Monday, November 16, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (15 November 2009)

ONS IS DOOD VIR DIE SONDE ! [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Hoe dikwels hoor ons nie dat gelowiges met oortuiging sê dat hulle glo dat Christus opgestaan het uit die dood. Ons bid dit; ons sê dit; ons bely dit, maar ek wil vandag die vraag vra:
§ Glo ek dit régtig? Het Christus régtig opgestaan?
§ Indien ek dit régtig glo – wat beteken dit vir my vandag? Is dit maar net ′n feit dat Christus opgestaan het en dit daarom nodig is dat ek dit glo omdat dit die basis is vir my geloof is, asook omdat dit een van dié groot verskilpunte tussen die Christendom en alle ander gelowe is? Het dit vandag nog praktiese implikasies vir my geloofslewe?
§ En indien lg. die geval is, wat se implikasies het dit vir my geloofslewe? M.a.w.: Lééf ek hierdie geloof in sy volste sin van die woord? Indien ek dit glo en ek lééf dit nie – glo ek dit dan wérklik?

Ek is oortuig daarvan dat vir elke persoon wat sê dat hy van harte glo dat Christus uit die dood opgestaan het, daar “tien ander” is wat dit ook glo, maar vir wie dit geen praktiese implikasies het nie! Dit is vir hulle niks anders as om te weet dat die Eifeltoring bestaan en dat dit in Parys is, of dat daar pragtige gekleurde vissies onder die see is nie – dit is feite wat bestaan, maar dit verander nie hul lewens nie. Dit het bykans 2000 jaar gelede plaasgevind en wat het dit vandag met my te doen – behalwe dat ek dit maar net moet glo? En dit is belangrik dat ek dit moet glo, anders is my geloof futiel!

So baie mense – nee gelowiges, glo dat hulle nog steeds onder die mag van sonde staan. Hulle glo dat Christus vir die sonde aan die kruis gesterf het. En as ons nou teologies hieroor moet raak – ja, Christus hét vir ons erfsonde gesterf – maar wat van die mag van sonde? Staan ons nog onder die mag van sonde – daardie daaglikse sonde (die erfsmet)? Indien u “nee” sê, waarom sê u so? Indien u “ja” sê”, wil ek vir u sê, dat dit nié is wat die Woord van God vir ons leer nie.

U sien, baie van ons ken allerlei mooi teologiese sinsnedes en ons kan mekaar vinnig verwys na al die geloofsbelydenisse – van die “Twaalf Artikels” tot die “Die Baptiste Geloofsbelydenis van 1689”. Ons leer hierdie Belydenisskrifte; ons bespreek dit; ons sal Bybelstudies daaroor hou – máár, weet ons régtig waaroor dit gaan? Kan ons al hierdie wonderlike “kennis” by die praktyk uitbring? Of streel dit ons ego’s en gewetens as ons baie geleerd hieroor klink?

Ek wil vandag vir u kategories sê, dat ons te veel maak van die blote teologiese kennis van wat bv. Calvyn of Spurgeon e.a. geleer het en wat in al die Belydenisskrifte van die Christelike godsdiens staan, maar ongelukkig is dit waar dit bly in baie van ons se lewens – nl. bloot net dít wat op papier staan en niks meer nie (en ongelukkig is dit ook hoe baie van ons met die Woord self omgaan – Ek lees dit, maar dit verander nie my lewe nie!).

Ek skiet nie vir Calvyn of Spurgeon, af nie – inteendeel, en ek skiet nie die Belydenisskrifte van die kerk af nie, maar ons moet besef dat dit nie opsig self, God se Woord is nie – dit is slegs gegrond op die Woord van God en ek moet volgens die Woord van God lewe. As ek nie volgens Sy Woord leef nie, help dit nie dat ek ure en ure oor al hierdie Belydenisskrifte en Spurgeon se geskrifte ens. praat nie – dit help niks!

Waarom is daar so baie onder ons wat baie vinnig sal sê ek onderskryf bv. die Baptiste Geloofsbelydenis van 1689, maar as jy na sy/haar lewe kyk, dan sien jy dit glad nie raak nie. Of hy sê dat hy ′n Calvinis is, maar hy leef nie wat Calvyn bv. in sy “Institusie van die Christelike Geloof”, sê nie. En onthou, dit wat Calvyn sê, is alles op die Woord gegrond. Ons moet begin LEEF wat God se Woord sê, anders beteken dit ′n bloue duit.

Dieselfde geld t.o.v. van Christus se kruisiging en opstanding! Ons moet daarvolgens begin leef, as ons dit bely. Maar wat beteken dit dan regtig?

Kom ons kyk na Rom. 6:1-14 ten einde vas te stel wat die Woord hieroor te sê het.

2. SKRIFLESING:
Rom. 6:1-14 ~ Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

3. TEKSVERS:
Rom. 6:11 ~ Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

4. DIE OU EN DIE NUWE KONINKRYKE:
Paulus roep ons hier op om vir God te lewe, omdat ons een is met Christus Jesus, maar hy sê terselfdertyd ook, dat ons vir die sonde dood is.

Ons, dood vir die sonde? Hoe is dit moontlik? Kyk dan hoe sondig my broers en susters rondom my – om nie eens te praat van hoe sondig ek is nie! Maar dit is presies wat Paulus hier sê – nee, wat die Woord van God vir ons hier leer, nl: Ons is dood vir die sonde!

Hoe kan ek ′n lewe lei waar ek dood is vir die sonde?

Ten einde dit prakties te illustreer, wil ek na ′n slaaf verwys wat verkoop is aan ′n nuwe eienaar - ′n eienaar wat hom grootliks sy vryheid gegee het. Eendag loop hierdie slaaf weer sy eerste eienaar raak en lg. wil hom weer hiet en gebied. Hy dreig hom en sê vir hom dat indien hy ongehoorsaam is, hy hom sal slaan. Wat staan die slaaf te doen?
§ Eerstens moet hy homself daaraan herinner, dat hy nié meer aan die vorige baas behoort nie – sy vorige eienaar het geen gesag en geen mag meer oor hom nie. Om dit op ons van toepassing te maak: Sonde is dus nie meer my baas nie. Die duiwel het geen gesag meer oor my nie. Soos die slaaf net een wettige baas het – sy nuwe baas, net so het ons net een nuwe koning, nl. Jesus Christus – Hý is ons Eienaar (as ons wederbaar is). Vir elke opdrag van die vorige “baas”, moet en kan ek dus sê, “Nee, jy het geen reg en aanspraak op en oor my nie. Jy gee opdragte aan my, waaraan ek my nie meer mag en sal onderwerp nie, want ek mag en sal net na my nuwe Eienaar luister.”

§ Om egter te weier om na die vorige “eienaar” te luister, is nie genoeg nie. Die slaaf moet aktief besig wees om sy nuwe Eienaar heeltyds te dien en te gehoorsaam. Al ons energie en al ons gawes moet ingespan word om God te dien, en sodoende sal ons verseker daarvan wees, dat ons nie die liste van die vlees voed en versadig nie – dit word bevestig deur Paulus in Gal. 5:16 ~ Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Om dus net “nee” te sê vir die sonde, is nie genoeg nie, nee, ons moet in alles wat ons is, ons toewy aan die Here ~ Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil (Rom. 6:13).

Kan ons weer slawe van die sonde word? Paulus sê: “Nooit, want ons ....(is) saam met Christus gekruisig, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie” (Rom. 6:6).

Is dit moontlik? Ons sondig dan nog steeds! Wel, God se Woord sê so en as ek dit verwerp, verwerp ek God se Woord. Maar as ek Sy Woord glo, dan móét ek hierdie woorde ook mos glo! Vers 1 en 2 sê: Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Paulus sê dus, “nee” ons kan nie en mag nie aanhou sonde doen nie, want ons wat sê ons is wedergebore is dood vir die sonde.

Wat beteken dit? Ons moet verstaan dat daar twee koninkryke is, nl. die koninkryk van sonde of duisternis en dood en die satan regeer daar. Ons wat wedergebore is, leef egter nie meer in daardie wêreld nie en daarom is dit nie meer die wêreld van ons gedagtes nie; van ons voorkeure en wil, of die wêreld van ons optrede nie ~ Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is (1 Joh. 5:19).

Hierdie stuk lering van Paulus is dus uiters prakties en eenvoudig. Ons moet net eenvoudig deur die lewe gaan, deur die ou lewe en sy meester te vermy. Dit is die waarheid t.o.v. selfkruisiging – dit is waar die uitdrukking vandaan kom, nl. dat ons, ons kruis moet opneem. Indien ′n bepaalde program op TV my na sonde lei, of ′n nuwe Volvo, dan moet ek dit net eenvoudig uit my lewe sny en dit ten alle koste vermy. Indien ek my humeur maklik verloor, moet ek daaroor bid en ernstig daaraan werk en iets prakties uitwerk om my te help om dit te vermy. Enige iets wat my dus lei in konfrontasie met my vorige “eienaar”, moet ek ten alle koste vermy. Ek moet my bekeer daarvan. En indien ek oor en oor in dieselfde strik trap, moet ek my self baie ernstig afvra, hoe opreg en ernstig voel ek daaroor om God te aanbid en Hom na te volg.

Ons moet die satan vermy soos wat ons pes, of in huidige konteks: Erg Weerstandige TB of HIV Vigs, sal vermy – ten alle koste en ten alle tye.

Toe ek saam met Christus gekruisig is, het Hy my oorgebring na Sy Koninkryk en is ek verlos van die koninkryk van sonde en daarom moet sonde nie meer in my lewe bestaan nie.

Ons moet daarom elke dag en in elke omstandigheid, saam met Paulus bid: Wat moet ek doen, Here? (Hand. 22:10). Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God (1 Kor. 10:31). Ons moet dus elke oomblik van elke dag sien as ′n geleentheid om God te dien en alles tot Sy eer te doen. Wanneer dit ons uitgangspunt en ons lewenswyse word, sal dit al makliker raak om nie meer die satan ten prooi te val nie.

Maar waar kry ons die krag om dit te kan doen? Ons vind ons krag, in die krag van Christus Jesus se opstanding.

Ons moet baie mooi let daarop, dat die kruisiging nie net plaas gevind het ter wille daarvan dat ons verlos kon word van die erfsonde in Adam nie – nee, die kruis is ook daargestel om die mag van sonde oor ons (die erfsmet), te verbreek. Ons moet dít altyd in gedagte hou. En veral wanneer ons gekonfronteer word met allerlei versoekings in hierdie lewe.

Ons moet hierdie feit ook elke keer in gedagte hou wanneer ons die Nagmaal gedenk ~ Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld (Gal. 6:14).

Nou mag u die volgende opmerking maak: “Dit klink alles baie mooi en dit moet waar wees, want dit staan so in die Woord, maar die probleem is: Almal van ons sondig dan nog steeds – hoe moet ek dit verklaar en verstaan?”

Die feit dat ons sê dat Christus gesterf het aan die kruis en opgestaan het uit die dood, vrywaar ons egter nie van sonde nie – ons is m.a.w. nie immuun teen sonde nie. Paulus sê NIE dat sonde dood is vir ons as gelowiges nie, maar dat ons as gelowiges onsself as dood vir sonde moet beskou. (M.a.w.: Sonde is nie dood vir gelowiges nie, maar gelowiges is dood vir sonde).

Sonde is ′n natuurlike uitvloeisel vir die ongelowige omdat hy deel is van die koninkryk van die duisternis – sonde is dus deel van die ongelowige se karakter en totale menswees, maar sonde is níé deel van die gelowige se karakter nie, daarom dat Paulus sê dat ons dood is vir die sonde – sonde moet dus nie in die gelowige se lewe bestaan nie, omdat sonde nie in die koninkryk van God, waarin die gelowige nou woon, bestaan nie. Wanneer die gelowige dus sondig laat hy toe dat die vyand, God se koninkryk infiltreer. Ons as Christus se soldate moet Sy Koninkryk ten alle koste verdedig teen die aanslae van die bose.

Ons kan dit as volg illustreer:
Ons het aan die eenkant, die koninkryk van duisternis, waar Satan heers en die algemene kenmerk van hierdie koninkryk, is die bestaan van sonde.

Aan die anderkant het ons die Koninkryk van Lig waar Christus Jesus regeer en waar daar geen plek vir sonde is nie. Die bewoners van hierdie koninkryk is dus dood vir die sonde.

Maar dit gebeur egter van tyd tot tyd, dat die gelowige toelaat dat sonde die Koninkryk van Christus infiltreer en dan verdof die heerlikheid van Christus in die lewe van die gelowige en word die Gees dus bedroef.

Dit is egter belangrik dat die gelowige sal onthou, dat hy dood is vir die sonde en daarom nie mag toelaat dat sonde sy lewe beheer nie – hy moet die koninkryk van Lig wat hy in hom dra, met alles wat in hom is, verdedig, t.w.v. die eer van die Here en sy eie heiligmakingsproses.

Die lewe van die gelowige is dus ′n lewe van dienslewering aan Sy Vader. Hy moet homself beskou as dood vir die sonde en lewend in Christus Jesus. In die Grieks begin vers 12 met “daarom”. As hy dan in vers 11 sê: Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus, dan volg hy dit op deur te sê, “daarom...” Daarom wat? Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie.

Wanneer Paulus dit dan sê, impliseer hy tog immers dat sonde nog steeds bestaan en ′n bedreiging is vir die gelowige. Ons as gelowiges is nog deel van hierdie wêreld met sy sonde, maar sonde is en mag nie meer die opperhand in die lewe van ′n gelowige voer nie en hy moet besef dat die Heilige Gees elke keer dat hy sondig, bedroef word. Ek moet weet dat ek duur gekoop is – Jesus het met Sy lewe betaal, sodat ek en u vry kan wees vry van die sonde – nou en in ewigheid!

Ons moet dus nie ons vryheid prysgee, deur toe te laat dat die sonde in ons heers nie.

Om terug te keer na ons voorbeeld in die begin, van die slaaf: Wanneer ′n slaaf vrygekoop word van sy onderdrukkende “baas” en hy nou in vryheid beweeg, sal hy uiteraard aan die begin en nog vir ′n tyd lank van sy ou slawe-gebruike beoefen, omdat dit oor ′n lang tyd vasgelê is, maar daardeur ontneem hy homself van sy vryheid en plaas hy homself onder die juk van sy vorige eienaar en daarom moet hy so gou moontlik, waardig aan sy nuwe vryheid, begin optree.

Die opstanding van Jesus Christus uit die dood, het my vry gemaak en daarom moet en mag ons nie meer soos slawe optree nie, maar soos verlostes in Jesus Christus – Ons is DOOD vir die sonde!

Mag die Here dan in die woorde van Sefanja 3:17, ook dieselfde van ons sê: Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.

[1] (Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt tydens ’n erediens te Antipas Gemeente, Vereeniging op 15 Nov. 2009)