Thursday, June 13, 2013

Openbaring Ontsluit – 51 (Satan Gebind - 02)



1.     INLEIDING:
·           Openb.20:1-3 ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ’n groot ketting in sy hand. 2Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. 3Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. Ons het die vorige keer gesien dat die tydperk "1000 jaar", ’n vaste tydperk is, maar nie letterlik eenduisend jaar nie – eerder ’n vasgestelde tydperk waartydens God Sy wil laat geskied. Die getal tien in die Bybel en selfs in die alledaagse lewe, verteenwoordig ’n volheidsgetal. Bv. Ons beskik oor tien vingers en tien tone. Sny jy jou duim af, verloor jy oombliklik die vermoë om iets behoorlik vas te hou, ens. Ons kan op dieselfde wyse na die getal tien in die Bybel kyk. Daar is bv. die Tien Gebooie: Dit impliseer nie dat hierdie die enigste wette is wat God aan die Israeliete gegee het nie, maar die Tien Gebooie verteenwoordig die hele wet. Daar was tien plae in Egipte: Dit beteken natuurlik nie dat dit die enigste strawwe was wat God oor die Farao kon bring nie, maar dit was verteenwoordigend van God se volkome oordeel ten einde Sy volmaakte wil ten uitvoer te bring wat betref die Farao.

Indien ons die getal tien neem en dit met tien vermenigvuldig en weer ’n keer met tien, kom ons by ’n totaal van 1000 uit, wat verteenwoordigend is van die Woord se maksimale volheid. Bv. wanneer die Woord sê dat God ’n duisend vee op die berge besit (Ps.50:10) beteken dit nie dat Hy net oor 1000 stuks vee beskik nie. Nee, dit beteken dat God ál die vee op ál die berge besit.

Op dieselfde wyse kan ons na Deut.1:11 kyk ~ Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak en vir julle ’n groot nageslag gee soos Hy julle beloof het. Hierdie belofte kan teruggevoer word na God se belofte aan Abraham waar Hy gesê het dat Hy Abraham se geslag, soveel as die sterre aan die hemel sal wees (Deut.1:10). Teen die tyd dat Moses hierdie woorde geskryf, of geuiter het, het God reeds Abraham se nageslag grootliks vermeerder. Moses se gebed is dat God sal voortgaan ten einde hierdie belofte aan Abraham te vervul. Ons kan egter nie sê dat Moses, God versoek het dat God, Abraham se nageslag 1000-voudig sal vermeerder en dan sal ophou om dit verder te doen nie; trouens sy gebed is juis dat God nooit sal ophou om die volk te vermeerder nie.

God belowe ook om genade teenoor Sy volk sal betoon, tot aan die duisendste geslag (Deut.7:9). Beteken dit dan nou dat God die volk sal bly seën tot en met die 999ste plus 1 geslag (presies ’n 1000 geslagte) en dan eensklaps ophou? Tog sekerlik nie, want Hy belowe om tot aan die einde van die dae, genade te betoon teenoor almal wat Sý eiendom is!

Nog ’n verwysing na die getal "1000" vind ons in Jos.23:10 ~ Een van julle jaag ’n duisend op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer soos Hy julle beloof het. Ook hier kan ons nie die getal "1000", letterlik neem nie – wat God hier belowe, is dat die Israeliete, al is hulle ver in die minderheid, nogtans die oorwinning sal behaal.

Net so is dit nie moontlik om Openb.20 se "1000", letterlik te vertolk nie. Hierdie standpunt word verder versterk as ons in gedagte hou dat geen van die ander syfers of getalle in Openbaring, letterlik vertolk word nie.

Net so "tussen hakies": Indien ons hierdie "1000" letterlik moet vertolk, moet ons tog die res van Openb.20 ook letterlik vertolk. Indien dit so is, moet ons dan o.a. mos ook verwag dat Christus eendag met ’n letterlike ketting sal afdaal na die aarde ten einde Satan te bind – Satan wat ’n geestelike wese is, met ’n letterlike yster ketting? As ons "ketting" nie letterlik vertolk nie, waarom nie ook "1000" nie?

Terug dan na vv.1-3. Die tydperk wat die satan gebind gaan word, sal ’n simboliese tydperk wees, wat ons dan ook "die millennium" noem. Die implikasies van Satan se binding, het geweldige implikasies vir ons – om maar net een te noem en dit is wat my betref die belangrikste en ook gaan dit hier in Openb.20 juis hieroor: Voor Christus se koms na die aarde, was alle nasies met die uitsondering van Israel, onder Satan se volle beheer. Israel was die enigste land wat die waarheid aangaande God geken het en hulle was die enigstes wat ook God se redding kon ervaar (met enkele individuele uitsonderings – Rut bv., maar daar is bepaalde redes waarom dit gebeur het en waarop ons nie nou sal ingaan nie). Met Christus se koms en die verspreiding van die Evangelieboodskap, het alles egter verander en het die satan se oorheersing oor die heidennasies in duie gestort (Deut.7:6 ~ Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Sien ook Ps.147:19-20 ~ Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel. 20Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie; hulle ken sy bepalings nie. Prys die Here! Sien ook: Luk.4:6; Hand.14:16; 17:30; 26:17-18).

Die vraag is dan nou: Wanneer het hierdie millennium begin en wanneer gaan dit eindig – kan ons dit beantwoord?

Soos reeds gesê, was die doel met die binding van Satan, om hom te verhoed om die nasies verder te mislei, sodat die Evangelie vrylik kon versprei. Hierdie binding het begin tydens Jesus se aardse bediening en is ten volle uitgevoer by die kruis (1Kor.15:45 en sien veral Kol.2:13-15) en weer bekragtig met die val van Jerusalem. Ons kan dus aanvaar dat die amptelike begin van die "millennium", in 70 n.C. was.

Tot wanneer hierdie millennium-tydperk gaan aanhou, of anders gestel: Indien hierdie tydperk in 70 n.C. begin het, wanneer gaan dit tot ’n einde kom?  Vers 3 ~ Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. Aan die einde van die "millennium-tydperk" sal Satan vir ’n kort tydjie losgelaat word, waarna hy vir ewig oorgegee sal word aan die verderf. Natuurlik kan ons nie presies sê wanneer hierdie "kort tydjie" gaan aanbreek nie, omdat ons nie weet wanneer die "millennium" tot ’n einde gaan kom nie. Wat ons wel weet is dat die Evangelie tydens hierdie tyd sal versprei – ons sal dus ’n tyd van "Evangelie-seën" beleef, waartydens die satan se mag om die volke te mislei, ingeperk sal wees. Ons kan dus sê, dat die "millennium-tydperk" tot ’n einde gaan kom wanneer die laaste uitverkore kind van God tot bekering gaan kom en Christus Jesus as Sy Verlosser ontvang.

Ons leef in die era van die "millennium" en moet derhalwe positief en optimisties wees oor die Evangelie en die Kerk van die Here Jesus. Die Satan mag rondloop ...soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1Pet.5:8), máár hy is steeds op hierdie stadium gebind! Daar is weliswaar verskeie profesieë wat nog nie vervul is nie en wat nog eendag vervul sal word – profesieë soos: Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg (Jes.11:6) en... Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie (Jes.2:4). Hoe hierdie dinge gaan gebeur en wanneer, weet ons nie, maar wat ons wel weet, is dat ons steeds midde in die "millennium" staan met al sy voordele en positiewe voortgang van die Evangelie en die Kerk.

Wat gaan gebeur wanneer Satan vir ’n kort tydjie losgelaat word? Waarop ons egter steeds moet fokus en dit is die belangrike, is dat Satan vir ’n baie lang tydperk gebind is en net vir ’n kort tydjie losgelaat sal word. Wat egter ook duidelik uit hierdie versie na vore tree en dit bevestig ons standpunt dat die satan huidiglik gebind is, is die feit dat Satan vir ’n kort tydjie losgelaat gaan word – hoe kan hy losgelaat word, as hy nie gebind is nie? Wat die ware betekenis van hierdie kort tydperk van vrylating beteken en wat dit gaan inhou, weet ons nie werklik nie – behalwe die Pre-millennialiste wat reken hulle weet en dan kom hulle met die aller verskriklikste en skrikwekkendste stories en bewerings na vore – geen regsinnige teoloog van formaat (A-Mil., of Post-Mil.) het regtig ’n Bybelse verklaring hiervoor nie. Al wat ek wel en kan sê hieroor, is dat géén gelowige (onthou, ons het gesê dat hierdie millennium waarskynlik tot ’n einde sal kom met die wedergeboorte van die laaste uitverkorene) tydens hierdie tydperk sy geloof in Jesus Christus sal verloor nie (weereens Joh.10:28 ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie).  

2.    DIE GELOWIGES HEERS:
·           Openb.20:4-6 ~ Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. 5Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. 6Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer. Johannes verskuif nou sy fokus van die Satan wat gebind is, na die gelowiges se situasie gedurende hierdie "millennium- tydperk". Wat in hierdie gedeelte uitstaan, is die uitdrukkings, "die eerste opstanding" en "die tweede dood".

Voor ons egter na hierdie uitdrukkings kyk en vv.4-6 verder verklaar, moet ons net eers een baie belangrike gedagte vasvat en dit die heeltyd in gedagte hou wanneer ons na

Openb.20 kyk. Hierdie hoofstuk is ’n unieke hoofstuk en wel so omdat bykans die hele Openbaringbrief oor kort gebeure handel, of gebeure wat oor kort tydperke afspeel ("binnekort", "70 jaar"; "eerste eeu"; ens.), maar hoofstuk 20 gaan verder as kort tydsgleuwe en kyk na langtermyn gebeure en –gevolge.

Die twee uitdrukkings, nl. "die eerste opstanding" en "die tweede dood" hou bepaalde implikasies vir ons in, want indien daar ’n "eerste opstanding" is, moet daar mos ook ’n "tweede opstanding" wees; en as daar ’n "tweede dood" is, moet daar mos ook ’n "eerste dood" wees. Hier is dus vier uitdrukkings wat verduidelik moet word, nl.:
·         "Eerste opstanding"
·         "Tweede opstanding"
·         "Eerste dood"
·         "Tweede dood".

Daar behoort geen twyfel by ons te bestaan oor die betekenis van die "tweede dood" nie ~ Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel (Openb.20:13-14). Hieruit blyk dit baie duidelik, dat die "tweede dood", daardie gebeurtenis gaan wees wat nog in die toekoms lê en waartydens die ongelowiges in die put van vuur gewerp gaan word. Hierdie is ’n letterlike, fisiese dood en fisiese oordeel, want die hel is tog ’n letterlike plek – lees maar net gedeeltes soos Matt.5:29-30; 10:28; 18:9; 23:15, 33; Mark.9:45, 47; Luk.12:5; Jak.3:6 en 2Pet.2:4.

Waarom is dit nodig vir ’n tweede dood? Omdat elke mens op aarde deur al die eeue heen in die eerste dood "ingebore" is [Adam se sone, of te wel die erfsonde ~ Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf... (1Kor.15:22a)]. Adam het die ganse menseras in die "eerste dood" ingedompel deur sy ongehoorsaamheid, toe hy van die "verbode vrug" (Gen.3:22) geëet het – Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom.5:12). In kort, die "eerste dood" is ’n geestelike dood (skeiding tussen God en die mens a.g.v. die sonde), terwyl die "tweede dood" ’n ewige, fisiese dood is (ewig geskei van gemeenskap met God en wel in die vuurpoel van die hel – hierdie is dus ’n geestelike sowel as ’n fisiese dood).

Die "eerste opstanding" en die "tweede opstanding" volg presies dieselfde patroon. Die mens word in sonde ontvang en gebore, maar wanneer hy God se reddingsgenade in sy lewe ervaar, ervaar hy die eerste geestelike opstanding. Weer eenvoudig gestel, die "eerste opstanding" is die  wedergeboorte. Diegene wat hierdie "eerste opstanding" ervaar het, sien egter ook uit na ’n tweede, fisiese opstanding. Eendag, sal al die liggame van gelowiges uit die dood opgewek word en sal ons vir ewig in ’n fisies, verheerlikte liggaam saam met God deurbring (1Kor.15:51-54; 1Tes.4:13-18)! Hierdie gedeelte is van toepassing op alle gelowiges deur die eeue heen tot vandag en totdat die Here Jesus weer gaan terugkeer – dit geld derhalwe vir alle gelowiges in die "millennium-tydperk".

Daardie gelowiges wat vir hul geloof gesterf het gedurende die eerste eeu na Christus, asook diegene wat oorleef het, maar wat nie "die Dier" aanbid het nie, het reeds die eerste opstanding ervaar en regeer reeds saam met Christus in Sy Koninkryk. Hulle het volhard deur hul vervolging en swaarkry en ontvang nou reeds hulle beloning. Hulle is egter nie die enigstes wat volhard nie: Alle ware gelowiges sál volhard tot die einde toe ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Joh.10:28). Alle ware gelowiges het die "eerste opstanding" beleef en daarom sal alle ware gelowiges van hul dag van wedergeboorte af, saam met Jesus Christus regeer. Ja, daar kom ’n tyd wanneer ons die seën van die "tweede opstanding" sal ervaar, maar vir eers ervaar ons die seën van ons "eerste opstanding".

Jesus die Christus het die oorwinning oor die satan vir ons aan die kruis behaal – Hebr.2:14-15 is baie duidelik daaroor ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. Jesus het dit self ook bevestig toe Hy in Joh.12:31-32 die volgende gesê het ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. Die satan heers nie meer nie – Jesus Christus regeer en Sy Koninkryk is aan die opmars – Sy Koninkryk is aan die uitbrei hier op aarde! Hierdie binding (of oorwinning) oor die satan is ’n juridiese feit (sien ook Matt.12:24-29; Luk.10:17; Joh.12:31-32; Kol.2:15).

God het op dieselfde wyse as wat Satan gebind is, ook die gevalle engele (demone) gebind ~ Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag (Judas 6 - sien ook: 2Pet.2:4; Luk.8:31).

Kom ons kyk net ten slotte na wie die mense (of wesens?) is wat in vv.4-6 op die trone gaan sit:
·           Eerstens is daar ...die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het (v.4). As ons die teks toelaat om "self te praat", sien ons dat diegene op die trone, die martelare is – hulle wat die versoeking om "die Dier" na te volg en te aanbid, weerstaan het. Ons het reeds in ons studie van Openb.13, "die Dier" as die Romeinse Ryk (o.l.v. Nero) geïdentifiseer. Ons kan dus met redelike sekerheid sê dat hierdie martelare in v.4, dié gelowiges is wat onder Nero se hand gesterf het en is dit o.a. die antwoord op die pleitrede van die martelare in Openb.6:9-11.

Wat van die ander gelowiges wat nie as martelare gesterf het nie? Natuurlik is die afgestorwenes sedert 70 n.C. ook geseën ~ Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.” “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle” (Openb.14:13). Die fokus is egter hier in v.4, op die afgestorwe martelare gedurende die eerste eeu, want sekerlik kan die siele van die mense wat onthoof is, tog nie verwys na gelowiges wat bv. die afgelope klompie jare aan kanker of hul harte, ens. gesterf het nie.

Wie is die ...ander dooies (wat) nie lewend geword (het) voordat die duisend jaar om was nie? Hierdie dooies, is al daardie dooies wat nie in Christus was nie (vanaf die skepping tot en met Christus se wederkoms) en wat tydens die tweede opstanding, voor die Groot Wit Troon gaan verskyn om geoordeel te word. Hierdie finale oordeel word in detail vir ons in Openb.20:11-15 beskryf. Johannes verwys in Joh.5:28-29 na hierdie opstanding as ...die opstanding van die veroordeling. (O.A.V.). Die liggame van alle afgestorwenes (gelowig én ongelowiges – ook die martelare) sal op hierdie laaste uur, opstaan uit die dood, maar daar is ’n baie duidelike verskil in die aard van die opstanding van die gelowiges en die ongelowiges. Ongelowiges het nooit in enige vorm van Christus se opstanding deel gehad nie. Hulle het dus sedert hulle afsterwe in ’n staat van geestelike dood verkeer totdat hulle opgewek gaan word uit hul grafte, ten einde die tweede dood in die gesig te staar. Die liggaamlike opstanding van die gelowiges (én die martelare) daarenteen, staan bekend as ... die opstanding van die lewe (Joh.5:29 - O.A.V.).


[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Baptistegemeente.  Vereeniging – 19 Februarie 2012