1. INLEIDING:
Ek wil
vanoggend begin met ’n reeks uit die boek Daniël en glo my, ek is bang om my op
hierdie terrein te begeef, want nie alleen is predikers se reaksie een van
"sjoe, maar jy is braaf" as ek vir hulle sê dat ek graag Daniël wil
preek nie, maar ook is hierdie boek volgens
baie mense) dieselfde
as Openbaring – vol geheimenisse.
Bitter
min kinders wat in gelowige huise grootword, is onbekend met Daniël, want Daniël
word in al wat Kinderbybel is, pragtig uitgebeeld met die kleurvolste
illustrasies, maar die probleem is dat hierdie verhaal net breedweg aan kinders
vertel word – net die heldeoomblikke, maar wanneer dit by die latere hoofstukke
kom, skram mense, óf weg van die boek, omdat dit onbekende, vreemde en selfs
ontmoedigende inligting bevat, óf mense neem hierdie laaste gedeeltes en
vervorm die teks, totdat hulle die aller verskriklikste "profesieë"
daaruit aflei.
Terwyl
ek dit sê, moet ons besef dat Daniël weliswaar ’n baie pertinente invloed op ’n
mens se eskatologie kan hê en behoort te hê en dit kan ’n mens baie maklik
afskrik om daaruit te preek, omdat dit ’n groot uitdaging kan wees, maar Daniël
is net soos Openbaring, deel van God se geïnspireerde Woord – dit is deel van
die voltooide kanon en daarom kan en mag ek myself nie daarvan weerhou om
Daniël te preek nie, maar ek vra julle volgehoue en ernstige voorbidding vir my
terwyl ons hierdie baie interessante boek gaan bekyk en ek vertrou dat die Here
ons sal seën terwyl ons op hierdie "reis" gaan (soos Hy ons geseën het, toe ons deur Openbaring
"gereis" het). Ek wil darem ook net sê, dat ons nog van tyd tot tyd weer na die
vorige reeks uit Openbaring sal kyk en ek het ook nie van Hebreërs vergeet nie.
E.B.
Pusey sê van Daniël die volgende: The
Book of Daniel is especially fitted to be a battleground between faith and
unbelief. It admits of no half-way measures. It is either divine or an
imposture. En dit is presies wat ook in die moderne teologie gebeur – die
postmoderne- en liberale teoloë maak Daniël ook af as ’n allegorie (’n sinnebeeldige voorstelling, of in eenvoudige
Afrikaans, sommer net ’n storie – net soos wat hulle ook sê dat o.a. Jona ’n
blote allegorie is).
Sinclair
Ferguson het gesê: To open the Book of
Daniel is to enter a strange but brave new world. Ek nooi julle dus om saam
met my hierdie "strange but brave world", te betree, maar ook met die
wete dat hierdie boek ’n wonderlike en bemoedigende boek is en sentraal in al
hierdie visioene wat neergepen is, is die Evangelie van Jesus Christus.
2. AGTERGROND:
Ons
vind hierdie boek, baie mooi verpak tussen die grootse Ou Testamentiese
profesieë van Jesaja, Jeremia en Esegiël aan die eenkant en die twaalf kleinprofete
aan die anderkant. Daniël was ongetwyfeld ook ’n profeet van God, daarom dat
Jesus in Matt.24:15 van hom sê ~ WANNEER julle dan die gruwel van die verwoesting,
waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat
hy wat lees, oplet (OAV). Laat ons daarom ook
oplet na wat die Here vir ons deur Daniël wil sê.
Die
inhoud van hierdie boek speel homself af teen die agtergrond van een van die
belangrikste tydperke van die Israelitiese geskiedenis, nl. die Ballingskap van
die volk Israel.
Na die
dood van Salomo het sy koninkryk in twee verdeel, met die noordelike stamme wat
as Israel bekend gestaan het en wat Samaria as hoofstad gehad het en die
suidelike stamme wat bekend gestaan het as Juda met Jerusalem as hoofstad. ’n Spoedige
ongehoorsaamheid en verwerping van die Wet van Moses het hierop gevolg, waarop
God toegelaat het dat die Assiriërs met hul bekende hoofstad Nineve, in 721 v.C.
Israel (die noordelike stamme) binneval en baie van
die Israeliete in ballingskap weggevoer het na Assirië. Die suidelike-stammeryk
het hierdie binneval egter aanvanklik ontsnap.
Babilonië
val Assirië in 612 v.C. binne (die profeet Nahum het
o.a. hieroor geskryf in sy profesie) en word Nebukadneser die heerser. Terselfdertyd
verpletter die Babiloniërs, Egipte en word Jojakim, die koning van Juda en die
hele suidelike-stammeryk, ook onderwerp aan Nebukadneser se heerskappy (Dan.1:1; 2 Kon.24:1). Ook van hier word verskeie Judeërs weggevoer na
Babel, waaronder ’n man met die naam van Daniël en van sy vriende. Die
geestelike verval en die ballingskap in die tyd van Daniël word baie mooi
uitgebeeld in Ps.137 (die lirieke van die
popliedjie "By the rivers of Babylon" is natuurlik ook gebaseer op
hierdie stuk geskiedenis).
Die
boek van Daniël kan in twee gedeeltes verdeel word:
·
Hoofstukke 1 tot 6 is biografies van aard en handel hoofsaaklik oor
Daniël se getuienis in die koninklike paleis van Babilon.
·
Hoofstukke 7 tot 12 handel oor Daniël se visioene van God se doel met
die toekoms.
·
Hoofstukke 2 en 7 handel oor die vier wêreld moondhede van daardie tyd.
·
Hoofstukke 3 en 6 is vertellings wat handel oor magtige verlossings.
·
Hoofstukke 4 en 5 beskryf God se oordeel oor wêreldheersers (sien u die interessante samestelling hier?).
·
Hoofstuk 1 skep vir ons die toneel in Babilon ten einde ons in te stel
op dit wat gaan volg.
·
Hoofstukke 8 tot 12 verskaf aan ons insig in die wêreldgeskiedenis, maar
wel deur die "bril" van God se volk.
Net nog
’n heel laaste gedagte voor ons in detail gaan begin kyk na die boek self. Soos
wat ek nou die aand in ons Midweekbyeenkoms genoem het en soos wat ons ook al
in Openbaring gesien het, volg die Bybel nie altyd ’n chronologiese volgorde
nie – bv. jaar een word nie noodwendig opgevolg deur jaar twee en daarna jaar
drie, ens. nie. Ons gaan hier te doen kry met bepaalde perspektiewe en feite
wat oor en oor herhaal gaan word, maar elke keer vanuit ’n ander hoek – hierdie
is dus nie ’n tipiese Westerse manier van dink nie en dit is belangrik dat ons
hierdie feit deurgaans in gedagte sal hou soos ons deur Daniël werk.
3. SKRIFLESING:
Daniël
1:1-2 ~ In
die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadnesar van
Babel teen Jerusalem opgetrek en dit beleër. 2Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in
Nebukadnesar se mag, en ook ’n gedeelte van die
tempelgereedskap, en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat,
en daar het hy dit in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre.
4. DIE MENS
WIK, MAAR GOD BESKIK:
In
hierdie eerste twee verse van Daniël sien ons die realisering van die ou
Afrikaanse spreukwoord, "die mens wik, maar God beskik". Die mens is
aktief in die geskiedenis van hierdie wêreld en doen allerlei dinge – v.1 ~ ...koning Nebukadnesar van Babel
(het) teen Jerusalem opgetrek en dit beleër. Tog is God terselfdertyd aktief besig met
dieselfde geskiedenis – v.2: ... Die Here het vir koning
Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag. Hierdie werklikheid is nou verweef, regdeur die
boek van Daniël, trouens ons sien hierdie feit regdeur die Woord van God – die
mens is besig, maar God ook.
Dit het
dus vir die Israeliete voorgekom, asof húlle God – die God van Israel veel
swakker was as die gode van Babilon, want hulle "heilige stad" was
verwoes en daarmee saam die sentrum van hulle geloof – die Tempel en al die
Tempelgereedskap – die Tempelgereedskap wat later in hoofstuk 5 deur
Nebukadneser ontheilig sou word. Ons sien dus hier die eerste vernietiging van
die Tempel in Jerusalem en dit moes vernietigend vir die Jode gewees het, want
die Tempel het sentraal gestaan in hulle ganse lewe en dit is juis hier waar
hulle geestelike probleem gelê het – hulle het hulle hoop; hulle troos; hulle vergifnis;
ja selfs hulle redding, gesoek in die Tempel en die rituele wat daarmee gepaard
gegaan het en nou het Nebukadneser alles verwoes en weggevoer – skielik is die
God van Israel vir hulle veel swakker as die gode van Babilon.
Vir
hulle het die bose oënskynlik die God van hulle vaders oorwin, maar ons weet en
’n klompie van die karakters wat ons hier in Daniël gaan ontmoet weet, dat God
soewerein is en ook Nebukadneser sou dit op die harde manier in hoofstuk 4
uitvind – hy is uiteindelik uit sy koningskap onthef en uit die samelewing
uitgestoot en het saam met die wilde diere geleef en gras geëet soos hulle. Dit
is wat gebeur wanneer mense die heerlikheid en eer wat vir God bedoel is, vir
hulleself toe-eien – hulle word soos diere en eintlik nog erger as diere.
Nebukadneser
kon die tempelgereedskap heeltemal verwoes het, maar hy neem dit saam met hom
en hy bêre dit ...in die voorraadkamer van die tempel van sy god. Waarom sou hy dit
gedoen het? Eerstens omdat hy waarskynlik daardeur ’n dankoffer aan een van sy
gode by name Marduk bring, vir sy militêre oorwinning, maar ten diepste weet
ons dat die bewaring van hierdie tempelgereedskap eintlik was, omdat God in
beheer is – ook in beheer van die goddelose Nebukadneser – ons sal hierdie feit
ook kort-kort in die eerste vier hoofstukke sien, nl. dat God in beheer van
hierdie man, Nebukadneser se lewe was en daarom kon Nebukadneser nie maar net
doen wat hy wou nie en onthou, God is stil-stil en op die agtergrond besig om
Sy groot plan uit te werk, ten spyte van wat die wêreld besig is om op die
voorgrond te doen – God weet dat Hy die Tempel gaan herstel en dat hierdie
gewyde instrumente weer in die Tempel gebruik gaan word en daarom bewaar Hy dit.
Ons sien dit reeds in Esra 1:7 ~ Koning Kores het ook die goed laat haal wat in die
huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die
tempel van sy god gesit het. 8Koning Kores van Persië het
dit aan Mitredat, die sekretaris van die tesourie, laat oorhandig, en dié het ’n lys daarvan gemaak vir Sesbassar, hoof van die stam
Juda. 9Die volgende stukke was op die
lys (luister net hierna!): 30 goue bakke, 1 000
silwerbakke, en—toe dit weer getel is—nog 29
by, 1030 goue komme, 410 silwerkomme
na hertelling, en ’n 1 000 ander stukke. 11Daar was altesame 5 400 stukke goud en silwer.
Sesbassar het alles saamgevat toe hy die ballinge van Babel af na Jerusalem toe
gebring het. God is inderdaad in beheer en Hy laat nie toe dat Nebukadneser hierdie
skat verwoes nie, want die Ou Verbond is nog in plek en hierdie is geheiligde gereedskap
wat in opdrag van God (reeds so ver terug as Eks.35-38) gemaak en in die
Tempel gebruik is tot verheerliking van God.
Daar hét
egter ’n oomblik aangebreek wat hierdie gereedskap, tesame met die Tempel vir
goed vernietig is en dit was in 70 n.C. toe Jerusalem verwoes is deur die Romeine
o.l.v. generaal Vespasius en die einde van die Ou Verbond daarmee saam
plaasgevind het en die Nuwe Verbond waarvan ons nou deel uitmaak, finaal
gevestig is. Vir nou lyk alles egter verlore vir die Judeërs en twyfel ontstaan in hul gemoedere!
Daar
was egter ’n groepie manne in die verre Babilon wat vasgehou het aan God en God
gevrees het en al die eer wat God toegekom het aan Hom gebring het. Hulle het
ten spyte van die feit dat hulle vreemdelinge in ’n vreemde en vyandige land
was, vasgehou aan die Beloftes van God en ’n radikale en dramaties impak op die
heidense mense van hierdie vyandige land gehad. Hulle het nie hulle verhouding
met die lewende en soewereine God versaak nie. Hulle het nie geknak onder hulle
onhoudbare omstandighede nie. Hulle het nie ineen gekrimp onder die aanslae van
die bose nie. Hulle het nie uit vrees vir die toekoms, moed opgegee nie. Nee,
hulle het God met oorgawe en in geloof gedien – ongeag hulle omstandighede....
....want God het ’n doel met hulle gehad – ’n doel waarvan hulle hoogs
waarskynlik op daardie stadium nie eens van bewus was nie. Daniël en sy vriende
het onwrikbaar vasgehou aan God se beloftes aan hulle voorvader Abraham en wat
telkens daarna aan die volk herhaal is, nl. dat die Tweede Dawid, gebore sou
word – Hy wat die Messias van Sy volk sou wees; die Redder van die mensdom en
God sou nie toelaat dat hierdie heilige lyn van Dawid waaruit die Messias
gebore sou word, vernietig word nie en daarvoor sou Hy Daniël en sy vriende
gebruik.
Nebukadneser
het in die oë van die volk van God, hierdie heilige lyn vernietig – die mens wik,
maar God beskik, want God was steeds, stil-stil en aktief besig in die
dieselfde geskiedkundige tafereel, om Sy plan ten uitvoer te bring – net soos
wat Hy vandag steeds te midde van al die hedendaagse "Nebukadnesers"
en "Babilons", besig is om Sy einddoel te bewerkstellig en dit sal Sy
hoogtepunt bereik wanneer die Here Jesus in die woorde van Openb.22:13-17, weer
terug kom ~ Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om
elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste,
die Begin en die Einde. 14“Geseënd is dié wat hulle klere was,
sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad
kan ingaan. 15Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die
onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid
liefhet en doen. 16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles
aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling
van Dawid. Ek is die helder Môrester.” 17Die Gees en die bruid sê:
“Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet
kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!
5. TOEPASSING:
Wat
moet ons nou maak van al hierdie inligting uit hierdie eerste twee verse van
Daniël?
Ons
sien in v.1 dat koning Jojakim van Juda oorgegee is aan koning Nebukadneser van
Babel. Ons moet onthou dat God se volk in ’n verbond met Hom gestaan het en ons
het al male sonder tal in die verlede gesien, dat ’n verbond twee kante het –
aan die eenkant, seën wat volg op gehoorsaamheid aan die voorwaardes en aan die
anderkant, straf en vervloeking op die nalating van die verbondsvoorwaardes. So
sien ons bv. dat Lev.26:19-25 o.a. waarsku dat hulle in geval van
ongehoorsaamheid, o.a. hulle oeste sal verloor en dat hulle prooi vir wilde
diere en hul vyande sal word en dit is dan presies wat in die jare rondom 600
v.C. met die Verbondsvolk gebeur het – Nebukadneser beleër Jerusalem en baie
mense word weggevoer.
Ons
staan ook in ’n verbond met God en daarom moet ons besef dat daar ook gevolge is
wanneer ons volhard in sonde, maar net soos wat Daniël en sy vriende bemoedig
was ten spyte van hul ballingskap en swaarkry, het hulle geweet en vas geglo,
dat hulle toekoms nie beheer sou word deur die afgode van Babilon nie, maar
deur hul getroue en regverdige en genadige Vader – net so kan ons ook rus in
die wete dat ons regverdige en genadige en getroue Hemelse Vader, ons genadig
sal wees en ons sonde sál vergewe indien ons dit in opregtheid voor Hom bely en
ons daarvan bekeer ~ Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes
en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh.1:9).
Ongeag
ons huidige omstandighede; ongeag misdaad en die ekonomie wat sleg lyk en
diskriminasie en bandeloosheid en verwêreldliking, weet ons dat ons almagtige
God in beheer is en dat ons Sy kinders is en daaraan moet ons vashou.
Die
vyfde element van die Gereformeerde Genadeleer, of te wel die "P" van
die bekende akroniem "TULIP" wat staan vir "perserverance of the
saints" (die volharding van die
gelowiges) staan
vir ons sentraal ook in hierdie verband - ons weet, dat al is ons in hierdie
vyandige wêreld en al word ons geteister deur die "Nebukadnesers" van
ons dag, sal ons nooit uit God se hand val nie ~ En omdat julle glo,
word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds
gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1 Pet.1:5).
Wat was
die implikasie van hierdie waarheid t.o.v. God se uitverkiesende genade vir die
Judeërs wat in ballingskap weggevoer is en meer spesifiek vir Daniël en wat is
die implikasie van hierdie wonderlike Skrifwaarheid vir ons terwyl ons in
hierdie tydelike Babel moet voortswoeg? Petrus is baie duidelik daaroor in 1:5,
dat ons veilig bewaar, of vasgehou sal word, net soos wat ons vorentoe sal sien
hoe Daniël en sy vriende vasgehou was.
Natuurlik
het hulle volharding en daarom ook ons volharding, niks te doen met ons eie
prestasies en inspanning en getrouheid nie, want ons word deur die krag van God
en deur Sy krag alleen bewaar. Dit is waarom die Here Jesus die versekering kon
gee dat niks Sy skape uit Sy hand of Sy Vader se hand kan ruk nie ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle
ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste
van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een (Joh.10:28-30).
Daniël,
sal ons later sien, het voortdurend, vasgestaan in die geloof – hy het nie ’n
aks gewyk van sy geloof nie en dit is ook hierdie geloof wat ons nodig het om vas
te staan en in die geloof te bly tot die einde toe, want dit is geloof wat die
kanaal vorm waardeur God se instandhoudingsgenade in en deur ons vloei.
Volharding in die geloof en ons geloof, staan dus in direkte verband met
mekaar. Tot die mate wat geloof in ’n mens "opdroog", tot daardie
mate stol volharding; en as daar nie meer geloof is nie, versaak die persoon sy
"wedloop."
Waarvoor
is Daniël en sy medegloofsgenote vasgehou – waarvoor word ons vasgehou? Om veilig
bewaar (te word) vir die saligheid wat reeds
gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Die woord
"bewaar" in die Grieks is φρουρέω (phroureō) en beteken letterlik
om sorgvuldig op te pas en te beskerm. Ons as gelowiges is net soos Daniël en
sy vriende, vir tyd en ewigheid aan Jesus Christus toevertrou en aan hierdie
verantwoordelikheid – aan hierdie rentmeesterskap, sal Hy volmaak en onfeilbaar
getrou bly. En Hy kán, omdat Hy nie net mens is nie, maar ook volkome God!
Ons "veilige
bewaring" sal dus in hierdie lewe nie beëindig word nie en ook nie in die
ewigheid in nie! Is dit nie genoeg rede om God te eer en te loof en voor Sy
aangesig in aanbidding neer te val nie?
Hiermee saam moet ons weet, dat dit ook baie
duidelik uit ons teksvers voortspruit, dat God, ongeag wie, wat ook al doen, Hy
altyd Sy doel bereik ~ Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in
Nebukadnesar se mag, en ook ’n gedeelte van die tempelgereedskap,
en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat, en daar het hy dit
in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre (v.2). God het nie toegelaat dat die geheiligde
tempelgereedskap vernietig word nie en net so sou hy Daniël in o.a. die
leeukuil bewaar en net so sal Hy ons teen die bose beskerm en nie toelaat dat
die bose ’n permanente houvas op ons kry nie – die satan sal ons nóóit in der
ewigheid enige permanente leed kan aandoen nie.
Ons is
almal in hierdie wêreld "in-gebore", maar die van u wat nog vasgevang
is in hierdie wêreld, kan hierdie wêreld ontsnap en oorgaan na die ewige stad
van God, deur weer gebore te word ~ Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan
woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het
hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van
dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die
stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is (Hebr.11:9-10). Deur geloof in Jesus
Christus kan ons burgers van die ewige stad van God word en dié van ons wat
reeds burgers van daardie stad is, sal nooit, maar nooit in der ewigheid
daardie burgerskap verloor nie!
[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 02 Junie 2013