Monday, November 16, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 15 November 2009

Openbaring Ontsluit - 18 (Die 5de & 6de Trompette van God se Oordeel) [1]

Indien u hierdie Bybdelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons gaan nou kyk na die vyfde en sesde trompette van God se oordeel. Reeds in Luk.10:17-20 praat Jesus van hierdie vyfde trompet en sê wie of wat hierdie trompet verteenwoordig ~ Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” 18 Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val. 19 Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20 En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” Johannes sien dus met die vyfde trompet, ’n ster uit die hemel val en hierdie ster is Satan. In Openb.12:9 word hy as die groot draak beskryf wat uit die hemel op die aarde neergewerp is.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
Die Vyfde Trompet (Openb.9:1-12):

· Openb.9:1-3 ~ Die vyfde engel het toe op sy trompet geblaas. Ek het ’n ster gesien wat van die hemel af op die aarde geval het, en die sleutel van die skag na die onderaardse diepte is aan hom gegee. 2 Hy het toe die skag na die onderaardse diepte oopgemaak, en daar het rook uit die skag uit opgestyg soos die rook van ’n groot oond. Deur die skag se rook is die son verduister en het die lug donker geword. 3 Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het. Johannes sien hier, hoe dat die sleutel van die put van die afgrond aan Satan gegee word (dit hou verband met die poel van vuur waarvan ons later in Openb. 20 sal lees). Hier kry ons nou drek te doen met die hel self. Wat interessant is, is put gesetel (Luk.8:31). Wanneer hierdie demone “uit die put op ’n sending uit is”, beskik hulle oor ’n dodelike mag tot geestelike en morele besoedeling, skade en selfs vernietiging. Hierdie feit word beklemtoon en geïllustreer in vers 2 ~ Deur die skag se rook is die son verduister en het die lug donker geword.

Ons sien dan dat twee dinge gebeur met die blaas van die vyfde trompet:
o V.2 – Die skag na die onderaardse, of die bodemlose put word oopgemaak en daar kom rook uit – so dig, dat dit die son verduister en die lug donker gemaak het.
o V.3 – Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het. Hierdie sprinkane word vir ons in verse 7-10 simbolies beskryf en volgens vers 11 het hulle ’n koning wie se naam beide in die Hebreeus (“Abaddon”) en die Grieks (“Apollion”), “Verwoester”, “Verdelger”, of die “Verderfengel” beteken.

In die lig van verse 4 tot 6 word hier dus vir ons ’n onrusbarende prentjie geskilder, want hulle missie is om diegene wie nie die seël van God op hul voorhoofde het nie, te verwoes – dit mag selfs vervolging en marteling vir ’n tydperk insluit.

Sprinkane saai geweldige verwoesting (ek het dikwels in my kinderdae in die Karoo gesien hoe ’n swerm sprinkane, letterlik die son verdof wanneer hulle in die lug vlieg, oppad na bv. ’n lusernland en nadat hulle op so ’n land geland het, sal daar na ’n paar uur, letterlik niks oor wees van daardie lusern nie) – dink maar aan die sprinkane in Eks.10:4-15 ook, asook Joël 2:2-11 ~ ...as hy (die swerm sprinkane) verby is, is dit ’n onbewoonbare woestyn. Hy laat niks oorbly nie (sien ook: Nah.3:15; Deut.8 en 1Kon.8).

Hierdie sprinkane van Openb.9, is egter nie die sprinkane wat ons ken nie – hierdie sprinkane is die gevalle bose en demoniese engele waarvan o.a. 2Pet.2:4 praat ~ God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. Toe Satan uit die hemel geval het, het ’n baie groot hoeveelheid engele saam met die satan geval en hulle wag nog hul oordeel saam met die satan af – hierdie oordele sal op die Dag van die Here geskied (soos reeds gesien). Maar tot tyd en wyl is hulle alles behalwe passief, want 1Pet.5:8 sê vir ons dat die satan soos ’n brullende leeu rondloop.

Vers 3 en 10 sê vir ons dat die foltering wat hierdie demone toepas, soos dié van skerpioene is. Ons weet dat ’n skerpioensteek gewoonlik nie dodelik is nie, maar dat dit onbeskryflike pyn en lyding veroorsaak. Dit veroorsaak kroniese swaarkry en ruïnering, maar nie totale vernietiging nie. Siekte wat mens kreupel laat, maar nie dood nie. Dit kan vergelyk word met bv. standpunte en filosofieë wat plesier en voorspoed belowe, maar wat uiteindelik lei tot spyt en leegheid en ontnugtering. Hierdie foltering is so erg dat mense graag selfmoord sal wil pleeg, maar hulle moed en durf laat hulle in die steek.

· Openb.9:4-6 ~ Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. 5 Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar wel om hulle vyf maande lank te pynig. Die pyn wat hulle veroorsaak, is soos die pyn as ’n skerpioen ’n mens steek. 6 In daardie tyd sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; hulle sal verlang om te sterwe, maar die dood sal hulle ontwyk. Ons sien God se genadige teenwoordigheid weereens hier “in aksie”. Die helsemagte het nie onbeperkte vryheid en mag nie en ons vind hier ’n viervoudige beperking op hul aktiwiteite:
o Vers 4. Dit was die Engel wat die eerste trompet geblaas het, se taak om die gras en plante en bome op aarde te tref en nié Satan of sy demone nie (8:6). Satan se “bediening” is dus gerig teen die mens en hy sal hoogstens die natuur misbruik om die mens “by te kom”.

o Vers 4 is ook baie duidelik daaroor, nl. dat die demone nié die gelowiges skade kan berokken nie – hulle is dus ook op hierdie vlak beperk. Watter plae, of beproewing, of pyn, of wat ook al, dit is nié oordele wat op die gelowige losbars nie, maar is situasies en omstandighede wat as instrumente tot ons reiniging en heiligmaking dien ~ Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop (Rom.5:3-4). Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7 sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus (1Pet:1:6-7 - sien ook Jak.1:2-4). Dieselfde swaarkry vernietig die trots en hoop van die sondaar, maar aan die anderkant wag die ewige heerlikheid op God se kinders wat hierdie selfde swaarkry ervaar – 2Kor.4:16-18 ~ Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Is dit nie wonderlik nie!
o Die derde beperking wat op die demone gelê is, is dat hulle nie kan dood nie, maar hulle kan wel lyding veroorsaak – lyding soos wat skerpioene veroorsaak, maar so erg dat diegene wat onder die demone se lyding gebuk gaan, wens dat hulle eerder kan sterf. Hierdie lyding en beproewing word gemik teen die harte of siele van die sondaars, bv. kwellinge wat ervaar word; terneergedruktheid; depressie en selfs besetting deur demone.
o Laastens word die mag tot lyding en vervolging net vir “vyf maande” aan hulle verleen. Hierdie tydperk van vyf maande, is die helfte van tien wat volledigheid impliseer. Hierdie “vyf maande” is dus ’n tydperk wat dui op ’n tydperk of “seisoen” wat nie vir altyd sal duur nie, maar wat net lank genoeg is om alle hoop op ’n ewige lewe, by diegene wat buite Christus staan, te verydel (v.5, 10). Weereens sien ons ook hier dat God in Sy oordele, genade beskikbaar het vir diegene wat Sy seël op hul voorhoofde het.

Hoor net wat sê John Piper in sy preek met die titel, Satan, World, Providence, Christ: Not until recently had I ever felt the weight of the fact that those outside Christ have no defense against the devil. God can restrain the devil from doing his maximum worst. But the world cannot. They are helpless before Satan’s supernatural power. They are utterly in his sway, except for God’s restraining providence. This should make us tremble for the hopelessness of the world and marvel at the magnitude of God’s power and grace to keep the world from being ten thousand times more violent and miserable than it is. (sien 1Joh.5:19; 2Kor.4:4; Ef.2:1-2). En dan, heelwat later sluit Piper af met hierdie woorde: The reason that union with Christ makes a great difference for the believer is that Christ achieved a decisive triumph over the devil at Calvary. He did not remove Satan from the world, but he disarmed him to the extent that the weapon of damnation was stripped from his hand. He cannot accuse believers of unforgiven sin. And therefore, he cannot bring them to utter ruin. He can hurt them physically and emotionally, even kill them. He can tempt them and incite others against them. But he cannot destroy them. Here is what happened at the cross.... En dan haal hy Kol.2:13-15 aan ~ Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15 Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.

· Openb.9:7-12 ~ Die sprinkane het gelyk soos perde wat regstaan vir oorlog. Op hulle koppe was daar iets soos krone wat gelyk het asof dit van goud is. Hulle gesigte was soos die gesigte van mense. 8 Hulle het lang hare gehad soos vrouens se hare, en hulle tande was soos dié van leeus. 9 Hulle borskaste was soos ysterharnasse. Die gedreun van hulle vlerke was soos die gedreun van baie strydwaens met perde wat opruk vir oorlog. 10 Hulle het sterte met angels soos dié van skerpioene; en in hulle sterte is hulle vermoë om die mense vyf maande lank kwaad aan te doen. 11 Hulle het die engel van die onderaardse diepte as koning oor hulle. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks het hy die naam Apollion. 12 Die eerste “Wee!” is verby. Kyk, daar kom nog twee hierna. Ons kom nou hier by ’n beskrywing van die handlangers van Satan. Net soos wat perde in die Woord beskou word as geweldadige, woeste en wrede krygers (soldate), net so word dieselfde betekenis geheg aan sprinkane.

Hierdie sprinkane word vir ons beskryf as verskriklike monsters: hulle lyk soos oorlogsperde ja, maar hulle het daarby gesigte wat soos mensgesigte lyk en hulle hare lyk soos dié van ’n vrou en hulle tande soos die van leeus. Hulle dra borsharnasse en die gedruis van hul vlerke klink soos dié van oorlogwaens en hulle het sterte met angels soos skerpioene. Soos wat ons vroeër gesien het, word hul koning, “die engel van die afgrond” genoem – in die Hebreeus is dit “Abaddon” en beteken “hel” of “verderf” en in die Grieks is dit “Apollion” wat “verderwer” beteken. Hierdie sprinkane se koning was dus die Engel van die Afgrond wat ’n verderwer reg uit die helse verderf is! Sekerlik is hierdie sprinkane nie letterlike sprinkane nie, want in die natuur het sprinkane tog ook nie ’n koning nie ~ ...sprinkane het nie ’n koning nie en tog trek die hele swerm in formasie (Spr.30:27). Hierdie beskrywing word egter vir ons gegee om te verduidelik wat se komplekse wesens hierdie demone is – hulle is dus presies soos wat Ef.6:12 hulle vir ons beskryf ~ Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

Ons geveg is dus duidelik nie teen letterlike sprinkane of mense nie, maar teen bose geeste in die lug. Dit is hartverskeurend om te besef dat die ongelowiges nie oor die borsharnas van geregtigheid en die helm van verlossing beskik nie en daarom “sitting ducks” vir die satan en sy bose magte is.

Die Sesde Trompet (Openb.9:13-21):
· Openb.9:13-16 ~ Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. 14 Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” 15 Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om ’n derde van die mensdom dood te maak. 16 Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog ’n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor. Nadat allerlei ellende die mensdom deur die toedoen van die demone, getref het (ellende wat gerig was op die siel van die ongelowiges), sien ons dat die doodsengel nou losgelaat word om ’n derde van die wêreld se bevolking te dood, a.g.v. hul eie bose lewens en hul optrede teen die kerk van die Here Jesus Christus.

Hierdie trompet ontketen menslike konflik in sy ergste graad. Nie alleen dui die stem wat vanuit die wierrookbak kom en voor die goue altaar gebring word, Goddelike ingrepe hier nie, maar ook dui dit op reaksie van God op die gebede van die gelowiges (6:9, 10; 8:3-5). Ons moet daarom nooit die krag van gebed onderskat nie.

Die blaas van die sesde trompet plaas die fokus op twee groepe wesens en mense. Eerstens is daar vier engele wat vasgebind was by die Eufraatrivier en hulle moes ontbind word ten einde uitgestuur te word om ’n universele opdrag uit te voer. Hierdie engele was voorberei vir hierdie oomblik (dag en datum) om ’n derde van die wêreldbevolking uit te wis.

Die woord “vasgemaak” of te wel “bind” hier in v.14 is in die Grieks "deo", wat nooit in die Openbaring boek in ’n positiewe sin gebruik word nie (20:2 ~ Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind) en derhalwe dui dit op ’n onwillige binding, wat teenstrydig is met die status van heilige engele. Hierdie engele moet dus “engele van die duisternis” wees (demone) – ’n afdeling dus van die sprinkane van verse 7-12 en hul opdrag was om oorlog aan te blaas. Let ook op van wie kom hierdie demone se opdrag – ... Ek het ’n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. 14 Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele....

Hierdie demone was vasgemaak by die Eufraatrivier en hulle moes hul vernietigingswerk van daar af doen. Die Eufraatrivier vorm die oostelike grens van Israel en dit was die plek vanwaar Israel se vyande in die verlede gewoonlik die land aangeval het (Jer.2:18; 13:4; 51:63; Openb.16:12). Johannes maak dus hier gebruik van historiese Bybelse aardrykskunde om die vreesaanjaende karakter van die naderende oordeel van God op ’n rebelse wêreld, te beskryf. God se optrede teen die wêreld vind dus nie per ongeluk plaas nie, maar is presies (dag en datum) beplan en bepaal – vers 15 ~ Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat.

Die tweede groep wat in hierdie verse ter sprake is, is die mensdom. Die satan misbruik mense en manipuleer hulle op uiters subtiele en slinkse wyse om mekaar te vernietig.

Vers 16 stel ons voor aan hierdie magte wat vernietigend te werk gaan, nl. Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog ’n keer soveel. Hierdie geweldige getal dui vir ons op ’n skrikwekkende weermag van demone, wat uiters wreed en doelgerig was en wat geen genade betoon teenoor hul slagoffers nie. Hierdie demoniese magte veg saam met die menslike soldate wat verwoesting saai. Hierdie demoniese magte kan, benewens oorloë, ook betrokke wees in die saai van peste en allerlei ander ellendes (vergelyk v.20-21).

· Openb.9:17-19 ~ En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom. 18 Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is ’n derde van die mensdom doodgemaak. 19 Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense. Hierdie kleurryke beskrywing van die ruiters en die perde dui vir ons enersyds daarop dat dit nie mense is wat op die perde ry nie, maar demone en dit dui verder op die verskeidenheid van wapentuig wat die demone gebruik. En die beskrywing van die perde weet ons nou al, is dié van oorlog en verwoesting, maar hier in vers 17-19, is hierdie buitengewone perde, wat dui op die grusaamheid van die verwoesting wat hulle gaan saai. Dit is te betwyfel of hier enige spesifieke oorlog in gedagte gehou moet word.

Die doel met die verwoesting wat ons in die voorafgaande verse gesien het, is om God se oordeel oor ’n sondige mensdom te illustreer.

· Openb.9:20-21 ~ Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. 21 Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie. Johannes het vroeër in Openbaring ’n oproep gedoen op van die gemeentes in Klein-Asië om hulle te bekeer, anders sal hulle te doen kry met God se oordele (2:5, 16, 21-22; 3:19). In hierdie verse (20-21) sien ons wat die eindresultaat daarvan is om te weier om na God te draai in verootmoediging. Hulle hardkoppigheid lei tot die aanbidding van demone, asook die aanbidding van allerlei kultiese voorwerpe wat deur mense gemaak is (van goud, silwer, koper, klip en hout – Ps.115:4-7; 135:17; Jer.10:1-16; Dan.5:23). Hierdie afgodery lei dan ook na selfvernietigende optrede van die mens in die vorm van allerlei soorte misdade en sondige optrede.

3. TEN SLOTTE:
Te midde van hierdie verskriklike dinge wat vir ons hier in Openb.9 geskilder word, moet ons altyd onthou dat alles steeds onder God se beheer is en dat Sy doel met hierdie dinge is, om die onbekeerde mensdom wat in hul goddeloosheid volhard, te straf.

Na Sy opstanding verklaar Christus in Matt.28:18, dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom gegee is. Die gelowiges wat egter die seël van God op hul voorhoofde het, kan nooit deur die hel of sy helsemagte vernietig word nie! Ja, as gelowiges moet ons saam met die ongelowiges onder die verwoesting van hierdie aarde deurloop en gebuk gaan onder die magte van die duisternis (in Hirosjima, W.O. II, ens. het duisende Christene ook omgekom), maar in Jesus Christus sal ons egter ewig voortleef in die teenwoordigheid van God.

Die sesde trompet rig ’n ernstige waarskuwing tot die mensdom en daarom, as jy jou knie nog nie voor Christus as Verlosser gebuig het nie, is die tyd nou daar!

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 15 November 2009