1. INLEIDING:
Waar ons verlede week aan
die hand van Ps.25 gefokus het op God se verhouding tot ons, het ons o.a. gekyk
na Sy volmaakte liefde vir ons, asook die feit dat Hy ons lei en ons volkome
vergewe het. Vandag gaan ons fokus op ons verhouding met die Here Jesus
Christus en óns aandeel in hierdie verhouding.
Daar is talle vooraanstaande predikers en
teoloë wat deur die eeue heen gesê het en steeds sê, dat die boek Hooglied een
van die kosbaarste van al die boeke in die Bybel is. Charles Spurgeon het o.a.
die volgende oor Hooglied gesê: This Book
stands like the tree of life in the midst of the garden, and no man shall ever
be able to pluck its fruit, and eat thereof, until first he has been brought by
Christ past the sword of the cherubim, and led to rejoice in the love which
have delivered him from death. The Song of Solomon is only to be comprehended
by men whose standing is within the veil. The outer court worshippers, and even
those who only enter the court of the priests, think the Book a very strange
one; but they who come very near Christ can often see in this Song of Solomon
the only expression which their love to their Lord desires.
Die boek van Hooglied begin in vers 1 met die
boek se titel, nl. šîr haššîrîm, wat
’n Hebreeuse idioom is wat die oortreffende trap uitdruk. Dit wil dus letterlik
vir ons sê dat hierdie lied, die lied van alle liedere is – die beste en die
mooiste m.a.w. Soortgelyke Hebreeuse uitdrukkings wat die oortreffende trap van
iets uitdruk, is bv. die bekende uitdrukking in Eks.26:33 waar ons lees van die
tabernakel se "Allerheiligste".
Die eerste woordjie šîr, dui
op ’n vrolike lied en is gewoonlik gebruik in liedere wat tydens feeste gesing
is – ’n pragtige voorbeeld hiervan is bv. Jes.30:29 ~ Maar julle sal sing soos in die nag voor ’n fees, julle sal vrolik wees
soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe,
na die Rots van Israel toe. Geen wonder dan, dat die titel van
hierdie boek, Salomo se mooiste lied is nie.
2. SKRIFLESING:
Wanneer
ons uit ons Skriflesing vir vandag lees, sal u merk dat die oorheersende
struktuur van Hooglied, ’n reeks van monoloë en dialoë is. Die hele boek is
verdeel in 6 siklusse en ons gaan vandag kyk na die eerste gedeelte van die
eerste siklus.
Hooglied
1:1-7 ~ Salomo se mooiste lied.
Sy: 2“Soen
my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn, 3jou
parfuum ruik so lekker, jou naam is suiwer parfuum: daarom het die meisies
jou so lief. 4Vat my saam met jou, kom ons hardloop!” Die koning
vat my toe na sy kamer toe.
Hy: “Kom ons juig,
kom ons wees vrolik oor jou!”
Sy: “Kom ons prys jou
liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan dat die meisies lief is
vir jou. 5“Ek is bruin gebrand maar ek is mooi, vroue van
Jerusalem. Ek is so bruin soos die tente van Kedar, soos die tentdoeke van
Salomo. 6Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die
son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my
die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie. 7“Sê
my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus
op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die
veetroppe van jou vriende rondsoek?”
3. DIE
BEMINDE SE EERSTE PLEIDOOI:
Die
eerste woorde wat ons in hierdie lied hoor, is dié van die meisie in vv.2-4.
Dit is interessant om te sien dat die meisie se woorde, meer as die helfte van
die totale gesprek in beslag neem – haar woorde spreek van verlange; van
hunkering; van vrees en van genot.
Haar
eerste woorde is ’n dringende pleidooi en ’n diep begeerte wat sy tot haar
minnaar rig – sy begeer sy liefkosings en sy soene; sy begeer sy intieme
teenwoordigheid, sodat sy, sy parfuum kan ruik – in die oorspronklike teks word
daar eintlik gepraat van "salf" – dit was natuurlik ’n welriekende
salf wat gebruik was om mans lekker te laat ruik. Sy sê dat haar minnaar so
heerlik ruik, dat dit geen wonder is dat die meisies so gek is na hom nie (ons
moet vir geen oomblik dink dat hierdie man verwyfd was omdat hy parfuum gebruik
het nie – dit was alledaagse gebruik onder die jong Israelitiese manne van
daardie dae – iets soos ons "deodorant").
Sy
sê ook dat haar minnaar se liefkosings beter as wyn is. Omdat wyn ’n baie
belangrike rol gespeel het in enige vorm van die destydse feesvierings, is dit
gepas dat die geliefde haar begeerte na haar minnaar vergelyk met wyn en sy sê
dat sy liefkosings vir haar selfs beter sal wees as wyn.
Hy
gee gehoor aan haar diepste begeerte; haar pleidooi en hy neem haar na sy kamer
toe en hy is saam met haar opgewonde en vrolik oor die vooruitsig van hul
liefkosings wat op hande is en dan herhaal sy in v.4. as refrein, dít wat sy
aan die begin van haar pleidooi (v.2) gesê het ~ Kom ons prys jou liefkosings, dit is beter as wyn! Ek kan verstaan
dat die meisies lief is vir jou.
Wat
ook uitstaan in hierdie gedeelte, is hierdie meisie se openlike verklaring van haar liefde vir haar
minnaar. Hulle wil dus hê dat die ganse wêreld moet weet van hul liefde vir
mekaar, maar hulle tye van intimiteit spaar hulle vir die privaatheid van haar
geliefde se kamer – daar waar die openbare oog nie kan sien hoe hy haar soen en
liefkoos nie.
Hierdie
paartjie verteenwoordig elke man en elke vrou en hulle versugting en optrede is
’n weerspieëling van elke man en elke vrou se intiemste verlange.
Hierdie boek is deur Salomo geskryf is
en die vraag is: Oor wie en watter omstandighede skryf hy hier? Salomo gee hier
’n beskrywing van een van drie jong meisies:
·
Die een moontlikheid is dat Salomo 'n beskrywing
hier gee van ’n meisie wat teen haar sin weg gevoer is na die koning se kamer
en deel gemaak is van sy harem en terwyl sy daar is, roep sy na haar geliefde
buite die paleismure.
·
Of dit is
'n beskrywing van ’n jong meisie wat deel is van sy harem, maar wat
terselfdertyd verlief is op hom.
·
Is dit dalk ’n beskrywing van die aankoms van
Salomo se bruid – ’n Egiptiese prinses en dié se hartsbegeerte wat sy hardop
teenoor hom uitspreek (1Kon.3:1
~ Salomo het hom verbind aan die familie van die farao, die koning van Egipte.
Hy het getrou met die dogter van die farao en haar in die Dawidstad laat woon
totdat hy sy paleis en die tempel van die Here en die muur rondom die stad klaar
gebou het)?
Wat die geval ook al mag wees, ons moet
enersyds tevrede wees met die gebrekkige inligting, maar andersyds is die
motief van Salomo dalk juis hier om dubbelsinnig van aard te wees, sodat elkeen
van ons hiermee kan identifiseer.
Ons
moet verder in gedagte hou dat hierdie pragtige boek wat Salomo geskryf het,
deel is van die wysheidsliteratuur en daarom is hierdie eerste vier verse van
Hooglied, ’n pragtige beskrywing van ’n hart wat vernuwe is deur God se genade
en wat uitroep na Jesus Christus, die groot "Objek" van so ’n
gelowige se liefde. Daarom dat Spurgeon sê dat hierdie boek, ...is only to be comprehended by men whose
standing is within the veil.
Iemand wat nie in Christus ingeplant is nie, sal hierdie stuk prosa en lied van
Salomo glad nie verstaan nie.
Ons
moet ook besef dat hierdie verse (2-4) nie soseer ’n beskrywing is van die Here Jesus Christus (die
Bruidegom van die Kerk)
nie – dit is eerder ’n beskrywing van die begeerte van ’n kind van God na
geestelike gemeenskap met Christus en ’n ervaring van Sy liefde vir Sy kind. ’n
Ware en opregte en reddingservaring deur Christus, het altyd ’n hartstogtelike
liefde vir Hom tot gevolg.
Ons
kan vv. 2-4 kan dus diagrammaties as volg voorstel:
V.2
|
Die minnaar se
soene
|
Die genieting van
Christus se liefde
|
V.3
|
Die geur van sy
parfuum
|
Die
voortreflikheid ("excellence") van Christus se Naam
|
V.4
|
Die privaatheid
van sy kamer
|
Die intimiteit
daarvan om in Christus se teenwoordigheid te wees
|
Kom
ons kyk dan eerstens na v.2 ~ Die minnaar
se soen: Hierdie woorde is woorde wat deur iemand uitgespreek word wat
reeds bemin word deur Christus.
Die
wortelbetekenis van hierdie Hebreeuse woord vir soen, is "om saam te voeg", spesifiek, "mond tot mond". Hierdie pleidooi van die gelowige wat
gerig word tot Christus, is die begeerte van die Christelike kerk deur die eeue
heen na nóg meer van Jesus se liefde, asook ’n erkenning daarvan dat Christus
se liefde vir haar (die Kerk) die beste en grootste liefde van alle
liefdes is. Fil.3:10-11 vat dit baie mooi saam ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te
ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in
die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. Dit is dus ’n voortdurende begeerte
om nóg meer en nóg meer van Sy, die Bruidegom se liefde te ervaar.
Waarom
sou die meisie sê dat haar minnaar se liefkosings beter as wyn is?
·
Eerstens natuurlik, omdat dit Christus se liefde is en
geen liefde kan daarmee vergelyk word nie.
·
Christus se liefde kan sonder vrees geniet word,
terwyl daar baie besliste gevare gekoppel is aan die gebruik van wyn wat o.a.
kan lei tot afhanklikheid daarvan. Geen wonder dat Spr.20:1 as volg lees nie ~ Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou
lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie.
Christus se liefde daarenteen, het nét die goeie tot gevolg en kan geen skade
berokken nie – slegs seën en vreugde en plesier.
·
Ps.104:14-15a sê ~ U
laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy
kos uit die aarde kan kry: 15wyn om mense se harte bly te maak.
Hierdie blydskap wat wyn tot gevolg kan hê, is egter van korte duur, terwyl
Christus se liefde, blywende genot inhou.
·
Wyn mag van goeie gehalte wees, maar wyn is nooit
volkome suiwer nie, terwyl Christus se liefde absoluut volmaak is. Ook moet ons
besef dat Christus se liefde in die meervoudsvorm gebruik word – Sy liefde
verwys dus na Sy verbondsliefde; Sy uitverkiesingsliefde; Sy reddingsliefde; Sy
aannemingsliefde; Sy leidings- en lydingsliefde; Sy Volhardingsliefde; Sy
verheerlikingsliefde; Sy vergewingsliefde; Sy dissiplineringsliefde; Sy
voorsieningsliefde; Sy leringsliefde; ens. En wat meer is, hierdie liefde van
Christus duur vir ewig!
Die beminde se verwysing na haar
minnaar se parfuum, of soos ons netnou gesien het, sy welriekende salf,
herinner aan Ps.45:9 ~ Die geur
van mirre, aalwyn en kaneel deurtrek al u klere; musiek uit u ivoorversierde
paleis maak u bly. Dit
herinner egter ook aan die Sterrekykers uit die Ooste, of te wel die Wyse Manne
se geskenke wat hulle vir Jesus met Sy geboorte gebring het ~ Hulle het in die huis ingegaan en die
Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom
hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke
uitgehaal: goud, wierook en mirre
(Matt.2:11).
Wat hier van belang is, is dat Salomo in v.3 sê (en daarvoor
moet ek uit die O.A.V. lees)
~ U salf is aangenaam van geur, u
naam is soos salf (en dan hierdie woorde) wat
uitgegiet is; daarom het die
jonkvroue u lief – "wat
uitgegiet is" (E.S.V. = …your name is oil poured out). Met hierdie vergelyking van die
beminde waar sy haar minnaar vergelyk met salf wat uitgegiet is, word ons o.a.
herinner aan Jesus se majesteit – Hebr.1:9b sê ~ ...Daarom het God, u
God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.
Wie is die meisies in v.3, of die
"jonkvroue" soos die O.A.V. na hulle verwys, of die
"maagde" soos die meeste Engelse vertalings na hulle verwys? As ons
na Openb.14:4 blaai, kan ons ’n antwoord op hierdie vraag kry ~ Dit is hulle wat hulle nie met vrouens
besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan.
Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam. ’n Duidelike verwysing dus na die
Matt.5:8-gelowiges ~ Geseënd is
dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
In
vers 4 sien ons die effek van hierdie liefdesverhouding tussen die beminde en
die minnaar, of te wel Christus en die kerk. Christus trek elke gelowige nader
na Hom en kan ons die intimiteit van Sy teenwoordigheid ervaar. Elke sprankie
ervaring van Jesus se liefde en Sy genade, laat die liefde in die gelowige se
hart toeneem en is die begeerte na die hereniging tussen die gelowige en
Christus in die hemelse Koninkryk, soveel groter.
4. DIE
ONSEKER MEISIE:
Nadat die meisie en haar minnaar met
mekaar gepraat het in vv.2-4, sien ons nou in vv.5-7 dat die meisie vir die
eerste keer haar onsekerheid en haar vrese uitspreek. Sy is onseker oor wat die
reaksie van die "dogters van Jerusalem" sal wees oor haar donker
gelaatstrekke. Op
die koop toe, sê sy ook nog dat haar broers vir haar kwaad is.
Sy sê in v.6 waarom sy so donker van
kleur is, nl. dat haar broers haar gedwing het om in hulle wingerd te werk en
daar het die son haar bruin gebrand en het sy nie genoeg tyd gehad om haarself
behoorlik te versorg nie. Om dit te verstaan, moet ons ietsie van die kultuur
van daardie tyd weet en dit is dat mans in daardie dae meisies met ’n ligte vel
verkies het en verkieslik ook nog een met blonde hare – ’n donker of blas
meisie was dus nie in aanvraag nie en sy voel onseker en minderwaardig, maar
tog is sy beeldskoon en sy is baie deeglik bewus daarvan. Dit maak dus nie saak
wat die ander meisies van haar dink nie en dit maak nie saak of haar uiterlike
dalk verwaarloos is op hierdie stadium nie – feit is, sy weet dat sy mooi is,
maar wat meer is, sy weet dat sy beeldskoon vir haar minnaar is.
Sy vergelyk haarself ook met die tente
van Kedar. Die nomade van Kedar was afstammelinge van Ismael en het in tente
van bokvel gebly – hierdie bokvelle het met die tyd saam al donkerder geword
a.g.v. blootstelling aan die son en stof. Hierdie tente staan in skrille kontras
met Salomo se kleurvolle en skoon paleis- en tempeldoeke.
Hoe moet ons hierdie gedeelte
verstaan? Hierdie is ’n tipiese beeld wat die gelowige van homself het – ons
weet dat ons gered is, maar tog aan die anderkant is ons steeds sondaars.
Ten spyte van die feit dat ons
voortdurend bewus is van ons sonde, is ons terselfdertyd pynlik bewus van God
se genade en vergifnis in ons lewe. Ons voel dikwels donker of duister in ons
binneste en tog is ons ’n lieflike geur vir die Here Jesus. Ons word voortdurend
onderwerp aan beproewing en tog stel God ons in staat om te volhard. Soms voel
ons soos die tente van Kedar – vuil en swart en tog in Christus kan ons
vergelyk word met die mooiste en kleurvolste doeke in Salomo se paleis en
tempel – ons is, soos Paulus dit stel in Rom.13:14,...beklee met die Here Jesus Christus... (O.A.V.).
Aan die eenkant is daar ’n gevoel van
onwaardigheid en wegwerplikheid by ons as gelowiges teenwoordig en tog aan die
anderkant, beskik ons oor ’n vaste wete van wie en wat ons in Christus Jesus is
~ ...ons (is) meer as oorwinnaars
deur Hom wat vir ons liefhet
(Rom.8:37).
Die meisie in ons Skrifgedeelte sê ook
dat sy ten koste van haarself na haar broers se wingerde omgesien het. Ons moet
so versigtig wees dat ons nie ons eie geestelike lewe afskeep ter wille van
andere en allerlei programme en "geestelike aktiwiteite" nie. Ons
eerste prioriteit is altyd om tyd met God te spandeer – skeep ons dit af,
betaal ons die prys daarvoor. As jou eie "wingerd" afgeskeep word,
groei die vuilgoed geil daarin en is die oes op die ou einde skraal tot geen.
Hierdie feit verduidelik dan ook aan
ons die vraag wat die meisie in v.7 aan haar minnaar stel ~ Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou
kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter
’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek? Hierdie meisie is op soek na haar
geliefde – waarskynlik is sy moeg gewerk in haar broers se wingerde en vir die
feit dat sy haarself te na gekom het wat haar fisiese voorkoms betref en daarom
wil sy na haar minnaar gaan, sodat sy kan rus en vernuwe kan word na haar
uiterlike. Sy vra na ’n geheime ontmoeting met hom, sodat sy, sy liefde en
nabyheid kan ervaar, maar sy weet nie waar hy is nie en daarom vra sy
spesifieke aanwysings na waar hy homself bevind, want anders sal sy haarself
moet versluier en na hom gaan soek en dit was hoegenaamd nie fatsoenlik ("respectable")
vir ’n meisie om haar
geliefde te gaan opsoek nie. As sy ’n sluier dra, het dit egter ook bepaalde
implikasies, want dit was hoofsaaklik prostitute wat in daardie dae sluiers
gedra het (Tamar bv. in Gen.38:14-15). Sy wou nie graag ’n verleentheid vir
haar geliefde wees nie en ook nie die oorsaak van die ander vroue se geskinder
nie.
Hierdie meisie se fokus verskuif dus
nou van arbeid in ’n wingerd onder dwang van haar broers, na die kleinvee van
haar geliefde – daar waar sy eintlik wil wees.
Opregte en ware geloof sal onverpoosd
die aangesig en teenwoordigheid van Christus opsoek – daar sal ’n voortdurende
begeerte na gemeenskap met Hom wees. Ware geloof is nooit selfversekerd en
selfgenoegsaam nie Indien dit afwesig
is, is daar vuilgoed in jou wingerd en is dit rede tot ernstige kommer.
Hebr.12:1-4 moet voortdurend my leuse in hierdie geestelike wedloop op aarde
wees ~ Terwyl ons dan so ’n groot
skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die
sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê,
met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en
Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die
vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug
te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou
Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het.
Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
5. AFSLUITING:
Geliefdes, ons moet besef en glo dat
ons in en deur die Here Jesus Christus, volmaak aanvaarbaar gemaak is vir God.
Om dit te bevestig kan ons in die lig van Salomo se wysheidsliteratuur hierdie
feit dat ons aanneemlik vir die Vader is, bevestig deur die woorde van die
profeet Esegiël ~ Ek het jou
gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer. 10Ek
het vir jou ’n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het
vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof. 11Ek het
jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit, 12’n
ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en ’n pragtige krans op jou kop. 13Jy
kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige
materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword,
geskik om ’n koningin te wees. 14Jy het onder die nasies beroemd
geword om jou skoonheid. Dit was ’n volmaakte skoonheid, die gevolg van die
prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God (Eseg.16:9-14).
Waar staan jy vanoggend as jy jouself
en jou verhouding met Christus, vergelyk met dié van die meisie en haar
verhouding met haar beminde?
·
Is daar 'n diep begeerte en verlange na
gemeenskap met jou Beminde? Of is jy soos die meisie wat weggevoer was en
steeds roep en terug verlang na haar beminde buite die paleismure?
·
Of is jy soos die meisie wat in die Koning se
harem is en wat dolverlief is op hom? Het jy daarom ook 'n dringende begeerte
en hunkering na jou Bruidegom, Jesus Christus? Is Hy vir jou die ALLER
BELANGRIKSTE en grootste vreugde van jou lewe? Streef jy daarna om 'n skoon
wingerd te hê?
[1] Boodskap
gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK
Baptiste Gemeente (Vereeniging)
- Sondagoggend 07 Julie 2013