Monday, November 30, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (29 November 2009)

Goeie Werke of Werke van die Vlees?-02 [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Wanneer ons praat oor die onderwerp, “goeie werke” of “werke van die vlees”, moet ons sommer uit die staanspoor kyk na wat die Woord vir ons sê t.o.v. die “reëls vir wedergeboorte” of “ware reddingsgeloof”, en ons kan dit kortliks as volg opsom:
· Daar is geen regverdigmaking sonder wedergeboorte nie. Dit was Jesus wat in Joh.3:7 (O.A.V.) gesê het ~ Julle moet weer gebore word.
· Tweedens leer Jakobus ons in Jak.2:20 dat ons geloof nutteloos is sonder dade.
· Die merk van ware wedergeboorte is volharding in die geloof – tot op die einde. Jesus het vir Sy dissipels gesê ~ Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word (Matt.10:22).
· In die vierde plek moet ons besef dat nét ’n geloof in Jesus as Redder, nie reddingsgeloof is nie, want Jesus moet ook Here van my lewe wees. Dit is waarom Jesus in Luk.6:46 gesê het ~ Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? Die O.A.V. stel dit vir my nog mooier ~ En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?
· As ons sê dat ons wedergebore is en ons wil Christus dien, moet ons ook bereid wees, om in die woorde van Luk.9:23, ons kruis elke dag op te neem en Christus te volg.
· En laastens moet ons die woorde van Hebr.2:14 ter harte neem, waar daar o.a. staan, dat niemand die Here sal sien sonder heiligmaking nie.

Om dus te kyk na werke en te besluit of dit goeie werke of werke van die vlees is, moet ons gaan kyk na wat die Woord vir ons sê wat die Evangelieboodskap behels en wat dit vir ons as gelowiges leer.

2. SKRIFLESING:
Matt.7:1-24 ~ “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2 met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. 3 “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog? 5 Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal. 6 “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.” 7 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8 want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 9 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, 10 of ’n slang as hy vis vra? 11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? 12 “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” 13 “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.” 15 “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. 16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? 17 Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. 18 ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” 21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22 Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ 23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” 24 “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.

3. DISSIPELSKAP:
Ongelukkig is dit so dat die “Evangelieboodskap” van ons dag, baie vals hoop vir sondaars inhou, want dit belowe o.a. die ewige lewe aan mense terwyl die indruk geskep word dat die persoon maar kan leef soos hy wil, solank hy net sy hart vir die Here gegee het, of Jesus as sy persoonlike Saligmaker aanvaar het, of solank hy net Jesus in sy hart ingenooi het. Nêrens word daar egter vir sulke mense gesê dat die Woord van God ook van hulle verwag om Jesus Christus in gehoorsaamheid na te volg nie. Nêrens of ooit word daar aan so ’n persoon gesê dat dissipelskap en ’n gees van onderwerping en liefde en diensbaarheid van ’n dissipel van Jesus vereis word nie. Ons praat dus hier van Jakobus se “NA-wedergeboorte werke” (waarna ons verlede week gekyk het).

Wat ons dus aan gelowiges (jonk en oud) moet voorhou, is dat die Evangelie van Jesus Christus, geen goedkoop Evangelie is nie – ons kan en mag onder geen omstandighede vir mense laat verstaan dat hulle gered is, terwyl daar geen vrug in hul lewe is nie. Jesus het sy toehoorders in Matt.7:21-22 gewaarsku oor hierdie feit, toe Hy gesê het ~ Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22 Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?

Ons kan dus nie sonder meer aanvaar dat ons wedergebore is, bloot net omdat ons die spreekwoordelike geeste kan uitdryf, of omdat ons op die “stippellyntjie” geteken het nie. Nee, die Skrif dring daarop aan, dat ons, onsself sal ondersoek ten einde vas te stel of ons régtig in die geloof is – 2Kor.13:5 ~ Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie. Die Skrif is baie duidelik daaroor dat ’n boom geken word aan die vrugte wat hy dra (Luk.6:44). En Jak.2:14a sê ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie?

Ware redding is nie nét regverdigmaking nie. Ware redding kan nie geïsoleer word van wedergeboorte en heiligmaking en uiteindelik verheerliking nie. Redding is dus nét so ’n voortgaande proses, as wat dit ’n afgehandelde proses is. Openb.22:17 is ’n baie belangrike vers in hierdie verband ~ Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet! God roep ons dus, deur te sê “kom”, maar ons moet daarop reageer, deur te “hoor”, maar ek moet ook “dors” na die waarheid en na verlossing – ek moet dit dus ook wíl “hê” en daarom moet ek “doen” en dit “kom kry”.

Onthou steeds, dat ons hier besig is met “NA-wedergeboorte werke” en nié “VOOR-wedergeboorte werke” nie, m.a.w. ons kan nooit gered word op grond van ons werke of goeie dade nie. Waarmee ons wel hier besig is, is daardie goeie werke wat die Here Jesus van ons verwag nadat ons wederbaar is, daarom dat Jakobus in Jak.2:18b sê ~ Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.

Wanneer ons wederbaar is, word daar van ons verwag om waardig ons roeping op te tree en derhalwe gehoorsaam te wees aan Christus se opdragte, daarom dat Joh.3:36 sê ~ Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom. En Hebr.5:9 ~ (Christus) het vir almal wat hom gehoorsaam is, ’n bewerker van (die) ewige saligheid geword. Dit is dus baie duidelik dat ware geloof meer is, as bloot net geloof in Jesus Christus.

Dit impliseer meer as net ’n aanvaarding en verklaring van die waarheid t.o.v. Christus, nl. dat Hy God in menslike vlees is – dit behels meer as net geloof in wat Hy gesê het. Ware geloof moet dus altyd uitloop op gehoorsaamheid. Ware geloof het dus altyd ’n impak op die gelowige se lewe en gedrag. Ware geloof kan nie die gelowige se lewenswyse, onaangeraak laat nie. Ware geloof kan dus nie ’n vrugtelose lewe tot gevolg hê nie.

’n Pragtige voorbeeld vir ons uit die Skrif, is die verhaal van die blinde man in Johannes 9. In verse 1 tot 7 lees ons die volgende ~ Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. 2 Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” 3 En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4 So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. 5 Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” 6 Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ’n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë 7 en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is. Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. God het ’n werk in hierdie man se lewe begin en hy moes in reaksie daarop, die klei van sy gesig gaan afwas. Die uiteinde hiervan was dat hy voor die Fariseërs moes verskyn, waarop hy ’n baie duur prys betaal het vir sy gehoorsaamheid – hy is uit die sinagoge verban en is afgesny van alle Joodse sosiale familiebande en -verhoudinge. Hy het op daardie stadium nog nie régtig geweet wie Jesus werklik is nie – Hy het Christus nog nie ten volle geken nie, maar, hy was volkome aan Hom toegewy en Hy het Jesus “blindelings” nagevolg.

Die gevolg dus van geestelike sig (herstel en verlossing van geestelike blindheid) in die geval van die blinde man, was die woorde in Joh.9:38 ~ Ek glo, Here! En hy het Hom aanbid. ’n aanbiddende hart dus, wat uitverkoop is aan Jesus Christus.

4. DIE RYK JONG MAN:
Nog ’n unieke voorbeeld waarna ons moet kyk is die voorbeeld wat Jesus vir ons gegee het, toe Hy die gelykenis van die Ryk Jongman vertel het in Matt.19:
· Hierdie man het ’n Opregte motief en begeerte gehad – Hy was op soek na die ewige lewe. Hy het omtrent alles besit wat ’n jong man maar kon begeer, behalwe dat hy nie oor geloofsekerheid beskik het nie. Daar het ook niks geskort met sy motiewe nie, want dit is goed en reg om die ewige lewe te begeer. Hierdie man was jonk (Matt.19:20) en ryk (v.22) en volgens alle aanduidings was hy ook ’n leier - waarskynlik in die sinagoge (Luk.18:18). Hy het dus oor alles beskik wat ’n jong man van kon droom, maar al sy besittings en al sy invloed en al sy rykdom en waarskynlik ook al sy godsdienstigheid het hom nie geluk besorg nie – hy het na sekerheid van geloof gesmag. Hy het gesmag na ’n ewigheid in die teenwoordigheid van God.

· Hierdie jongman het die regte gesindheid gehad – Hy het ’n diep en opregte begeerte gehad om God te dien. Daar is so baie mense wat weet dat hulle nie gered is nie, maar hulle het ook geen begeerte daartoe nie. Hierdie jongman was egter desperaat, veral as ’n mens luister na die dringendheid in sy vraag aan Jesus ~ Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry? (v.16). Ons sien in Mark.10:17, dat hierdie jongman aangehardloop gekom het en hy was nie skaam soos Nikodemus wat in die nag gekom het nie – nee, hy kom helder oordag in die openbaar na Jesus en hy bely openlik voor almal dat hy verlore is. Ons sien ook dat hy ’n voorbeeldige jongman was wat by die wette gehou het – hy was dus ’n goeie mens, maar hy het geweet dat hy, ten spyte van sy moreel goeie lewe, steeds nie gered was nie.

· Hierdie jongman het na die regte Bron gekom – Hy het nie sommer net na enige iemand toe gegaan nie – hy kom na die Bron van die Lewe self, nl. Jesus Christus. So baie mense weet dat hulle die ewige lewe kortkom, maar hulle soek so dikwels op die verkeerde plekke. 1Joh.5:11-13 is baie duidelik oor wie of wat die bron vir die ewige lewe is ~ En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12 Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. 13 Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo. Ons sien dus baie duidelik, dat Jesus Christus self die Bron tot die ewige lewe is. Daar is dus redding in niks en niemand anders as Christus te vinde nie (Hand.4:12).

Hierdie jongman het nie na ander bronne gegaan nie – hy kom reguit, aangehardloop, na die regte Bron, nl. Jesus Christus self.

· Hierdie Jongman vra die regte vraag – Hy vra Jesus wat hy moet doen om gered te word? Hierdie vraag klink op die oog af, of hy dink dat hy iets moet doen om gered te word (“VOOR-wedergeboorte werke”), wat sy motief ook al was met hierdie vraag – dit herinner sterk aan die vraag wat die mense in Joh.6:28 aan Jesus gevra het, nl. ~ Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang? Waarop Jesus in v.29 as volg geantwoord het ~ Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het. Hierdie jongman moes net een ding doen en dit was om te glo, maar Jesus sê egter in teenstelling met wat Hy aan die klomp mense in Joh.6 gesê het, iets baie vreemds – Hy sê aan hom ~ Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie (Matt.19:17) – ...onderhou die gebooie! Wat was Jesus se doel met hierdie antwoord? Sekerlik kon Jesus tog ook vir hom gesê het – Glo in my en jy sal gered word. Nee, ten spyte van die feit dat die jongman, die regte vraag gevra het, verskaf Jesus juis hierdie antwoord aan hom, om aan hom te toon dat hy wat so ’n “goeie mens” is, deurdat hy so wetsgehoorsaam is, nié deur wetsonderhouding gered kan word nie – die jongman moes verstaan, dat hy slegs deur geloof en uit genade alleen gered kon word en dat dít sal lei tot dade van gehoorsaamheid.

Waarom het Jesus dan nie aan hom die weg tot saligheid verduidelik nie – hierdie jongman wat oor ’n opregte begeerte beskik het om gered te word; hy wat die regte gesindheid gehad het; hy wat na die regte Bron gekom het en hy wat die regte vraag gevra het? Hierdie man se geloof was tradisionele geloof – dit was nie geloof wat getuig het van sy afhanklikheid van Christus nie en dit het ook nie oorgegaan in dade van gehoorsaamheid, of onderwerping aan Christus se gesag nie.

· Hierdie jongman was gevul met trots – Jesus het geweet dat hierdie jongman nie oor ’n sondebesef beskik het nie ~ Dit alles het ek nagekom, het die jongman gesê (Matt.19:20). Dit was noodsaaklik dat hy sy sondegevalle toestand moes besef. Ons kan nie iemand na die Here Jesus Christus lei, as hy nie bewus is daarvan dat sy sonde skeiding bring tussen hom en God nie. Redding is vir mense wat hul sonde haat en wat hul rûe keer op die dinge van hierdie lewe. Dit is vir mense wat besef dat hulle in rebellie geleef het teen ’n heilige God. Jesus se reaksie het dus die fokus weggedraai van die jongman se eie goeie werke na God se heerlikheid, daarom dat Jesus gesê het ~ Daar is net Een wat goed is (v.17). ’n Evangelie dan wat net gaan oor die persoon se behoeftes en probleme; oor sy gevoelens en emosies, mis die punt geheel en al. Die fokus is ’n heilige God en sy afsku aan ons sonde. Lei jou geloof tot sondebesef en sondebelydenis?

· Hierdie jongman het nie sy sondeskuld bely nie. In vers 20 sê hy ~ Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort? Daar is geen manier dat hierdie man al die wette kon onderhou nie – óf hy het vir Jesus gelieg en/óf homself mislei? Die Evangelie is nie om ons op te beur of ons uit probleme te help nie – nee, die Evangelie is vir sondaars wat deur Christus na God kom om vergifnis te ontvang en dít het hierdie jongman nie besef nie.

· Hierdie jongman het ook nie kans gesien om hom te onderwerp aan Christus nie – Jesus kom in vers 21 en Hy gee aan hierdie jongman die finale toets, deur vir hom te sê ~ As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My. Jesus het nie hierdeur aan die jongman gesê dat hy die ewige lewe kon koop nie. Wat Hy gevra het, was of die jongman bereid was om te doen wat Christus vir hom gesê het om te doen. Wie gaan in beheer van jou lewe wees – jy of Jesus? Jesus het geweet wat die jongman se reaksie sou wees ~ Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad (v.22).

Lei jou geloof tot onderwerping aan God se Koningskap? Lei jou geloof tot onvoorwaardelike gehoorsaamheid?

Ons moet dus bereid wees om alles op te offer vir Jesus – Luk.14:33 ~ So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie. Ons moet gretig wees om alles te doen wat Jesus van ons verwag.

5. AFSLUITING:
As ons maar net weer na Ef.2:8 kyk, sien ons duidelik dat redding slegs uit genade, deur geloof aan ons geskenk word ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dít is die ondubbelsinnige en konsekwente lering wat regdeur die Woord aan ons geleer word. Maar, wanneer ons wedergeboorte ontvang het, moet ons ook van harte bereid wees om gehoorsaam te wees aan God en Sy Woord.

Ons kan nié op grond van goeie werke gered word nie, maar wanneer ons uit genade en deur geloof alleen gered is, moet ons van harte en met vreugde in ons harte, gehoorsaam wees deur goeie werke, want ná ons redding verwag Christus dit van ons, anders kan die opregtheid van ons redding ernstig bevraagteken word.

My vraag is weer soos verlede week – Het jy “twee vlerke”? ’n Vlerk van geloof en ’n vlerk van gehoorsaamheid?

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 29 November 2009