Sunday, June 16, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 21 ("Die Volledige en Volmaakte Offer")



1.    INLEIDING:
       Ons gaan vanoggend na Hebreërs 10:1-18 kyk en met hierdie hoofstuk, kom ons by die hoogtepunt van die Hebreërskrywer se bespreking van Jesus as ons Hoë Priester en die volmaakte en volledige offer wat Hy gebring het. In die vorige hoofstukke het hy geargumenteer dat Jesus veel hoër en groter as die engele is (1:5-14), maar dat Hy net vir ’n kort tydjie minder as die engele geword het (2:7), ten einde met ons, Sy kinders te kan identifiseer (2:10-18). Op grond van die feit dat Hy met ons kon identifiseer, deur Sy vleeswording en Sy lyding, kon Hy deur God die Vader aangestel word as Hoë Priester volgens die orde van Melgisedek en is Hy derhalwe ook ver verhewe bo die ou verbond se Levitiese priesters (5:1-11; 7:1-28). As verhewe en volmaakte priester, kon Hy ook ’n volmaakte offer aan die Vader bring – ’n offer wat deel is van ’n beter verbond (8:3-13) – ’n offer waar dierebloed nie gevloei het nie, maar die volmaakte Hoë Priester, Jesus Christus se eie bloed en daarom was Sy volmaakte offer, die hoogste en laaste offer wat gebring was; ’n offer wat God ten volle bevredig het; ’n offer wat nooit weer herhaal hoef te word nie; ’n offer wat volkome versoening tussen God en Sy uitverkore kinders bewerkstellig het.  

2.    SKRIFLESING:
       Hebr.10:1-18 ~ Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie. 2As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. 3Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, 4omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem. 5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. 6Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! 7Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.” 8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd. 11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy: 16“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” 17Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” 18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

3.    DIE BEPERKINGS VAN DIE OU VERBOND:
       Ons sien hier in ons Skriflesing, dat die Hebreërskrywer die vorige 9 hoofstukke bondig saamvat en sy hele teologie rondom Christus hier uiteensit.

       Hy begin dan in vv.1-4 om weer na die Wet en die ou offerstelsels te verwys en hy wys weer vir ons daarop dat hierdie maar net heengewys het na die "weldade", of "beter dinge" wat sou kom.

       In vv.1b en 2 stel die skrywer dit duidelik, dat die offerstelsel van ouds, nié permanente en volledige vrymaking van sonde kon bewerkstellig nie? Waarom sou God dan die offerstelsel ingestel het, as dit dan oënskynlik geen waarde gehad het nie? Die doel met die offerstesel was dat die mense moes verstaan, dat hulle in ’n persoonlike verhouding met God moes staan en nie bloot maar net die offerstelsel moes gebruik om hul gewetens te sus nie. Nee, hulle moes hulleself deur die bring van offers, voor God verootmoedig het en in ’n verhouding met Hom getree het, dit is waarom Samuel aan koning Saul gesê het ~ Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme (1 Sam.15:22). Jesaja gaan verder en hy sê in Jes.1:13 ~ Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie: Ek het ’n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie. Jeremia sê weer vir ons in Jer.7:21-22 wat die mens eerder moet doen i.p.v. nuttelose offergawes ~ Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. 23Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.

4.    CHRISTUS SE SOENDOOD:
       Daar was maar net een manier waarop die mens in verhouding met God kon staan en waarop hy permanente vergifnis vir sy sonde kon ontvang, en dit is deur God se Seun, Jesus Christus se vleeswording en soendood aan die kruis en dit is wat die Hebreërskrywer vir ons hier in vv.5-10 sê.

       Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat God die Vader dit so gewil het dat Sy Seun, Jesus Christus na die wêreld moes kom, ten einde die volmaakte offer te kon bring en daarom het Jesus ’n liggaam ontvang, soos ons dit ken, sodat Hy geoffer kon word, want sonder daardie liggaam sou offerbloed nie kon vloei nie en sou daar nie ’n liggaam gewees het wat geoffer kon word nie en sou die tweede en beter offer nie gebring kon word nie en daarom is die enigste effektiewe versoening wat maar gebring kan word, dié wat Christus gebring het, want geen bul of bok kan in ons plek sterf vir ons sonde nie, maar Christus het dit vír ons gedoen en dit is waarvan die mensdom – ons, verlossing afhang.

       Christus het dus na die wêreld gekom om die wil van Sy Vader te gehoorsaam. Hierdie hele saak van gehoorsaamheid is baie belangrik om na te kyk. In v.5 haal die skrywer aan uit Ps.40:7(sien OAV) en wel uit die Griekse vertaling van die Ou Testament (wat bekend staan as die Septuaginta) en hy plaas die Psalmdigter se woorde hier in die mond van Jesus. Wat letterlik hier staan is, "My ore wat U geopen het" en die woord "open" kan ook vertaal word met "deurboor". Hier word ons weer terug gelei na ’n seremonie wat in Eks.21:1-6 homself afgespeel het, toe ’n Hebreeuse slaaf wat sy meester so lief gehad het, nie van hom wou weggaan na sy 6 jaar diens nie en hy gevra het om langer aan te bly. As teken van sy toewyding aan sy meester, het hy toegelaat dat sy eienaar ’n gaatjie in sy oor steek met ’n els as teken dat hy vir altyd sy eienaar se slaaf is – dit was teken van sy algehele toewyding aan sy eienaar. Die oor het dus gedien as simbool van die hele liggaam wat aan die eienaar behoort. ’n Gehoorsame en pligsgetroue dienskneg het dus angstig geluister met sy oor, sodat hy met sy hele liggaam, sy eienaar kon dien en gehoorsaam.

       Geen dienskneg het die Vader meer lief gehad as Jesus nie en daarom was Sy gehoorsaamheid en toewyding volmaak. Paulus sê vir ons in Fil.2:5-8 dat ons hierdie selfde gesindheid van oorgawe en volmaakte gehoorsaamheid moet aanneem ~ Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

       Vers 10 sê dat dit die wil van God was dat Sy kinders, geheilig en afgesonder moes word vir Hom, want geen mens wat nie geheilig is, kan gemeenskap met die heilige God hê nie en vir ons as "in-sonde-ontvang-en-gebore-mense", moet daar iets met ons gebeur, alvorens ons heilig verklaar kan word om sodoende gemeenskap met God te mag hê en daardie "iets wat moet gebeur", is dat ons sondeskuld verwyder moet word en Jesus het presies dit gedoen! Dit is waarom vv.9 en 10 soos volg lees ~ Daarna sê Hy: Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.    

5.    DIE VRYMAKENDE NUWE VERBOND:
       Dit is baie duidelik dat Jesus alles gedoen het, wat nodig was vir ons om eens en vir altyd volkome gered te kan wees – al ons sonde is weggeneem, maar in skrille kontras daarmee, was dit nie die geval tydens die Ou Testamentiese bedeling nie. Die Ou Testamentiese offerandes het nooit tot ’n einde gekom nie – die oomblik as jy ’n offer gebring het, moes jy weer van voor af begin het om ’n nuwe offer te bring.

       ’n Verdere interessante kontras wat ons in vv.11-12 vind, is die feit dat daar baie priesters in die Ou Testamentiese sisteem was, teenoor die een enkele Priester in die Nuwe Testamentiese bedeling.  

       Die Levitiese sisteem het uit 24 ordes bestaan en elke orde het honderde priesters gehad wat beurte gemaak het om die altaar te bedien. Hierdie stelsel het dus nie gebuk gegaan onder ’n tekort aan priesters nie, maar dit het oor geen effektiwiteit beskik nie. Daarteenoor het Christus as enkele Priester opgetree en sy dienswerk was so effektief, dat dit in ewigheid afgehandel is ~ Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem (Kol.2:14).   

       Die skrywer wys ook vir ons daarop dat die priesters dag vir dag in die tempel gestaan en hulle diens verrig het, terwyl Christus, nadat Hy sy offer gebring het, aan God se regterhand gaan sit het – die staan van die aardse priesters dui spesifiek op hul onafgehandelde werk, teenoor Christus se afgehandelde werk – daarom, soos ons reeds in hoofstukke 1 en 8 gesien het, sit Hy. Hierdie is natuurlik ook ’n vervulling van die openingsverse van Ps.110 ~ Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” 2As die Here die septer, simbool van u mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande! Ons vergifnis; ons vervolmaking; ons heiligverklaring, is afgehandel – ons kan en mag in die teenwoordigheid van God verskyn en die teken daarvan was natuurlik toe Jesus aan die kruis gesterf het en die voorhangsel in die tempel geskeur het ~ Maar Jesus het met ’n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas. En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder (Mark.15:37-38).  

       Nie alleen is ons vergewe en kan ons met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God staan nie, maar Christus het ook die vyand oorwin, trouens Hebr.2:14 sê vir ons dat Hy die satan vernietig het ~ Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig. Meer nog, Christus het al sy vyande (insluitende die gevalle engele – demone) oorwin en hulle gestroop van hul wapens, toe Hy uit die dood opgestaan het ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol.2:15).

       Vers 14 in die NAV is oënskynlik voor die handliggend en baie eenvoudig, want soos ons dit daar lees, staan daar (ek parafraseer): "Deur Christus se offer aan die kruis, het Hy diegene wat deur God uitverkies is, vir ewig vrygemaak van sonde". Daar staan egter veel meer in hierdie vers as bloot net dat ons vry is van die sonde. Die OAV is nader aan die kol, hoewel amper onverstaanbaar ~ Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. Die woordjie "volmaak" (ESV & NASB = "perfected") is egter ’n baie belangrike woord in hierdie vers. Die Griekse woord wat hier gebruik word is τελειόω (teleioō) en dit beteken letterlik  om sy doel te bereik, of om aan die einde te kom, of om iets volmaak af te handel en te voltooi. Dit is dieselfde woord wat in Joh.4:34 gebruik word, wanneer Jesus sê ~ My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Of Joh.17:4 ~ Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.

       Wat die Apostel dus vir ons hier sê, is dat ons nie net volledig vergewe is vir ons sonde nie, maar dat ons reeds volkome en volmaak voor God staan – ja, ons benodig reiniging wanneer ons in sonde val, maar ons hoef God se oordele nie meer te vrees nie en daarom is ons reeds geheilig en volmaak. Ons het hier te doen met die tipiese "reeds-en-nog-nie" aspek van die Woord. Ons is geheilig en volmaak, maar ons is ook nog nie heeltemal daar nie en daarom is ons op pad daarheen, maar die goeie nuus is dat, omdat ons op pad is, dit bewys is dat ons reeds daar is! Paulus beskryf hierdie "reeds, maar nog nie" op pragtige wyse in Rom.7:15-25 ~ Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. 24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

       Soos Paulus, vind ons as gelowiges ons midde in hierdie konflikterende begeertes. Aan die een kant hou die Gees van God ons opregte geestelike begeertes en doelwitte in stand, wat voortspruit uit ons wedergeboorte, maar aan die anderkant ervaar ons hoe dat ons vlees ons voortdurend pootjie en hindernisse in ons pad plaas om hierdie opregte en heilige begeertes en doelwitte te bereik en dit is baie dikwels so erg, dat dit ons ver terugsleep op ons geestelike pad.

            Ons moet nie hierdie konflik onderskat nie en ons moet besef dat hierdie konflik en frustrasie met ons sal wees tot aan die einde van ons lewe hier op aarde, maar deur hierdie feit in gedagte te hou en gereeld teen versoeking te bid en doelbewus daaraan te werk om die slegte af te lê en die goeie op te neem ("putting off and putting on"), kan ons deur en met die hulp van die Heilige Gees, hierdie begeertes en dade en spesifieke slegte gewoontes, "dood maak". T.w.v. ons geestelike groei, maar primêr ter wille daarvan dat God deur ons lewe verheerlik sal word, móét ons dit aflê, trouens Paulus waarsku ons in Rom.8:13 wanneer hy sê ~ As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Ook in Kol.3:4 sê Paulus dat ons Christus se wederkoms tegemoet gaan en dat ons dan Sy heerlikheid met Hom gaan deel, maar om ons daarop voor te berei, gaan hy voort in v.5 en sê ~ Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.

            Te midde van hierdie stryd wat ons voer en die "male sonder talle" kere wat ons "vou" en toegee aan die versoekings en vleeslike begeertes, verskaf die Woord van God ook troos en bemoediging aan ons ~ Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Kor.10:13). Ons moet terselfdertyd ook daaraan vashou – en dit is die wonderlike Goeie Nuus van die Evangelie vir gelowiges, nl. dat ons vergifnis permanent is, daardie offer wat Jesus gebring het om ons te versoen met God die Vader en die vloek wat sedert die sondeval in die Paradys oor die mensdom hang (die erfsonde), is permanent verwyder, omdat Jesus die volmaakte en finale offer gebring het, maar terselfdertyd kan ons ook met vrymoedigheid na die Vader gaan en vergifnis vra vir ons daaglikse sonde (die sondesmet) – daardie sonde waarvan Paulus in o.a. Rom.8 en Kol.3 praat. Christus se offer was permanent van aard en daarom kan ons steeds vergifnis ontvang vir ons daaglikse sonde. 1 Kor.6:11 ~ Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

       Die Hebreërskrywer gaan egter in v.15 verder as die beloftes wat Paulus neergepen het en hy herinner ons daaraan dat ons vergifnis permanent is. Omdat Jesus se offer permanent is, is vergifnis permanent – Golgota het dus ’n permanente einde gebring aan die offerandes van die Ou Testament. Sulke offers is nou oorbodig en onnodig. Dit het wel gedien as voorafskaduwing van die beter verbond wat sou kom, maar dit het geen waarde daarna meer gehad nie – dit is waarom ons vandag nog steeds geen offerandes in die Joodse geloof sien nie – selfs al maak miljoene Jode nie deel uit van die nuwe verbond nie.

       Hierdie waarheid, sê die Hebreërskrywer, het die Heilige Gees in ons harte bevestig, daarom dat hy aan die begin van v.15 sê ~ Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Wat getuig die Heilige Gees aan ons? Vv.16-17 ~ Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” 17Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” Hierdie is natuurlik twee verwysings na die profesie wat Jeremia in Jer.31:33-34 gebring het en Jesus se soendood was dan ook die vervulling van hierdie profesie  ~ Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

       Ons Verbondsgod het dus as deel van die nuwe verbond, aan ons belowe dat Hy Sy Gees op ons sal uitstort, ten einde ons wysheid en krag te gee om Sy Woord te gehoorsaam, daarom dat Hy sê, dat Hy Sy wette in ons hart gee en in ons verstand skryf. Hy gaan egter voort in v.17 en herhaal weer, deur te sê dat Hy nooit weer aan ons oortredings sal dink nie. Wat ’n bevrydende gedagte is dit nie! Daarom dat die skrywer in v.18 sê ~ Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
      
6.    AFSLUITING:
       Dit is egter so dat baie gelowiges steeds worstel met sonde wat reeds vergewe is – waarom gebeur dit? Omdat hulle hierdie waarhede waaroor die Apostel skryf en waarvan die Heilige Gees ook getuig, enersyds nie wil glo of verstaan nie en andersyds omdat baie dink dat hulle steeds self iets kan of moet doen t.o.v. hul sonde en hul saligheid en veral om aanvaarbaar vir God te wees.

       Geliefdes, die enigste manier om ontslae te raak van ons sonde en ons skuldgevoelens oor sonde en om derhalwe aanvaarbaar vir God te wees – om permanente vrede te ervaar, is om op Christus se soendood te vertrou en die Woord te glo wanneer dit sê, dat niks, absoluut niks anders van ons vereis word nie. Onthou dit: God se aanvaarding van jou het nog nooit en sal ook nooit op enige prestasie van jou kant af, berus nie. Laat ons eerder ons dwaasheid en sonde van ongeloof bely en onsself toevertrou aan Christus Jesus ons Verlosser.

       Daar is niemand soos ons Here Jesus Christus nie. Hoe verskriklik gaan dit nie wees vir miljoene der miljoene mense wanneer hulle eendag van aangesig tot aangesig met Hom te doen gaan kry nie! Hy is hulle Maker, maar ook hulle Regter. Aan die anderkant egter, hoe wonderlik, genadig en liefdevol is Hy nie teenoor ons wat waarlik glo dat Hy vir eens en vir altyd, vir ál ons sonde boete gedoen het nie! Hy het ons aanvaar en sal ons in der ewigheid nooit verwerp nie! Die Here God het ’n verbond – ’n ewige verbond met ons gesluit en daarom hét Hy ons vergewe en daarom sál ons eendag, die vervulling van Christus se Hoë Priesterlike gebed beleef, nl. ~ Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het (Joh.17:24).


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 16 Junie 2013.