Thursday, June 13, 2013

Openbaring Ontsluit – 52 (Satan Gebind - 03)



1.     INLEIDING:
Ons het reeds aangetoon dat ons nou midde in die "millennium" leef; die millennium wat in 70 n.C. begin het en eers afgesluit sal word wanneer die laaste uitverkorene tot redding kom. Regdeur hierdie tydperk sal Satan gebind wees; ingeperk en beperk wees t.o.v. sy optrede soos voor die koms van Christus, toe hy die nasies van die aarde mislei het. Daar kom egter ’n tyd dat hy vir ’n kort tydjie vrygelaat sal word (20:3), maar sy finale nederlaag sal kort daarna volg.   

2.    SATAN WORD OORWIN:
·           Openb.20:7-10 ~ Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. 8Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. 9Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. 10Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. Wanneer Satan uiteindelik aan die einde van die era van die kerk, vrygelaat sal word, sal hy weer gesag ontvang om die nasies te mislei. Ons weet egter dat hierdie loslating van die satan en sy misleiding nie ’n effek op die gelowiges sal hê nie, want almal wat God geroep het om kinders van Hom te wees, sal gered word. Die satan sal spesifiek "Gog en Magog" mislei. "Gog en Magog" is verteenwoordigende uitdrukkings of name in die Ou Testament, van wat teen God was (Eseg.38-39). Ons sien dus hier dat Satan vir oulaas diegene wie hy mislei het, byeen maak en oorlog voer teen die "geliefde stad" (Jerusalem). In Openbaring word daar telkens van die "geliefde stad" gepraat, of te wel van Jerusalem en elke keer verwys dit na die Kerk van die Here Jesus. Wat hier dus staan, is dat die satan op een of ander wyse diegene wie hy verlei het, bymekaar bring om teen die Kerk, oorlog te voer. Hier word dus van ’n geestelike oorlog gepraat, eerder as ’n fisiese oorlog. Weereens moet ons onthou dat dit nie ’n oorlog is wat lank gaan duur nie. Daar gaan dus heel aan die einde van die menslike geskiedenis ’n geweldige opstand vir ’n tydjie teen die Kerk van Christus kom.

Wanneer Satan egter dink dat hy die oorwinning gaan behaal oor die Kerk, volg sy vernietiging en word hy finaal oorwin ~ Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer (v.9b). Is hierdie ’n letterlike vuur? Hierdie is waarskynlik ’n verwysing na Paulus se lering oor die Tweede Koms van Christus ~ God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo (2Tes.1:6-10).

Daar is mense wat hierdie gedeelte sal interpreteer met die val van Jerusalem in gedagte en dit kan waarskynlik ’n geldige interpretasie wees, maar ek dink as ’n mens na die hele gedeelte, asook die res van Openb.20 kyk, sou hierdie gedeelte beter inpas by ’n verklaring wat handel oor Jesus se wederkoms aan die einde van die menslike geskiedenis. Let op dat ...wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn.Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie (2Tes.1:7b, 8), bevestig tog hierdie interpretasie, nie war nie? Christus gaan dus met vuur vanuit die hemel terug keer na die aarde ten einde wraak te neem op Gog en Magog – hulle wie deur die satan mislei is en ingespan is teen die kerk.

Dit is o.a. hier waar ons teologiese paaie met dié van die Pre-Millennialiste skei. Volgens die Pre-Millennialiste vind die wederkoms van Christus in Openb.19:11-21 plaas en dit word dan gevolg deur ’n "1000-jarige vrederyk", soos beskryf (volgens hulle) in Openb.20. Die Skrif toon egter ondubbelsinnig aan ons dat Christus se wederkoms eers aan die einde van die millennium sal plaasvind, want dan eers gaan die satan in die poel van vuur gewerp word.

Die millennium (of te wel "die era van die kerk") waarin ons onsself nou bevind, is ’n tyd van wonderlike Evangelie-seën regoor die wêreld (Openb.20:1-6) en eers aan die einde van hierdie tydperk (ons weet nie hoe lank hierdie millennium gaan duur nie), sal Jesus liggaamlik en sigbaar terugkeer na die aarde (20:7-10) en sal Satan finaal geoordeel word. Die volgende vyf verse gaan ons bekendstel aan Christus se finale oordeel, wat volg op die algehele opstanding.

·           Openb.20:11-15 ~ Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. 12Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi. Hierdie verse verbeeld vir ons die finale "geskiedenis-beëindigende" oordeel, wat plaasvind nadat alle dooies deur die eeue heen, opgestaan het. Soos ons binnekort sal sien, fokus hierdie spesifieke gedeelte oor die oordeel wat oor die ongelowiges gevel gaan word – die fokus van die gelowiges se oordeel was Golgota!

Wie is die Regter? Dit is duidelik uit ons verse onder bespreking, dat Jesus Christus self die Regter is. Ons het alreeds die Seun van die Mens op ’n "wit wolk" gesien (14:14); die Woord van God op ’n "wit perd" (19:11); nou sien ons Hom op die "groot wit troon". Dit pas dan ook pragtig in by die Bybelse prentjie wat vir ons in Joh.5:22-29 geskilder word ~ Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. 23Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. 24“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. 26Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. 27Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. 28Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.” V.22 toon dus baie duidelik vir ons aan dat Jesus Christus die Regter gaan wees.

Wie is die Veroordeeldes? In v.12 (van OIpenb.20) sien ons dat die veroordeeldes, al die dooies (groot en klein) is. Waar kom hulle oral vandaan? V.13 ~ Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was. Alle dooies van alle plekke af, sal opgewek word aan die einde van tye, ten einde geoordeel te word.

Die Oordeel: Daar gaan twee boeke direk na die opstanding geopen word – vers12 ~ ... en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Daar is dus eerstens, ’n "boek van werke" (vv.12-13). Diegene wat aan die hand van hierdie boek veroordeel gaan word, word op grond van hul eie werke veroordeel. Wat is die uiteinde van hierdie oordeel? Vers 15 ~ As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi. Diegene wie se name opgeteken is in die "boek van werke", word op grond van hul werke geoordeel – dit impliseer dus ook dat al hul sonde in hierdie boek opgeteken is en dat hulle dus ook in die lig van hulle sonde geoordeel gaan word.

Die "boek van werke" is egter nie die enigste een wat geopen gaan word nie – daar is ook die "boek van die lewe" (v.12). Wat is hierdie boek? Dit is ’n lys met al die name van diegene wat vergewe is en vir wie geregtigheid deur die kosbare bloed van Jesus bewerkstellig is – en hulle name was alreeds voor die grondlegging van die aarde in die "boek van die lewe" geskryf. Diegene wie deur Christus se kruisdood met God versoen is, se name is nêrens te vinde in die "boek van werke" nie. Hierdie optrede van God is regverdig, want die verloregaandes het gekies om God die rug te keer, of hoogstens om Hom deur werke te probeer beïndruk, wat ons natuurlik weet, nie goed genoeg is nie. Diegene wie geregverdig is, ontvang God se seën, omdat Christus alles gedoen het wat nodig was om God tevrede te stel.

Wat ’n wonderlike wete – as jou naam in die "boek van die lewe" is, is dit nié in die "boek van werke" nie, want Jesus Christus se geregtigheid; Sy offer wat Hy aan die kruis gebring het; Sy Kruisdood; het jou en my oortredings uit die "boek van werke" gevee en terselfdertyd ons name in die "boek van die lewe" geskryf, want Christus het die Wet namens ons, volkome vervul. As dit nie goeie nuus is nie, weet ek nie wat is goeie nuus nie!

Diegene wie se name egter nie in die "boek van die lewe" geskryf is nie, sal gevonnis word ~ Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi (vv.14-15) – ewige skeiding van God en ewige foltering – dit is die vonnis wat voltrek word op almal wie nie deur Christus se bloed gereinig is nie. Volgens Mark.9:42-50 sal die vuurpoel ’n plek wees waar ...die wurm nie dood(gaan) nie en word die vuur nie geblus nie.”

Wat word dan regtig vir ons hier in Openb.20 geleer? Na die verwoesting van Jerusalem, het Christus geestelik neergedaal vanuit die hemel en Satan gebind vir ’n lang tydperk ("millennium") en gedurende hierdie tydperk sal die kerk van die Here Jesus Christus uitbrei en sal die Evangelie oral oor die wêreld heen verkondig word – op hierdie wyse regeer die kerk (die gelowiges) saam met Christus. Aan die einde van die millennium (soos ons reeds gesien het), sal die satan vir ’n kort tydjie losgelaat word, maar na hierdie kort tydjie, sal Christus fisies terugkeer na die wêreld. Satan sal in die poel van vuur gewerp word. Die algemene opstanding sa plaasvind en Christus se finale oordeel sal daarop volg. Nadat die oordeel afgehandel is, sal Christus die Koninkryk aan Sy Vader oorhandig (1Kor.15:24-28). Dit sal die einde van die mens se geskiedenis op aarde wees.

Openb.20 handel dan gedeeltelik oor die millennium, maar dit is veel, veel meer as net dit! Dit toon ook aan ons dat Christus se Koninkryk stadig maar seker vooruit beur hier op aarde en dat die Evangelie na al die uithoeke van die aarde uitgedra word, totdat Christus uiteindelik kom en die wie se name in die "boek van die lewe" geskrywe staan, sal ’n ewigheid saam met die Vader in die hemel deurbring – Dit is voorwaar goeie nuus!


[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Baptistegemeente.  Vereeniging – 19 Februarie 2012