Sunday, June 30, 2013

Psalm 25 ("Dawid en sy Krisis")



1.    INLEIDING:
       Bitter min mense indien enige hou van krisisse, of gebeurtenisse wat nie te wagte was nie. Ons verkies om in ons "hokkies" te bly sit, eerder as dat ons "hokkies" geskud word. As verandering moet plaasvind, hou ons daarvan om bekend te wees met die detail van die verandering, maar wanneer die uitkoms daarvan onseker is, raak ons ongemaklik en selfs angstig en baie mense is dikwels geneig om altyd die ergste uitkomste in enige onbekende situasie te voorsien. 

       Ek luister die afgelope week na ’n bespreking op RSG oor die gevolge vir blankes in Suid-Afrika, wanneer Madiba te sterwe sou kom. Een ou tannie van iewers op die platteland het ingebel en vertel hoe sy in angs die afgelope paar maande al leef oor die gevolge wat Madiba se afsterwe gaan inhou vir haar en die blankes in die breë; kort-kort word die "Nag-van-die-langmesse", wat verkeerdelik toegedig word aan Siener van Rensburg, opgehaal en kon jy agterkom hoeveel mense in vrees leef – vrees vir die onbekende.   

       Die vraag is, hoe moet ons as gelowiges die onbekende hanteer? Hoe moet ons reageer as iets negatiefs; iets onaangenaams ons moontlik in die gesig staar? Kom ons kyk wat die Psalmdigter aan die hand doen om sulke krisisse die hoof te bied.

2.    SKRIFLESING:
       Psalm 25:1-22 ~ Van Dawid. Tot U, Here, rig ek my, 2my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. 3Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. 4Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. 5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. 6Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. 7Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is. 8Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, 9Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. 10Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. 11Ter wille van u Naam, Here, vergewe my, my sonde, want dit is groot. 12As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, 13sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. 14Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. 15My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. 16Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. 17Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende. 18Kyk hoe sleg gaan dit met my en hoe swaar kry ek. Vergewe tog al my sondes. 19Kyk hoe baie vyande het ek en hoe fel haat hulle my. 20Beskerm my en red my, laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. 21Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. 22O God, red Israel uit al sy nood.

3.    AGTERGROND:
       Hierdie Psalm is ’n "Akrostieke Psalm". Dit is ’n Psalm wat in die vorm van ’n naamdig, of te wel ’n alfabetiesegedigsvorm, geskryf is. Dit beteken dat, in die geval van ’n Hebreeuse Naamdig Psalm ("acrostic psalm"), elke vers met die opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Die Hebreeuse alfabet bestaan uit 22 letters, vandaar die 22 verse in hierdie Psalm – hoewel 3 van die letters weggelaat is en 3 herhaal word. Daar is in totaal, 9 sulke naamdig Psalms, waarvan Ps.119 waarskynlik literêr die beste vorm daarvan is (die ander is Ps. 9, 10, 34, 37, 111, 112 en 119).

       Daar is verskeie verklarings waarom dit in hierdie vorm geskryf is, maar die mees aanvaarbare verklaring is dat die Psalmdigter dit só geskryf het, sodat hierdie Psalm makliker gememoriseer kon word, wat hierdie Psalm dus ’n "bloudruk vir dissipelskap" maak, want bykans elkeen van die verse in hierdie Psalm het te doen met leiding en daarom kan ons hierdie Psalm ’n "teksboek-psalm" noem, omdat dit vir ons ’n pragtige voorbeeld stel van hoe om te leef ten einde God te verheerlik en derhalwe deur Hom geseën te word.

       Die skrywer van hierdie Psalm, wat volgens oorlewering, Dawid was, skryf van ’n dubbele krisis wat verandering in sy lewe tot gevolg gaan hê. Eerstens, is daar ’n militêre dreigement van buite – Juda se vyande is aan die opmars teen hulle en tweedens ervaar Dawid ’n innerlike krisis, want hy word gekonfronteer met sy eie sonde.

       Wat doen Dawid om hierdie twee probleme die hoof te bied? Hy bid tot God. Hy maak nie maar net vinnig sy eie plannetjies om hierdie twee krisisse te hanteer nie – hy vra die Here watter pad hy moet kies en wat hom te doen staan, want hy besef dat watter keuse hy ook al maak, dit nie ’n maklike pad vir hom sal wees nie, veral nie as hy die weg kies waar hy sonder die vriendskap en ondersteuning van God loop nie en daarom kies hy om die Goddelike pad te bewandel, wat tot gevolg het dat hy baie ernstig tot Sy Skepper bid. Waarskynlik het Dawid Ps.1 hier ingedagte gehad, omdat Ps.1 vir ons baie duidelik daarop wys dat ons die regte pad moet kies en daarom kan Ps.25 ook, net soos Ps.1, gesien word as ’n wysheidspsalm.

4.    DAWID SE GEBED:
       Kom ons kyk dan na Dawid se gebed in meer besonderheid.
      
       Die eerste gedeelte (vv.1-7) begin waar Dawid sy fokus vestig op die Here – hy spreek sy geloofsvertroue in God uit, asook sy afwagting op ’n antwoord en leiding van die Here. Hierdie gedeelte van sy gebed word afgesluit met sy versugting daarna dat die Here sy nood sal onthou, maar nie sy sonde en rebellie nie.

       In die tweede gedeelte van sy gebed (vv.8-15), fokus hy op die feit dat indien hy nederig en gehoorsaam is; indien hy berouvol oor sy sonde is; indien hy God eer en eerbied teenoor Hom betoon en indien hy in afwagting is op God se leiding, sal die Here hom lei en beskerm.

       Die finale gedeelte van Dawid se gebed vind ons in vv.16-22. Hy erken die feit dat wanneer hy die Here aanbid en dien, hy noodwendig vyande in hierdie lewe sal hê en daarom het hy die Here se liefde en genade soveel meer nodig in sy lewe en daarom is dit vir hom só belangrik dat ’n intieme verhouding tussen hom en Sy Skepper gehandhaaf sal word.

4.1  Afhanklikheid (vv.1-3):
       In die openingsverse van hierdie kosbare Psalm kom Dawid en hy bely sy afhanklikheid van God ~ Tot U, Here, rig ek my, 2my God, op U vertrou ek (v.1-2). Die feit dat die Psalmdigter hier begin met die woorde, .... Tot U, Here... en dan, ... rig ek my – eers die Here en dan eers Dawid – dit is nie bloot net stilisties van aard, of ter wille daarvan dat die gebed poëties van aard moet wees nie – dit is spesifiek in hierdie volgorde geskryf nie, ten einde die fokus op God te vestig en nie op Dawid nie. Dieselfde volgorde vind ons in v.2, waar die skrywer weer God eerste noem en daarna homself.

       Dawid gebruik die woord "beskaam" in v.3, op 'n ander manier as waarop ons deesdae die word "skaam" gebruik ~ Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Paulus gebruik ook hierdie woord in Rom.8:24 en wel as "hoop", wanneer hy sê ~ Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop.... Van watter hoop praat Paulus hier? Die hoop van verwagting – daardie verwagting wat ons as gelowiges het, nl. dat ons ’n vaste verwagting het dat Christus gaan terugkeer en dat ons in ewigheid met Hom verenig gaan word – Hy sal ons dus nie in die steek laat nie – ons sal nie beskaam word nie!

       Die tema en die betekenis van hierdie uitdrukking "beskaamd", is nie om verleentheid uit te druk nie, maar om te sê dat iemand wat Sy vertroue in God stel, nie teleur gestel sal word nie, juis omdat God betroubaar is – letterlik staan hier dus dat God ten alle tye vertrou kan word en Hy Sy kinders, wie hul vertroue in hom plaas, nie sal verwoes, of ruïneer nie. Ons kry dieselfde gedagte in Ps.31:2 wanneer Dawid sê ~ By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou. Hierteenoor, rig die Psalmdigter ’n waarskuwing tot alle mense wat nie die Here in alles vertrou nie, wanneer hy sê ~ Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Hier verwys hy natuurlik na sy vyande wat in opmars is teen Juda en maak hy ’n geloofsverklaring en sê hy dat sy vyande wat nie op God vertrou nie, bedroë daarvan gaan afkom wanneer hulle Juda probeer aanval. Sy vyande het geen hoop op oorwinning nie, maar hy wat Dawid is, het ’n vaste vertroue dat God aan sy kant is.

       Dawid sê dus in v.3, dat niemand wat sy verwagting, of sy vertroue in die Here stel, teleurgestel sal word nie.

4.2  Leiding (vv.4-10):
       In vv.4-10 gaan hy nou voort met sy gebed en hy vra vir die Here, dat Hy hom nou sal "wys", "leer" en "lei".

        Eerstens dan, vra Dawid dat God, Sy wil aan hom sal "wys", of te wel sal openbaar. Dit is dieselfde gebed wat Moses in Eks.33:13 bid ~ As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk. Wat is die wil van God waarvoor Dawid en Moses bid en kan ons ook daarvoor vra? Hierdie wil en waarheid waarvoor hulle vra, is dieselfde as dit waarvan die Here in Jes.55:8-9 praat ~ My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; 9soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. Hierdie gedagtes en optrede van God wat ver verhewe bo ons gedagtes en optrede is – dít is waarvoor Dawid en Moses vra, nl. God se Waarheid.

        Dawid vra in Ps.15:2-5 dat God hom sal leer om in hierdie Waarheid te wandel, sodat hy ...onberispelik (kan) wandel en (sal) doen wat reg is, (en dat hy) met sy hele hart die waarheid (sal) praat, 3nie kwaad (sal) praat nie, sy medemens nie kwaad (sal) aan doen nie en niemand (sal) beledig nie; 4(om te verag) dié wat deur God verwerp is, maar almal (te) eer wat die Here dien; (om) sy woord (te) hou, selfs tot sy eie skade, 5sy geld nie op rente uit (te) leen nie en hom nie (te) laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.

       ▪ Dawid vra ook dat die Here hom in hierdie Waarheid van God sal lei, sodat hy daarvolgens kan wandel en lewe, want dan sal hy ...nooit wankel nie (v.6).

       Hierdie Waarheid is ook vir ons beskikbaar, want dit is opgeteken in God se Woord en daarom moet ons ook saam met Dawid en Moses daarvoor vra, sodat ons ook nooit sal wankel nie.

       In v.6 vra Dawid dat die Here Sy liefde en trou aan hom sal bewys. Hierdie liefde, of in Engels, "compassion", asook God se trou is in die Hebreeus in die meervoudsvorm geskryf. Wat hy dus vra, is dat God sal onthou om Sy oorvloedige trou en lojale liefde aan hom te bly betoon – dat God in ooreenstemming met Sy oorvloedige liefde en genade aan hom sal bly dink.
                
       In teenstelling met v.6, vra Dawid in v.7 dat God nié aan sy sonde van die verlede en sy rebellie van sy jeug, moet dink nie – dit laat ’n mens nogal dink aan Job wat in Job13:26 sê dat God hom laat boet vir die sondes van sy jeug.

       Genadiglik kan ons ook vra dat die Vader nie die sonde van ons jeug sal onthou nie, want Jesus Christus het juis vir al ons sonde gesterf en volkome vergifnis vir ons aan die kruis verkry. In vv.6-7 vra Dawid dus dat God nie sy sonde moet onthou nie, maar eerder na hom sal kyk deur die "bril" van God se oneindige en oorvloedige genade en liefde.

       In die volgende vier verse (vv.8-11) gaan die Psalmdigter voort om vergifnis te vra, deur homself en God aan ’n paar van God se attribute (karaktereienskappe) te herinner. Eerstens sê hy en bepeins hy die feit dat die Here goed en regverdig is – so goed en regverdig, dat Hy selfs aan sondaars die pad wys. Dit impliseer nié dat die Here, sondaars eensydig vergewe nie – daar is ’n voorwaarde, nl. dat Hy die sondaars wat na Hom in nederigheid (v.9) kom en hulle voor Hom verootmoedig en Sy verbond en verordeninge bewaar (v.10), m.a.w. wat aan Hom en Sy Woord gehoorsaam is, die regte pad sal aanwys – juis omdat Hy oorvloedig genadig en liefdevol is. Hierdie pad wat Hy vir ons aanwys, is ook nie ’n gedetailleerde padkaart vir ons lewe nie. Nee, die fokus is op die Waarheid soos vervat in God se Woord – daardie Waarheid wat ’n lig vir ons voet en ’n lamp op ons pad is.

4.3  Genade en Vergifnis (v.11):
            In v.11 vra Dawid weer dat die Here hom sal vergewe, maar die keer sê hy iets baie interessants – hy sê ~ Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde. Waarom vra Dawid dat sy sonde vergewe moet word t.w.v. God se Naam? Ps.130:4 ~ Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word (OAV). Ons word in die eerste en laaste plek vergewe, sodat God gevrees en verheerlik kan word!

4.4  Eerbied (vv.12-14):
       Die OAV vertaal v.12 as volg ~ Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. Die Meeste Engelse vertalings vertaal v.12 op dieselfde wyse en gebruik ook die woord "vrees" ("reverence"). Hierdie teksvers fokus dus op die man wat die Here vrees en as Dawid vra wie hierdie persoon is wat die Here vrees, dan antwoord hyself en sê, dat dit diegene is wie deur die Here geleer word en wát leer die Here hulle? Hy leer hulle watter weg om te kies, of soos die NAV sê ~ ...watter pad hy moet kies, nl. die beste pad – daardie pad wat die Here sal eer en as hy daardie pad kies, sál hy voorspoed geniet – wat meer is, ook sy nageslag, sê v.13, sal hierdie voorspoed geniet.

       Hierdie feit is in ooreenstemming met Eks.20:12 wat sê ~ Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Die vraag wat ons dadelik vir onsself ook moet vra, is of hierdie voorspoed op materiële en/of geestelike dinge dui? Ek is van mening dat dit beide impliseer. Eerstens verwys v.13 uitdruklik na die land wat sy nageslag sal bly bewoon. Lev.26 is ook duidelik hieroor ~ As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, 4sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra..., ens. (vv.3-4) – dit dui dus op die materiële. Natuurlik kan ons nie nou wild en wakker begin rondloop en allerlei rykdom en materiële voorspoed van die Here opeis  nie. Nee, die voorwaarde is deurgaans - As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe. Hiermee saam moet ons egter ook onthou, dat die Here ons ook deur tye van beproewing kan neem en dat dit nie noodwendig altyd net "maanskyn en rose" sal wees nie – of anders gestel, wanneer ons God se voorskrifte nakom en Sy gebooie gehoorsaam en dit gaan terselfdertyd met ons sleg, lê die "fout" nie noodwendig by my nie, maar kan dit wees omdat God besig is om ons te beproef (sien ook Deut.4:1).

       Vers 14 sê egter vir ons, dat hierdie belofte van voorspoed beslis ook op geestelike vlak lê ~ Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. In v.4 het Dawid gevra dat die Here vir hom, Sy weë sal bekend maak en nou bevestig hy dat die Here dit wel doen, as hy wat Dawid is, die Here dien. Die feit dat God hom in Sy vertroue neem en Sy hart met Dawid deel, dui verder op ’n intieme verhouding tussen Dawid en die Here en dit is die voorwaarde wat God ook aan ons stel, indien ons Sy geestelike seën wil ervaar – ’n intieme verhouding en dan sal Hy ons deur Sy Woord en die Heilige Gees lei.

4.5  Afwagting (vv.15-21):
       Dawid wil in v.15 vir ons leer dat indien ons begeer om deur die Here geleer en gelei te                                                                                                        word, ons, ons oë gedurig op die Here moet rig. Oë in hierdie geval dui op ons geestelike fokus en waar dit moet wees – ons moet dus in die gewoonte kom, om tydig en ontydig in gebed tot die Here te verkeer ~ Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm (Ps.123:2). Paulus sê dus nie verniet vir ons in 1 Tes.5:17 ~ Bid gedurig nie.

       In vv.16 tot 20 neem Dawid ons terug na wat hy aan die begin gesê het, t.o.v. sy innerlike stryd oor sy sonde, asook die uiterlike bedreiging van sy vyande wat teen hom optrek. Hy vra die Here om te kyk ~ ... Kyk hoe sleg gaan dit met my (v.18) en ~ ... Kyk hoe baie vyande het ek (v.19). Om die Here te vra om te kyk, dui daarop dat hy wil hê dat God moet ingryp in sy situasie. By implikasie erken hy dan ook dat sy bedreigings – beide innerlik en uiterlik is as gevolg van sonde in sy lewe en daarom vra hy ter gelykertyd dat die Here hom moet vergewe.

       Nou wil ek net dadelik weer sê, dat ons weereens nie moet doen wat die mense wat die "voorspoedteologie" aanhang, doen nie, nl. om iemand anders, of onsself, konstant daarvan te beskuldig dat wanneer dit met ons sleg gaan, dit altyd is a.g.v. sonde in ons lewe nie (Job is tog ’n goeie voorbeeld hiervan). Ja, dit kan a.g.v. sonde in ons lewe wees, maar dit kan ook wees dat ons beproef word deur die Here. Hier in Dawid se geval, weet hy egter dat die innerlike en uiterlike bedreigings wat hy ervaar, die vrug van sonde in sy lewe is – ons sal ook weet wanneer ellende ons tref, of dit is a.g.v. sonde in ons lewe en dan moet ons ook sê wat Dawid sê ~ Sien my in genade aan, Here (v.16a) en ~ ... Vergewe tog al my sondes (v.18b). Ons moet egter ook doen wat Dawid gedoen het ~ ... want by U skuil ek (v.20b).

4.6  Voorspraak (v.22):
       Dawid sluit sy gebed af met die woorde in v.22 ~ O God, red Israel uit al sy nood. Hierdie vers volg nie die Naamdig volgorde van die Hebreeuse alfabet nie en was moontlik ’n liturgiese byvoegsel deur Dawid self gewees, maar dit is ’n gebed vir uiteindelike en volkome verlossing. Dit is ’n tydlose gebed wat ons ook gedurig behoort te bid in ons afwagting op die finale dag van verlossing ~ Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting (Rom.8:19-22) en in die woorde van Johannes in Openb.22:20 ~ Kom Here Jesus!

5.    AFSLUITING:
       Psalm 25 dien vir ons as riglyn oor hoe om te bid wanneer ons innerlike en uiterlike bedreigings en stryd ervaar; wanneer ons die onbekende in die gesig moet staar. Kom ons maak dit prakties op ons lewens van toepassing, deur daarop te let dat ons moet staatmaak op God se getrouheid (v.3) en die feit dat Hy ons altyd in die Waarheid lei (vv.4-5).

       Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat Hy ons Redder is (v.5) en in Sy groot genade en liefde ons vergewe (vv.6-10). Ons groot Beskermer is ook die Een wat ons in Sy vertroue neem, deur ons voortdurend in die Waarheid te lei (vv.15-20).

       My vraag is, waar staan jy en ek t.o.v. hierdie riglyne? Maak ons staat op Hom? Vra ons Hom na Sy Waarheid? Verlustig ons daarin dat Hy ons lief het?


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 30 Junie 2013.