernakels")


 

1.    INLEIDING:
       Ons het tot nou o.a. gesien dat die skrywer van die Hebreërbrief, eers vir ons die Ou Verbond beskryf en daarna die Nuwe Verbond – die Nuwe Verbond wat Jesus Christus tot stand gebring het en dan het ons ook gesien dat Christus, die Middelaar van ’n beter Verbond geword het en dat Hy vir ons ’n Hoë Priester is wat voortdurend vir ons by die Vader intree.

       In vandag se hoofstuk, kyk die apostel na die Tabernakel waarbinne die priesters van die Ou Verbond gewerk het. Die probleem met die Tabernakel (en die latere Tempel) is dat dit steeds geen direkte toegang vir die gelowige tot God gebied het nie. Jesus Christus het hierdie ontoeganklikheid vir die gelowige egter permanent verander – Hy het die Hoë Priester van ’n beter Tabernakel geword.

       Die Apostel benader hierdie feit op ’n baie interessante, dog verstaanbare wyse, deur eers in die eerste 6 verse, na sewe voorwerpe te verwys wat in die Tabernakel aangetref was en wat aantoon dat die Ou Verbond en Tabernakeldiens, nie toegang vir gelowiges tot God gebied het nie. Vanaf vers 11 begin die apostel dan om die toeganklikheid van die gelowige in die Ou Verbond, te kontrasteer met dít wat Christus gedoen het en waar Hy nou as Hoë Priester op tree. Hy sluit dan af met die feit dat ons wat in die tydvak van die Nuwe Verbond leef, direkte toegang tot God het.

Sunday, February 17, 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 04 ("Jona word weer Geroep")


 

1.    INLEIDING:
       Aan die einde van Jona 2 het ons gelees dat die Here die vis opdrag gegee het om Jona op die vasteland uit te spoeg. Jona kry inderdaad ’n tweede kans en hy kan ’n nuwe begin maak en ’n mens kan maar net wonder wat hy van hierdie geleentheid gaan maak en wat op daardie oomblik deur sy gemoed gemaal het, toe hy uiteindelik weer op die strand gestaan het.

        Ons het gesien dat hy weggehardloop het van God se aangesig en dat God nie Jona se ongehoorsaamheid en naïwiteit om te dink dat hy van ’n alomteenwoordige God kan weghardloop, geduld het nie en daarom keer God hom voor deur ’n storm oor die boot te laat losbreek waarop hy was. Jona kon dalk gedink het dat hy so misluk het dat God hom nie eers waardig genoeg ag om hom Sy kind te noem nie en daarom dat hy eintlik maar weer moet wegkruip en net boedel oorgee, of hy kon dalk gedink het, dat God hom ’n tweede kans gegee het en dat Hy steeds ’n doel met hom het – dat daar steeds ’n toekoms en hoop is vir hom wat Jona is? Wat ons wel sal sien, is dat Jona steeds in die nabye toekoms, nood gaan hê aan die Evangelie.

Sunday, February 10, 2013

Jona het nood aan die Evangelie - 03 ("God is nie klaar met Jona nie")


 

1.    INLEIDING:
       Kom ons vat net gou weer saam: Die Here stuur Jona na die heidense stad Nineve (in Assirië) om hulle aan te spreek oor hul sonde. Jona sien nie kans daarvoor om die Evangelie vir die heidene te neem nie en hy klim op ’n skip om sodoende weg te vlug van God se aangesig. God los Jona egter nie uit nie en stuur ’n storm wat die skip tref waarop Jona is. Skielik bevind Jona hom in ’n Evangelistiese situasie – Jona betaal die prys ten einde die matrose te red en die heidense matrose kom te bekering en bring offerandes aan God. Ons het gesien dat hierdie offerandes o.a. ’n uitdrukking daarvan was dat hierdie nuwe bekeerlinge hulle lewe wy aan die God van die hemel en aarde en daarom ook die see. Ons het ook gesien dat die Here Jona help om van homself verlos te raak.

Sunday, February 3, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 18 ("Die Middelaar van ’n Beter Verbond")


   

1.    SKRIFLESING:
       Hebr.8:1-13 ~ Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het ’n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel. 2Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur ’n mens nie. 3Elke hoëpriester word aangestel om gawes en offers te bring; daarom moet ook hierdie Een iets hê om te offer. 4As Hy nog op aarde was, sou Hy nie eens priester kon wees nie, omdat volgens die wet daar reeds priesters is wat die gawes offer. 5Hulle bedien egter slegs ’n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom. Toe Moses die Goddelike opdrag gekry het om die verbondstent op te rig, het God gesê: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek jou op die berg gewys het.” 6Maar nou het Jesus ’n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ’n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is. 7As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou ’n tweede nie nodig gewees het nie. 8Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê: “Kyk, daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 9Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het nie my verbond gehou nie, en Ek het hulle verwerp, sê die Here. 10Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. 11Dan hoef niemand meer sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal, klein en groot, sal My ken. 12Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” 13Deur van ’n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn.

2.    INLEIDING:
       Dít wat die Hebreërskrywer tot nou geskryf het, vind ons pragtig saamgevat in hierdie hoofstuk wat ons so pas gelees het. M.a.w. hy sê vir ons dat Jesus Christus die enigste ware Hoë Priester is.

       Hoofstuk 8 fokus verder op die nuwe verbond. Voor die skrywer egter hierop uitbrei, noem hy nog twee dinge t.o.v. Christus se Hoë Priesterskap:
·           Sy posisie as Hoë Priester (v.1);
·           Die plek van Sy Ampsvervulling (vv.2-5);

       Hierna gaan die skrywer voort en beskryf vir ons Jesus as Middelaar van ’n beter verbond.