1. INLEIDING:
Sinclair
Ferguson sê: "True faithfulness in Scripture is first exercised in small
things and in private. If we fail there, any faithfulness we show in public
will be hypocrisy, a performance for the crowd and not an expression of loyalty
to our Lord." Hierdie is ’n waarheid wat Daniël prakties in sy lewe
toegepas het – hy was nie ’n man vir vertoon nie; vir voorgee nie – nee, hy was
ook in die kleine getrou.
Ons het
die vorige keer gesien dat Daniël en sy vriende, Gananja, Misael en Asarja, na
die paleis gebring was waar hulle opleiding moes ontvang om die koning en sy
koninkryk te dien. Ons het egter ook gesien dat daar ’n geweldige aanslag geloods
was teen hierdie jongmanne se taal, kultuur en godsdiens, ten einde hulle te
breinspoel, sodat alles wat verband gehou het met hulle afkoms, vernietig kon
word, maar God was getrou en Hy het hulle vasgehou deur hierdie beproewing en
aan hulle die krag en die geloof gegee om vas te staan op die beloftes wat God
aan hulle voorgeslag gegee het.
2. SKRIFLESING:
Daniël
1:8-21 ~ Daniël het hom
voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy
het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. 9God
het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël. 10Maar
hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal wat julle
moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed soos dié van die
ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die moeilikheid by
hom.” 11Toe sê Daniël vir die amptenaar wat deur die
hoofpaleisbeampte aangestel is om toesig te hou oor Daniël, Gananja, Misael en
Asarja: 12“Maak asseblief tien dae lank ’n proefneming met ons en
laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink. 13Vergelyk
dan ons voorkoms met dié van die jongmanne wat van die koning se kos eet, en
handel dan met ons na bevind van sake.” 14Die amptenaar het toe
hulle versoek toegestaan en tien dae lank ’n proefneming met hulle gemaak. 15Ná
tien dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van
die koning se kos geëet het. 16Toe het die amptenaar die koning se
kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir hulle net groente gegee. 17God
het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is,
en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê. 18Op die tyd
wat koning Nebukadnesar bepaal het dat die jongmanne voor hom gebring word, het
die hoofpaleisbeampte dit gedoen. 19Die koning het met hulle
gepraat en hy het onder almal niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en
Asarja nie. Toe het hulle in diens van die koning getree. 20In
enige saak wat wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra
het, was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele
koninkryk. 21Daniël het in diens van die paleis gebly tot die
eerste regeringsjaar van koning Kores.
3. DANIËL DIE
STANDVASTIGE:
Ons
sien in v.8 dat die koning ’n bepaalde dieet voorgeskryf het vir die jongmanne
wat hy uit die Judeërs geneem het om opgelei te word. Daniël het egter besluit om
nié die koning se voorgeskrewe kos te eet en van die wyn te drink nie, want hy
wou homself nie verontreinig nie.
Die
kruks hier is nié omdat die koning se kos en wyn nie kosjer was nie, m.a.w. dat dit nie volgens
die Joodse voedselwette (die
"Kashrut") voorberei is, soos o.a. uiteengesit in Lev.11 en Deut.14 nie. Dit het
ook nie daaroor gegaan dat die kos en die wyn eers aan die Babiloniese afgode
gewy is, voor Daniël-hulle dit gekry het om te eet en te drink nie, want dan
sou dit ook die geval gewees het met die groente wat hulle gevra het om te eet.
Indien daar intrinsiek iets boos en onaanvaarbaar t.o.v. die Babiloniese kos
was, dan sou Daniël hom permanent daarvan weerhou het en as ons later in Daniël
kom, sal ons sien dat dit nie die geval was nie, maar dat hy tog later van die
"lekker kos en vleis en wyn" geniet het (Dan.10:3).
Waarom
het hierdie jongmanne dan hierdie dieet versoek? Dit was vir hulle iets soos ’n
vastydperk wat hulle vir hulself uitgeroep het, ten einde hulle voortdurend te
herinner dat hulle nie afhanklik is van die koning se voorsiening nie, maar dat
hulle afhanklik is van hulle Skepper God. Indien hulle afhanklik sou wees van
Nebukadneser se kos, sou dieselfde sonde in hul lewens herhaal word, as wat
koning Hiskia begaan het, toe Hiskia sy afhanklikheid van Babel getoon het,
deurdat hy al sy skatte vir die gesante uit Babel gewys het en waarop Jesaja vir hom
gesê het ~ Daar kom ’n tyd dat alles wat in jou paleis is,
weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel
het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here (2 Kon.20:17).
Daniël
se gesindheid t.o.v. die weerhouding daarvan om die koning se kos te eet het
dus eerder gelê op die vlak van wat Paulus in 1 Kor.10:25-26 vir ons sê ~ Alles
wat in ’n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die
gewete navraag te doen, 26want die aarde met alles wat daarop is,
behoort aan die Here, asook 10:31 ~ Of julle eet en of julle drink of
wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Vir Daniël het dit in
die eerste en laaste plek gegaan oor die eer van die Here en in hierdie
spesifieke situasie, dat hy daardeur sy afhanklikheid van God wou betoon en nie
die koning van Babel nie.
Ons
moet ook in ons dag bepaalde dinge in ons lewens inbou, om ons te herinner aan
ons afhanklikheid van God – een so ’n goeie gebruik is bv. om die seën aan
tafel te vra wanneer ons eet. Nog ’n manier is om daagliks, bv. ’n skriftelike
lys by te hou van al die seën wat ons van die Here ontvang. Nog ’n manier is om
van tyd tot tyd te vas van kos, of ander plesier wat die wêreld ons bied.
Onthou net, dat ons nie wette oor hierdie sake moet maak, of sulke wette op
ander gelowiges aanlê nie, want dan is ons juis presies net waar Sinclair
Ferguson, wat ek aan die begin aangehaal het, sê ons nie moet wees nie –
"True faithfulness in Scripture is first exercised in small things and
in private." Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar en dit is
dat ons andere wat dalk ’n ander oortuiging huldig (t.o.v. vas bv.), moet respekteer.
Daniël
het nie hierdie besluit van hom sommer so op die ingewing van die oomblik geneem
nie – v.8 sê dat hy "hom voorgeneem" het om nie die koning se kos en
wyn te geniet nie. Hy het ’n besluit voor God geneem om dit nie te doen nie –
dit laat ’n mens nogal dink aan Jonathan Edwards se 70 Vastevoornemens waarvan
ons so maand of drie gelede gepraat het, nie waar nie? Daniël het ’n vaste
voorneme geneem en hy het vir die voorgenome tydperk (ons weet nie hoe lank nie) daarby gehou – kom wat
wil en daarom het die standvastige Daniël die hoofpaleisbeampte, of te wel
Aspenas (1:3) versoek om hul dieet te
verander na net groente en water. Let ook daarop, dat Daniël nie ’n bohaai
opgeskop het oor die kos nie – nee, v.8 sê, ...hy het die
hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. Dit was nie nodig om
stof op te skop nie, want Daniël het ’n verbond met God aangegaan oor hierdie
saak en daarom het hy geweet dat God aan sy kant was.
4. DIE BEAMPTE
SE ONWILLIGHEID:
Nadat
Daniël sy versoek gerig het aan Aspenas, was Aspenas baie huiwerig om toe te
gee aan hierdie versoek, maar ons sien in v.9 dat God (ek wil amper sê: "weereens") nie slegs betrokke is
by die groot dinge van die heelal nie, maar selfs ook by die klein, alledaagse en
oënskynlik onbenullige dingetjies soos hierdie versoek van Daniël. Omdat die
Here hierby betrokke is, kan ons sê, dat die amptenaar geen keuse gehad het as
om toe te gee en gehoor te gee aan Daniël se versoek, maar nie voor hy eers sy onwilligheid
te kenne gegee het nie – v.10 ~ Ek is bang vir die koning. Hy het
bepaal wat julle moet eet en drink en as hy sien julle voorkoms is nie so goed
soos dié van die ander jongmanne van julle ouderdom nie, is ek oor julle in die
moeilikheid by hom.
5. DANIËL SE
VOORSTEL:
Omdat
Daniël vas oortuig daarvan was dat die Here sy en sy maats se begeerte sal eer,
nl. om getrou aan Hom te bly en Hom altyddeur te verheerlik, gee Daniël nie bes
nie – hy aanvaar nie Aspenas se kommer nie en hy maak ’n baie wyse voorstel in v.12
– ’n voorstel wat hy geglo het sal werk, nl. dat Aspenas ’n proefneming moet
maak.
Ons
moet nie vergeet dat Daniël se doel met hierdie dieet was om uiteindelik eer
aan God te bring, eerder as aan Nebukadneser nie, want as hulle goed gelyk het
ná die koning se spesiale dieet, sou die koning die eer gekry het, maar nou
gaan God die eer ontvang en soos wat ek in die begin gesê het, is dit die
primêre rede waarom hulle nie die koning se kos wou eet nie.
Aspenas
gee toe aan Daniël se versoek, want het hy moontlik gedink, hy het nog tien dae grasie
om te kyk of die jongmanne se dieet dalk tog werk en as dit nie werk nie – wel,
die koning gaan mos nie weet van hierdie onderlinge reëling nie. Wat Aspenas
egter nie besef het nie, is dat God ook die hart van ’n heidense amptenaar kan
sag maak en guns by hom vir God se kinders bewerk en dit is presies wat hier gebeur
het – hy gee toe aan die versoek en hy laat toe dat die jong Judeërs vir tien
dae lank slegs groente en water gebruik, want God het guns in sy hart vir die
jongmanne gewerk.
6. DIE GEVOLG:
Wat was
die gevolg van hierdie proefneming? Vier dinge:
·
V.15 ~ Ná tien dae het hulle mooier en
gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos
geëet het. Hulle het fisies uitgestaan bo die ander "studente".
·
V.16 – Aspenas het ...die koning se kos en wyn vir goed van hulle af weggehou en vir
hulle net groente gegee.
·
Daar gebeur egter ook iets anders met hierdie jongmanne se verstand –
v.17a ~ God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en
insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid..
·
Vierdens ontvang Daniël ook op geestelike vlak, die vermoë om ...enige
gesig of droom uit (te) lê (v.17b).
God
seën hierdie jongmanne op fisiese, verstandelike en geestelike vlak vir hul
gehoorsaamheid aan Hom en omdat hulle Sy eer deurgaans eerste gestel het. Hierdie
seën wat hulle uit Sy hand ontvang was natuurlik ook noodsaaklike toerusting
wat hulle vorentoe in diens van die koning sou nodig kry, sodat God weereens
verheerlik sou kon word.
Geliefdes,
as God in ’n heidense amptenaar se hart kan werk en as hy hierdie wonderlike
dinge in die lewens van jongmanne kan bewerkstellig, dan kan en sal Hy dit mos
met ons ook doen – nie sodat ons noodwendig enige gewin daaruit sal put nie,
maar om primêr beter toegerus te kan wees om in die nou en in die toekoms, God
se eer nog meer en beter te kan verklank – die voorwaarde: Dit is iets van ’n "heilige
kringloop": Ons moet God se eer deurgaans eerste stel en nie onsself
gedurig op die voorgrond wil plaas nie, sodat Hy weer en weer verheerlik kan
word.
7. DIE
BELONING:
Na die
tien dae "vastydperk" het Daniël-hulle voor Nebukadneser verskyn en
die koning het, in die woorde van v.19 ~ ...onder almal
niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Wat het Nebukadneser
so beïndruk? Uit die konteks kan ons sien dat hul voorkoms hom moes beïndruk,
maar hulle sou ook in wysheid en met diep insig op al die koning se vrae
gereageer het, trouens ons sien dit in v.20 ~ In enige saak wat
wysheid en insig vereis het en waaroor die koning hulle uitgevra het, was hulle
tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk. "Tien maal"
beter was die resultaat van Daniël en sy vriende se getrouheid aan God en hul
vaste voorneme om Hom deurgaans te verheerlik in al hul doen en late!
Hoe
wonderlik is dit nie dat God vir Daniël-hulle weg geneem het uit hul geliefde
Juda en hul koesterende kultuur en godsdiens en hulle in vreemde en vyandiggesinde
omgewing geplaas het nie – ’n omgewing waar hulle reeds en in die toekoms nog baie
beproewing sou ervaar, ten einde hulle in ’n unieke posisie te plaas waar hulle
’n seën vir hul vyande en die gemeenskap waarin hulle hulself bevind het, kon
wees!
Sien
ons, ons omstandighede en beproewing altyd in hierdie lig – ’n situasie waarin
God ons geplaas het, sodat ons ’n seën kan wees vir diegene wat die Here oor ons
pad in daardie betrokke situasie bring?
As die
Here vir Daniël en sy vriende in hulle omstandighede, getrou kon hou aan Hom,
dan kan Hy dit mos ook vir ons doen in ons onaangename en beproewende omstandighede
– God is daartoe in staat om juis dit te doen, trouens dit is wat Hy van die
begin af gedoen het en wat Hy sál doen, totdat Hy ons kom haal, ongeag die
intensiteit, die duurte, of die plek van ons beproewing, want wanneer die
wêreld op sy "slegste" is, is God se genade en getrouheid voldoende.
Ons
lees in v.21 dat Daniël in diens van die koning gestaan het tot die eerste
regeringsjaar van koning Kores. Wanneer was dit en wat het toe gebeur en wat
moet ons daarvan maak?
·
Die geskiedenis toon aan ons dat koning Kores 70 jaar nadat Daniël en sy
vriende in ballingskap weggevoer is, aan bewind gekom het.
·
Kores se eerste jaar as heerser, was ook die jaar waarin die ballinge toegelaat
was om weer terug te keer na Juda vanuit ballingskap (2 Kron.36:22-23).
·
Derdens, impliseer dit dat Daniël vir bykans die res van sy lewe in
ballingskap, in die paleis vir die koning van Babel, diens gedoen het. Hierdie
feit is nog meer verstommend, of sal ek liewer sê, wonderbaarlik as in ag
geneem word dat Daniël diens gedoen het onder verskeie konings wat gekom en
gegaan het deur hierdie tydperk van ballingskap – en almal was tevrede en
beïndruk met hom. God se getrouheid jeens Daniël was derhalwe meer as genoeg,
om hom te dra vir die volle tydperk wat die ballingskap geduur het.
8. TOEPASSING:
Wanneer
ons so na Daniël se verhaal luister, dan is ons meer geneig om ons te
identifiseer met die massas ballinge waarvan daar niks in Daniël gesê word nie
– daardie Judeërs wat ook ander name ontvang het; wat ook vir ’n leeftyd
blootgestel was aan ’n nuwe kultuur en die afgodediens van Babel; hulle wat as
slawe gewerk het en nie die luukse van Daniël en sy maters se paleislewe geniet
het nie. As ons Daniël lees, kan ons maklik dink dat die boodskap van Daniël is,
dat ons soos Daniël moet wees en dan sal alles goed gaan met ons, maar hoe meer
ons luister na hierdie verhaal, hoe meer besef ons dat ons nie naastenby is, of
kan wees soos Daniël nie.
Die
goeie nuus van die Evangelie van Jesus Christus, is egter nie net dat God trou
bewys aan ons, as ons getrou aan Hom is nie. Dit is dat ’n Verlosser gekom het
om ons juis los te maak – om ontroue individue soos ons, te verlos. Ons redding
hang dus nie af van ons pogings en ons getrouheid om nie toe te laat dat hierdie
wêreld ons besmet nie, maar uit en uit op die suiwere en onbesmette offer wat
Jesus Christus aan die kruis op Golgota gebring het. Jesus was nie ’n hemelse
banneling wat vir ongeveer 33 jaar na die aarde weggevoer is nie – nee, Hy het
vrywillig gekom en vrywillig Sy lewe kom neerlê. Hy het baie meer en erger
verduur as wat Daniël en al die ander ballinge in Babel beleef het – óf as wat ons
ooit kan droom om in ons lewe te verduur ~ Die
Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê
nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy
het nie gesondig nie (Hebr.4:15). Jesus het getrou en
onbesmet gebly deur al hierdie beproewing heen, tot die einde toe ~ Inteendeel (1 Pet.1:19), julle
is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder
liggaamsgebrek is. Wat meer is, Jesus het reeds deur Sy beproewing gegaan en Hy sit nou
aan die regterhand van God waar Hy optree as ons Hoë Priester en voortdurend
intree vir ons. Hy het reeds vir ons ’n plek berei in die hemel en Sy
teenwoordigheid in die hemel is juis
sekuriteit en bewys vir ons dat ons eendag saam met Hom in die hemel sal
wees.
Die
kruis is dus die middel of wyse waarop God se getrouheid ons as ontroue mense
verlos en gered het en Christus se opstanding en hemelvaart is bewys en sekuriteit
van jou en my ewige erfenis wat op ons wag.
Ons
moet onsself gereeld herinner aan die Evangelie. Ons moet ons oë vestig op die gekruisigde,
opgestane en verheerlikte Jesus Christus, juis omdat Hy die weg na die ewige
lewe is. Plaas jou vertroue in Hom en vra Hom om opregte en ware getrouheid in
jou te werk. Vra Hom om jou in plekke te plaas waar jy ’n seën en ’n getuie vir
Hom kan wees. Kweek ’n ewigheidsperspektief en leef daarvolgens, sodat jy ook
in tye van beproewing aan daardie ewigheidsperspektief kan vashou.
Wees
altyddeur afhanklik van Christus se verlossingswerk en hou op om soos Daniël te
probeer wees, want Daniël was nie so oulik om dit in eie krag te kon doen `nie
– hy het dit reggekry, omdat sy oë op sy Hemelse Vader gevestig was en Hom
vertrou het om die goeie in hom te doen.
[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 23 Junie 2013