Die Brief aan die Efesiërs - 08 (Christus se Geheimenis) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Ef.3:1-13 ~ Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus. 2 Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3 Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4 en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5 Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6 En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het. 7 Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. 8 Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9 Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10 Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11 soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12 In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan. 13 Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou.
2. INLEIDING:
Hoofstuk 3 begin met die woord “daarom” en ons weet nou al dat wanneer ’n gedeelte begin met “daarom”, ons altyd onsself moet afvra “waarom”? Waarom sê Paulus hier, “daarom”? Uiteraard verwys hierdie “daarom” na die voorafgaande gedeelte en in hierdie geval, óók na die gedeelte wat nog gaan volg en wat in werklikheid eers in vers 14 sal begin, met sy gebed vir die Efesiërs.
Hierdie “daarom” verwys egter ook terug na die waarhede wat Paulus in hoofstuk 2 bespreek het en dit sluit o.a. die feit in dat mense wat in Christus is, nuwe skepsele word (2:15); dat alle gelowiges, deel uitmaak van een liggaam (2:16); dat die heidense gelowiges wat eens ver verwyder was van God, nou ná aan God is (2:17); dat alle gelowiges gelyke burgers van God se koninkryk is en deel van Sy familie uitmaak (2:19); en dat alle gelowiges deel uitmaak van die gebou waarvan Christus die hoeksteen is (2:21-22).
Voor Paulus met sy gebed in vers 14 begin, en ook omdat hy die waarde van herhaling besef, hanteer hy net eers weer sommige van die waarhede wat hy in hoofstuk 2 in detail behandel het, en daarom koppel hy hierdie kort bespreking, van hierdie waarhede, aan die vorige gedeelte met die woord “daarom”.
3. GEHEIMENIS ONTSLUIT:
In sy bespreking van die waarhede van hoofstuk 2, gebruik Paulus die Griekse woord vir “geheimenis”, nl. "musterion", nie minder nie as 6 keer: In vers 3 ~ Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak...; in vers 4 ~... sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus; vers 5 ~ Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak...; vers 6 ~ En dít is die geheimenis...; en dan ook weer twee keer in vers 9 ~ Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer....
Hierdie Griekse woord ("musterion"), of te wel “geheimenis”, se betekenis is veel swaarder gelaai as die Afrikaanse, of Engelse woord se betekenis. “Musterion” dui op iets wat ver verby natuurlike kennis strek, maar die inhoud en betekenis daarvan het bekend geword aan ons deurdat die Heilige Gees dit aan ons of iemand anders geopenbaar het. Paulus omskryf hierdie betekenis vir ons mooi in Kol.1:26 ~ Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort. ’n Geheimenis in Bybelse sin, dui dus op iets wat voorheen verborge was, of wat nie eers in gelowiges se wildste drome bedink kon word nie, maar wat nou aan hulle onthul is – dit is dus nou ’n ope geheim (onthul en vol betekenis vir gelowiges, maar steeds ’n geheimenis vir ongelowiges).
Daar was alreeds in Ef.2:10 verwys na hierdie geheimenis, toe Paulus gesê het ~ Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus... (O.A.V.). En in vers 15 van hoofstuk 2, is hierdie geheimenis nog verder onthul ~ Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. So fenomenaal is hierdie nuwe mensheid wat God in en deur Christus tot stand gebring het, dat Paulus in verse 18-22 verder gaan en die geheimenis volkome ontrafel, deurdat hy sê dat... ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader (gekry het). 19(Dat ons) dus nie meer ver van God af (is) nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20(Dat ons) ’n gebou (is) wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21(En) in Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22 in wie (ons) ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.
Hierdie onthulde geheimenis, nl. dat ook die heidene, of nie-Jode ook nou deel uitmaak van God se gesin, oorheers Paulus se gedagtes nou in hoofstuk 3 – dit is dan nóg ’n rede waarom hy hoofstuk 3 begin met die woord, “daarom”.
In vers 1 van hoofstuk 3, begin hy deur vir die Efesiërs te bid, maar omdat sy gedagtes tot oorlopens toe vol is van hierdie ontrafelde geheim, onderbreek hy sy gebed en praat hy eers verder oor die geheimenis in verse 2 tot 13 en in vers 14 sit hy sy gebed dan voort met die woorde ~ Daarom kniel ek in gebed voor die Vader....
Waarom onderbreek Paulus sy gebed en waarom kan hy nie ophou dink oor en praat van die heidene wat ook nou deel uitmaak van die “nuwe mensheid” nie? Al het God reeds in Gen.12:3 gesê dat die heidene geseën sou word ~ ... In jou (dit is Abraham) sal al die volke van die aarde geseën wees..., het die Jode van destyds, die heidene fel teengestaan en het die Jode geglo dat heidene slegs deel van God se huisgesin kon word, as hulle, hulle sou bekeer tot die Jodedom en deur die proses van besnydenis gegaan het (hulle is dan Proselitiese Jode genoem). Die onthulde geheimenis het dit dan ook aan Paulus geopenbaar, dat hierdie proses nié nodig was nie en daarom moes Paulus hierdie muur van weerstand afbreek, wat die Jode gehad het jeens die heidene.
Hy doen dit dan ook deur vir die Joodse gelowiges in vers 6, op drie maniere te laat verstaan dat die heidense gelowiges deel van God se volk is:
· Eerstens sê hy dat hulle deel van die volk van God is. Die Engelse vertaling stel dit baie mooi ~ This mystery is that the Gentiles are fellow heirs (E.S.V.). Hy sê dus dat die heidene, mede-erfgename is. Hierdie woord “erfgename” is ’n baie belangrike woord vir Paulus en hy gebruik dit dikwels in sy briewe (bv.Rom.4:13; Gal.3:29; 4:1-7; Titus 3:7). Hierdie woord “erfgenaam” omvat alles wat ’n persoon kan en mag ontvang wanneer hy wederbaar word. Rom.8:17 gee vir ons ’n raak beskrywing daarvoor ~ En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Ons deel dus in ál die seën wat daar beskikbaar is. Die Jode is dus nié eersteklas gelowiges en die heidene tweederangse gelowiges nie – ons is dus gesamentlike- en gelyke erfgename in Christus Jesus.
· In Ef.2 het Paulus die kerk vergelyk met ’n koninkryk, ’n gesin en ’n familie. Hier in hoofstuk 3 brei Paulus egter uit op wat hy in 1:22-23 gesê het, nl. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. Ons sien dus in die tweede plek, dat Paulus sê dat gelowiges, lede is van een liggaam en beskryf hy in verse 11 tot 16, hoe ons almal deel geword het van hierdie liggaam.
Die beeldspraak wat hier gebruik word, dui daarop dat gelowiges op ’n geheimenisvolle wyse saamgevoeg word in die kerk, maar dit dui ook daarop dat hierdie samevoeging, iets is waarin almal moet groei en waarna hulle moet streef. En hoe word dit gedoen? Dit kan enersyds, slegs gebeur namate ons groei in ons kennis van Hom wat ons saamgesnoer het in een gemeente en andersyds deurdat ons sal besef dat elkeen van ons net so ’n groot sondaar is soos ons broers en susters; dat ons ewe hulpeloos en afhanklik van God se genade is; dat ons almal deur een en dieselfde Verlosser gered is; dat ons almal gevul is deur dieselfde Heilige Gees; dat ons almal dieselfde Vader het; dat ons almal deur dieselfde beproewing en vervolging gaan en laastens, dat ons almal oppad is na die selfde eindbestemming. Dit is kennis en ’n waardering van hierdie dinge wat ons saam sal voeg tot ’n eenheid.
· Laastens sê Paulus, dat gelowiges (Jood en nie-Jood), deel in God se beloftes. Die Woord van God is vol van beloftes wat geskenk word aan diegene wat hul vertroue in God plaas en na Hom toe kom deur geloof in die versoeningswerk wat Jesus Christus gedoen het.
Ons moet egter daarop let dat die woord “belofte” in vers 6, in die enkelvoud geskryf is en daarom verwys hierdie belofte, na die belofte van redding wat aan ons eerste ouers (Adam & Eva) gemaak is en wat weer aan Abraham herhaal is. Gal.3:14 ~ Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het. Vers 19 ~ Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan die volk gegee. Vers 22 ~ Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus. En vers 29 ~ En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.
Om dit wat Paulus hier in Galasiërs geskryf het, te mag hê, is om in die heel grootste moontlike vorm van seën deel te kan hê en dít (hierdie seën) is waarna Paulus verwys as hy in Ef.3:6 praat van die belofte wat ons as gelowiges ontvang het. EN om hierdie belofte met andere te deel – met die verlore gaande wêreld te deel, is ’n enorme voorreg.
4. DIE GEVOLGTREKKING:
Wat dan is die gevolgtrekking wat ons moet maak uit hierdie geheimenis, nl. dat die heidense gelowiges ook deel van God se volk is?
· Eerstens het Paulus ten doel gehad om Christus aan die heidene te verkondig en dit was vir hom nodig om dit teenoor die Joodse gelowiges te motiveer, omdat die Jode oor die algemeen, maar ook die Joodse gelowiges spesifiek, nydig en selfs hatig teenoor die heidene was – dit was dan ook o.a. een van die redes waarom Paulus die eerste keer in Jerusalem in hegtenis geneem was. Ons lees o.a. hiervan in Hand.21:28 toe Jode uit Asië wat in Jerusalem was vir die reinigingshandeling, uitgeroep het ~ “Israeliete, kom help!” het hulle geskreeu. “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig.”
Die Joodse godsdiens en later dan ook die Christelike godsdiens is deur die Jode as eksklusief en slegs behorende tot hulle beskou, daarom Paulus se verduideliking en motivering waarom hy die Evangelie ook aan die heidene verkondig. Daarom dat Paulus in verse 5 en 6 sê ~ Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6 En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.
· Tweedens het Paulus dit ten doel gehad om die wêreld te vertel van die Kerk van die Here Jesus, daarom dat hy in vers 9 sê ~ Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. Paulus was geroep om alle mense te vertel van die wonderwerk, nl. dat Jood en heiden tot ’n nuwe volk en nuwe mense verander word deur die wedergeboorte en saam in een Liggaam, nl. die kerk van die Here Jesus geplaas word, ten einde ’n kragtige getuienis van liefde en eensgesindheid te kan wees teenoor die wêreld– Joh.13:34-35 ~ Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
· Die derde rede kom as ’n verrassing en ons sien dit in vers 10 ~ Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim. Die engele hou ons dus dop! R. Kent Hughes het hierdie situasie verduidelik aan die hand van, soos hy dit noem, ’n kosmiese drama. Hy sê dat die geskiedenis vergelyk kan word met ’n teater. Die wêreld vorm die verhoog en die akteurs is die Kerk. Die Skrywer van hierdie drama is God wat terselfdertyd optree as regisseur. En die gehoor sê Hughes, is die kosmiese wesens – die owerhede en magte in die hemele (v.10 – O.A.V.) en ’n ene MacKay sê dat die geskiedenis, die “universiteit van die Engele” is. John Stott weer sê dat dit deur die ou skepping, of te wel die heelal is, dat God sy heerlikheid aan die mensdom openbaar, maar dit is deur die nuwe skepping, nl. die kerk, dat God Sy wysheid aan die engele openbaar.
Die gevolgtrekking waartoe ons dus moet kom t.o.v. van vers 10, is dat die engele ons dophou, omdat ons deel uitmaak van die geheimenis. Ook Petrus praat hieroor in 1Pet.1:10-12 toe hy gesê het ~ ...Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry. Ons as gelowiges word dus baie fyn dopgehou – nie net deur die ongelowige wêreld daarbuite nie, maar deur selfs ’n veel groter gehoor – ’n kosmiese gehoor, nl. die engele! En die engele hou ons dop omdat God Sy volledige plan met die geskiedenis, ook nie aan die engele geopenbaar het nie en daarom probeer hulle iets daarvan te leer, deur ons dop te hou. Deur na die kerk te kyk leer die engele dus meer van Christus se versoeningswerk, wat die voorbeeld is vir wanneer alles in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof gaan verenig, naamlik onder Christus (Ef.1:10b).
5. DIE BELANGRIKHEID VAN DIE KERK:
Met dit in gedagte, moet ons besef dat die kerk geweldig hoog geag word deur God. Inteendeel, die kerk van die Here Jesus gaan eendag instrumenteel wees in die kosmiese vereniging onder Christus en dit is juis hierdie feit – hierdie geheimenis wat die engele in afwagting en met groot belangstelling na die kerk – na jou en my – laat kyk.
· Die kerk staan dus absoluut sentraal in God se plan met die heelal en moet ons besef dat die kerk in die middelpunt van die geskiedenis staan. En in die lig van Paulus se verduideliking en die klem wat hy plaas op die feit dat die heidene deel uitmaak van die kerk, moet ons besef dat die kerk, wat ’n nuwe volk; ’n multikulturele volk; ’n multirassige volk, oor die heelal saam met Christus en die engele gaan regeer. Die kerk gaan dus al die aanslae van die wêreld, soos Islam en korrupsie en oorloë en aardverwarming en wat ook al, oorleef en eendag saam met Christus en die engele triomfeer.
· Tweedens, staan die kerk sentraal in die Evangelie. Die sentrale boodskap van Efesiërs is dan juis om aan ons te leer, dat die Evangelie beide die verkondiging van Christus insluit, sowel as die geheimenis van die kerk. Christus het aan die kruis gesterf en Hy het weer opgestaan uit die dood – nie nét om ons te red nie, maar ook om ons saam te voeg in een familie. Dit impliseer dus dat die plaaslike gemeente waarvan ons deel is, baie belangrik is in die oë van die Here en behoort ons dit ewe eens te beskou as ’n uiters belangrike deel van ons lewe, want dit is wanneer die kerk, Christus preek en leef en die lidmaat Christus preek en leef, dat die wêreld na Christus as Hoof van die Kerk getrek word.
· In die derde plek moet die Kerk sentraal staan in die gelowige se lewe. Paulus sluit hierdie perikoop van sy brief af met die woorde in vers 13 ~ Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou. Paulus was dus gewillig om enige prys te betaal ten einde toe te sien dat die Kerk sal groei, vooruitgaan en volhard.
Die uiteindelike waarheid is dus dat die Kerk nie ’n opsie is vir die gelowige nie; ook is die blote ondersteuning van die kerk, nie ’n opsie nie. Lidmaatskap-, gereelde bywoning- en toegewyde deelname aan die plaaslike gemeente is dus wat van ons as gelowiges verwag word. Paulus se Evangelie was Christus én die Kerk.
Ons weet dat die Kerk op aarde, nie volmaak is nie, maar ons moet nogtans met alles wat ons het, toegewyd aan die plaaslike gemeente leef – ons moet onsself dus neerlê en onsself volkome gee. Ons moet betrokke wees by die aktiwiteite en ons moet die gemeenskap met broers en susters nie afskeep nie.
En, omdat net die Kerk en die Kerk alleen, die antwoord het vir die wêreld en sy probleme, moet ons ook daarbuite as gelowiges, betrokke wees en die “antwoord”, nl. die Evangelie van Jesus Christus aan ’n soekende, moedelose en stukkende wêreld verkondig en leef.
6. TEN SLOTTE:
Ek wil graag afsluit met enkele aanhalings van bekende teoloë deur die eeue, oor wat hulle te sê gehad het oor die belangrikheid van die Kerk:
· R. Kent Hughes sê: “... Membership in an invisible Church without participation in its local expression is never contemplated in the New Testament…. Such a cavalier disregard for the doctrine of the Church is eccentric, to say the least. It disregards not only Scripture, but the consensus of the doctors of the Church.”
· Martin Luther het gesê: "Outside this Christian Church there is no salvation or forgiveness of sins, but everlasting death and damnation; even though there may be a magnificent appearance of holiness. . . ."
· Johannes Calvyn: "The Church is the common mother of all the godly, which bears, nourishes, and governs in the Lord both kings and commoners; and this is done by the ministry. Those who neglect or despise this order want to be wiser than Christ. Woe to their pride!"
· Die “Westminster Confession” sê: "The visible church ... out of which there is no ordinary possibility of salvation" …
· Michael Ross skryf in sy kommentaar oor Ps.132: “...if we don’t like the church on earth very much, we won’t like heaven at all.”
Waarom al hierdie aanhalings? Sodat ons kan besef dat die Woord en ook bekende teoloë en die ou Kerkvaders baie ernstig is wanneer dit gaan oor ons lidmaatskap en deelname aan die plaaslike gemeente.
[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 01 November 2009