Monday, November 30, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (22 November 2009)

Goeie Werke of Werke van die Vlees - 01 [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Jak. 2:14-26 ~ 14 Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15 Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. 18 Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19 Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook-en hulle sidder van angs. 20 Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21 Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22 Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23 So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem. 24 Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25 Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26 ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

2. TEKSVERS:
Jak. 2:14-17 ~ 14 Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15 Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

3. INLEIDING:
Baie gelowiges voel baie ongemaklik met die brief van Jakobus, omdat hulle voel dat dit lynreg teen Paulus se lering staan.

Jakobus beklemtoon die feit dat geloof dood is sonder werke, so sê hy in vers 17 - So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood; in vers 20 herhaal hy weer dieselfde boodskap, deur te sê: Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? en in vers 26 sê hy, ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Die kern van Paulus se prediking in veral Galasiërs en Romeine, maar ook in sy ander briewe, was altyd die feit dat ons uit genade gered word, deur geloof en hierdie redding kom nie uit onsself nie, want dit is ’n gawe van God.

Paulus sê in Ef. 2:8: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Paulus beklemtoon dus die feit dat ons op grond van genade en van geloof en net hierdie twee dinge alleen, gered word. Ons regverdiging en die ontvangs van die Heilige Gees het dus niks te doen met ons eie werke óf gehoorsaamheid aan die wet nie.

Paulus het terselfdertyd enige persoon wat geleer het dat jy geregverdig word deur werke, met al sy krag en mag geopponeer.

Wie is dan nou eintlik reg en wie is verkeerd en hoe is dit moontlik dat een moontlik verkeerd kan wees en nogtans word hy aangehaal in die Woord van God? Het ons hier
te doen met twee strome in die teologie wat in konflik staan teenoor mekaar?

4. JAKOBUS vs. PAULUS:
Wanneer ons kyk na die briewe in die Nuwe Testament, moet ons verstaan dat nie een van hierdie briewe aan óf dieselfde mense geskryf is nie; óf op dieselfde tyd geskryf is nie; óf onder dieselfde omstandighede geskryf is nie; óf met dieselfde motief geskryf is nie.

As ons dít in gedagte hou, begin ons beter verstaan dat hier tog dalk nie konflik in opinie bestaan nie.

’n Verdere feit wat ons in gedagte moet hou, is dat Paulus en Jakobus, onder die woorde “geloof” en “werke” nie dieselfde ding verstaan nie.

Wat “geloof” aan betref, stel Paulus primêr belang in geloof wat die grondslag vorm vir die Christelike lewe. En dit is waarskynlik hierdie selfde “geloof” waarna Jakobus verwys in 2:19, wanneer hy sê: Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Jakobus verklaar dus dat dit goed is, wanneer jy in God glo. Daar bestaan dus geen behoefte by hom om geloof, af te maak as minder belangrik, of selfs onbelangrik nie, inteendeel, in Jak. 2:5 sê hy juis dat diegene wat ryk is in die geloof, die Koninkryk van God sal beërwe.

Jakobus ontken dus nêrens die noodsaak aan geloof vir redding nie. Jakobus laat val sy soeklig op die kwaliteit van geloof van sg. volwasse gelowiges en die ontwikkeling of groei van die jong gelowige.

Wanneer Paulus van “werke” praat, praat hy van “werke van die wet”, terwyl Jakobus dit nooit in daardie sin gebruik nie, maar eerder in die sin van barmhartigheidsdiens, of liefdesdiens.

Die tipe werke waarvan Jakobus dan praat, is presies dieselfde as dié wat Paulus aanprys, wanneer hy praat van “geloof wat tot uiting kom in liefde.”

Ene Douglas Moo beskryf dit as volg: “Die verskil tussen Jakobus en Paulus bestaan in die opeenvolging van werke en bekering: Paulus ontken die invloed van ‘voor-bekerings’ werke, terwyl Jakobus pleit vir die absolute noodsaaklikheid van na- bekeringswerke”.

Vir baie jare moes “arme Jakobus” homself altyd teen Paulus verdedig. Een van die redes was dat baie mense – Paulus altyd gesien het as meer geestelik volwasse, of verder gevorder op die teologiese leer. Dit alles was uiters onregverdig teenoor Jakobus, omdat Paulus en Jakobus se teologie, of standpunte teen die agtergrond van hul eie konteks gelees moet word en nie teen ’n agtergrond van sg. “geestelikheid” nie.

Ene Richard Bauckham sê dat, indien Jakobus, Paulus se standpunt oor geloof, probeer ondermyn, hy nié baie goed daarin slaag nie. Die hoofsaak waaroor dit vir Paulus gaan, soos bv. die besnydenis; die saam eet met heidene en ander voedselwette, ens., word nie eens aangeraak deur Jakobus nie. Indien Jakobus dan besig is om te verskil van Paulus, dan sou hy tog sekerlik hierdie aspekte aangesny het. Inteendeel, wanneer ons Jakobus se brief teen die agtergrond van verskeie ander Joodse geskrifte lees wat oor dieselfde sake handel, dan maak Jakobus se brief baie meer sin. Ons het dus nie nodig om ’n debat te voer oor wie nou eintlik reg is nie – Jakobus, of Paulus nie. Nee - Jakobus se fokus lê net op ’n heel ander plek.

Die verskille wat daar moontlik tussen Jakobus en Paulus mag bestaan, word ongelukkig te dikwels uitgelig, in plaas daarvan dat daar eerder gekyk word na die hordes ooreenstemmings tussen die twee Bybelskrywers. Die “verskille” tussen die twee lê absoluut net op die oppervlak en eintlik vul die twee mekaar pragtig aan.

Ons het dan gesien dat Jakobus sy soeklig laat val op die kwaliteit van geloof onder gelowiges, terwyl Paulus weer na “werke van die wet” verwys. Paulus se “werke- uitdrukking” kom dus vóór wedergeboorte, m.a.w. dat géén mens gered kan word deur werke nie, terwyl Jakobus weer die noodsaak van werke ná wedergeboorte beklemtoon en wel in terme van o.a. barmhartigheidsdiens, of liefdesdiens ens.

5. DIE AARD VAN OPREGTE GELOOF:
Kom ons kyk nou na die aard van ware geloof. In vers 14 vra Jakobus die vraag: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? Eintlik het Jakobus hierdie vraag al in die vorige gedeeltes van sy brief reeds beantwoord, deurdat hy dit aanmekaar beklemtoon dat ware en opregte geloof tot uitdrukking kom in aktiewe, God-verheerlikende werke.

In die lig van wat Jakobus tot nou toe geskryf het, is die logiese antwoord op sy vraag, of iemand gered kan word sonder werke, ’n baie besliste “NEE”.

Belangrik om daarop te let, is die feit dat Jakobus in sy redenasie, nié die klem laat val op geloof wat aanvanklik nodig is vir redding, en/of die volgehoue geloof wat nodig is om die “wedloop te voltooi nie”, néé, hy laat val die soeklig op die kontras tussen vergeefse -, of vrugtelose geloof en aan die anderkant, effektiewe -, of doeltreffende geloof.

Die werke of dade wat Jakobus in gedagte het, is soos reeds gesê, dade wat verband hou met dade van welwillendheid en vrygewigheid, soos liefdesgawes, om gasvry te wees ens., maar die feit dat hy na Abraham en Ragab verwys, dui tog ook aan dat hy iets meer in gedagte het, as bloot net vrygewigheid.

Jakobus sê dus vir ons, dat geloof wat bloot net ’n openbare en mondelingse getuienis is, of ’n verstandelike en teologiese toe-eiening van ’n “suiwere” leer, onvoldoende is vir opregte en ware geloof. Indien daar nie getuienis is van ’n geloofslewe van opregte dade nie, is dit ’n futiele geloof wat nié kan uitloop op redding nie.

Om hierdie feit te illustreer, kom Jakobus soos ’n ware en goeie leraar en hy illustreer dít wat hy sê, aan die hand van die voorbeeld in vers 15-16: Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?

Jakobus sê dus dat sulke geloof soos wat hierdie hardvogtige mense in verse 15-16 openbaar, niks anders as dood is nie.

Dit laat my dink aan die verhaal van ’n man wie se perd gevrek het en terwyl daar ’n klomp mense rondom hom en die perd staan en simpatiseer met hom, kom daar ’n predikant aan – hy het sy hoed van sy kop gehaal en na die man wat die hardste en meeste gesimpatiseer het, uitgehou en vir hom gesê: “Ek is ’n R 100 jammer, hoeveel is jy jammer?” Daarna het hy die hoed in die rondte gestuur. ’n Belydenis vereis optrede, anders is dit nie opreg nie.

Wanneer ons geneig is om te praat oor ons geloof in Christus en die waarheid van Sy Woord, maar ons doen nie veel nie, is ons in geestelike moeilikheid.

Wanneer ons nie veel oor het vir andere nie; wanneer ons nie bereid is om ons hande vuil te maak vir andere nie; wanneer ons nie bereid is om ons geld met andere te deel nie; wanneer ons nie simpatie met andere het nie; wanneer ons nie tyd maak vir andere nie; wanneer ons nie gasvry is nie ens. ens., moet ons voorraadopname maak van ons geestelike lewe – moet ons kyk wat in ons siele aan die gang is.

Jakobus sê: ...as (geloof) nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (vers 17).

Dit is so ironies as Jakobus in vers 18b sê: ...wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. Luister mooi wat hy sê: As ons twee mense hier langs mekaar sit en die een praat net die heeltyd oor sy geloof en die ander een doen bv. goed aan andere – wie sal jy glo is die gelowige?

Dit is verder interessant om te sien dat Jakobus se broer, die Here Jesus self, saam met Jakobus stem, wanneer Hy Sy gelykenis van die Saaier in Matt. 13 vertel. Die eerste drie tipes grond, het geen vrug opgelewer nie, maar hoor wat sê Hy in Matt 13:23 - Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.” Ware, opregte geloof bring vrugte voort en hierdie vrugte is optrede; dit is aksie! Aan die einde van die Bergpredikasie waarsku Jesus ons, as Hy sê: Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? 17 Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. 18 ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” 21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

U sal met my saamstem, dat geen voël kan vlieg met net een vlerk nie. Geloof en werke is soos die vlerke van ’n voël. Daar kan geen lewe wees as daar net een van die twee teenwoordig is nie.

Jakobus sluit sy betoog af met amper ’n absurde vergelyking. Hy sê in vers 19 ~ Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook-en hulle sidder van angs.

Daar is nie ’n enkele demoon in die ganse heelal wat nie glo dat God die enigste ware, lewende en heilige God is nie. Daar is nie ’n enkele demoon wat nie glo en weet dat God ’n Drie- enige God is nie – hulle glo in God die Vader, God die Seun, Jesus Christus en God die Heilige Gees. Daar is waarskynlik talle demone, indien nie almal nie, wat jou en my persoonlik ken. Ja, daar is waarskynlik selfs demone wat die “1689 belydenis” uit hul koppe ken.

Sommige demone is briljante teoloë – inteendeel, sommige demone beskik oor beter teologie as waaroor ons saam mag beskik, MAAR, Jakobus sê: Die bose geeste glo dit ook-en hulle sidder van angs.

Hoor ’n bietjie wat sê Lukas in Hand. 8:13 ~ Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het. ’n Entjie verder lees ons in verse 18-23: Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied 19 en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.” 20 Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21 In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22 Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.

Simon se geloof het vir hom net so min beteken as wat die demone se geloof vir hulle beteken, inteendeel, vir hulle beteken dit dalk selfs ’n bietjie meer as wat dit vir Simon beteken het, want ten minste sidder die demone van angs.

6. SLOT:
Het jy “twee vlerke”? Waarom “twee vlerke”? Besef jy waaruit jy en ek gered is? Besef jy hoe groot God se genade is om ons te red? Beskik jy oor ’n ewigheidsperspektief? Dan sal jy uit dankbaarheid goed wíl doen, ten einde lof aan jou Koning te bring en Hom te behaag deur jou optrede en te getuig van wie jy aanbid!

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 22 November 2009